Thursday, December 31, 2015

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel XII)


Deel XII

Kom ons praat sommer padlangs. Santiago de Chili verskaf beslis nie aan my die frisson van Buenos Aires presies ‘n jaar gelede nie. Dis ‘n meer genadelose stad en een sonder tierlantyntjies. My hotel is in die Lastarria-buurt en met The Singular is daar beslis nie fout te vinde nie.

Stede het persoonlikhede. Soos mense het hulle ‘n aura. Jy kan dit aanvoel in die ongesegde dinge. Die kos is goed. Die wyn fantasties. Die bier yskoud. Maar daar is nie daardie vibe wat jou oorrompel soos in Buenos Aires nie. Miskien gebeur dit nog ...

Ons besoek die museum van herinnering (Museo de la Memoria y los Derechos Humanos), ‘n museum wat alle mensregteskendings veral in Chili aan bod bring. Letterlik op ‘n nugter maag is dit te veel om te aanskou, hierdie politieke verskrikkinge. President Bachelet het die museum geopen in 2010 om die verskrikkinge van die Pinochet-regering tussen 1973 - 1990 aan die kaak te stel. Bachelet het self gely onder die diktatorskap van Pinochet.

 In die sesde kamer sien ‘n mens die lyding van die jong kinders en onmiddellik neem hierdie besoek my na die oorlogmuseum in Saigon waar die besoeker bewus gemaak word deur middel van foto's hoe mense ten tyde van oorlog menseregte skend. Daar is ook hier die versugting van: “Never Again” (“Nunca Más”) ...

Die ingangsportaal is ‘n foto-installasie róndom die verskillende lande op aarde waar menseregte geskend is. Die mag van die foto – wat direk en vinnig kommunikeer (aldus Susan Sontag), word in verskeie video's vir die kyker benadruk. Bevryding en onderdrukking. Die kil oë van ‘n soldaat wat ‘n insurgent kwatswink slaan, bly my by. (Museum of Memory and Human Rights - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 31 Desember 2015).

Neruda se huis La Chascona – ter ere van sy geliefde Matilde – bevat vele replikas van die huis uit Isla Negra. Nogtans is dit goed om weer alles te sien. Die huis roep vergelykings op met die twee ander huise wat ek besoek het en vir my gevoel is die een op Isla Negra die primordiale huis, daardie huis met sy studeerkamertafel gevis uit die see!

Ons is vroegoggend daar, maar daar is soveel toeriste dat die tou lank is. My gids hou plek, terwyl ek notas neem. Jy mag helaas geen foto's neem nie, maar ek neem wel, met toestemming van een van die bestuurders, ‘n foto van die binnehof.

Nou is dit lunch in El Galeon. Ons moet deur die vismark stap en die reuk van vars vis is oorrompelend. Heerlike vis (Corvine / seebaars) met aartappels en vars tamatie. ‘n Klein orkessies sing Italiaanse liedjies en loop met ‘n hoed rond vir footjies.

Dit is warm. Buite baai mense in fonteine en drink water selfs uit die spuitende fonteine.

In die laatmiddag is dit wandel in die buurt. En hier val ek in by ‘n klein restaurantjie Les Assassins regoorkant my hotel. Frans. Die eienaar se vader het ‘n duur restaurant gehad waar Neruda graag geëet het.
“Andersoortige Kommunis, daardie man,” meen die eienaar, ”lief vir duur wyne en goeie kos.”
Hy vertel van Allende en die vriendskap met Neruda. En Allende se selfdood. Ek vertel vir hom van die verskillende representasies van Allende se dood; dat sommige meen dit was ‘n sluipmoord.

Vertrek waar die Chileense President Salvador Allende na bewering  selfmoord gepleeg het tydens die 11 September 1973 militêre coup.

“Nee, nee. Hy het hom self geskiet met ‘n geweer wat hy as geskenk gekry het van Fidel Castro. Ek vertel jou: dit ís hoe dit was. Dit was sy einde tydens die coup. Hier in my plek het ‘n Suid-Afrikaner gereeld kom eet. Ek het sy naam vergeet. Hy is ‘n baie ryk man ... sy naam ontgaan my skielik. Miskien as jy weer kom, sal ek dit onthou.”

