Wednesday, June 26, 2013

Heilna du Plooy & Loftus Marais - Nuwe stemme 5 (2013)



Heilna du Plooy & Loftus Marais (Red.). Nuwe stemme 5. Tafelberg, 2013. ISBN 978 0 624 058861

Resensent: Joan Hambidge

‘n Eksperimentele werkswinkel-essay

I. Mirakels en muses

Op versoek van die webmeester, Marlise Joubert skryf ek hierdie verslag oor Nuwe stemme 5.

Goed willig ek in, maar verduidelik: dit kan nie ‘n gedistansieerde resensie wees nie. Ek is immers self besig met die begeleiding en ontdekking van jong talent. Hierom besluit ek dan op ‘n essay wat die prosesse sal verduidelik. ‘n Soort apologia pro domo. Maar sonder om kritiese afstand in te boet.

Nuwe stemme is nou reeds ‘n instelling in ons digkuns en as aktiewe kreatiewe skryfwerk-begeleier van die digkuns (in sowel Afrikaans as Engels) word daar na tendense én prosesse gekyk. Kreatiewe Skryfwerk word tans aan verskeie universiteite aangebied en by die UP se Winterskool het ek die afgelope paar jaar in ‘n koue winter voornemende digters van raad bedien. Hier is drie nuwe stemmers meegemaak. (Een nuwe stemmer was in my kursus.) Binne een week probeer jy as gepubliseerde skrywer fabrieksgeheime verklap. Nie altyd met sukses nie. ‘n Jong, seergemaakte digter daag na twee dae op nie; ‘n ander een weier om jou raad te aanvaar (en jy wonder waarom is jy hier?) Selfs ‘n klagte dat jy nie genoeg aandag gee aan iemand se “uitstaande” werk nie…

En my mantras is algemeen bekend. Jy kan net dig as jy kan lees (en gelees het). Jy moet ten minste Groot verseboek ken en handleidings oor die digkuns plunder soos Ottone M. Riccio se The intimate art of poetry. Dit is gepubliseer deur Prentice Hall in 1978.

Daar is nie ‘n metafisiese reël wat vir elke gedig geld nie. Die goeie digter skep sy/haar eie reëls. Maar jy moet dit ken om dit te kan breek. En jy skryf altyd teen die back drop van ‘n tradisie.

1 ‘n Goeie gedig is konkreet;
2 ‘n Goeie gedig se beelde klop (kongrueer) soos ‘n kasboek;
3 ‘n Goeie gedig se slot vang alles op;
4  Skryf met ‘n woordeboek langs jou; verkieslik ook ‘n sinoniemwoordeboek;
5  Moenie ‘n woord herhaal in ‘n gedig nie (‘n les geleer by De Lange) tensy dit 
    funksioneel is;
6 Gebruik leestekens;
7 Bly weg van verkleinwoorde;
8 Bestudeer digterlike vorme en oefen om ‘n distigon te skryf (o.a.) soos ‘n 
    tennisspeler afslane oefen;
9 Wees bedag op die maklike rymwoord;
10 Bly weg van geykte beelde
11 en gebruik uitroeptekens spaars!
12 Kontroleer feite, behalwe as jy opsetlik ‘n gat in die betekenis van die gedig 
     wil los;
13 Vermy geleerde of grootdoenerige woorde;
14 Moenie die gedig vir die leser interpreteer nie; die gedig moet sélf die 
      betekenis oordra;
15 Probeer die woord “wat” vermy, omdat dit al te maklik in prosa mag oorgaan;
16 Moenie preek nie;
17 Sorg dat die interne grammatika van die gedig reg is. Die sintaksis moet die gedig
      voortdryf. Miskien iets soos klippe in troebel waters waaroor ‘n mens kan loop;
18 Tel die sillabes sodat jy die metriese patroon noukeurig kan volg.

Hier is nog raad: "Fabrieksgeheime: 3 digters gee raad".

Alle digters het mentors, al is dit net simboliese mentors wat hulle raaklees in bundels of bloemlesings. Toe ek as jong digter op die toneel gekom het in 1982 was publikasie in Standpunte of Tydskrif virletterkunde ‘n eer. Deesdae is daar die internet met vele webruimtes (o.a. Litnet & Versindaba) waar digters kan publiseer. Persoonlik gebruik ek beide ruimtes as ‘n toetsterrein en skroom nie om ‘n vers te herskryf nie. Studente wat onder my studeer aan die UK mag nie publiseer tydens die kursus nie, omdat die portefeulje oorspronklik moet wees. Daar is wel “publikasie” in die vorm van klasbywoning en die blootstelling aan ‘n sirkel van lesers. En voortydige blootstelling is sleg vir jong digters wat aan hierdie swak debuut geken sal word.

Die mentor moet eweneens die verbintenis óphef wanneer die bundel voltooi is sodat die jong digter sy/haar eie stem alleen kan ontwikkel. Werklike mentorskap moet dan verplaas word na simboliese mentorskap.

Digterlike stamina. Dit is waarskynlik die belangrikste eis vir die digterskap. Kan jy aanhou en uithou soos ‘n Comrades-atleet?

En wees eerlik met jouself: hoekom dig jy? Heilna du Plooy spreek hierdie kwessie aan in haar inleiding. Volgens my is die digkuns nie ‘n plek vir hipertrofiese, selfingenome mense nie. In jou hart moet jy altyd twyfel aan jou talent en nederig bly voor die groter figure wat al die terrein bestryk het. As jy skryf vir pryse, trofees, applous of simboliese onderskeidings, mis jy die punt van hierdie bedryf volledig.

Nou onlangs het ek begin met ‘n essay oor Lacan en Kreatiewe Skryfwerk na aanleiding van die TV-reeks In Treatment. Net soos die analysand sy/haar analis kies, bly dit die reg van die voornemende kreatiewe student om te besluit watter skryfkursus jou sal pas. Aniel Botha, Fourie Botha, Karen Kuhn, Martina Klopper, Hennie Nortjé, Carina Stander – in alfabetiese volgorde – het onder my gestudeer en solo-bundels gelewer. Daar is nog ander talent wat wag op solo-publikasie.

Ook ek had my mentors. In boeke was dit nog altyd Eybers en Van Wyk Louw; Sylvia Plath en Anne Sexton; nóú Michael Donaghy en immer Wallace Stevens – te veel om op te noem. In lewende lywe was dit Opperman in 1977 in ‘n derdejaarkursus met sy befaamde letterkundige laboratorium waar hy sinryke lesse geleer het.

Gedigte is anoniem voorgelê in ‘n boekie saamgebind en Opperman was die fasiliteerder wat jou geweldig baie geleer oor die prosesse ágter die digkuns. Hy het gewys daarop dat daar stryd is. Sy digterlike loopbaan was dikwels antwoorde op Van Wyk Louw. Ons ken Harold Bloom se “the anxiety of influence” en die siening van “belatedness” – ‘n mens veg in jou gemoed met diegene wat reeds dit wat jy wil sê soveel beter gedoen het.

En natuurlik is daar Johann de Lange wat deur die jare my verse gelees het. By hom het ek die wáárdevolste les geleer: om te kan dig, moet jy kan lees; stiplees. En wanneer ‘n gedig voltooi is, moet jy jou eie kritikus word en kyk na die gedig asof jy dit nie geskryf het nie.

Jy moet dus met jouself kan skaduboks. Ek rond nou ‘n bundel af en keer terug na die gedigte: Vir wie skryf jy jou gedigte? wat ek verander na:

44 Vir wie skryf jy jou gedigte?
Vir Johann de Lange

Vir woordfeeste waar, uitgestal
saam met ander “gewilde digters”,
jou optrede verydel word
deur laatkommers of feesgangers
op soek na iets beters
wat die deur oop en
toe laat konsertina?
Vir daardie geliefde wat nooit die gedig
oor jou hunkering en pyn
sal lees nie en net onthou
dat die bed immer haaks was?
Vir ‘n vlymbekkige kritikus
‘n byltjie aan't slyp
oor ‘n onbetaalde rekening
op ‘n ander plek en tyd?
Vir skoolkennisse van wie jy nóg die naam,
en nóg minder die bynaam kan onthou,
wat familiêre groete stuur
via ‘n ander onbekende siel?
Vir jou pa aan die "ander kant"
wat in drome verskyn
aan jou oudste suster
in ‘n blazer en das
en met woorde van vertroosting?
Vir jou ma wat jy versoek
om eerder nie die gedigte te lees nie,
sodat die pyn van ‘n troostelose jeug
stiekem kan verbygaan?
Vir jou terapeut met wie jy laatnag-gesprekke
voer oor jou verknoopte psige
en wat jou aanmoedig om tóg aan te hou?
Vir jou vriend wie se kind
selfdood pleeg sonder ‘n afskeidsnota?
Vir jou mede-digters wat smaal
“die voorlaaste bundel was beter”?
Vir buitelandse digters wat ontsyfer
aan vertalings getransporteer
van een taal na ‘n ander, immer in transit?
Vir jou susterskind
skrywend aan ‘n opstel oor jou digkuns
timmer timmer laatnag?

