Tuesday, November 27, 2018

Resensie | Kobus Lombard – Tussen toeval en willekeur (2018)

Kobus Lombard - Tussen toeval en willekeurNaledi, 2018. ISBN: 978 1 928 426 34 9

Resensent: Joan Hambidge

Delikate digkuns. Dis die beste manier waarop ʼn mens die digkuns van Kobus Lombard kan tipeer en sy vyfde digbundel heet Tussen toeval en willekeur en hierdie titel resoneer met ʼn vorige bundel Tussen wysvinger en duim (2005). Hierdie jongste bundel is besonder mooi uitgegee deur Naledi.

Die digkuns hou sig immer besig met ʼn tussentoestand wat ervarings betref. Gedigte registreer ʼn indruk of inspirasie en word dan in woorde vertolk. Dikwels op ʼn ander manier as wat die digter dit dalk bedoel het.

Op die agterplat word daar tereg verwys na die binnewaartse reis van die digterlike proses en die soeke na grense wat die werklikheid omlyn. Lombard se werklikheid is Namibië. Die outeur van die shout beweer ook tereg dat die onsegbare dikwels tussen die woorde en die leë spasies skuil. Daar word verder ook gepraat van grense wat vervaag ... En die ritme word bepaal deur toeval en willekeur.

Nou wanneer ʼn mens hierdie bundel benader is dit eenvoudig so dat daar in ʼn klein gedig baie subteks of implikasie skuil. ʼn Gedig begin met stilte en word later in ʼn ander gedig “voltooi”. 

Duine

duine het nie agendas nie
dit kan nie laat kom
of vroeg vertrek
verkeerde besluite neem
en bekommerd wees nie
duine hoef nie voluit te leef
bang te wees vir die dood
of ʼn vers te skryf
voor dit sy gedagtes ontglip nie
duine is tot die laaste sandkorel
uitgesorteer

(50)

Uiteraard spreek hierdie gedigte tot my weens my besonderse ervaring van die Namibiese landskap én die woestyn. Lesers wat dit nie beleef het nie sal eweneens aanklank vind by hierdie bundel met sy gestroopte, pretensielose verse. 

Gobabeb sal altyd daar wees en die digter sal na hierdie ruimte terugkeer met ʼn jakkalsdraf of in die droë rivierloop te sit en tjank (51). In hierdie landskapsgedig word die menslike bestaan as onbenullig en efemeer gesien teenoor die natuur wat sal voortbestaan.  In die gedig “Skaduwee” (61) word die woordspel tussen aanval en invul goed ontgin:

bedags volg jy my getrou
teen hoogmiddag staan jy
wydsbeen bo-oor my
soos die skemer nader
loop jy verder voor my uit
en in die nag as die aarde
sy gesig wegdraai van die son
val jy my
onsigbaar in

En ʼn skaduwee is immers ʼn tussentoestand.

Die bundel verloop siklies. Dit karteer die lewensloop van ʼn mens wat leer praat en skryf en leer om die “swye te verbreek” - uiteindelik keer ons terug, volgens die slotvers na ʼn primordiale wêreld sonder taal.

Die ars poetica op bladsy vier ontgin die toeval en willekeur van die digproses wat met woorde en woordeboeke werk, maar uiteindelik gerig word deur “waarskynlikheid”. ʼn Mens sou ook kon beweer: blote geluk. Beide “Vrug” (8) en “Woordkapper” (9) bemoei sig met die digproses. In eersgenoemde gedig word die geleende suurstof van intertekstualiteit gekritiseer? In laasgenoemde vers is dit duidelik dat die digter soeke na sy eie “rooibruin pit”. Terwyl die eerste afdeling hoofsaaklik werk met die temas van die digkuns en inspirasie word daar in die tweede afdeling gekyk na geloof. Hier vind ons ʼn lieflike gesprek met Psalm 23 (“Goeie herder”, 15) en in “Oorplasingsnavraag” (21) wonder die digter oor hoe die hemel daar sal uitsien. Sy hemelse bestaan sal waarskynlik een wees met kameelbome en droë rivierlope met ʼn vraag of ons daar bedreig sal voel?

In die derde afdeling vind ons liefdesverse en reise na vreemde bestemmings. In “Lied sonder woorde” (27) word ons gemaan om te waak teen die lied (dus gedig) wat die liefde bloot wil lê. In die vierde afdeling is daar besinnings oor die ouderdom, die naderende dood – o.a. geskryf in die Okavango. Daar is ʼn siniese vers oor toeriste wat Afrika-objekte terugneem sonder om die historiese of kulturele konteks te begryp soos in die aangrypende “Gekerf” (33) waar die beeld terugverlang na sy plek van herkoms.

