Ingrid Winterbach - Onrus op Steynshoop. Human & Rousseau, 2024. Sagteband, R 350, 296 bladsye. ISBN 9780798184724
Resensent: Joan Hambidge
I
So word Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach roman bemark:
Die teenwoordigheid van die Chinese in Steynshoop het die dorp die afgelope paar jaar ingrypend verander.
Benna Potgieter, wonderkind in sy prille jeug, is sedert sy pa se dood 'n haarkapper in sy ma se salon. Sy lewe neem 'n drastiese wending wanneer die skilder Fonny, sy groot verlore liefde, onverwags na die dorp terugkeer. Ook Jonah Voorsanger, met sy af-toon en sy intellectual poster boy-voorkoms, maak weer uit die bloute sy raaiselagtige opwagting.
Benna se kuier by sy vriend Sarel in Ladybrand sorg vir nog 'n onaangename verrassing, en die onverwagse besoek van sy broer, Petie - vol spyt en bitter verwyte - is genoeg om Benna lelik van stryk te bring.
Sy vriendskap met Chaoxing Yang bring Benna weer terug tot sy ander groot liefde, comics.
Snaaks, droewig, wrang en oneerbiedig - 'n opwindende nuwe roman in ware Winterbach-trant.
II
Winterbach se aweregse humor en die samesnoering van oënskynlik teenstrydige elemente is haar kenteken. Disparate elemente soos ‘n Afrikaanse dorpie waar Chinese die oorhand het, boerename, die gebruik van ou woorde met ‘n vertellerstem, wat tussen parenteses die ironie van alles beklemtoon, is hier van die belangrikste temas én tegnieke van die roman.
Die leser lag en word terselfdertyd bewus van ‘n kil blik op ‘n vreemde en terselfdertyd bekende samelewing. Die ouer garde wat rassistiese, oftewel pejoratiewe terme gebruik, teenoor die jongeres wat wil wegvlug uit verdrukkende ellendes.
Die werklike skrywer gee vir die leser sleutels na bekende skilderye en selfs na Jacques Lacan. Jonah was te jonk om by Lacan te kon aanklop as vertroueling en doodsbegeleier (99). Was hy ‘n doodsdoulah of nie?
Uiteraard tersaaklik: hoe leuens en verdigsels die onderbou is van die teks.
Hierdie komplekse en aangrypende roman beweeg in ‘n sirkelgang. ‘n Mens kan die roman “oopmaak” op verskillende plekke soos vir hierdie leser. ‘n Soort story board skryf. (Onder die invloed van Hitchcock en Francis Ford Coppola wat verduidelik hoe hy die Godfather-reeks gemaak het na aanleiding van Mario Puzo se roman. Met asteriske waar hy wil verfilm.)
1 ‘n Toon wat verloor is in die dismemberment-ritueel aktiveer die objet petit a ('n konsep wat volgens Lacan onvertaalbaar is) kan as volg geïnterpreteer word: die a verwys na die Autre (Ander); die petit a (klein a) differensieer die objek van die groot A. Dit is vir Lacan 'n algebraïese teken.
Le semblable ("counterpart") verwys na die ego se soeke na identiteit buite sigself. In die sogenaamde spieëlfase word hierdie aspek geartikuleer. Désir (begeerte) verwys na méér as begeerte of wensvervulling. Dit is vir Lacan eerder die krag wat alles beheer en reguleer. Oor Jacques Lacan het ek uitgebreid geskryf in my studie oor gender.
(Hambidge, 2000: 214 – 217).
‘n Lacaniaanse lesing sou ‘n leser ver neem in hierdie roman: die wet van die Vader (375) en gedurigdeur die kwessie van die patriargie (262). (Vaders wat vermoor is, soos Fonny se pa.)
Benna lees eweneens ‘n biografie oor Lacan.
Benna werk in sy ma se salon. Daardie ruimte van bavardier (tjettereer) en empty speech in Lacan se terme.
Hier is dan parlêtres (pratende objekte) wat telkemale op ‘n eie missie is. Alles word tussen karakters netjies verbind.
2 die hele kwessie van hemel, hel en verlossing loop regdeur die roman. Met ‘n kruid (dwelm) wat bliss teweegbring. Lacan se jouissance wat sowel pyn as plesier aktiveer.
3 Daar is raspejoratiewe in karakters se mond wat die teks outentiek maak: dis hoe mense in daardie wêreld praat (en dink).
4 Die landskap wissel tussen Steynshoop (ironies want hier is geen hoop nie), met die loci wat verskuif na Stellenbosch, Bethuli, Ladybrand, Musina, Ficksburg, Clocolan …
5 Dostojefski teenoor Amy Winehouse. Yolandi Visser teenoor die Generaal Piet Joubert-gastehuis.
Behalwe Lacan, lees Benna ook Foucault, Baudrillard, Nietzsche, Levinas …
Soekie verwys o.a. ook na Žižek …
Die skrywer Bolaňo wat te ingewikkeld is vir sy comic strips.