L’envoi

Vergewe die wrang aanslag, liewe leser,
(en ‘n gedig wat oop-en-toe konsertina)
keer terug na Auden, o amateur, en weet:
‘n gedig laat niks gebeur!

Wat die belangrike vraag aktiveer: vir WIE skryf jy jou gedigte? (En vir WAT?)

Wees genadeloos. Skryf die vers af. Gooi hom weg. Of sit dit in ‘n legger: op die regte tyd sal die vers sig aanmeld.

II. Woord en wederwoord

Die belangrikste aspek van die Nuwe stemme-reeks is dat dit ‘n seleksie bevat van digters wat ook werkswinkels aangebied het. Heilna du Plooy het dan ook in ‘n onderhoud op hierdie aspek kommentaar gelewer. (Onderhoud met Heilna du Plooy oor Nuwe Stemme 5).

Geen mentor kan “objektief” of “neutraal” wees nie. Maar die student kies die mentor en moet die simboliese gesag van die mentor aanvaar anders kan die proses nie voltooi word nie. Hierom verwys hierdie mentor haar studente altyd na sang. Daar bestaan vele voorbeelde, maar kyk op YouTube na hierdie een met Monserrat Cabballé as die leermeester. (Ilona Domnich, Soprano-Master class with Montserrat Caballe 2008)

What makes a great soprano?

Kiri te Kanawa seg dit kos jare se oefen. En kyk hoe gee sy praktiese raad oor asemhaling. Ek leer ook my student om gedigte hardop voor te lees.

En gee Kiri te Kanawa die volgende raad: “simplify the technique”.

En jy moet sterk, fiks, in “proper shape” wees – net soos die digter eweneens emosioneel moet fiks bly. Soos die operasanger moet vasstaan om die hoë note uit te kry, moet die digter weer en weer terugkeer na die gedig en daaraan skaaf.

Of gaan goegeloer hoe Leonard Bernstein met Carreras se gal werk in die repetisie van West Side Story. (Leonard Bernstein/ West Side Story, studio-takes.)

Carreras! Carreras!

Of wat van Sutherland! (1995 Masterclass - Joan Sutherland)

Daar is uiters talentvolle digters wat saam met my op die toneel verskyn het, wat jammer genoeg verdwyn het. Dalk is dit ‘n blote gebrek aan belangstelling, maar ek dink dit het ook iets te make met dit wat Renée Fleming benadruk: ‘n opvoering duur drie ure; dit is emosioneel uitmergelend want jy sing dikwels oor verlies en pyn. En wie wil nou jaar in en jaar uit gedigte skryf oor die afwesige vader, isolasie, nostalgie, verlore liefdes as jy ‘n ryk sakeman kan wees? Of ‘n gigolo?

III. Dolosgooiers van die woord

Ware digters mag verskil in aansien, maar hulle het almal dieselfde DNA. Hulle bly aanhou, aanhou, aanhou totdat hulle ‘n uitgewer vind wat belangstel. En bly hulle voortskryf – ten spyte van wat ander mag sê of nie sê nie. Trouens, daar is digters wat doodgeswyg is en tog aangehou is. Thomas Wentworth Higginson het na sy kritiese reaksie nie vir Emily Dickinson stilgemaak nie. Sy het nou wel in haar lewe net 7 verse gepubliseer nie, maar steeds bly dig.

Neem kritiese raad ter harte en move on.

Gaan kyk na die resepsie van De Lange se bundels deur die jare en wat ‘n opdraande stryd dit was vir hom om te kom tot waar hy nou as ‘n gerekende digter staan. (Die resepsie van die digkuns en prosa van Johann de Lange. Polemieke en enkele onderhoude)

IV. Digterlike diagnose

‘n Gevestigde digter en jonger digter is die samestellers van Nuwe stemme wat nou al die vyfde nommer beleef. Dit is ‘n vertoonkas vir jong digters wat nog nie genoeg gedigte het vir ‘n solo-bundel nie, maar genoegsame belofte vertoon. Daar is vele talente wat deur hierdie proses van werkswinkels en publikasies beweeg het tot ‘n volwaardige digdebuut. Die werkswinkels, so verneem ons, is al hoe “dringender”. In die pers noem Loftus Marais die bundel “byderwets, vernuwend en relevant” ("18 nuwe stemme klink op", Beeld, 14 Mei 2013 ) [1].

Byderwets en relevant ja, vernuwend dalk nie oral nie. Vernuwing is ‘n groot woord. Die drif-tot-vernuwing is ‘n bo-menslike eis; en wat dikwels as vernuwend gesien word, staan reeds in menige gepubliseerde gedigte. Vernuwend as kritiese eis is dikwels moeilik – en “vernuwend” is digters wat die kanon dramaties verander. Figure soos Opperman, Breytenbach, Cloete, o.a. Andersins praat ons eerder van ‘n eie stem.

Die bloemlesing bevat ‘n deeglike verantwoording van Heilna du Plooy. En ‘n goeie inleiding deur Loftus Marais. Du Plooy skryf sober, akademies en Marais wys op die onnodigheid van so ‘n inleiding, omdat die gedigte op hul eie bene moet staan. Die bundel bevat ook nie biografiese besonderhede van die digters nie; ons word dus gedwing om te fokus op die gedigte.

Nou die bundel – terloops, die lys van name agterop is onvolledig en ons sien net name en gedigte. Geen bio-inleiding wat die aandag aftrek of jou bevooroordeeld maak nie.

Met ‘n eerste lees, val hierdie verse my op:

Gerhard Bothma: Silhoeëtte” (21)

Joan-Mari Barendse: America’s next top poet”(40)

Desmond Painter: By die reünie”(61); “Jy het Griekeland gehaat” (65) ; 
“Sondagmiddag” (67)

Neil Cochrane: Lyfvaart: pastiche” (75)

Fanie Viljoen: dekonstruksie” (85)

Alwyn Roux: Teken” (97)

Ihette Jacobs: The sound-of-silence” (104)

Jaco Barnard-Naudé: Manu magister” (55)

Hilda Smits: deesdae is Londen my stad” (111)

Pieter Odendaal se “die eerste steen” (129); “Meiose” (151)

Natuurlik verraai dit iets van my leesvoorkeure. Ek hou van reisgedigte, reünies, pastiches of postmodernistiese speletjies, intertekste, stiltes, afwesige lover’s wat die vers aanstig en die tegelykertydasapek van die gedig: daar waar die onderwerp en die tegniese aanslag een word. Kortom, ek hou van tegniek. Maar tegniek soos ‘n bedrewe gokker jou kul met ‘n vinnige beweging van die hand.

Met ‘n tweede lees, sien ek hierdie twee verse op die Versindaba se webblad:

Overberg

berge ou seer lywe
in die wind
onder ’n papryp son
gis lande koring
skape drentel rond
’n valk se skadu
volg hom oor die afgrond

(Gerhard Bothma)

Ja, less is more. Die slot en begin is treffend. En hoe meer ‘n mens lees, hoe meer karring die vers aan jou gemoed.

vir pa, soos die ander

pa die sluise bruis vanaand weer soos in kanale are wat bars
deur die nate van tyd pa ek was in amsterdam die water het
geblink in die donker daar was swart vlekke swane en ons het
bier gedrink en geproost soos regte kaaskoppe pa en daar was
sprake van groningen in ’n bar daar was lang mans wangbene
gekap uit been en voor vondelpark het ek vir eybers
raakgeloop en mense het binnensmonds gemompel en ek het
op die punte van my tone geluister soos toe ek as kind julle
geheime taal wou ontsyfer daar was die flits van fietse in lane
my kamera-oog het geknip gefokus die dag het silwer geskarrel
in die tonnel van my oog en in die sekondewaas was ouma
hilda ook daar saam met jou pa

(Hilda Smits)

Die interteks is kennelik Eybers se “Twee kleuters in die Vondelpark”. Ongelukkig oordonder die interteks die vers. Moenie sleg voel nie. Sy sny ons almal se tonge uit. Boonop kry ‘n mens die gevoel die digter het nog nie uitgekom by dit wat sy werklik vir die pa (en ander) wil sê nie.