Ek vertel hom van die verskillende landskappe wat ek meegemaak het. En van die wyne wat ek gedrink het op die verskillende plekke.

“Gelukkig skryf digters gedigte ten spyte van hul ideologie of politieke idees,” sê ek vir hom. Iets wat ek geleer het by my beste digtersvriend.  

Ek drink ‘n glas Montes Alpha Reserva (Cabernet Sauvignon).

More is dit die einde van die jaar.

Ek werk aan my bundel Indeks en sien teen ‘n muur staan: Indexa. 

La Serena

Bykans dieselfde ligtorings
die oseaan se geklots
‘n roepende voël
die natuur se muurpapier
verander niks aan
die binnelandskap
van vertrek of onthou
toe ons saam ‘n ligtoring
kon besoek voor jou weggaan
na ‘n ander oord
- in die volksmond die dood -
en hierom vermy ek
begraafplase of ruimtes
waar die ontslapenes
onder blomme
doodluiters
uitgestrek lê.
Ons hou nog soms
kajuitraad in drome
wanneer jy woordeloos bely,
jy mis my. Maar as daar
geen woorde meer is nie,
hoe weet ek wát jy uiter?
Die ligtoring in die donker nag
sein jou verlange na my uit
wat in die lewe staan.
Maar dit is ek
wat jou mis,
flikkerende
baken in die nag.
Jy is buite woorde, buite tyd.

© Joan Hambidge

Wednesday, December 30, 2015

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel XI)


Deel XI

In die nag is daar ‘n ligte tremor in La Serena. Die gids het gister vertel van ‘n tsoenami wat tot by die eerste verdieping van die hotel geklap het. Ek is gelukkig op die sesde verdieping. Gelukkig is dit gou verby. En die mense van hier steur hulle nie aan aardbewings nie.

La Serena is vanoggend bewolk, maar die jongelinge surf op die hoë branders. Ek gaan dit nou-nou waag in die see.

Gabriela Mistral, 1889 - 1957 (Lucila Godoy Alcayaga), se gesig pryk op die Chileense 5 000 pesos-note. Sy is die enigste Latyns-Amerikaanse vrou wat die Nobelprys vir letterkunde ontvang het. Bekend as feminis, Chileense ambassadeur, onderwyseres, en veral as liriese digter. En ook as onderwyser van die jonge Pablo Neruda. Soos die meeste Chileense intellektuele was sy na haar onderwysloopbaan konsul in Naples, Madrid, Lisbon, Nice, Los Angelese, Santa Barbara, New York, o.a. en sy was ‘n besoekende dosent aan Barnard College en Columbia. In Chili ontvang sy ‘n ere-professoraat.

Soos Neruda skryf sy ook onder ‘n pseudoniem. Soos Neruda sterf sy aan kanker.

Haar formele skoolopleiding het op twaalfjarige ouderdom geeïndig, maar as outodidak het sy verskillende digters gelees en haar passie was om jong mense op te voed. In Chili met sy komplekse politiek was daar ‘n uiterste tekort aan onderwysers en Mistral het so ‘n werk as onderwyseres gekry in Tenuco waar sy Neruda leer ken het. Sy is bekend vir haar uitspraak oor kinders:

“We are guilty of many errors and many faults, but our worst crime is abandoning the children, neglecting the fountain of life. Many of the things we need can wait. The child cannot. Right now is the time his bones are being formed, his blood is being made, and his senses are being developed. To him we cannot answer ‘Tomorrow,’ his name is today.”

(Gabriela Mistral - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 29 Desember 2015). 

Haar vader het hulle as jong kinders versaak en sy moes altyd veg om oorlewing in ‘n klein dorpie naby La Serena.

Haar eggenoot, Romelio Ureta, pleeg selfdood in 1909; ook moes sy later in haar lewe herstel van haar jong nefie se tragiese selfdood. Hierdie pynlike verliese kan waargeneem word in haar digkuns.