Die stilte van hierdie bestaan word binnegedring deur raserige toeriste, Facebook, ʼn GPS, TV kanale, selfone, en virtuele reise.

In die vyfde afdeling word daar teruggekeer na die wêreld van die Waarheid (45):

die waarheid flits
soos gemsbokhorings
teen ʼn duin

Hierom dan ook die ervaring van grensverskuiwings. In die slot en sesde afdeling vind ons lykdigte (o.a. een oor die digter se moeder, ʼn figuur na wie hy by herhaling terugkeer en ʼn gedig vir ʼn vriend, “Begrafnislys”, 59) en ʼn afskeid aan die aardse bestaan.

Dis ʼn bundel wat met elke herlees klein skuiwe maak. Soos ʼn duin wat stadig maar seker iets toewaai. Dit is ʼn bundel wat vra vir ʼn saamlees met Dolf van Niekerk se gedigte oor die Karoo: Karoosange (1975).

Sunday, November 25, 2018

Polemies | Jeremiade van ’n buiteleser - Repliek

I.
Dit is in belang van die groter gesprek in die Afrikaanse letterkunde om Jean Meiring te antwoord.

Dit laat my dink aan die onderhoudvoerder wat vir Umberto Eco gevra het in sy groot biblioteek: “Wow! Signore professore dottore Eco, what a library you have! How many of these books have you read?”

Die ongelese boeke is net so belangrik as dit waaroor ons skryf.  Of dalk belangriker.

My repliek is dan in breë trekke 'n reaksie op Jean Meiring nadat ek kritiese kanttekeninge uitgespreek het op sy resensie van die Olga Kirsch-biografie (Jeremiade van ’n buiteleser | LitNet. Besoek 24 November 2018).

II.
Om resensies te skryf, is deel van 'n lang gesprek oor kanonisering. Studente lees dit; dosente bekyk dit krities en uiteindelik word dit deel van 'n reaksie in verhandelinge en proefskrifte. 'n Verkeerde of vreemde taksering kan juis tot 'n belangrike antwoord in 'n tesis lei. Of 'n voetnoot word.

Maar die ingeligte gesprek rondom boeke het ingekrimp. Gaan kyk maar net hoeveel verskillende resensente het oor een boek geskryf in die tagtigerjare. Goed daar is blogs en lesersindrukke op Litnet, maar wie hom of haar waag aan 'n opinie moet 'n reaksie te wagte wees. 

Hierom maak ek beswaar teen die opmerking van Meiring dat ek outoritêr is. Hy sien my wat as vegknoper vir die wye demokrasie van stemme"bekendstaan, nou as iets anders ...

My werk is ook metamodernisties, ek hou my besig met psigoanalitiese studies, vertaalteorie, genderkwessies, ensomeer. Nie net met die postmodernisme nie.

Hy tipeer my: "Dis juis daardie spesie literator wat, in die geval van ’n biografie, met blote teoretisering tevrede is vir wie mens moet ligloop." My gevoel: En dis juis 'n leser wat meen daar is simplistiese antwoorde op 'n komplekse lewe en digterskap waaroor 'n mens moet seg ... pasoppa!

Ek het nog nooit die Afrikaanse letterkunde as 'n goddelike tempelskrif ervaar nie en my polemieke, artikels en studies artikuleer 'n teenstem. Trouens, my digkuns is eweneens polemies.

Die feit dat Meiring aankondig dat hy 'n Honneurs in Latyn het, is nie vir 'n gesprek oor die Afrikaanse letterkunde nou tersaaklik nie. Dis wel 'n bonus.

Dus: Heil die leser!


III. Lectori Salutem

Jean Meiring moes alvorens hy die biografie oor Kirsch geresenseer het die bestaande studie oor haar werk gelees het. En kennis geneem het van Jerzy Koch wat 'n tydskrif in Pole oor haar werk gepubliseer het. [1] En Louise Viljoen se uitstekende artikel begrond Kirsch goed. [2]

Sy skryf: “Alhoewel Afrikaans nie haar moedertaal was nie, is dit dus die taal van haar eerste skool-onderrig, haar studieonderwerp op universiteit, haar joernalistieke loopbaan en haar artistieke uitdrukking in die poësie." (28)

Ons verwag in ons beroep: ingeligtheid. En ironies genoeg onderstreep hy juis my kritiese punte. Kennelik het hy steeds nie die teorie begryp of gelees nie, en hierdie teoretiese spesie reageer net op relevante punte.