Benna en Sarel kyk na Béla Tarr, die meester van die stadige en werklike verbeelding in films, se The Turin Horse.
Vlermuise versus bloeiende neuse. Regste en verbeelde reise.
Die mandorla of lig wat om die heiliges hang soos in Christusbeelde maar ook in Boeddhistiese kuns.
6 Die verhaal vertel veral die stryd tussen broers (een dood, een dolend) met Benna wat in sy ma se haarkapper werk. Die skilder Fonny, wat vir verskillende wendinge sorg, is die een aan wie hy sy hart ophang. Sy verhouding met sy moeder en sy wederstrewige broer Petie, word uitstekend beskryf nes die verlies aan die vader en die jong gestorwe broertjie. (En Hantie wat Sarel probeer normaliseer.)
Is dit waar dat trauma ‘n mens se genetiese samestelling verander?
Maar dit is veral die verhouding met Jonah Voorsanger, met sy af toon, wat vir ‘n verdere motoriese moment in die roman sorg. (Insiggewend is sy totemdier!)
En Marietjie se toetredes. Belangrike swart rolspelers soos Tebatso wat verduidelik hoe die Chinese “inkom”. Mevrou Gigaba ‘n trofeevrou. Of die arme Odelia.
Die man met die bioniese hand en uiteindelik in ‘n sampioenbegrafnispak (in die saprofitiese onderwêreld) en sy impak op sowel Fonny as Benna (294).
Hoe versuurde vriendskappe nooit hul impak verloor nie, word hier ondersoek. Net soos die dooies weens ons skuld of aandadigheid aan hul besluite, steeds ‘n impak het op besluite.
7 Naamgewing is belangrik in hierdie roman: Benna (Benjamin), Petie (Petrus) wat o.a. die Bybel aktiveer (Die boek Elia is hier, 256) teenoor die tarot en verskeie Oosterse sisteme (soos die I Ching) wat die leser weer na ‘n Jungiaanse lesing van die teks kon neem. Ook Jonah wat ons ken as Jona in die walvis, die seun uit Amittai.
Harold Bloom het hierdie Bybelboek as sy gunsteling uitgesonder:
https://www.nybooks.com/online/2011/07/28/harold-bloom-jonah-my-favorite-book-bible/
Besoek 17 Julie 2024
Jung se alchemistiese studies is hier tersaaklik. (Met die markplein hier as ‘n soort mandala?)
In die hoofstuk "The Philosopher's Stone In Alchemy: The Androgyne Imprisoned in Matter" verwys June Singer veral na Jung se alchemistiese studies. Die alchemisme bring 'n versoening tussen die spirituele en die materiële, dit wil sê, 'n versoening van die moontlike en onmoontlike. Gnostisisme is die mater alchimica.
Die nous (spirituele) het afgekom in die vorm van 'n duif of slang en word opgevang in die physis (Singer, 1977: 136).
Want die lewe is net ‘n illusie, ‘n Boeddhistiese siening is ‘n helder ontdekking (265).
Die tarot word eweneens goed ingebed. Daar is ‘n casino in die dorp (die dobbelwiel in die tarot) en in die minor arcana swaarde.
Die sogenaamde minor arcana behels: Swaarde (of die ekwivalent van die sogenaamde Skoppensboer in 'n speelpak); Munte(Diamante); Stokke (klawers) en Koppies (Harte).
8 Humor en ‘n sin vir die absurde vier hoogty. Chakalaka den, Die Mielieblaar, en wait for it: Boerebonders. Die stadsruimte heet die Skwêr! Prullaria …
Wat oor vroue wat hulle hare kleur opgemerk word, is eweneens skreeusnaaks.
Die funksie van kuns word gedekonstrueer in waarskynlik een van die snaaksste passasies nog gelees in ‘n Afrikaanse roman wanneer ekskrement in can-fruit-bottels omgebliksem word. En die reuk, nie die polisie nie, veroorsaak dat alles tot stilstand kom tussen die Hells Angels en kunstenaars (221 - 220). Ek wil nie die leeservaring vir die leser bederf nie, maar dit is waarskynlik een van die sterkste oomblik in die roman wat
kunspretensie uitmekaar uit bliksem.
9 Alles natuurlik gekomplementeer deur die die obsessie met komiekstrips. Manga. En Bitterkomix.
En komiekstrips word hier weergegee van die kind wat eers “onskuldige” komieks soos Archie en Popeye lees en dan tekste met sterk sosiale kommentaar. Te veel om hier op te noem, o.a. Pat Aulisio se Survive 30 Million:
https://retrofit.storenvy.com/collections/29642-all-products/products/24567888-survive-300-million-1-by-pat-aulisio 17 Julie 2024
Ai Weiwei is ook hier.
In 2009 het Shathley Abrahams ‘n doktorale studie voltooi oor komiekstrips by UCT: Older than language.
