Tuesday, December 31, 2019

Huldeblyk | Johann de Lange 60 (2019)

I

Die digter, bloemleser, vertaler en prosaskrywer Johann de Lange het sopas 60 geword op 22 Desember. Hierdie mylpaal word gevier met 'n huldigingsbundel deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns met Daniel Hugo as eindredakteur. De Lange is die enigste digter uit die generasie van 80 wat bekroon is met die Hertzogprys. Hy is sowel vakman as "grensoorskrydende" skrywer wat die gay-stem losgemaak het. In die tye toe gay-wees strafbaar was, het hy en veral Koos Prinsloo in Afrikaans, die terrein van subversie betree met tekste oor cruising en die huigelarye (en dubbele standaarde) van die heteronormatiewe orde aan die kaak gestel.

Sy voorgangers was I.D du Plessis,  Ernst van Heerden, Hennie Aucamp, Stephan Bouwer en Lucas Malan. Sy navolgers Marius Crous, Fourie Botha en Loftus Marais, o.a. Hierbenewens is dit o.a. Auden en Thom Gunn as buitelandse invloede saam met Ginsberg.

Sy posisie is uitsonderlik: enersyds uitdagend, andersyds konvensioneel in sy gesprekke met Van Wyk Louw en Cussons en met die beoefening van streng vorme soos o.a. kwatryne en sonnette.

Dis juis hierdie paradoksale aard wat sy werk so boeiend maak. Die sogenaamde "de-doxalization" soos Linda Hutcheon dit noem in reaksie op Roland Barthes se siening van die doxa soos beskryf in Roland Barthes (1977). Francois Smith verwys hierna in sy bespreking van die De Lange se prosa. Die doxa dan as die mag van taal of aannames wat deel word van 'n sisteem of denkpatroon.

In hierdie outobiografiese-biografie word RB 'n karakter in 'n roman en hy vra vrae oor die skryfproses en die funksie van lyflikheid. Hy let onder andere in 'n trein op na 'n vrou se hande en haar vingers. En wat dit alles be-teken.

II

Daar is bydraes oor die digter as bloemleser (Bernard Odendaal), die digter as vertaler (Tony Ulyatt), die prosas (Francois Smith), die literêre gesprek (Daniel Hugo), 'n erkenning van mentor- en vriendskap (Christo van der Westhuizen), 'n fantasieryke in- en uitbeweeg in die skrywer se werk, o.a. via Fleur Jaeggy geplunder, afgeskryf, gesteel, ensomeer (Antjie Krog). Gay kuberseks en digitale cruising (Neil Cochrane / Tanja Botha) word ook ondersoek. Die lewensloop word gekarteer deur Erika Terblanche en die uwe skryf – in die derdepersoon – oor die mentorskap van Jdl en die gesprek tussen ons. Verskeie bundels word aan mekaar opgedra, maar tog verskil die digters dramaties in hul lewenshouding.

Woord en wederwoord.

Die private De Lange wat hom uit die openbare debat hou as meningvormer of resensent. De Lange tree ook op as Hambidge se webmeester in Woorde wat weeg.

Hierdie uitsonderlike publikasie plaas ten slotte De Lange se vertaling van Allen Ginsberg se "Howl" (hy noem dit "Skryn") en ofskoon die digter hierna verwys as 'n "werk onder rekonstruksie", is hierdie leser van mening dat 'n mens in hierdie vers De Lange se talente sien: die vreeslose herdigting én transportasie van hierdie grootse gedig van Amerika na Afrikaans. Slegs 'n digter wat tegnies in beheer is, kan soiets verplaas én anker in 'n nuwe taal. In die vertaalteoretikus Lawrence Venuti se terme het hy hierdie kragtige gedig huis toe gebring.

Tony Ulyatt skryf insigryk en uitgebreid oor wat De Lange alles vermag as vertaler met verwysing na hierdie vers van Ginsberg, en vertalings van verse deur Stockenström. Van Engels na Afrikaans, van Afrikaans na Engels.

Hy is 'n stipleser van formaat wat wys op sillabes wat ooreenstem. 'n Geslaagde vertaling – aldus Ulyatt – moet klink asof dit in die eerste instansie in die "target language" geskryf is.

Ook as bloemleser – soos Bernard Odendaal tereg uitwys – kan hy saamsnoer en kanoniseer.  Dit is sy vermoë om 'n teks reg in te skat, wat van hom 'n besondere bloemleser maak, volgens my. (Diegene wat hom as mentor of leser ervaar het, sal presies weet hoe hy kan inzoom op 'n gedig se gebreke met 'n kanttekening wat jou op die regte pad sit.)