Wel goed is die bewussynstroomtegniek en die assosiasies wat die spreker maak.

V. Swaarte- en Ligpunte

In haar sinryke inleiding vra Heilna du Plooy onder andere:

Hoekom lees ons gedigte, terwyl gedigte tog nie die wêreld kan verander nie?

Sy wys op die tematiek in die bundel: die liefde, die dood, vigs, die media, die ouers (veral die vaderfiguur), ontnugtering, e.d.m. – bekende bakens in die digkuns…

Hoeveel van hierdie gedigte kom by Roman Jakobson se eis uit, naamlik om gewone taal georganiseerde geweld aan te doen?, soos Du Plooy dan aanhaal. Om die klip dus klipperiger te maak, soos Sklovský dit so netjies geformuleer het.

En hiervoor kyk ‘n mens na beelde en nie na persoonlike opmerkings van die digters nie.

Enkele kanttekeninge:

Georganiseerde geweld of om die klip “klipperiger” te maak is waarskynlik die moeilikste eis van die digkuns. Aan nuutsegging of oorspronklikheid word die digter immers gemeet.

Met my derde lees, is ek veral onder die indruk van die oorspronklike beelde in die gedig “Ballade” (135) van Pieter Odendaal.

Die treintrok het gedig geword
die lied was ons enjambement
en almal was veeltalig een,
behalwe die simpel vent.

En “oë wat sci-fi-strale skiet” is ook skerp.

Die digter bring die wêreld van die digkuns, treinry (ja die strofes is soos treintrokke) en beelde uit die filmwêreld. Ook die aanwesigheid van selfone word hier ingebring met die wete dat die digkuns tóg iets is waarmee die spreker ander kan uitoorlê. En dis hierdie geloof in die digkuns wat waarskynlik soveel belofte inhou vir hierdie digterskap. In die gedig “die see glim soos die weerkaatsings van die boek” (131) is daar dieselfde ont-plooiing van taal.

Ek dink hier aan “die kerktoring se stilblyvinger”, “ry daar ‘n fiets // uit die garage van my harsings” (131).

In “Meiose” (132) lees ons oor die pa: “sy maag peul uit soos ‘n struggle song”.
“die eerste steen” (129) (vir Adam Small) is ‘n vers wat reeds wyd aandag ontlok het. 

Hilda Smits se “Vir Primo Levi” (114) imponeer eweneens.

“By die reünie” (61) van Desmond Painter is die onthoubare beslis:

Die maan is ‘n semenvlek
op die swart onderbroek
van die aand…

Tegelykertydsaspek:

Daardie gegewe waar die gedig twee sake oormekaar skuif sodat dit één word, vind ons by Jaco Barnard-Naudé in “Manu magister” (55)

Manu magister

die een hand
           reik skielik
oor ’n styfwit tafeldoek
            na die ander
hand
die een hand vreeslik femme
           die ander o so straight:

’n gedig ontspring
by verbode aanraking.

en in “Overberg” (20) van Gerhard Bothma wat ek weer aanhaal om my argument te staaf:

Overberg

berge ou seer lywe
in die wind
onder ’n papryp son
gis lande koring
skape drentel rond
’n valk se skadu
volg hom oor die afgrond

Temas:

Gedigte oor ouers en siekte vind ons hier – soos “Alzheimer” (123) van Izak du Plessis waarin die siektetoestand konkreet verbeeld word. “Die moeitelose selfmoord van dominee De Waal” (126) wys hoe ‘n psigiese dood in wese ‘n soort selfdood word.

Die liefde vind weerklank in die snaakse “The sound-of-silence” (104) van Ihette Jacobs. 

Joan-Mari Barendse se “America’s next top poet” (40) is ironies oor die vraag: kan ‘n mens met toewyding ‘n digter word soos ‘n supermodel? Absoluut!

America’s next top poet

Volgens ’n voorste modelafrigter
kan enigiemand
met toewyding
’n goeie dieet
strawwe oefening
professionele grimering
ontwerpersklere
plastiese chirurgie
en die regte gene
’n supermodel word
ek wonder
geld dit ook vir digters?

Eensaamheid en nostalgie is te vinde in die digkuns van G.P. Terblanche.

Die skryfproses en die bemoeienis met die digkuns is ‘n belangrike tema vir Hendrik van Niekerk wat selfkrities blyk te wees oor die “metaforiese branders” (33, “Verligting in skoon word”). Desmond Painter ervaar ook die skryfproses en die gesprek met die liefdesgedig in Afrikaans wat dikwels op ellende en eensaamheid uitloop (“Sondagmiddag”, 67).

Die “geding met God” vind ons by Wicus Luwes in die aangrypende “’n Beknopte lewe” (43):

ons lewe in skofte
en leer honde om hul pote vir ons te gee…

Oloff de Wet en Desmond Painter gee indrukke van ‘n vreemde landskap soos in “moya” (49) en “Jy het Griekeland gehaat” (65).

Die impak van TV en die impak van plastiek word verïroniseer deur Fanie Viljoen in “plastiek” (87).

Die skilderkuns as uitweg en digterlike konstruk vind ons in “Sneeukoningin” van Gisela Ullyatt (92).

Toespelings:

Adriaan Coetzee se gedig “laat die kind kom” (118) speel in op Leipoldt se oorlogsverse oor die Boereoorlog en Ingrid Jonker se beroemde gedig wat Mandela weer lewendig gemaak. Dit is ‘n slim gedig, omdat die leser se voorkennis van die geskiedenis aangespreek word. Dit aktiveer eweneens die taalstryd.

laat die kind kom

laat die kind kom na my Afrikaansklas
om sy taak oor Leipoldt
in swak skrif op rooi karton
naas plakkate van landmyne en handgranate
teen die muur te plak
laat die kind kom en my halssnoere
op die voorblad bespreek in Voorligting
laat die kind kom na my skoolsale
vol foto’s van Kruger tot Mandela
en Hoe groot is U sing

Neil Cochrane en Alwyn Roux se gesprekke met die tradisie is gesofistikeerd. Eersgenoemde met postmodernistiese aanslag (“Lyfvaart: ‘n pastiche”, 75) en laasgenoemde in sy gesprekke met Breytenbach.

Desmond Painter bely pront hy het ‘n gedig afgekyk (“Aanvaarding”, 62).

Carina van der Walt maak aanspraak met die mona lisa-obsessie in “Amon L’isa” (79) en “kontra-komposisie” (81) word ‘n slim kuns-paper chase.

Fanie Viljoen noem ‘n gedig “dekonstruksie” (85).

Tegnieke:

Facebook maak hier konkreet sy opwagting (Desmond Painter se “Vier Facebook Status Updates”, 71).

Daar is beeelddigte – wat dui op groter afstand van die self – soos die gedig oor Rosa Luxemburg (“Gesoek: Rosa Luxemburg” van Jaco Barnard-Naudé, 58) en die reeds genoemde “Vir Pirmo Levi” (114) van Smits.

Die spel met die sonnetvorm is ook hier (“Jeugfoto: ‘n vals sonnet”, 55) van van Barnard-Naudé. Die vierreëlige vers word aangetref in “Silhoeëtte’ (21) deur Gerhard Bothma.

Die distigon vind ons by Barnard-Naudé in “In transit” (54).

Adriaan Coetzee maak ons attent op die aanwesigheid van die speltoetser (“Instrumentalis”, 117) en die spanning tussen natuur en masjiene.

Die kaberetagtige vers vind ons ook hier, soos by Desmond Painter wat die oeroue spanning tussen die lied en die digkuns aktiveer (“Miss Jesus”, 63).

Neil Cohrane is speels en ironies in sy pomo-verse.

Kritiek:

Die naamregister agterop is onvolledig.

Boeke en internetverwysings vir verdere bestudering:

A.P. Grové: Woord en wonder. Nasou, 1984.
Henning Snyman: Mirakel en muse. Perskor, 1983.
Camille Paglia: Break blow burn. Knopf Doubleday, 2005.
Ottone M. Riccio: The intimate art of writing poetry. Prentice Hall, 1978.
Johann de Lange se blog Kaapse paragrawe.