Tiny feet
Gabriela Mistral

A child's tiny feet,
Blue, blue with cold,
How can they see and not protect you?
Oh, my God!

Tiny wounded feet,
Bruised all over by pebbles,
Abused by snow and soil!

Man, being blind, ignores
that where you step, you leave
A blossom of bright light,
that where you have placed
your bleeding little soles
a redolent tuberose grows.

Since, however, you walk
through the streets so straight,
you are courageous, without fault.

Child's tiny feet,
Two suffering little gems,
How can the people pass, unseeing.

Die besoek aan die twee museums is indrukwekkend. ‘n Mens word getref deur die Chilene se respek vir hul skrywers en elke museum is besonder goed saamgestel. Die gewone film wat draai wat die lewensloop opsom, boeke en artefakte: en dan ‘n kamer wat ‘n representasie is van hoe haar huis daar uitgesien het. Haar slaapkamer as jong kind met poppe en dan die sober kamer van die volwassene. ‘n Mens voel die isolasie van hierdie vrou se bestaan.

En hier tref ‘n ramp in die kleine ons. Die galante bestuurder wil die deur vir my oopmaak en sluit per abuis sy sleutels in sy motor toe. Gou kom daar twee manne aan met stukke draad, maar die Volkswagen wil nie bes gee nie.

Uiteindelik, omdat ons nog ‘n wynplaas moet besoek, tel hy ‘n klip op en bliksem die klein agterruit uit. Die gids is geskok. Maar wat anders?

 Ons vertrek na die Aba pisquera met die gewone staptog deur die wynlande, die vate en ‘n verduideliking van hoe pisco vervaardig word in die Elqui-vallei sedert 1921. Ons is nou in Vicuňa en ek drink van die mango-pisco. Smaak na teer, ek lus nog meer!

Hierdie mense bemark hul piscos in Kanada, die VSA, Switserland, Japan, Sjina.

Ek luister na die distillasie-proses wat ongeveer 12 - 24 maande neem in koperpotte. En suiwer water help uiteindelik om die alkoholvlakke tot by 40% te kry! ‘n Geduldige, langsame proses. (Sien Pisquera Aba, Pisco Premium del Valle del Elqui.) 

Ons vertrek verder om nog ‘n huis van Mistral te besoek en ‘n die skooltjie te sien waar sy ‘n onderwyseres was. Orals langs die pad staan daar beelde van haar.

Sy is kennelik ‘n geliefde figuur. Maar dit het eers gebeur toe sy die Nobelprys verower het, en mense haar na haar dood so begin bewonder het, verduidelik my gids.

In haar lewe het sy baie swaar gekry. Sy moes veg om oorlewing en is as jong kind valslik van diefstal beskuldig wat haar haar hele lewe bygebly het.

En deur alles heen is daar die Andes.

Stoets, imposant, oorweldigend. ‘n Mens sien die kaktusse wat op die berg groei. Die berg, anders as by Puerto Natales, is kurkdroog. Anders as by Mendoza en Puerto Natales waar ek berg van ver bewonder het, ry ek nou as't ware binne-in die berg rond.

Lieflik bruin. Dan weer rosig soos die sonlig val. Amper soos ‘n mens sonder grimering.

Ons eet ‘n klein middagete by ‘n gewone vrou se huis wat ‘n B&B’tjie bedryf.

Wat lieflik is die kos nié. Groen slaai, bonesop en ‘n yskoue bier. Anders as die duur rib-eye steak in die La Serena club resort wat ek gewoon net met mosterd moes opvrolik. Twee glase wyn en seshonderd rand later word dit kwater my bokkapater. Hoe mis ek nie Nelson’s eye se sagte lamsvleis en steaks nie! Maar nou ja, reis moet nie net die perfekte najaag nie en selfs ‘n (ongelukkige) eetervaring maak jou weer bewus van hoé goed jy dit tuis het.

En om in Chili te reis beteken langpad vat. ‘n Mens reis maklik sommer in een dag tweehonderd kilometer om iets mee te maak.