Met sy samestellings – dit weet ek uit ervaring – lees hy alles wat gepubliseer is. Hy gebruik nie ander se indekse of voorwerk nie. Hy het aande omgesit in Tafelberg en Human & Rousseau se kantore en bundels deurgewerk om sý keuses te maak van Die dye trek die dye aan (saam met Krog).

III

'n Mens kan net die resepsie lees van Nagsweet om te sien hoe gay-digters - en meer spesifiek De Lange gekritiseer is.

Begrippe soos "verstommende talent wat misbruik is en selfs 'n bundel wat nie geresenseer is deur 'n gesiene literator nie weens die skokkende aard daarvan, is welbekend (Woorde Wat Weeg/ Studie/ Die resepsie van die digkuns en prosa van Johann de Lange. Polemieke en enkele onderhoudeBesoek 31 Desember 2019).

Die laat 70-er jare en tagtigerjare was erg homofobies. Die uwe is indertyd deur 'n dekaan ingeroep, omdat ek in Beeld bely het ek skryf nie net gay-gedigte nie; ek is ook gay. En Die Kerkbode was ook subiet daar met vingerwysings en vermanings van die gommerige soort.

Al hierdie sake verdien vermelding, omdat gay-skrywers in daardie jare dure pryse moes betaal vir vryheid van spraak wat vele millenniërs nie besef nie.


IV

Vir my vriend: Jdl, oftewel Johnny Panic,  met wie ek deur soveel jare die digkunspad loop, 'n klein cadeau en 'n un coup de chapeau!

My muse

ondeurdringbaar, onmeetbaar en onversetlik
dompel sy my dikwels in 'n stilwoede met verset
teen betragtings van hierdie prototipiese aard.
'n Mite dat sy met 'n oop hand verse aanbied.
Nee o nee, sy is net 'n Mary Jo Kopechne
in Chappaquiddick vasgevang in 'n motor
met 'n regter wat 'n lykskouing weier.
Ons durf nie die graftoneel of rus skend nie.
En die digter? Dié loop weg van die ongelukstoneel
met 'n opgeskorte vonnis van jy skryf alweer oor 'n muse
ondeurdringbaar, onmeetbaar en onversetlik.

© Joan Hambidge

Sunday, December 29, 2019

Gedig | Biblioteek (Charl JF Cilliers) (2019)

Biblioteek

Charl JF Cilliers

Jy bemaak jou boekery volledig aan my,
digtersvriend, kenner van mono no aware
en digvorme soos die haikoe en kwatryn.
Spaanse woordeboeke bevolk jou ruimte
neffens bundels van Vernon Scannell.
Ek kies versigtig uit al jou kleinodes:
ontdek in 'n kas stapels van jou eie bundels,
nou ongepos en onversend vir lesers onbekend.
Maar ek sal immer jou ideale leser bly,
daardie een wat weet hoe drome verydeld
soos 'n ongeskryfde of halfklaar gedig bly talm
roepend roepend na voltooiing of vertaling.

© Joan Hambidge



Charl JF Cilliers (1941 - 2019)

Filmrubriek | Downton Abbey (2010-2015 / 2019)


I
Tydens die Kersvakansie beleef ek elke dag op BBC die Downton Abbey-reeks. Verslaaf en vasgenael kyk ek na hierdie reeks deur Julian Fellowes wat afspeel tussen 1912  en 1926, gesitueer in Yorkshire. Die aristokratiese Crawley-familie se wel en weë word ondersoek met verwysings na werklike historiese gebeure soos die Titanic en die Ierse stryd om onafhanklikheid. 

Dame Kiri te Kanawa

Boonop is Dame Kiri te Kanawa ook te siene in 'n episode waar sy die rol vertolk van die Australiese operasanger Dame Nellie Melba vertolk. Natuurlik was daar dadelik kritiek op hierdie "inplanting" (How Downton Abbey got Nellie Melba all wrong - Telegraph. Besoek 27 Desember 2019).

Boonop was operakenners ook krities oor hierdie sangeres se vertolking (Dame Kiri's Downton episode 'horrific' | Stuff.co.nzBesoek 27 Desember 2019).

'n Geval waar vraisemblance ’n bietjie te ver gevoer word? Want terwyl ons luister na Puccini is daar 'n verkragtingstoneel waarvan net die gille gehoor word.  Kuns demp die harde werklikheid.

II

Wat veral opval in hierdie besondere reeks is die hiëragiese orde: aristokraat versus bediendes ("footman" en "butlers"). Terwyl die hoës hul eie stryd om oorlewing beleef – die herehuis mag verloor word weens 'n dwase belegging van die vader – is daar ook 'n stryd tussen die bediendes.

