I
Die digter, bloemleser, vertaler en prosaskrywer Johann de Lange het sopas 60 geword op 22 Desember. Hierdie mylpaal word gevier met 'n huldigingsbundel deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns met Daniel Hugo as eindredakteur. De Lange is die enigste digter uit die generasie van 80 wat bekroon is met die Hertzogprys. Hy is sowel vakman as "grensoorskrydende" skrywer wat die gay-stem losgemaak het. In die tye toe gay-wees strafbaar was, het hy en veral Koos Prinsloo in Afrikaans, die terrein van subversie betree met tekste oor cruising en die huigelarye (en dubbele standaarde) van die heteronormatiewe orde aan die kaak gestel.
Sy voorgangers was I.D du Plessis, Ernst van Heerden, Hennie Aucamp, Stephan Bouwer en Lucas Malan. Sy navolgers Marius Crous, Fourie Botha en Loftus Marais, o.a. Hierbenewens is dit o.a. Auden en Thom Gunn as buitelandse invloede saam met Ginsberg.
Sy posisie is uitsonderlik: enersyds uitdagend, andersyds konvensioneel in sy gesprekke met Van Wyk Louw en Cussons en met die beoefening van streng vorme soos o.a. kwatryne en sonnette.
Dis juis hierdie paradoksale aard wat sy werk so boeiend maak. Die sogenaamde "de-doxalization" soos Linda Hutcheon dit noem in reaksie op Roland Barthes se siening van die doxa soos beskryf in Roland Barthes (1977). Francois Smith verwys hierna in sy bespreking van die De Lange se prosa. Die doxa dan as die mag van taal of aannames wat deel word van 'n sisteem of denkpatroon.
In hierdie outobiografiese-biografie word RB 'n karakter in 'n roman en hy vra vrae oor die skryfproses en die funksie van lyflikheid. Hy let onder andere in 'n trein op na 'n vrou se hande en haar vingers. En wat dit alles be-teken.
II
Daar is bydraes oor die digter as bloemleser (Bernard Odendaal), die digter as vertaler (Tony Ulyatt), die prosas (Francois Smith), die literêre gesprek (Daniel Hugo), 'n erkenning van mentor- en vriendskap (Christo van der Westhuizen), 'n fantasieryke in- en uitbeweeg in die skrywer se werk, o.a. via Fleur Jaeggy geplunder, afgeskryf, gesteel, ensomeer (Antjie Krog). Gay kuberseks en digitale cruising (Neil Cochrane / Tanja Botha) word ook ondersoek. Die lewensloop word gekarteer deur Erika Terblanche en die uwe skryf – in die derdepersoon – oor die mentorskap van Jdl en die gesprek tussen ons. Verskeie bundels word aan mekaar opgedra, maar tog verskil die digters dramaties in hul lewenshouding.
Woord en wederwoord.
Die private De Lange wat hom uit die openbare debat hou as meningvormer of resensent. De Lange tree ook op as Hambidge se webmeester in Woorde wat weeg.
Hierdie uitsonderlike publikasie plaas ten slotte De Lange se vertaling van Allen Ginsberg se "Howl" (hy noem dit "Skryn") en ofskoon die digter hierna verwys as 'n "werk onder rekonstruksie", is hierdie leser van mening dat 'n mens in hierdie vers De Lange se talente sien: die vreeslose herdigting én transportasie van hierdie grootse gedig van Amerika na Afrikaans. Slegs 'n digter wat tegnies in beheer is, kan soiets verplaas én anker in 'n nuwe taal. In die vertaalteoretikus Lawrence Venuti se terme het hy hierdie kragtige gedig huis toe gebring.
Tony Ulyatt skryf insigryk en uitgebreid oor wat De Lange alles vermag as vertaler met verwysing na hierdie vers van Ginsberg, en vertalings van verse deur Stockenström. Van Engels na Afrikaans, van Afrikaans na Engels.
Hy is 'n stipleser van formaat wat wys op sillabes wat ooreenstem. 'n Geslaagde vertaling – aldus Ulyatt – moet klink asof dit in die eerste instansie in die "target language" geskryf is.
Ook as bloemleser – soos Bernard Odendaal tereg uitwys – kan hy saamsnoer en kanoniseer. Dit is sy vermoë om 'n teks reg in te skat, wat van hom 'n besondere bloemleser maak, volgens my. (Diegene wat hom as mentor of leser ervaar het, sal presies weet hoe hy kan inzoom op 'n gedig se gebreke met 'n kanttekening wat jou op die regte pad sit.)
Met sy samestellings – dit weet ek uit ervaring – lees hy alles wat gepubliseer is. Hy gebruik nie ander se indekse of voorwerk nie. Hy het aande omgesit in Tafelberg en Human & Rousseau se kantore en bundels deurgewerk om sý keuses te maak van Die dye trek die dye aan (saam met Krog).
III
'n Mens kan net die resepsie lees van Nagsweet om te sien hoe gay-digters - en meer spesifiek De Lange gekritiseer is.
Begrippe soos "verstommende talent wat misbruik is en selfs 'n bundel wat nie geresenseer is deur 'n gesiene literator nie weens die skokkende aard daarvan, is welbekend (Woorde Wat Weeg/ Studie/ Die resepsie van die digkuns en prosa van Johann de Lange. Polemieke en enkele onderhoude. Besoek 31 Desember 2019).
Die laat 70-er jare en tagtigerjare was erg homofobies. Die uwe is indertyd deur 'n dekaan ingeroep, omdat ek in Beeld bely het ek skryf nie net gay-gedigte nie; ek is ook gay. En Die Kerkbode was ook subiet daar met vingerwysings en vermanings van die gommerige soort.
Die laat 70-er jare en tagtigerjare was erg homofobies. Die uwe is indertyd deur 'n dekaan ingeroep, omdat ek in Beeld bely het ek skryf nie net gay-gedigte nie; ek is ook gay. En Die Kerkbode was ook subiet daar met vingerwysings en vermanings van die gommerige soort.
Al hierdie sake verdien vermelding, omdat gay-skrywers in daardie jare dure pryse moes betaal vir vryheid van spraak wat vele millenniërs nie besef nie.
IV
Vir my vriend: Jdl, oftewel Johnny Panic, met wie ek deur soveel jare die digkunspad loop, 'n klein cadeau en 'n un coup de chapeau!
My muse
ondeurdringbaar, onmeetbaar en onversetlik
dompel sy my dikwels in 'n stilwoede met verset
teen betragtings van hierdie prototipiese aard.
'n Mite dat sy met 'n oop hand verse aanbied.
Nee o nee, sy is net 'n Mary Jo Kopechne
in Chappaquiddick vasgevang in 'n motor
met 'n regter wat 'n lykskouing weier.
Ons durf nie die graftoneel of rus skend nie.
En die digter? Dié loop weg van die ongelukstoneel
met 'n opgeskorte vonnis van jy skryf alweer oor 'n muse
ondeurdringbaar, onmeetbaar en onversetlik.
© Joan Hambidge