Monday, March 25, 2019

Resensie | Ivan Vladislavić – The distance (2019)

Resensie | Ivan Vladislavić – The distance. Umuzi, 2019. ISBN 9781415210260

Resensent: Joan Hambidge

I

So word die roman bemark:

In the spring of 1970, a Pretoria schoolboy falls in love with Muhammad Ali. He begins to collect cuttings about his hero from the newspapers, an obsession that grows into a ragged archive of scrapbooks. Forty years later, when Joe has become a writer, these scrapbooks both insist on and obscure a book about his boyhood. He turns to his brother Branko, a sound editor, for help with recovering their shared past. But can a story ever belong equally to two people? Is this a brotherly collaboration or a battle for supremacy?

This is an intricate puzzle of a book by a writer of lyrical power and formal inventiveness. Against a spectacular backdrop, the heyday of the greatest showman of them all, Vladislavić unfolds a small, fragmentary story of family life and the limits of language. Meaning comes into view in the spaces between then and now, growing up and growing old, speaking out and keeping silent.

II

In 1980 het Robert de Niro die rol vertolk van Jake LaMotta in Martin Scorcese se Raging Bull, ʼn onthoubare film waarin De Niro gewig moes optel om soos hierdie bokser te lyk. Jare gelede het ʼn kollega in die Regte my bewus gemaak van die nuanses van hierdie sportsoort. 

Ek was ʼn bewonderaar van Muhammed Ali en het, toe hy oorlede is, selfs ʼn gedig oor hierdie fenomeen geskryf. Norman Mailer se studie The Fight (1975) is ʼn belangrike studie oor die 1974 geveg tussen Ali en George Foreman in Kinshasa: die sogenaamde “Rumble in the Jungle”.  Mailer, sélf ʼn bokser op sy dag wat ook nie geskroom het om sy vuiste vir ʼn letterkundige opponent te lig nie, is ʼn moet vir die leser van Ivan Vladislavić se briljante roman The Distance.

III

Joe is ʼn skrywer wat terugkyk op sy jeug en sy notaboeke – en sy aantekeninge deurgaan. Sy bewondering (en obsessie) met Cassius Clay (Ali) vorm die basis vir sy sieninge van skryf. Net soos De Niro vir jare daarna gesukkel het om gewig af te skud na die vertolking van sy rol as Jake, kyk die ouer skrywer terug op sy jeug wat hy nie kan afskud nie.

Trouens, die skrywer soek na ʼn “punchy metaphor” vir die skryfaksie wat die leser soos ʼn linkerhou op sy kaak moet tref (74). En: “I go on writing, like a slugger who isn't smart enough to stay in his corner when he's beaten, who wants to go the distance” (269). Die kommentaar van Branko en die hulp wat hy gegee het, word kantlyn-kommentaar op sy broer se manuskrip. Hiermee dan die vraag: wat behoort aan wié in die skryfproses?

Die broer is bewus van sy broer se skaduboks wanneer hy gaan slaap. (“Ja, I say, float like a bumblebee,” 10).

Die gebruik van ʼn boks vol knipsels en die stories róndom die Grootbek Bokser is ʼn belangrike gegewe. Nie alleen in die skaduboks wat die skryfproses impliseer nie, maar deur die gebruik van hierdie komplekse ikoon, word die apartheidsjare van Suid-Afrika opgeroep. Daar was nie televisie nie en vandag kan ʼn mens al hierdie wedstryde op google aktiveer wat op ʼn afstand anders lyk as wat dit in die werklikheid was.

Twee broers aktiveer die oppervlak-verhaal. Joe die skrywer teenoor Branko die klankingenieur. Hulle is uiteenlopend en hierom sal hulle waarnemings of herinneringe verskil. Weliswaar nie so dramaties soos in Patrick White se The solid Mandala (1966) nie. Nietemin “doubles” van mekaar. Ego en alter-ego. Bokser en opponent. Soos wat Muhammad Ali teenoor Joe Frazier geplaas word.

Branko Blahavic teenoor Joe is dan die twee broers. Die roman is gesitueer in die sewentigerjare, aanvanklik in Pretoria. Dit gaan oor boks en rofstoei. Visvang en ʼn ma wat brei. 

