Saturday, September 21, 2024

Rubriek | Joan Hambidge - Wilgenhof en die retoriese klopdans | 2024

I

Daar is geweldige reaksie en polemiek rondom Wilgenhof se sluiting. Regsgeleerdes het reeds gereageer en die Wilgenhof Bond het ook stem dik gemaak. Die hele kwessie het ‘n impak op studente kort voor die eksamen. My reaksie lê eerder op ‘n taalvlak en die retoriese strategieë in die omsendskrywe aan die alumni.

 

US-RAADSVERGADERING – 16 SEPTEMBER 2024 

NUUTSTE OOR WILGENHOF-KOSHUIS: RAAD BESLUIT OM WILGENHOF ʼn VERNUWENDE, HERVERBEELDE EN NUUT-GEÏNSPIREERDE MANLIKE STUDENTEGEMEENSKAP TE MAAK.

 

Die skrywer van hierdie sogenaamde “Wilgenhof statement” is duidelik ‘n uitsonderlike kenner van dekonstruksie. Om iets te sê / skryf, maar terselfdertyd die teenoorgestelde te bedoel.

 

In hierdie dae verwys ons na demensie as kognitiewe inperking. Nuwe woorde wat verfraai en vervals, maar die oorspronklike nie kan uitwis nie.  Sous rature. Under erasure. X.


Wanneer ‘n walvis in toue vassit, word ‘n sleepboot gestuur om die walvis te bevry.



II Het olifante elmboë?

 

Dit was die titel van P.G. du Plessis se rubrieke (1987), bemark as outobiografiese verdigsels. Oorvertellings. 

 

Dis presies wat in en oor hierdie koshuis ook gebeur. Hoorsê. Uit die verre verlede word studente nou gestraf ten spyte van verskillende verduidelikings en voorleggings. Hierdie skrywer het eweneens ‘n voorlegging gemaak op die aanlyn-vraelys. Daar het dadels van gekom.

 

Nou word olifante uitgedun in Zimbabwe en selfs geëet. Wildbewaarders verduidelik dat die vleis gekook en nie gebraai word nie.

 

Die raad is dankbaar vir die verskillende voorleggings. Dan die sistemiese verandering wat van kritieke (sic!) belang is:

 

“Dít moet die beginpunt wees van betekenisvolle en sistemiese verandering in die Universiteit se begeerte om ’n omgewing te skep waar alle studente kan floreer.” Miskien is daar nie kennis geneem van ouers (swart en wit) wat positief gereageer het nie?

 

Die koshuis word in sy “huidige formaat” gesluit en “vervang met 'n herverbeelde en nuut-geïnspireerde manskoshuis.”

 

Herverbeeld? Gaan iemand dalk ‘n skrywer of erger nog ‘n ontwerper of binnehuisversierder aanstel om dit te doen?

 

Die erkenning van die “opbouende aspekte”, maar ‘n beslissende breuk met die “onaanvaarbare en geheimsinnige aspekte van die verlede” …



III Let’s do lunch

 

En dan kom die werklike boodskap deur. In die VSA beteken “let’s do lunch” presies die teenoorgestelde.

 

•  Die koshuis sal in 2025 gesluit wees vir opgradering om aan die DHOO se Beleid oor die Minimum Norme en Standaarde vir Studentebehuising by Openbare Universiteite te voldoen. 

• Die koshuis sal in 2026 as ’n manskoshuis heropen.

Opgradering om aan standaarde te voldoen? Ek sien in my geestesoog hoe daar brandslange sal tuimel om te suiwer. Hoekom is Wilgenhof die sondebok in hierdie proses?

Die ander koshuise sal later aangespreek word glo. Fasiliteerders sal optree. Met psigososiale ondersteuning. Ja-nee. 

• Die Universiteit sal met relevante belanghebbendes in gesprek tree rakende die argief en artefakte sowel as enige visuele regstellingsinisiatiewe wat toepaslik mag wees. 