Ook hier is daar 'n aantoonbare hiërargie en 'n stryd om selfgelding. Die verwysing na die Titanic is relevant: op hierdie gedoemde skip was die laer klas onder in die buik van die skip gevange gehou, terwyl die rykes bo luuks verwen is.

Wanneer 'n kamerbediende blyk om homoseksueel te wees, word hy hardhandig behandel.

Hy soen 'n slapende jong man wat teen hom draai en die kyker weet hy het aanvanklik saamgespeel. Die hoofbediende is bereid om hom 'n goeie verwysing te gee mits hy vertrek. Maar die ander kragte span teen hom saam: 'n geniepsige vroulike skinderbek maak die wêreld vir hom warm.

Ook wanneer 'n "redder" op 'n dansbaan swart is, word die wit aristokratiese meisie dadelik weggelei deur 'n mede-aristokraat. Die "political unconscious" in Fredric Jameson se terme is opvallend in hierdie teks.

III

Nes geld en mag. 

Die 7e Earl of Grantham (Hugh Bonneville) is getroud met die Amerikaner Cora Levinson (Elizabeth McGovern) om sy finansiële stabiliteit te handhaaf. Helaas het hy nie 'n seun nie en net dogters wat die hele kwessie van die manlike orde en gesag ondersoek.

Al die spanninge van die Crawley-familie word onder die vergrootglas geplaas met Maggie Smith as die grootmoeder wat snydende en sarkastiese kommentaar lewer.

Die oudste dogter Lady Mary Crawley se verloofde Patrick sterf in die Titanic en sy trou dan met 'n neef Matthew, die seun van 'n dokter, wat die geld gaan erf.

Ook hier is 'n kinkel in die kabel. Sy voormalige geliefde het gesterf en haar vader het aan hom die geld bemaak en hy voel hy kan dit nie neem nie, omdat hy nie meer lief vir haar was nie. Sy nuwe vrou plaas druk op hom om dit wel te neem – want so kan hulle Downton Abbey red. 'n Brief – gepos deur een van die kamerbediendes – van die sterwende geliefde oortuig hom dat hy dit wél mag neem. Sy gewete sal hom dus nie langer pla nie.

Haar vader, Meneer Swire, was bewus van die spanninge tussen hom en Lavinia en so red die brief dan die herehuis. En die bediendes.

IV

Die verskillende episodes word geraam met belangrike historiese gebeure soos die Titanic wat op 14/15 April 1912 gesink het. Daar is 'n verwysing na die begin van WOI en Aartshertog Franz Ferdinand se dood, die Spaanse griep, die veldslag in Somme, die spanninge in Ierland, die opkoms van vroueregte, ensomeer. Dit is deel van die gesprekke én beklemtoon hoe die rykes van die tyd ook nie volledige beskut was teen die eise van die tyd nie.

Afpersing. Mary beeïndig haar verhouding met Richard Carlisle. Hy weet van 'n indiskresie uit haar verlede, maar haar vader beskerm haar wanneer sy dit bely aan hom. Hy stel voor sy moet na Amerika gaan en 'n nuwe lewe begin. Dit is immers nie die moeite werd om onder die swaard van afpersing te leef nie.

Vernedering. Edith word deur Sir Anthony op hul troudag in die kerk gelos. Sy verskoning is dat hy te oud is vir haar, maar die kyker besef dat sy lot dalk van 'n "annnerster soort" is. (Sy vind wel later geluk, maar die ellende duur vir etlike episodes.)

Onregverdige straf. Anna word tronk toe gestuur vir die moord op Mr Green, haar verkragter. Het sy hom dood gemaak? Of was dit haar eggenoot Bates wat reeds onskuldig in die tronk was en uiteindelik vrygespreek is?

Dit kon nie Bates wees nie. Hy was in York (sy treinkaartjie is ongeskonde) en Mr Green is in Londen dood.

Al hierdie menslike kwessies skep spanning vir die kyker wat die verskillende intriges volg wat in hierdie rykgeweefde tapisserie behandel word.

Sosiale verskille. Maggie Smith as Violet Crawley, die Dowager Countess of Grantham, lewer snydende sosiale kommentaar in haar briljante asides. Met die besoek van Cora se moeder,  uit die VSA, Martha Levinson, vertolk Shirley Maclaine 'n heerlike over the top-rol.

Maar alle grappies op 'n stokkie. Dit lewer vlymskerp kommentaar op hoe die Britte tog maar die Amerikaners sien.

En hier sien 'n mens ook twee style van toneelspel: ingehoue versus parodies-satiriese toneelspel.

