(c) Edrea Cloete
A. Die resepsie van die poësie
In hierdie
afdeling word ‘n bondige verslag gegee van die belangrikste uitsprake oor De
Lange se digkuns en prosa, terwyl relevante polemieke ook hier opgeneem word.
1. Akwarelle van die dors
Die debuut word
bekroon met die Ingrid Jonker-prys en die digter word van meet af aan beskou as
‘n belangrike debutant. Die meeste kritici wys dan ook op die digter se sterk
vormbeheer en tegniese vaardigheid. Henning Snyman bespreek die debuut in Die Transvaler (24.1.83) onder die titel
“Twee jongmens bundels”. Hy beskou dit
as ‘n deursigtige tekening van ‘n omringende werklikheid. Die indrukke word tot
beelde verwe(r)k en in die boeiende ervaring tussen ervaring en beeld lê die
transparante skoonheid van hierdie waterverf-poësie. Hy beskou die gedigte as
‘n deursigtige woord-skildery van die doem-progressie wat onverstoord binne die
menselewe voltrek word.
Die bundel
vertoon dieselfde deursigtige progressie as wat uit die struktuur van die
afsonderlike gedigte blyk. Dwarsdeur die tematiese gang, beweer Snyman, is die
assosiasies tussen die mens-like en natuur-like met die beeld as bindstof. Te
verwagte soek die digter ‘n verwantskap met Leipoldt. Vir die kritiese leser
sou daar sekere onafhede wees in sommige van die verse en dat vele
taalkonstruksies (veral sintakties) te veel geskoei is op die onnabootsbare
lees van Lucebert. Ook is daar ‘n gebrek aan hegtheid is sekere verse. Dog die
sensitiewe en keurige beelde en die subtiele hantering van emosies soos
eensaamheid, wrangheid en die erotiese drif, is egter so oorheersend dat die
geheelindruk van die bundel dié is van jeugdige en ontwikkelende poësie wat
reeds “diep gekelder lê” en wat ‘n kunssinnige verslag word van die “bitter sap
van eensaamheid”.
George Weideman
resenseer die bundel (“Twee belowende debute” in Die Republikein van 12.8.
1983). Hy resenseer dit saam met Theunis
Engelbrecht se bundel ‘n Gedig is so
onskuldig soos ‘n eier (Perskor). Hy tipeer die bundel as netjies. Die
sterk sintuiglike waarneming by De Lange verlei soms tot ongekontroleerde
taalagebruik. Hy verwys na die bekoorlike geilheid, maar kritiseer die soms
“ondeurdagte” beelde. Die verrassende kenmerk van die bundel is die
(oënskynlik) gemaklike wyse waaop beeld en konkreta ineen- en uiteenvloei, die
teenstellings en die onthutsende skerpheid en wrangheid wat soms die sagte
woorde van ‘n gedig verskyn. Hy wys op die gevare van die verleidelikheid van
die “mooi” woord en die “treffende” beeld. Die twee Leipoldt-gedigte is knap
portrette van die genadelose eensaamheid. Samevattend kan gesê word dat De
Lange, wat reeds ‘n groot mate van vormdissipline tot sy voordeel het, sekerlik
nóg goeie, afgeronde gedigte gaan skryf.
André P. Brink
resenseer die bundel vir Rapport
(“Talent duidelik ondanks gebreke by De Lange”, 16.1.1983). Hy verwys na die
netheid en ekonomie in die verse van De Lange wat heelwat goeds beloof.
Be-tekening en beeldvorming karakteriseer dan ook uit wans uit die werk van Johann
de Lange. Daar is ‘n fyn woordsintuig. Hy bevind egter dat baie van die gedigte
bly nog vassteek in die blote beeld: dan versoet dit tot beeldverliefdheid, of
blote bekoorlikheid of anders raak dit moeisaam en vlak. Hy wys egter op die
skitterende veelvuldige spel van beeldwêrelde wat op mekaar inwerk en mekaar
algaande verryk. Liefdesverlange soos in “Dye” raak meermale veels te
krampagtig en word dan melodramaties (“Selfmoord”). Hy verwys egter na die
positiewe vermoë om die onoplosbare raaisel van lewe en dood volledig in die
beeld ingetrek word. De Lange se vermoë én gebreke blyk goed uit die verskil
tussen “Leipoldt 1” en “Leipoldt 2”: die eerste is volgens Brink ‘n geskakeerde
spel van nuanses, van verskillende blikke óp Leipoldt wat in sy uitgedeeldheid
aan andere “die bitter sap van eensaamheid” behou; die tweede is egter volgens
hom ‘n moeisame gebéúr met woorde. ‘n Kenmerkende aspek van die bundel is die
“gewerskaf met teenstellinge” wat volgens Brink ook nie altyd werk nie. Hy besluit dat dit ‘n bundel met vele gebreke
is, maar ook met ‘n klompie uitstekende bevestiginge van talent: veral ‘n
vermoë om spits en suinig met woorde om te gaan. Hy meen dat daar waarskynlik
te vroeg gedebuteer is, maar in party van dié akwarelle is die dors tog oortuigend
verduursaam.
Hansie Pienaar
resenseer die bundel “Sensueel én genotlik” vir Beeld (31.1.1983) waarin hy met ‘n duidelike subteks werk, naamlik
die insident rondom die verbanning van die tydskrif Vlieg aan die Universiteit van Pretoria in die tagtigerjare. Jong
skrywers – Koos Prinsloo, Johann de Lange en Hans Pienaar, onder andere – is
deur die universiteit met skorsing gedreig oor die inhoud van die tydskrif. Die
implikasie van hierdie resensie is dan dat De Lange verval het in “veilige”
kuns. Hy gebruik dan die metafoor van pottebakkers wat potte maak waarin
vetplante staan in deftige sitkamers. Binne hierdie konteks is die plante se
daarwees ironies: ”simbole van gebrekkigheid te midde van oorvloed”. Die soort
ironie is dan ook opgesluit in die titel van die bundel: om in waterverf te
skilder vertel van gebrek aan water en dit lê êrens tussen paradoks en ironie,
met ‘n spanning wat oorslaan in impotensie. De Lange se gedigte wemel van
falliese simbole wat onstaan uit verval en gebrek soos ‘n geknakte vouduimstok,
‘n TV-toring uit ‘n gesloopte herehuis, ‘n eensame aalwyn...
Ook vroulike
simbole bly staties (soos die ontblote lippe op ‘n advertensiebord, ‘n blom wat
verorber word deur swart torre, die “omheinde libido” van ‘n druppel teen ‘n
ruit, tierlelies, orgideë...).
Volgens hom is
daar ook ‘n stasis aanwesig in gedigte sonder erotiese ondertone. En hierdie
stasis ontstaan dialekties, dikwels met ‘n vassteek voor sintese. De Lange is
‘n meester van die tegniek van komplementering en opheffing tegelyk. Hy sonder
“Sterwende argitekte” uit as ‘n voortreflike gedig juis om hierdie rede. Die
“beeld-kyk” – wat verwys na die gedig “Beeld-kyk” – is die eindpunt van die
simboliek van impotensie: “die onvoltooide dialektiek en die motief van die
oog”. Die dialektiese beeldkyk is wat De Lange se digterskap oplewer. Waar dit
werklike sintese stel wat anderkant bloot tegniese vernuf lê, slaag dit.
Volgens Pienaar lei dit nog tot onopgeloste spanning, ‘n stollende stasis,
verlustiging in impotensie. Hy beskou die meeste gedigte as blote
studeerkamerpoësie waar private aches
die hoogty vier. Hy beskou die verse as sensueel en genotlik, maar dieselfde
kan ook van meesterpottebakkers gesê word. Niks verkeerd met pottebakkery nie,
maar as ‘n pot eers breek, koop ‘n mens nie noodwendig ‘n nuwe nie, konkludeer
hy.
Philip Zietsman
resenseer die bundel in Die Vaderland van 31.3.1983: ”Vormbewuste
digter het onbetwisbare poëtiese talent”. Die resensent betwyfel of al die
gedigte as woordakwarelle beskou kan word. Volgens hom is daar nie sprake van
‘n strenge tematologiese indeling nie. Die liefde, die dood en die erotiese kan
as die deurlopende temas in die bundel uitgewys word. Die 39 gedigte is van
wisselende gehalte, maar daar word bevind dat daar enkele gedigte is wat
werklik treffend is. Hy sonder “Nag bloei uit die oë van diere”, “Ou jongnooi”,
“Die flaminke” (ten spyte van die verwarrende beeldspraak), “Die emmer” . Hy
vind dat “Dagdroom” en “Aardlief”, weens die ontwapende eenvoud bekoorlik is.
“Vrae” beskou hy as ‘n oorspronklike variasie op ‘n bekende tema en “Jong
getroude vrou” (met sy verwantskap met Ina Rousseau se “Die huisvrou”) is ‘n
verdere geslaagde gedig waarin die waarneming van die vrou tot ‘n oortuigende
en geslaagde verdieping lei – iets wat volgens Zietsman nie dikwels in hierdie
bundel gebeur nie.
Volgens hom ly
vele gedigte aan vaagheid, niksseggendheid en enkeles is gewoon swak. Hy verwys
na “Ceres”, “Samesyn”, “Blaarmaan” (wat onduidelik is), “Double exposure”, wat
slimklinkend en –lykend is, maar weinig meer is as ‘n opeenstapeling van
woorde. “Brief” gee nie ‘n nuwe blik op die oeroue liefdesproblematiek nie en
“Futuris”, ten spyte van al die raak en oorspronklike beeldgebruik, bly ‘n
oppervlakkige verkenning van iets komplekser as ingewande en uitskeisel. Hy is
eweneens krities oor “Ongeluk”, “Jong seun” – wat hy as minseggend beskou – en
laasgenoemde mis daardie suiwer eenvoud wat die minseggende en selfs die
sinledige so treffend in byvoorbeeld Paul van Ostaijen se gedigte tot sinvolle
segging aktiveer. “Selfmoord in 5 reëls” gaan mank aan ‘n ouderwetse
beeldpatroon en simboliek. Hy wys op die onbetwisbare aanleg tot beeldspraak.
Hy gaan verder voort om te wys op gesogte en verkeerde beeldspraak. Dikwels
klink woorde mooi, maar bly hulle vaag van betekenis. Samevattend meen hy dat
die digter ‘n onbetwisbare poëtiese talent openbaar met ‘n aanleg vir verse
maak. Die waarnemingsvermoë is skerp en hy besit die vermoë om die waargenome
in oorspronklik-beelde taal om te sit. Soos by groot digters (soos Nijhhoff en
Opperman) interesseer die gewaarwording van ander digters ewe veel as eie
gewaarwording; wat die resensent uitsonder as ‘n welkome afwisseling in die
dikwels selfbehepte literêre klimaat. Die opeenstapeling van beelde sonder dat
dit tot ‘n gesamentlike geheel bydraend is, word as ‘n swakheid uitgewys. Die
vernuftigheid ten spyt, bly sekere gedigte vassteek in die blote waarneming,
sonder diepte of dimensie. Terselfdertyd gee die resensent toe dat die
deursigtige en oppervlakkige aard van die akwarel in gedagte gehou moet word.
Die digter is verrassend vormbewus en selfs tradisioneel so. Die digter beskik
oor ‘n gemaklike en natuurlike aanslag wat lei tot besonder vloeiende gedigte.
Klankskildering speel ‘n belangrike rol en word op enkele uitsonderings na,
vernuftig hanteer. Sekere oorbewuste klankrykheid lei soms tot geforseerdheid.
Leestekens word weer gebruik en verantwoordelik aangewend, hoewel sinledige
foefies soos dubbelpunte herinner aan die vroeë sewentigs. Die sinsbou is
logies en helder, maar die reëls word nog te maklik op ongemotiveerde wyse
afgekap om nuwe reëls of strofes te begin. Daar word ten slotte kritiek
uitgespreek op gedigtitels en of dit verband hou of verhelderend is vir die
begryp van gedigte.
2. Waterwoestyn
Abraham de
Vries resenseer die bundel in Die
Vaderland (5 November 1984) en hy wys op die saamdigting van die ongerymde.
Verder betrek hy die inklanking in eie werk van vroeëre reste van die poësie.
Die dubbele betekening word uitgewys as die “dinkwerk” by ‘n digter en die
vrylating van die “id”. Die beste gedigte in hierdie bundel dui hierdie
saamdigting op die paradoksale toestand. Hy som die bundel op as ‘n net-net
balans. Daar word verwys na ‘n sekere skraalheid en ylheid in die bundel.
In Beeld van 6 Mei 1985 resenseer Joan
Hambidge hierdie bundel onder die titel: "Poësie van paradoks en pyn”. Hambidge
wys op die eise wat gestel word aan die tweede bundel in Afrikaans as ‘n
belangrike groeipunt. Die voorbladontwerp, deur Cussons, resoneer in die
gedigte in die bundel wat met haar gedigte in gesprek tree.
Die skerp
metaforiek, ekonomiese segswyse en afgewerktheid van die gedigte imponeer. Ook
ouer digters sou by De Lange kon leer ten opsigte van woordekonomie en spits
segging. Daar word verwys na mindere gedigte in die bundel wat die bundel
ontsier. ‘n Digter bepaal in ‘n groot mate sy eie verwagtingshorison en hierom
kan daar nie toegesien word dat die bundel ontsier word deur sentimentele en
melodramatiese verse nie. In die geheel gesien verwoord die bundel op ‘n
boeiende wyse die paradokse van die menslike bestaan, soos eensaamheid te midde
van gemeensaamheid, tekort te midde van oorvloed.
T.T. Cloete
resenseer die bundel in Die Volksblad
van 1 September 1984 (“Kragtige beelding in gedigte”). Hy beskou die bundel as ‘n vooruitgang op die
eerste en wys op die oortuigend voltooiende slotsom waartoe die gedigte kom.
Die beweging van die gedig en die oopgaan van die slot gee ‘n heel bepaalde en
persoonlike trek aan die gedigte. Die rym word ontgin, hoewel die meeste
gedigte rymloos. Daar is herhalingspatrone wat in funksie met die rym
ooreenstem. Die bundel se versorgdheid word uitgewys, hoewel die resensent wys
op die aantal flou verse veral teen die slot.
Alice Coetzee
resenseer die bundel in Pretoria News (26 Julie 1984) onder die opskrif
“Poems appeal to emotions”. Sy beskou dit as ‘n binne-landskap en die
sogenaamde proses van iets besit en dit nie besit nie. Die sogenaamde
“abstracted thirst”. Die bundel is meer liries en rustig en volgens haar nie struktureel
styf nie. Die onvermoë om met ander te verbind word hier uitgewys. Ook die
natuur se afsydigheid teenoor menslike lyding kom hier aan bod.
3. Snel grys fantoom
Tom Gouws
resenseer die bundel in Die Volksblad van 13 September 1986 (“Bundel bewys
sterk digterskap”). Hy wys op die gedigte oor ikone en die aanwesigheid van die
sogenaamde mortal paradox in die
bundel: spoke, skimme, skrikbeelde van die lewe is hier aanwesig. Fantome word
ander fantome: digters word ander digters en uiteindelik word alles Johann de
Lange. Hy wys ook op die menigvuldige Louw-kodes wat patriargaal in die bundel
gebed is. Louw en Cussons word die verskillende gesigte van die muse en hy
verwys na die sieklike (sic!) spel van “anxiety á la Harold Bloom. Hy wys op ‘n
omgekeerde spel tussen man en vrou wat met die homoërotiese verbind word. Die
ek word dan ‘n fantoom op soek na dubbelgangers en die liefde vir die self is
‘n narcisistiese fantoomspieël van die self.
Koos Prinsloo
voer ‘n onderhoud met die digter in Die Burger van 18 Oktober 1986 (“Tussen
poltergees en herinnering”) waarin De Lange opmerk dat die jong digter
aanvanklik skryf met sy verbeelding en die genade van tegniek – later skryf hy
meer uit ervaring. ‘n Mens moet ook, volgens die digter, leer om afstand te doen.
Die liefde vir die aarde en mense word meer genuanseerd soos jy ouer word en
onkeerbaar nader beweeg aan die dood.
Die digterskap
is vir hom ‘n taalambag en hy haal Dylan Thomas aan wat opgemerk het: ”The
magic in a poem is always accidental”.
Lucas Malan
resenseer die bundel in De Kat van Oktober 1986. Vir Malan lewer
hierdie bundel bewys van skeppende vernuf, ‘n grondige kennis van die vak en
van die taal as instrument. Hy verwys na die digter Barend J. Toerien se
beswaar dat jong digters in gekwelde tye skryf oor flikkerhelde en
kultusfigure, waarop Malan tereg opmerk dat hierdie vorm van ontvlugting ook ‘n
vorm van protes is. Die goeie nuus is ook dat dit in die regte hande is. Malan
verwys na die bundel se belangrikste temas, naamlik die kortstondigheid van die
jeug en vreugde, oor die verydeling van verwagtinge, die sinloosheid van
begeerte en die waan van skoonheid. Die aanhalings hier is nie blote stutte vir
knoeiwerk nie, maar as aanwyers vir die ontluisterende aard van die bundel. En van gedig tot gedig wissel die metafoor
van die dood as die “snel grys fantoom”. Die gedigte het ‘n sterk sensuele
aard. Kleur, vlak en kontoer, geluid en beweging is volop in die bundel. Hy
verwys verder na die sterk beheersde vrye verse, ‘n distigon en ‘n gedig in elf
reëls wat koppig ‘n sonnet genoem word. Die bundel bevat eietydse poësie wat
die mens nie as fraai en vertroostend voorstel nie, maar uitgelewer aan sy
beperkinge, sy eensaamheid en sy ondergang.
Joan Hambidge
resenseer die bundel in Die Burger 10 Desember 1986 onder die opskrif
“’n Kragtig, indrukwekkende bundel”. Sy wys daarop dat die estetiese aanslag
plek gemaak het vir ‘n meer aggressiewe aanslag. Die verhouding tussen illusie
en werklikheid is opvallend in die bundel. Die fata morgana-motief word in etlike verse aangetref. Etlike gedigte
is behep met die self en die skryfproses word met spieëls verbind. Die bundel
kan gelees word as ‘n “diagnose van verlies”. Die verganklikheidsmotief is
opvallend in hierdie bundel. Die motiewe (vuur/maan) word vernuftig hanteer en
die maan verwys o.a. na die geboorte van die nuwe mens. Sy beskou De Lange as
‘n toonaangewende digter van tagtig.
Hans Pienaar
bespreek die bundel in Die Vaderland
van 1 September 1986 (“Die segsman van ‘n geslag jong mense”) Pienaar begin sy
resensie deur te verwys na ‘n tugkomitee aan die UP wat ‘n bydrae van De Lange
in Vlieg as ongewens
beskou het. Volgens Pienaar bewys hierdie bundel presies hoe verkeerd hierdie
komitee was. Vir hom is De Lange ‘n segsman van ‘n geslag jong mense wat nou
ooreenstem met die modelstudente wat die tugtige here in gedagte gehad het. Hy
skryf: ”Dit is ‘n geslag van verlamming en apatie, impotent gelaat deur die
liefderyke letargiese laser-wêreld van die post-moderne toestand, wat hom
omskep het in ‘n ‘lost generation’”.
Hy verwys ook
na die refleksiewe ontkenning van die werklikheid en De Lange se
“sentimentalisering”. Die sogenaamde versagting van die werklikheid blyk dan
eksplisiet uit gedigte oor konfomiteit, eendersheid, herhaling, die ambivalensie
van die kommoditeit, waarin die dood die toonaard, die tema en die enigste
werklikheid is. Pienaar se negatiwiteit word onderstreep deur sy opmerking dat
die ekstremisme gedramatiseer word: skoonheidskuns gereduseer tot “blom” en
betrokke kuns tot “bom”. Daar is geen ambivalensie in die gedigte nie.
Antwoorde is reproduksie. Pienaar skryf: ”Hy kyk na ‘n klip wat met holtes wat
dit soos die hoof van Medusa laat lyk. Deur sy digterlike verbeelding word die
ooreenkoms so sterk dat hy net met moeite dit weer soos ‘n klip kan laat lyk.
Hierdie amperse reduksie tot eenderse klip bly by hom spook: hy sien sy
sterflikheid in die herhaling, reproduksie van sy eie siening”. James Dean was
volgens Pienaar ‘n verraderlike “role model”, want hy stel net nog ‘n norm vir
konformisme, na-apery aan die “crazy mixed-up kids” wat soek na die droom –
uiteindelik net die dood. Troosteloos, meen Pienaar: ”maar De Lange skilder
hierdie wêreld met ‘n verleidelikheid wat hom ‘n formidabele apologeet daarvoor
maak – veel formidabeler as Tuks se tugtige here wat hom van die aarde probeer
verskrik het”.
Ia van Zyl
skryf oor hierdie bundel in Die
Suidwester van 9 Oktober 1987 (“Poëtiese selftug”). Onder die jonger geslag
is hy die digter wat veral beïndruk met die poëtiese selftug. Dit bevat goeie
gestruktureerde gedigte waarin elke woord deeglik geweeg en geslyp is. In sy
vroeër bundels het veral die erotiese en die eensaamheid as gegewe na vore
gekom en die gedigte het van ‘n sterk sintuiglikheid getuig. Die verse spreek
volgens Van Zyl van ‘n impotensie in verhoudings en van vergeefse hunkering. In
hierdie verband kan die gedig “akwarelle van die dors” as ‘n sinoptiese gedig
beskou word. Daar bestaan ‘n dialektiek tussen lewe en dood – en ‘n sterk drang
om die lewe in verband te bring met die dood. Sy wys op die ekonomiese
woordgebruik, die vernuftige beeld, ‘n dubbelsinnigheid in die woordgebruik en
talle verwysings na die skilderkuns. Die aangetrokkenheid tot die dood word
bykans ‘n obsessie. Deurlopende beelde is fantoom, spieël, die kleur grys,
maan, skadu, water, lewe en dood. Die mens word gesien as skender en
geskondene.
André P. Brink
skryf in Rapport van 7 Desember 1986
(“De Lange bevestig sy talent”) oor hierdie bundel as verbetering op die
tweede, maar dit is nog nie vry te spreek van die “fraaie effek” nie. Hy wys op
die virtuose omgaan met weerkaatsings, naamlik die weerkaatsings van ander
digters en dié na skilderye. Hy wys ook op die boeiende proses van hoe gedigte
in die bundel mekaar self reflekteer. Nog meer intensief werk die proses van
weerkaatsing binne bepaalde gedigte. Hy analiseer bepaalde gedigte en kom tot
die gevolgtrekking dat daar geen ontkoming is nie. Daar vind suiwering plaas
waardeur vlam én as saamgedig word. Die skimbestaan van die woord, skryf Brink,
is niks meer as ‘n grys fantoom van die wesentlikste vorm van bestaan nie. Die
kritikus merk op dat hy vroegtydig gewaarsku dat die digkuns bedreig word deur
die “mooi” formulering, die swoele, fraaie, presieuse woord wat hy as literêre
masturbasie sien. Maar meesal beweeg De Lange net-net by dié gevaarlike afgrond
verby. Wanneer die gedigte slaag, is hulle werklik voortreflik.
H. Ester
bespreek die bundel in Zuid-Afrika
Desember 1986 (“Eros en thanathos bij Johann de Lange”). Ester analiseer “Oor
blomme en bomme” en wys op die spanning tussen liriek en betrokke letterkunde,
‘n belangrike tema in daardie tyd. Hy wys daarop dat De Lange op ‘n komplekse
wyse met hierdie problematiek omgaan, omdat die begrip “bloeiwyse” ‘n soort
dubbelsinnigheid aktiveer. Hy wys op die komplekse funksie van die digkuns vir
die digter, omdat dit die bestaande tot ‘n eie realiteit transendeer. Die
poësie is in sy geheel ‘n synswyse. Veral die temas van liefde en dood oorheers
in die bundel. Die eros en thanathos kom hier bymekaar: die dood is immers
tydloos soos plesier, soos De Lange skryf. Hy beskou hom as ‘n begaafde en
intrigerende digter.
Joan Hambidge
bespreek die bundel in Beeld van 4
Augustus 1986 as “’n Kragtige bundel”.