Werklike plekke soos Verwoerdburg, Club View, Pretoria-Wes en die Bon Accord-dam, suid van Louis Botha-rylaan, Von Willich, begrond die roman. En die gebruik van Afrikaans soos “Jissimpie” en “voetstoots”, die LM-hit parade, Reader's Digest-boeke, rofstoei, ysskaats, die walvis-skelet voor die museum in Pretoria, die Perm, maak hiervan ʼn realistiese teks. 

Pulpfiksie en fotoboekies word ingeweef en ontluister. Mark Condor met sy E-Type Jaguar is hier aanwesig as ʼn hoenderboer (58, 59). Ek wil nie die leesplesier hier bederf nie, maar dit is ʼn wonderlike vinjet vir die spel tussen werklikheid en fiksie.

Walter Battiss is ʼn ander belangrike kode. En die breimasjien van die moeder aktiveer die skryfaksie as een van samesnoering. Nes die verwysing na Woody Allen se onderskatte Scenes from a mall.

Die moeder met ʼn voorskoot (as tweede seks, as onderhorige) verbrand haar notaboek (“dreambook”), terwyl die skrywerseun toekyk. So ʼn tersyde-moment: die stemlose word weer stilgemaak gemaak (116 - 117). (Haar seun teken wel haar pyn op.)

Ons weet nie wat sy in daardie droomboek opgeskryf het nie; ons kan net raai.

Vanuit ʼn agternaperspektief met ʼn Pres Les Boks vol knipsels oor Muhammad Ali, oftewel Cassius Clay, word die roman in 15 hoofstukke opgedeel met die twee broers telkemale afwisselend aan die woord. Daar is knipsels as motto's uit The Star en The Pretoria News.

Sportskrywers soos Norman Canale en Alan Hubbard, o.a. word erken. En goeie sportskrywers soos Michael Green en Louis de Villiers tans is eweneens gerekende romanskrywers.

Vladislavić kyk terug op ʼn ou bestel: die 1976 Soweto-opstande word op televisie verbied.

Die “fight of the century” het anders afgeloop as wat voorspel is; nes die politiek van hierdie land. In 1993 het Ali die land besoek op dieselfde dag wat Chris Hani vermoor is.

Die aanhalings van Ali-die-digter (Hoofstuk sewe) en verwysings na Cinema Paradiso, George Plimpton en Hunter S. Thompson gee verdere resonansie aan hierdie geskakeerde teks.

Ek ken min romans waar die slot so behendig al die drade saamtrek. Dis ʼn roman wat jou soms laat lag; ander kere is jy hartseer oor die lot van die outsider en immigrant. 

IV

En anders as wat Michiel Heyns meen in Rapport (“‘Boksverslag’ oor 1970’s is ʼn uitklophou”), is hierdie nie ʼn postmodernistiese roman nie.

ʼn Postmodernistiese roman skep ontologiese onsekerhede en breuke.

Dit is ʼn roman met vyftien rondes. En ek is uitgetel ...


Cassius Marcellus Clay (1942 - 2016)

Muhammad Ali,
wêreldkampioen driemalig,
glo meer binnegoed as bek,
het ge-Rumble-in-the-Jungle,
ge-Thrilla-in-Manila;
selfs buite die kryt óm
geveg, baklei, geboks
vir vryheid van spraak.
“No Vietcong ever called
me a Nigger”, byt hy terug.
Gestroop van titel en eer;
selfs bokslisensie op
vyf-en-twintig verloor
toe hy Viëtnam kets.
Driejaar lank die kryt belet:
hierdie god van die harpuis.
Met tronkstraf opgeskort bly
hy “float like a butterfly,
sting like a bee”
teen swartlyste in:
dié vrypostige, allemin-
tige, vreeslose Louisville Lip.
Totdat ʼn groter,
venyniger opponent
as Foreman, Frazier,
Liston of Norton
hom ont-
troon, planke
toe stuur:
Parkinson,
ʼn skadu-bokser,
se kris-kruis:
een-twee-drie …

© Joan Hambidge

Ivan Vladislavić, foto Minky Schlesinger

Thursday, March 21, 2019

Filmrubriek | Sylvia (2003)

Vandag 21 Maart is Internasionale Poësiedag en Menseregte-dag hier te lande. Ter viering van eersgenoemde, kyk ek weer na die film Sylvia (2003: regisseur Christine Jeffs).

