Friday, March 31, 2017

Henning Snyman: In memoriam

 Henning Snyman as jong onderwyser


Daar is min letterkundiges wat so insigryk oor die digkuns kon skryf as HJ Snyman, oftewel Henning Snyman. Ek had die voorreg om deur die jare etlike leesverslae oor my digkuns van hom te kon ontvang.

'n Hebbelikheid in 'n digterlike arsenaal kon hy raaksien. Hy het my beheptheid met die ellips en aandagstreep uitgewys.

Snyman sou 'n mens ten beste as die Frank Kermode van die Afrikaanse letterkunde kon sien. Semantikus en kenner van klassieke tekste (veral die Bybel), soos Kermode. An appetite for poetry (Fontana, 1989) het hy vir my persent gegee.

Sy grootste geskenk aan my was sy stiplees van my manuskripte, waar hy met 'n potlood 'n vraag sou vra en jou terugneem na die binnewerking van die gedig.

Astrak, my jongste manuskrip, lees hy met nougesette aandag, 'n bundel wat ek o.a. aan hom opdra.

Op Woensdag-oggend, 29 Maart, praat ons vir oulaas telefonies. Op Vrydagmiddag ontvang ek 'n sms van sy foon - "Professor Snyman is vanoggend oorlede" - waarskynlik versend deur 'n naasbestaande wat die hele lys kollektief laat weet het.

As kenner van primordialiteit sou hy die ironie hierin raakgesien het. Dat hy nou bloot vertrek en vir oulaas groet. Op pad na die groot kollektiewe ruimte.

Sy bydraes oor die digkuns is enorm. Hy het vele studente onder sy promotorskap gehad - ekself het 'n studie oor gender onder hom voltooi.

Sy grootste werk is bepaald Mirakel en muse - 'n Studie oor die funksie van die implikasie-verskynsels by die interpretasie van 'n gedig (Perskor, 1983), 'n verwerking van sy doktorale studie onder Roy Pheiffer.

Hierdie boek het altyd saamgereis met my. Hieroor het hy net gelag.

Sy analise van Opperman se "Dennebol" waarin hy die tydsverskille in die komplekse gedig aanstip het elke derdejaar-student onder my leiding bestudeer. Die tabelle oor die verskille tussen die geografiese en metafisiese ruimte het menige student gehelp om die komplekse gedig "oop te maak".

In my gedigte praat ek dikwels ook met hom, soos met Johann de Lange. Sy eerste vrou, die digter Annette Theron, het soos hy, my liefde vir Boerneef aangestig. As jong mens hoor ek op dieselfde dag van haar dood toe ek 'n brief lees van haar.

Ek berg in my gemoed HJS se lesse oor die koggelbos van die digkuns.

Van al die teoretici is daar maar net jy, in navolging van Boerneef se "Van al my land se Tafelberge" ...

En hierdie gedig het ek geskryf, goedskiks 'n jaar gelede, wetend-onwetend van sy vertrek.


By Jeroen Bosch se triptieke

HJS

Die sagte argipel van droombedrog
Elisabeth Eybers

i

Teen my bitterwete in
roep ek hulle op in die diep nag,
hulle wat my psige bevlek
in die Tuin van Aardse Luste.
Maar hulle kan my nie hoor nie;
hul ore is deurboor
en ‘n slagtersmes dryf
hulle voort, wég van my hart,
ja daardie hart met ‘n fluit
gebalanseer op ‘n ont-
hoofde kop en oop-
gekloofde lyf
waarin vreemdelinge
makietie hou met my pyn.
Dat dit die hel is, skree vanself;
Dat dit die hel is, skree vanself.

ii

Die herberg met sy nooduitgang,
vloerverhitting, Miró-afdruk,
'n spyskaart en Tea and Coffee Caddy
vir die reisiger in die Auberge Burgundy,
slaaploos, besig om herinneringe
uit die reistas op te hang in die kas
sonder deure, langs 'n parapluie,
waarskynlik hier gelaat vir geval
'n storm van buite woed
ooreenstemmend
met die storm van binne.