En dan:

Die naamsverandering … en hier weet ons reeds wat kom. Wilgenhof se naam is nie neutraal genoeg nie?

• Die Rektor sal aan die Raad verslag doen oor die vordering met al hierdie items.

 

Met items word waarskynlik kwessies bedoel. Swak vertaling.

 

En dan die pakkende slot:

Dit is duidelik uit die voorleggings dat daar aspekte van die Wilgenhof kultuur is wat bedoel is om heilsame uitkomste soos onafhanklike denke en kameraadskap te bevorder en wat die US moet poog om te bewaar. Terselfdertyd is die Raad duidelik daaroor dat daar geen ruimte in ’n moderne, waarde-gebaseerde Universiteit is vir onaanvaarbare en geheimsinnige praktyke (hetsy dissiplinêr of andersins) wat nie belyn is nie met die US se waardes, Visie 2040, die gees van sy Restitusiestelling, en die Suid-Afrikaanse Grondwet. Dit kan nie geduld of aanvaar word as unieke tradisies of Wilgenhof se spesifieke vorm van gemeenskapsbou nie 


IV Belyn, Omlyn en Vaartbelyn

 

Herontplooiing van huidige personeel:


• Alle huidige personeel wat in Wilgenhof werk of dit ondersteun sal na toepaslike poste binne die US herontplooi word terwyl die uiteengesette prosesse en opgraderings afgehandel word.

 

Kyk na die begrippe wat gebruik word: vernuwende, herverbeelde; nuut-geïnspireerde; sistemies; restitusiestelling; waarde-gebaseerde; psigososiale ondersteuning …

Waarde-gebaseerde asof almal se waardes dieselfde is?

 

Dankbaar word ook gebruik, ‘n uiterse gelade begrip. Soos behoorlik wat dalk ook onbehoorlik aktiveer? Want met behoorlik is daar waarskynlik eerder deeglik bedoel?

Moet ons afsluit met skriflesing en gebed? Of saam met Jacques Derrida sê: Da!



V Die allegorie van lees of die skilpoppe van interpretasie

 

Ek dink aan Judith Fetterly se bekende term "resisting reader". Fetterly skryf as 'n feministiese leser in haar studie The Resisting Reader: A Feminist Approach to American Fiction (Indiana University Press, 1978). Die verset teen slordige veralgemenings, swak vertalings én veral ‘n angstig politiek-korrekte agenda met implikasies . En ontken dat daar gerekende inwoners was in hierdie koshuis. Wat tydens die 70er jare sterk standpunt ingeneem het teen ongeregtighede.

 

Hélène Cixous, die Franse filosoof, se naam speel in op six cents (six sous); 'n woordspel uit haar kinderjare. Sy is ook digter en dramaturg. The Laugh of the Medusa (1975) en Sorties (Exits) is eweneens verpligte leesstof, nes haar studie oor James Joyce wat in 1972 verskyn het. 

 

16 September sal ‘n nasionale dag word in die geskiedenis ter viering van submissie. Voorlegging én aflegging.

 

Ja en nee. Sluiting en afsluiting.

 

Wilgers simbolies beskou, staan vir die volgende:

 

It’s a symbol of fertility and new life, a willow branch can be planted in the ground and from it, a new tree will grow in its place. Its ability to grow and survive is powerfully symbolic and show how we can thrive even in challenging conditions. (Willow Tree Symbolism | Willow Tree MeaningBesoek 21 September 2024). 

 

Laat die skilpoppe dans!

 

Joan Hambidge 

21 September 2024

Friday, September 20, 2024

Rubriek | Joan Hambidge – Mishandeling | 2024

Agatha Christie se boeke in haar huis


I

Ons leef in ‘n tyd waar die woord boelie (of boeliegedrag) ‘n modewoord geword het. Net soos die begrip narsisme. In die tagtigerjare was dit psigopaat. Woord wat ‘n afkeur verwoord van iets wat jou steur.