Die verhaal van Sylvia Plath se verhouding met Ted Hughes word in hierdie film ondersoek. Gwyneth Paltrow vertolk die rol van Plath en Daniel Craig is Ted Hughes.

Paltrow is soms oortuigend as die neurotiese en ingewikkelde Plath. Van die ontmoeting by Cambridge in 1956 tot haar selfdood in 1963, word onder die loep geneem.

Die gedrewe, ambisieuse en briljante Hughes word swak vertolk deur Daniel Craig. 'n Mens kan soms nie hoor wat hy mompel nie. Sy twee gesigsuitdrukkings is eweneens irriterend. Paltrow vaar wel beter en 'n hoogtepunt is die ete wanneer sy haar man voor sy minnares, Assia uittrap oor sy liefdesverraad. Hy verlaat Plath uiteindelik vir Assia, maar keer telkens terug uit skuldgevoelens en verlange na die twee jong kinders. Hy en Sylvia kan nie versoen nie, weens Assia se swangerskap.


Al Alvarez, die poësieredakteur en "ontdekker" van Plath en ook die skrywer van The Savage God, word flets vertolk deur Jared Harris. 

Die film beweeg van Cambridge, na Massachusetts, na Devon ...

Dis egter geskiet in Dunedin (Nieu Zeeland) en die Universiteit van Otago staan in vir Cambridge.

Twee aspekte kelder die film. Die musiek. Gabriel Yared, blaas sy siel, steur die donker storie. Dit is gewoon te hard. En stroperig. Dan die sekstonele waar die twee pragtige lywe in naaktheid voor ons stoei, is eweneens steurend. Dis nie hoe 'n mens dink Plath gelyk het nie.

Plath se kinders het die film indertyd as 'n geldmaak-foefie afgemaak.

Na Plath se dood, is Ariel gepubliseer, 'n uitstekende digbundel wat haar poëtiese talent bevestig. Wanneer Hughes haar verlaat, kan sy uiteindelik skryf.


Die Bitter fame soos 'n biograaf, Anne Stevenson, haar lewe tipeer het. Hughes publiseer kort voor sy dood in 1988 die opspraakwekkende Birthday Letters wat hul verhouding karteer. Hierdie bundel is en bly een van my gunstelingbundels van alle tye.

Hierdie film neem my vandag terug na hul gedigte.

Lady Lazarus 

I have done it again.   
One year in every ten   
I manage it——

A sort of walking miracle, my skin   
Bright as a Nazi lampshade,   
My right foot

A paperweight,
My face a featureless, fine   
Jew linen.

Peel off the napkin   
O my enemy.   
Do I terrify?——

The nose, the eye pits, the full set of teeth?   
The sour breath
Will vanish in a day.

Soon, soon the flesh
The grave cave ate will be   
At home on me

And I a smiling woman.   
I am only thirty.
And like the cat I have nine times to die.

This is Number Three.   
What a trash
To annihilate each decade.

What a million filaments.   
The peanut-crunching crowd   
Shoves in to see

Them unwrap me hand and foot——
The big strip tease.   
Gentlemen, ladies

These are my hands   
My knees.
I may be skin and bone,

Nevertheless, I am the same, identical woman.   
The first time it happened I was ten.   
It was an accident.

The second time I meant
To last it out and not come back at all.   
I rocked shut

As a seashell.
They had to call and call
And pick the worms off me like sticky pearls.

Dying
Is an art, like everything else.   
I do it exceptionally well.

I do it so it feels like hell.   
I do it so it feels real.
I guess you could say I’ve a call.

It’s easy enough to do it in a cell.
It’s easy enough to do it and stay put.   
It’s the theatrical

Comeback in broad day
To the same place, the same face, the same brute   
Amused shout:

‘A miracle!’
That knocks me out.   
There is a charge

For the eyeing of my scars, there is a charge   
For the hearing of my heart—
It really goes.