Heilna du Plooy sluit tereg haar inleiding af met ‘n verwysing na Sheila Cussons, iemand wat destyds in Opperman se Stiebeuel-reeks gedebuteer het en gegroei het tot een van die grootste digters in Afrikaans. Haar debuut Plektrum bly ‘n hoogtepunt.

Kom ons kyk wie gaan genoeg stamina hê om alleen te debuteer. Daar is genoeg blyke van genoegsame talent in hierdie versameling wat ‘n mens hoop gee vir die “loneliness of the long distance poet”.
                  
Ek wil nie al die gedigte aanhaal nie, omdat die leser die boek moet koop!

Junie 2013

Joan Hambidge

Is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK. Haar laaste bundel heet Lot se vrou (2012). In September verskyn Meditasies by Human & Rousseau. Vir Visums by verstek (2011) is sy bekroon met ‘n ATKV-Woordveertjie. Hoe ouer sy word, hoe meer voel sy dat net vleis en tamaties gegradeer behoort te word.

Sy glo ook dat ‘n mens met elke bundel soos ‘n slang moet kan vervel en nuwe tegnieke onder die knie behoort te kry. Haar blog heet Woorde wat weeg

Sy is op pad Viëtnam toe aan die einde van die jaar en probeer haar hand waag aan die luc bát. (Lục bát - Wikipedia, the free encyclopedia)

Endnote:

Rudolf Stehle. 18 nuwe stemme klink op. Beeld, 14 Mei 2013.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Versindaba geplaas.]

Kerneels Breytenbach - Piekniek by Hangklip (2011)


Kerneels Breytenbach. Piekniek by Hangklip. Human & Rousseau, 2011. ISBN 9780798156035

Resensent: Joan Hambidge

‘n Literêr-teoretiese speurtog: ‘n analise van Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip

Opsomming

Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip tree in gesprek met die tradisie van die speurverhaal wat sedert E.A. Poe se The purloined letter ‘n aktiewe speurder het. Hierdie roman is egter ‘n speurverhaal sonder ‘n speurder sodat die leser in die posisie van die speurder geplaas word. Daar is etlike tegnieke wat deur Breytenbach aangewend word om hierdie effek te bewerkstellig, te wete die toespeling op Peter Weir se bekende film, Picnic at Hanging Rock en die gebruik van ‘n ouktoriële verteller wat veral in die romans van o.a. Fielding na vore kom. Hierdie verteller is outoritêr en manipuleer die vertelling met opsommings en binnetredes. Daar is ook aandagafleiers (red herrings) in die roman wat die speurverhaal vérder parodieer, soos verwysings na bekende en minder bekende Afrikaanse gedigte en werklike mense. Terselfdertyd betrek die outeur ook strategieë van twee satirici, te wete Etienne Leroux en Thomas Pynchon. Beide hierdie skrywers het in Een vir Azazel (1964) en The crying of Lot 49 (1966) die konvensionele speurverhaal se struktuur verander. Uiteindelik word Piekniek by Hangklip ook ‘n besinning oor die funksie van fiksie binne ‘n geweldgeteisterde samelewing.

Abstract

Kerneels Breytenbach’s Piekniek by Hangklip subverts the tradition of the detective novel since E. A. Poe’s The Purloined letter where there is a visible detective. Piekniek by Hangklip is a novel without a detective thereby positioning the reader as detective. Breytenbach imposes certain techniques to achieve this, namely a reference to Peter Weir’s well-known film Picnic at Hanging Rock and the use of the authorial narrator as demonstrated in the novels of Fielding. The authorial narrator is authoritarian and manipulates the story through summaries and intrusions. The detective story is parodied further by means of red herrings, for instance references to well-known and obscure Afrikaans poetry and real persons. Simultaneously strategies of well-known satirists, namely Etienne Leroux and Thomas Pynchon are also employed. Both authors undermine the structure of the conventional detective story in Een vir Azazel (1964) and The crying of Lot 49 (1966). Piekniek by Hangklip could be read as a meditation on the the role of fiction in a society marred by violence.

1 Die speurverhaal

Die speurverhaal, sedert Edgar Allen Poe se The purloined letter, het altyd ‘n speurder wat die leser se interpretasies bepaal. C. Auguste Dupin tree in Poe se klassieke verhaal, wat oorspronklik in 1844 in ‘n literêre tydskrif verskyn het, op. Die ander twee verhale waarin hierdie speurder ook ‘n rol vertolk, is The Murders in the rue morgue en The mystery of Marie Rogêt. Die verhale het oorspronklik in ‘n letterkundige tydskrif verskyn soos dit gebruiklik was in die laat negentiende eeu. Die naamlose verteller openbaar aan Dupin van die belangrikste sake en die hoof van die polisie wat by hulle aansluit, vertel dan vir Dupin van ‘n saak wat handel oor afpersing. ‘n Brief word omgeruil met ‘n ander een (die duplikaatbrief) en dit gee dan aanleiding tot die storie. Die soektog na die gesteelde brief word nie opgelos nie en hierom word Dupin gevra om hulp. Dupin vind die brief, ontvang die beloning van die polisiehoof (“Prefect”) en bely dan dat die dief besef het dat die speurders sou soek in verborge plekke en hierom is dit nie versteek nie, maar oop en bloot geplaas sodat niemand dit sou raaksien nie. Dupin besoek die minister in sy hotel. Dupin ontdek ook dat D- ‘n nuwe adres op die gesteelde brief geskryf en sy eie stempel daarop afgedruk het. Die brief is ook teruggevou. Dupin laat sy snuifdosie agter as alibi om die volgende dag te kan terugkeer na die hotel. ‘n Geweerskoot in die straat laat D- buitentoe gaan en Dupin ruil die brief om met ‘n duplikaat. Dupin herhaal dus die optrede van D-. Die speurder in hierdie verhaal is net so slu soos die dief en dupliseer sy optrede. In Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip daarenteen, weet die leser vanaf die openingstoneel wie die moordenaar is: Joshua Gumbo (van die Lucky Thirteen-sindikaat) skiet Sonja Griessel se ouers per ongeluk dood tydens ‘n mislukte kaping. 1. Sy soen haar kaper op die mond wanneer sy haar balans verloor tydens die kaping. Dit ontstig hom so dat Josua haar dan agtervolg. Hy het deur hierdie aksie sy mojo verloor. Sy vertrek Kaap toe om die traumatiese gebeure te verwerk en vestig haar op Pringlebaai. Die soektog na Sonja word deur psigologiese spanninge gekenmerk soos in Georges Simenon se Maigret-reeks waarin die speuraksie ondergeskik is aan wat tussen mense gebeur. ‘n Nuwe huis word vir haar ontwerp deur ‘n argitek en terwyl die moordenaar na haar soek, vermoor hy ook ander mense. Verskeie karakters, dikwels onbetroubaar, word aan die leser voorgestel, soos prokureurs, eiendomsagente, boukontrakteurs, swartbemagtigingsaktiviste, ‘n hermafroditiese literêre biograaf, onder andere, wat soos in ‘n Pynchon-roman die raaisel of soektog, kompliseer. (Hierop kom ons terug in afdeling 6.) Hierdie roman word egter beskryf as “’n speurverhaal sonder ‘n speurder”; daarom is die leser uiteindelik die speurder saam met die manipulerende ouktoriële verteller. (Hierop kom ons terug in afdeling 3.)

Die debat tussen Lacan en Derrida benadruk dat skryf en dood gelykgestel kan word. In hul analises van Poe se The purloined letter handel dit om die aleteia oftewel “unveiling” van verskillende maniere van interpretasie. Die doelwit van hierdie artikel is nie ‘n psigoanalitiese ontleding nie, maar eerder ‘n speurtog na die verwysings en spel met die speurverhaal. Die “Seminar on the purloined letter” opgeneem in Yale French Studies van 1972 wys op die verskillende interpretasies en Derrida se siening dat die brief (“die letter”) sowel Dupin as die psigoanalis se oog sal ontglip. Die speurverhaal se moontlikhede word steeds ontgin soos in die BBC se Sherlock Holmes-reeks waarin moderne tegnologie – soos blogs en selfone – help om die moordenaar vas te trek. Sherlock “sterf” ook in Deel II se laaste episode wat weer inspeel op Agatha Christie se Curtain: Poirot’s last case waarin Hercule Poirot aan die kaak gestel word. Verskeie reekse soos The killing wat in Seattle afspeel, werk met die kodes van die speurverhaal en vraisemblance met toespelings op werklike politieke gebeure. Umberto Eco se roman The name of the rose het eweneens in die tagtigerjare die speurverhaal ontgin met Sean Connery in die filmweergawe. Die speurverhaal word nie meer as ‘n mindere genre beskou nie en die tekste van ‘n gesiene teoretikus soos Eco bewys dit.