 

Wanneer ‘n mens dag- of naweekblaaie lees, is die onrus groot. Moord, geweld, bedrog, leuens en geen wonder die krimi-boekkultuur gedy in hierdie tye nie. Ten minste is daar meestal in hierdie soort verhaal ‘n oplossing. Die moordenaar of skuldige ry aan die pen. 


Agatha Christie. Hercule Poirot. Miss Marple. Karakters wat sy geskep het om moord te ontrafel. Dit is uitstekend verfilm en véral Death on the Nile (1978) en Evil under the sun (1982) is vele herkyke werd. 

 

In hierdie twee films vertolk Peter Ustinov die rol van Poirot. Gewigtig en soms parodies. Maar uiters bedrewe in sy soektog na die moordenaar. In Evil under the sun (met Guy Hamilton as regisseur) is dit ‘n terloopse opmerking van die verdagte wat die sleuth onderskat. Hy merk op, wanneer die werkers in die hotelletjie sing, dat indien Guiseppi Verdi nou sou geleef het, was sy naam Joe Green. Patrick Redfern se obiter dictum as Latyn-onderwyser lei tot sy ondergang. Slim vang sy baas, want Poirot begryp méér as wat hy besef.

 

En dit neem Poirot terug na ‘n ander moord in Engeland. Hy sit natuurlik met die versekeringseis in sy slaapkamer, skuifel af na die hotelletjie se portaal. Tjekkereer die intekenboek. Ons sien die aha-oomblik in sy oë.

 

En dan later kan hy alles ontbloot. Die voormalige onderwyser het ‘n vrou (sy eie) vermoor. En nou die vrou op die eiland. Sy minnares wat boonop vir sy verblyf betaal het. ‘n Gigolo en geldvraat.

 

En die vervalste juweel is in die grot gevind. Die regte een in sy pyp.

 

“Rook asseblief jou pyp,” beveel Poirot. “Jy het dit hele tyd in jou mond, maar rook dit nooit.”

 

Dan neem Poirot die pyp uit sy mond en skud die verlore juweel uit.

 

“Sometimes a cigar is just a cigar,” aldus Freud. Nie by Agatha Christie nie; elke teken het sy teiken. 

 

Altyd word die spreekwoordelike pyp gerook deur die skerpsinnige speurder, Poirot. Hy vergelyk die twee handtekeninge: die een op die versekeringseis; die een op die tjek wanneer hy betaal en met sy vrou (Jane Birkin) vertrek.

 

Paul Ruber is Patrick Redfern (vertolk deur Nicolas Clay). Die moordenaar van Alice Ruber op die North York Moors en Arlena Stuart Marshall (vertolk deur Diana Rigg).

 

 

II

 

Arlena is katterig en emosioneel aaklig. Sy verniel haar effens oorgewig en lomp stiefdogter met kwetsende opmerkings. Oor hoe sy stap en lyk. Beveel haar om bed te gaan wanneer almal partytjie hou. Die kind is eweneens bitsig teenoor Poirot en Rex Brewster.

 

Arlena en Daphne Castle (Maggie Smith) piets met woorde. Hulle was saam aktrises in New York. Arlena was die blink ster. Daphne nie. Dus jaloesie wat al die getewery voortstu.

 

“She could always kick higher … and wider …” brom Daphne.

 

En Rex Brewster (vertolk deur Roddy McDowall) is besig met ‘n ongesolisiteerde biografie oor Arlena waar hy alles gaan ontbloot. Veral haar swart verlede. En Arlena hou nie hiervan nie. 

 

Ná haar dood, kan hy voortgaan. Want soos Poirot ons waarsku: “You can’t libel the dead”.


Almal het ‘n motief. En ‘n alibi. En die vrolike Cole Porter-musiek verhul die donker ondergrond van wreedhede wat afspeel in die hotelletjie op die Adriatiese see. Bedrog rondom ‘n juweel, moord op twee vroue met Poirot wat alles uitrook …

 

III

 

Agatha Christie was nie net die meester van die speurverhaal met sterk plotgedrewe verhale nie. Sy het véral mishandeling (abuse) goed begryp.