Ons weet immers dat daar al lange debatte oor die representasie van die San-kultuur in Afrikaans was (vide Krog en Watson), terwyl hy met groot stelligheid vra dat daar nou hieraan aandag gegee moet word. Dit na aanleiding van sy resensie van Riana Scheepers se Stormkind.

Crito het hom reeds hierop gewys: “Wanneer, indien ooit, is toeëiening toelaatbaar en wanneer kom die gebruik van die kultuurgoedere van ’n stilgemaakte volk net op verdere verdelging neer? Ongetwyfeld sal ’n debat hieroor van stapel gaan.” (Tweevuis. Litnet BlogsBesoek 24 November 2018).

Ek meen ’n mens kan van ’n Afrikaanse resensent verwag om bewus te wees van die beskuldigings wat Stephen Watson omtrent ’n dekade gelede teen Antjie Krog gemaak het oor Die sterre sê Tsau. Dieselfde argumente sal dan sekerlik teen Stormkind gemaak kan word. Maak nie saak of ’n mens dink (soos ek) dat Watson ’n paar van sy varkies kwyt was met sy beskuldigings teen Krog nie, dit is die groter saak van toeëiening wat aangespreek moet word.

Sy selfbewuste, selfkoesterende styl is tog so seksie. Die spel met woorde... 

Dit verdoesel helaas nie dat hy soms die breër agtergrond mislees nie.

Om my die Vestaalse Maagd van die Postmodernisme te noem is waarskynlik as witty bedoel. Ek het Meiring sober geantwoord; bepaald nie die ad hominem-geelkaart uitgeruk nie. Hy mag bepaald resensies skryf, maar woord wek wederwoord, nie waar nie?

Die wrede waarheid is dat vele van die sogenaamde onbeantwoorde vrae dalk in die gedigte staan?

Die sogenaamde neerwerp van intellektuele verwysings is nie bespotlik nie. Ook nie satiries bedoel nie. Dis geskryf vir diegene wat dit gelees het en nie 'n posduif, koerier of sekretaresse nodig het om après le déluge te help opmop nie.

En as 'n kritiese reaksie soveel fanfare ontlok, dan moet 'n mens wonder waarom skryf hy resensies? 

Dis tog lewensbloed van die kritiese bedryf dat 'n reaksie mag?

Net soos daar in die regsberoep (en hier is ek nou die buite-leser) verskillende sieninge is en dat 'n Appèlhof byvoorbeeld anders mag oordeel?

'n Institusionele kennis van die resensiebedryf is 'n pluspunt, nie iets negatiefs nie.

Hierom gaan ek Jean Meiring "ylings" tegemoet.


Endnote:

1. Werkwinkel 9(2), 2014, pp. 31-58. © Department of Dutch and South African Studies
Faculty of English, Adam Mickiewicz University, Poznań, Poland. DOI: 10.2478/werk-2014-0011

2. Die opsomming van Louise Viljoen se artikel: “The heart a dry leaf”: Loss, Mourning and Melancholia in Olga Kirsch’s Afrikaans Poetry.

Abstract: Reading Olga Kirsch’s Afrikaans poetry, one is struck by the important role that the experience of loss occupies in her oeuvre. It is evident in the first two volumes ofpoetry she published while still living in South Africa, as well as in the five volumes she published after emigrating to Israel in 1948. Because her poetry, especially the volumes written in Israel, exudes an air of melancholy, this article uses Freud’s writings on loss, mourning and melancholia, as well as the historical tradition preceding his work, as a guideline in exploring the way in which the experience of loss, mourning and melancholy is portrayed in Kirsch’s oeuvre. The article focusses on the way in which loss is portrayed in her poetry: her sense that the Jewish experience of loss over the centuries forms part of her history and identity, the way in which she experiences the loss of South Africa and the language Afrikaans in which she is best able to express herself poetically when she emigrates to Israel, the way in which the loss of her father and mother at different times in her life affected her, her feeling that her experience of loss and the ensuing melancholy are carried over to her children.