V

Die moderne kyker beleef alles vanuit 'n agterna-perspektief en interpreteer die historiese mylpale anders as die karakters wat in die oomblik is.

Ons weet immers daardie bevoorregting beskerm jou nie meer nie; al is jy bloubloed en uit 'n koningshuis word alles nou anders beoordeel.

© Joan Hambidge

Wednesday, December 25, 2019

Resensie | Jaco Kirsten – Nadraai (2019)

Jaco Kirsten – Nadraai. Tafelberg, 2019. ISBN 978 0 624 08783 0

Resensent: Joan Hambidge

I

Nadraai, 'n roman, sluit aan by die tradisie van grensverhale en die impak van die oorlog op die psige van die voormalige soldaat. In Afrikaans het Alexander Strachan met 'n Wêreld sonder grense die oorlog en die impak daarvan uitstekend ontgin. Daar was ook My Kubaan van Etienne van Heerden en verhale van Koos Prinsloo, e.a.

Jaco Kirsten verpak die oorlog met die hede en sluit aan by die tradisie van spanningsverhale wat tans so gewild is. Ene Rocco de Witt, 'n Kaapse argitek met 'n beeldskone Duitse verloofde, het 'n donker geheim. Destyds tydens die Bosoorlog het hy tydens 'n Swapo-operasie sy bewussyn verloor. Skielik word hy gekonfronteer met hierdie verlede. Sy plaas Nadraai in die Tankwa-Karoo word skielik 'n vreemde en bedreigde ruimte.

Die roman wentel om opposisie. Rocco se gay-vriendin, ook 'n argitek, se pa was 'n polisieman, terwyl sy vader 'n afgetrede mediese professor in 'n rolstoel is. Hede word telkens teenoor verlede geplaas (en die herinneringe aan die oorlog word in 'n ander lettertipe aangebied). Verder lewer Rocco kommentaar op argitektuur met verwysings na etlike plaaslike bakens, wat dikwels as wysneusig oorkom. Dieselfde geld die opmerkings oor restaurante: La Perla se naam word selfs vir die leser verduidelik. Verder word 'n koffieplek in Groenpunt se dekor beskryf. Egte bestanddele moet hier meeding met mensgemaakte stowwe soos silikoon en botox (125). Hier is dit die verteller wat die karakter se bewussynstroom binnedring en satiriese en ongevraagde kommentaar lewer.

Is dit relevant binne die raamwerk van 'n spanningsverhaal?

Omdat die gegewe deur die derdepersoonverteller gebeur, word dit steurend.


II

Waar die verhaal wel uitmunt, is die spanning wat geskep word rondom die donker verlede. Posttraumatiese stres én angs word deeglik en dwingend beskryf soos paranoia en padwoede.

Die effek van alkohol word oortuigend beskryf en 'n besoek aan die hospitaal (met die onsekerhede wat dit inhou) oortuig. Die gesprek tussen pasiënt en terapeut word eweneens geanaliseer.

Dieselfde geld 'n besoek aan Mavericks en die mans se ervarings van paaldansers. Die geveg na die ervaring, is eweneens oortuigend - met vuige woorde - en 'n duidelike verwysing na die problematiek van Kaapstad: karwagte wat betrek word by meer as karre oppas.

In die kroeg word die banaliteite van die manlike deelnemers weergegee en Rocco se besoek is meer besadig. Hierom die konfrontasie buite Mavericks.

Die roman wentel rondom binariteite; hede versus verlede; sekerhede versus onsekerhede; rykdom versus armoede ...

Deur sy Duitse minnares as metgesel, word etlike kwessies ondersoek: hoe ons politieke verlede uiters vreemd is vir buitelanders en hoe dit moeilik is om Engels te praat voor jou ouers (die minnares ontwille), omdat 'n mens Afrikaans is.

III

Wat hierdie roman veral dwingend en relevant maak, is die genderanalise van manlikheid (masculinities).

Veral wit manlikheid wat reeds geaktiveer word deur die hoofkarakter se naam en werkplek. Maar ágter die machismo van oorlog, gevegte, Swapo, valskermbataljonne en Recce's word die broosheid van manlikheid uitgewys. Manlikheid was kultureel gedetermineerd en nou word dit gekritiseer. Dit is dan die nadraai van ons politieke skuld.

Hierom is die voorblad so belangrik: wie is nou in die visier?

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Sunday, December 15, 2019

Resensie | William Oosthuizen – Die dame met die hondjie (2019)

William Oosthuizen – Die dame met die hondjie. Naledi, 2019. ISBN: 978 1 928518 14 3

Resensent: Joan Hambidge

I
Anton Tsjekof was ‘n gerekende dramaturg, kortverhaalskrywer, en medikus wat opgemerk het: Medisyne is my wettige vrou; letterkunde is my minnares.