Daar is volgens Hambidge nog iets eteries, selfs “esteties” aanwesig aan
die tweede bundel, is hierdie bundel ‘n driftige een. Die digter het sy “eie
stem” gevind en die menslike paradokse, te wete lewe / dood, word met dieselfde
kompromislose aggressie ontgin as by Sylvia Plath wat uit haar doodsobsessie
kreatiewe krag en inspirasie kon put. Samehangend met die ontdekking van ‘n eie
stem, is etlike gedigte hier behep met die self. Die skryfproses word met
spieëls verbind. (Self)liefde, ontnugtering en die soeke na ‘n geliefde word as
belangrike temas uitgesonder. Die bundel kan gelees word as ‘n “diagnose van
verlies”. Gefnuikte begeertes en die verganklikheidsmotief is opvallend in
hierdie bundel. Die simbole word nooit enkelduidig of finaal besê nie. Die
bundel bevestig De Lange se posisie as toonaangewende digter van tagtig.
Charl-Pierre
Naudé resenseer die bundel vir Weekly
Mail (“Three poets craft their words like bullets”). Volgens hom is hierdie
bundel ‘n verbetering op die voriges. Stadslewe, die jeug, kulturele stagnasie
en dekadensie is die belangrikste temas in hierdie bundel. Op sy beste is die
beeldspraak oorspronklik en in sy tegnies-beste verse is hy dikwels op
dieselfde vlak as Eybers of Cussons, maar hy bly in gebreke om sy gedigte met
blywende insigte te kombineer. Hierdie beperking het wel sy eie sjarme, omdat
dit iets suggereer van die afgesnyde wêreld waarin hy leef. Hy het uiteindelik
sekere kritiek op die bundel, omdat die digter sy hand oorspeel (soms) deur
ooreksplisiet te wees. Sekere metafore sou kragtiger gewees het as die binnewerkinge
(“clockwork”) nie gewys het nie. In sy woorde: ”The mood poems are the weakest.
Crude, syrupy surrealism is not where it’s at”. Die onafheid van die enkel
gedig word gesien as ‘n keuse vir die doelbewuste kontekstuele eenheid van die
gedigte. Ofskoon die boek as geheel teleurstel, bevat dit van die beste resente
gedigte in Afrikaans.
4. Wordende naak
In De Kat van Augustus 1990 skryf Lucas
Malan oor “Transformasies” in hierdie bundel. Die teenwoordige deelwoord
(“word-ende”) demonstreer die oorgang in ‘n taalvorm. Die transformasies word
op verskillende vlakke uitgespeel, veral in natuurdinge. Malan wys op die
skeiding van woorddele aan die einde van versreëls en die daarmee gepaard
gaande gebruik van koppeltekens. Malan wys ook op woorde wat semantiese
verandering aandui (weggeroes, verval, om-gedop, ingelyf, herwin, toegeslik en
kantel) en die gebruik van funksiewisselende vorme soos gles (naamwoord) en
polter (naamwoord) en as werkwoorde optree. Benewens taalvorme wat
getransformeer word, is daar ook tematiese transformasie aantoonbaar, soos
liggaamlike verandering, of die verandering van lewe na dood. Die
verbeeldingryke benutting van literêr-historiese intertekste beweeg volgens
Malan na die vlak van transfigurasie. (Malan verwys wel verkeerdelik na W.H.
Auden as ‘n Amerikaanse digter.)
In Die Transvaler van 27 Augustus 1990
skryf H. De Villiers oor die “Naaktheid en geweld” in hierdie bundel. Hierdie
resensent verwys na die naak-aspek wat as aggressief en selfs demoonverwant
voorgestel word. Daar word verwys na die Teiresias-dilemma van gespletenheid in
die bundel en die sterk aansluiting by ander digterfigure. Rilke aktiveer hier
transformasie en ook die verhouding met die gestorwenes. Die doodstematiek word
vergelyk met Rilke en Cussons se werkswyse wat glo by De Lange tot stilstand
kom in “vleeslike histerie”. Daar word eweneens gewys op ‘n ontkenning van
menslike individualiteit, of die uitdruklike nietigverklaring van die mens se
persoonlike individualiteitskern. Die resensent se bevinding is dan slotte dat
die bundel dikwels kru en sinies is; tog met ‘n sweem van begeerte om die
gebroke naaktheid in Paulus se sin uiteindelik te oorklee met ‘n verwysing na 2
Korintiërs 5: “sodat wat sterflik is verteer kan word deur die lewe”.
Hierdie bundel
word ook gestriem deur ‘n leser, Ameilia Weideman Falck Ball, (in Die Burger van 27 Augustus 1990) as
pornografies. Die uitbeelding van die naakte man en die bokpote word as
vervreemdend ervaar en dan is die beswaar teen die woord “seuns” in die bundel.
Die leser kyk kennelik die ironiese gebruik van die woord mis en lees dit raak
as ‘n verheerliking van kindermolestering.
In reaksie op
hierdie brief, argumenteer die toenmalige uitgewer, Hettie Scholtz, dat die
boek net om literêre meriete gepubliseer is, nie omdat dit “bakens” verskuif
het nie. Scholtz wys ook op die misopvatting dat “belles-lettres” bloot na die
fraaie en die mooie moet verwys. Goeie letterkunde, meen sy, hoef nie net ‘n
geromantiseerde beeld van die werklikheid te gee nie. ‘n Boek word immers
gelees volgens sy eie aard en betekenismoontlikhede en ‘n weergawe van die
werklikheid hoef nie noodwendig as pornografie beskou te word nie. Sy wys tereg
daarop dat pornografies bedoel om ‘n leser seksueel te prikkel. Haar argument
versterk sy met Cloete se opsomming van die bundel as goedversorg, delikaat,
diepsinnig en uiters mooi verse.
Ia van Zyl
resenseer hierdie bundel in Die
Transvaler van 9 November 1990 onder die titel: ”De Lange ‘n gerypte
digter”. Sy wys op die blatante (sic!) beklemtoning van die manlike liggaam wat
aansluiting vind by die primitief-dierlike, soos getoon deur die saterpote. Van
Zyl se hele aanslag is homofobies. Sy aktiveer die kwessie van gespletenheid en
dualiteit, ‘n belangrike kode in die bundel. Sy komplimenteer die tegnies
geryptheid van die digter en die gebruik van funksionele ryme (wat nooit
geforseerd aandoen nie) en sy vermoë tot kriptiese metaforisering (wel soms
effens te ver gevoer). Die mooiste gedigte, aldus van Zyl, verwys na die dood
of verwonding van jong seuns of van ‘n kind.
Vir Tim
Huisamen is hierdie bundel ‘n tour de
force (“Wordende naak ‘n tour de force” in Vrye Weekblad, 7 September 1990). Sy bespreking skat die bundel reg
in binne ‘n gay-paradigma en sy resensie staan dus in opposisie tot Van Zyl se
lesing.
Hy wys op die
komplekse rol van die gay-man wat by die paradoksale geweld van die liefde
betrek word. Hy wys op die ironiese welslae van die aanslag wanneer daar verwys
word leer, sado-masochisme, stoombaddens en die hele San Francisco-kultuur.
Militerêre optrede en menslike onverskilligheid word ook geskets en die orde
van die fallosentrisme kon eweneens aan bod. Die gay-persoon is nie net
slagoffer van Macho nie, maar ook ‘n meedoener en verslaafde daaraan. Huisamen
aktiveer dus die komplekse rol van die gay-mens wat eweneens buite en binne die
orde van die fallosentrisme staan. Die geweld word soms op die self gerig.
Veral wys hy op ‘n belangrike kode in hierdie bundel, naamlik na die vraag en
aard van die poësie sodat hier selfs sprake is van ‘n metabundel.
Die gesprek met
die voorgangers en die digterlike self word uitgewys. Tradisionele vorme word
ontgin. Belangrike kodes vir Huisamen is transformasie, reis, natuur,
jaargetye, blomme, water / ys, militarisme, lig-en-donker, die demoniese en die
seksuele.
Hy het wel
kritiek op die sogenaamde rymfasiliteit wat ‘n soort fasielheid word en hy wys
op die gevoel van oordaad in die bundel. Soms staan alles in die diens van
abstraksie. Maar op sy beste, sluit Huisamen af, is De Lange vernuftig,
ontroerend, skerpsinnig intellektueel.
In Rapport van 11 November 1990 skryf
Henning Snyman in sy bespreking “Weerlose mens in sy naaktheid” oor die sterk
talent van hierdie digter. Hy wys op die verwikkelde saambestaan van die
erotiese en die estetiese met verwysing na Van Wyk Louw se bekende nagelate
gedig waarop die bundeltitel slaan. Die erotiese word as metafoor vir die gees
in vooruitsig gestel.
Snyman lees
hierdie bundel binne ‘n gay-paradigma en wys daarop dat die estetiese beliggaam
word in falliese terme. Die falliese simbole resoneer binne ‘n bepaalde
emosionele register. Hy wys ook op die rol van die digkuns en dat die erotiek
deel vorm van die literêre kunswerk. Hy beklemtoon die ontklee-aard van die
digbundel.
Tom Gouws in Insig van Oktober 1990 (“As die tjalie
só argloos, listig sak...” ) beklemtoon die invloed van Sheila Cussons en Van
Wyk Louw op hierdie bundel. Hy wys op die transfigurasie-proses asook die
kwessie van kriptomnesie, te wete skryf van tekste waarvan die leser nie bewustelike
kennis dra nie. By sowel Cussons as De Lange is daar ‘n bewuswees van die
polter-/foltergees van Van Wyk Louw.
J.C. Kannemeyer
skryf in Die Burger van 2 Augustus
1990 (“Johann de Lange se jongste met sterk vorm en beeld”) uitgebreid oor
hierdie bundel. Hy wys op die sterk samehang tussen die natuur en seksuele. Die
seksuele word met die kunstenaarskap verbind. Kannemeyer is van mening dat die
literêre verwysing nie altyd sinvol benut word nie en dat ‘n kragtiger stem
as’t ware die eie stem verdof. Hy wys op die sterk vormgewing en beeldende
vermoë wat dan dui op ‘n vooruitgang op Snel
grys fantoom. Die eksplisiete beelding van die eerste bundel en die
estetisering wat Waterwoestyn en die
digterskap bedreig het, is hier afwesig.
Vir T.T. Cloete
is dit “Een van die beste bundels in Afrikaans” (Die Burger, 6 Augustus 1990). Afstand doen, verminking, verwonding,
weerloosheid roep ook die teendeel op, naamlik verweer en bewapening. Die
“correspondances” verwys na die “equilibrium of opposites”, oftewel die
harmonie-in-opposisie.
Alles is proses
in hierdie bundel wat hy dan opsom: ”Dit is een enkele sin ‘n bundel van
goedversorgde, delikate, diepsinnige en uiters mooi verse”.
Hierteenoor is
A.P. Grové meer afwysend, selfs krities oor die uitdagende aggressiewe
voorstelling van die homoseksualiteit wat alreeds by die Judith Mason-voorblad
begin waar die man / sater die frokkie aggressief aftrek. Die bundel is ook nie
volgens hom van kruheid vry te pleit nie. Hierdie kritikus is eweneens afwysend
oor die vormlike aspekte van die bundel in die “Poësiekroniek” in Tydskrif vir geesteswetenskappe, Jg 33,
nr. 3, September 1993.
5. Nagsweet
T.T. Cloete
resenseer Nagsweet in Beeld van 8 Julie 1991 (“Die erotiese as
vertrekpunt...”). Cloete wys op die ooreenkoms tussen Nagsweet en Wordende naak. Die vertaling van Musuo Takahashi se “Portret van myself
aan die begin” plaas die gedigte in ‘n bo-Afrikaanse literêre geselskap. By die
aansluiting by soortgenote in ander tale, bevind die digter hom in ‘n geselskap
waar die wenkbroue nie meer gelig word oor hierdie soort gedurfde gedig nie.
Die bundel is sterk afgestem op ‘n bepaalde erotiese tema. Aan die een kant is
so ‘n distinktief-tematiese fokus beperkend, maar die beste gedigte in die
bundel bring vanself ‘n perspektiwiese verwyding. Cloete wys daarop dat van die
belangrikste belewenisse wat uit die erotiek groei, teleurstelling en
verydeling is. Of die ontdekking van die dood agter die sterk uiterlike van die
mens. Hy wys op die viriele liggaamlikheid in die bundel, wat ook fragiele
breekbare liggaamlikheid behels. Vir hom is van die beste gedigte
foto-portret-gedigte. In ander gevalle sou ‘n mens kon praat van gebeeldhoude
of anatomiese gedigte. Die gedigte het nie net in hul deskriptiewe kwaliteite
trefkrag nie; ook die ritme is fel en die versreëls eindig dikwels abrup. Daar
word ook vernuftig met die taal omgegaan. In te veel gedigte kry ‘n mens egter
die indruk dat die digter te demonstratief omgaan met die onverbloemde taal;
asof hy ‘n saak wil uitmaak vir die nuwe, vrye gebruik van woorde wat voorheen
heeltemal of byna taboe was in die Afrikaanse digkuns. Sommige gedigte bly
steek in die seksuele en mis hierom dimensie. Daar is egter uitstekende gedigte
met baie verrassende momente. Hoewel hy soms ‘n brute gedig kan skryf, is De
Lange op sy beste in staat tot die vertaling van die mees delikate, getemperde
menslikheid en tot ‘n geraffineerde sintuiglikheid en taalgebruik.
Joan Hambidge
bespreek die bundel in Beeld van 10 Oktober 1991 (“Agter die
gedurfdheid lê ‘n stuk weerloosheid”) en wys op die deurbraak-hoogtepunt-bydrae
van hierdie bundel. Die uitgewer moet geloof word om die manmoedigheid en daar
word gewys op die feit dat die bundel eers as Tongnaai bekend gestaan
het. Die homoseksuele-aspek word uitgelig met die obsessionele verkenning van
die teks-as-liggaam. Die gedig word ‘n fallus / liggaam wat aan die leser
aangebied word – hierom sal / gaan dit skok of walg of aantrek. Roland Barthes
se The pleasure of the text word hier
tot sy uiterste gevoer.
Die tekste word
as ‘n volledige ontkleedans gesien nie as ‘n blote gaping tussen liggaam en
kledingstuk nie. Die taalvaardigheid en knap strukturering van die gedigte
temper die morele besware. Die patriargale oortreding van die taboe word
verwoord deur gebruik te maak van die Orpheus-mite. Hambidge wys daarop dat De
Lange die interpretasie gebruik van Woods se Articulate flesh. Die terugkeer na Hades is vir De Lange ‘n
metafoor vir die ootreding van ‘n seksuele taboe, meer spesifiek die sterk
taboe dat ‘n mens in die Hades van homofiele liefde mag afdaal. ‘n Ander
weergawe van die mite beweer Orpheus het weens die verlies aan Eurydike hom
volledig van vroue weggekeer en die Meinade het hierom sy liggaam volledig in
repe geskeur. Orpheus is egter binne folklore die vader van die gays. Hy staan
vir ‘n man-gesentreerde wêreld selfs vir misogonie. Orpheus is vir De Lange
beeld / simbool van die digter wat telkens met verlies moet worstel en alleen
uit hierdie toestand kan skep. Die opbreek van Orpheus se liggaam en sy
verhouding met mans ná sy verlies aan Eurydike is vir De Lange voorts beeld van
die digter se opbreek van woorde en die versplintering daarvan. Psigoanalities
gelees, is dit ‘n bundel wat die leser dwing om af te daal in die Hades van die
eie onbewuste ten einde meer te wete te kom oor die eindes of verloop van jou
eie vleesgedig. Dood en erotiek word dus nie om dowe neute nie so saamgedig.
Verlies en
verbrokkeling – twee bekende De Lange-motiewe – word in gedig na gedig
teruggevind. Die opbreek van Orpheus se liggaam (vermoedelik uit wraak omdat hy
hom nie aan die Meinade wou oorgee nie) word ‘n metafoor vir die poëtiese
werkswyse in die bundel. Daar is ‘n bykans aggressiewe opbreek van (vroulike?)
taalpatrone in hierdie bundel te bespeur en verbrokkeling,
onvolledigheid én onvervuldheid lê ten grondslag van elke
gedig. “The true body is the broken body,” aldus Norman O. Brown en hierom is
dit onmoontlik om in die liefde ooit die hele liggaam volledig te te beskryf.
Agter die gedurfdheid, die openlike vulgariteit en selfs liederlikheid vir die
swakkes van hart, lê ‘n stuk weerloosheid. Dis ‘n manjifieke bundel, omdat die
digter in hierdie bundel begin wegdig van sy vroeëre amper té romantiese
aanslag.
In sy
bespreking van hierdie bundel in Vrye
Weekblad van 12 – 18 Julie 1991 skryf Etienne Britz vermaaklik oor “Nagsweet: Nóg ‘n aangereikte warm
patat”. Hy verwys na boeke waaroor resensente hul nie uitlaat nie en hy meen
dat Merwe Scholtz op bladsye 56–57 ‘n blerts tamatiebredie (of hoesmedisyne?
dalk pyptabakkwyl?) uitgestort het op die boek. Weens die weerlose inhoud het
dit volgens Britz buitengewone beskerming en toeligting nodig. Sy geliefde
promotor was die ideale man om dit te doen, aangesien hy die dekadente
literatuur immers briljant teenoor sy studente verdedig het en hy het ‘n hele
akademiese loopbaan gewy om te verduidelik dat die talige vorm, die eie
stilistiese wetmatigheid – en nie die inhoud nie – die kwessie is wat saakmaak
in poësie.
Britz skerts
verder deur te verwys na Cas van Rensburg se brief aan hom na sy stuk deur Insig geweier is: hulle stel nie belang in ander resensente se menings
nie. Britz vra tersaaklike vrae oor die resensie-bedryf en die gekonkel agter
die skerms. Dan merk hy op dat hierdie bundel reeds die vernedering moes
deurmaak dat dit deur Tafelberg afgekeur is. Hy wend hom tot die Vrye Weekblad om hierdie onthulling te
doen en bely dat die bundel se tematiek hom nie persoonlik aanspreek nie. Hy
was selfs ‘n bietjie ongesteld oor die onsanitêre voorstellings in hierdie
bundel. “Hoe nader ‘n literêre werk sny aan pynlike of onaangename waarhede,
hoe harder moet ‘n mens tog veg teen jou eie selfingenomenheid, teen jou eie
sone van gerief en veiligheid, want hoe nodiger het daardie werk jou vermoë om
dit te kan lees”, meen Britz.
Hy tipeer die
boek as ‘n gevaarlike skoonheid. Die bundel doen die dapperste werk wat ‘n
literêre teks kan doen, naamlik om vir alle mense ‘n stuk vryheid te probeer
wen. Dit is ‘n boek soos wat Hermans die funksie van die literatuur omskryf,
naamlik ‘n boek wat die eensaamheid van alle mense ophef. ‘n Boek wat troos,
bevry, bevry en stimuleer, omdat ‘n mens, meen Britz, ‘n lewe so erg of erger
as jou eie lewe daarin kan terugvind. Geen boek om dus aan te reik na tweede of
derde resensente nie. Dis egter ‘n boek om vol deernis te lees, te verduidelik
en te beskerm.
“Hierdie tong
is ‘n springmes” is die bespreking van Wilhelm Liebenberg in De Kat (Desember 1991
Jg 7: Nr. 6). Hy meen dat die belofte van Wordende naak, bekroon met
die Rapport-prys, in ‘n
sekere sin vervul word. Hy noem dit kaalgatpoësie. Hy analiseer die betekenis
van die begrip loergat in die bundel: die loergat in die openbare toilet en die
loergat in die tronkdeur. Die suggestie is vir hom dat die leser ‘n
mede-gevangene word en deur die lees van hierdie poësie geraak en daardeur
ryker sal word.
Onderliggend
aan die bundel is ‘n soort “Judasoog”-metafisika – met al die implikasies van
verraad – waarin die “dieper” betekenis van wat die mens bespeur, sef ‘n
loergat blyk te wees. Hy beskryf dit as ‘n postmodernistiese mîse-en-abyme. Dit maak verder van ‘n
arsenaal van seksistiese metaforiek gebruik. Die metaforiek gaan gepaard met ‘n
verhouding waar oorlog intiemer as liefde blyk te wees, waarin die minnaars
blote skermmaats is vir latere vyandigheid. Hier, volgens Liebenberg, gaan dit
om mag soos dikwels ook in hard core-pornografie
die geval is. Die tong word met ‘n springmes vergelyk, terwyl die “liefde” nie
anders kan as om diep wonde te laat nie.
Ten slotte vra
Liebenberg of die manier waarop die vervreemding (wat hierdie soort verhouding
meebring) as tekenend van die menslike kondisie gesien kan word. Hy vra dan of
dit projeksie is en hy wonder of De Lange nie hier dalk perspektief op die wyer
werklikheid begin verloor met sy nou fokus deur die loergat nie.
Andreij Horn
meen in Die Volksblad (10 Junie 1991) egter
anders.”Verstommende talent misbruik” is die opskrif van sy stuk waarin Horn
anti-gay-uitsprake maak. Hy stel hierdie bundel gelyk aan ‘n bevrydingstryd
waarin die persoon aanvanklik die nuwigheid van sy regte misbruik. Volgens Horn
was Wordende naak ‘n “stylvolle”
betreding van die homoërotiek. Hy noem
die gedigte “soms tydloos elegant” en “met ‘n onweerstaanvare begrip vir die
eise van die homoseksuele leefwyse afgerond”. Volgens hom het hierdie bundel
baie simpatie gewek en is dit alles tekens van ‘n “volwasse verwerkte
emosiebalans”. Horn bevind dat hy kuns gemaak het uit die pyn van “uitsluiting
en verwerping”. Horn meen hy kon voortgebou het op die begrip van Wordende naak, maar hy het egter ‘n
bundel gelewer wat hy beskou as een met groteske verse. Hierin word die kru-aspekte
van homoseksuele omgang in die fynste besonderhede beskryf. Hy bevind dat die
bundel walglik is. Horn skryf: ”De Lange verkrag jou daarmee. Hy doen sy ding
sonder aansiens des persoons. En hy druk dit in jou keel af. Hy vryf jou dit
onder die neus. En hy stoot jou van hom weg.” Hy erken wel die meesterlike
hantering van die woord. Hy bevind dat hy ‘n knap digter is met ‘n verstommende
talent wat onmiskenbaar is. Hy hoop dat De Lange uit hierdie “fase” sal breek
en hy mis die volwassenheid en beheersdheid van ‘n Wordende naak.
Marthinus
Beukes resenseer die bundel as “Die sweet van die erotiese spel” in Die Transvaler (12 September 1991). Hy sien
voyeurisme as ‘n vooropgestelde tema in hierdie bundel en hierom moet die oog
as kode raakgelees word. Alle seksuele verhoudings is dus momenteel in hierdie
wêreld van cruising wat hy tipeer as
reisigers-van-een-nag. Hy vind egter dat die eensydige beskrywing van die
homoërotiek ‘n beswaar is wat teen De Lange ingebring kan word, omdat die
seksuele daad geteken word as pervers, liefdeloos en sig slegs ten doel stel om
seksueel te bevredig. Die heelheid en duursaamheid van die enkelverhouding
bestaan nie en die spreker bly voortdurend soekend. Die bundeltitel kan gesien
word as ‘n simptoom van vigs en tuberkulose. Hy let op die deurdagte komposisie
van die bundel met die motto’s om die onvoltooidheid van verhoudings,
alleenheid en soeke na geliefde(s) oor te dra.
Henning Snyman
bespreek die bundel in Rapport van 14 Julie 1994 (“Skokkende word
literêre skoonheid”). Hy verwys na die komplekse aard van hierdie poësie wat
begryp moet word binne die denksfeer waarbinne dit bestaan. Hy kan egter net
lukrake opmerkings maak by gebrek aan ruimte. Hy sien die bundel as ‘n tweeluik
van Wordende naak en die leser
moet bekend wees met die digkuns van Whitman, García Lorca, Allen Ginsberg,
W.H. Auden en Wilfred Owen. Op sigwaarde handel die gedigte oor die lyflike, maar
met die ordende mag van die woord word die oënskynlik skokkende gegewe tot
literêre skoonheid verwerk. Die bundel beantwoord aan die elementêrste eis van
die letterkunde: die styl moet die gegewe pas. En, dit moet mensgerig wees.