© Joan Hambidge

Thursday, November 22, 2018

Events | Dryad Road Show @ Love Books Melville, 15 November 2018

Michéle Betty © Gavin Betty


Joan Hambidge © Gavin Betty


Stephen Symons © Gavin Betty



Michèle Betty, Joan Hambidge & Stephen Symons 
at Love Books Melville, 15 November 2018 © Gavin Betty


Poetry lovers at Love Books Melville, 15 November 2018 © Gavin Betty

Friday, November 16, 2018

Resensie | Pieter-Dirk Uys – Weerklink van ‘n wanklank (2018)

Pieter-Dirk Uys - Weerklink van ‘n wanklank. Tafelberg uitgewers, 2018. ISBN 978 0 6240 8694 9
Resensent: Joan Hambidge
Die subtitel van hierdie hoogs leesbare boek lui: Memoires van toe en nou. Die bekende dramaturg en satirikus, Pieter-Dirk Uys, neem ons deur sy lewensloop. Sy onverbiddelike, musikale vader, sy depressiewe moeder, sy briljante suster, Tessa en die huishulp Sannie Abader is mede-spelers. Ons sien die ontwikkeling van ‘n briljante toneelspeler en die skepper van die weergalose, onvolprese Mevrou Evita Bezuidenhout wat deur die jare ‘n voortreflike buikspreker was vir die politieke gemorse in hierdie land.
Met Pik Botha se begrafnis het Uys blomme gestuur. Pik was immers altyd ‘n bok vir sports. Net soos Piet Koornhof.
Jare gelede het wyle André P. Brink in ‘n resensie Mevrou Bezuidenhout as onsnaaks afgemaak. Fout. Daar was ‘n lieflike reaksie van Mevrou Evita uit Bapetikoshweti waarin sy vir die skrywer genooi het om ‘n roman te kom skryf in haar tuisland; eerder as om Frankryk toe te reis …
Hoe heerlik was dít nie. En Brink het saamgespeel.
Die Engelse weergawe van Uys se memoires heet Echo of a Noise en die memoire illustreer opnuut dat ‘n beroemde persoon dikwels swaar groot geword het. “Sonskyn”, 10 Homestead Weg in Pinelands is ‘n komplekse huis. Die vader vind die seun problematies.  Die moeder, Helga Bassel vlug uit ‘n verdrukkende Europa. ‘n Geskenk van die seun, Unser Berlin in Bilder, bring vir die moeder pynlike herinneringe terug van haar geliefde Berlyn: uitgebrand, plat gebormbardeer, weg … (93).
Sy vader is in 1940 met die Jodin getroud, ’n feit wat eers later aan Uys onthul word. Haar broer, Gerhardt was getroud met een van ons grootste romansiers, Anna M. Louw.
Die Berlynsgebore moeder van Pieter-Dirk Uys laat hom ook vra: is ek Joods-Afrikaans of ‘n Afrikaner-Jood. Die beskrywings oor die moeder se ervaring van die oorlog (en wat dit alles behels het) is waarskynlik van die sterkste vinjette in hierdie memoire. 
En Two Women– met Sophia Loren – is dan ‘n ervaring van wat oorlog aan mense doen. En hierdie film aktiveer uiteraard die jarelange vriendskap met haar van ‘n poster-girl tot die werklike mense wat mekaar leer ken en ondersteun.
Op die agterblad staan daar: Dit is Pieter-Dirk Uys sonder die grimering! Sonder rekwisiete, vals wimpers of hoëhakke …
En dis presies hoe dit is. Sy verwerking van sy moeder se selfdood; die geskiedenis van die Ruimte-teater en ervaring met die nooit volprese Yvonne Bryceland, Brian Astbury en Athol Fugard …
Sy teaterervarings in die buiteland word opgeteken. Die skermutselinge met die Publikasieraad (ons vind ‘n heerlike telegram vol spelfoute afgedruk in die boek) en sy pa wat neul wanneer sy hele donnerse huis op die verhoog staan; weens geldtekort by die Ruimte.
Hy beskou die Publikasieraad as die “groot liefde” van sy lewe en wys op die absurditeite van daardie tyd: Selle ou storie kon jy sien, maar nie lees nie. Karnaval kon jy lees, maar nie sien nie (134).
Hierdie humor word heerlik verder gevoer. Die vader is woedend oor die “vieslike politiek” waarmee hy hom ophou. Tog word die spanning met die vader opgehef en die beskrywing van sy agteruitgang en uiteindelike dood is aangrypend.

Daar is baie foto's en 'n mens wil nie al die juwele uithaal nie. Lees dit self. Dit is man wat vreesloos die "Immorality Act", dubbelspraak, viktimisering en leuens aan die kaak stel. Sedert 2000 gee hy gratis MIV/vigs-opleiding. Sy siening van Mandela is eweneens belangrik, nes die dokumentêr Nobody's Died Laughing waarin Loren optree en Charlize Theron, Dame Janet Suzman, FW de Klerk en Biskop Tutu, o.a.

