Hennie Meyer – Winkel van wanklanke. Protea, 2020. ISBN: 978-1-4853-1031-0
Resensent: Joan Hambidge
Hennie Meyer het in Nuwe stemme 4 gedebuteer. Sy gedigte in Nuwe Stemme (2010) het nie dieselfde impak gemaak as wat die solodebuut nou doen nie. 'n Mens moet die hele bundel sien, vashou en waardeer as 'n kunsobjek. In 2007 neem Meyer deel aan die Sasol Nuwe Handtekeninge-kompetisie met die konkrete gedig "Onder die Belt".
Hierdie bundel is soos Willem Boshof se KykAfrikaans (2003) waar die kyker (leser) die boek anders beleef as die installasie. Die gedig-as-installasie kry 'n ander betekenis wanneer dit binne-in 'n boek beland.
Daar is 'n lang tradisie van konkrete poësie en soos language poetry, daag dit die grense van taal/betekenis/interpretasie uit. Behendige digters van konkrete poësie skryf byvoorbeeld 'n gedig oor 'n vlinder wat soos 'n vlinder lyk. Of 'n diamant wat lyk soos een. Die dinglikheid van die woord word vooropgestel.
Elke soort gedig eis sy eie leesstrategie op: die verbale ikoon (well wrought urn) vra vir 'n ander manier van lees as die politieke of maatskaplike vers waar die spreker eksegeties aan die woord is.
Hennie Meyer is ook beeldende kunstenaar en hierdie interne gesprek word voortdurend geproblematiseer. In 2004 het hierdie leser in 'n kunsgalery in Kuba 'n installasie gesien en so het ek hieroor indertyd geskryf:
Vir my is een van die interessantste skilderye ‘n beeld van ‘n skoonmaker wat besig is om ‘n vloer te vee. In sy hand hou hy ‘n besem en dan ondertoe is daar ‘n regte mop! Asof die kunswerk ‘n inspraak op die lewe wil maak.
Wat maak oom Kallie hier?
Daar is 'n gekskeerdery met die vernames van die Afrikaanse letterkunde soos
Yolande
Yolande
wys my jou tande
en:
Pa
Ek is so jammer
Dat ek was
wat Pa wou hê
ek moet wees (54).
Staan TT / vir Tieties? (56).
Die uwe word as digter en kritikus opgestuur in 'n dertigrandnoot en die sleutel vir die oopmaak van hierdie gedigte is debunking.
'n Hele paar keer het 'n bulderlag deur my gedreun veral met die volgende een:
'n Beter geil
is in die sotste wyn
'n vrolik snaar
op elke trein (57).
Spelend word hier heerlik en opsetlik "misdoen in die skoene van die grotes". Skakels na die webwerf laat die tekste oopwaaier na ander (oneindige) betekenisse. Il n'y a pas de hors-texte word tot emblemata verhef. Hulle aan Derrida en die addenda.
Maar as kunsobjek is dit voortreflik uitgegee in die spel met die wit-in-die-poësie (kopknik aan Mevrou Geggus), variasies op 'n gedig en selfs 'n braille-teks. Ander een is so klein dat jy 'n vergrootglas moet optel. Tina is 'n uittrek-vers wat konsertina word wat die ou boeregrap aktiveer van die ou man wat in die hospitaal is en die geskokte nursie wat vra waarom staan daar oom op sy oempabaloelie?
"Dit was eers klopdisselboom van Potchefstroom..."
Picasso, Escher, Jackson Pollock, Klee en vele ander kunstenaars word op 'n wonderlike wyse ontmasker of eerder: ontskoen (11).
In die gedig "Verskoning" weet hy wat die kritici se besware sal wees oor sy gedigte en hierom skryf hy dat die romantiek van rym verruil is vir rumatiek (76). "Rondeel onderdeel" (59) is 'n slim woordspel met alles wat in die woord rondeel getap kan word: oordelend, onderlondener, oorledene, ronde dele, onderdele ...
"Ui" (74) speel in op Opperman se woordspeletjies in Kuns-mis.
Ek stel my voor hierdie digter lag oor my resensie en dink hy het my uitgevang, omdat ek geleerderig skryf oor sy bundel. Immers is "Riemtelegram van rym" (60) 'n uitnodiging vir die spelers. "Ek gee vir jou die see" waarop almal mag voortborduur; net soos Johan van Wyk wat op 'n dag in 'n eksperiment "Vroegherfs" opgesnipper het en die reëls arbitrêr saamgesnoer het in 'n nuwe betekenislose vers. Met hierdie bundel weet ons nou dat die postmodernisme inbeweeg het in die metamodernisme.