2 Die titel

Piekniek by Hangklip verwys na Peter Weir se rolprent Picnic at Hanging Rock (1975) met sy onseker einde. Wie is die skuldige? Die oop slot van die film laat die kyker teoretiseer oor die implikasies dat daar nooit sekerheid gevind sal word oor presies wat gebeur het nie. By Breytenbach word die skuldige van die openingstoneel aan ons bekend gestel. Ons is getuies wat toekyk hoe die verhaal ontvou. Weir se rolprent werk met ‘n oop slot en die kyker vind nie sluiting nie. Die tradisionele speur- of moordverhaal is gerig op sluiting (“closure”) met ‘n moordenaar(s) of skuldige wat deur ‘n slim speurder uitgevang word.2. Die rolprent is gebaseer op Joan Lindsay se gelyknamige roman van 1967. In die publikasie van The secret of hanging rock verduidelik Lindsay haar sieninge oor die verdwyning. Die gegewe in die oorspronklike teks is egter sterker, omdat daar nie sluiting is nie en die misterieuse aspek beklemtoon word. Dalk het die meisies in ‘n ander tyd inbeweeg, naamlik ‘n ervaring van die primordiale wêreld van die oerinwoners (aborigines). Die verduideliking van die skrywer dekonstrueer ook die gegewe dat dit ‘n werklike verhaal is, wat sowel in die roman as in die film die gegewe besonder kragtig maak. By Breytenbach is daar ook ‘n werklikheidsdimensie ingebou in die toespelings op die geweld van die moderne samelewing en verwysing na herkenbare ruimtes en mense.

3 Die vertelinstansie: ‘n ouktoriële verteller

Die subtitel van die roman lui as volg: Die geskiedenis van die avonture van Joshua Gumbo en Sonja Griessel. Geskryf in vae navolging van Henry Fielding, outeur van Joseph Andrews. In een volume.

Breytenbach skep ‘n ouktoriële verteller wat van die leser ‘n medepligtige maak met uitsprake soos “boonop weet hy nie wat ons weet nie” en met hofies wat ‘n hoofstuk voorafgaan. Jy, dus die werklike leser, word ook as liewe leser aangespreek. Dit is dus ‘n vertelling wat deurentyd kommentaar lewer op die leesproses en die gebeurlikhede soos dit ontvou. En daardie “ons” is dan eintlik die leser-as-speurder. Henry Fielding (1707 – 1754) se Joseph Andrews is ‘n duidelike interteks wat die opsomming van die verhaalgebeure verduidelik. Fielding was magistraat; Sonja is prokureur. Daar is ook toespelings op die Pamela / Shamela-parodie, te wete die antwoord op Richardson se ernstige roman, wat deur Fielding ontluister en gesatiriseer word. Die roman speel in op Etienne Leroux se Een vir Azazel (1964) met die roman se eiesinnige aanpassing van die speurverhaal. ‘n Mens dink ook aan Erica Jong se Fanny (1991), wat met die tradisie van die Fielding-roman in gesprek tree. Die verhaal van Fanny Hackabout-Jones is ‘n parodie van Fielding se werkswyse. Die ouktoriële vertelinstansie, anders as die personale verteller (derdepersoon), maak die leser deurentyd attent op die fiksionaliteit van die teks, die roman-as-konstruksie. Die sogenaamde “suspension of disbelief” word telkens opgehef en die verhaalgang word ondermyn deur hierdie soort verteller wat breuke in die verhaalgang veroorsaak. In die filmkuns versteur die montage-tegniek die verhaalgang. Culler wys daarop in Structuralist poetics (1975) dat dit ‘n bekende tegniek is van die speurverhaal vir die karakters om die aard van die speurverhaal te bespreek. By Breytenbach is dit die verteller wat hierdie funksie vervul met sy meta-kommentaar en volgens Culler kan hierdie spel met genre-konvensies gesien word as pseudo-parodie, ‘n term van Empson (1975: 150).

4 Literêre toespelings en die implikasies van skryf

Daar is ‘n literator (hy is ‘n trassie) wat biografieë skryf, onder andere oor Abel Coetzee en Jan Senekal. Hierdie spel kry verdere ironiese dimensies veral sedert die afsterwe van J.C. Kannemeyer, die bekende biograaf, in Desember 2011. Op bladsy 414 word die spel ondermyn deur na die werklike biograaf, J.C. Kannemeyer (“die illustere J.C. Kannemeyer”) te verwys. Die verskil tussen die werkswyse van die karograaf en biograaf word hier verduidelik met die implikasie dat ‘n werklike karakter se optrede in ‘n roman fiksionele dimensies aanneem.

Karel Schoeman maak ‘n buiging, soos Barend J. Toerien met sy groot neus. Hierdie inspelings op werklike mense is eweneens ‘n tegniek wat die vraisemblance of werklikheidsdimensie van die verhaalgegewe versterk. Die leser word deur hierdie soort toespelings daarop attent gemaak dat hy/sy besig is met ‘n stuk werklikheid of reportage. Terselfdertyd is dit ook ‘n oomblik van ontluistering: ‘n biografie oor mindere letterkundige figure is onvoorstelbaar. En die verhale oor bekende skrywers soos Schoeman en Toerien (en die mites rondom hul lewens), maak van die skinderstorie ‘n feit, wat die leeservaring problematiseer. Wat is waar? Wat is verdigsel?  Op ‘n skerpsinnige wyse word die rol van die verteller en skrywende instansie geanaliseer en die talle verwysings na die bestaan van God, Boeddha, karma, die noodlot, word ‘n meditasie oor die implikasies van skryf. Flaubert se dictum oor die funksie en rol van die skrywer in ‘n verhaal, word gedekonstrueer. Die verteller meng die hele tyd in en is nooit afwesig nie, terwyl Flaubert se bekende dictum juis was dat die skrywer soos God in die natuur, orals aanwesig, maar nêrens sigbaar is nie.

Ons vind eweneens vreemde name vir karakters, so bekend aan Thomas Pynchon se werkswyse waar dit ‘n simboliese implikasie dra, soos Jaap Schvantz of Cas van Ryneveldt. (Oedipa Maas by Pynchon in The crying of Lot 49 gepubliseer in 1966, beteken: Oedipus, my ass). Daar is vele toespelings: na musiek, na kos, volksfabels en ander verhale wat bydra tot die werklikheidsdimensie van die roman.

Hierdie spel is eweneens bekend aan die filmkuns. Die films van Austin Powers parodieer James Bond en júis in sy satiriese antwoorde wys hy op die pornografie van geweld in Bond-films. Hierdie roman wil ons, soos wat Fielding gedoen het, attent maak op die werklikheid daarbuite. Hierom herken ons werklike mense, soos wyle Kobus Pienaar, aan wie die roman opgedra is. Terselfdertyd kry die karakters nuwe argetipiese status binne die opset van die roman. Die roman tree uiteindelik in gesprek met Sewe dae by die Silbersteins (1962) en veelal lewer die roman vernuftige kommentaar op die gesprek tussen Etienne Leroux en Thomas Pynchon. Fielding se siening oor hoé romans die werklikheid reflekteer. Die verwysings na Kafka en Henry James verdien verdere speurwerk oor hul sieninge van wat romans wil bereik. Nabokov is ook aanwesig: Pynchon was ‘n student van Nabokov aan die Cornell Universiteit en die bekende lesings oor die struktuur van romans soos, onder andere, Madame Bovary, Anna Karenina, Ulysses, word in die beroemde lesings verduidelik. Die roman verwys eweneens na Aristoteles se siening van oorsaak en gevolg, wat telkemale deur die verteller gedekonstrueer word.

Die roman betrek ook Die mugu (1959) en hoe toeval ‘n lewe kan verander.