Alhoewel die meeste van die gedigte as flitse van die gay-wêreld beskou kan
word, word dit ook die verhaal van menslike eensaamheid, vir die vrees vir die
tyd en ouderdom, die tragedie van onvervuldheid en verlore liefde, die ironie
van menslike illusies en verlangens en die wrangheid waarmee ons helaas moet
saamlééf. Dit word ‘n inventaris van dié emosies wat menswees kenmerk. Die
eerlikheid van die gedigte mag moontlik skok, maar as sodanig daag dit die
samelewing en sy moraliteite uit tot gesprek en self-ondersoek. Dit is ontbloot
van huigelary en so gelees, lewer dit sosiale kommentaar. Dit is ‘n gesprek wat
steeds wag op ‘n antwoord. De Lange bring met hierdie bundel ‘n nuwe
volwassenheid in die digkuns en dit is ‘n volwassenheid, volgens Snyman, wat
nie terugstuit vir tematiese waagmoed nie. Dit is vorm die poëtiese ekwivalent
van Aucamp se Volmink: dit is ‘n verslag van “volmaaktheid
in die verminking”.
In ‘n berig van
7 Desember 1990 in Die Volksblad
(“Uitgewer sê nee vir bundel”) word berig dat die bundel Judasoog, die eerste
titel vir Nagsweet, afgekeur is deur Tafelberg uitgewers en toe uitgegee is
deur Taurus. Die skildery van Battiss gee ‘n realistiese afbeelding van ‘n
manlike geslagsorgaan. Die uitgewer, Danie van Niekerk verwys net na die
meningsverskil oor die omslag van die bundel en lewer egter nie kommentaar op
die inhoud van die bundel nie.
6. Vleiswond
Marlene van
Niekerk resenseer hierdie bundel in Rapport
(7 November 1993) uiters negatief (“Vleiswond – die gedig as ‘huurjonge’”). Sy
verwys hierna as skryfsels en die voorspelbare verwording van ‘n poëtiese
voorskrif wat van die begin af deur sy selfgenoegsaamheid korrup was. Die
Oppermaniaanse eis van “deurgekomponeerdheid” en “gelaagdheid” het hier sy
logiese vervlakking gevind in ‘n poëtiese prosedure wat sy noem “die mannerisme
van die allegorie”. Die poëtiese objek is tot vervelens toe die homo-erotiese
ervaring en die beeldbron is die Christelike lydensgeskiedenis en die
Rooms-Katolieke liturgie. Vir haar werk dit dan soos ‘n painting by numbers. Die cruising
crowd is die gemeente, die hostie op die tong is die sperm in die mond, die
bieghok is die loergat, die wywaters is nog meer sperm en die priester wat
alles seën is Walt Whitman, historiese voorloper van die homoërotiese
estetisisme in Amerika.
Sy kritiseer
eweneens die allegoriese aard van die gedigte wat volgens haar geen spanning by
die leser tot gevolg het nie. Sy beskryf dit as poësie van die popcornstand.
Die gedig word
volgens haar ‘n “huurjonge” of rent piece.
Sy skryf: ”Dit is nie net ‘n bevestiging van gepopulariseerde formalistiese
formules nie. Want hierdie poësie is verder ook nog ‘n verheerliking,
sensasioneel en melodramaties, van ‘n sekere stereotipe van gay seksualiteit – naamlik die immer cruisende,
altyd loopse, eensame maar aantreklike jongeling wat van die een anonieme
orgastiese ervaring na die ander tuimel, nooit versadig, altyd smagtend na die
ewige, perfekte en volledig beskikbare manlike liggaam, skryf sy. Vir haar is
die inhoudelike stereotipering ook ‘n talige een. Sy vergelyk die bundel sagte
fokus op hoëglans-papier soos in “upmarket gay softporn mags”. Sy tipeer die
bundel as “Neo-Kaapse Gay Pittoresk” en verwys na die poëtiese flirtasie met
Vigs. Sy kritiseer die oorinvestering van bepaalde Afrikaanse woorde met
tradisioneel herkenbare poëtiese gewig en die oorverdowende eggo’s uit Van Wyk
Louw en Cussons. Verdere gebreke is die geykte “lewenswaarhede” en die opbreek
van prosa in versreëls sonder bykomende effek. Sy beveel aan dat hy vir ‘n ruk
lank moet ophou dig en goeie poësie moet lees.
J.C. Kannemeyer
resenseer Vleiswond in Insig
(28 Februarie 1994) as “Die evangelie van seks volgens De Lange”. Hy is gunstig
in sy bespreking en hy wys op die sterk beelding en fyn afwerking van die
verse. Hy beskou die digter as een van die betekenisvolste figure in die
hedendaagse Afrikaanse poësie met ‘n sterk erudiete aanslag. Die homoërotiek
word uitgesonder as ‘n belangrike tematiek in die bundel en Kannemeyer wys
daarop dat Vleiswond ‘n wyer register
motiewe bevat as Nagsweet.
Die
dier-afdeling wys dat die digter met reekse van metafore of vergelykings,
subtiele klankspel en ratse woordkeuse ‘n hegte eenheid kan opbou. Hy is
eweneens positief oor die wyse waarop die digter die homoseksuele seksdaad met
momente uit die Christelike w êreld, en in die
besonder Rooms-Katolieke rituele, verbind. Die onderliggende idee van die wond
vind neerslag in gedigte. Die vraag wat ontstaan volgens Kannemeyer is hoe die
leser moet staan teenoor verse wat die religieuse en seksuele ervarings op so
‘n wyse moet verbind. Dit is volgens hom al lank reeds ‘n bekende procédé in
die literatuur dat die religieuse geprofaneer of gesekulariseer word en ‘n
ander waarde aanneem, al bly die verband met die herkoms steeds behoue. Volgens
Kannemeyer is De Lange se werkswyse nie ‘n sekularisering of profanering en
degradering nie, “maar eerder iets wat ek as ‘n besondere vorm van die mistiek
sou wil benoem”. Hy beskou die verse as ‘n belangrike uitbouing van De Lange se
oeuvre. Dit is dan gedigte waarin hy die seksuele met ‘n ander dimensie verbind
wat volgens hom ‘n belangrike groeipunt na Nagsweet verteenwoordig.
“Vleiswond vir
ernstige leser” is die opskrif van S.W. van Zuydam se resensie in Die Volksblad (7 Maart 1994). Hy beskou
die bundel as ‘n belangrike toevoeging tot die sogenaamde gay-literatuur in
Afrikaans met ‘n gewaagde vervlegting van gay-, digter- en Christenskap wat die
bundel uniek maak. Die bundel word as’t ware omraam deur twee
kruisigingsgedigte. Dit gaan om meer as ‘n gelykenis met Christus, want dit
word ook ‘n kruisiging ten opsigte van die vlees en meer bepaald om gekruisig
te wees aan die seksuele begeertes wat deur die maatskappy verbied word. Die
digter herskryf bykans alle gedrags- en sedekodes van die heterogene
Christelike maatskappy. ‘n Gedig soos “Bloubaard se kamer” bevestig weer die
tweekantigheid van die ongebreidelde hartstog, ‘n gedig opgedra aan Jeffrey
Dahmer. ‘n Gevaarlike spel dus, en ten slotte ook ‘n steriele bedryf. Die
resensent besluit dat Vleiswond ‘n
ryk en geskakeerde bundel is waarin vele literêre, religieuse en ander
intertekste meespeel. Die bundel is bedoel vir die ernstige leser, “want daar
moet verby die liggaamlike banaliteite gekyk word. Pas dan word dit ‘n werk”,
skryf van Zuydam, waarin die problematiek van die gay op ‘n indringende en
openbare wyse poëties verwoord word”.
A.P. Grové is
minder gunstig oor hierdie bundel in Beeld
van 1 November 1993 (“Werklikhede van homoërotiek”). Sy slotbevinding is dat dat daar gedigte in
hierdie bundel is wat nie beeldend oortuig nie, ander wat kru momente bevat,
maar daar is volgens hom genoeg mooi gedigte in die bundel, genoeg talent aanwesig
om die digterskap te bevestig wat ons uit die vorige werk van De Lange leer ken
het.
Hy wys op die
religieus-erotiese verse in die bundel en die homoërotiese verse se aard en
openbaringsvorme (die spanning, pyn en hartseer) wat daarmee gepaard gaan. Op
verskillende maniere probeer die digter liggaamlike ervaring tot ‘n geestelike
vlak oor te hewel, maar volgens Grové ontbreek die metaforiese krag om dit uit
te voer. Die gedigte maak ‘n uitgedinkte, beredeneerde indruk. “Die gevolg is
dat ons hier pleks van ‘n vergeesteliking van seksuele aangeleenthede eerder ‘n
vergedrewe sekularisering van godsdienstige waarhede kry”. Hy is meer positief
oor konkrete figure soos die diergedigte of verse (soos oor Mapplethorpe)
waarin aftakeling en doodsverlange uitgebeeld word.
In die
poësiekroniek in Tydskrif vir letterkunde (Jg. 33, 2,
Mei 1995) skryf Joan Hambidge positief oor hierdie bundel. Sy betrek die
negatiewe reaksies van ander resensente en wys op die banalisering van die
verhewe, estetiese gedigte van Louw en Cussons oor die Rooms-Katolisisme. Die
digter dig in ‘n ander moraliteit-sleutel, maar wys daarop dat die gedigte
konvensioneel in aanbod is.
Marthinus
Beukes skryf in Tydskrif vir letterkunde
(Jg 35, 1, Februarie 1997) oor “Die gebruik en misbruik van Christelike simbole
in gay-literatuur met spesifieke verwysing na Johann de Lange”.
Volgens Beukes
kan De Lange in navolging van Roodt se siening dat die mens op soek is na die
paradys, uitreik na die eenwording met ‘n g/God(heid). Die uitreiking na die
godheid is ‘n mistieke gemeenskap en word verwoord in ‘n unieke simbooltaal.
Simbole word by De Lange in ‘n nuwe diskoers aangewend, omdat die homoseksuele diskoers ‘n nuwe
betekenis aan die Christelike simbole gee. Vleiswond
is ‘n deurbreking en verbreking van tradisionele grense. Die aanwending van Christelike simbole op
mistieke wyse is volgens Beukes vernuwend binne die Afrikaanse digkuns. Hy gaan
akkoord met Kannemeyer se siening dat die verbinding van die seksuele en die
religieuse nie ‘n sekularisering of profanisering is, maar eerder gesien moet
word as ‘n besondere vorm van die mistiek. Die simboliek in die gay-literatuur
beskou hy as drag vir ‘n course. Die gedigte word gelees as ‘n
verlossing uit ‘n gebroke wêreld en om gemeenskap met God daar te stel.
Versluierde taal is aanvanklik gebruik, omdat die homoseksuele mens nie openlik
kon wees nie. Simbooltaal is in dié raamwerk die transfigurasie van ‘n moeilik
kommunikeerbare gegewe. Hy meen dat die liefde wat nie in die openbaar bely mag
word nie, vind ‘n eie betekenis-netwerk met simboliese kodes as ‘n doelbewuste
poging om seksualiteit te versluier. Oënskynlik onversoenbare sake word
versoen, naamlik die gay-gegewe met die Christelike religie. Christelike
simbole word dan só in ‘n homoseksuele gedaante geklee.
By De Lange is
daar egter ‘n groter openheid, omdat die denkklimaat in die gemeenskap verander
het. Die nuwe voorkoms hef volgens Beukes dus onsigbaarheid op en word ‘n
parade in ‘n nuwe gestalte in die openbaar. Volgens hom is dit eerder ‘n soeke
na Christus as ‘n profanisering van sodanige simbole. Hy sien dit ook as ‘n
heling van die gebroke Vaderverhouding en die homoseksuele minnaar tree as
plaasvervanger op vir die gebroke op afwesige vaderfiguur. Die religieuse en
die seksuele is ‘n identifikasie en unifikasie. Die cruiser smag na permanensie en die religie veronderstel in
totaliteit ‘n verhouding tot ‘n god/God. By die De Lange-figuur is daar egter
verwisselbaarheid aan die lyfgod. Beukes meen verkeerdelik dat die soeke na die
geliefde ‘n definitiewe religieuse konnotasie kry, want Christus is die persoon
op wie gewag word.
Die inspan van
die Christelike simbole in De Lange se poësietekste kry ook die betekenis van
lyfmistieke belydenis.
Cruising word gesien as die verheerliking van manlike skoonheid wat
stol in die konfrontasie met die self, meen Beukes in navolging van Snyman. Hy
meen dat cruising soos gebed ‘n
aktiwiteit is wat herhaaldelik geskied om eenwording te bring. Die digkuns
getuig ook van ‘n obsessie met die fallus en dit is die onbewuste die sentrum
van betekenisgenerering. Die fallus is vir De Lange die betekeniskern in sy
religieuse raamwerk. Oorgawe aan die Ander se liggaam word ‘n religieuse
interaksie. Tog is die ekstase van korte duur, “want heelwording is ontglippend
en die soektog na die geliefde is net ‘n fantoom en die soektog ‘n spel van
uitgestelde betekenisse”. Die digter is in suspensie, want daar vind ‘n ewige
uitstel van betekenis plaas tot die skryf van die volgende gedig of die beleef
van ‘n seksuele ervaring. Hy noem dit ‘n t/seksuele diskoers met betekenis en
volmaaktheid wat uitstelbaar is.
Die hunkering
na die lyf en dus Ander word in ‘n Rooms-Katolieke gedaante gegiet en Beukes
sien dit as ‘n progressie in sy skryfwerk.
7. Wat sag is vergaan
Helize
vanVuuren resenseer die bundel in Die Burger van 20 Maart 1986 (“Bundel se hoogtepunt treffende dodelied aan Koos Prinsloo”) en die titel herinner aan
Lucebert se bekende steling dat alles van waarde weerloos is. Sy verwys na die
anargistiese kruheid by sommige verse (soos “Coke & Sodomie”) en die
gewaagde vers oor Jeffrey Dahmer wat die leser kortstondig boei, waarskynlik
weens die gewaagdheid. Sy bevind dat die bundel enkele treffende verse bevat,
maar dat daar ‘n verstilling en ‘n fragmentering in hierdie bundel is wat maak
dat dit nie die poëtiese trefkrag het van Wordende naak nie.
In Rapport van 21
Januarie 1986 resenseer Tim Huisamen die bundel (“Sterflike en die hier en nou
ontgin in vernuftige verse”) beklemtoon die barokke vernuf van hierdie
digterskap. Die digter se vindingrykheid om beeld-netwerke te skep en die feit
dat ales eindig is, word as barok getipeer. Barok aktiveer hier ook
intertekstualiteit en kunssinnigheid. “Maar ook barok in die sin van ‘n
ongelyke pêrel in ‘n soms pralerige retorika”. Daar word dikwels ‘n persoonlike
waarheid teenoor ‘n openbare leuen uitgebeeld. Die koorsagtige oombliklikheid
word uitgewys, die one night-stand,
die elegiese van die verwondbaarheid van die liefde, afstande wat intieme
liggame van mekaar skei. Weerloosheid word teen verwondbaarheid geplaas. Die
bundel is volgens Huisamen ‘n deurlopende intertekstuele spel met die rykdom
van verwysings, parodieë, nadigtings, huldeblyke en besinnings oor die kuns.
Die triomfantelike vormbeheer word geloof in die vele variasies van die sonnet
in die bundel. Hy verwys egter na die fasielheid en oormaat wat soms aanwesig
is soos die talle enjambemente wat op afkappings berus, word ‘n truuk wat
afgestomp raak. Hy kritiseer die woordspelings en gesogthede wat slegs
slimmighede word. Soms is die erotiese ryk aan die enblematiese, maar die
sintuiglike word afgeskeep en so die emosionele ontroering en die konkrete van
ervaring mis. Hy beskou De Lange as een van ons mees opwindende digters om te
lees. Opwindend in die woordvernuf, rymvernuf en die intellektuele en
emosionele plesier van poësie. Hy wys op die opposisie tussen openbare en
private, kultuur en natuur. Die frenetiese popaanslag word gekritiseer en die
gay-ontvlugting is van mindere allooi. Met hierdie bundel bewys hy egter sy
statuur as digter binne die Afrikaanse letterkunde.
George Weideman
resenseer die bundel vir Versalbum (7 Julie 1996). Die resensent
beklemtoon hoe die bundel in opstand kom teen onderdrukking en die magswellus
van ‘n gemeenskap. Die opposisie tussen syn en skyn word ‘n belangrike kode in
die bundel. Hy wys ook op die woordvaardigheid van die digter. Hy sien De Lange
as ‘n voortreflike natuurdigter. Hy beskou hom as ‘n moderne Leipoldt.
A.P. Grové
bespreek die bundel in Beeld van 18 Desember 1995 (“Waarde lê in ‘kunsgedigte’”). Die
beroemde Barberini faun, wat ‘n prominente plek beklee in München se
Glipbiblioteek, staan op die voorblad. Brutale liggaamlikheid word deur hierdie
voorblad geaktiveer. Hy wys op die natuurgedigte en homo-erotiek. Daar is egter
ook vir hierdie resensent mindere gedigte aanwesig in die bundel. Daar is
volgens die resensent ‘n strewe om aan die vervlietende stuk werklikheid ‘n
blywende geldigheid te gee. Die resensent is minder positief oor die erotiese
verse wat dikwels in herhaling en opstapeling kan verloop en die gedigte is ook
nie altyd vry te pleit van opsetlikheid en neulerigheid nie. Die waarde van die
bundel lê vir die resensent in die “kunsgedigte” en die deernisvolle portrette.
Dus eerder in die objektief-besinnende gedigte as in die werk van ‘n meer
subjektiewe en of belydende aard. A.P. Grové bespreek die bundel in Tydskrif vir
Geesteswetenskappe (Jg. 36, 3, September 1996) soos bespreek in Beeld.
In “Harde
woorde, sagte dinge” skryf Ampie Coetzee in Insig (Februarie
1996). Hy tipeer die bundel as gay, maar wys dat dit eintlik gaan oor die
verganklikheid van die liefde, die liggaamlikheid van die mens binne die natuur
en binne verhoudings met ander, seksualiteit en geweld, en die representasie
daarvan op poëtiese wyse. Hy wys op die sentrale posisie van die liggaam en dit
te plaas binne die natuur. Hy wys ook op die paradoksaliteit van die proses:
die liggaam op die omslag is van klip en dus weerbaar (en verder weerbaar
gemaak deur die kamera), terwyl die liggaam, in woorde weergegee, sag is en kan
vergaan. Hy verwys ook na woorde wat leë tekens is, wat net na hulself verwys
en net die blote naskrif van ‘n herinnering is. Hy wys ook die direkter, harder
soort vers wat ‘n mens in hierdie bundel aantref soos die gedig oor Koos
Prinsloo met sy skokkende slot. Die uiteindelike transformasie van tema en
persepsie tot poësie waarin ‘n mens die waarde van hierdie bundel sal sien as
goeie poësie.
Phil du Plessis
bespreek die bundel op RSG (Skrywers en boeke: 14 Maart 1996). Hy sien die digter
as die belangrikste skrywer van homo-erotiek in Afrikaans. Die fallus bly
sentraal met Nagsweet se intense, liriese verse wat hom kan nadoen. Die
weerbarstige militante aanslag word uitgewys (soos in die slot van “Coke & Sodomie”).
‘n Ander konstante is die huldegedigte. Hy wys op die menslike volwassenheid in
hierdie bundel “wat nie baklei met die middeljarige moralis wat ek soms is
nie”. Hy sluit af: “De Lange word met
hierdie bundel, soos Beethoven se simfonieë met gelyke nommers, nie op groot
skaal nie, ‘n groter digter”.
In Tydskrif vir
letterkunde (Poësiekroniek. Jg. 34 (1/2), Februarie / Mei 1996 skryf Joan Hambidge
oor die San Andreas-fout van die hart. Sy belangrike posisie word uitgewys, nie
net om sy gedurfde verse nie, maar vanweë die beeldgevoeligheid. Sy hantering
van die paradoks en volgehoue aangrypende beeldgedigte maak sy digkuns
besonders. Die verlies-toon is opvallend van vele verse “wat syn en skyn
slaaploos palindroom”. Die mens is dikwels uitgelewer aan drifte en magte
groter as hy self. Vele verse is ‘n soort herbestekopname. Die natuur word by
herhaling aangspreek met die wete dat alles geskonde is. Die gedigte oor
beroemdes gee ‘n troebel beeld van bekendes en hul smagting na geluk. In die
derde afdeling met sy waansinnige inkantasiebeelde van Afrika bereik De Lange
‘n hoogtepunt in sy oeuvre.
8. Die algebra van nood
In Rapport van 28 Junie
2009 resenseer Zandra Bezuidenhout die bundel (‘Vleeslike’ digter se poëtieseomgang met lyf- en geestesnood”). Sy beskou hom as die mees “vleeslike” digter
in Afrikaans, met Hennie Aucamp ‘n kortkop agter hom. Hy probeer die
persoonlike lewensalgebra in hierdie bundel ontwar (en skep). Volgens haar is
die rus dikwels in die seksuele geanker. Die behoefte aan heling deur die vlees
word dié keer op ‘n ongebruiklike wyse deur die bundelomslag voorgestel en die
titel verwys na William Burroughs se The Algebra of Need.
Dit roep ‘n
sfeer op van homoseksualiteit, dwelms en die dood. Die somber ets verraai iets
van De Lange, hoof in die hande, se toestand van onmag of ontreddering. Dit
word volgens haar versterk deur die afbeelding van ‘n spuitnaald, aangevul met
ampules en kriptiese digtersnotisies op die agterplat. Sy vertolk die kladmerke
of spatsels as uitvloeisels of oorblyfsels van een of ander vorm van
worsteling.
Sy wys daarop
dat die nood veral liggaamlike dimensies het. Die ontglippende en verganklike
van die menslike bestaan en die gepaardgaande sug na vervulling word ingeklee
in agte afdelings wat nooit werklik los van mekaar staan nie. In die tipiese De
Lange-idioom word die taal uitgebuit om veelvuldige interpretasies moontlik te
maak en soms religieuse dimensies daarby te betrek, meen Bezuidenhout.
Sy meen dat die
ampersand-teken op die duur steurend werk, maar skakel moontlik met ‘n bewuste
klem op kodes of vervanging van een kodesisteem deur ‘n ander.
In ‘n tipiese
De Lange-idioom word die taal uitgebuit om veelvuldige interpretasies moontlik
te maak en soms religieuse dimensies daarby te betrek. Byvoorbeeld die vers oor
Kerkorrel betrek die werk en lewe van Ingrid Jonker. Volgens Bezuidenhout dien
De Lange se kennis van die literatuur deurlopend as boustof vir sy eie digwerk.
Sy skryf: ”Die trefseker aanwending van woord- en reëlbreuke sorg vir elegante,
ritmiese versbeweging en ‘n verklanking van die spreker se gedagtegang.”
Volgens haar sou ‘n mens kon praat van “poëtiese viskositeit” waar versreëls
uitdy en inkrimp, of waar woordklontering en/of losmaking klank en betekenis
heg en ontheg. Sy is wel krities oor die tematiese eenselwigheid van die bundel
en vrees dat die verassingselement in sy werk mag taan. Sy is eweneens krities
op “oorvol en onoortuigende samestellings” wat ‘n gawe vers belemmer.
Die bundel se
groter subtiliteit, bevind sy ten slotte, sal in die smaak val van lesers wat
die “vleesdis voorheen onverteerbaar gevind het. Net enkele gereggies is
onbehoorlik pikant”.
Ampie Coetzee
bespreek die bundel in Die Burger van
20 April 2009 (“Onnoemenswaardig. Metafore soms te uitgedink, eerder kognitiefas intuïtief”). In hierdie uiters negatiewe bespreking is dit duidelik dat die
resensent nie die toonaard en spel van die bundel begryp nie. Hy verwys ook na
die gekwelde voorblad en die “gekrabbel” agterop die bundel kan volgens hom kan
as syfers of algebra gelees word. Soos Rembrandt deur donker en skadu na
helderheid gesoek het, so streef hierdie digter deur woorde (“wat maar klank en
teken is”) na betekenis. Volgens hom is daar in albei vorme beperkings en
teenstrydighede in die middele tot representasie. Saam met die afdeling ars
poetica bevind hy dat daar ‘n twintigtal gedigte of fragmente van gedigte is
wat handel oor die maak van die gedig. Dan is daar motto’s, parodieë, opdragte
en herinnerings aan ander digters, en verse op die wysie van ander digters se
verse wat volgens Coetzee ook by die twintig behels.