And there is a charge, a very large charge   
For a word or a touch   
Or a bit of blood

Or a piece of my hair or my clothes.   
So, so, Herr Doktor.   
So, Herr Enemy.

I am your opus,
I am your valuable,   
The pure gold baby

That melts to a shriek.   
I turn and burn.
Do not think I underestimate your great concern.

Ash, ash—
You poke and stir.
Flesh, bone, there is nothing there—

A cake of soap,   
A wedding ring,   
A gold filling.

Herr God, Herr Lucifer   
Beware
Beware.

Out of the ash
I rise with my red hair   
And I eat men like air.

Sylvia Plath, “Lady Lazarus” uit Collected Poems (HarperCollins Publishers Inc, 1992).

So lees Plath self hierdie gedig.

The blue flannel suit

I had let it all grow. I had supposed
It was all OK. Your life
Was a liner I voyaged in.
Costly education had fitted you out.
Financiers and committees and consultants
Effaced themselves in the gleam of your finish.
You trembled with the new life of those engines.

That first morning,
Before your first class at College, you sat there
Sipping coffee. Now I know, as I did not,
What eyes waited at the back of the class
To check your first professional performance
Against their expectations. What assessors
Waited to see you justify the cost
And redeem their gamble. What a furnace
Of eyes waited to prove your metal. I watched
The strange dummy stiffness, the misery,
Of your blue flannel suit, its straitjacket, ugly
Half-approximation to your idea
Of the properties you hoped to ease into,
And your horror in it. And the tanned
Almost green undertinge of your face
Shrunk to its wick, your scar lumpish, your plaited
Head pathetically tiny.

You waited,
Knowing yourself helpless in the tweezers
Of the life that judges you, and I saw
The flayed nerve, the unhealable face-wound
Which was all you had for courage.
I saw that what you gripped, as you sipped,
Were terrors that killed you once already.
Now I see, I saw, sitting, the lonely
Girl who was going to die.
That blue suit,
A mad, execution uniform,
Survived your sentence. But then I sat, stilled,
Unable to fathom what stilled you
As I looked at you, as I am stilled
Permanently now, permanently
Bending so briefly at your open coffin. 

Ted Hughes: Birthday Letters*

Het hy hierdie gedigte voor sy dood begin skryf of dit opgeteken deur die jare? Ek vermoed daar was notaboeke - in die aangesig van sy eie dood moes hy waarskynlik die volle verhaal vertel.

Joan Hambidge

Wednesday, March 20, 2019

Briewe | Koeterwaals

'n Mens wil nie soos 'n taalpuris klink nie, maar kan iemand, asseblief die woord huidiglik (in plaas van tans, huidig, vandag, of aan die einde van die dag) op RSG verbied? Daardie aaklige Naas Botha-ismes.

"Vat die koek" beteken nie iemand wen iets nie; dit beteken presies die teenoorgestelde. Of: dis 'n harde granaat om te kraak, was die mening van 'n sportaanbieder op RSG.

Op die rooi tapyt word eweneens verkeerd gebruik wanneer 'n skrywer beweer iemand is voor stok gekry.

Ek het uitgemis, kom voortdurend op die radio voor.

Ons bewaar maar eerder die swye oor uitsprake, want dit is waarskynlik alreeds 'n ideolek (persoonsgebonde variasie) fluks op pad om 'n chronolek (tydsgebonde variasie) te word.

Hierdie koeterwaals kan 'n mens net-net vergewe, omdat aanbieders op hul voete moet dink. Maar werklikwaar, wanneer 'n onderhoudvoerder skryf iemand is oorkom deur emosie, in plaas van oorspoel of oorval, raak 'n mens moedeloos. Of het die Engelse "overcome" hier ingeglip?

Ek ruik 'n rot, is eweneens 'n klip in my skoen. Vermoed eerder onraad.

Op Media24 staan daar onlangs sterwingsbegeleiding in plaas van sterwensbegeleiding.