Die vreemde name wat simboliese implikasies het, speel in op sowel Pynchon as Leroux se werkswyse. (Afdelings 6 en 7.) Elizabeth Dipple wys daarop dat sowel Umberto Eco as Borges die speurverhaal as ‘n “dominant metaphysical mode” sien:”the unraveling of which leads to major epistemological illustrations through which the author can impose his/her will, or at least demonstrate it to the reader” (48). So gelees, kan die speurverhaal gesien word as ‘n soort roman waarin sterk ideologiese kommentaar gemaak word in ‘n gemeenskap waar daar op ‘n daaglikse vlak uiterse geweld plaasvind en veral deur die media in besonderhede beskryf word. Plaasmoord (2010) is onder andere die titel van Karin Brynard se roman, terwyl daar ‘n toenemende aantal Afrikaanse romans binne hierdie sub-genre verskyn het die afgelope tyd, soos van Chris Karsten se Die Afreis van Abel Lotz (2012), Piet Steyn se Snoeiskêr (2008), Francois Bloemhof se Helse manier van koebaai sê (2011), Dirk Jordaan se Arendsnes (2012), om belangrike name uit te sonder. Jordaan skryf ‘n polisieroman waarin dossiere en prosedures gebruik word om die moord op te los. Die gewildheid van Deon Meyer se speurverhale, sowel binnelands as buitelands, bevestig watter belangrike plek hierdie sub-genre tans beklee nes die televisie-speurreekse soos Wallander (BBC), The Killing (VSA), Damages (VSA) en Sherlock Holmes (BBC). 

5 Aandagafleiers (Red Herrings)

Culler (1975:148) wys daarop dat die speurverhaal gesien kan word as ‘n “force of genre conventions” en dat die leesplesier opgesluit lê in die karakters se psigologiese intelligensie en ‘n oplossing in die slot waarin alles uiteindelik onthul sal word. Daar is ook ‘n patroon in hierdie soort teks, te midde van allerlei besonderhede; terselfdertyd erken hy dat hierdie patroon oortree (“violated”) of gesubverteer kan word. Die leser het wel ‘n verwagting in hierdie soort teks. Hy verwys na die vraisemblance van genre “whose fundamental device is to expose the artifice of generic conventions and expectations” (1975: 148). Die gebruik van toevallige en aweregse verwysings na die Afrikaanse digkuns, parodieer die rol van die leser as speurder vérder. In die eindnotas (erkennings) word daar verwys na Groot Verseboek, Martjie van Celliers en Opperman se Voëlvry. Die digkuns van Opperman werk ook met die speurverhaal-gegewe soos die gedig “Draaiboek” en “Blom van die baaierd”(uit Blom en baaierd, 1956).

Die slot van “Blom van die baaierd” word ‘n opsomming van die aard van die speurverhaal: ‘n analise van paranoïa en geweld in die moderne samelewing:

En hulle vind hom waar hy takkies breek
en bid om sy en Brakfontein se sonde,
om dié van Brussel, Jerusalem, en elke streek…
waar hy rooi kappertjies in al die wonde,
die halfoop oë en neusgate steek (1987: 225).

Op bladsy 16 van Piekniek by Hangklip sit die predikant, dominee Johann, sy arms om haar skouers en in sy binnespraak verwys hy na Totius (“Ons weet wat in sy gedagtes is, dat hy weet van die verlies wat soos ‘n pyl in haar brand, die Here alleen weet wat sy ly…”) wat op ‘n onluistering van Totius se bekende lykdig neerkom en met seksuele innuendo gelaai word.

Die pyn-gedagte

O Die pyn-gedagte: My kind is dood! …
dit brand soos ’n pyl in my.
Die mense sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.
Die dae kom en die nagte gaan;
die skadu’s word lank en weer kort;
die drywerstem van my werk weerklink,
en ek gaan op my kruisweg vort (...)

Die daaropvolgende verwysing na Ina Rousseau se gedig “Eden” oor die mensepaar:”Staan daar nog in Eden êrens die mislukte tuin” word geparodieer om die sinisme van die ouktoriële verteller te beklemtoon.

Ina Rousseau

Eden
Staan daar nog in Eden êrens,
verlate soos ’n stad in puin,
met poorte grusaam toegespyker,
deur eeue die mislukte tuin?
Word daar nog die swoele dae
deur swoele skemering en nag vervang
waar donkergeel en purper vrugte
verrottend aan die takke hang?
Sprei daar ondergronds ’n netwerk
soos sierkant deur die rotse heen:
die sware, onontgonne riwwe
van goud en onikssteen?
Vloei daar deur die natgroen struike
nog met kabbeling wat ver weerklink,
die viertal glasblink waterstrome
waarvan geen sterfling drink?
Staan daar nog in Eden êrens,
verwaarloos soos ’n stad in puin,
gedoem tot langsame verrotting
deur eeue die mislukte tuin?

In Culler se terme word die leser se verwagting gesubverteer (1975: 140). Die bekendheid met Afrikaanse gedigte word binne die konteks van die speurverhaal ontluister. Terselfdertyd kan dit ook gelees word as ‘n verlange na ‘n tyd vóór gewelddadigheid.

Kuberkrakers, dieetspeurders, argitektuur, Nietzsche, Latynse frases, spirituele debatte, die soeke na jou mojo (sleng vir “movement and joy”), vertrouenswendelaars in religieuse praktyke (soos die United Church of Zambia), maak van hierdie parodies-satiriese roman ‘n ervaring wat die leser enersyds amuseer (soos ‘n verwysing na gedekonstrueerde kookkuns!) en andersyds ontstem. Die leser is voortdurend in ‘n ondergrondse netwerk van verwysings en vals of vreemde toespelings. Die sogenaamde aandagafleiers of “red herrings” neem die leser na ‘n ander werklikheid buite die teks. Veral die toespelings op die gekanoniseerde Afrikaanse digkuns veronderstel ‘n ander letterkundige sisteem, wat ver verwyder is van die konvensionele opvattings oor die digkuns. Ironies genoeg, word onder meer ‘n gedig betrek van Totius wat handel oor die gewelddadige dood van sy dogtertjie waarmee die roman ontstemmende kommentaar lewer op die ooreenkomste tussen fisiese en psigiese geweld.

6 Die gesprek met Etienne Leroux

Die partytjie in Hoofstuk XX aktiveer Leroux se Sewe dae by die Silberteins (1962). Dit is veral Een vir Azazel (1964) wat die duidelikste interteks vorm vir hierdie roman. Die bekende Quis, quid, ubi, quibus auxiliis, cur, quomodo, quando? (Wie, wat, waar, waarmee, hoekom, hoe, wanneer?) word in hierdie roman verander na: Ubi?, Quid?, Cur?, Quis?, Quibus Auxiliis?, Quomodo?, Quando? omdat die struktuur van die speurverhaal gedekonstrueer word. Die speurder is die hakkelende Demosthenes H. de Goede.

Een vir Azazel speel op die Welgevonden-landgoed af. Jock Silberstein se plaas is geskenk aan die Stigting en die skoonseun Henry van Eeden-Silberstein woon nog op die plaas. Sy vrou Salome sterf by die geboorte van haar seun, die reus Adam Kadmon, ‘n idioot. ‘n Meisie, Lila word vermoor en Demosthenes H. de Goede, die hakkelende en filosofiese speurder, ondersoek die moord. Dr. Johns begelei en verduidelik alles aan die speurder en Adam, die reus, is die sondebok wat geoffer moet word. Die gegewe verwys na die Bybelse verhaal wat opgeteken staan in Levitikus 16. 3. Die Engelse vertaling van hierdie roman heet One for the devil wat die vergeldingsaspek sterker beklemtoon.

In hierdie roman word daar verwys na die kitsch op Welgevonden. Die plastiekswaan sal ‘n “stukkie kitsch wees op die kaggelrak van hul herinnerings” (1984: 137) en in Piekniek by Hangklip word die hele kwessie van argitektuur en kitsch eweneens te berde gebring in die gesprekke met die argitek.

“Dis die kwartaallikse piekniek by die forellemeer,” sê dr. Johns. “Psigoterapeutiese ontspanningsgenot.” (1984: 175).

Hierdie passasie dra die saad vir die latere roman, Piekniek by Hangklip, soos gevind deur die leser-as-speurder. Die Meturgeman, wat as intellektuele gids optree by Leroux word in Piekniek by Hangklip vertolk deur die ouktoriële verteller wat met kwasi-wysgerige en ontluisterende opmerkings die verhaal verduidelik aan die leser. Die hakkelende Demosthenes H. de Goede word in Breytenbach se roman geparodieer met die hakkelende Joshua: “d-dalk selfs ‘n derde” (2011: 113).

