Dante Alighieri. Purgatorium.
(Afrikaanse vertaling en kommentaar deur Delamaine du Toit). 1988. ISBN 0 620 22459 1.
Resensent: Joan
Hambidge
Vir sy monnikewerk, 'n vertaling van die Inferno, het Delamaine du Toit tereg die
Akademie-prys in 1993 vir Vertaalde Werk ontvang. Nou verskyn die tweede
gedeelte (met kommentaar), te wete die Purgatorium.
'n Mens kan dit as 'n aanklag beskou teen ons
uitgewershuise dat die outeur sélf hierdie boeke moes publiseer, maar
godesydank, is dit vir die leser van klassieke tekste beskikbaar!
'n Mens kan geen letterkunde sonder sy klassieke beskou
nie. Anders is 'n mens soos 'n lobotomie-lyer en selfs in vertaling is 'n
kennis van 'n belangrike werk onmisbaar vir die leser. As jong student het ek
die Penguin-edisies (oorspronklik 1955) van Dorothy L. Sayers verslind.
Nou kerm kenners dikwels oor vertalings. Maar: as dit
nie vir D.M. Thomas was nie kon ons nie belangrike Russiese digters ken nie en
Uys Krige het die Suid-Amerikaanse en Spaanse landskap vir ons oopgemaak met sy
besonderse rendisies. Nou is daar kenners wat mor sy Lorca is te stroef en
groot Russiese literatore het ookal vir Thomas gestriem. Tog is Uys Krige se
vertalings nou onlangs in Time
vermeld as 'n voorbeeld van hoe ver Lorca al oor hierdie planeet gereis het.
Vertalings is verraaiers, is die refrein wat mense tot
vervelens toe aanhaal. Nee, vertalings is paspoorte tot 'n vreemde taal en
kultuur en binne hierdie konteks moet 'n mens altyd die werk evalueer.
Nou weet ons dat Ms. Sayers 'n digter in eie reg was (sy
het twee digbundels gepubliseer en ook die Rolandslied
vertaal). Du Toit pretendeer nie om digter te wees nie, eerder kultuur-imbongi.
Nou is dit ook algemeen bekend dat Dante die terza rima
vernuftig kon hanteer. so begin die Purgatorium:
Wanneer die spel met dobbelstene tot 'n einde kom,
bly hy wat verloor hartseer agter,
herhaal sy gooie en leer droefgeestig sy les.
In die Italiaans:
Quando si parte il gioco de la zara,
colui che perde si riman dolente,
repetendo le volte, e tristo impara;
In die tweede strofe gaan Dante natuurlik verder,
wanneer 'dolente' rym met 'gente' en 'mente'.
Du Toit se vertaling mis dus die kompakte poëtika van
Dante. Sy tweede strofe lees prosaïes:
Met die ander gaan al die mense weg;
een loop voor, 'n ander trek hom van agter,
en die een aan sy sy vra dat hy hom moet onthou. (p. 99)
Kyk ook na # 37:
want die hoogste geregtigheid word nie geskaad
omdat die vuur van liefde in een oomblik
die skuld kan vrykoop van hulle wat hier vertoef nie.
(p. 101)
Dikwels voel 'n mens: die idee is daar, maar die korset
moet stywer getrek word.
Die wins van hierdie vertaling is wel dat dit Afrikaanse
lesers nou die geleentheid gee om die storie in Afrikaans te volg. Dit is
jammer dat moderne lesers nie meer klassieke tekste lees nie, en, dit is nog
méér ontstellend dat Italiaans al hoe minder aandag trek aan Suid-Afrikaanse
universiteite, gegee die ryk skat van Italiaanse tekste.
Terwyl ek hierdie resensie skryf, het ek weer gekyk na
Mevrou Rosa Nepgen, weduwee van die digter W.E.G. Louw se vertaling van Eugenio
Montale se Die geel van suurlemoene skyn
(Tafelberg Uitgewers, 1979). Haar uitmuntende verdigtings mag nooit vergeet
word nie, net soos Uys Krige se Spaanse
dans (Perskor, 1991) jaarliks op my voorgeskrewe lys staan om studente
bewus te maak van die belangrike landskap van die Mediterreense poësie.
Maar dit is Dante wat die basis bly van ons sieninge en
projeksies van die hiernamaals èn die digkuns.
Die boeke is 'n bonus: vertaling plus kommentaar.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]