Hierdie outobiografie is sonder maskers of grimering. Of sonder die alter ego, Evita Bezuidenhout. Dit is pynlik, eerlik, snaaks - en anders as Ton Vosloo se outobiografie, Oor Grense: 'n lewe in die media in 'n tyd van verandering (Jonathan Ball) stroop hy homself af voor sy leser. Albei hierdie boeke lewer 'n politieke verslag van ons troebel tye.

Pieter-Dirk Uys is 'n bekroonde figuur, 'n ikoon en veral 'n verkleurmannetjie wat in sy lewe moes leer: adapt or die.

Friday, November 9, 2018

Fiksie | Die munt in die vis (2018)

I

Dit het my nog altyd opgeval dat stories na jou toe kom. Optelgoed is vatgoed.

So sit ek en gesels met my buurman, ’n diaken in die kerk, oor die rol van “toeval” in jou lewe. 

Oor hoe boeke (en veral mense) op die regte tyd hul aanmeld. En mirakels.

Dit is op die vooraand van ’n reis na Suid-Amerika. My reisplan is uitgewerk: Bogotá, Villa de Leyva, Medellin, Cartagena, Aracataca (om die geboortehuis van Gabriel García Márquez te besoek) en ten slotte: rustyd op ’n eiland.

En uiteraard besoeke aan kerke in Suid-Amerika. Soos die Zipaquirá Soutkatedraal wat mense besoek vir heling en waar hulle ondergronds aanbid.

Ek lees oor die gru-verhaal van twee Pitbull-honde wat ’n vrou iewers in die Mid-streke van die VSA aangeval het. Haar ribbes is letterlik opgevreet. Haar pa het uiteindelik na vele bespiegeling op Facebook met die storie na vore gekom. Nee, daar was nie vuilspel van ’n eks nie; net twee honde wat haar aggressief aangeval het.

Bevestig deur die polisie.

My buurman dink die twee honde het dalk baklei en die vrou het met haar binnetrede net die een hond meer aggressief gemaak. ’n Beriggie in die dagblad wat ons beide se aandag getrek het. Sy vrou het net die opskrif gelees en gegru vir die wrede storie. 

Hoekom sou hierdie verhaal my opval letterlik twee aande voor my vertrek?

Waarom sou die honde wat haar moes beskerm haar verskeur het?

My buurman is baie belese en ek hou van hoe hy ’n storie wat hy gelees het, óórvertel. Stephen King se “what if”-beginsel begryp hy. En die absurde verhale van John Irving. Sy vertolkings is dikwels sterk op die sub-teks gerig.

Die volgende oggend na ons kuier, vertrek ek na Suid-Amerika.

II

Op pad na Villa de Leyva is daar vele honde langs die pad. Rondloperhonde. ’n Dooie hond herinner aan die wrede verhaal van die Pittbulls in die VSA.

Daar staan vele beeldjies van die Madonna om reisendes te beskerm. En ’n reisiger het bepaald beskerming nodig. My tas kom drie dae laat aan op my reis; my komputerskerm moet ten duurste reggemaak word in Medellin; by my terugkeer het iemand op Oliver Tambo-lughawe my tas probeer oopbreek. Gelukkig sonder om iets te steel.

Maar wag, ek loop die verhaal vooruit.

In Villa de Leya beleef ons ’n primordiale wêreld van ou kerke, ’n sentrum vir UFO's en fossiele in die Centro de Investigaciones Paleontológicas.

Die Ecce Homo-kerk, oftewel die Convento del Santo Ecce Homo, met ammoniete en fossiele in die vloer , is ’n aangrypende ervaring. Dit staan 13 km buite die dorpie.

In 1620 het Dominikaanse priesters dit hier gestig. Daar is ’n lieflike tuin in die binneplaas.

’n Groot serpent (om die bose te vergestalt) teenoor ’n skildery van Christus. Is sy oë oop of toe? Dit is die vraag wat die priester aan jou vra.

Vir my is dit oop.

Die simboliek is fassinerend. Daar is pynappels, arende, die son en maan om die boodskap van Christus vir die inheemse mense toeganklik te maak. Verskillende primordiale verhale kom in hierdie wêreld byeen. Geloof teenoor ongeloof. Besoeke van vreemde vlieënde objekte en ruimtewesens. Erich von Däniken beweer dat Machu Picchu gebou is met die hulp van wesens van ander planete. “Paleo-kontak”, word dit genoem in Chariots of the Gods?