Ek groet die gids en bestuurder. Gee ‘n stywe fooi vir albei.

Nou op pad Santiago toe. Lastarria hotel. Waar ek die oujaar gaan verpand vir die nuwejaar!

En op die lughawe wag Christiaan my laggend in; die man wat my na Neruda se huise geneem het.



*

Belangrike tekste van Gabriela Mistral gelys op Wikipedia:

1914: Sonetos de la muerte ("Sonnets of Death")
1922: Desolación ("Despair"), including "Decalogo del artista", New York : Instituto de las Españas
1923: Lecturas para Mujeres ("Readings for Women")
1924: Ternura: canciones de niños, Madrid: Saturnino Calleja
1934: Nubes Blancas y Breve Descripción de Chile (1934)
1938: Tala ("Harvesting", Buenos Aires: Sur
1941: Antología: Selección de Gabriela Mistral, Santiago, Chile: Zig Zag
1952: Los sonetos de la muerte y otros poemas elegíacos, Santiago, Chile: Philobiblion
1954: Lagar, Santiago, Chile
1957: Recados: Contando a Chile, Santiago, Chile: Editorial del Pacífico Croquis mexicanos; Gabriela Mistral en México, México City: Costa-Amic
1958: Poesías completas, Madrid : Aguilar
1967: Poema de Chile ("Poem of Chile"), published posthumously
1992: Lagar II, published posthumously, Santiago, Chile: Biblioteca Nacional 

© Joan Hambidge

Tuesday, December 29, 2015

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel X)


Deel X

Vir oulaas na die hotel. Die kroegman gee my ‘n afskeidsbier op die huis. Sy kroegmaat het gisteraand ‘n hele skinkbord met cocktails laat val.

“Kan ek help?”, het ek die geskokte man gevra, wat moes opmop.

“Nee, toemaar, senora.” Hy lyk verleë en die wagtende Duitsers lyk ongeduldig.

Toe ek halfses die hotel verlaat vir die twee ure rit na Punto Arenas, stap hy na my.

“Vir jou, senora.” Hy oorhandig ‘n duur bottel Reserva spesiaal gebottel vir die Australis-hotelgroep. Ek bedank hom vir die gul geskenk.

Lieflike personeel. ‘n J&B-single word sommer ‘n driekamp. Deure word galant oop- en toegemaak; ‘n serp word opgetel. As die koffie koud is by die ontbyttafel, maak die bestuurder vars koffie net vir jou.

Ek verlaat Puerto Natales en ry vir twee ure na Punto Arenas. Ons ry verby ‘n plaas wat heet Monte Alto, die naam van my huis en ek weet ek hoort hier!

In die groen weilande wei skape, perde en koeie. In ‘n gehuggie staan daar ‘n ambulans voor die aanklagkantoor. ‘n Kafeetjie se ligte brand.

Ek drink die landskap in. Wanneer ons by ‘n dam verby ry, sien ek hoe koud dit is. Die brandertjies verklap winter. En Punto Arenas is ysig.

Die aand drink ek van die Reserva ‘n glas en gee die res van die bottel vir die portier wat uiters dankbaar en bly is.

Opvallend van hierdie reis is hoe mense my “agtervolg”. Stap ek in by ‘n nuwe hotel, vra iemand was ek ook nie op daardie plek nie.

So raak hulle ou onbekende-bekendes.

Sosioloë beweer mos mense soek mekaar spontaan op. Op treine sit dieselfde mense langs mekaar, asof hulle onbewustelik mekaar “herken”. Vanoggend op pad na La Serena en dan finaal Santiago, sien ek vir Olga op die lughawe. Heerlik met haar gesels op ‘n koue, nat oggend oor hoe sy as Mexikaan Santiago ervaar.

Gebed van ‘n reisiger

Die sneeutoppe van die Andes,
‘n kormorant teen ‘n seekrans,
‘n swewende valk in die blou lug,
weet ek, hoe geseënd om ‘n landskap
met die oog te skandeer en dan te vertolk
in woorde, in ‘n ander tongval ritmies,
volgens die hartslag van my aard.
Ook die sonsondergange en maans-
veranderinge registreer ek in ‘n skets,
die blote onthou, ter wille.
Sneeu, son, maan, water, lug,
kormorant en valk ...
Niks was toevallig dalk?

