Saturday, March 16, 2013

Stephan Bouwer - Sirene van bloeisels (2000)

© Nic de Jager


Stephan Bouwer. Sirene van bloeiselsHuman & Rousseau, 2000. ISBN 07981 40171.

Resensent: Joan Hambidge

Die ontydige dood van 'n digter vra altyd vir her-evaluering en besinning oor die posisie van die digter binne die kanon. Stephan Bouwer se spontane praatverse met 'n allure van dit is soos-dit is (met 'n skeutjie ironie daarby) het ons digkuns verruim. Ook het hy tematies 'n bydrae gelewer met sy gedigte wat handel oor die TV-bedryf en dit moontlik gemaak vir ander gay-digters om  ná die openlike Portrette, private dele & kanttekeninge uit 1980 die posisie van die gay-mens oop te skryf.

Die digter het 'n lang stilte as digter beleef en die gedigte spreek die verwondering aan van 'n nuwe kreatiwiteit soos die programgedig "Ná stilstuipe". Oor of aanmoediging nou juis die regte ding is nie en hoe die digter ander vermoei met sy ontydige telefoonoproepe:

Jy raak roekeloos met jou sinne
doldapper
gedrewe
bipolêr
en vol fin de siècle-hebbelikhede (p. 7)

Bouwer was opgelei as akteur en 'n mens moet ook die gedigte analiseer as praatverse, gedigte vir die oor as net leesgedigte.

Die bundel begin met familie-verse (iets wat die ouer wordende digter haas nie kan ontglip nie) soos "Familiegeskiedenis" (p. 9) waarin ooreenkomste met 'n oom verironiseer word. Bouwer ontgin die oorspronklike definisie van ironie: dat dit 'n kyk-op-sake is wat juis uit pynlike ontnugtering sy ontstaan kry, maar sig verset teen verbittering.

"Oor diskoers" (p. 11) verset die digter hom teen die wyse waaroor ons praat oor kanker en dat 'n jong kind nog "geen kleedrepetisie/vir droefheid en verlies deurloop nie"(mooi beeld!). In "Nota bene" (p. 13) word 'n x-straal-plaat gedekonstrueer in 'n aweregse antwoord aan Eybers.

Net soos "Oor sneeu" (p. 23) Villon, Uys Krige en almal antwoord en wat beslis vermelding verdien, is die Yslandiese verse waar daar heerlik die spot gedryf word met 'n misverstand in die vreemde. Selfs digterlike afguns word grappig opgestuur en in "Klimaatomstandighede" (p. 50) word woorde se betekenisse tot aan die been gesny (klim-maat/klim-haat?).

Ook in sy lykdigte oor Dan Kirstein (ironies opgedra aan Nic Swanepoel, self saliger, wat die gedig dubbel-hartseer maak) en 'n vriendin wat selfmoord gepleeg het, word die pynlike konfrontasie met die dood van geliefdes aangespreek. Selfmoord word in die woordspel:

so 'n teregstelling verg
moedeloosheid/
moed/
móét  (p. 54)

Die gedig oor Gordon Engelbrecht sny diep, omdat dit die rede vir die dood verskaf word, Vigs. Hiermee ook 'n nuwe wending in die lykdig, wat dikwels die onbetaamlike onvermeld laat. Die bundel as geheel word, ironies genoeg, 'n lykdig aan die digter self!

Die waarde van hierdie bundel is dat die digter telkens diskoersanalises maak van gewone situasies, siekte of verlies.(Hy was ook, terloops, met 'n akademiese studie oor die diskoersanalise besig.) 'n Liriese stem wat die sirene van bloeisels kon hoor. Van homself bely Bouwer:

Ek is/was immers altyd ekkerig en eklekties
en 'n liefhebber van woorde wat jou hart laat kreun  (p. 52)

'n Digter wat onthou sal word vir sy lieflike beeld van die mense wat hy liefhet wat op hom groei soos mos...

*

Huldeblyk: Stephan Bouwer

'n Doodsberig
- Ons sal jou mis -
in 'n dagblad som op
'n lewe (1948 - 1999), gekis
in 'n begraafplaas geberg.
Ses voet ondergronds.
Netjies geberg.

Wat uitbly, ongesê of selde
verwoord word, is hoe lewe
meedoënloos, ongenaakbaar voortbeweeg:
die dag-nag-wending,
seisoenwisseling, die oseaan

se eb- en vloed. En veral die skuld
wat bly knaag. Soos 'n boorwurm
in hout. Ja, so sal ons uitpasseer.

Net 'n gedig, as ons dit durf sê,
beweeg verby 'n foto in 'n album,
'n innige in memoriam,
'n grafsteen waarop ligene broei
of ander onklaar sake soos 'n verlore testament.

'n Gedig ja, onbreekbare, kompromislose
steen wat mos bly vergader.

Joan Hambidge

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]