 

Christie se verhale werk met wrede optrede as dit wat van jou weerhou word. Dít wat jy behoef het en nooit gekry het nie. Só bekyk, kan ‘n mens – veral wanneer jy na ‘n paar reekse kyk (as reeksverslaafde) - hierdie patroon begin raaksien. Met David Suchet as ‘n skitterende Poirot in die BBC-reeks.

 

Die huisbediende (verontreg), omdat sy die biologiese kind is van die sterwende huisbaas. En weens die skande van haar bestaan, weggestuur is na ‘n ander land en nou terug is. En nie gaan erf nie.

 

Of die seun wat sy moeder vermoor het en deur sy vader beskerm is en nou as student wraak neem op sy huismaats.

 

Of die vrou in die kombuis het die jong vrou vergiftig. Sy is die wraaksugtige tante wat die familie haat.

 

So volgende keer wanneer die mishandelaar of boelie ‘n skuins opmerking maak (verhul met ‘n sotlike glimlaggie), probeer verstaan waarom hy of sy dit doen. Back to the scene of the crime, by wyse van spreke.

 

Maar veral: moenie wys dit raak jou nie.

 

Die vreugde vir die boelie is opgesluit in jou reaksie. Juis omdat boelie terugkeer (onbewustelik) na eie letsels en dit dan op jou uithaal. Uit jaloesie, vrees of sommer net vir die plesier daarvan.

 

Wetend of onwetend? Bedoeld of onbedoeld? 

 

Woorde is ook wapens, het Hennie Aucamp. 

 

Of eerder saamsing met Arlena en Daphne se vertolking van Cole Porter se: You’re top!”


You‘re the top!
You‘re the Colosseum
You‘re the top!
You‘re the Louvre Museum
You‘re a melody from a symphony by Strauss
You‘re a Bendel bonnet
A Shakespeare
s sonnet

You‘re Mickey Mouse
You‘re the Nile
You‘re the Tower of Pisa
You‘re the smile on the Mona Lisa
I
m a worthless check, a total wreck, a flop

But if, baby, Im the bottom, you‘re the top  …


En weet dat Daphne later vir Arlena terugkry wanneer sy haar man vertel dat Daphne vir die gigolo betaal het vir sy verblyf.


Altyd in mishandeling (in al sy gedaantes) een wat bo is een wat ondergesit word.


Joan Hambidge

1 September 2024

 

Thursday, September 12, 2024

Resensie | Willemien du Preez – Plaas se prys | Protea, 2022

Willemien du Preez - Plaas se prys. Protea, 2022. ISBN 9781485313694, R320.00 

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie boek het reeds in 2022 verskyn, maar sopas op my lessenaar beland. Te midde van soveel plaasromans geskryf deur mans, en ‘n mens dink nou onwilekeurig aan die Die Onsigbare van PJO Jonker wat by Tafelberg verskyn het, is Plaas se prys nie ‘n konvensionele roman nie. Eerder ‘n vroulike aanvulling as memoir.

 

Dii is dan ‘n soort dagboek van ‘n vrou wat die anderkant (donkerkant) van die idille beleef. Daardie ideale ruimte waarna gestreef word en gaan kyk maar na die sinonieme wat hierdie woord het:


• arkadies

• herderlik

• ideaal

• landelik

• ongerep

• onskuldig

• pastoraal

• poëties

• romanties

• rustig

• skilderagtig

• vredig

 

(Besoek 8 September 2024)

 

Die harde werklikheid tref die verteller en haar eggenoot, Liefie. Pas is die koopkontrak geteken of die ellende tref hulle. Van ‘n eiendomsagent wat hulle nie die volle waarheid vertel het nie tot stof wat oor alles draal. Werkers wat die huis moet renoveer (en allemintige kortpaaie neem) tot die dorp wat hulle as “inkommers” beskou.