Soos dit nou maar altoos met reis gesteld is, moet jy keuses maak. Jy kan eenvoudig nie alles in ‘n land ervaar of besoek nie. Sou graag Easter Island (Rapa Nui) wou meemaak, die vulkaniese eiland in Polinesieë, met die ongeveer 900 standbeelde. Klipaltare (ahus), hierdie groot menslike figure en hul groot koppe.

Een van die grootste opelug-museums op aarde.

Maar met al die reisonsekerhede en -stakings moes die weermag ingryp en mense met ‘n weermag-vliegtuig na die eiland neem. Verder, vertel my San Francisco-mede-reisiger, was hulle daar vasgekeer weens die stakings. Sy wys selfs foto's hoe hulle in die weermagvliegtuig langs die bagasie sit.

So my hele reisplan sou ontwrigting in die gesig staar. Moes ‘n muntstuk opgooi: Wynlande, Neruda, Huidobro en Mistral se huise en die gletsers (met natuurskoon) in Puerto Natalis Of Rapa Nui en snorkel in die pragtige oseaan ...

Kruis of munt?

Reis het eweneens ‘n spyskaart – en jy moet kies ...


Terwyl ek hierdie inskrywing maak op pad na La Serena, onder andere om Gabriela Mistral se huis te besoek, lees ek van Randall Wicomb se dood, hy wat so mooi “Dans metdie rooi rok” kon vertolk met sy gewese vrou, Koba.

Nou draal die wysie in my kop ...

Dans met die rooi rok, die hartlam van my.
Dis die rooi rok, dis die mooi rok, dis die rooi rok wat waai.
Dawid de Lange se orkes, Haai! Haai!
Dis die rooi rok, dis die mooi rok, dis die rooi rok wat swaai.

Nou dink ‘n mens – sommer om opstropperis te wees – het die vertaling van die liedjie dieselfde krag as die oorspronklike?

En hier op pad na La Serena weet ‘n mens presies wat die woord hártstaal beteken.

La Serena snags

Ek neem foto's van die Andes en dink dat een van die hoogtepunte in my lewe die besoek aan die gletser was. En daardie whizza met geltser-ys, veral.

Ek kyk uit op die lughawe in Santiago de Chili vanuit die vliegtuig en sien hoe my tas ingelaai word. Dankbaar dat die tas nie agterbly in Santiago nie, maar saamreis na La Serena. Ek herken my tas aan sy blou sekuriteitssleutel.

Dis immers een van die nagmerries van reis: dat jou tas agterbly op ‘n lughawe of na die verkeerde bestemming versend word. Veral die Amerikaners op hierdie reis vertel hoe die tas wegraak en dan ‘n paar dae later eers opdaag.

Wanneer ons vlieg, sien ek spore op die berge. Is dit dalk van die gode, soos Von Däniken beweer het oor die gode se besoeke aan Peru en hier? Daar draal rook uit ‘n bergtop.

Sou wat wou gee om ‘n vulkaan te sien ontplof – van ver af deur ‘n vliegtuig se venster.

Die laaste drie dae was vol met avonture en ek is nogal lodderoog wanneer ek in La Serana aankom in ‘n soort oord wat herinner aan die een in Acapulco. Mense lê langs die swembad. Nou is dit eers uitpak en gewoond raak aan die nuwe kamer.

Die wifi werk. Maar helaas is daar geen water in die kamer nie. Ek moet dit in die restaurant gaan koop en boonop geen prop vir die bad nie. Die recepcion beveel ek moet stort, en basta. Dis hoe dit hier is.

My gids vertel ek moet more ontspan. Dan neem sy my Dinsdag na Gabriela Mistral se huis. En dan die Elqui-vallei.


Vanaand gaan ek vroegerig inkruip.

© Joan Hambidge