iii

Hiperbolies, sou jy uitroep.
Nee, sou ek verdedig. Dié gedig
stig vuur aan soos die verwoestende vuur
in 's-Hertogenbosch toe die jonge
Jeroen Anthoniszoon van Aken
aanskou hoe vuur sy geboortedorp ontsier.
'n Vlieënde vis waarop die jonge Jeroen
in sy verbeelding ry in 'n latere skildery
wys hoe die verwoesting in sy gemoed uitbloei.
In Die Laaste Oordeel
is die gryllos horende doof
en 'n vrou trotseer
'n slang
se overtures seksueel.

iv

Jare terug staan ek in die Prado
voor die Triptiek van Epifanie.
Wis toe niks van liturgie
of hoé die dooies na ons bly roep
lank na hul vertrek. In my bladsak
'n brief van Annette Theron
en haar vlammende woorde
vir ewig in my gemoed geberg.
In San Diego bekyk ek Die kus van Judas
gesuspendeer in tyd en ruimte:
onbewus-bewus van wat sou kom ...
Haar laaste brief aan my versend
op daardie dag van haar uitvaart.

v

In São Paulo staan Christus voor Pilatus:
die via dolorosa beweeg buite woorde
in hierdie gedig deur Jeroen helder opgeteken.
Ook ek sing 'n mooi lied, 'n treurige lied
alleen in mý fluitjiesriet,
in hierdie grammatika van afskeid
én bewaring vir jou,
kenner van eenvoud en dubbelsinnigheid;
jy wat die mirakels en óntoevalligheid
van hierdie disjunkte proses begryp:
non tarda, id est, strenuissima.



© Joan Hambidge

Thursday, March 23, 2017

Dr. Gisela Ullyatt - Repliek op Agnes van Schoor se brief

Dr. Gisela Ullyatt

Enkele opmerkings oor Agnes van Schoor se brief  "Wou Hambidge die digter boelie?"(Saterdag, 11 Maart 2017).

Sy beweer dat Hambidge se persoonlikheid as kritikus gelykstaande is aan winde opbreek,  "nogal in die gesig van die gekritiseerde". Ironies genoeg breek Van Schoor winde van middelmatigheid op. Hierdie winde is goor, omdat hulle verbysterende oningeligtheid losbraak.

Eerstens is dit die literêre kritikus se taak om enige teks krities te lees. Dit is immers een van die basiese vaardighede wat letterkundedosente van studente verwag. Die kritiese leser verskil van die amateur omdat eersgenoemde die taak opgelê is om ’n explication de texte van die bundel/roman/dramateks/kortverhaal te doen.  Aldus ’n close reading wat as basis dien om na verdere paradigmas of intertekstuele verwysings uit te kring.

Ongelukkig verraai Van Schoor haarself as onkritiese leser omdat sy Hambidge se resensie verkeerdelik aanhaal. Sy doen dus wat dosente studente afraai om in ’n essay te pleeg: sy skryf wat sy "dink" Hambidge gesê het.

Van Schoor maak die stelling dat "die wetenskaplike digter [sterk] staan met sy bundel omhoog; want juis hy weet dat poësie nie volgens ’n formule geskryf word nie". Hambidge se resensie sê  juis dat die digter nié voorskriftelik te werk moet gaan nie: "Die goeie digter skep sy eie uni-vers-um". Verder kla Van Schoor dat Hambidge se resensie voorstel dat wetenskaplike terme deur "mooi" Afrikaanse woorde vervang moet word. Hier het Van Schoor se geheue, helaas, haar ook in die steek gelaat.

Van Schoor jeremieer oor Hambidge se sogenaamde poging om Smith, die digter, soos "’n Klein Duimpie" tussen "reuse te laat voel". Siestog. Van Schoor moet haar vergewis van Freud se term "projeksie" (projection). 

Dit is wonderlik dat Van Schoor drie van Smith se digbundels vir haar boekklub aangekoop het: boekklubs vervul immers ’n beduidende rol in die verkoop en die lees van Afrikaanse skrywers en digters. Wanneer dit egter by formele resensies kom, los eerder die kritiese lees van die teks vir die resensent of gaan leer hoe om die teks (dit geld vir die resensie daarvan ook) krities en nié emosioneel te analiseer nie ten einde 'n ingeligte en deurdagte repliek aan 'n koerant te rig.

Dr. Gisela Ullyatt

Oos-Londen