 

Die leser sien alles voor die oog afspeel. Die werkers se swaar, droewige bestaan. Beskuldigings van diefstal uit die huis, wat ‘n vergissing blyk te wees tot werklike diefstal. Vriende wat onttrek en belangstelling verloor tot kinders wat raadop raak.

 

Die boek raak aan die ewige stryde in hierdie land: ras, klas en gender. En skuld.

 

Van gesondwees tot ‘n stent in die hart.

 

Die hele kwessie van die inkommer is tersaaklik, omdat inkommers altyd die bestaande orde versteur.

 

Of die gemeenskap wat reeds daar is, dwing om hul lewens weer te beskou weens die aanwesigheid van die nuwelinge.


Twee wêrelde beleef ons hier: dit wat hulle graag sou wou beleef en die harde werklikheid van ellendes. Werkers wat wil weet of hulle casual of permanent is. Die stof wat asma tot gevolg het en die hond wat koerantpapier met uitskot vreet. Liefie wat later uit sy gatsak boer en die verteller wat dink: Umsonst.

 

M.E.R. se waarnemings van Swellendam indertyd met die ryk grond wat groente en vrugte gebaar het, teenoor hierdie ruimte.  En arm mense kon eet en lewe in die indertydse Swellendam (141).

 

Ons lees oor dopluise en bolwurms. En blaaspootjie. Met die verhaal wat die verteller oorrompel (135). Deur alles neer- en op te skryf, besef sy hoe erg alles is.

 

Daar is verwysings na Monet en Colette, die Bybel en Halleluja-liedere. En Chess.

 

Van die sterkste beskrywings is oor die ellende soos wanneer die vloedwater hulle tref met ‘n dooie bees in die koringland (132).

 

Uitskotnartjies teenoor vrugte wat uitgevoer word. Die werkers wat leef met min, maar teenstand gelate aanvaar en van voor af begin.

 

Die begraafplaas wat eweneens klasseverskille aandui: nederige houtkruise met die name van die dooies met die hand geskryf. Hierteenoor ‘n Murano-glasbakkie op haar koffietafel.

 

Daar is verwysings na Mandela en politieke kommentaar. Ook daardie droom van heling en genesing en aanvaarding is tans net ‘n illusie, vér in die verskiet.

 

Ons is ons stories. Die stories wat ons vertel en die stories wat ander oor ons vertel. En hoe imkommers deel word van die gemeenskap se stories, word belig.

 

Blokkiesraaisels word ingevul. RSG en Die Burger is hier.

 

Dit lees vlot en is helder en eerlik vertel. Met ‘n motto van Sigrid Undset, veral bekend vir Kristin Lavransdatter. Undset (1882 – 1949), gebore in Denemarke, het grootgeword in Noorweë en is bekend as ‘n Noorweegse skrywer, het die Nobelprys vir letterkunde in 1928 verower. Die roman bekyk alles uit die perspektief van ‘n vrou in 3 volumes.  Sy moes ook vlug uit haar land na die VSA weens die Nazi-besetting.

 

So lui die motto:

Feelings of longing seemed to burst from her heart; they ran in all directions, like streams of blood, seeking out paths to all the places in the wide landscape where she had lived, to all her sons roaming through the world, to all her dead lying under the earth.

Die tydsaanduiding in hierdie teks maak hiervan ‘n joernaal of dagboek.

 

Dit is soos Lanie van Reenen se Net Mooi Fine (Penguin 2019) en C'est la Vie wat in 2013 by Tafelberg verskyn het, ‘n memoir.