Met verdere toespelings op die Baiyue en hul betekenis. Etniese groepe in die Suide van China en Noordelike Viëtnam. Een eeu voor Christus en een Eeu na Christus. Veral hul tattoes en swaarde is relevant vir hierdie teks.
https://en.wikipedia.org/wiki/Baiyue 17 Julie 2024
Benna is immers bevriend met Chaoxing (‘n naam wat Expecting Fortune beteken) en sy verhouding met sy vader word ‘n navrante spieël van afwesige vaders in alle kulture. En daar is Sarel, die wiskunde whizz-kid, Benna se skoolmaat in Ficksburg (en sy latere waansin) teenoor ene Gertruida, die kenner van die I-Ching. En navorsing oor die Brakpan Strangler.
Die Spirituele reis van Katerina de Sanguin na Tibet …
Heiliges en hoere. Dieresimbole soos in Suid-Amerika word eweneens geaktiveer. In Peru, byvoorbeeld is slange en voëls heilige simbole in antieke tye. Ook die Vicuňa aldaar as simbool.
Totemdiere. Sjamane. Ayahuasca-seremonies.
Die betekenis van kos. Soos die sojaboonwrongel.
‘n Insigryke beskrywing van Mao.
En die betekenis van Chinese kuns( 283): o.a. met die landskap van emosie en die veelvuldigheid van die wêreld.
10 Die roman lewer sterk sosiale en politieke kommentaar met die inkommers, die Chinese wat ‘n hele dorp se infrastruktuur verander. Dit veroorsaak uiteraard spanning tussen die Chinese en swart inwoners. Die konflik tussen Oosterse en Westerse kulture word verder gekompliseer met verwysings na swart kulture.
Die sogenaamde “baasskap” van ‘n dorp word op sy kop gekeer met ‘n duidelike aansluiting by die ervaring van hoe alles tans in beweging of flux is, hier en elders.
Ons siele is dalk ingeplug in die media? (77)
Dieselfde geld die leesstrategie vir en tot hierdie roman. Nes jy dink jy het die sleutel gevind, dan word die mat onder jou uitgeruk.
11 Dalk alles te make met die vertellende instansie wat tussen parenteses kommentaar lewer op karakters se denke en optredes.
In Drie-en-vyftig word die ouktoriale verteller Jy.
Is dit die verteller wat intree en beheer erken van alles wat gebeur?
Soos in ‘n droom wat beskryf word. (Een-en-vyftig).
12 En dan die verskillende taalregisters verdien eweneens vermelding. Van Standaard-Afrikaans tot komiektaal wat spaars is. Selfs intermittante kekkels (35) in ‘n filosofiese bydrae: “Die kritikale snieker”.
Van blote storievertel tot lesings o.a. oor Lucian Freud en Francis Bacon. Die ekologie van magsverhoudings, lees ons.
13 En die fungus as metafoor? O.a. Ophio-cordyceps-fungus wat ‘n hele mierkolonie kan laat intuimel, is hier uiters relevant: die sogenaamde zombiemierfungus (288).
Hierdie insekte wat met hierdie fungi besmet is, word as begraafplase tipeer.
Wat ons dan terugneem na die teoretikus J. Hillis Miller se seminale teks “The Critic as Host” in Deconstruction & Criticism.
En hier is ‘n toepassing op J.M. Coetzee vanuit hierdie hoek:
https://manifold.umn.edu/read/cc-frame-007-essay-01/section/e724b462-90a8-42cd-9195-0d6cf26131cd Besoek 14 Julie 2024
Ten slotte:
Vir my is die blik (die oog) in hierdie teks relevant.
Die Lacanian 'gaze', die blik, die oog, kan verder as uitgangspunt geneem word, omdat dit meesterskap / beheersing / oorwinning insluit met verskillende karakters wat buikspreek vir die verteller wat juis hierdie oorheersing dekonstrueer of bevraagteken.
Dis ‘n fassinerende roman wat verskillende disparate modi saamplaas en telkemale die leser verbyster met ‘n nuwe aanslag. Die vrae oor die verteller word “opgelos” in die slot: Benna werk aan ‘n roman in sy swart A-4 hardebandboek.
‘n Roman wat soveel wêrelde saamsnoer en oopbreek. Veral die landskap van die psige word besonder kompleks verbeeld.
Joan Hambidge
Julie 2024
Bronne:
Abrahams, Shatley. 2009. Older than language: comics as philosophical praxis and heuristic for philosophical canon. UCT, PhD. (Studieleier Joan Hambidge).
Hambidge, Joan. 2000. Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. UCT, PhD. (Studieleier H.J. Snyman).
Hillis, Miller J. 1980. Deconstruction & Criticism. Londen: Routledge.
Lacan, Jacques. 1966/1977. Écrits. Londen: Tavistock. Vertaal deur Alan Sheridan.
1973/1977. The four fundamental concepts of psycho-analysis. Londen: Penguin. Vertaal deur Alan Sheridan.
Leader, Darian. 1996. Why do women write more letters than they post? Londen: Faber and Faber.
Singer, June. 1977. Androgyny - towards a new theory of sexuality. Londen: Routledge & Kegan Paul.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FMR)