Of is ons terug by "ons skryf soos ons praat" in navolging van Oom Lokomotief?

Hierom is 'n mens dankbaar vir die uitstekende taalrubrieke van Herman Lategan (Rapport) en Gerhard van Huyssteen (Beeld). En Sondagoggende op RSG wanneer kenners soos Ernst Kotzé aan die woord is. Miskien sal Van Huyssteen van my verskil en meen dat taal voortdurend transformeer.

Wyle Johan Combrink het per geleentheid geskryf 'n mens kan net uitsprake maak oor Afrikaans indien jy die taal ken terug tot by die sewentiende eeu.

Absoluut so. Maar dit is my dooie einde wanneer (nie as nie) Engelse woorde as leë vullers gebruik word. Hierom skink ek dan helder wyn vandag.

Anton F. Prinsloo se Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom (Pharos, 2004) en Louis Eksteen se Afrikaanse sinoniem-woordeboek (Van Schaik, 1981) behoort verpligte leesstof vir joernaliste te wees. Nes die Woordelys en spelreëls.

Weg met knoeitaal. Of donstaal.

Joan Hambidge, Kaapstad

Tuesday, March 12, 2019

Rubriek | Woordfees Maart 2019


By die Woordfees (5 Maart 2019) was Louise Viljoen die gespreksleier saam met Douglas Reid Skinner oor die vertalings in The Coroner’s Wife (Dryad Press).

Die kompleksiteite rondom vertalings via Venuti (die vertaler laat ‘n duimafdruk) en hoe ‘n Engelse vertaler “aanpassings” maak.

In die tuin van Emily Dickinson

In haar boomryke, lowergroen tuin
het Emily D glo daagliks
geluide van voëls ingeklank.
Hier het sy in háár tuin van geluk,
soos Judith Farr beduie,
die ruimskootse verband tussen dig
en tuinmaak beleef: liefde teenoor haat;
nyd teen deugsaamheid; dood en ewigheid
in blombeddings ingespit.
Wildevygies, jasmyne en madeliefies
geplant. En daagliks ‘n ruiker
vir haarself gepluk. En elke blom
– selfs die katjiepiering –
in blomensiklopedieë opgesoek
– klokblom, koningsklokkie, arendklou –
en die Webster se akkers hierna verken
soos ‘n reisiger in ‘n vreemde land
haar direktief opteken. Elke
simbool nougeset, sekuur herken.
O enigmatiese vrou in jou wit rok,
jou tuin het ek in die lente besoek:
hier gestaan en gewonder
of jy ooit in die Tuin van Ewigheid
met die ánder tuinier van Amherst praat,
met haar, Sylvia Plath, wie se dood
soos ‘n swart aronskelk bly blom?

In die Engelse vertaling verwys Douglas Reid Skinner net na Sylvia – die Engelse leser sal onmiddellik snap wie dit is. En “klokblom, koningsklokkie, arendklou” wat hy met Latynse terme vertaal. Engels het nie sulke aardse name nie. Dit pas goed in by Emily Dickinson se kennis van die Webster woordeboek:

In Emily Dickinson’s Garden

Every day, Emily D believed
she heard the sounds of birds
in her tree-filled, lush, green garden.
It was here, in her garden of happiness,
as Judith Farr explained,
that she experienced the widest link
between poetry and gardening: from love to hate;
envy against virtue; death and eternity
dug into flowerbeds.
Planted wild fig marigolds, jasmines 
and daisies. And picked a bouquet
each day for herself. And each flower
– even the gardenia –
looked up in flower encyclopaedias
– Campanula, Columbine, Aquilegia –
and therafter explored Webster's fields 
as a traveller keeps track of her itinerary
in a strange country. Every
symbol precise, exactly understood.
O enigmatic woman in your white dress,
I visited your garden in the spring:
stood there and wondered
if you ever talk in the Garden of Eternity
with the other gardener of Amherst,
with her, Sylvia, whose death
keeps on blooming like a black arum lily?

– translation by Douglas Reid Skinner

Louise Viljoen, van die Universiteit van Stellenbosch, se inrigryke vrae en die hele kwessie van hoe gedigte reis van een taal na ‘n ander is bespreek. Vertalings is nie net verraaiers nie; dit is ook verruimers.