Vir Coetzee is
die geslaagde metafore die wat nie uitgedink of kognitief is nie, maar eerder
intuïtief funksioneer. Soms vind hy gedigte oordoen, retories dekoratief.
Hy wonder ook of
die bundel nie by strenger redigering kon baat gevind het nie.
Hy is krities
oor die ampersand-teken en dit word ‘n teken soos woorde wat tekens is, en
algebra wat met tekens werk.
Hy bevind ten
slotte dat buiten die verskeie fragmente van De Lange se poëtiese bespiegeling
oor die ars poetica, is die meeste ander gedigte in die bundel
onnoemenswaardig. Hy meen die digter het dit ook aangevoel en hierom begin hy
die bundel met die byna laaste, droewige woorde van T.S. Eliot: ”These
fragments I have shored against my ruins”.
Marius Crous
resenseer die bundel op Litnet as “Die man met die spuitnaald / vulpen – Johannde Lange se Die algebra van nood”
(Afgetrek op 15 Desember 2009). Crous meen dat die titel
ontleen is aan Eric Mottram se studie oor Burroughs wat in 1971 verskyn het.
Verder verwys die bundel ook na wiskundige terme, soos “logaritme” (12), “die
skoonheid van algebra” (32), “algoritme” (32), “fibonacci” (32) en “optel en
aftrek” (79).
Hy beskou die
“bedrieglike paradyse” in die bundel, naamlik die ontvlugting en kunsmatige
najaag van plesier. Hy wys op die skakeling met Tweede natuur waarin daar ook geskryf word oor die ekstase van
dwelmgebruik. ‘n Ander tematiek wat hy uitwys is die “Naspele &
voortvlugte” en dus die gesprek met poëtiese voorgangers soos Louw, Eybers en
Cussons. Hy vind die queering van die
interteks met betrekking tot Louw egter minder geslaagd en hy wys op die
soortgelyke gesprek in Vuurwiel van Joan Hambidge.
Crous wys op al
die intertekste in die bundel, o.a. die gesprek met Lina Spies. Daar is ook
“handgrepe van hartstog” betrek liefdeservarings en erotiek. Die uitgesproke
gay-gedigte betrek die wêreld van trade
en hustlers. Daar is ook belangrike
lykdigte in die bundel. Die resensent is dit eens met Marthinus Beukes dat De
Lange ‘n belangrike stem binne die Afrikaanse letterkunde is. Nie alleen om die
homo-erotiese tematiek nie, maar ook om die fyn gestruktureerde verse.
Marthinus
Beukes resenseer die bundel in Beeld
op 8 Mei 2009 as “Restourasie van verlies in ‘Algebra’”. Hy benader die bundel,
in navolging van Louise Viljoen se lesing van George Weideman se Pella lê ‘n kruistog vér, as ‘n storie
van ontwikkeling in een band. Maar hier ‘n byeenbring van van verse as
fragmente van nood. Hy lees dit teen die agtergrond van die Eliot-motto en die
“reunion of broken parts”. In hierdie bundel wil hy die gebrokenheid wat deur
pyn veroorsaak is, herkonstrueer of herstel in ‘n berekende en
deurgekomponeerde bundel. Hy verwys na die omslag as ‘n belangrike sleutel vir
die verstaan van die bundel. “In die ritme van fragmente en verbindings,” skryf
Beukes, “ is poësie vir De Lange parallel aan die soek van die aar vir ‘n fix”.
Die ars poetica bring die naald en vers bymekaar in ‘n poging om die nood te
verlig – maar dit is ‘n momentele bevryding. Die bundel word ook ‘n digkuns van
afwagting vir die vindmoment, soos die pen wat wag bo die folio papier.
Algebra as die
reünie van gebroke dele en die restourasie van verlies kry ook in die bundel
gestalte deur ‘n vaardige intertekstuele jukstaponering met ander digters en
skrywers. Veral die aanwesigheid van Louw word uitgesonder.
Ook Cussons,
Ernst van Heerden en Ina Rousseau se aanwesigheid is opvallend. Die digter word
uitgesonder as ‘n belangrike stem in die Afrikaanse digkuns, nie alleen om die
homo-erotiese temas nie, maar veral om die fyn gestruktureerde verse en
vormtug. Hy demonstreer dat sy digkuns ‘n jukstaposisie van aarselende soeke en
sekere vind is van die nuanses van bestaan.
9. Judasoog
Die volgende
bespreking van Joan Hambidge het in Die
Volksblad (6.8.2010) verskyn oor Judasoog.
“Akwarelle van
die dors.” Dit is nie alleen die titel van Johann de Lange se debuutbundel nie,
maar dit is hoe ‘n mens hierdie ryk geskakeerde digkuns kan tipeer. Dit is ‘n
digkuns van die paradoks, van onvervulling en juis hierom is daar ‘n intense
belewing van die oomblik en die skoonheid in verval. ‘n Mens sou De Lange se
poësie onder verskillende noemers kon plaas: die verhouding met die gestorwe
vader wat soos ‘n herhalingsdrang deur die hele oeuvre beweeg (die digkuns en
prosa), die gesprek met Ingrid Jonker, Sheila Cussons en N.P. van Wyk Louw. Die
digter word (verkeerdelik) tipeer as gay-digter. Hy het van die sterkste verse
oor hierdie tema in Afrikaans gelewer (veral in Nagsweet), maar De Lange het ‘n Januskant. Hy is sowel cruiser,
gay-digter as besinger van die skoonheid. Hierom die gesprekke met en
herdigtings van o.a. Dickinson, Baudelaire, Rilke, Auden, Edmund White; nader
tuis, Opperman, T.T. Cloete, Ina Rousseau, Wilma Stockenström, o.a.
Henning Snyman
skryf op die agterblad tereg: ”Binne die geestelike diepgang van sy verse kom
die beeld ágter die beeld te voorskyn”. Dit is ‘n raak opsomming van die
besondere beeldvermoë.
Wat hierdie
bundel uiters waardevol maak vir die waarderende leser, is die handvol nuwe
verse wat ook opgeneem is in hierdie keur. Hier vind ons openlike gay-gedigte
(die een is ‘n versweë antwoord aan ‘n ander digter) en ‘n lieflike vers oor
Marilyn Monroe. Daar is ‘n vers oor Golgota waarin die digter die moderne
tegnologie aanwend soos google, sms, twitter, blog, ensomeer om te probeer
bepaal hoé die moderne media-behepte mens sou reageer op die fenomeen Jesus
Christus.
Bekende
digterlike temas tref ons hier aan: die liefde, dood, kortstondigheid van ons
bestaan, die verhouding met die werklike en digterlike ouers, die “naakte
algebra” van die gay-bestaan, gedigte oor dwelms en Vigs, verse oor ikone (soos
Monroe, Kurt Cobain) ensomeer. ‘n Mens is opnuut onder die indruk van die digter
se besondere vermoë om die gedig op ‘n sekure slot af te stuur:
Ek soek in die
falende lig
na die slot van
my gedig (126, “Slot”)
Hier gebruik
die digter die wêreld-van-die-digkuns om die werklike lewe te beskryf, iets wat
regdeur die oeuvre loop. Die intratekstuele en intertekstuele aanslag kom nou
helder na vore en in ‘n keurbundel kry gedigte dikwels ‘n nuwe betekenis, omdat
hulle nou langs ander verse lê.
Die Judasoog van die bundel betrek nie
alleen die eksplisiete seksuele verse soos “Loergat” (uit Nagsweet) nie, maar
aktiveer die posisie van die leser as voyeur wat die private bestaan van die
digter betree. Trouens, jonger navolgers van De Lange het beslis nie die vermoë
om die eksplisiete en selfs transgressiewe beeldgebruik so oortuigend te gebruik
nie. Die digter kan nooit van kitsch of grillerigheid beskuldig word nie, al
dig hy oor reeksmoordenaars wat tot simbole verhef word.
Selfs die
gebruik van die plat woord (soos in “Tongnaai 2”) word metafories so in beheer
gehou dat ‘n mens net jou hoed kan afhaal vir die digterlike energie.
Wordende naak en Nagsweet, uit 1990 en 1991 onderskeidelik, bly my twee
gunstelingbundels. In die middel van die oeuvre – en al die ander bundels
voorspel en keer weer terug na hierdie twee suiwer bundels. Die Orpheus-mite is
‘n belangrike sleutel vir die begryp van hierdie digkuns met sy vele
“correspondances” en “blomme van boosheid”.
Van die Tierra
del Fuego tot aan die ysvlaktes van Groenland, van die Kaap tot Wladiwostok,
vibreer hierdie gedigte met hul fyn toespelings op die Griekse mitologie en ou
wyshede. “Daar is geen einde aan die skep van tekste nie,” lui die motto uit
Prediker 12:12.
Johann de Lange
is eweneens ‘n begenadigde vertaler (soos sy vertalings van Stockenström bewys
het) en ‘n besóndere kortverhaalskrywer.
Maar dit is in
sy digkuns waar ons onder die indruk kom van ‘n suiwerheid:
Die sagste wat
ons het, die taal,
bestaan solank
ons asemhaal. (“Taal”, 123)
Hierdie digkuns
is bekroon met die Ingrid Jonker- en Rapportpryse.
Sy oeuvre word
feitlik ‘n register van emosies, fel en diep, skryf Snyman. En dit is presies
hoé dit is.
Beeld-kyk
Net die oog:
ooglidloos
en ingedagte in
marmer,
‘n gaatjie
geboor
om ‘n soort
pupil
– paradoksaal,
want: pupil
is juis nie
gaatjie nie,
maar: ‘n soort
anemoon
met sluitspier
kompleet –
te simuleer. En
juis
die gaatjie:
die gaatjie
gee jou daardie
kyk,
daardie serene
uitdrukking,
en is die
verskil
tussen jou en
my:
jy: soos klip,
ek: soos
anemoon.
(uit: Akwarelle van die dors, 1982).
Die digter het
self die verse gekies; ek sou waarskynlik nog bygesit het!
Human &
Rousseau se projek om keurbundels vir belangrike digters te gee, moet beslis
aangeprys word – nes ‘n mens die wingerd prys.
Marius Crous
resenseer die bundel “Roerende natuurmetaforiek tref in versamelde gedigte”
in Rapport (14 Augustus 2010). Hy wys op die
gesprek met ander digters en die openhartige gesprek oor die seksuele wat deur
sommige as gay-kitsch beskou word. Hy beklemtoon in die bespreking die roerende
natuurverse, die verskillende bundels wat soos Vergilius se uitwys van die
sirkels van die hel aan Dante gelees kan word. Hy skryf verder:” Van
eensaamheid tot ontydige sterftes tot dwelmisbruik en sodomie. Dis gedigte wat
bewoon word deur seuns, digtersfigure, reeksmoordenaars, popsterre wat te vroeg
gesterf het, verliefdheid en verwerping.” Tereg wys hy daarop dat alles in die
teken van relativering staan wat ingegee word deur die motto uit Prediker 12:12
en dat daar geen einde is aan die skep van tekste is nie.
10. Weerlig van die ongeloof
Weerlig van die ongeloof word tereg opgedra aan die semantikus Henning Snyman wat met
sy essays oor die digkuns (soos Teodoliet, Mirakel en muse)
verhelderende bydraes gelewer het. Die eiesoortige werking van die digterlike
beeld en die fyn balans tussen abstraksie en konkrete vergestalting met die
uitwys van hoe litotes, satire en die metafoor o.a. funksioneer, bly
standaardwerke in die letterkunde. Die bundel bevat ‘n kunswerk van Judith
Mason: Die oog van die storm wat die titel goed verduidelik. (Op Litnet se voorblad word die digterlike
oog saam met die kunswerk geplaas.) Die digterlike beeld moet immers gesien kan
word…
Hierdie kort verse verraai kenmerke van die kwatryne, maar is dikwels
eerder kort, vierreëlige verse. Die titel aktiveer die De Lange-paradoks: dat
geloof bestaan of tot uiting kom ten spyte van ongeloof of twyfel.
Die drie verse versterk die siening:
Die weerlig van die ongeloof
Die weerlig van die ongeloof
verhelder soos die apostroof
grys telegramme van die reën
uitgestippel op die steen.
(49)
Bede
Uit my duister hoor my lied
& laat u wil oor my gebied.
Nie langer in die woesteny,
maar langs U in die galery.
(49)
Die paramour
na Rainer Maria Rilke
Gedenk die nonne & vroueheiliges
vir wie Christus ’n kamerjonge is,
’n soet ersatz vir passie, die teerste
paramour wat nog besitbaar is.
(50)
In “Skietgebedjie” (51) is daar ‘n verlange na die geloof sonder twyfel.
De Lange was nog altyd die digter van die paradoks: dus in die ongeloof is daar
soeke na geloof. Of die agnostiese digter is dikwels verlangend na die troos
van ‘n beskermde God.
Bekende temas van De Lange word hier op nuwe wyses geaktiveer en in
kompakte vorm aangebied: soos ‘n weerligstraal is die verse blitsig, vinnig en
die insigte vir die digter onthutsend, maar ook snel afgehandel of oënskynlik
verby. Die leser, bekend met die oeuvre, meet die verse veral aan ‘n bundel
soos Vleiswond waarin die sterk religieuse dimensie na vore kom.
Die verse is epigrammaties en selfs in telegram-styl geskryf, soos die
motto aandui:
In such a book as this,
The poet Martial says,
Some of the epigrams
Shall have seen better days,
And some are hit-or-miss;
But some – like telegrams –
Deliver intelligence
With such a sudden blaze
The shine can make us wince.
Fred Chappell
Die openingsgedig verwys na Marais se bekende siening dat alle bewussyn
pyn is en die selfmoord van Marais lui dan ook die aflegging van ou selwe in of
vroeër sienings van die digkuns. Op ‘n kompakte wyse word sieninge verpak om
tot helderheid te kom. Hierdie bundel is ‘n oorgangsbundel: een waarin die
skrywer wegbeweeg na iets groters en waarskynlik meer dwingend in die self
in-beweeg. Liefde eis groter waagmoed, die ouer self is meer blootgestel as die
jonger, cruising digter wat hom kon oopstel vir gevaarlike terreine op sowel
fisiese as geestelike vlak.
Hierdie soort gedig se belangrikste kenmerke vind ons: die woordspel, die
pun, die toespeling op bekende gedigte van Van Wyk Louw, Boerneef, Cussons.
Die terugkeer na die jeug – bekend aan individuasie-tekste – is gelade:
Lyfband
My naam is net ’n kepie in die lengte van jou lyfband
Jou naam is ’n wond, ’n haakspeld deur my mond
Ek het jou op ’n skoolbank geteken, al jou trekke uitgekerf
Jou lyfband op die bed se blink gespe-oog het ek uitgeverf
(15)
Die naam van die mede-skolier is egter nou ‘n wond in die herinnering,
iets wat ander ervarings sal bepaal. Dit kom dan na vore in:
Na Anaekreon I
Fragment 360
Seun met die lonk-oog blik,
ek kies jou uit, maar jy merk niks,
onbewus jy is die menner
van my siel & my geluk.
(17)
Die spreker is nie meer selfversekerd nie. Daar word gekyk na die self as
‘n bouval:
Bouval
Jy meen ek is taai, dat ek jou aanslae kan verduur
maar in der waarheid is ek: ’n krummelende kou,
’n haglike harmonie van suile & ruimtes
waarin jy soms jou vergane glorie nog onthou.
(18)
In vele gedigte is daar ‘n herinnering na die jeug, na die uitbundige
omgang met die liefde, veral die liggaamlikheid daarvan, wat nou verstar het in
‘n “vergane glorie”.
Ook die verslawing (letterlik en aan die digkuns) kom aan bod wat die
vorige bundel Die algebra van nood in herinnering roep. ‘n Vers soos
“Trade” aktiveer weer Nagsweet se cruise-verse:
Trade
Sy lyf straal teen die wit-van-die-muur,
’n swetende blom van die middaguur.
Wie hom wil hê moet hom net daar pluk;
teen sesuur bring hy ongeluk
(28)
Elke vers het ‘n pendant in die oeuvre wat van hierdie bundel ‘n soort
selfgesprek maak. Soms ironies, soms afwysend. Drome word kwelgeeste, iets wat
die spreker teister in die herinnering. Hierom dan ook ‘n gesprek met die
digterlike vader Van Wyk Louw:
Heildronk
Ek eet my toast
& drink my dooswyn
& in my hart
word alles boos rein.
(30)
Portrette van ander digters word telkens selfportrette of selfherkennings:
Emily Dickinson
’n Selfportret
Ek besit nóú geen portret, maar is soos die bruin
langstertjie klein, & my hare soos ’n kastaiingkwas
’n astrante klos – & my oë die kleur
van sjerrie wat die laaste gas los in ’n eenkantglas.
(33)
Klankspel is eweneens opvallend in die verse:
Hadida
Die hadida dida-dida die skemer in.
Sy vlerke van ou skutmetaal
is bestand teen die lig & roes,
& sy drieklank sny deur taal & tin.
(38)
Met “Inkvis” word vorige natuurverse geparodieer:
Inkvis
Die inkvis is ’n geisja
wat ligvoets dans oor koraal,
verwissel vlug kimono’s
in ’n ondersese taal.
(39)
Uiteindelik die digkuns die plek van oplossing vir die digter wat tot
klaarheid moet kom:
By in amber
Tyd het ’n by gevang in amber
wat honderd miljoen jaar of so al
bo een taai suikerdenblom bly hang:
vir jou eendagshals ’n sonkristal.
(44)
droomreën
die reëls val onreënmatig
die beeld sal sy blom behou
maatslag nóg los, nóg statig
in die gedig se weerligblou
(55)
Abracadabra
’n optelvers
deesdae is die fyn estetiese
afstand tussen ’n objet trouvé
& ’n objet d’art inderdaad klein –
die frisson wat ’n kortsluiting gee
(57)
In hierdie bundel is daar verwysings na klassieke tekste: van Vergilius
tot Lorca, Auden, Stockenström, en vele ander digters en kunstenaars soos
Michelangelo, Rembrandt, Van Gogh, ensomeer wat die gedigte ryk en geskakeerd
maak.
Die selfinsig is eerlik en op die man af:
Dwars
Hy is geheel dwars
met die heelal, kêns,
van meet af aan ’n dwars,
opgefokte entjie mens.
(67)
Digter op 50
Laatnag draai hy om, afgeslote
tussen fantome en penumbras,
& pluk ’n paar vermoeide note
uit ‘n ontstemde springveermatras.
(68)
Opperman word aangespreek en Van Wyk Louw bring helderheid in hierdie
bundel wat op die oog af net na lopers lyk, maar op ‘n vernuftige wyse epigramme
van die gees word.
Die middag het as geword
Die middag het as geword
met ’n son wat stadig smeul.
Die lug het soos wyn gestort
& niks word ooit weer heel.
(74)
Die bundel sluit met die sterk
vertaling van Luuk Gruwez waarin die gevoel dat die gedigte iets kan oplos, sal
voortstu in ‘n volgende bundel, juis omdat daar nooit heling in die digkuns,
finaal, gevind kan word nie:
Niks
Luuk Gruwez
Niks eindig soos dit hoort. Nie
die dankwoord & nie die lusmoord,
nie die rusoord of die slotakkoord.
G’n enkel rymwoord. Niks soos dit hoort.
Konvensionele kwatryne is dit nie, omdat die rym- en metriese patrone
dikwels nie nagevolg word nie. Maar die digter skep sy eie unieke De
Lange-kwatryn. In die Persiese kwatryn is dit AABA, selfs AAAA. Oorspronklik is
die ruba’i in die Islamse wêreld ‘n muntstuk en De Lange se kort gedigte is
soos munte. Handig vir die oorvaart oor die Styx.
(c) Joan Hambidge
11. Vaarwel, my effens bevlekte held
Kort na die verskyning van Weerlig
van die ongeloof, ‘n besondere knap bundel met kwatryne en vierreëlige
verse, verskyn daar ‘n bundel Vaarwel, my effens bevlekte held met ‘n
besondere mooi omslag van Christiaan Diedericks “Death of the inside warrior”,
wat reeds die toonaard van hierdie bundel aandui, te wete die aflegging van die
ouer self, die cruising digter en die soektog na heelheid. Weerlig van die
ongeloof is ‘n oorgangsbundel om tot ‘n beter begrip te kom van Vaarwel,
my effens bevlekte held, kortliks dan ook iets oor die sogenaamde
kwatrynbundel wat tussen Algebra van nood en die jongste bundel staan.
(Dit plaas ek ná my bespreking.) “Vaarwel” dui op aflegging, finaliteit en
hierdie titel speel in op ‘n reël van Johan van Wyk. “Bevlekte” aktiveer die
vele verse van self-bevlekking, sover terug as Snel grys fantoom wat die
gesprek met Van Wyk Louw aktiveer.
Vader Vark
Johan van Wyk
Vader Vark
het na die oorlog gegaan en Moeder
die riviersloepmaagd is in rosige stukke
gekruisig; daar is rommel op die dokke,
die flou aroma van spelende robbe
en die klank van sy horing
op soek na ’n dooie nimf.
Vaarwel my effens bevlekte held.
In hierdie bundel word die programgedig ars poëties
gerig en die digter posisioneer homself teen die oorrompelende digproses as ‘n
kontinent. In “Taal” (10) word die gedig verbind aan die Pegasus-beeld waar die
digter stoei met die onbuigsame woord, maar uiteindelik ten spyte van die
onbuigsaamheid daarvan, steeds in die saal bly.
Gesprekke met bekende voorgangers (Marais, Cussons, Louw) word in “Vismot”
(11) aan die orde gestel in ‘n soort aweregse ars poëtica. Wat hierdie bundel
besonder interessant en opwindend maak, is die herskrywing van vorige gedigte
(die programvers speel byvoorbeeld in op vorige verse oor die San Andreas-fout)
en die hiermee gepaardgaande gesprek met digters wat ons ook al aangetref het
soos Marais, Louw, Cussons en andere. Meer as ooit tevore, is die bewuswees van
die digproses as ‘n talige proses:
Die digter is eweneens ’n sonderlinge dier.
Uit sy vrugbare penpunt kom voort:
vlugte, blou seereise & aardse sange,
galeie & oorloë. Sy skryf is ‘n gier
na roem, of seks, hy laat ander
aan sy pen ry, skryf uit wraak
of weerwraak, of om te plesier.
Hy los sy spore op papier.
(“Narwal”, 12)
Die “Leeuvis” (22) wat gesuspendeerd agter glas hang, is ‘n
beeld vir die skryfproses: net soos wat die vis ‘n “onwesenlike watermerk” is,
verplaas die gedig net soveel veerlig wit. Beide die leeuvis en die gedig is
objekte wat getransformeer is: die vis is eers iets wat op ‘n niksvermoedende
prooi wag; later lyk dit soos ‘n beskilderde objek. Die gedig spruit immers
eers uit iets wat beleef is en dan beskryf word. Die begrip hologram is hier
die kode vir die begryp van die gedig waar vis en gedig één word.
Benewens die skryfproses word die homo-erotiese tematiek ook
ontgin, onder andere in die uitstekende vertaling van Auden se oorrompelende
vers, hier getitel “Platonies” (59). Ook die herdigting van Takahashi
Mutsuo “Myself met ‘n motorfiets” (op Litnet) dra hierdie tematiek
besonder helder oor. Die sterk natuurverse is eweneens weer deel van die
tematiek. Dit is egter méér as ‘n blote natuurvers, omdat die natuurgegewe of
landskap immer aan ‘n groter metafisika verbind word soos in die vers “Genade”
(17):
Genade
Ek wou hom vinnig red
van die skroeiende lug,
smak hom neer & gryp ’n
mes
vir vinnig sny nét agter die
kieu –
Maar my lem was stomp.