 

Die leser word in ‘n intieme vertelling ingenooi. Deur die oog van vroue met ‘n skerp waarnemingsvermoë. En sonder skroom die mes inlê.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

 

Tuesday, September 3, 2024

Resensie | PJO Jonker - Die Onsigbare | Tafelberg, 2024

PJO Jonker - Die Onsigbare. Tafelberg, 2024. ISBN: 9780624095422 

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Hierdie bewonderenswaardige én pakkende debuut van PJO Jonker heet Die Onsigbare. Dit tree in gesprek met die plaasroman wat ‘n lang tradisie in Afrikaans beleef het. Van Bart Nel deur J. van Melle in 1936 tot huidige skrywers wat die plaas as ‘n nuwe ruimte besoek. Eben Venter en S.J. Naudé onder meer.

 

Die spinkaanplaag aktiveer eweneens Die spinkaan beampte van Sluis deur Jochem van Bruggen in 1933.

 

Hierdie roman trek ‘n streep deur die idilliese plaasbestaan. Daar is geweld en troosteloosheid. Verraad. Aanvanklike begrip tussen boere en werkers wat later verloeder. Dit is die verhaal van ene Jada, spraakstramme, wat op die plaas woon: Erfdeel. Sy ouers is oorlede en die bruin Anys is sy bondgenoot. Deur haar kry hy ‘n blik op ‘n lewe wat met stryd gepaardgaan.

 

Die besoek aan die stad (ironies genoeg wanneer hy as boer van die jaar ‘n lesing moet lewer), keer sy bestaan ónderstebo wanneer hy slaags raak met ‘n meisie-van-die-nag, wat hy later probeer red. Sy soektog terug na die stad loop op niks goeds af nie. Sy motor word gesteel en hy staan in die beskuldigdebank.

 

‘n Mens hoor en ruik die stad en plaaslewe wat opklink soos in Totius se beroemde Trekkerswee (1916) waar die vader die dogter probeer terugvind. Die vele Bybelse verwysings laai die verhaal met simboliek. ‘n Bybelse verwysing na Jesaja 49:15 help die hoofkarakter soek na die verlore en geskonde vrou.

 

Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, ek sal jou nie vergeet nie.

 

II

Die verteller laat ons die plaas sien én veral: beleef. Dit is kennelik geskryf deur iemand met ‘n eerstehandse ervaring van hoe ‘n plaas se werkinge daar uitsien.

 

Maar dis meer as ‘n plaasroman wat afspeel in die Karoo. Dit is geskryf en verpak met vele simbole (soos die wildekat en jakkalse). Die siellose bestaan van werkers geplaas teenoor die inkommer, ‘n jong dominee, deur die gemeenskap met agterdog bejeën teenoor ‘n bankbestuurder en die media wat jag maak op Jada. 

 

Dit is ‘n roman met vele Jungiaanse verwysings.

 

Jada Olivier, van die Karooplaas Erfdeel, maak die plaashek oop van sy onbewuste en word gekonfronteer met sy eie skadukant.

 

Die roman begin met Jada wat droom hy val en eindig met ‘n soort hallusinasie dat hy haar, die verlore vrou, weer sien. Die roman ondersoek verder stilte: Die Groot Afwesigheid, soos die plaasmense in die Karoo dit noem. Maar dit word ‘n simbool van die onsigbare én die ewige soeke na metafisika; na dit wat sin maak. Hierom dan die vele Bybelse verwysings.

 

Daar is verskeie sleutels in die roman wat die leser daarop attent maak dat ons hier te make het met ‘n onbetroubare karakter, ‘n outsider; een wat sy houvas op die werklikheid verloor het. ‘n Liminale proses word weergegee: tussen die harde werklikheid en drome. Daar is ook politieke kommentaar (soos die stryd teen die kommunisme, die Kubane en sonde) teenoor die gebaande weë van treine en die soektog na sin en samehang. Die hoofkarakter self is bekommerd oor sy septiese siel en gee hom oor aan fantasieë en drome. Die nuwe dominee is ‘n teenspeler en is selfversekerd. Hierteenoor ervaar ons die bruinmense se sosiale ongeregtigheid wat tot uiting kom by hul kerkdienste. Drank en verkragting kom aan bod op sowel die plaas as in die stad.