In sy dramas is daar ‘n spanning tussen tragedie en komedie. Sy kortverhale (wat hy om den brode geskryf het) is hoogtepunte in die kortverhaalkuns. Die invloed op ander kunstenaars is wyd: Woody Allen se films, Tarkofski se The mirror, Francois Truffaut, ensomeer. In die verfilming van Bernhard Schlink se The reader luister Hanna (vertolk deur Kate Winslett) na 'n oudio-weergawe van die storie. By ons, natuurlik, is daar Hennie Aucamp in "Vir vier stemme".

Hy was eweneens bekend vir sy satiriese briewe.

Hierdie verhaal het oorspronklik in 1899 verskyn en dit beskryf 'n buite-egtelike verhouding tussen  Dmitri Dmitritch Gurov, 'n bankier van Moskou en Anna Sergeyevna Von Diderits, 'n jong getroude vrou. Hierdie vertelling het die grote Vladimir Nabokof uitgesonder as een van die grootste verhale nog. 

Ander kritici meen sy krag is eerder in sy dramas te siene.

Nou onlangs het Christiaan Olwagen met groot sukses Tsjekof se Die seemeeu opgevoer. 'n Paar jaar terug was Oom Wanja met ons op die verhoog onder regie van Janice Honeyman in sowel Afrikaans as in Engels.

Wyle Reza de Wet het hom in haar dramas herbesoek en wyle Stephan Bouwer het lieflik konvensionele periode-interpretasies onder sy bedrewe regiehand gelewer. ('n Mens hoop die SABC het dit bewaar.)

II
So lui die agterblad van die roman:
Dit is 1899 – Anton Tsjechof, Rusland se voorste dramaturg en kortverhaal-skrywer, is stadig besig om in die warm Jalta klimaat aan kroniese tering weg te kwyn, ver van die plesiere van Moskou en van sy aktrise, Olga Knipper. 
Lang dae word gevul met skryf, wandelinge op die promenade en briefwisseling met Olga, terwyl hy verlang na die lewe wat hy agtergelaat het.  
Dan merk hy haar op:  ’n Jong dame, wat op die promenade wandel, met haar hondjie aan haar sy. Oor die volgende dae kyk hy toe hoe die jong dame die prooi word van ʼn ouer man, ʼn boorling van Moskou. Teen sy beterwete word Tsjechof meegesleur deur hul liefdesdans, en laat dit hom by ʼn kruispad in sy verhouding met Olga weens die onnadenkende belofte wat hy aan die jong dame maak.
Hierdie teks - soos dit blyk uit my kort oorsig - tree in gesprek met gedugte kommentators en interpreteerders. Wat 'n wonderlike verrassing is hierdie teks nie. Die skrywer werk met die bekende gegewe en borduur voort. Elke leser het al gewonder teen die einde van 'n boek: wat gaan verder gebeur?  Kodes hier is die lornjet en "gulsige blikke" (43). Daar word op die promenade gestap en bespiegel oor wat in mense se lewens werklik gebeur. Die gesprek met die karakters is uiters openbarend (61).

Die teks word behendig in 'n raam geplaas rondom 'n vertaler (ene Cornelius van den Hoofen) en Sophie Ruiz in 2018. Sy vertrek na Jalta om 'n agterkleinkind van Tsjekof se drinkersvriend op te spoor met 'n insig in sy lewe. Dus 'n matrioska-verhaal: 'n storie-binne-in-'n-storie oor 'n storie. 

En hier is Tsjekof 'n afloerder van sy skeppinge en so word aweregse kommentaar gelewer oor wát die skrywer uit die werklikheid geneem het en wát was blote fantasie. Lesers wil dikwels weet wat het regtig in 'n skrywer se lewe gebeur en wat is die "waarheid gelieg". Die interaksie met Stanislavksi (die beroemde regisseur wat Die seemeeu met suskes opgevoer het) en verskillende sieninge van subteks, is eweneens belangrik vir hierdie vertelling. Dit is juis waarin Tsjekof uitmunt: subteks en hierom kan sy dramas as ernstig én parodies vertolk word.

In hierdie teks is daar subtiele verwysings na die impak van die liefde: 'n beeldjie waarvan die kop afgebreek is, en skaak. En Sinani neem weer foto's wat die opposisie tussen skryf en fotografie eweneens uitwys.