Nou staar die
aluminiumfoelieoog
emosieloos & onbevrees –
die lyf spartel glibberig in
my greep,
’n silwer reënboog half
verslyt,
& die mond snak oop
& toe
in geluidlose verwyt.
Hierdie vers met sy sterk epifaniese moment, aktiveer die digkuns van
Sheila Cussons. Die gelykstelling van die vis se lyf as ‘n silwer reënboog,
verbind die aardse met die metafisiese. Die vis is ook ichtus, simbool van die
Christelike geloof. Die vis buite die water kan nie oorleef nie. Die spreker
wou die vis red, maar word gedwing om hom dood te maak, juis omdat die vis
buite die water blootgestel is. Die spreker is egter nie in staat om die vis
vinnig dood te maak nie, omdat die lem van die mes stomp is. Iets wat die spreker
in ‘n daad van genade wou uitvoer, lei egter tot ‘n (self)verwyt.
Hierdie komplekse vers aktiveer verskillende aspekte van die
menslike lewe: geloof, die verbintenis tussen lewe én dood en uiteindelik hoe
die skryfproses ‘n tydsame proses is wat die spreker vasvang tussen
verskillende dimensies. In “Duisendpoot” (24) word die metafisika van die
biddende en vloekende duisendpoot ook ontgin. Die geslote sirkel of mandala
beteken hy bid; wanneer hy wild krul of kartel beteken hy vloek God.
Die verwysing na beeldende kunstenaars (soos Rembrandt en Vermeer) maak
die gegewe groter. In “Binnehof” (19) word die stilte en wit lig van Vermeer
geaktiveer om volledige eensaamheid te vergestalt; in “Stillewe met tulp” (20) word met die
helder kleure van die tulpe die kontras met die donkerder Rembrandt geaktiveer.
In hierdie gedig word die paradoks – dit waarin De Lange uitmunt – weer
sterk benut. Weens die onafheid, die fout het die twee mekaar geliefdes mekaar
lief.
“Evolusie van die oog” (29) is ‘n sentrale vers in die bundel waar die
blikhoek op die jeug en die verganklikheid van alles telkens onder die loep
kom. Dit word deur sterk natuurbeelde gedra en in haikoe-agtige vers word die
weerloosheid van alles weergegee:
Kroonden
Die kroonden lê omgeval
beenwit grynswit in die son.
(30)
Die vers “Mausoleum” (90) word tereg as ‘n visioen getipeer met die sterk
toespelings op Cussons. Die gedigte raak nou afwerend; dit beskerm nie meer die
spreker teen pyn of ellende nie.
Wat die verganklikheid van die liefde betref, is die gedig “Brueghel in
Parow” (37), wat inspeel op 9/11, waarskynlik een van die sterkste verse in die
bundel. Terselfdertyd praat dit saam met Auden se klassieke vers “Musée des
Beaux Arts”: “About suffering they were never wrong, / The old
masters”. Hierteenoor staan die kragtige jeugherinnering in “Oom Niek”
(39) en die “boetpsalms” van ‘n teisterende oom wat die spreker as volwassene
nou ervaar en inspeel op die ander verse rondom skuld en verwyt. Die ouma word
bykans ‘n mitiese figuur en sy word verbind aan die Kristeviaanse chora, daar
waar digterlike taal skuilhou: die pre-simboliese of simbiotiese dimensie.
Vye
vir Joan
My ouma stuur my na ‘n boord
om vye te gaan pluk. My vingers
proef die skurwe vel, my tong
flikker oor iets ontwyk-
end soos ’n woord,
of proe ek reeds die antidoot
van ’n gedig? Die mandjie, soos ’n lyf,
rus rond & kwesbaar in haar skoot.
(41)
Die minnaar (“My minnaar”, 44) word gekoppel aan die sterk Jeffrey
Dahmer-verse uit vorige bundels waar die liefde gesien word as grieselig en
veral in die skryfproses word die geliefde doodgemaak.
“Nóg die heuning nóg die by” (45) neem hierdie proses van verder wanneer
die spreker afreken met ‘n jeugdige persoon se ervarings van gay-wees met die
klinkende en siniese slot:
Mooi om na te kyk, selfs te begeer, of atleties te gebruik.
Maar daai untravelled fuck sal jou immer bly ontwyk.
Die speurende leser sal vele intertekste kan uittorring wat deur die
vaardige digter verskuil word.
Die seksuele is immer ‘n “republiek van begeerte”, “hunkering se grein”,
soos die vers wat eindig op ‘n reël van Cussons dan ook aandui.
Marilyn Monroe kom weer onder die loep in ‘n vers, ironies beskryf as ‘n
optelgedig, waar sy buite beeld (dus “off camera”) staan en nie die persona MM
is nie. Hierdie vers rig dikwels ander verse in hul toevallige, dog skerp
waarnemings. Alles is ook reeds geskryf in die digterlike oeuvre, maar elke
vers keer terug na ou temas op ‘n nuwe wyse: inderdaad ‘n nuwe liedjie op ‘n ou
deuntjie. Portretverse bekend aan hierdie digterskap, word uitsonderlik
uitgevoer in die gedig oor Uys Krige: ”In memoriam: Uys Krige” (74), wat die
Spaanse denk- en leefwêreld verder voer. Daar is eweneens verse oor Anne Frank
en Tsjaikofski. Hiermee saam loop die religieuse stramien deur die bundel tot
uitvoer gebring in verse soos “Die diensbaarheid van bome” (71), en “Google
Golgota” (93).
Die gedig oor John Berryman se selfmoord “Skielik skemer” (78) ondersoek
die implikasies van selfmoord rondom uitdrukkings soos “water onder die brug”
en “oor die muur”.
Skielik skemer
– What happen then, Mr Bones?
– I had a most marvellous piece of luck. I died.
John Berryman
Hoe dikwels het jy nie deur jou kantoorvenster
na die brug gestaar nie. Gewonder of dit jou weg
kon vat. Soos Hart Crane oor die relings
van die ss. Orizaba & in sy vaar-
waters in. Hy het glo sterk & doelgerig wéggeswem,
sy skoene netjies op die dek.
Art Hitman, skryn-
werker op kampus het jou op die brugreling sien sit,
met ’n streep weg & teen die grein,
voor jy sonder terugkyk vooroor gekantel het
om buite sig skipbreuk te ly, die grys beton te vlek.
Uitgeken net aan jou bril & ’n blanko tjek.
Jou laaste gedig is sonder slot: ’n eerste weergawe
van jou dood wat jy op jou lessenaar vir Kate wou los
om te lees. Ten slotte trek jy ’n laag-
waterlyn daardeur & smyt dit in die snippermandjie vir Kate
om op af te kom. Maar toe was jy al oor die muur
& water onder die brug. Vaarwel, my effens bevlekte held.
Hierdie gedig aktiveer die titel van die bundel en so beskou, is Berryman
(& die ampersand) ‘n sentrale vers in die bundel.
In die lang galery van selfmoordverse en verse wat handel oor die dood van
bekende figure soos Eugène N. Marais, Ernst van Heerden en Koos Prinsloo, o.a.
word die spreker in die vers volledig een met die onderwerp. Die toeval van Art
Hitman, die skrynwerker wat die digter op die reling sien sit, beklemtoon hoe
die digterlike prosedure dikwels op blote geluk en toeval berus.
Hiermee saam is die digter ook besig met ‘n bewuste spel soos in die
parodie op Jonker se “Bitterbessie dagbreek” in die gedig “afskryf” (82).
(Deesdae moet toestemming verleen word wanneer gedigte gebruik en geparodieer
word van Jonker, ‘n onhoudbare praktyk.) In die voorlaaste gedeelte word die
religieuse en die primordiale aangespreek.
In die manjifieke “Tzimtzum” (89) word al die motiewe in die bundel
saamgesnoer in ‘n veelvlakkige vers: die religieuse, die seksuele, die
aflegging van die self, die dood van die vader (wat soos ‘n swart draad deur
die digkuns loop), ontdekkingsreise wat die wêreld verander het, ensomeer. Die
moderne tegnologie word goed benut in “Google Golgota” en “Poste restante
Auschwitz, 1945” (95). Die bundel sluit op persoonlike verlies, die aflegging
van ‘n verhouding en die dood van katte, met die siniese konklusie in ‘n amper
laaste vers (105):
Totdat niks oorbly nie
Totdat niks oorbly nie. Absoluut
niks. Net die naam van die nag
herhaal in ’n somber slaap,
die omvattende nag in die leegte
& ’n verdwaalde koorsboom
se eensame saluut.
Die bundel sluit met ‘n sirkelgang. Die slotvers neem die leser terug na
die begin van die bundel, na die talige ontdekking en met die wete dat die
digterlike ondersoek en bedryf uiteindelik die enigste sinvolle aksie is.
Vaarwel, my effens bevlekte held kan ook gelees word as ‘n bundel van individuasie of
heelwording. Reeds die motto’s “Seeing is bereaving” van Judith Goldman en “A
word is elegy to what it signifies” van Robert Hass sluit sterk aan by die
verliestema in De Lange se werk. Maar die verlies of die afwesige
geliefde/vader word nou met groter gelatenheid aanvaar en dit is asof die
digter die taal, die republiek van woorde, met groter drif en beheer ontgin. In
Jungiaanse terme is hier dan sprake van individuasie: die digter keer bykans
afstandelik terug na dieselfde temas en kan dit nou volledig in die oog kyk.
(Die voorblad aktiveer immers die opposisie tussen ‘n worstelende engel en
demoon.) Die “steil paradokse”, soos dit in openingsgedig staan, kan bestyg
word. Die foutlyne kan genavigeer en erken word; daar word nie weggeskram van
die beperkinge en foute in die self nie. Die volgende gedig is volstrek ‘n vers
van individuasie:
Cirque de soleil
Die Vitruviaanse man rol
verby in dubbelhoepels
& akrobate onder koepels
in veldun kostuums sweef
in halfspirale swaartekrag gevang.
Gimnaste met bepoeierde greep gryp
& los, & koorddansers elk met ’n sweefstok
ballet ligvoets gebalanseerd
& alles tol binne die ligte
& ligte sirkels van die algebra.
(13)
In Agon – Towards a theory of revisionism (Oxford University Press, 1982) skryf Harold Bloom verder
oor die angs van beïnvloeding. De Lange se werk vra vir
‘n analise via die heterodokse Gnostiek en sy gesprek met Van Wyk Louw en
Cussons. ‘n Mens dink hier aan Bloom se lesing van Wallace Stevens:
It is the sibyl of the self,
The self as sibyl, whose diamond,
Whose chiefest embracing of all wealth
Is poverty, whose jewel found
At the exactest central of the earth
Is need… (13, 14).
Daar is geen tekste nie, net uiteindelik die self. “Waar alles ook al
begin, uiteindelik… word ’n ou onskuld / opnuut aangeleer” skryf De
Lange in die aflegging van die ouer, cruising self om tot self-insig te
kom in hierdie boek van afskeid & vertrek.
Uiteindelik het daar balans in die gemoed van die digterlike spreker gekom
en die “ligte sirkels van die algebra” is die nood nou afgelê.
Die sweefstokkunstenaar soos die nar
Die sweefstokkunstenaar soos die koord-
danser weet van tydsberekening
& van die swaartepunt se gryp
& los, dat die een knap by die ander hoort.
Ook die nar verstaan om ’n grap
te maak of te vertel, vereis begrip
van spanning skep & skietgee
soos ’n karwats of ’n skoot wat klap.
(14)
Alles gaan nou om tydsberekening: ook die skryf van ‘n gedig eis van die
digter die regte oomblik. Juis omdat alles in hierdie bundel in die teken van
individuasie staan, is daar verse oor stillewes en etlike religieuse of
spirituele verse. Gedigte waarin die numineuse na vore kom, is uiteraard bekend
aan hierdie fase in ‘n digter se bestaan. Die sewe verskillende afdelingtitels
aktiveer hierdie proses: Republiek van woorde, Wisseling, Hunkering se
grein, In die vlees, Skielik skemer, Google Golgota tot I resign myself
to the dusk.
Dit is ‘n bundel wat waarskynlik vergelykings sal uitlok met Die algebra
van nood, die groot bekroonde bundel. Dit sal ‘n saamlees oproep
soos tussen Wordende naak en Nagsweet. Dit is ‘n bundel wat
besondere aanspraak maak op die leser, emosioneel en intellektueel. Die
religieuse tematiek (soos in “Google Golgota”, (93) en “Armageddon” (85) en die
aangrypende “Die diensbaarheid van bome” op bladsy 71 waarin Jesus se liefde
vir bome verironiseer word), liefdesverdriet en ontgogeling (“Totdat niks
oorbly nie” (105) en die dood van geliefde diere; die besondere hantering van die
paradoks en die ontginning van found poetry (soos in “Rust-mijn-ziel, ‘n droom” (99), die
ontginning van drome en visioene, die gesprek met Harold Bloom (“Tzimtzun”, 89)
en natuurlik Cussons en Van Wyk Louw (veral Alleenspraak wys op die ryk
geskakeerdheid van die bundel. Ter opsomming: Verskeie digters kom aan bod
(Yeats, Auden, Theodor Roethke, Krige, Kafavis, Jonker…) en skilders soos
Rembrandt en Vermeer, komponiste soos Paganini en Tsjaikofski word nuut bekyk.
Marilyn Monroe, hoe dan anders?, word opnuut onder die soeklig geplaas.
Imponerend is die sterk slotte en die inskryf op ‘n ander se wysie soos “Gedig
wat eindig met ‘n reël van Cussons” (54).
Dit is ‘n fyn afgeronde bundel wat sterk aanspraak maak op sowel die
emosie as intellek. Die algebra van nood word hier ‘n algebra van sekerheid.
Opmerklik is die kreatiewe stroom die afgelope tyd en wat eweneens
vermelding verdien, is die besondere knap vertalings en herdigtings op die
digter se blog: Kaapse
paragrawe.
Moenie jou laat bluf nie. Selfs ‘n vinnige aantekening met die linkerhand
is tegnies in beheer.
(c) Joan Hambidge
*
Johann de
Lange: Vaarwel, my effens bevlekte held.
Human & Rousseau. 110pp
Resensent: Henning Pieterse
Vaarwel, my
effens bevlekte held is Johann de Lange se tiende digbundel (Judasoog: ‘n keur hier uitgesluit) en volg knap op die hakke van Weerlig van die ongeloof (2011) en die
Hertzogprys-bekroonde Die algebra van
nood (2009).
Die titel en die kragtige bandontwerp (‘n kunswerk van Christiaan
Diedericks, “Death of the inside warrior”) roep die aflegging van aspekte van
die self op. In “Skielik skemer” word die titel van toepassing gemaak op die
digter John Berryman wat in 1972 selfmoord gepleeg het, maar dit word
deurgetrek met betrekking tot die liriese subjek in verskeie verse en metonimies
van toepassing gemaak op die korpus van De Lange se vorige bundels.
By wyse van kursoriese verwysings en aanhalings, tematiek en toonaard tree
hierdie bundel tree in interaksie en gesprek met verskeie van De Lange se
bundels. Daar is die immer aanwesige bemoeienis met die wóórd self; een van die
bundelmotto’s is dié van Robert Hass: “A word is elegy to what it signifies”.
Die eerste van sewe afdelings is getitel “Republiek van woorde” en in die
eerste gedig lees ons: “Woorde is my kontinent,/& poësie my republiek” (p
9). “Sneeureier” en “Waterbome” roep “Flaminke” uit die digter se debuut,
Akwarelle van die dors, in herinnering; die fragment “Als een dar dolzinnig”
(uit die gedig “Nóg die heuning nóg die by”) slaan ook op dié vermelde bundel
se motto en in “Sunday morning coming down” word Wordende naak opgeroep. ‘n Band word gelê met Die algebra van nood in “Cirque du soleil”.
Reeds bekend uit vorige bundels is die gay-erotiese tematiek,
kunsteoretiese besinnings oor die skryfdaad en poësie en verhelderende blikke
op verskeie ikone uit die digterlike, musiek- en rolprentwêreld.
In die eerste afdeling is daar fyn gedigte oor woorde, taal en digterskap.
Die tema van aflegging word versterk in die tweede afdeling, “Wisseling”. Hier
staan die uitstekende “Leeuvis”, met sy simboliese toepassing op gedig-maak in
die tweede deel van die gedig:
Leeuvis
2
Die leeuvis is ‘n stekelige vlot
van ryspapier beskilder
in roesbruin & loodglit
- onwesenlike watermerk –
lid vir lid druk hy
teen die water terug
met sy soortlike gewig.
Die gedig woord vir woord
verplaas presies net sóveel
veerlig wit. (p 22)
Daar is wel die aflegging van “lywe & leegtes/& die leegtes van
lywe/wat my gebede & beddens vul” in “Alleenspraak by donkermaan, p 35” en
die liriese subjek mag dalk meen “Ek’s nie langer jagtig nie” (“Nóg die heuning
nóg die by”, p 46), maar die erotiese verse in afdeling III (“Hunkering se
grein”) het dieselfde trefkrag as talle verse in Nagsweet, een van die digter
se hoogtepunte. Reëele cruising word nou verplaas na kuberhokkies.
“Platonies” (Afdeling IV, “In die vlees”) is ‘n kragtige vertaling en
verwerking van Auden se “A day for a lay” (latere titel: “The platonic blow”):
“Dit was ‘n lentedag, net die dag vir ‘n lê ...” (p 59).
In afdeling V, “Skielik skemer”, is daar enkele mindere verse (gemeet teen
die peil van die ander) soos “Suiwer Africana”, “Die diensbaarheid van bome” en
“Ikone”. Ander gedigte in hierdie afdeling, soos “Pjotr Iljitsj Tsjaikofski”,
“Oor die veiling van Wilde se liefdesbriewe”, “Skielik skemer”, die briljant
speelse en spulse “Paganini se G-string” en “Temper”, sit weer die hoë
standaard voort.
In “Google Golgotha”, die sesde afdeling, staan van die sterkste verse in
die bundel. In die gelyknamige gedig word gespekuleer oor wat op die sosiale
netwerke sou gebeur indien Christus vandag gekruisig sou word. “Mausoleum” werk
met die droom-alchemie van ‘n Achterberg en in die uitstekende “Tzimtzum” (die
Hebreeus-Kabbalistiese term vir God se sametrekking van lig om daarbinne ‘n
heelal te skep) ontvou ‘n grootse kosmologiese gegewe, van mikro- tot makrovlak
(kyk ook “Brandwind” en “My minnaar” vir soortgelyke kosmiese perspektiewe op
die liefde.)
Die somber sewende afdeling heet “I resign myself to the dusk”.
Verganklikheid, smart, dood en selfmoord – durende temas in De Lange se oeuvre
– kom hier aan die bod. Die slotgedig, “Aandlied”, werk met die paradokse van
hegting en ontbinding van alle elemente en loop uit op die slotstrofe: “Hoe
ontheg ‘n hart hom van ‘n heelal/wat aanhou sê: Begin, begin, begin!” (p 107).
Ook in hierdie afdeling is die pragtige “Rust-mijn-ziel, ‘n droom”:
vry na ‘n droom
van Hennie Aucamp
Altyd weer dieselfde droom: winter, & nag
op die Stormberge. Ek is verlate, oud & dors getrek,
kom aan te voet waar Rust-mijn-ziel altoos wag.
Van die opstal is net ‘n murasie oor. Tolbos & sand
bied geen toeverlaat. Net die een vertrek
staan desolaat: die kombuis met ‘n lig wat brand.
Ma sit voor die swart stofie met sy krom pote op die teëls.
Die tafel staan gedek, & by my ou eetplek
is daar netjies ‘n stapeltjie pos met buitelandse seëls.
Ek gaan sit & in my hande lig ek hare, koud en kromgetrek,
& streel hulle of ek vir ‘n oorsig kon vergoed, of ‘n gebrek. (p
99).
Vaarwel my
effens bevlekte held is op dieselfde hoë peil as Die algebra van nood. Hier is ‘n digter op die kruin van sy kragte,
tegnies en vormlik, en ‘n liriese subjek wat sê: “Hier groei ek al taaier in
verby-/gegane dinge vas, vermy einders/& smag al gisterend na die
hier-&-nou” (“Berglandskappe” p 25).
*
Op Versindaba
se webblad het die volgende polemiek ontstaan na aanleiding van Lucas malan se
kommentaar op Die algebra van nood:
- op- en
aanmerkings oor Johann de Lange se bundel Die algebra van nood, Human & Rousseau, 2008.
deur Lucas Malan
Reeds met sy debuutbundel, Akwarelle van die dors (1982, het
Johann de Lange ‘n vars profiel in die Afrikaanse poësie met uitdagende temas
en fyn versorgde verse verwerf. Vir sy debuut en ‘n latere bundel het hy dan
ook gepaste pryse ontvang. Die sestal bundels wat op sy debuut gevolg het, is
ook almal (met die uitsondering van een negatiewe resensie deur die gedugte
Marlene van Niekerk) oorwegend gunstig ontvang.
In Deel 3 van H.P van Coller (red.) se Perspektief en Profiel (2006)
skryf Marthinus Beukes (volgens die inhoudsopgawe met die medewerking van
Andries Visagie) ook met begrip en waardering oor De Lange se verse waarin ‘n
obsessie met die erotiese ervaring en die dood, die liggaam en die sterflikheid
telkens as transformasie in hierdie digterskap gelees moet word. Beukes vermeld
ook spesifiek De Lange se vakmanskap, hoe goed sy bundels as eenheid
gekomponeer word, en – kritiekloos – hoe dikwels De Lange sy verse met
intertekstuele knope vervleg en voed.
Kortom, Johann de Lange word as ‘n beduidende digter van die
periode 1982 tot 1995 beskou. Maar ná sy laaste bundel van 1995 publiseer hy
net kortverhale en in 2007 ook ‘n bundel vaardige Engelse vertalings van Wilma
Stockenström se gedigte.
Eers vroeg in 2009 verskyn daar weer ‘n opvallend ruim
digbundel van hom met die titel Die algebra van nood. Net voor die
verskyning daarvan kry De Lange in Die Burger (27 Februarie 2009) ‘n
volblad onderhoud met Murray La Vita waarin De Lange oor enkele persoonlike
sake bely en die aroma van sy naskeermiddel ook aandag kry.
Toe kom die eerste resensie van die bundel deur Ampie Coetzee
in Die Burger
(20 April 2009). Coetzee vind weinig meriete in dié
“onnoemenswaardige” bundel en plaas dit op ‘n skaal van vyf sterre op twee, wat
sê “lees maar as dit moet”.
Eers tien dae later plaas Die Burger ‘n brief van prof. Henning
Snyman, volgens De Lange se vermelde onderhoud sy studieleier en voorstander
vir die publikasie van dié bundel. Snyman het besware oor Coetzee se oordele en
skimp op sy onvermoë om die bundel in te skat vir wat Snyman self o.m. “opreg
menslik en ontroerend in die genadelose blootlê van menslike passie, deernis en
weerloosheid” noem. Snyman vermaan ook verbasend naïef dat De Lange se bundel
“as ‘n eenheid gelees (moet) word.”
Voorts wys hy op swak formulering en ‘n feitefout in Coetzee
se resensie wat hy afwysend as moontlike “verskrywings” beskou. (Wat feitefoute
betref, wil ek Snyman tog daarop wys dat De Lange se gedig “Bloem in die Karoo”
(p. 54) óók ‘n “verskrywing” is, want hy verwar die Nederlandse digters J.C.
Bloem en A. Roland Holst se besoeke aan Suid-Afrika. Vgl. J.C Kannemeyer se
kort herinneringstuk waar De Lange sy stof gaan leen en toe verwar het: “A.
Roland Holst se Besoek aan Suid-Afrika” in Uit puur verstrooiing, Inset-Uitgewers,
2007, p.296.)
Prof. Snyman sê ook vroeg in sy brief dat hy hom daaraan
troos dat ‘n resensie “altyd maar die eerste indrukke van ‘n bepaalde leser
(is).” Om dié cliché te beklink, wil ek sy lesing van die voorblad as
selfgesprek” en “ontroerend” weerlê met mý persepsie daarvan as nóg ‘n
“bepaalde leser”: Ek vind dit ‘n lig obsene eksemplaar van ekshibisionisme; in
die trant van: Kyk, hier is ons eie Baudelaire, “die vervloekte digter”; ons
eietydse Eugène Marais.