Elke vertaler (Johann de Lange, Charl JF Cilliers en Jo Nel) het gedigte uitsonderlik en uniek vertaal.

© Joan Hambidge

Wednesday, March 6, 2019

Resensie | Marlise Joubert – grondwater (2019)

Marlise Joubert – grondwater. Protea Boekehuis, 2019. ISBN: 978 1 4853 1020 4

Resensent: Joan Hambidge

I

Die kunswerk op die omslag van Elizabeth Miller-Vermeulen uit die Distant Landscape-reeks (akriel op bord, 2017) rig Marlise Joubert se bundel grondwater. Ook die motto van Kristin Hannah Summer Island posisioneer hierdie bundel as een van verlies en melancholie.

A daughter without her mother is a woman broken.
It is a loss that turns to arthritis and settles deep into her bones.

Meer spesifiek word die afsterwe (en siekte) van die moeder beskou en die openingsvers “geboorte van ’n wolvin” (8,9) aktiveer Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves – Myths and stories about the wild woman archetype van die Jungiaanse cantadora.

geboorte van ’n wolvin

ek is in droefnis gebore
in die jaar toe ’n groot oorlog verby was
en die as van verwoesting
neergesif het in alle aardse holtes.

trillend het my ma soos ’n wolf getjank
asof te lank in ’n slagyster vasgeklem.
drie dae lank in elim naby levubu
gekraam, terwyl nonne spookwit
met kruise gebid het teen haar buik.

in weemoed moes ek my eerste asem intrek.

soms het pa my teen sy harige lyf gewieg
terwyl hy ontween oor die dood van sy broer
die dood van sy suster, sy ma en pa.
“julle is al wat ek nou het, my welpie,”
het hy my oor ingefluister, “jy
en jou ma met haar bottervingers.”
en op dié droewe noot
het ma se melkkliere opgedroog –
het sy elke eiersel doodgewens.

hulle was ’n wolwepaar
deur elke maer of geil seisoen.
mettertyd het die getjank oor alles
onder die maan opgeklaar.

eensaam het ek grootgeword
versigtig die vlaktes verken
skuilgehou in grasskadu’s teen aanslae
van homo sapiens. tengerstil was ek
met ’n vag melancholie oor elke lit getros.
my jagtog onwennig
my tande bros
my ore waaksaam
en gespits.

alleen en sonder trop het ek gedraf.

ná ’n leeftyd is my winterpels ’n dikker vel
my oë gelouter met die lyding van ’n lam.
kom, waag dit maar
aan my woorde kan jy vat –
byt kan ek nie.

II

Die bundel karteer ’n lewensloop en word opgedra aan die moeder, Didi Joubert (1922 - 2016). Daar is ’n foto van die moeder met ’n jong kind wat die bundel outobiografies laai.

Die moeder is aanvanklik versorger en gespreksgenoot en later weens demensie, ’n blote toeskouer. Die spreker lewer ook kommentaar op haar eie broosheid en die ouer word proses word gesien as een van moegheid en aftakeling.

Die eerste afdeling lewer kommentaar op die lewensloop (“ruite in ’n raam”) en in die tweede afdeling “al die woorde” word daar gekyk na die funksie van die digterskap. Daar is selfs drie gedigte met die titel “resensie” wat gelees kan word as ’n implisiete kommentaar op die resepsie van die digkuns. In “inventaris van ’n geraamde verloop” (43) is daar ’n selfgesprek en verwysings na vorige bundels.