 

Bossieplaas word aangekoop, danksy ‘n goeie wolinkomste en uit Duiwelskamp neem die hoofkarakter mense in diens. Hier ervaar die leser al die ellendes van ‘n uitsiglose bestaan. Hulle leef buitekant die dorp.

 

Boereverenigings en die Jongboer van die Jaar-kompetisie is verdere sosiale merkers.

 

Struise verander in huise en die Born Free Medicinal Herbs gee agentskap aan die werkers.


Rooikatte en jakkalse word simbole van bedreiging. En die jakkalse aktiveer die Bybel.

 

En dan: die werklike verandering of wending wanneer Jada die stad besoek en Lydia ontmoet. Met ‘n droom op bladsy 140, wat net onheil voorspel. Met verwysings later na Wolraad Woltemade en Petrus. Die simbole-netwerk word behendig en ragfyn hanteer. Anys versoek dat haar hemelloon nie weggevat moet word nie (185) en tussendeur is daar bekende liedere oor die Jesus-figuur:

 

Hou maar moed

As die duiwel woed

Daar’s krag in Jesus bloed

En die duiwel weet dit goed 

(184)

 

Daar is verwysings na die lydensweg en die kruisiging; na Abraham, na Habakuk én die bloedspoor van werklike jag en die bloedspoor van Jesus.

 

Tyd in die roman word eweneens goed gestruktureer. Anys dra nie ‘n horlosie nie, maar sy weet présies hoe laat dit is. 

 

Met elke herlees besef die leser dat die tyd van die onbewuste sy eie merkers het en telkemale na vore kom op tye wat verbind is aan traumatiese ervarings in die verlede.

 

Daar is weerverslae, lyste vir die veiling van die plaas wanneer Jada se skuld te groot raak. Sy onderhandelinge met die Sjinese was helaas ‘n bedrogspul. Die skrywer se vermoë om gedistansieerd en bykans digterlik te skryf, verdien vermelding.

 

Van die sterkste beskrywings in hierdie roman handel oor die “nomads van die nights” én die ellendes wat Jada in die stad meemaak: diefstal en aanklagte. En ‘n besoek aan ‘n lykshuis was vir hierdie leser ongelooflik ontstellend. 

 

Die glasstukkies op die teer is ‘n beeld van sy beheer wat weg is. Met die gemeenskap wat alles in die pers verneem en ‘n oordeel uitspreek.

 

Die waarheid sny soos ‘n slagmes twee kante toe, lees ons. Dieselfde geld hierdie roman: plaasroman, maar ook ‘n verslag van ‘n pynlike reis ín die self ín. 

 

Die reis na Hong Kong tot in Shenzen waar hy Zhang Yin hom sal ontmoet, word beeldend beskryf. (Dus word die boek ‘n soort reisroman ook.)

 

Ons sien gedeeltes uit ‘n dagboek (geskryf met ‘n potlood) teenoor ‘n kontrak geteken met ‘n Mont Blanc-pen. Dan helaas die harde werklikheid van die prokureur: die geld is nie inbetaal nie.

 

III

Ten slotte:

 

Vir hierdie leser is hierdie boek véral ‘n Jungiaanse peregrinasieroman met die individuasie van die hoofkarakter. (Jada in die Hebreeus beteken wys.)

 

“Hy plant die kiepersolwortel langs die veepos. In geloof. Vaste vertroue op dit wat ons hoop. Bewys van dinge wat ons nie sien nie.” (301)

 

Hierdie boek moet elke leser, wat in hierdie land woon en nadink oor grondbesit, erfreg en ongeregtigheid, beslis lees. Dis meesleurend en ontstellend.  Dalk ‘n siniese antwoord op Boer soek ‘n vrou?

 

Daar is een taaipou wat met die volgende uitgawe reggestel kan word: bie in plaas van baie (343).

 

Die nuwe stem bekoor. Dis vars. Dis nuut. Komplekse idees wat konkreet verbeeld word.