Hierteenoor die paleontologiese museum met die geskiedenis van die wêreld. En dan kerke wat op verskillende maniere Jesus Christus gedenk. 

Ek dink aan die munt in die vis. Die storie van Petrus en Jesus. Opgeteken in Mattheus 17:27.

Van Jesus wat vir Petrus sê hy moet die eerste vis wat hy vang se bek oopmaak en daar sal ’n muntstuk in wees en hiermee moet hy die belasting betaal.

Die vis en die munt is een van Jesus se bekendste mirakels.

In die vis se bek was daar ’n munt. ’n Dragma of shekel – net genoeg om die tempelbelasting te betaal – en hierdie vis is ’n tilapia.

Ek plaas ’n munt in ’n bussie. Vir ’n fonds vir rondloperhonde. Weerlose diere uitgelewer aan mense wat hulle versaak het. 

Die volgende dag besoek ons die beroemde Zipaquirá Soutkatedraal. 

'n Ondergrondse ruimte van aanbidding wat, gekerf uit die sout, die geboorte van Jesus tot en met Sy lydensweg uitbeeld. Daar is uitgekerfde kruise teen die muur. 

Ek sien ’n Ichtus-beeld.

Die Ave Maria speel in die agtergrond. 

’n Vrou stap die hobbelrige pad af na onder met ’n hondjie teen haar bors.

Ek hoor hoe sy bid om genade en heling – vir die hondjie.

Ongeveer drieduisend mense uit verskillende lande en wêrelddele het hierdie Sondag dié katedraal sonder ’n priester besoek.

Op ’n volgende vlug is daar ’n kind met ’n brakkie wat saamvlieg.

III

Wonderwerke, mirakels, toeval?

Daardie verhaal van die munt-in-die-vis beleef ek op ’n nuwe manier op my reis deur Colombië.

Wanneer ’n mens die Bybelverhaal lees, is Petrus onrustig dat hulle nie belasting betaal nie en dus deur die mense (en gemeente) verwerp sal word. Daardie munt het egter sowel sý skuld as Jesus s’n vereffen.

Het ek ’n ook ’n vis oopgesny en ’n juweel daarin gevind? Of was die juwele die verskillende “toevallighede” wat ek beleef het? 

Buite Medellin het ons blomme besigtig en iets probeer begryp van die Feria de las Flores (blommeparade). Deelnemers hieraan heet silleteros.

By ’n beskeie huisie het ’n vrou vir ons tee bedien. Later koffie. Toe ek vir melk gevra het, gaan koop sy dit by die winkeltjie oorkant die pad. Ek gee vir haar 2000 pesos hiervoor. 

Oorspronklik het die boere stoele op die rug gedra om blomme en vrugte te vervoer. Op hierdie feesdag word die stoel nou gepak met helderkleurige blomme. Jy moet vir ongeveer 3 km stap terwyl die toeskouers jil: Jy kan, jy kan ...”.

En teen die muur van hierdie eenvoudige huisie is daar ’n houtbord in die vorm van ’n vis waarop staan: Mathías 17:27.

Daardie aand by my terugkeer by die hotel InterContinental, google ek die presiese teksvers op die internet:

En toe hulle in Kapérnaüm kom, het die wat die tempelbelasting ontvang, na Petrus gegaan en gesê: Betaal julle Meester nie die tempelbelasting nie?

Hy antwoord: Ja. En toe hy in die huis inkom, was Jesus hom voor en sê: Wat dink jy, Simon? Van wie neem die konings van die aarde belasting — van hulle seuns of van die vreemdelinge?

Petrus antwoord Hom: Van die vreemdelinge. Jesus sê vir hom: Dan is die seuns vry.

Maar dat ons hulle geen aanstoot mag gee nie, gaan na die see toe, gooi ’n hoek uit en neem die eerste vis wat opkom; en as jy sy bek oopmaak, sal jy ’n stater kry; neem dit en gee dit aan hulle vir My en vir jou.


IV

By my terugkeer loop ek in my buurman vas. Vertel hom van al die wonderbaarlike verhale en ervarings op my reis. Hoe jy agterna beskou ’n draad van ontoevallighede kan saamtrek. 

“Wat as jy nie op hierdie reis gegaan het nie?”, vra hy.

“En wat sou met jou gebeur het as jy nie Cujo van Stephen King gelees het nie?”

“Daardie storie van die dier met hondsdolheid wat mense aanval?”