In “digter” (35) kyk sy ook satiries na die verskillende soorte wyses van dig: die digter as fotograaf en die papegaaidigter.

digter

op sy beste is die digter ’n fotograaf
op sy slegste ’n papegaai.

die fotograafdigter neem miljoene foto’s.
hy is uiters gedrewe, wil alles dokumenteer
en terwyl hy hiperventileer in belewenis
skud hy letters uit die beeld
om ’n gedig te ontwikkel. hy flans
ritme, struktuur en betekenisse saam.
hy skep ’n nuwe foto, leesbaar vir almal.
hy skryf soos hy gesluiter is.

die papegaaidigter spog met sy tuiste
op die wye skouers van ander, kruip soms weg
in sy koutjie asof hy ’n geheime deuntjie fluit.
hy steel woorde, hy plagieer luidkeels
hy kwaak agterna en soms laat los hy
gestringde vloeke, net om jou te beïndruk
met goudomlynde neonvlerke, sy snawel
’n diamantboor waarmee hy spieëls
stukkend sny. hy skryf nie regtig
soos hy gebek is nie.

op sy beste is die fotograaf ’n digter
op sy slegste is die papegaai
ook digter.  (35)

In die derde afdeling (“syferwater”) kyk sy na haar self: siekte, ontnugtering, oggend-blues en besef hoe transgressief en gevaarlik hierdie land geword het (“ons is die kinders”, 56). Daar is ’nduidelike tydsbemoeienis in die bundel met die wete:

eindig in ’n flessie as
of met ’n laaste woord stom
gekluit op marmerblad (58).

In die vierdie afdeling (“palm in die hand”) word die siekte en uiteindelike dood met die pynlike begrafnis van die moeder verwoord.

In die vyfde en laaste afdeling (“villa palmeira”) keer sy terug na die plekke van haar jeug. Hier vind ons ook gedigte oor kleinkinders wat minder oortuig as poësie; waarskynlik weens die té sentimentele aard daarvan. 

In die slotvers “villa palmeira, bela-bela” (105) word daar gedrink van die drupkrake / van ’n krans - in die herinnering dus. Hier sluit die gedig aan by die voorblad van die bundel.

villa palmeira, bela-bela

by die gastehuis skaar
’n woud palmbome

op die lapa se houtdek
mik lense na bo, korrel fyn
tussen pouveerblare in

daar is ’n veelheid palmfoto’s
te neem, oraloor: elke denkbare
tabberd se patroon
waaier oop

ek klik op een met elegante been
die sirkelrok staan wyd en einagroen
soos penne van ’n ystervark
waag dit net en jy word deurboor
selfs die dadels is te hoog
te trots en styf om
gemelk te word

buite die dorp
ruik ek weer karee en laventel
kiepersol en flambojant

langs ’n kleintydse waterplas
word my hand ’n blaarholte
en ek drink vir oulaas
uit die drupkrake
van ’n krans (105)

III

Daar is onthoubare beelde: “tyd is tongdoof” (90), “die dun naelstring van die see” (69), “die oorskietlap van geheue” (68), “in die delta van die oog” (46), “met soms ’n rammeling en spataarflits / agter die horison van ’n volgende eeu” (88).

Jacques Derrida se sous rature (under erasure) word ingespan in die vers “sewe sondes, plus nog een” (31) waar woorde behou en uitgevee word. Helen Moffett gebruik hierdie tegniek in Prunings  (Uhlanga Press, 2016).

In “kringloop” (88) word die langarmdans (die passies en passasies) in die gedig ontgin; die ewige verbintenis tussen lewe en dood. 

IV

Marlies Taljard skryf in haar resensie op die Versindaba:
Joubert is inderdaad een van die beduidendste Afrikaanse digters, veral as vrou wat eerlik skryf en sonder om hinderlik politiek en teoreties (feministies) korrek te probeer wees.
Inderdaad so, maar daar is verskillende soorte feminismes. Antjie Krog se sterk, woedende verse teenoor Elisabeth Eybers se sagter verse karteer vrouwees in al haar fasette. Trouens, ’n mens vind in Krog se digkuns die ontwikkeling van die volledige vrouwees; kind, jong vrou, getroude (en geskeide vrou), moeder, grootmoeder en aktivis.

Hierdie bundel is een veral vir vroue wat ’n moeder moes afstaan aan die dood en daardie oewerlose pyn probeer navigeer.

’n Mens vind dan in hierdie bundel verskillende argetipes van vrouwees soos Pinkola Estés uitwys. Hier is die sterkste een waarskynlik die moeder-argetipe. In die kringloop omgedraai: eers kind van ’n moeder; dan self ’n moeder. 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)