Met ‘n sterk hand geskryf.


PJO Jonker © Jaco Marais

Monday, September 2, 2024

Resensie | Kostis Palamas – Die ses woorde van die Sigeuner (vertaal deur Louise Cilliers) | Naledi, 2024



Kostis Palamas – Die ses woorde van die Sigeuner (vertaal deur Louise Cilliers), Naledi, 2024. Sagteband, 123 pp, R260. ISBN 978-1-991256-88-1

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Louise Cilliers se voortreflike vertaling van Ithaka in 2023 is wyd geloof. Hierdie werk van Konstantinos P. Kavafis heet Van Alexandrië na Ithaka.

 

Haar jongste vertaling is Die ses woorde van die Sigeuner deur Kostis Palamas (1859 – 1943). Palamas is tweekeer benoem vir die Nobelprys vir letterkunde. Palamas moes ook die ellende van die Duitse besetting van Griekeland tydens die Tweede Wêreldoorlog beleef. Hy is verder benoem as ‘n Griekse Nasionale digter. In sy werk vind ons verwysings na die geskiedenis, Hellenisme, en die ervarings van alledaagse mense.

 

Palamas is ‘n moderne Griekse digter wat dig oor die wedervaringe van die Sigeuners buite die mure van Konstantinopel vóór die val in 1453. ‘n Spreker word aan die woord gestel waarin die liriese, epiese en die visionêre aspekte één word.  Hier word die sogenaamde gypsies se lewens weergegee.

 

II

Hierdie leser is nie Grieks magtig nie, maar ek het na die Engelse vertalings gekyk om haar vertaalproses te probeer begryp.

 

Cilliers se vertalings wérk in Afrikaans. (‘n Swak vertaling kan jy soos ‘n home perm herken.)

“in die somber skemer van die sipresse” is daar alliterasie. Hierdie vertaler is uiters klankgevoelig.

 

Daar is vele juwele wat hierdie leser aangestip het:

die roosknop is ‘n orakel,

die sipresboom ‘n Sibille! (111)

 

*

 

Die son sak,

die son wat met skitterende baan elke kus belig het,

is aan die verdwyn.

Jy gaan onder, O son,

vir jou sal geen nuwe dag meer aanbreek nie. (91)

 

III

Daar is ook gedigte opgeneem van hedendaagse sigeuners in die addendum. Die gedigte van Raine Geoghegan is hartverskeurend oor die ellendes van hul bestaan. Wat inspeel op die bestaan van alle haweloses en migrante op aarde:

 

Ons sal tee of whisky drink, van die ou liedjies sing.

Die volgende dag word die wa en besittings verbrand.  (122)

 

Die onstabiliteit van taal (en plundering van woorde) word eweneens ondersoek.

 

Musiek is hul enigste taal.

 

Gaan kyk gerus op die Versindaba na Luan Staphorst se vertaling van Olga Kirsch se “Nevertheless” wat hy puik vertaal as “Nietemin”, ‘n lang epiese vers wat aan uitgewekenes eweneens ‘n stem gee.

 

In hierdie boek is daar ‘n handige bronnelys soos Frederic Will se vertaling van Palamas wat in 1964 verskyn het.  Die voetnote is op sigself insigryk vir die leser soos presies wat Hellenisme beteken. ‘n Idealisering van die Griekse beskawing, o.a. Griekse vuur was ‘n vlam-werpende wapen wat veral tydens seegevegte gebruik is. Die voetnote is uiters verhelderend.

 

‘n Loflike, fantastiese boek, nogmaals uit die hand van ‘n bekroonde vertaler, wat op alle vlakke jou lewe verryk.

 

Tereg het sy indertyd die vertaalprys saam met E.L. de Kock ontvang het vir die vertaling van Aristoteles se Poëtika.

 

In Lawrence Venuti se terme het sy Kostis Palamas huis toe gebring.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot aan die Universiteit van Kaapstad.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)