“Einste.” Hy is op pad kerk toe. ’n Kerk met ’n predikant wat ’n handvol gelowiges in die stadskom bystaan. Mense wat hulle tiendes gee en armes ondersteun.

Ek skeur die aand 'n koevert oop van Momentum wat belastinggeld aan my terugbetaal. Air France betaal geld in op my rekening vir die ongerief van die tas wat my drie dae later bereik het. In my posbus is daar nog ’n betaling vir skryfwerk waarvan ek al lankal vergeet het.

Die volgende dag versend ek geld na die Dierebeskermingsvereniging. Vir al die weggooihonde in ons stad.

Uit my beursie val daar ’n muntjie: 100 pesos.

© Joan Hambidge

Sunday, November 4, 2018

Polemies | Skoenmaker: Die ontologie van oningeligtheid en beterweterigheid (2018)

I

’n Buiteblik op die letterkunde is dikwels interessant soos afgetrede regters en advokate (o.a. Regter Kriegler) as resensente heel dikwels bewys. Kriegler het ’n briljante analise van Ton Vosloo se outobiografie geskryf. [1.]

Dit is egter so dat ’n literator se mening oor ’n regsproses dikwels ook net ’n allemans-mening is.  Waarom wonder ’n mens, dink almal dat resensies deur Jan en Alleman sonder letterkundige opleiding geskryf kan word? Is dit omdat mense meen taal behoort aan almal?

My vriende in die regswêreld sug diep wanneer joernaliste of leke nie regsprosedures begryp nie en dink iemand is skuldig, omdat hy so lyk. Of op grond van koerant-bespiegelinge eksperts word.

In sy bespreking van Egonne Roth se biografie oor Olga Kirsch (“Kirsch-geheime bly verhul”, Rapport 28 deser) meen Jean Meiring dat ons nie weet hoekom Kirsch in Afrikaans gedig het, terwyl sy Engels skoolgegaan het.

Hy kritiseer ook die “psigo-Babel van naweldeurprieming” waarin ’n biografie kan ontaard. Hiermee bewys hy dat hy nie bekend is met Thomas Minnaar se doktorale studie ’n Herwaardering van Olga Kirsch se oeuvre: Identiteit, moederskap en ballingskap aan die hand van die psigoanalitiese teorieë van onder andere Sigmund Freud, Jacques Lacan en Julia Kristeva (UCT, 2012).

Dis uiteraard ook duidelik dat hy nie The silent woman (Vintage, 1995) van Janet Malcolm oor Sylvia Plath verreken het nie of veral die taalteorieë van Julia Kristeva nie. Gaan lees maar Desire in language (Columbia University Press, 1982) oor moedertaal.

Sowel Minnaar as Roth wys op die ingewikkelde verhouding met die moeder en die komplekse verhouding met die vader. Dalk keer sy altyd terug in haar gedagtes en gedigte na haar jeug waar hulle outsiders was in die Vrystaat. Die ervaring van “andersheid” as Jode en die soeke na die aanvaarding in gedigte; hierom dat sy as volwassene die jeugdorp alleen wou besoek, sonder die trompetgeskal van die dorpsraad.

My lewe sal gesplete bly:
Groen stamme, as die byl hul kap
kerndiep, sal nooit weer heelheid kry.
Maar aan die staallem klewe sap.

(Uit: Geil gebied, 1976)

Literatore sal anders kyk na Roth se biografie (Naledi) as ’n buite-leser.

’n Komplekse boek soos Roth se studie verdien ’n deegliker besinning.

II

Daar is niks wat ‘n resensent meer vreugde verskaf as wanneer lesers reageer op resensies nie. ‘n Mens voel dikwels asof jy die spreekwoordelike roosblaar in die Grand Canyon afgooi of luister na die geklap van die een hand.

Oma Prinsloo in 25 deser kritiseer my opmerking oor Saul Bellow as die “onbesonge meester” (“Dankie vir dié resensie, maar …”). Ek is absoluut bewus van al die bekronings wat Bellow ingeoes het en lees hom sedert 1976. Elke jaar herbesoek ek Humboldt’s Gift, sy meesterlike omdigting van Delmore Schwartz se lewe (“In Dreams begin reponsibilities” heet Schwartz se 1938-kortverhaal).

Met onbesonge het ek egter bedoel binne die Afrikaanse letterkunde, maar as woorde soos goed, uitstekend, ensomeer kwistig rondgestrooi word wanneer ‘n mens die boek lees, is jy minder geïmponeer, omdat jy besef resensente se verwysingsraamwerke is beperk. As hulle meesters soos Bellow, DeLillo of Perec sou ken, sou hierdie lesers minder opgewonde wees oor ‘n roman.