Tsjekof se siekte en die beskrywing van Moskou en Jalta word helder geteken. Die mag van die verbeelding word ryklik met hierdie teks geïllustreer. Oosthuizen se teks lewer kommentaar op die sogenaamde "oop slot" van hierdie verhaal. In sy weergawe word die storie 'n vloek wat oor die karakters uitgespreek word.

Punte van kritiek: Die skrywer gee erkenning aan bronne, maar helaas sonder datums of uitgewers. In Afrikaans is dit Tolstoi; nie Tolstoy nie. Gorki; nie Gorky nie. Dit geld al die ander Russiese name.

En die boek is so gebind dat die moeilik oopmaak sonder om die rug te breek. My eksemplaar se drukwerk was eweneens op plekke nie eweredig nie.

Dis jammer, want dit is so 'n mooi teks oor begeerte en verliese vir fyn kyk met 'n lornjet.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)


Saturday, December 14, 2019

Resensie | Charl-Pierre Naudé (samest.) – Rooiborsduif: Gedigte oor die liefde (2019)


Charl-Pierre Naudé (samest.) – RooiborsduifGedigte oor die liefde. Human & Rousseau, 2019. ISBN: 978-0-7981-7876-1.

Resensent: Joan Hambidge

I

Van die aangrypendste liefdesgedigte staan opgeteken in Breyten Breytenbach se oeuvre. Vra maar vir Jan en Alleman en hulle ken ‘n vers van Breyten.

In Fanie Olivier se antologie Die mooiste Afrikaans liefdesgedigte haal Breytenbach  loshande die meeste verse naas Krog, Gilbert Gibson, onder andere.

Breytenbach skryf sowel politieke as intieme verse. Verse oor sy jeug, die Zen-Boeddhisme, ekfrastiese (of beeldverse), reisverse, kunsteoretiese besinnings is bekend aan sy verse. Jonger digters reageer ook op sy verse in teenstemme of palinodes. Trouens, wanneer ‘n mens “Allerliefste ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif” op google insleutel, volg tallose skakels na BB se gedig onmiddellik:

Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif
want niemand sal ‘n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug 
en ek weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
en hy kleur my boodskap so rooi oor jou vel

Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos ‘n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos ‘n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie. 

II

Die samesteller Charl-Pierre Naudé gebruik dan ook tereg ‘n beeld uit hierdie klassieke gedig vir die titel van sy bloemlesing. Op die buiteflap gee hy ‘n kort verduideliking oor hoe hy die digter se liefdesverse sien.

Die bundel word opgedra “aan haar vir wie ek opdragte skryf soos paringsdanse”.

Hy sien Breytenbach as ‘n skakelende deurpos en die gedigte is ‘n intieme voëlvlug.
Hy wys daarop dat voëls ‘n wederkerende beeld in sy poësie is wat vanselfsprekend dan die reismotief aktiveer. As politieke dissident is die gedigte vir die samesteller gestempel met “‘n wondbare dringendheid en ‘n gelate wysheid waarin die geliefde soos ‘n persoonlike redder benader word.”

Naudé wys daarop dat die verhouding met hierdie Viëtnamese vrou tot sy politieke ellende gelei het én dat hy aan die verkeerde kant van die Koue Oorlog geland het.
Die Viëtnam-oorlog was immers ‘n berugte slagveld …

“Die verterende vuur van oorlog word die vertederende alchemie van sy liefdesgedigte”, voer Naudé aan. Hierdie bundel huldig hom as “passaatvoël van die woord.”Die liefdesverse word ‘n openbare liefdesverklaring aan die mensdom – geteken as ‘n vrou.

Hierdie insigryke flapteks moes dalk ook as ‘n voorwoord opgeneem gewees het. Die samesteller orden die verse chronologies.

III

‘n Tematiese keuse gee altyd ‘n nuwe blik op ‘n digter se werk.

Dit is ‘n proses van herkanonisering wat die leser met nuwe oë na bekende gedigte laat kyk en binne ‘n tematiese samestelling kry die verse so ‘n nuwe betekenis. Gedigte lê nou bymekaar.

By Breytenbach word die leser ‘n blik gegee op die gedig as liefdesverklaring en as reddingsboei, terwyl hy in die tronk was.

Die buiteblad som alles netjies op – die geliefde, ‘n slapende Yolande, rus op die digter se skouer in ‘n trein. Die gedigte – omdat dit gepubliseer is – word ook die leser se gedigte en só beskou, word elke liefdesvers in hierdie bundel ‘n liefdesverklaring in en vir  Afrikaans.

Om die mooistes hier uit te sonder is onmoontlik. Met elke lees, kom die leser onder die indruk van die digter se verbluffende beelde en woordspelings.