7 Die gesprek met Thomas Pynchon

Thomas Pynchon se The crying of Lot 49 (1966) word beskou as ‘n baanbrekende teks binne die Amerikaanse postmodernisme. Die verhaal handel oor Oedipa Maas se hantering van die stryd tussen twee posdienste, te wete Thurn & Taxis en die Trystero. Vanaf die agtiende eeu is hierdie twee posdienste in ‘n stryd gewikkel en daar bestaan ‘n stel vervalste seëls as “bewysstuk” van hierdie stryd wat Oedipa probeer oplos in die sestigerjare in San Francisco Bay Area. Oedipa is dus die speurder wat orals tekens sien van hierdie stryd.

Die briewebokse word verdoesel as vuilgoedblikke waarop W.A.S.T.E. gegraveer is:  We await silent Tristero’s empire met ‘n ikoon wat beskryf word as ‘n “loop, triangle and trapezoid” (1982:34).

Vir ‘n duidelike aanwysing van  al die karakters in hierdie komplekse roman, is die Wikipedia handig: The Crying of Lot 49 - Wikipedia, the free encyclopedia, besoek 19/1/2012). Tanner skryf eweneens oor die karakters in Thomas Pynchon (1982).

Trystero is ‘n kreatiewe skepping van Pynchon. Wanneer Oedipa se voormalige geliefde, Pierce Inverarity, sterf, word sy die ergenaam en ontdek as ‘n soort speurder dat alles nie pluis is met Trystero nie.  

Sy is getroud met Wendell "Muncho" Maas, ‘n platejoggie in Kinneret en ‘n LSD-verslaafde. Hy is onder andere gaande oor die musiek van Sick Dick o.a. Sy het ‘n verhouding met Metzger, ‘n prokureur wat haar help met die testament. Sy regsfirma heet “Warpe, Wistfull, Kubitschek and McMingus”. Daar is ‘n “band”, The Paranoids en deur hierdie name lewer Pynchon satiriese kommentaar. Oedipa se shrink heet Dr. Hilarius en in aansluiting by Nabokov, wie se minagting vir psigoanalise bekend was, skryf hy LSD aan haar voor. 4. Verder blyk dit dat hy ‘n Nazi-dokter in Buchenwald was. Hier het hy deelgeneem aan ‘n program om Jode tot waansin te dryf. John Nefastis en Stanley Koteks is twee wetenskaplikes wat iets weet oor die Trystero, wat Oedipa probeer ontfutsel. Randolph Driblette is die regisseur van die drama The courier's tragedy, die drama wat Oedipa meemaak, omdat sy weet dat Driblette haar van inligting kan voorsien. Hy pleeg egter selfmoord. Mike Fallopian wat sy in ‘n kroeg ontmoet, blyk wel oor inligting te beskik oor die Peter Pinquid-vereniging. Genghis Cohen, ‘n filatelis, verskaf leidrade oor die ontslapene se seëlversameling. Dit is ‘n belangrike kode, omdat in die gesprekke tussen hom en Oedipa die kwessie van vervalsing na vore kom, wat die roman plaas binne die postmodernisme as ‘n konterfeitsel van die werklikheid. Professor Emory Bortz, is ‘n dosent aan San Narciso (‘n samestelling van San Francisco en narcisme), wat ‘n kenner is van Wharfinger se werk, die drama wat Oedipa sien. Hy blyk ook iets te weet oor Trystero, wat verdere onsekerheid oor die misterie in die hand werk.

Tanner wys daarop in sy studie oor Pynchon (1982: 56) dat hierdie verhaal die speurverhaal ómkeer. Die verhaal se misterie vermeerder hoe vérder dit ontwikkel, terwyl die leser juis ‘n oplossing verwag. Die naam Oedipa Maas aktiveer die eerste speurverhaal in die Westerse literatuur, te wete die Oedipus-verhaal met die oplossing van die raaisel en ondermyn dit terselfdertyd, want Maas beteken ook “my ass” en kan gelees word as ‘n bekende karakteriseringstegniek by Pynchon:“The relationship between individual and name is deliberately problematized – and caricatured –in Pynchon’s texts” (1982: 60). Elkeen wat ‘n leidraad het, wil dit nie bekend maak nie of sterf. Die speurverhaal beweeg tot sekerheid; iets wat Pynchon deliberaat omkeer: alles word juis al hoe meer duister en ingewikkeld.

In die derde hoofstuk staan daar:”Things did not delay in turning curious”(1982: 29) en daar etlike semiotiese aanwysings en leidrade gegee vir die leser, onder andere ook ‘n ikoon (1982: 34).

Hierdie ikoon (die sogenaamde “muted post horn”) word beskou as ‘n wyse van kommunikasie met diegene met onortodokse seksuele begeertes (1982: 75), die sogenaamde Inamorati Anonymous (IA). Hier skeer Pynchon die gek met geheime organisasies en kentekens wat lede van so ‘n groep kenbaar maak, soos ‘n geheime handdruk.
Die teks lewer kommentaar op die leesproses:

“Behind the initials was a metaphor, a delirium tremens, a trembling unfurrowing of the mind’s ploughshare. The saint whose water can light lamps, the clairvoyant whose lapse in recall is the breath of God, the true paranoid for whom all is organized in spheres joyful or threatening about the central pulse of himself, the dreamer whose puns probe ancient foetid shafts and tunnels of truth all act in the same special relevance to the word, or whatever it is the word is there, buffering, to protect us from” (1982: 89).

Die metafoor word gesien as iets wat sowel die leuen as die waarheid ontbloot; afhangend van jou posisie (“inside, safe, or outside, lost”).  ‘n Pornografiese eksemplaar van die drama blyk in die Vatikaan beskikbaar te wees (1982: 105). Daar is eweneens ‘n speelse verwysing na Nabokov op bladsy 101.

Die roman wentel rondom misverstande en opsetlike foute. REPORT ALL OBSCENE MAIL TO YOUR POTSMASTER, sic. (1982: 30) signifieer die onbestendigheid van alles. Selfs die poskantoor maak ‘n fout, seëls word vervals en daar is telkens verwysings na hiërogliewe wat die leser (en karakters) moet ontsyfer. Die Trystero kan nie vertrou word nie (“trust”) (1982: 70) Verder word absurde insidente gebruik om die gegewe te ontluister soos ‘n snotgooi-kompetisie en sarkastiese opmerkings word gemaak oor homoseksualiteit (1982: 50) en psigoanalise wat politiek korrektheid ondermyn. In die slot van die roman is Loren Passerine ‘n poppemeester; die verteller in hierdie roman en by Breytenbach, is eweneens ‘n soort poppemeester.

8 Piekniek by Hangklip

In sy roman Piekniek by Hangklip roep Breytenbach die werkswyses van Leroux en Pynchon op: satiriese kommentaar op die samelewing, ontluistering van pretensie, die gebruik van simboliese naamgewing, die spel met ‘n kommentariërende verteller wat herinner aan Leroux se meturgeman en ‘n spel met die struktuur van die speurverhaal. Waar Leroux die tydsorde omkeer en Pynchon die oplossing uitstel, word die leser in Piekniek by Hangklip bekendgestel aan ‘n roman sonder ‘n speurder. Dupin of Poirot kon die leser lei en die meturgeman bied ook sekerhede met sy (pseudo) filosofiese opmerkings. By Breytenbach is daar geen sekerhede meer nie. Die leser is alleen. Die leser bevind sig in ‘n gewelddadige en vyandige werklikheid.

As Flaubert gemeen het dat die skrywer soos God orals aanwesig, maar nêrens sigbaar moet wees nie, is die leser in Piekniek by Hangklip uitgelewer aan ‘n ontluisterende verteller en ‘n ontologiese onsekerheid. Dit is inderdaad ‘n “unresolvable plot”, soos Dipple die moderne roman tipeer: die speurwerk kan nooit voltooi word nie, juis omdat die roman heenwys na soveel ander tekste en ‘n herkenbare Suid-Afrikaanse werklikheid. Die verskillende tradisies van die roman vanaf die laat negentiende eeu tot die modernisme en postmodernisme word in hierdie roman byeengebring sodat Piekniek by Hangklip ook gelees kan word as ‘n roman wat kommentaar lewer op die ontwikkeling van die roman tot ‘n besef dat alle interpretasies onbestendig en “oop” bly. Die tekstuele onbewuste van hierdie roman is een van ontluistering en van ‘n ernstige besinning oor die aard van die romankuns. Daar is geen speurder nie; die leser word hierdie posisie toegeken in ‘n fassinerende speurtog. Anders as by Pynchon is daar nie meer ‘n opsie van binne/veilig, buite/onseker nie. Alles in hierdie roman staan in die teken van onveiligheid en onbegrensdheid wat die leser neem na die “potustornnost”, of ander wêreld soos Nabokov dit benoem het.