Verder probeer Snyman die uitputtende gebruik van die
ampersand (&)
as sinvolle “teken” in hierdie bundel verdedig, maar of dit nou met die algebra
of die semantiek verband hou, vind ek dit oortollige “grimering” en ‘n
irriterende affektasie wat die leser al gou vervreem. En dit het ons te danke
aan De Lange se deurlopende en toenemend vervlakkende gebruik om ter wille van die
allure by al die groot name stof te gaan leen en dit vernuftig
te herwin. (Die ampersand-teken (&) kom
bv. veral in William Blake (1757 – 1827) se tekste voor.)
Sedert prof.
Ampie Coetzee se negatiewe resensie het daar van Marthinus Beukes (Beeld, 11 Mei 2009) ‘n teoreties gerigte
resensie tot lof van De Lange se bundel verskyn. Ook ‘n lojale student aan die
UK, Jaco Barnard-Naudé het saam met ‘n spook genaamd Crito op Litnet vir
Coetzee en dr.Gerrit Brand, redakteur van Die Burger se boekeblad, geraps oor hul
vermeende swak oordeel. Daar sal wel ook ander kommentare in die skemergange
van kuberruimtes wees, maar genoeg. Ek wil nou die aandag vestig op ‘n enkele
sin in Coetzee se resensie waar hy skryf oor dit wat ek in my opskrif die bruikleen-fenomeen noem. Hy skryf: “Dan ook nog
motto’s, parodieë, opdragte en herinnerings aan ander digters, en verse
op die wysie van ander digters se verse (ek kursiveer) – ook by die twintig”.
Oor die
strategie / tegniek / term of stylgreep intertekstualiteit kan ek niemand iets
leer nie en andersom. Laat ek lesers net daaraan herinner dat ons al in 1968
met P.G. du Plessis se uitstekende proefskrif Die verwysing in die literatuur en
kort daarna met Pirow Bekker se proefskrif Die titel in die poësie (1970) deeglik
ingelig is oor wat die aard, die funksie en effekte van dié gebruik in die
literatuur behels. En vir dié wat vergeet het of nie weet nie, wys ek ook op ‘n
uitspraak van Ernst van Heerden hieroor in sy bundel opstelle Digterlike diagnose (1977).
Hy skryf :
Dit is
begryplik (en vergeeflik, hoop ek) om in die werk van iemand wat hom sy
hele lewe
met die literatuur besig gehou het, voorbeelde van verwysings na ander
literature
te vind. Die gebruik van versluierde of indirekte aanhalings in die poësie
is soms ‘n
soort intellektuele ekshibisionisme of erudiete vertoon, maar kan andersyds ook met ‘n onthullende, aanvullende
en verdiepende funksie waardevol wees. (p.10).
(Tydens ‘n
openbare gesprek oor dié bundel, herinner ek my, het Van Heerden in ‘n guitige
oomblik bygevoeg: “En de helft is u nog niet verteld”.) Ons aanvaar dus dat
alle digters van formaat hulle soms laat voed deur die werk van voorgangers –
veral die grotes. Maar wanneer dit in ‘n hele oeuvre die oorheersende element
word en elke bundel iets van ‘n Groot Verseboek in die kleine word,
moet daar iewers tog halt geroep word.
Hier volg
‘n ekskursie deur De Lange se oeuvre soos ek dit ken. Soms kan ek nie direkte
bewysplase vermeld nie, want ek maak staat op my geheue en ou mededelings.
Indien De Lange en sy ondersteuningspersoneel egter my bewerings kan weerlê,
staan dit hulle vry.
Die bundeltitels
Met die
(moontlike) uitsondering van Waterwoestyn (1984) en Vleiswond (1993), het De Lange al sy
bundeltitels aan ander digters of publikasies te danke. Vergelyk: Akwarelle van die dors (1982)
– Lucebert; Snel
grys fantoom (1986) – uit ‘n artikel in die tydskrif Time oor
James Dean se dood; Wordende naak (1990) – N.P. van Wyk Louw; Nagsweet (1991)
– Thom Gunn (The
man with night sweats); Wat sag is vergaan (1995) – Jeanne
Goosen, ‘n verhaaltitel in haar bundel ‘n Kat in die sak (1986), deur my
opgeneem in Hongergrond
(1994), daarná deur De Lange as bundeltitel gebruik en sowaar nou weer as
afdelingstitel in sy Die algebra van nood (2008), waarvan die titel volgens De
Lange nogmaals geleen is by ene William Burroughs.
Voeg nou
hierby die groot aantal motto’s en opdragte dwarsdeur die oeuvre waarop Ampie
Coetzee in sy onlangse resensie ook moedeloos reageer, en ‘n mens begin wonder
waarom De Lange sy onmiskenbare talent só gemaklik wil stoffeer of met ander
kuipvogte wil versny.
Die jongste bundel
Dit kan ‘n
moeisame onderneming word om elke eggo of geval van bruikleen in De Lange se
jongste bundel met jota en tittel aan te toon, daarom het ek as ervare leser
van die Afrikaanse poësie chronologies net die opvallendste grepe met die
betrokke digters of gedigte wat dit oproep – ook waar dit openlik as direkte
aanhaling fungeer – aangestip.
Dit lyk
so:
Die eerste
afdelingstitel, Hiermaals – Lina Spies; “Groen” (p.13) – Ina Rousseau;
“Bolandse tafereel: laatmiddag” (p.17) – die frase “die eland met sy
riffelkwakkie” – Wilma Stockenström; “Duimsketse” (deel 2, p.21) die woord
“soef” – Wilma Stockenström (Uitdraai,?); “Sketsboek” (p.26) – Daniel Hugo, “Tafelbaai
1”, Skeurkalender
(1998, p. 9); “Ostranenie” (p.32) die woord “smeuig” – Ina
Rousseau; die woord “veelal” – Stephan Bouwer; “LSD, Seepunt” (p.33) - “tot in
die fynste ontsteltenis” – Jeanne Goosen; “Betwixt” (p.36) – “verbeelde
werklikhede” – Eleanor Baker; “Teen die berghang” (p.43) – Van Wyk Louw, wél ‘n
bewuste en vernuftige verwerking; “Bloem in die Karoo”(p.54) – dit moet Roland
Holst wees; “Miskien is dit nou die tyd” (p.60) – Van Wyk Louw; “Rembrandt”
(p.67) – Hennie Aucamp se kwatryn “Uiteindelik”; “Daar is ‘n tyd wat sterre
hou” (p.85) – Antjie Krog; “Dooiepunt” (p.91) en “Klein elegie” (p. 92) – Van
Wyk Louw, Tristia;
“Bloubaard” (p. 94), die woord “sweserik” – Ina Rousseau; “al my paadjies”
(p.98) – Ingrid Jonker; “Ek min jou” (p.101) – J.C. Steyn; Afdeling VII; “Wat
sag is…” – wéér Jeanne Goosen; “Ants Kirsipuu (1927 –2003)” (p. 117) – die
woord “Nimmermeer” – Wilma Stockenström, wel geslaagd as konteksuele inbedding
van haar gedig “Lêer van ‘n leeftyd”.
Dit dan
die aantekeninge oor wat ek steurend vind. Tussendeur is daar hoogs geslaagde
gedigte in hierdie bundel. ‘n Frase in die boek Physique: Classic Photographs of Naked
Athletes (Red. Peter KÜhnst, Thames & Hudson, 2004) het onder
my aandag gekom. Dit is die laaste afdeling se titel: “Postmodernism and
Postmodern Mannerism”. Is dit nie waarmee ons hier te doen het nie – ‘n laaste
kramp van die Postmodernisme wat nou as flou Maniërisme
manifesteer?
*
Vrae vir BoekeInsig
15.12.2009
Waarom moes ons so lank vir hierdie
bundel wag?
Die kort
antwoord is dat ek gewoon opgevang geraak het in die alledaagse sleur van leef.
‘n Ander rede is dat ek gaandeweg belang in ‘n openbare bestaan as digter
verloor het. Ek het nooit ophou skryf nie, maar publikasie het vir my al minder
belangrik begin word. Die publikasie van Die
algebra van nood is uit & uit te danke aan Henning Snyman & Alida
Potgieter wat die evolusie van die manuskrip met entoesiasme & geduld gelei
het.
Wie of wat het die meeste bygedra tot
jou vorming as skrywer?
Ander digters
was nog altyd my mentors, lewend of dood. Skrywers wat ‘n bepalende invloed vir
my ontwikkeling gehad het, deur hulle skryfwerk sowel as, in sommige gevalle,
hulle vriendskap, was Ina Rousseau, Sheila Cussons, Van Wyk Louw, Johan van
Wyk, Peter Blum. By Ina Rousseau het ek oneindig baie oor tegniek geleer;
Cussons het my geleer om te kyk, & dat kyk ook dínk is. Dan het ek ook as hoërskoolkind
die voorreg gehad om raad & aanmoediging van André Brink te kry. Ek het ‘n
groot affiniteit vir ‘n soberder tipe poësie, maar ek lees geweldig wyd &
dis altyd opwindend om ‘n nuwe stem te ontdek.
Hoe het dit gekom dat jy poësie skryf
eerder as bv. prosa (hoewel jy laasgenoemde ook geskryf het)?
Ek dink die
meeste skrywers begin hulle loopbane as digters. Die assosiasie van digkuns met
die binnelewe, & die feit dat die binnelewe jou eerste soort ‘ervarings’
uitmaak, maak van die poësie ‘n natuurlike opsie. As kind het ek nie gedigte
gelees nie, net hope & hope fiksie, & uiteraard wou ek fiksieskrywer
word. Maar die poësie met sy fokus op
taal & sy vervreemdende aard het uiteindelik gewen. Dit is my medium.
Sommige ervarings vra egter om prosa & ek antwoord ook dáárdie roepstem as
hy kom.
*
Daniel Hugo
Uit die gevormde
literatuur
is nooit weer
poësie te maak nie,
uit die
ongevormde wél
Hierdie
uitspraak van N.P. van Wyk Louw staan in sy gedig “Ars poetica” uit die bundel Tristia van 1962. Sedertdien was daar al
’n hele paar dapper, digterlike pogings om hom verkeerd te bewys. Sulke
waaghalsigheid het Louw by voorbaat in dieselfde gedig getipeer as: ”om groot
te doen of te misdoen / in die skoene van die grotes”.
En juis daarom
is daar nie ‘n groter uitdaging nie as om dié pontifikale stelling aan
Louw-tekste self te toets. Afdeling III van die bundel het die titel “Náspele
en voortvlugte” wat sinspeel op die “voorspele en vlugte” in die subtitel van Tristia. Verder gebruik De Lange reëls
uit die einste “Ars poetica” as motto by dié afdeling.
In sy jongste
bundel, Die algebra van nood, sit
Johann de Lange die grote Van Wyk Louw deeglik op sy plek.
“Teen die
berghang”, die openingsgedig van die afdeling, is ’n besonder geslaagde
herskepping van ’n gedig én ’n prosateks deur N.P. van Wyk Louw. Die gedig is
die welbekende, welgevormde “Karoo-dorp: someraand”. Die eerste strofe gaan só:
Die laat-middag
het room geword
en treine wat
ver fluit
en ’n wit-bont
klaas-skáwagter
wat wag-hou op
’n kluit.
Van belang is
sekerlik dat “Karoo-dorp: someraand” in Tristia
staan en direk op “Ars poetica” volg.
Die belangrikste
bron vir De Lange se gedig is egter die eerste drie paragrawe van Van Wyk Louw
se opstel “’n Gesprek – waarin niks beslis word nie”. Dit is in Julie 1938
geskryf en die volgende jaar gepubliseer in die bundel Berigte te velde. Louw skryf hier besonder liriese, sê maar
poëtiese, prosa – emosionele interpunksie en al:
“Ons het soos
dikwels wanneer dit ’n openbare vakansiedag was, ver bokant die stad en die see
tussen die dennebome gelê. Dit was so ’n goue herfsnamiddag soos die Kaap
alleen ken – roombleek lug, sagte wind; en die baai en die rante daaragter, die
stad en die dennekruine was geel in die koel son soos die skynsel van
botterblomme …
“Ons het oor
Kloos gepraat. Hy is kort tevore dood, en juis dié dag het ons in ’n heel paar
koerante stukke oor hom gelees: beskouings, stilistiese proewe, heelwat
amptelike roubeklag … maar alles vir die man wat ons nie een geken het nie en
wat in ’n vreemde land dood was. En tog het ons hom geken en sy woorde gesê; en
ons kon dié dag juis nie glo dat daardie pragtige wilde kop dood en begrawe was
nie, nou dat die digter, ná ’n paar jaar saakliker bewondering, weer so naby
ons was.
En dan het ons
weer tussen die denne deur oor die stad gekyk. Die rook uit die fabrieke het op
die vakansiedag dunner getrek, en die paaie deur die vleilande rondom het
gelewe van motors en busse en mense.”
In sy biografie
Van Wyk Louw – ’n Lewensverhaal (Deel I, pp. 241-242) haal J.C. Steyn aan uit
hierdie gedeelte en sê hy dat Louw se metgesel dié dag teen die hang van
Tafelberg Truida Pohl (later Louw) was. Steyn wys ook daarop dat die Nederlandse
digter Willem Kloos op 31 Maart 1938 in Den Haag oorlede is en dat die
vakansiedag waarvan Louw praat, waarskynlik in die Paasnaweek van 15 tot 18
April geval het.
Dat Johann de
Lange op die Louw-teks afgekom het via Steyn se biografie, blyk uit die datumaanduiding
by sy gedig. Louw se beskrywing van die Kaapse herfsmiddaglug as “roombleek”
het klaarblyklik die onmiddellike verband gelê met “Karoo-dorp: someraand”:
Teen die
berghang
Paasnaweek, April 1938
Die ná-middag
het tóé reeds idioom
geword met
roombleek lug & sagte wind;
die baai en
rante, denneboom op -boom
geelkroon in die
koel son, die ganse bergkom
met die oker
glans van botterblom.
Kloos is dood.
Daardie pragtige wilde kop
rus nou woord-
& gedagteloos strak
in ’n vreemde
land. En g’n klaas-skáwagter hop
flink op ’n
kluit, of probeer kwinkeleer
om die nuus van
sy dood vir laas te skandeer.
Die sinne
prikkel met die geur van dennehars
in die gewyde
stilte bo ’n stad wat wispelturig blaak.
Fabriek- &
lokasierook veryl; die lug stuif vars.
Kruis &
dwars met lintjiespaaie langs weef
motors &
busse onhoorbaar, ’n kabelkar sweef –
Kloos is dood.
Maar sy woord
bly na-leef soos
’n spreuk
in hierdie
oogwit Boland-lig, in elke boord
& wingerd
wat prilgroen brand.
Maar dit is ’n
ander dag in ’n ander land.
Benewens die
eerste strofe van “Karoo-dorp:someraand” met sy “idioom-geworde” eerste reël
(”Die laat-middag het room geword”), betrek Johann de Lange ook die volgende
reëls uit Louw se gedig: “en rook uit die lokasie rook” en “dóér op die nasionale
pad / loop motortjies onhoorbaar, hoog”. Die verwysing in Louw se opstel na
fabrieksrook en motors in die verte maak De Lange se verbandlegging tussen
opstel en gedig ongedwonge en eintlik vanselfsprekend.
In “Ars poetica”
sê Louw dat dit wel moontlik is om op die temas van die heiliges “variasies en
besuinigings, selfs palinodes te versin”, maar dat die stilistiese vormgewing
van die gekanoniseerde, klassieke tekste onaantasbaar is.
Myns insiens het
Johann de Lange finaal bewys dat die kanon nie heilig is nie en dat die grotes
se formulerings hergebruik kan word om ’n nuwe, welgevormde teks te produseer.
Bronne
De Lange,
Johann. 2009. Die algebra van nood.
Kaapstad: Human & Rousseau.
Louw, N.P. van
Wyk. 1962. Tristia en ander verse,
voorspele en vlugte 1950-1957.
Kaapstad: Human
& Rousseau.
Louw, N.P. van
Wyk. 1986. Versamelde prosa I.
Kaapstad: Tafelberg
Steyn, J.C.
1998. Van Wyk Louw – ’n Lewensverhaal.
Kaapstad: Tafelberg.
(c) Christiaan Diedericks
B. Die resepsie van die prosa
1. Vreemder as fiksie
In Die Burger
van 29 Januarie 1997 skryf Phil du Plessis oor hierdie verhaalbundel (“Was boektog bredie om van die bord te krap”). Hy wys op die omstredenheid van die boek
en die wyse waarop die skrywer homself bemark. Ook beskou hy die paragraaf aan
die leser as skaamteloos uitdagend. Die voortsetting van Prinsloo se werk word
uitgewys en die skryfstyl is ‘n po(st)-mo(dern) bredie. Hy definieer die
beweging soos volg:”Po-mo is egter geen ware bredie, waar geure en smake kan
ontwikkel en saamsmelt: die helfte sou ‘n mens graag van jou bord af wou krap,
maar dis geen bord kos nie – jy moet eenvoudig lees tot die teks klaar is.”
Hy vind dit moeilik om te onderskei tussen
laat-Prinsloo en De Lange se prosa. Hy vind laasgenoemde “naskrywery van die
nekrofiliese soort”, met ‘n uitsondering die verhaal oor Leipoldt. Hy vind dat
die voetnote, tekstuele bespiegelings en aanhalings die teks moeilik leesbaar
maak. Die verhaal oor Pieter Claassens (wat hy as die vermeende geskryfde
beskou) was glo ‘n vriend van Du Plessis en hy beskou die verhaal as ‘n
hellevaart sonder enige literêre gewin. Hy
beskou dit bloot as perverse genot by die lyk van ‘n jong selfmoordenaar.
Uiteindelik sien hy dit as moffiegeskinder, met kwaadwillige plesier aan die
verraad van vriende, as die hoofkenmerke van die verhale. Hy erken wel die
aanwesigheid van ‘n tikkie swart humor. Die slotverhaal, “Afskeid van my
ouers”, bevat ‘n eerlike ‘ek” in die voetnoot en die teks doen roerend
persoonlik voor.
In New Contrast
(97, Volume 25 (1) Maart 1997) bespreek Francois Bloemhof die knap
intertekstuele spel in hierdie bundel. Hy wys op die intertekstuele spel met
Koos Prinsloo, Hennie Aucamp, Danie Botha en ander skrywers. Ook die
gay-dimensie speel ‘n vername rol. Die waarheidsaanslag versterk die gevoel van
onmiddellikheid, maar daar is ook ‘n gevoel van vervreemding aangesien die
leser nie altyd weet wat waar of verdigsel is nie. Volgens Bloemhof staan die
skrywer nie koud en afsydig teenoor sy karakters nie. Daar is roerende
gedeeltes oor hul pyn en die resensent wys daarop dat die skrywer veral hómself bykom. Hy het wel kritiek op die spel tussen feit
en fiksie en dat daar soms nie genoeg vir die leser ‘gegee’ word nie. Die
kruisverwysings en voetnote kan as afdwalings beskou word, maar besluit hy dan:
is die lewe se afdraaipaadjies nie soms die interessantste paaie nie. Hy beskou
dit as ‘n vreemde teks, maar een wat langer onthou sal word as die meeste
tekste wat omgaan met nie-bestaande karakters.
Hilda Grobler skryf ‘n uiters gunstige resensie in Vrydag (7 November 1997): “Dis inderdaad vreemder as fiksie”. Sy beskou
dit as ‘n verstommende versameling vertellings, eerder as verhale, omdat hy
lewende stof herskep. Die leser sien De Lange in ‘n nuwe rol as “alwetende
verteller”. Daar is volgens haar min verhale in Afrikaans waarin die verhale om
werklike karakters en hul direkte (en verbeelde) gevoelens, gedagtes en
ervarings draai.
Sy wys op die intriges tussen Prinsloo en Kerkorrel en
sy meen dat die De Lange-verhaal verduidelik waarom Aucamp sy korrespondensie
aan De Lange gegee het. ‘n Mens kan hierdie bundel om verskillende redes lees:
uit nuuskierigheid, uit belangstelling, ter wille van studiemoontlikhede en
sommer net vir die kundige en vaardige vertelstyl. En in die eerste instansie
vir die genot daarvan. Die bibliografie en aanvullende leeslys met die voetnote
is vir verdere opvolgwerk. Hiermee bewys hy dat hy nie net ‘n vaardige digter
is nie, maar ook ‘n besondere begaafde prosaskrywer is.
Ia van Zyl het egter ‘n polemiek oor die bundel begin (“De
Lange ‘rand’ lesers geestelik aan gerapporteer in Beeld 15 Januarie 1997 deur Theunis Engelbrecht). Van Zyl wys op
die literêre pornografie van hierdie
teks en dat sommige skrywers individue se grondwetlike reg op privaatheid skend
deur hul karakters in verhale te maak. Sy het dit teen Slagplaas en Vreemder as
fiksie.
Sy verwys na die vlak van vieslikheid en kru banaliteit
wat moeilik oortref sal word. Sy meen dat die “postmodernistiese literêre baadjie” tot gevolg hê dat die teks
met handskoene hanteer word of met lofprysings vereer word. In prinsiep meen sy
dat literatore huiwer om tekste op grond van pornografiese, lasterlike,
naamskendige of moreel verderflike aard te veroordeel, omdat dit op ‘n literêre of
akademiese hara-kiri neerkom. Lesers word op sleeptou geneem deur hierdie
skrywers wat straffeloos alle grense oorskry. Sy verwys na die vulgêrste,
kruuste, banaalste detail waar van die leser verwag word nie net die slegs
tradisionele ‘suspension of disbelief’ op te hef nie, maar ook alle goeie smaak
en alle morele en religieuse standaarde op te hef. Sy kritiseer die positiewe
mediadekking en vra haarself of die keiser klere aanhet en of ons nie dalk
besig is om knolle vir sitroene te laat verkoop nie.
Joan Hambidge
verwys haar na ander tekste en historiese werklikhede, terwyl Gerrit Olivier
wys op haar spesifieke morele probleme. Hy meen sy val lesers lastig met
probleme wat met die literêre aspekte van ‘n literêre werk weinig uit te waai
het. Al haar besware is volgens hom gegrond op ‘n fundamentele wanbegrip van
die tekste wat sy lees. Hy meen dat dit nie meer ernstig opgeneem kan word nie,
want dit raak vermoeiend en vervelig. Hy meen die kwessie van die reg op
privaatheid wat geskend word moet eerder aan regsgeleerdes oorgelaat word.
Kerneels Breytenbach, die uitgewer, meen daar is nie spesifieke voorbeelde nie
en sy werk met woeste veralgemenings. Hy is wel sinies en opportunisties en
meen dat haar besware net ‘n nuuskierigheid en dus herdruk sal aanwakker.
Danie Botha, ‘n
geskryfde, vind dit alles amusant en bely dat hy van die aandag hou! Hy blyk
wel onsteld te wees oor ‘n opmerking van Prinsloo oor hom (naamlik sy
neurotiese sensasiesug). Dit het hom diep gekwel en hy wou Prinsloo selfs
nadoods vir laster aanskryf. Botha beklemtoon egter dat hy hiermee besef dat
Prinsloo ‘n tweegesig was, omdat hy mondelings teenoor hom anders gereageer het
en bewondering vir sy ‘bevrydheid’ gehad het. Botha meen wanneer ‘n skrywer
diplomaties met jou werk en nie besig is met belastering, kastyding, ontluistering
en selfverheerliking nie, is dinge in die haak. Hy voel egter dat die skrywer
moet verdoesel en verdraai en jou ook met iemand anders moet ‘n versny’. “Hy
moet gerus literêr deeglik wérk met sy stof”, is sy bevinding.
T.T. Cloete kan
nie insien hoe mense se grondwetlike regte aangetas word nie, aangesien daar
nie meer sensuur bestaan nie. Volgens hom beweeg daar veel meer oor die
fiktiewe grens wat hierdie aspekte ‘ongemerk’ maak. Hy meen ‘n leser moet net
gewoon ‘n boek neersit. “Toe Dante in die hel was, het hy maar net aangestap”.
