James Patterson. Pop
goes the weasel. Little Brown,
1999. ISBN: 9780316693288.
Resensent: Joan Hambidge
Pop goes the weasel van James Patterson neem nie verniet 'n
blitsverkoperplek in nie. Dit het al die elemente van die goed geskrewe
speurverhaal: die leser soek saam met die speurder na die moordenaar. Tog is
hier 'n interessante afwyking, omdat die leser saam met sowel die speurder (in
die eerstepersoonperspektief weergegee) as die moordenaar (in die
derdepersoonperspektief vertel) beweeg.
Die leser het dus as't ware 'n voorsprong omdat hy/sy
binne in die moordenaar se kop kan sien. (Hierdie roman bewys dan ook teoretici
se standpunt korrek dat die derdepersoonperspektief meer onthullend is oor die
binnelewe van 'n karakter as die eerstepersoon). Ook word moderne tegnologie ingespan
soos e-pos en internet-konneksies om die roman meer spannend te maak. 'n
Komputerspeletjie word vir een van die deelnemers “waar”.
Die verbintenis tussen Geoffrey Shafer (die “weasel”) en
Alex Cross, die speurder word met oortuiging vertel. Voeg hierby 'n voorliefde
vir speurverhale en 'n belangstelling in die psige van die reeksmoordenaar se
psige en hierdie psigologiese riller behoort jou eweneens te inspireer. Dit is
ligte leesstof, maar nie “trashy” nie.
Die roman se verdere wins is dat die rolle van
moordenaar en speurder omgekeer word sodat laasgenoemde in die beskuldigdebank
staan. In hoofstuk 121(!) bely die speurder hoe moeilik dit is om slagoffer te
wees.
Daar is talle verwysings na moderne Amerikaanse kultuur
soos Oprah Winfrey, O.J. Simpson, psigobabbel, ensomeer. Veral die Simpson-saak
blyk 'n kode te wees in hierdie roman. Hiermee wil hy beklemtoon dat die leser
met die werklikheid te make het. Hierom ook die noukeurige
beskrywings van die hotel waarin Ian Fleming gebly het.
Hierdie tegniek skep dan verdere spanning te midde van
ontvoering, moord (ook op 'n kollega) en duplisiteit.
Ook berus baie van die ontknopingspatrone op
manies-depressiwiteit en medikasie vir hierdie psigiese toestand.
Patterson is waarskynlik die Deon Meyer van die VSA: hy
skryf onderhoudende speurverhale wat deurgaans van intelligensie getuig. Soos
in die film Reservoir dogs wat
gebruik maak van 'n spel, Cludo, word hier ook met 'n speletjie gewerk.
Vir hierdie leser was dit ook relevant om te sien in
welke mate die moderne tegnologie die patroon van die speurverhaal verryk,
terwyl die basiese struktuur steeds dieselfde bly.
En die leser se verwagting ook. Wat hier deeglik gepop
word.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Beeld geplaas.]