Monday, August 28, 2017

Resensie | Corné Coetzee – nou.hier (2017)

Resensie | Corné Coetzee – nou.hier. Human & Rousseau, 2017. ISBN-13 780798176200

Resensent. Joan Hambidge

Om in die oomblik te wees. Die hier-en-nou. Waarskynlik vir die Westerling die moeilikste eis denkbaar. Of ons verlang nostalgies terug na wat was; of ons hoop dat môre ’n beter dag sal wees, en so glip die oomblik tussen ons vingers deur. En dit is hierdie spanning wat die Tibettaanse boek van die dood behandel (van die 8ste eeu alreeds met ons), wat Corné Coetzee in haar eenvoudige, dog ryk verse ontgin. Eenvoudig, oop, maar nie simplisties nie!

Ons weet immers (via William Blake) dat die eenvoudigste verse die grootste diepte kan verraai.

Die motto is uit Karel Schoeman se vertaling van ’n Ierse vers, te wete die “Die oggendgesang van St. Ceallach”:

Wees gegroet, skone oggend, wat soos ’n vlam oor die aarde val

Die eerste afdeling, “Nymphae gloriosa”, is nie toevallig nie. ’n Mens sien veral hierdie waterlelies in die Ooste en die bundel sluit met ’n reeks oor Siddharta.

Boonop moet dooie blomme gereeld verwyder word van dié lelies wat in die winter dormant bly.

Die digter bedien haar van ironie, en in die openingsvers (“Bruide kyk”) is daar alreeds ’n ontnugtering aantoonbaar: Hoekom huil die vrouens? ’n Mens dink hier onwillekeurig aan Rachelle Greeff se Die rugkant van die bruid wat eweneens die pynlike verkilling registreer: die huwelik of die jong meisie droom wat nie “waar” is nie. Hierdie bundel registreer dan die droom wat langsamerhand uitloop op ontnugtering, roerend beskryf in “Oktobermaand se bruide”:

By die hek begin November se giftige maanblomme
soos engele met swaarde knop maak.

En hierdie “vernugteringe” en “on-waarhede” word in gedig ná gedig aan die kaak gestel – sonder ’n omhaal van woorde. Soms praat sy via Antjie Krog (soos in “aljanderbos”); ander kere, soos in “Kombuis”, is daar ’n Eybers-aanslag. (Die vers vra ’n saamlees met “Huisvrou”, ’n vers deur vele vrouedigters al geparodieer.)

Die lot van vroue: verkragting, desillusie in huwelike en ontkenning, word sober en sterk aangespreek.

Die oos-wes-tuis-bes-gegewe word op sy kop gekeer.

Coetzee is die meester van die wrang slot en in “Moenie mors nie” (69) word die netjiese moeder teenstellend in die herinnering geroep:

het ma nou rus vir ma se siel
alles ordelik, spiksplinterskoon
die baldadige wurms eindelik weg
elke been bedees op sy plek

In die slotreeks, “Die leemte in die kern”, gee sy ’n beeld van die lewensloop van Siddharta Boeddha en uit die oogpunt van sy moeder en vader. Daar is ook ’n vers van Jasju, sy vrou wat ’n volgeling word. Die moeder se kontrak is een van “been en bloed” en ons vind onthoubare reëls soos: Die pyn klou soos ’n kind om my nek (93).

Die vers oor Tenzin Palmo is lieflik. ’n Mens kan waarskynlik nie na ’n vers oor die Boeddha kyk sonder om Keanu Reeves in herinnering te roep uit die rolprent Little Buddha van Bernardo Bertolucci (1993) nie.

Hierdie uitstekende reeks maak die leser bewus van hoe fyn die bundel werk met tyd. Nou-hier, toe/dan. In “Besoek” word die ouer op ’n Sondagmiddag in ’n ouetehuis besoek:

Op die bedkas die verslete
Bybel en die Westclox.
Dié steek vas op halfses,
winterskemeruur.

’n Gedig dra ook die titel-tyd, en onderafdelings (soos “Hierdie tyd”, “Saadskiet”) aktiveer die gang van sake; soos die beeldverse oor Siddharta reïnkarnasie impliseer.

Die kritikus M.L. Rosenthal het op ’n dag beweer dat belydenis­poësie met lyding (“suffering”) te make het. Hierom is dit vreemd dat Coetzee in ’n nawoord ontken dat die gedigte outobiografies is en in die geval van die Siddharta-verse nie biografies nie. Ironies genoeg bevestig sy dalk juis hiermee die teenoorgestelde?

Dit is ’n besonderse debuut – met gedigte wat jou soms ontstig en aan die keel gryp oor die eerlikheid daarvan, soos in die brutaal eerlike “Ons ken mekaar se holtes”. Woorde wat wapens word; huweliksmaats wat mekaar ongesiens (ongehoords!) kan beseer tussen ander.

Die digter is behendig. Sy het die vermoë om ’n slot te skryf wat jou soos ’n vuishou tref. Die bundel lewer skerp gender-kommentaar en sosiale kommentaar (“Gaia” en “Platipuspaddas”, waar die menslike kondisie via paddas beskryf word).

Die refrein van eensaamheid, van verdriet, van buite die orde leef, kom in vers ná vers aan bod:

Hoe sal ons ons gang gaan
so troosteloos en sonder siddering?

Ek het begin met ’n verwysing na die spanning tussen Oosterse en Westerse denke. In “Jogaklas” word hierdie binariteite goed vasgevat in die slot:

’n Ongegronde, aardwye droefheid.
Ek het nie eens ’n kleinkind nie.
Ná die laaste ohm
voel ek beter,
ry huis toe
en weerstandloos
klik ek skakelaars
vir ligte, TV, maal,
voor warm bad en bed.

