Julian Barnes. Love,
etc. Random House, 2000. ISBN 0224 06109 7.
Resensent: Joan
Hambidge
Daar staan 'n rak in my sitkamer met uitstaande romans: Lolita, Life a user's manual van Georges
Perec; al Etienne Leroux se romans; Djuna Barnes se Nightwood; Perfume van
Patrick Süsskind; Iris Murdoch se The
sea, the sea, Kundera se The book of
laughter and forgetting; Byatt
se Possession; Ondaatje se The English patient; The master of Petersburg van J.M.
Coetzee en Julian Barnes se Flaubert's
parrot.
In hierdie speelse roman word die lewe van Flaubert
ondersoek en kwasi-biografies bespreek. Dit word egter nooit vervelig of
pedanties gedoen nie. Flaubert se uitspraak dat 'n romanskrywer moet soos God
in sy skepping aanwesig wees, maar nooit sigbaar nie, word hier op sy kop
gekeer.
In Love, etc soos in England, England (1998) is Barnes weer besig met analise. In
laasgenoemde roman het hy die Engelse psige uitemekaar gehaal (soos 'n kind
doen met Lego-blokkies) en in sy jongste - wat ek in een aand nie kon neersit
nie - beskou hy op sy aweregse, siniese manier die impak van die liefde op die
mens se psige.
Drie karakters (Stuart, Oliver en Gillian) se
verhoudinge word met mekaar weergegee. Ons word blootgestel aan hulle
binnespraak en die leser kry 'n pynlike en snaakse en onderhoudende blik op die
huwelik, die liefde en die skeiding. (Ook twee kinders, 'n skoonma, 'n
psigiater en eks-vrou lewer kommentaar.)
Regdeur word 'n mens herinner aan die feit dat Barnes 'n
frankofiel is en al menige Engelse
romanskrywer op sy plek gesit het (soos Mister Amis). Die roman het daardie
ondefinieerbare ding genaamd “wit”. En die lag met die traan soos die
skoolonnie geleer het, oftewel ironie.
Verder is dit onderhoudend geskryf. Dit sleur jou mee.
Dit sit vol wysheid (soos dis bloed onder die brug; elke verhouding vertel ons
uiteindelik van al die moontlikhede wat ons verspeel het met ander mense),
sonder om te preek.
Dit is 'n roman wat tintel van wysheid. Wat kennis neem
van al die tegnieke. Immers is ons binne karakters se koppe wat as't ware vrae
van die (afwesige?) outeur beantwoord. Op bladsy 157 maak hy sy verskyning:”Post-modernism:
I, the author, made up this story. It's a mere construct”.
Vir my is die grootste bydrae van hierdie roman dat dit
uitvoerig skryf oor die liefde. Snaaks. Banaal. En al die uitsprake rondom La
Rochefoucauld se dictum analiseer:
Dat in die liefde daar altyd een is wat meer voel. Stuart se terugkeer na
Gillian het wrede gevolge, vir sowel hulle as vir Oliver en die leser.
Is die sessie op die sofa vir albei ewe aanvaarbaar? Wie
het gelyk? Dit onstig die leser wat in die grys area van hierdie hoogs private
gebied toegelaat word.
Skielik is die leser ook gekonfronteer met die wete dat
ou liefde se vuur waarskynlik altyd bly brand en dat selfs pogings om dit te
ontken, net die hartstog versterk. Julian Barnes kan skryf, allamagtag. Hy neem
jou gereeld na die woordeboek en vele van sy uitsprake is analises van ander
skrywers se uitsprake oor die liefde. Hy is ook, terloops, besig om sy vorige
roman Talking it over as't ware te herbesoek. Skrywers doen
dit dikwels. 'n Tema uit die jeug word as ouer, volwasse skrywer weer bekyk. Is
Fear of fifty (1994) nie Erica Jong
se antwoord op Fear of flying nie?
En die skoene op die voorblad? Dit speel in op 'n
uitspraak dat ons elkeen eiesoortig ons skoene uittrap en dat elke persoon s'n
daar anders uitsien. Die simboliese hantering van varke en krewe word eweneens
goed hanteer.
So moet 'n mens skryf. En so moet jy lees: in een
asemteug. En ja, hierdie roman gaan ook sitkamer toe.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]