Resensie | Footnotes for the Panther:Conversations Between William Kentridge and Denis Hirson. Fourthwall Books, 2017. ISBN 978-0-9947009-3-3
Resensie: Joan Hambidge
William Kentridge is 'n besondere kunstenaar, filmmaker, librettis en kunstenaar wat sowel die beeldende en grafiese kuns uitbring by musiek en opera. 'n Paar jaar gelede had ek die voorreg om 'n show van hierdie merkwaardige kunstenaar mee te maak in Kaapstad. Verskillende vertrekke in die kunsgalery was ‘n representasie van sy grafika en animasiewerk met musiek, o.a. van Philip Miller daarby.
Kentridge se internasionale statuur is welbekend van die VSA tot in Europa as grensverskuiwer.
Denis Hirson is bekend vir die roman The Dancing and the Death on Lemon Street. Verder is hy 'n antalogis van onder andere Heat of Shadows: South African poetry 1996–2013. Ma langue au chaten 'n studie in Frans oor oor die posisie van die anglofoon wat skryf, werk en vertaal in Frans.
Hier kan sy poësievoorlesings gehoor word (Denis Hirson. Poetry Readings. 2013 - YouTube):
Nou bring jy twee figure wat sterk opinies het oor die kunste en hulle tree in gesprek met mekaar. Terselfdertyd is beide die mening toegedaan dat kuns 'n politieke rol het om te vervul. Die titel aktiveer 'n gesprek rondom Rilke se beroemde gedig "The Panther" ("Der Panther") geskryf in 1902. Die sub-titel van die gedig is In Jardin des Plantes, Paris.
Hierdie gedig is al deur vele vertalers aangepak:
Sein Blick ist vom Vorübergehn der Stäbe
so müd geworden, daß er nichts mehr hält.
Wat 'n wonderbaarlike boek is hierdie gesprekke nie. Twee belese en intellektueel-opgeskerpte figure tree in gesprek met mekaar. Beide Joods en Joodsheid, anti-Semitisme kom uiteraard onder die loep. Nes wit bevoorregting.
Waarom die kunstenaar begeerte het tot uitstalling ("What is the need to impose oneself?", 110) sal jare se psigoanalise neem om dit te begrond, meen Kentridge. Die sirkelgang van die kunswerke (Borges is hier 'n belangrike kode) én die kunswerk as proses, word geplaas teen die gesprekke en annotasies van Pound en Eliot róndom die ontstaan van The Wasteland (134).
Die Norton lesings te Harvard in 2012, 'n gesogte uitnodiging, gee 'n verdere blik op hierdie intellektuele kunstenaar. Dit is gepubliseer as Six Drawing Lessons (Harvard University Press, 2014).
Borges het dit gegee in 1967-68 en hierdie besondere skrywer en digter se werkswyse sluit aan by die self-representasie, mise-en-abîme, die labirint, biblioteek (by Kentridge die studio), ensomeer.
Die endnote is verdere sleutels vir die leser, soos The Life and Death of 9413 a Hollywood Extra (1928), 'n film deur Robert Floey en Slavko Vorkapich. E.L. Doctorow se siening van die skryfprojek word gesien as 'n reis per motor; soms moet jy terugkeer om agter te kom waar jy verkeerd afgedraai het.
Die bekende film Ready to Wear (Prêt-à-Porter) van Robert Altman uit 1994, 'n satiriese analise van die modebedryf wat in Parys afspeel, is presies wat Kentridge in sy boek doen. Party van die akteurs vertolk hulself – en Kentridge plaas homself pens en pootjies binne-in van sy kunswerke.
Die boek is pragtig uitgegee en is vir lank lees, nabetragting en herdink met pragtige afdrukke.
Kentridge is in Frankryk vereer met die titel Commandeur de l'Ordre des Arts et des Lettres. Welverdiend.
En die titel? Iets van die poging om die oorspronklike dier vas te vang of weer te gee.
Kuns as grensverskuiwings, die kunstenaar as akteur. Kentridge het Politieke Wetenskap en Afrika Studies aan Wits bestudeer en mimiekkuns bestudeer en mimiekkuns aan L'École Internationale de Théâtre Jacques Lecoq in Parys, met die hoop om ‘n akteur te word. Hy is ook die seun van gesiene aktivistiese regsgeleerdes. Sowel die moeder en vader het mense verdedig teen die ou apartheidstaat en Nadine Gordimer was ‘n huisvriend van sy ouers. Refleksies oor Joodsheid kom na vore.
Hy erken prontuit sy bevoorregte wit grootwordjare en hoe hy die Perseus-mite as jong kind gehoor het. En hier reflekteer hy op die ingewikkelde verhouding wat ‘n mens met jou eie jong self beleef wanneer jy terugkyk (173). Ons het immers verskillende selwe en op bladsy 220 word Czeslaw Milosz aangehaal om dit te illustreer:
The purpose of poetry is to remind us
how difficult it is to remain just one person,
for our house is open, there are no keys in the doors,
and invisible guests come in and out at will.
Die boek is duur, maar beslis aan te beveel. Baie van die uitsprake vra vir herdink en herbesinnings.
Die endnote is reeds ‘n studie op sigself: van Tinus de Jongh tot die I Ching, verwysings na Herman Charles Bosman, Athol Fugard, David Goldblatt, Picasso, Jackson Hlungwani, Homi Bhabba (wat die vraag-en-antwoord-sessie gelei het tydens die Norton-lesings), Tadeusz Kantor, die Poolse dramaturg, om enkele bakens te noem, begelei hierdie studie. Thick time. Lullaby for a House Alarm.
Laurie Anderson gooi ook ‘n draai hier: "I’m lying in the shade of my family tree / I’m a branch that broke off / What will become of me?” (“Beautiful Pea Green Boat”).
Met hierdie lees – wat ‘n voorreg was dit nie – kom ‘n mens onder die indruk van ‘n komplekse mens wat sy teenstrydighede ondersoek en blootlê. Sy obsessie met tyd en herinnering is eweneens opvallend. Nes die “binne-immigrasie” teenoor die werklike migrasie (294).
Soos die insekplaag wat “kunswerke” word met suikerwater. Is die insekte geleer om te teken? (36)
Fouth Wall Books lewer weer gehalte: ons dink hier aan Stephanus Muller se Nagmusiek, daardie kluif van ‘n opwindende en uitdagende biografiese roman oor Arnold van Wyk.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)