Wanneer hy direk dig (peester / kont) word dit nie steurend nie, omdat dit netjies begrond word in die gedig met beelde at dit verduidelik (“die eed”, 165).

Vir hierdie leser word die gedigte inderdaad “inlênagte tussen slaap en plesier” (“joernaal”, 164).

Die verskillende afdelings karteer die liefdesreis: die hongerblou gety; wyn in die bloeisels; hart uit die doek; die koue van dousterre; donker beminde; onbegonne tuiskoms ...

“die oenegedig” (uit Katalekte) met sy woordspel is ‘n treffer. Seisoene en soene ...

Maan, perskes, huis, blomme, drome ...

Die mooiste liefdesgedigte is vir Yolande - daardie een wat klein en getrein is.

‘n Gedig heet “nomadismes”  Alles staan in die teken van beweging, en interpretasies is immers ook ‘n nomadiese proses. En ‘n gedig – in navolging van Borges – is die vanselfsprekende antwoord op ‘n vraag wat nie gestel is nie. Gedigte is “kleinodekissies” (180). Die liefling wat wegkruip in die arm word uitgestal (vir die leser) in ‘n “laken piepend van drome” (32). “ein Fichtenbaum steht einsam” (126) is ‘n eenvoudige, dog komplekse juweel van ‘n vers.

‘n pynboom staan eensaam
in die noorde op ‘n kaal hoogte,
slaperig, slap met ‘n wit kombers
omhul van ys en sneeu

hy droom van ‘n palmboom
wat vér in die land van die môre
eensaam en swyend treur
op ‘n brandende rotsmuur

wat ‘n eenvoudige gedig!

IV

Carol Ann Duffy se Rapture (2006) karteer die begin, middel en slot van ‘n verhouding. By Breytenbach word ’n komplekse lewe in die ontwikeling van die liefdesverse afgelees.

Roland Barthes se bekende A lover’s dicourse dra ‘n sub-titel, te wete “fragmente”. Miskien omdat ‘n mens nooit die geliefde in volledigheid kan beskryf of besit nie.

Die “discours amoureux” is in Afrikaans só veelsydig. Barthes beskryf hoé die geliefde jou volledige universum word en dat jy later alles as tekens van die geliefde interpreteer. 

Barthes skryf oor die “angoisse” of agonie wat die geliefde ervaar: die wag op ‘n wederwoord of ‘n verwerking van die afsegging, van die verby-wees oftewel, die “cri de coeur”.

Alles hier te lese in ‘n prag-bloemlesing.

Breytenbach is tereg met sy verjaarsdag op Litnet vereer met analises van sy gedigte.

Bronne:

Barthes, Roland. 1979. A lover’s discourse: Fragments. New York: Hill and Wang.
Barthes, Roland. 1973/1975.  The pleasure of the text. New York: Hill and Wang.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Saturday, December 7, 2019

Resensie | Trevor Sacks – Lucky Packet (2019)

Trevor Sacks – Lucky Packet. Kwela, 2019.  ISBN 978 0 7957 0890 9

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie pragdebuut van Trevor Sacks heet Lucky Packet, daardie speelgoedsakkie waar jy nie weet watter speeldingetjie jy gaan uithaal nie. Soms ‘n plastiekhorlosie, ander kere ‘n karretjie, ‘n snor of ‘n brilletjie.

Boonop was daar een vir meisies en een vir seuns.

In hierdie roman word die jeugervarings van Ben Aronbach, ‘n Joodse seun, ondersoek. Sy vader is oorlede. Die lotgevalle van hom, sy twee broers, hulle moeder, en die swart tuinman word in heerlike aardse dialoog weergegee. Hulle is Jode in ‘n aarts-konserwatiewe noordelike dorp. 

Totdat ene Leo Fein, ‘n aartsbedrieër, sy opwagting maak. Hy het sy oë op die moeder se erfporsie en inkomste uit ‘n besigheid wat soms onseker en wankelend is. Hy gee ook voor hy het die oorlede vader geken en wen so die jong karakter se vertroue.

Dit is die apartheidsjare van die 80’s waar daar neergesien word op Jode, Grieke en Moeslems. Witheid – veral Afrikanerskap – is bo alles gestel; die weermag en wat nog, word in ‘n geskakeerde vertelling weergegee.

Ben is die fokalisator so ons sien alles deur sy oë. Of dit wat hy op hoorsê as die waarheid ervaar het.

Die lang galery van jeugvertellers kom aan bod: Harper Lee se To kill a mockingbird (1960), Truman Capote se The grass harp (1951), ook J.D. Salinger se The catcher in the rye (1951) kom aan bod.

Nader tuis is daar JM Coetzee se herinneringe aan sý jeug en Marita van der Vyver se Die dinge van ‘n kind.