So gelees, is Bellow wel onbesonge.

Met onlangse besoeke aan die VSA ook gevoel, dalk al vergete?

Die implisiete gesprek met Etienne Leroux moet nog deegliker besoek word en ook Moby Dick (1851) soos Oma Prinsloo uitwys.

’n Oma weet ons ook beteken ’n karsinoom of ’n abnormale groeisel.

Joan Hambidge

Endnoot:
[1.] Hierdie nota het op versoek van Media24 verskyn:

Oor Grense'n lewe in die media in 'n tyd van verandering (Jonathan Ball) van Ton Vosloo is ’n memoir. En hierdie soort teks se sinonieme is outobiografie, lewensverhaal, herinneringsteks, joernaal, reminissie, o.a. verklap sy aard. Dit is ’n sogenaamde “naked I” wat besig is met ’n bestekopname van hoé hy sy lewe onthou en die besondere openbare figuur geword het.

Uiteraard moet ’n mens dan alles deur hierdie optekenaar se bril beskou. Die waarde van so ’n teks is dat dit ’n stuk geskiedenis weergee. Dikwels sterf mense en ’n hele stuk institusionele geskiedenis verdwyn saam met hulle soos die museum in Rio de Janeiro wat afbrand. Artefakte in ’n memoir is daardie oomblikke of oorgange wat mense wat nie oor binnekennis beskik nie inlig oor hoe dinge gebeur het. Hoe het Koos Bekker op die toneel gekom? Hoe het Naspers so ’n magtige maatskappy geword? Wat is (en was) die rol van politieke figure – soos P.W. Botha en Pik Botha – in hierdie tye? Het Naspers nog ’n siel? Was I.L. de Villiers gewoon stroomop?

Agternakennis is ’n eksakte wetenskap, waarsku Vosloo. ’n Man wat swaar groot geword het, maar met ’n enorme dryfkrag hom gevestig het tot die magtige figuur wat hy geword het. Hy gee erkenning aan raadgewers – soos o.a. Elize Botha en Fran du Plessis – en wys die kanselierspos aan die Universiteit van Stellenbosch van die hand. Hy ken sy beperkinge en hierdie posisie sou hom ontoereikend laat voel het.

Hy fokus veral op kwessies buite hom. Persoonlike sake, soos die geboorte van ’n kind wat verswyg word, ofskoon hy pynlik-eerlik skryf oor die dood van ’n broer. 

Hy vra byvoorbeeld: Was die uitbou van Naspers, met die eerste wig die skepping van M-Net,’nwyse besluit?

Hy antwoord: Ná die algemene verkiesing van 1994 het die rol van die ou, regerende
Nasionale Party en die verbintenis tussen die Party en die Pers in Suid-Afrika tot ’n einde gekom (35).

En hiermee verduidelik hy hoe alles verander het. Naspers is ’nreus inderdaad, maar hy waarsku dat ’nmens nederig moet bly; die ekonomie is immer wispelturig. (Het ons nie gesien wat met Steinhoff gebeur het nie?)

Eerder die josefsbeleid as uitspattigheid, is sy motto.

In hierdie geskiedenis van Naspers word vertel van die verskille tussen Vosloo en Bekker. Bekker se gevoel was dat hierdie boek van Lizette Rabe nie moes verskyn nie. “As hulle oor die maatskappy se verlede moes lees, sou dit die aandag van die ANC-regering op die maatskappy vestig en kon dit sy gereguleerde besighede, soos DStv en digitale uitbreidings, in die gedrang bring” (68). Dat dit waarskynlik ’n oorreaksie was, is nou duidelik.

Die woeste stryde en politieke gevegte word goed weergegee: So het dit daaraan toegegaan in dié tye, merk Vosloo ironies op. Daar is Broedertwiste, ’n humeurige PW, dreigemente van sensuur teen grensoorskrydende skrywers, jong joernaliste wat hulle by die WVK uitspreek teen die ou regering en hul base. Maar Ton vergewe en bring almal weer bymekaar.

Van Joyce Waring tot die Inligtingskandaal en Perskor se knoeiery is hier te lese. St. Nelson tot Mandela word ondersoek. Ook oor die toekoms van Afrikaans skryf hy insigryk.

’n Groot storie kan hard slaan, dit begryp hy. Dit is ’n belangrike tydsdokument.

© Joan Hambidge