Joanne Harris. Chocolat.
Black Swan, 2000. ISBN 0 552 99848 6.
Resensent: Joan
Hambidge
Het jy al Chocolat gelees? vra 'n bekende uitgewer
my nou die aand. Dis lekker, veral as jy van sjokolade hou! Chocolat is egter meer as dit. Dit is 'n
vlymskerp analise van 'n gemeenskap se (voor)oordele, bewaring van waardes en
reaksies op 'n vreemde indringer. Die storie lui soos volg: Vianne Rocher, 'n
kenner van die Tarot en 'n reisende persoon, land met haar dogtertjie in die
Franse dorpie Lansquenet. Sy begin 'n sjokolade boetiek (soos in 'n
biltongboetiek wat 'n mens altyd op ons platteland aantref) regvoor die kerk.
Vader Reynaud vind dit
'n bedorwe situasie, veral as sy boonop op Sondae begin handel dryf. Ook
lewer die roman lekker kommentaar op die gemeenskap se doen en late. Die hele
roman word rondom Lent (Vastyd) gesitueer en het verwysings na “Shrove Tuesday”
en “Ash Wednesday”.
Konvensionele geloof word teen die Tarot geplaas. Dit
word egter alles so spaars gedoen dat dit nooit die storie te swaar laat word
nie. Die hoofkarakter lees Jung en Hesse en sy weet dat die Tarot ons eintlik
vertel wat ons alreeds weet. Elke gemeenskap funksioneer op dieselfde
argetipes: die vrees vir verlies (die kaart van die Dood); die vrees vir buite
wees (die Toringkaart) en die vrees vir verandering (die koetskaart).
Daar is ook hope humor hier te lese. En wysheid.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]