Wat hierdie roman besonders maak, is die humor. My eksemplaar sit vol uitroepe en kanttekeninge. Van Leo Fein wat in sy neus krap om ‘n koekeloerder te laat wegkyk tot ‘n broer wat swastikas teken om te treiter, is vinjette wat my altyd sal bybly. Om nie te praat van die diefstal van drank of die "dooie" Fein nie.

‘n Besoek aan Paul Kruger se huis en die kommentaar hierop is gelaai met ironie. En ‘n benoude knyp van die blaas op ‘n skooltoer na Natal is skreeusnaaks.

Met ‘n ligte hand (aanvanklik) word daar gekyk na die impak van die dood op kinders, na diefstal en die kind wat uitgelewer is aan die dwaashede van grootmense. Uiteraard geskryf vanuit ‘n agterna-perspektief, maar deur die oë van die kind, word die absurditeite en ironieë sterk verpak. Skaterlag-momente is daar baie. Wall-to-wall-humor. Soos seuns op 5 wat gefnuik voel na hulle als gewys het, maar die meisietjie nie.

Ben moet Shul toe gaan, maar sy moeder is agnosties. Joodsheid is ‘n kultuur eerder as ‘n godsdiens.

Die emosies en herinneringe is netjies verpak. Daar word nie afgereken met mense of vooroordele nie, maar eerder ironies-gedistansieerd gewys op hoé hierdie aannames werk. (Ben smul byvoorbeeld aan spek ...)

Hier is geen verbittering of weerwraak nie. Dit is ‘n roman van die drumpel ("threshold"), omdat jong kinders dinge helder sien. Soos dit is.

‘n Mens dink hier aan die antropoloog Arnold van Gennep se sieninge van liminaliteite. Hierom die verwysing na die "rites of passage", hiér die bar mitzvah. In Rites of Passage (1909) is daar drie fases: pre-liminaliteit, liminaliteit en post-liminaliteit. Die jong standerd vyf kind behoort tot die eerste fase; die ontmoeting met Fein vverbeeld die fase van liminaliteit. Die ouer skrywer – wat terugkyk na sy vermoedelik outobiografiese jeug – behoort dan tot die fase van post-liminaliteit. 

En humor? Dit word ‘n wapen om distansie te bewerkstellig, omdat jy jou opponent verminder of verklein deur hom as ‘n grap voor te stel, aldus Freud.

Die tweede gedeelte van die roman heet “1992”. Hier het ons nou ‘n oorgang waar die impak van die jonge Ben se dwase optrede op sy gesin geregistreer word. Die politieke realiteit word erger. Oproepe na die army en die threshold-gedagte word geaktiveer op bladsy 193.

Die roman word in ‘n herkenbare Pietersburg (Polokwane) geplaas met straatname en verwysings na restaurante wat die politieke dimensie sterker na vore bring. Die verhouding van Shadrack met die moeder word besonder goed weergegee.

Die AWB, die Kappiekommando, die nee-stem in Pietersburg en boere se optrede is goed beskryf. Hier word die humor swart. Marieke en haar pa kan jy sien. 

Nes besoeke aan die tattersalls. En wat behels skatafatsa nie? 

Sy siening van Leo Fein is teen die einde anders. Dit het sy jeug verdonker; hoeveel van hierdie man is hý?

Lucky Packet, Liquorice allsorts, Neopolitan roomys, Dinky Toys – alles kragtige simbole uit ons jeug.

Maar die verrassingspakkie – dis waaroor hierdie uitsonderlike debuut, ‘n Bildungsroman, handel.

Rahla Xenopoulos noem dit ‘an exquisite read’ en Imraan Coovadia loof dit as een van die beste en mees leesbare romans van die afgelope tyd. Hierdie leser gaan akkoord.

Monday, December 2, 2019

Gedig | Joan Hambidge - Venesië

Stanza soos in kamer,
beduie jy uit die hoogte,
voorste taalkenner en meester
van sarkasme.
Op die San Marco
en digby Peggy Guggenheim se huis
– nou 'n kunsgalery –
beskut die sambreel my teen reën
en sneeu soos stippels uitroeptekens
uitsonderlike konfetti
vir 'n troue wat nooit sal plaasvind nie.
Op 'n vaporetta
vaar ek stoutmoedig weg weg weg van jou
en 'n paar jaar later
oorstroom die stad
soos my gemoed indertyd toe jy my versaak
het en herinneringe
soos palings bly glip
deur die hokke broeiend:
beelde vir hierdie gedig
se vele kamers
met jou hart vermoedelik
steeds op droogdok.