Rachelle Greeff meen dat die “saters” en die “tannies” sal maar altyd aan
mekaar karring. Sy vind dit onaanvaarbaar om ‘n boek moreel af te keer voordat
jy dit gelees het.
Hierop reageer
De Lange in ‘n onderhoud met Engelbrecht in Beeld
van 16 Januarie 1997 onder die titel: “Die keiser is kaal: Letterkunde hou nie‘n spieël op”. De Lange ontken die simplistiese een-tot-een-korrelasie in die
tekste en sy stories illustreer hoe fiksie op werklikheid teer en andersom. Hy
meen dat sy verhale beklemtoon hoe betreklik die ‘waarheid’ is.
Hy wys op die
invloed van New Journalism en dirty
writing het die prosesse meer onverbloemd geraak. Die grense tussen fiksie
en werklikheid word volgens hom verskuif en die polis genaamd suspension of disbelief word volgens hom
opgehef. Die verskillende wêrelde volgens hom penetreer mekaar. Hy verwys na
die omstredenheid rondom figure soos J.D. Salinger en David Leavitt. In die
geval van Salinger se biograaf, Ian Hamilton, het die regter bevind dat
openbare figure nie op dieselfde reg van privaatheid kan aanspraak maak nie.
Met ‘n appèl het ‘n tweede regter wel sekere snitte toegestaan. In die geval
van Leavitt se While England sleeps
het Spender beswaar aangeteken, maar volgens De Lange beklemtoon dit eerder hoe
verskillende generasies of geslagte dieselfde materiaal benader.
In die
postmodernistiese verhaal word feite met versinsels versny en die aanwesigheid
van die internet het die begrip privaatheid ‘n relatiewe begrip geword. Oor die
kwessie van banaliteit verwys hy na De Sade, Bataille, Miller en hy vra of Van
Zyl net na Afrikaanse skrywers impliseer? Volgens hom bestaan die konsep
literêre pornografie nie en moet dit uit die woordeskat verban word. Oor die
kwessie van aanvaarbaarheid sal mense altyd verskil, aldus De Lange. Hy maak
egter nie aanspraak op vrywaring nie – sy naam staan op die buiteblad van die
boek. Die funksie van letterkunde is nie om die werklikheid te weerspieël nie.
Dit probeer dalk eerder die onwerklikheid van ons tyd oor te dra. Op die
siening dat hierdie soort tekste mense “geestelik aanrand” meen hy dat mense
elke dag verkrag, vermoor en verbrand word.
In ‘n brief aan
Die Burger van 24 Januarie 1997 onder
die opskrif “’n Baie gevaarlike soort mentaliteit”, reageer Johann de Lange in
‘n sterk bewoorde brief op Ia van Zyl se aanklagte teen die teks. Hierdie is ‘n
uitsonderlike persoonlike reaksie van De Lange wat selde resensies skryf of in
die openbaar op sy eie werk of strominge reageer. Op Ia van Zyl se siening dat
Joan Hambidge die “selfaangestelde beskermvrou van die postmodernisme hier te
lande” is, meen De Lange dat die postmodernisme straks sodanige beskerming
nodig het as hy haar betoë volg.
Hy kritiseer
Van Zyl se siening dat dat “n “groep” Afrikaanse skrywers anders individue
skromeloos skend en wat alle grense skromeloos oorskry. Hy het dit ook teen
haar siening dat skrywers verantwoordelikheid vir hul geskrifte moet aanvaar.
Hy het dit teen die vergelding wat sy eis en De Lange vra wat sy presies in gedagte
het, naamlik Openbare steniging of geregtelike stappe? Hy wonder watter soort
straf haar sin vir geregtigheid sal bevredig en wie daaroor sal moet besluit.
In sy argument gaan hy verder en wonder watter straf Etienne Leroux opgelê moes
word vir Magersfontein en vir Brink
se Kennis van die aand?
Hy meen dat die
lot van Salman Rushdie wie se lewe in gevaar is sedert die verskyning van Satanic verses is waarskynlik Van Zyl se
idee van ‘n oog vir ‘n oog. En dan skryf hy:”Ek weet nie watter soort samelewing
meer bedenklik is nie: een wat ‘n hoë premie op individuele vryheid plaas, of
een wat kreatiewe mense vervolg en straf omdat die inhoud of aard van hulle
werk die reëls oortree? As die geskiedenis ons een ding kan leer, dan is dit
dat fanatisme van enige aard lewensgevaarlik is, want dit is gewortel in
onverdraagsaamheid. Wanneer literatore soos gode straf begin eis vir wat hulle
as literêre oortredings sien, het ons met ‘n baie gevaarlike soort mentaliteit
te doen”.
George Weideman
resenseer die bundel in BoekeRapport (8 Desember 1996) onder die
titel: "Skrywer as parasiet sal dié wenkbroue laat lig”. Hy wys op die etiket
wat De Lange, soms ten onregte, gekry het as omstrede skrywer. Die bundel is in
hoofsaak nie vir die gewone leser bedoel nie. Dit het te make met die
gedurfdheid van die uitbeelding van gay-seksualiteit. Ook die spel met maskers
en ontmaskering het nog altyd ‘n plek gehad in die letterkunde, maar die talle
kruisverwysings, voetnote en bibliografiese gegewens, mag die gewone leser afskrik
en verwar. Hy wys verder daarop dat akademici wat voordurend soek na
“oorspronklike” invalshoeke op die postmodernisme hier ‘n skuiwergat of twee
raaksien. Die talle subtekste wat per slot van sake as “werklikheid” aangebied
word, verg die soort inspanning waarvan legkaartfanatici hou.
Daar mag egter
‘n gevoel wees dat die die grense van ordentlikheid en privaatheid hier onnodig
geskend word. Baie lesers mag miskien voel dat De Lange bloot ‘n deernislose
tyd weerspieël; ‘n tyd waarin geweld, weerwraak en verraad skynbaar aanvaarbaar
geword het. Weideman vind die siellose inspeel van werklikheid en fiksie in die
verhaal oor Pieter Claassens “ontstellend en onnodig”. Hy wys op die proses-skryf van die bundel (‘n
soort toepassing van Hennie Aucamp se bekende wekswinkelboeke). Die vraag is
egter by hom of die verhale meer as proses word? Volgens hom gebeur daar iets
in die laaste verhaal en die gedoe met “fiksie” en “vreemdheid” verval by die
lees hiervan. In die opsig wat dit die skryfproses blootlê, bring die boek
vernuwing in Afrikaans. Hy verwys na vorige tekste soos De Vries, Brink en Dan
Roodt se Sonneskyn en Chevrolet.
Verder terug Fowles en Calvino; en verder terug Sterne se Tristram Shandy.
Die mate waarin
“verhale” hul besig hou met die ingewikkelde verhouding tussen kuns en
werklikheid, is soms indrukwekkend. Ook die volgehoue ondersoek na die vraag óf
daar uit die bestaande kuns kuns te make is. Die intertekstuele en
(outo-)biografiese spel mag vir die student boeiend wees, of die manier waarop die
skrywer as parasiet soms volledig die gestalte van gasheer aanneem. Hy besluit
dan: ”Maar vir die skrywer is daar ‘n les uit die plantlewe te leer, want die
parasiet oorleef óók nie”.
J.P. Smuts
resenseer die verhalebundel vir RSG (30 Julie 1996) en beklemtoon dat die
bundel oor meer handel as die gay-problematiek. In hierdie bundel word besin
oor die aard van die literatuur binne die kader van die postmodernisme. Hy
beskou dit as een van die boeiendste en opwindendste kortverhaalbundels en
trouens prosawerke wat die afgelope tyd in Afrikaans verskyn het. Dit is
tematies gedurf en tegnies daag dit die leser uit. Reeds die identikit-voorblad
aktiveer die kompleksiteit. Die leser word op die agterplat gewaarsku dat die
storie ‘n konterfeitsel is en die skrywer ‘n leuenaar. Die stories gee nie die
werklikheid weer nie; dit boots dit wel na. Volgens Smuts: ”Dit kan na aan die
werklikheid kom, maar is nooit heeltemal die werklikheid self nie.”
Die skrywer
ondermyn ook baie deliberaat dit wat hy tot stand bring, konterfeitsels is. Die
voetnote bring egter ‘n verband tussen personasies en werklike persone en
hierom kan die leser nie anders om te dink dat De Lange se konterfeitsels baie
na aan die waarheid of die feitlik kontroleerbare kom nie. Daar is ‘n opdrag, erkennings,
drie sitate, ‘n omvattende skadeloosstelling en ‘n inhoudsopgawe met ‘n
bibliografie. Die eerste ses verhale is ook dié met die markantste
postmodernistiese trekke. Vir Smuts is ‘n seminale teks “An author in search of
some characters”. De Lange voer die ontluisterende ontbloting van Aucamp en
Prinsloo verder in hierdie teks.
Lesers sou kon
vra waarom hierdie blootlegging van ander skrywers en waarom hierdie
doelbewuste pogings tot neerhaling? Hy verwys ook na die “sieklike drif” by
sowel Prinsloo as De Lange om by tye so fel te reageer op ander skrywers en
veral Aucamp.
Smuts wys op
die mentorrol wat Aucamp teenoor Prinsloo vertolk het, maar wat nie altyd
sonder spanning verloop het nie. Die leser maak ook die afleiding dat Aucamp
betrokke was by De Lange se skryfwerk uit die agterflap en dat De Lange ook
heelwat geleer het by Prinsloo. ‘n Moontlike rede vir dié afbreking is dat dit
gaan om ontvoogding. Smuts lees die verset as ‘n teken van selfstandigwording
van die leerling en die mentor moet aanvaar dat hy sy opleidingswerk effektief
gedoen het. Die verskeie intertekstuele skakels skep ‘n netwerk wat ‘n dubbele
teks ontwikkel wat bestaan uit ‘n sentrale vertelling met daarnaas ‘n
uitgebreide stel voetnote. Dit is volgens hom
nie altyd ‘n baie lesersvriendelike teks nie, veral omdat die voetnote
nie altyd aan die einde van die bladsye staan waarin die betrokke
verwysingsyfer voorkom nie. Hy vra ook op die informatiewe voetnote noodsaaklik
is, gegee die waarskynlike lesers van die bundel. Die deugde is egter groter as
die gebreke. Lesers wat wil weet wat tematies en tegnies in ‘n beduidende
segment van die jonger literatuur gebeur en bereis is om hulle aan by tye
veeleisende verhale toe te wy, sal beslis moet kennis neem van hierdie bundel, meen
Smuts.
2. Tweede natuur
“Tweede natuur ‘n eerste in Afrikaans” is
‘n bespreking van Johan Coetser wat in Beeld verskyn (6 November 2000). Hy noem dit
‘n keurig versorgde publikasie wat intertekstueel besonder dig geskryf is en
dat die eerste werk is wat in Afrikaans wat dringende energie die wêreld van
dwelms, veral binne ‘n gay-milieu, roekeloos verken & ontbloot”. Die
motto’s is sleutels tot die verhale en Coetser beklemtoon die gebruik van die
begrip sinnebeeldig vir die oopmaak van die verhale. Die begrippe allegories,
sinlik en sinnelik word binne die konteks saamgetrek. Ecstasy en die prosa van
Irvine Welsh, eksponent van dwelmprosa, word as belangrik uitgesonder. Hy wys
op die ooreenkoms tussen die buiteblaaie van Welsh se Ecstasy en Tweede natuur. Beide het ‘n voorstelling van ‘n persoon wat besig is om E te
sluk. Ook die gebruik van die bewussynstroomtegniek is opvallend. Die gebruik
van die konsep “chemiese romanse” is eweneens opvallend.
Die verhale
steek egter nie vas in ‘n blote gebruik van intertekstuele verwysings nie na ‘n
E-kultuur nie. Hy skryf:”Hulle verruim om verwysings na ‘n sinnebeeldige
(allegoriese) reis wat op ‘n insig by die sentrale karakter uitloop, in te
sluit.
Hy beskou die
briljante openingsverhaal, “Strip poker”, as ‘n sleutelteks. Hier is dan sprake
van hellevaart deur die wêreld van E en in die slot ontkom hy aan die greep van
E.
Die bose of
tweede natuur is in elke verhaal gevolglik herkenbaar teenwoordig. Hy beskou
dit as ‘n besonder vernuftige teks en beslis nie bedoel vir lui of sensitiewe
lesers nie. Die gay kodes daarin kan sensitiewe lesers aanstoot gee en daardeur
interpretasie bemoeilik.
Cas van
Rensburg bespreek die bundel in Die
Volksblad van 11 Desember 2000 as “’n Perd van ‘n ander kleur”.
Van Rensburg
wys op die skokkende aspek van die boek en dat die skrywer sy eie
ervaringswêreld gebruik, maar dat dit nie beteken dat hy oor homself skryf nie.
Die werk loop sterk op die spoor van William Burroughs en Jean Genét. Hy verwys
na die onteenseglike eie stem wat as pragtig beskou. Die bundel is ‘n verslag
van ‘n somerlange soektog en is die gebruik van dwelms nie maar in sy wese ‘n
soektog na die self, na geluk, na pynverdowing nie?
Seks en dwelms,
die donker doolhowe van die psige word volgens Van Rensburg getransendeer
sonder dat ‘n mens dit aanvanlik besef. Die resensent beskou dit as ‘n “rowwe
leeservaring”, maar ‘n kunswerk soos dié het lank laas in Afrikaans verskyn. Hy
vind dit jammer dat die gegewe mense dalk daarvan kan weerhou om te besef hoe
belangrik hierdie werk is.
Joan Hambidge
resenseer hierdie teks in Rapport van 28 Januarie 2001 (“Ander soeke na Self bring nuwe baken in Afrikaans”). Hambidge wys daarop dat De Lange se
digkuns die kontoere van die Afrikaanse digkuns verander het en veral met die
bundel Nagsweet het hy die terrein
van die grensoorskrydende diskoers betree. Hierdie skrywer vernuwe homself
telkemale.
Vreemder as fiksie word betrek met die postmodernisme
wat die grense tussen fiksie en werklikheid problematiseer tot die ergenis van
behoudendes wat die tekste as “skokkend” of “gewaagd” ervaar. Die teks is ‘n
soeke na diskoers, na ‘n beskrywing van die Ander. Die Ander is egter ‘n
vervreemde ervaring van die Self soos gesien in spieëls van toilette. Daar word
verwys na Lacan se siening van paranoïa en hierdie emosie is dikwels aanwesig
in die vrees dat dwelmhandelaars of polisie kan toeslaan.
De Lange vang
die méconnaissance of mislesing van
die self goed op. Dit is vir Lacan ‘n versplinterde self, een van nabootsing,
van ‘n soeke na die Ander wat ‘n weergawe of projeksie van die self is. Die
verband tussen hierdie teks en Trainspotting
word uitgewys. Die leser behoort die teks eerder van agter na voor te lees al
funksioneer die hoofstukindelings rondom die dwelmnaam. Daar is iets sjamanisties
aan hierdie verhale wat tyd / ruimte, begin / einde ophef en gelykstel. Die
persona “Johann”, ‘n sogenaamde “naked I”, werk paradoksaal bevreemdend in op
die leser se ervaring van die gegewe. ‘n Soort Danteske hel word betree met die
plesier en angs wat dit inhou. Die boek handel net oënskynlik oor die rave-kultuur, maar onder draai daar ‘n
klomp verwysings na Middeleeuse en moderne tekste rond. Hierdie boek word as ‘n
baken beskou.
Wynand Haupt
resenseer die teks as ‘n “Eiesoortige leeservaring” vir Litnet (28 Februarie
2001). Hy skryf soos hy dig; met min woorde. Hy wys daarop dat die boek nie vir
lui lesers bedoel is nie en die blatante-banale seks word ook uitgewys. Daar is
volgens hom ook humor aanwesig.
Volgens hom
word “ecstacy” soms met ‘n hoofletter gespel en ander kere nie. Hy besou die
ampersand-teken as selfbewus. Hy beskou dit wel as ‘n eiesoortige leeservaring.
In ‘n onderhoud
met Herman Wasserman in Die Burger van 11 Desember 2000 (“Raves wisgrense tussen mense uit”) voer hierdie joernalis met die skrywer ‘n onderhoud
oor die sogenaamde rave-kultuur. Dis ‘n kontemporêre teks en ‘n eerstehandse
ervaring. Vir De Lange is die hele dwelm-kultuur ‘n geloofsdaad en die “dealers
‘n subhuman species”. Hy het heel Calvinisties gedink hy moet iets van hierdie
ervaring maak en dit begin opskryf. Hy beskryf dit as ‘n laterale ervaring
waarin vele assosiasiespronge gemaak word. Hy klink volgens Wasserman positief
oor dwelmgebruik. Dis nie langer gestigmatiseer nie en die konteks het verander.
Daar is ook meer as een soort consciousness,
meer as een state of mind, maniere om
na die goed te kyk.
Volgens De
Lange is dwelmbeheer “mind control” en hy verwys na die reaksie op “acid in die
Sixties”. Volgens hom sou dit beter wees om dwelms te wettig, omdat die
kriminele element dan wegval. By ‘n rave is daar nie geweld nie; eerder ‘n
samehorigheidsgevoel en empatie wat jy selde elders kry.
Wasserman vra
dan uit na die feit dat as hierdie boek grense tussen mense uitwis, waarom het
dit by ‘n gay-uitgewershuis, Homeros, verskyn. De Lange meen dat geen
gemarginaliseerde groep immers vir hul eie marginalisering verantwoordelik is
nie.
Volgens De
Lange moet daar ‘n gay-letterkunde wees wat die identiteit van die gay-persoon
binne die samelewing kan ondersteun. Die verwysing na “Johann” as die
hoofkarakter word deur die skrywer verklaar as volg: binne die dwelmkultuur is
die ek nie ‘n stabiele ding nie. “Jy kyk partykeer na jouself van buite af. Dit
was nie uitgangspunt om mense te ontmasker nie, en ek het toestemming gevra as
ek mense se name gebruik het. Die boek is ‘n soort bestendiging, ‘n viering,
van psigedeliese ervarings”. Die gebruik van Standaardafrikaans pas nie binne
hierdie kultuur nie.
In De Kat (26 Julie
2001) skryf Marius Crous oor hierdie bundel. Volgens hom beskryf hy ‘n sekere
segment van die gay-gemeenskap wat nie as stereotiep afgemaak moet word nie. Hy
wys op die implikasie van vreemde of aangeleerde gedrag wat nie meer so vreemd
voorkom nie en die transformasie wat plaasvind met die gebruik van ecstacy. Die
liggaam word in hierdie verhale ‘n fetisj wat aanbidding inspireer. Hier is
altyd sprake van transgressie van norme en ‘n ondermyning van die patriargie
wanneer die seksuele beskryf word. Of mense meer begrip en ontvanklik is vir gay-literatuur
nou dat hierdie regte in die grondwet beskerm word en deur die toenemende
uitbeelding van gay-mense in films en op televisie, val te betwyfel. Crous wys
tereg daarop dat “homo-erotiese” liefde tot die kanon beoort, maar met groot
omsigtigheid hanteer word. Die vraag van die bundel is of die liefde ‘n illusie
is en of dit net ‘n effek van die vorige aand se E is. Dit is volgens hom ‘n
goeie beginpunt vir “drug writing” in Afrikaans.
Die ooglopende
verskille en ooreenkomste tussen Vreemder
as fiksie en Tweede natuur is
opvallend. In eersgenoemde teks is daar telkens ‘n metafiksionele dimensie
aanwesig en tekste speel op mekaar in sodat daar ‘n duidelike sirkelgang
aantoonbaar is. Daar is telkens ‘n konstruksie van ‘n ervaring en deur middel
van voetnote, briewe, verwysings, endnote, studies word die tekste ingebed in
‘n duidelike postmodernistiese of selfrefleksiewe toonaard. Die leser word
telkens bewus gemaak van die skryfproses en die kreatiewe impulse van die
skrywende instansie wat via Hennie Aucamp en Koos Prinsloo die komplekse
verhouding tussen mentor en protégé analiseer.
Die duidelike ontologiese grense tussen werklikheid en fiksie, soos die titel
suggereer, word voortdurend geproblematiseer en verdag gemaak. Die leser beleef
in Derrideaanse terme ‘n voortdurende ervaring van die ópheffing van betekenis.
Daar is inderdaad hier geen buite-teks nie.
In Tweede natuur is daar weer sprake van ‘n
sogenaamde naked I en teenoor die
skrywende ek in eersgenoemde teks, is hier deurgaans ‘n belewende,
hallusinerende, bykans-psigotiese verteller aan die woord. Waar eersgenoemde
teks se onbetroubaarheid gesetel is in die voortdurende ondermyning van die
sogenaamde “laaste woord”, is die subversie hier geleë in die gebruik van
dwelms. Die hallusinerende en gedagte-verskuiwende (mind altering) impak word beskryf en die leser word dus bloot
gestel aan ‘n swymelende ek wat voortdurend die grense tussen liggaam en
ervaring probeer verdiskonteer.
In beide tekste
is daar ‘n versplinterde ek aanwesig. Johann / J is nie Johann de Lange nie,
maar ‘n soort self-fiksionalisering, ‘n skepping van die outeur wat van buite
na homself kyk. Beide verhale is deur
die tyd íngehaal sodat gewaande werklike mense nou vir die leser minder
herkenbaar of bekend aandoen. Die morele besware – veral van ‘n kritikus soos
Ia van Zyl – word dus bykans nietig verklaar en die fokus is nou op die
verhaal: die ervaring van ‘n gekwelde ek wat sy lewensdrama beskryf of in ‘n
somer met dwelms eksperimenteer en dit uiteindelik agter hom plaas.
Beide tekste
lewer kommentaar op die “versplinterede ek” wat verskillende rolle kan vertolk.
Die versplintering word dan geïllustreer deur die identikit-voorblad op Vreemder as
fiksie: die ek is afhanklik van ander ekke, byvoorbeeld Aucamp en Prinsloo,
gespieël teen ander vader(s) of vadertekste. Soos Sorrentino skryf in Mulligan stew: ‘’Here now, I am finally alone,
truly alone, with the enormity of what has actually happened here this evening
(408).
Sy alleenheid
word egter opgehef deur al die tekste, verdigsels, konterfeitsels, speletjies
waardeur die leser moes waad sodat ons nie meer seker is wie is die “I” nie.
*
Onderhoud:
Murray LaVita. “De Lange se stem keer terug”. Die Burger. 26
Februarie 2009. (Afgetrek op 24 Maart 2009).
Ná 13 jaar het nou weer ’n digbundel van die bekroonde digter
en skrywer Johann de Lange verskyn. Die Algebra van Nood, sy agtste digbundel, word deur die
uitgewer Human & Rousseau beskryf as ’n belangwekkende gebeurtenis wat
menige poësieliefhebber sal laat regop sit.
Iewers by
Somerset-Wes is ’n brand wat só groot is dat ’n stukkie as tot hier in die
binnehof van die Willowbridge-winkelsentrum in Durbanville op die skouer van
die digter Johann de Lange neersif.
Benewens die
brandreuk is daar ’n ander, subtieler – en vaagweg bekende – geur in die warm lug
aanwesig.
Aan die einde
van ons onderhoud stel ek vas dit is Calvin Klein se ikoniese eau de toilette ck one van die jare negentig. Die digter
dra ck one. Dit staan in ’n
interessante verhouding tot die robuuste manlikheid van sy stapstewels en wat
lyk na die verbleikte langbroek van ’n seesoldaat.
Hierdie geur is
’n stigmatum van die rave-kultuur (hy gaan netnou daaroor praat) wat nog
ironies om De Lange draal. ’n Kultuur waarin hy diep betrokke geraak het
voordat hy dit verlaat het.
Op die tafel lê
sy bundel Die Algebra van Nood. Die
omslag is deur die kunstenaar Christiaan Diedericks ontwerp.
Daarop is ’n
ets van De Lange wat sy kop vashou in sy sterk hande (waarvan die naels kort
gekou is). Hy kyk reguit na jou met oë wat (op die ets) intens en donker is. In
werklikheid is sy oë ’n ligte blougrys. Wat op die ets nie so duidelik uit die
oë straal nie, is die digter se afstandelikheid; selfs kilheid. Hierdie energie
staan in teenstelling met sy hartlike lag en die weerloosheid wat ’n mens
ervaar wanneer hy soms effens hakkel, soos as hy die voorsetsel “met” in ’n
oomblik van huiwering herhaal.
