G.A. Watermeyer (e.a.). In Kringe. ’n Verhaal in drie stemme. J.P. van der Walt, 1999. ISBN
0799326852.
Resensent: Joan Hambidge
In 1956 verskyn G.A. Watermeyer se enigste novelle onder
sy eie naam: Waar die vuurpyle vlam.
Dit het indertyd in die tydskrif Die lewe
verskyn.
Die verhaal is oerbekend: 'n man (Douw) verdink sy vrou
(Myrna) van huweliksontrou met Jacques. Haar verweer is dat hy gewoon net haar
sportafrigter is. Op haar beurt wil sy nie swanger raak nie, want haar
sportloopbaan is belangriker (in hierdie stadium) as haar moederskap. Myrna is
dus 'n bevryde vrou en haar tyd ver vooruit.
Die waarde van die novelle lê in die vermoë om subteks
te hanteer. Onder meer in die kernpassasie wanneer die hings getem word en Douw
daarna vir Jacques opdrag gee om die perd te skiet, is gelaai met seksuele
implikasies.
'n Mens lees soms vas teen die taalgebruik van die
vyftigerjare wat 'n bietjie steurend mag wees vir die moderne leser, maar Watermeyer
se goeie hantering van die simboliek vergoed hiervoor.
Tipies postmodernisties antwoord twee ander skrywers
Watermeyer en die publisiteitstuk wil dan Watermeyer tot Douw verklaar; Estelle
Marais tot Myrna en Peet Venter tot Jacques. Hierom heet die teks dan In kringe.
Puritiste sal waarskynlik die piep kry, maar dit is tog
'n interessante literêre eksperiment. Of die twee aanvullers daarin slaag om
Watermeyer se subtiele aanslag te kan volhou, moet maar self besluit word.
Die sluimerende populêre aanslag in die
Watermeyer-verhaal (wat terloops relevant is om te analiseer vanuit 'n
psigoanalitiese perspektief) word in die pen van Estelle Marais blatant,
dikwels banaal en uitgesponne. Die volgehoue implikasies word nou uitgespel. 'n
Mens sal dus nooit weer die Watermeyer-novelle met 'n ongeskonde oog kan lees
nie.
Onder meer hou Myrna in Marais se verhaal 'n dagboek.
Hierdie intieme belydenistegniek is by uitenemendheid geskik om al die intieme
détails aan die leser bekend te maak wat andersins onbekend sou bly. Maar het
die volgende passasie maar by ons verbygegaan: “Toe A se hande onder haar atletiekhempie ingly en dit hoër op begin
skuif, lig haar arms amper asof vanself om hom te help om dit oor haar kop te
trek. Toe onthou sy, soos uit 'n ver verlede, hoe syagtig vel op vel kan voel,
en sy help hom met ongedurige hande om van die res van hulle klere ontslae te
raak. Sy trek hom oor haar, nie om te neem nie, maar om hom sy begeerde wens te
gee, om hulle teen mekaar te voel, van voetsool na kuit, van dy na heup, van
maag na bors, van biseps na handpalm en eindelik van wang na mond, na
verkennende tong daarbinne.”
En nou vir die mooiste gedeelte: “Sy lê met haar arms na die kante toe uitgestrek en hy soos 'n
gekruisigde oor haar met sy vingers in hare verstrengel. Toe lig hy hom op
sodat hy haar kan oopmaak en sy hongerte in haar kan stoot. En haar hongerte
word sy vervulling en sy hongerte haar vervulling.”
Na ons klaar gelag het, het Myrna egter weer 'n ervaring
met haar eggenoot. Dit - en hierdie leser kan nie wonder wat Watermeyer sou
dink nie - word 'n groteske verkragtingstoneel.
Peet Venter se weergawe is eweneens vanuit 'n
Freudiaanse perspektief geweldig interessant. Hy aktiveer die oedipale
struktuur(die jong kind sien hoe die vader sy minnares verlei) en hy raak later
as professor betrokke by 'n jong student. Sy, op haar beurt is weer verlief op
Douw se seun. Dit blyk later dit kon nie Jacques se kind wees nie, want hy blyk
onvrugbaar te wees.
Die bloedskendige word hier geaktiveer en volgens Freud
is dit onderliggend aan die sogenaamde “familie romanse” wat gebaseer is op
Sofokles se Koning Oedipus.
Dieselfde besware as wat teen Marais uitgespreek is,
geld hier. Interessante idees word so sleg vertel en in sulke hoogdrawende taal aangebied, dat die
leser(en hierdie een veral) met 'n rooi pen sit en tik-tak. Kan iemand nie
asseblief 'n embargo op die woord bruusk
plaas nie? Om nie te praat van honger
nie!
En seks word hier in terme van 'n treinrit beskryf! 'n
Trein sonder remme teen 'n duiselingwekkende spoed en die man wat veronderstel
is om die drywer te wees(p. 23).
En die sogenaamde suspension
of disbelief word so ver gevoer (Jacques was by toe Douw verongeluk
het?)dat die leser se geduld net te ver beproef word.
Dit is jammer om 'n vertelling met soveel moontlikhede
te sien verongeluk. 'n Beter redakteur kon beslis meer gemaak het van In kringe. En 'n uitlegfout soos op bladsy 238 is ook onaanvaarbaar. Boeke
is tans duur. So versorg dit goed.
Daar word verwys na die “slordige intrige”(p. 246) en
dit word ironies ook van toepassing op die verhaal as sodanig. Die einde? Om
die kring te breek?
Aan die positiewe kant: 'n student wat wil navorsing
doen vir 'n postmodernistiese projek kan al die aanhangels(supplements)
bestudeer. En miskien sig afvra of die eerste verhaal nie al die implikasies
reeds dra wat die ander uittamboeryn nie? En navorsers in populêre fiksie kan
eweens die taalgebruik nagaan en die leë metaforiek van liefdesverhale.
Hennie Aucamp se “Vir vier stemme” is die model vir
'n perspektiefwissellende vertelling.
Die aanhaling uit John Irving se Trying
to save Piggy Sneed moes miskien meer letterlik opgeneem wees.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]