Jeanette Winterson. The.PowerBook. Jonathan Cape, 2000. ISBN 0 224 06103 8.
Resensent: Joan
Hambidge
'n Jaar of drie terug verskyn daar 'n onvleiende resensie
van een van Jeanette Winterson se romans in 'n Britse dagblad. Buite haarself
van woede, ry sy en haar vriendin na die resensent se huis. Stop, maak lawaai
(en ander lelike dinge) voor sy huis. Binne hou die man party en die volgende
dag spoel die skandaal oor die Britse pers. Veral met haar gewraakte woorde wat
sy die dom resensent toegesnou het: “Ek is die grootste lewende skrywer in
Engels.”
Gemeet aan haar eie siening van haar werk, kan 'n mens
werklik nie akkoord gaan nie. Miskien was
Written on the body haar beste roman. Maar ek kon nog nooit die ekstase oor
haar romans deel nie. Oranges are not the
only fruit en Sexing the cherry
het ek nie klaargekry nie en Art and
lies was so self-bewus dat dit 'n mens die keel uithang.
Haar jongste The.PowerBook is ook maar aan die mindere kant. Weer eens 'n knap idee. Dit is 'n
e-vertelling waarin die leser ook sy/haar fantasie kan uit toets. Ali/Alix (ou
truuk om haar skrywer genderporblematies te maak) plaas ons in Londen, Capri en
die kuberruimte. Daar word gebruik gemaak van boekomslae, feëverhale, populêre
kultuur.
Winterson spreek die invloed van komputers op ons lewens
aan. In die eerste vertelling word die “hard drive” 'n ruimte vir seksuele
fantasie en meer in die besonderheid, vir seksuele bedrog. 'n Tulp paradeer
hier as die oempabaloelie en hiermee wil die skrywer (deur onder meer te verwys
na The passion) die fantasie rondom
lesbiese seks prik.
In die afdeling “New document” word die gegewe verder
gevoer en die hele vertelling ondersoek die spanning tussen werklikheid en
fiksie. Fiksie, word daar gekonstateer, iks soos om na mense te luister in goedkoop
hotelle. Die mure is dun en jy kan alles afluister.
Dis 'n knap idee hierdie roman wat virtuele realiteit
ondersoek en bevraagteken. Die tulpe aan die begin, word netjies saamgetrek in
'n analise van Rembrant se selfportrette en kunstenaarskap. So gesien, wil die
roman kommentaar lewer op Winterson se ondersoek na self en representasie.
Ook word verskillende personas aangeneem en tydvlugte.
Die roman is ook 'n soort kladboek vir presies wat in 'n skrywer se gemoed
aangaan wanneer 'n roman geskep word wat uit die werklikheid spruit. Tog het
sy, wat hierdie leser betref, al oortuigender geskryf oor die liefde in Written on the body. (Die tema van die
geliefde wat haar sonder waarskuwing en sonder 'n adres verlaat, is al bykans
'n refrein haar werk.)
Geskiedenis is 'n malman se museum (242) en hierdie boek
flits tussen verskillende historiese momente. Van Lancelot tot Jack the Ripper,
by wyse van spreke. Ook die wil die verwysing na die kuberwêreld impliseer dat
die leser medeskepper word. Ook dit is al in ander romans vernuftiger aangepak
soos in Italo Calvino se If on a winter's night a traveller of Julio
Cortazar se Hopscotch.
The.PowerBook is knap ja; groots, nee.
Gelukkig is Kaapstad ver genoeg van haar.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]