Dit is die oë
van ’n randfiguur wat nie deel is van die sosiale lewe van (onder meer) die
Afrikaanse letterkunde nie. ’n Mens begryp waarom hy soveel aanklank gevind
het, en vind, by kunstenaars soos Ina Rousseau, Sheila Cussons en Wilma
Stockenström. Hy is iemand wat waarskynlik die geselskap van sy katte (Yoshi en
Toulouse) verkies bo die meeste ander gesprekke.
“Hy
(Diedericks) het vir my ’n ets gemaak van ’n foto af. Ek het die etsplaat
gesien. Dit moes úre en dáé gevat het. Dis van ’n foto af wat ek sommer self
met my iMac geneem het met daai ingeboude kameralensie. Ek het baiekeer net as
ek so sit en bored is, sit en foto’tjies neem. Van my, of van my en die kát.”
Hy maak ’n
opmerking oor die blou op die omslag waarvan hy so baie hou.
“Kyk, daardie
titel kom natuurlik van William Burroughs se The Algebra of Need, wat gaan oor die verhouding tussen die junkie
en die dealer en daai soort van ’n wiskunde van nood: ‘Beyond a certain
frequency need knows absolutely no limit or control’. En daarom het ek hierdie
spuitnaald ingewerk.”
Hy wys na die
spuitnaald wat bo sy kop dwars oor die blad lê. “Ek het die foto op e-bay
gekry. Om net daai suggestie van need te ondervang, en natuurlik die hele kode
van dwelmgebruik waaroor daar ’n afdeling (“Bedrieglike paradyse”) is.
“Hopelik is
daar in hierdie foto iets van die aftákeling van die jare. Miskien.”
Hy lag.
“Poësielesers
is ’n tough breed. Ek dink nie enige van die poësielesers gaan deur hierdie
omslag afgesit word nie. Ek sien dit nie as donker nie, ek sien dit meer as
introspeksie.”
Die bundel is
opgedra aan sy jare lange vriendin die digter en skrywer Joan Hambidge, wat hy
beskryf as a force of nature. Sy is tans, in haar hoedanigheid as akademikus,
besig om ’n boek oor sy werk te skryf.
Uitgeskryf
Akwarelle van die Dors, Waterwoestyn,
Snel Grys Fantoom, Wordende Naak, Nagsweet, Vleiswond, Wat Sag Is Vergaan.
En nou: Die Algebra van Nood.
“Ek het nooit ophou
skryf nie, ek het net belangstelling verloor in publiseer. Dit klink vreemd,
maar . . . hoe langer jy uitgestel het, hoe moeiliker het dit geword om te
begin dink aan sit en ’n boek bymekaarbring. Toe het ek vir Human &
Rousseau gevra of hulle belang sou stel om ’n keuse uit my bestaande bundels
uit te gee. Want ek het basies gevoel – wérklik gevoel – dis klaar, ek is
uitgeskryf.
“En toe het
hulle gesê hulle sal ’n keuse uitgee, maar dan wil hulle twintig nuwe gedigte
hê – net om die bundel darem interessant te maak vir kopers.
“Toe sê ek
oukei fine. Ek het ’n k*khuis vol gedigte op my rekenaar gehad; en ek het ’n
klomp daarvan uitgedruk en ek het dit vir (prof.) Henning Snyman (die literator
wat ook sy studieleier is vir die magistergraad oor die metafisiese ruimte by
Sheila Cussons) gegee en gesê hy moet net deur dit gaan en vir my help om
twintig te kies waaraan ek kan werk vir hierdie bloemlesing.”
Snyman se
bevinding was: hier is ’n hele bundel se nuwe gedigte.
“Ek het
werklikwaar nie gedink daar is nog ’n bundel in . . . jy bereik ’n punt waar jy
voel jy het eintlik alles al gesê wat jy wou sê.”
De Lange sê hy
“het nie verskriklik baie verbeelding nie”. “As ek oor iets wil skryf,
onderdompel ek my gewoonlik daarin en dan oordoen ek dit. Byvoorbeeld in die
tyd van Nagsweet het ek kompulsief
ge-cruise – dag en nag, naweke, in die etensuur . . . net konstánt ge-cruise.
En toe die boek uitgekom het, het ek belangstelling verloor daarin.
“Toe’t ek ’n
ander kompulsie gesoek. En ek het toe ingeval by die rave-kultuur so in 1998 se
kant rond. En toe het ek begin om die hele alfabet (dwelms) te doen, want ek
het eintlik, ek was aangedraai . . . nuuskierig, veral met psigedeliese goed,
ek dink ’n mens kan geweldig baie léér as jy nie net hedonisties ingestel is
nie. Toe het ek my daarin onderdompel, en Tweede
Natuur (kortverhale) het daaruit gekom.
“Ek wou
vreeslik graag ’n digbundel maak, maar ek kon nie ’n vorm kry om daaroor te
skryf in gedigte nie; dit wou net nie wérk nie. Maar dit is seker nou omtrent
al vyf jaar wat ek nie meer indulge nie. Miskien is dit ook waarom ek gevoel
het ek is nou klaar, want ek het nie meer ’n kompulsie wat my aandryf nie.”
Hy lag.
“Ek soek nou
iets anderster. Ja . . . ek soek oorrompelende ervarings. Ek dink ’n mens moet
probeer verby die banaliteite kom van net gewone lewe. Ek is op soek na wat
iemand genoem het ravishing experiences.
I want to be ravished, jy wil nie net . . . jy kry dit met seks en jy kry dit
met dwelms.”
Slapende Pa
In Die Algebra van Nood is in die laaste
afdeling, “Memento Mori”, ook ’n gedig met die titel “Pa”.
Wanneer De
Lange oor sy kinderdae praat, is dit met die ironiese afstand wat dikwels by
hom na vore tree en wat soms van ’n kort laggie vergesel word.
“Man, ek het
soos enige fortunate kunstenaar ’n unhappy jeug gehad. Ek het grotendeels by
familie grootgeword. Ek en my ouma het dikwels saam van gesin na gesin verhuis,
want sy het my basies grootgemaak. Ek het baie min kontak gehad met my ouers,
en die paar keer wat ek wel met my pa kontak gehad het, was dit nie altyd
gelukkige omstandighede nie.”
Die laaste
reëls van die gedig “Pa” lui:
Langs jou op
die vaal sement,
val jou skadu
ambivalent
“My pa was ’n
skadufiguur. Hy was verslaaf aan Mandrax. My ma was ’n verpleegster of ’n
suster gewees, en ek kan onthou dat sy van dórp na dórp toe moes gaan,
partykeer met die trein, om voorskrifte te kry vir Mandrax, want die dokters in
Pretoria wou nie vir hom gee nie. Dan moes sy ry; hy het haar absoluut gek
gehad.”
Hy onthou sy pa
veral as iemand wat dikwels geslaap het.
“Nou nog, as ’n
volwassene, kan ek dit nie hanteer as iemand in die huis slaap nie. Dit maak my
ongelooflik depressief. Mense moet wakker wees as ek wakker is. Ek het in ’n
vroeë gedig gepraat van dat hy die woonstel ‘onherbergsaam gemaak het’ met sy
slapery.
“Ek voel
abandoned as ek met iemand involved is – ’n lover – en die lover slaap, bedags,
en ek is wakker.”
Hy praat oor
die ontstellende geluide wat uit ’n vertrek van Ernst van Heerden se huis gekom
het die dag toe hy van die ou digter wou afskeid neem; die ongelooflike
eksentriekheid van die sku Ina Rousseau, by wie ’n eekhoring eendag ’n gedig
“gesteel” het toe sy haar skryftafel in die tuin verlaat om te gaan tee maak;
en hy praat oor wat hy in Sheila Cussons se notaboeke aangetref het.
Toe die muse
haar verlaat het, het sy met God “onderhandel”.
“Sy’t vir Hom
gesê: ‘Jy kan énigiets vat! Vat enigiets van my weg wat jy wil, maar gee net
weer daardie moeitelose skryf vir my terug.’ ”
Die digter se
stem is hees. Hy vind dit klaarblyklik ontroerend.
*
Wat doen jy
op Saterdae?
Naweke
skryf ek regdeur die nag & slaap deur die dag. As ek nié skryf nie, sal ek
lees of TV kyk.
Hoe
lyk jou gemoedstoestand vandag?
Ek is ‘n
wintermens, op my gelukkigste wanneer dit reën of ten minste bewolk is. So
vandag is nie ‘n goeie dag nie.
Wat
behels aardse geluk?
Om my
nooit oor geld te hoef bekommer nie. En om goeie gesondheid te geniet.
Wat
is die diepste put van ellende?
O, daar is
baie. ‘n Leë yskas, ‘n kragonderbreking, die ATM wat my kaart insluk as ek nie
my pin kan onthou nie. Die woord ‘Nee’ as antwoord op énige vraag.
Waar woon
jy en waar sou jy eerder wou woon?
Ek ek is
baie gelukkig in die Kaap, maar as ek kon kies sou ek graag wou bly iewers waar
dit konstant reën. En as dit náby die see kan wees… bliss.
Wat
is jou grootste tekortkominge?
Ek is kort
van humeur (ek wou sê ‘kort van draad’, maar ek vertel nie graag leuens nie),
ek het nie baie geduld met dom mense nie, sien rooi as mense laat opdaag vir ‘n
afspraak sonder om te laat weet hulle gaan laat wees, en stuur e-posse wat ek
dalk eerder so 48 uur lank moes laat lê het. En ek verkies gesprekke per telefoon
eerder as in die vlees & kyk hopeloos te veel TV.
Met
watter tekortkominge in ander kan jy saamleef?
Met
feitlik álles behalwe iemand wat op die toilet sit met die deur oop & dan
nog boonop ‘n gesprek ook wil volhou.
Wat kan jy
nie verduur nie?
Wreedheid
teenoor diere. En die mishandeling van vrouens en kinders.
En
wie kan jy nie verduur nie?
Diktators,
& goedbedeelde mans wat nie mededeelsaam is nie.
Wat is vir
jou snaaks?
Tot my
skande moet ek erken dat ek die dikwels plesier put uit dinge wat ten koste van
ander gebeur. Ook grappe in swak smaak, hoe growwer hoe beter, woordspel &
dubbelsinnighede in andersins onskuldige gesprekke.
Wie
is jou lewende helde?
Mense wat
ondanks geweldige teenstande & agterstande slaag met wat hulle aanpak &
om vreugde uit die lewe te haal, mense met deursettingsvermoë, mense wat
gedrewe is.
Wie
is jou fiksiehelde?
Hercule
Poirot, Gert Garries, La Divina, Jock Silberstein, 007.
Wie
is jou gunsteling- historiese figure?
Tragiese
figure.
Met watter
historiese figuur vereenselwig jy jou?
Ek doen
nie. Maar ek het ‘n sagte plek vir Oscar Wilde & die troostelose wyse
waarop sy laaste jare ontrafel het, omdat hy lief was vir iemand wat in alle
opsigte sy mindere was.
Wie
is jou gunsteling-musikant of -komponis?
Sangers
soos Amy Winehouse, George Michael, kd lang, Bruce Springsteen, die classics
soos Dusty Springfield, Billie Jo Spears. ABBA, Radiohead, Pulp. Ek het ‘n baie
eklektiese musieksmaak. Maar ek trek die streep by Neil Diamond. Plaaslik is
daar baie wat suksesvol is, maar weinig met werklik talent. Ek geniet
platvloersheid net soveel as verfyndheid, maar dit verg talent om béide goed te
doen.
Wanneer en
waar was jy op jou gelukkigste?
Die tyd
toe ek met xtc & psigedeliese dwelms eksperimenteer het. Dit was ‘n tydperk
van geweldige groei. Ek het aspekte van myself ontdek wat andersins afgesluit
sou gebly het, & vir die eerste keer verstaan hoe kreatiwiteit werk, hoe
táál werk.
Watter
oorsese stad sou jy graag nog wou besoek, en hoekom?
As geld nie ‘n opsie was nie sou ek sonder ophou wou reis. Ou
stede, ou beskawings trek my aan. Maar ook groot stede soos New York, San
Francisco, Tokio, Montreal, Singapoer.
Wie sou jy
die graagste vir ete wou nooi?
Colin Farrell, W. H. Auden, Louis Leipoldt, & Eugène
Marais (om ‘n ietsie saam te geniet ná die ander gaste vertrek het).
Wat sou jy
dan vir ete maak?
Ek is hopeloos agter ‘n stoof, met of sonder voorskoot. Ek
sal die Meyers moet vra om te cater
vir daardie aand.
Watter
eienskappe bewonder jy die meeste in ’n man?
‘n Ontspanne manlikheid, nie narcissisties of chauvinisties
nie. Mans wat gemaklik is met hulle seksualiteit & die adorasie van ander
mans kan hanteer. En ek bedoel nie metro
males nie (is dít nou nie ‘n geval van “be careful what you wish for” nie?),
ek bedoel régte mans. ‘n Rats brein is ‘n groot turn on. Ek hou ook van ouens
wat nie omgee om bietjie rof te raak nie. En daai doodgewone boere-skaamheid
wat mens kry by sommige plattelanders is vir my onweestaanbaar.
Watter
eienskappe bewonder jy die meeste in ’n vrou?
Ek hou van
slim vrouens, aantreklike vrouens, vrouens met stérk persoonlikhede. En hulle
moet ‘n sin vir humor hê, & pront wees met die tong. Ek het nie eintlik sin
in dames nie, of hiper-vroulike vrouens nie.
Wat
waardeer jy die meeste in vriende?
Lojaliteit
& empatie.
Watter
deugde beïndruk jou?
Werkvermoë,
fokus. Mense wat kan werk soos, sê maar Karel Schoeman. Die vermoë om dinge
deur te voer. Enige soort vaardigheid wat ook ‘n passie is.
En
watter deugde laat jou koud?
Spaarsamigheid,
& vroomheid.
Waarmee
verwyl jy die graagste jou tyd?
Vroeër sou
dit seks gewees het, maar ek het nou rustiger geword & verwen eerder my
brein. Ek lees graag, & kan vir ure op die internet nalees oor verskillende
onderwerpe, en nuwes ontdek wat ek nie eens geweet het bestaan nie.
Wat
verveel jou?
Literêre
partytjies & gesprekke. Uit al die skrywers wat ek in my lewe ontmoet het,
was hoogstens 10% werklik goeie geselskap, & nóg minder in staat om ook
werklik goeie vriende te wees. Ek was & ís gelukkig om ‘n hele paar sulkes
in my lewe te hê.
Wat
is jou mees kenmerkende eienskap?
My vriende
& vyande sou beter kon sê as ek, maar ek sou sê my sin vir humor, al is dit
soms bietjie donker. In geselskap probeer ek altyd die onverwagse sê, & in
my skryfwerk ‘n klein persentasie lesers aanstoot te gee. Ek hou daarvan om die
hele taalregister te bestryk, sónder ‘n wag voor my mond (tensy hy in uniform
is).
Wat
is jou grootste vrees?
Om
haweloos te wees. En noudat ek ouer word, die vrees om iets oor te kom wat my
hulpeloos laat.
Waaroor is
jy spyt?
Ek het
spyt oor só baie dinge. Mense wat ek te na gekom het, verál toe ek jonk was,
geleenthede wat ek nie aangegryp het nie, projekte wat ek nie deurgevoer het nie. En verál dat ek nie altyd hard genoeg
gewerk het as skrywer nie. My gees was vir ‘n té lang tyd die slaaf van my lyf.
Ek het my aptyte soms onoordeelkundig nagejaag, maar ek wil glo dat ek met ‘n
ompad tóg uitgekom het waar ek wou wees, min of meer.
Wie
is jou gunsteling-skrywers?
Etienne
Leroux, Hennie Aucamp, Wilma Stockenström, Karel Schoeman, Ingrid Winterbach,
Petra Müller.
Wie
is jou gunsteling-digters, en wat is jou gunsteling-versreël?
N. P. van
Wyk Louw, Wilma Stockenström, Sheila Cussons, D. J. Opperman, Ina Rouseau,
Breytenbach, Blum, Antjie Krog, Joan Hambidge, Johan van Wyk, T.T. Cloete, Lina
Spies, ‘n helse klomp Ierse skrywers; Thom Gunn, Auden, Eliot, Elizabeth
Bishop, Philip Larkin, Ted Hughes, Shakespeare, Catullus, Kafavis, Vergilius
etc. etc
Gunsteling
versreël: sjoe, daar is só baie. Enige aantal by N. P. van Wyk Louw of Cussons,
maar ek sal ‘n ander kies: D. J. Opperman se “as dat maanlig en sirose
bestaan”. Dis slim, maar dit kom van ‘n ánder plek as Opperman se ander
slimmighede.
Wat
is jou gunsteling-name?
Magnus,
Ryk, Marnus, Brandt, Loftus, Thijs, Wouter, Bert, Frik.
Wat is jou
gunsteling-voël?
‘n Boere-.
Oor watter
gawe sou jy die graagste wou beskik?
Hieroor
het ek baie gepeins: rykdom, roem, ewige jeug? Maar enige van daardie drie in
mý hande sal nie ‘n goeie idee wees nie. So eerder iets soos die vermoë om
enige siekte onder die son te kan genees.
Wat
is jou grootste uitspattigheid?
Enige
uitspattigheid. Vir my loop die pad na wysheid deur oordaad.
Wat
is jou kosbaarste besitting?
My diere,
& my vriende. Ek is nie baie gebonde aan wat konvensioneel ‘aardse goed’
genoem word nie (hoewel ek ‘n swakte het vir elektronika).
Wie
of wat is of was die liefde van jou lewe?
Dit sou
enige van ‘n paar duisend kon wees. Die mens aan wie ek altyd instinktief dink
by dié vraag, is die één wat dit die minste werd was. Voel ‘n mens ooit weer so
intens as met jou kalwerliefdes? Skryf is baie belangrik in my lewe, maar ek
sal dit nie die groot liefde van my lewe noem nie.
Wat is of
was jou grootste prestasie?
Ek kan op
geen prestasies aanspraak maak nie. Alle goeie dinge wat ooit met my in my lewe
gebeur het, was sonder my toedoen, & dikwels ten spyte van myself. Ek het
‘n báie toegewyde beskermengel.
Hoe
sou jy eendag wou sterf?
In my
slaap, & terwyl ek nog relatief gesond & helder van verstand is. So
nie, dan ‘n exit op my eie terme.
Wat
dink jy gebeur ná die dood?
Ek glo in
reïnkarnasie. Daar móét kontinuïteit van die een of ander soort wees, want die
idee dat daar niks is na die dood
nie, is vir my die grootste verskrikking van alle verskrikkinge. Die idee van
‘n niet.
Bibliografie:
Tekste:
Aucamp, Hennie.1970. ‘n Bruidsbed vir Tant Nonnie. Kaapstad: Tafelberg.
Aucamp, Hennie.1986. Die blote storie. Kaapstad: Tafelberg.
Beukes,
Marthinus. 2006. “Die poësie van Johann de Lange” in Van Coller, H.P. (red.) Perspektief & profiel. 3. Pretoria: Van Schaik.
Bersani, Leo.
1995. Homos. Cambridge
(Mas) & Londen: Harvard University Press.
Botha, Danie.
1995. Die soft rock
klub. Kaapstad: Tafelberg.
De Lange, Johann.
2009. Die algebra van
nood. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann.
1986. Snel grys
fantoom. Kaapstad: Human &
Rousseau.
De Lange, Johann.
2000. Tweede natuur. Kaapstad:
Human & Rousseau.
De Lange, Johann.
1996. Vreemder as
fiksie. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann.
1990. Wordende naak. Pretoria:
Haum-Literêr.
Derrida,
Jacques. 1974. Of Grammatology. Baltimore: Johns Hopkins
University.
Eco, Umberto.
2000/2003. Baudolino. Londen:
Harcourt paperback.
Kermode, Frank.
1967. The sense of an
ending: Studies in the theory of fiction. New York:
Oxford University Press.
Leavitt, David.
1993. While England sleeps. New York.
Penguin.
McHale, Brian.
1987. Postmodernist
fiction. Londen: Routledge.
Olivier,
Gerrit. 2008. Aantekeninge by Koos Prinsloo. Stellenbosch:
Rapid access publishers.
Prinsloo, Koos.
1993. Weifeling. Johannesburg:
Hond.
Prinsloo, Koos.
1987. Die hemel help
ons. Johannesburg: Taurus.
Prinsloo, Koos.
1992. Slagplaas. Kaapstad:
Human & Rousseau
Shorer, Mark.
1950. The story: a
critical anthology. New Jersey: Englewood Cliffs.
Sorrentino,
Gilbert. 1979. Mulligan stew. Londen: Mario Boyars Publishers
Ltd.
Visagie,
Andries. 2006. ”Die prosa van Johann de Lange” in Van Coller, H.P.. Perspektief
& profiel. 3.Pretoria: Van Schaik.
Welsh, Irvine.
1996. Ecstasy: Three tales of chemical
romance. Londen Jonathan Cape.
Welsh, Irvine. 1993.
Trainspotting. Londen:
Jonathan Cape.
Resensies en
Onderhoude:
Aucamp, Hennie: “Dubbelportret”, Standpunte 152, Derde reeks, Jaargang 34, nr. 2 Maart 1981.
Bloemhof,
Francois. 1997. “Knap intertekstuele spel”. New Contrast. Volume 25 (1)
Maart 1997.
Coetser, Johan.
2000. “Tweede natuur ‘n eerste in Afrikaans”. Beeld. 6 November
2000.
Crous, Marius.
2001. Resensies. De Kat. 26 Julie 2001.
De Lange,
Johann. 1997. “’n Baie gevaarlike soort mentaliteit.” Die Burger. 24 Januarie
1997.
De Lange,
Johann. 1997. “Die keiser is kaal”. Beeld. 16 Januarie 1997.
De Lange,
Johann. 2005. “Vreemder as fiksie: Lesing (nie) gelewer aan die
US, 2005”. (Afgetrek 18 Februarie 2013).
De Lange,
Johann. 2000. “Raves wis grense tussen mense uit”. Die Burger. 11 Desember
2000.
Du Plessis,
Phil. 1997.”Was boek tog bredie om van die bord te krap”. Die Burger. 29 Januarie
1997.
Esterhuizen
Louis: “Om met ‘n eie kompas te skryf.” Versindaba. (Afgetrek 5 November 2009).
Grobler, Hilda.
1997.”Dis inderdaad vreemder as fiksie.” Vrydag. 7 November
1997.
Hambidge, Joan.
2001. “Ander soeke na Self bring nuwe baken in Afrikaans”. Rapport. 28 Januarie
2001.
Hambidge, Joan.
1984. “Paradoks en pyn in die poësie van Johann de Lange”. Ensovoort. Jg. 4, nommer 2.
Desember.
Haupt Wynand.
2000. “’n Eiesoortige leeservaring”. (Litnet
Seminaarkamer / Ou Litnet). Afgetrek 3 November 2009.
Laurence,
Alexander. “Gilbert Sorrentino interview.” (Afgetrek 11 November 2009).
Roux, Wyn.
2008. p-yp!. ”Wyn Roux vis uit oor digkuns, kortverhale en ander kompulsies”.
Smuts, J.P.
1996. “Vreemder as fiksie”. RSG. 30 Julie 1996.
Van Niekerk,
Marlene. 1993. ”Vleiswond – die gedig as ‘huurjonge’. Rapport. 11 November 1993.
Van Rensburg,
Cas. 2000. “’n Perd van ‘n ander kleur”. Die Volksblad. 11 Desember
2000.
Van Zyl, Ia.
1996. “Word knolle vir sitroene aan Afrikaanse leser verkoop?” Die Burger. 16 Desember.
Van Zyl, Ia. 1997.
“De Lange ‘rand lesers as’t ware geestelik aan’”. Beeld. 15 Januarie
1997.
Weideman,
George. 1996. “’Skrywer as parasiet’ sal dié wenkbroue laat lig”. Rapport. 8 Desember
1996.
Films:
Allen, Woody. 1985.
The purple rose of Cairo. VSA.
Arcand, Denys. 1989.
Jesus of Montreal. Kanada.
(c) Joan Hambidge