Die teks is besonder positief ontvang, maar het geen bekronings ontvang nie. Gesiene kritici soos Louise Viljoen, Thys Human, Michiel Heyns en selfs in ‘n resensie-artikel op Litnet het Izak de Vries dit aangeprys.

Waarom hierdie roman nie ten spyte van die loflike ontvangs bekroon is nie, bly ‘n onopgeloste raaisel. ‘n Ironiese raaisel, wat inspeel op Weir se film waarin die kyker bly spekuleer. In ‘n speelse artikel op Litnet: Is Piekniek by Hangklip ’n kriminele oortreding? (Izak de Vries, besoek op 17 Julie 2012) raak Izak de Vries onbewustelik aan van die probleme in hierdie teks: is dit omdat hy die reëls van die speurverhaal oortree? Is dit omdat die skuldige nie vasgetrek word en die goeie nie die bose oorwin nie?  Is dit dalk die afwesigheid van die speurder en die dekonstruksie van konvensies? 

De Vries verwys na die naam Schvantz as penis in Jiddisj (“prick”) wat dan aansluit by die naamgewing by Leroux en Pynchon soos hierbo uiteengesit. De Vries wys op die vreemde setwerk om die stotterende verteller se uitspraak op te vang as nog ‘n leesversperring. Soos hy dit dan opsom: “Breytenbach steek tong uit vir die leser, verál vir die leser wat ’n foutlose krimi soek.” 

Louise Viljoen bespreek die roman op Litnet: “Piekniek by Hangklip seepgladde plesier” op 8 September 2011 (besoek op 17 Julie 2012). Sy skryf: “Henry Fielding, wat eintlik ’n dramaturg was, het begin om romans te skryf toe hy wou reageer op die buitensporige sukses van Samuel Richardson se melodramatiese briefroman Pamela, or Virtue Rewarded van 1740, waarin die jonge Pamela Andrews ’n eindelose stryd het om haar kuisheid teen haar werkgewer te verdedig. Fielding se parodie met die titel An Apology for the Life of Mrs Shamela Andrews het gewys dat die kuise Pamela eintlik glad nie so voorbeeldig was nie.” 

Michiel Heyns resenseer die roman vir Beeld & Die Burger in Oktober (besoek op 17 Julie 2012) en wys eweneens op die pakkende gegewe in die roman. Thys Human se resensie heet “Tarantino in die Overstrand” in Beeld 9/10/2011 (besoek op 18 Julie 2012) is eweneens positief oor die aweregse aanslag van hierdie roman. Hy wys op die eksterne verteller se toetrede om van die raaisels in die verhaal op te los en ag die verwysing na Fielding as ‘n belangrike leidraad. 

In sy voorwoord tot dié roman gebruik Fielding die term komiese epos (“comic epic poem in prose”) om na die aard van die werk te verwys:

“[A] comic romance is a comic epic-poem in prose; differing from comedy, as the serious epic from tragedy; its action being more extended and comprehensive; containing a much larger circle of incidents, and introducing a greater variety of characters. 

It differs from the serious romance in its fable and action, in this: that as in the one these are grave and solemn, so in the other they are light and ridiculous; it differs in its characters, by introducing persons of inferior rank, and consequently of inferior manners, whereas the grave romance sets the highest before us; lastly in its sentiments and diction; by preserving the ludicrous instead of the sublime.”

Umberto Eco se slotwoorde in The name of the rose is hier tersaaklik: ”It is cold in the scriptorium, my thumb aches. I leave this manuscript, I do not know for whom; I no longer know what it is about: stat rosa pristine nomine, nomina nuda tenemus”…

Joan Hambidge
Kaapstad: Desember 2011 – September 2012


Bibliografie

Bloemhof, Francois. 2011. Helse manier van koebaai sê. Kaapstad: Human & Rousseau.

Brink, A.P. 2000. Groot verseboek 2000. Kaapstad: Tafelberg.

Bowers, Fredson (red.). 1980. Nabokov, Vladimir: Lectures on literature. Londen: Weidenfeld and Nicholson.

Breytenbach, Kerneels. 2011. Piekniek by Hangklip. Kaapstad: Human & Rousseau.

Brynard, Karin. 2010. Plaasmoord. Kaapstad: Human & Rousseau.

Christie, A., 1975. Curtain : Poirot's last case. 1983 ed. London: Fontana.

Con Davis, Robert. 1986. Contemporary literary criticism. New York: Longman.

Culler, Jonathan. 1975. Structuralist poetics. Structuralism linguistics and the study of literature. Londen: Routledge & Kegan Paul.

Derrida, Jacques. 2005. Sovereignties in question. The poetics of Paul Celan. New York: Fordham University Press.

Dipple, Elizabeth. 1988. The unresolvable plot: reading contemporary fiction. Londen: Routledge.

Eco, Umberto.1983. The name of the rose.Londen: Martin Secker & Warburg.
Jordaan, Dirk. 2012. Arendsnes. Kaapstad: Tafelberg.

Jong, Erica. 1981. Fanny. Being the true history of the adventures of Fanny Hackabout-Jones. New York: Granada.

Karsten, Chris. 2010. Die afreis van Abel Lotz. Kaapstad: Human & Rousseau.

Leroux, Etienne. 1984. Die Silberstein-trilogie. Kaapstad: Human & Rousseau.

Lindsay, Joan. 1987. The secret of Hanging Rock. Londen: HarperCollins.

Mehlman. Jeffrey. 1972. “Seminar on ‘The purloined letter’ “.Yale French Studies, 48 (1972. pp. 38 – 72.

Meyer, Deon. 2011. 7 dae. Kaapstad: Human & Rousseau.

Opperman, D.J. 1987. Versamelde poësie. Kaapstad: Human & Rousseau/Tafelberg.

Poe, Edgar Allen. 1845. The gift.  Philadelphia: Carey and Hart.

Pynchon, Thomas. 1966. The crying of Lot 49. New York: J.B. Lippincott & Co. 

Steyn, Piet. 2008. Snoeiskêr. Kaapstad: Tafelberg.

Tanner, Tony. 1982. Thomas Pynchon. Contemporary writers. (reds. Malcolm Bradbury en Christopher Bigsby). New York: Methuen.

Weir, Peter. 1975. Picnic at Hanging Rock. Film (Australië).



Eindnotas:

1. In Deon Meyer se 7 Dae word die ingeligte leser ‘n leidraad gegee deur die verwysing na Leroux se Sewe dae by die Silberstein en met ‘n karakter Henry van Eeden, wat die moordenaar se identiteit beskerm.

2. Agatha Christie se Poirot (satiries vertolk deur Peter Ustinov in verskeie films) is, soos Dupin, in staat om met die oortreder te identifiseer.

3. Levitikus 16 (1953 Afrikaanse vertaling van die Bybel):
      8. En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die Here en 
           een lot vir Asásel.
      9. Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir die Here op gekom het 
          en hom as sondoffer berei;
     10. maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor 
          die aangesig van die Here gestel word, om oor hom versoening te bewerk 
          deur hom vir Asásel in die woestyn te stuur.

4. Maurice Couturier in sy essay Nabokov or the cruelty of desire: a psychoanalytic reading (http://www.libraries.psu.edu/nabokov/coutnab1.htm) betrek Nabokof se negatiewe siening van Freudiaanse simboliek (besoek op 27 November 2011).

Aan Zimmmer bely hy:

Mr. Nabokov, would you tell us why it is that you detest Dr. Freud?

I think he's crude, I think he's medieval, and I don't want an elderly gentleman from Vienna with an umbrella inflicting his dreams upon me. I don't have the dreams that he discusses in his books. I don't see umbrellas in my dreams. Or balloons.

I think that the creative artist is an exile in his study, in his bedroom, in the circle of his lamplight. He's quite alone there; he's the lone wolf. As soon as he's together with somebody else he shares his secret, he shares his mystery, he shares his God with somebody else. (Vladimir Nabokov: The Interviews by Dieter E. Zimmer).


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Stilet geplaas.]