Hierdie bundel het dieselfde eerlikheid, oopheid en weggesteekte verwysings as Jeanne Goosen se onbesonge, beeldskone Elders aan diens (Genugtig!, 2007).

Die voorblad van Nou, hier is baie slim: die suburbia-huisies en bo in die wolke die Boeddha wat bo alles sweef. Dié Coetzee-digter máák magic, soos sy iewers skryf:

Hoogsomer

Wat sou ons gemaak het
as ons geweet het,
daardie volmaakte Februariemiddag,
dat die laaste vy ryp geword het
en die eerste blaar
sel vir sel sy skeidingslaag begin bou het?
’n Mens is tog geen vyeboom nie
’n Mens kon tog plan gemaak het

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)


Friday, August 25, 2017

Resensie | Cas Wepener – Die reis gaan inwaarts: Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman (2017)

Cas Wepener – Die reis gaan inwaarts: Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman. SUN Media, 2017. ISBN 9781928355144

Resensent: Joan Hambidge

I
Karel Schoeman is een van Afrikaans se bakens.

Sy selfdood vroeër vanjaar het wye reaksie in die media ontlok en opnuut bevestig hoe belangrik hy geag word deur sowel gewone lesers as letterkundiges. Selfs diegene wat hom nooit ontmoet het nie, was deur sy dood geraak. En die outeur van hierdie studie het die skrywer vroegtydig in kennis gestel van die studie en haal uit sy e-pos aan van 29 April. Op 1 Mei 2017 is hy oorlede.

As historiese navorser en romanskrywer het hy geen gelyke wat produktiwiteit, diepte en stilistiese beheer betref nie. Min skrywers het so ‘n groot oeuvre nagelaat en die navorser Cas Wepener se studie is van waarde vir alle Schoeman-lesers. H.P. van Coller wys tereg op die rol van die noodlot, historiese kragte en verganklikheid in die mens se lewe wat Schoeman ondersoek.

Wepener se studie – as teoloog en gedragswetenskaplike – gee ‘n teoretiese perspektief op die betekenis van dood in Schoeman se romans. Die studie beslaan 233 bladsye, is teoreties gefundeer en soos Willie Burger opmerk in die Voorwoord, vermy Wepener ‘n instrumentalistiese benadering tot Schoeman se komplekse tekste, juis omdat hy die onbekende en onvaspenbare erken. Burger beklemtoon tereg hoe Schoeman jou in sy tekste intrek; dit maak ‘n inwaartse reis moontlik. Inderdaad dwing dit jou tot selfkonfrontasie met ‘n ritme wat ‘n mandala word (vii).

Met instrumentalisties verwys Burger na Derek Attridge se studie The Singularity of Literature van 2004 waar hierdie term beteken dat ‘n mens ‘n teks benader met ‘n voorafbepaalde doel.

Daar is passasies in ‘n Schoeman-roman wat hierdie leser van buite ken. ‘n Mens lees hierdie romans – wat nie plot-gedrewe is nie – agter die tekstuur aan. Jy kan dikwels nie ‘n finale, vaspenbare betekenis gee nie; maar passasies bly altyd in jou draal en nawerk.

II
Die boek beslaan 7 hoofstukke. In die eerste hoofstuk word die kuns van sterwe in die oeuvre ondersoek. In die tweede hoofstuk word daar gekyk na oorgangsrituele, “dominees” en die dood, terwyl die derde hoofstuk kyk na die twee dominees en Meester in ‘n Lug vol helder wolke. In die vierde hoofstuk word Pastoor August Scheffler in ‘n Ander land ondersoek. In die voortreflike Die uur van die engel (my gunsteling Schoeman-roman naas Op ‘n eiland), word Dominee Theophilus Heyns en Danie Steenkamp beskou. In die sesde hoofstuk is daar nog vier stemme en die sewende hoofstuk bespreek  die kern van die kriterium.

III
Van ons grootste literatore het oor hierdie romanskrywer boeiende en uitgebreide studies geskryf en daar word in gesprek getree met die reeds genoemde Willie Burger, Van Coller, Gert Jooste, J.C. Kannemeyer, Henriette Roos, Gerrit Olivier, Helize van Vuuren, Chris van der Merwe en Louise Viljoen. Vir hierdie leser was die outeur se analise van die viatikum boeiend. Die Romeine het ‘n muntstuk geplaas in die persoon se mond wanneer hy sterf sodat hy die bootsman Charon kon betaal. Christene, egter, het geglo dat gestorwe gelowiges na God gaan en hierom is die muntstuk vervang met die toediening van die Nagmaal net voordat die persoon sterf. Hierdie vermenging van kultus en kultuur word in die Liturgiewetenskap “liturgiese inkulturasies” genoem (voetnoot bladsy 3).

Baie belangrike inligting word vir verdere navorsing weergegee, soos die voetnoot op bladsy 160 wat handel oor die opgehefde hand wat telkens op verskeie wyses terugkeer in Die uur van die engel.

Hierdie studie kan breedweg beskou word as ‘n teks wat sowel tot die teologie as die letterkundige studie behoort. Enersyds die ars moriendi dan met verwysings na die rituele kritiek (o.a. van Ronald Grimes, Catherine Bell, Elizabeth Kübler-Ross, o.a.); andersyds tree dit in gesprek met bekende letterkundige tekste oor die werk van Schoeman. Daar is ook teologiese insette en die sosiale wetenskappe (Kulturele Antropologie en Rituele Studies). So beskou is dit ‘n multi-dissiplinêre studie.

Grimes se inventarisasie van dodesrites (42 – 43) is van groot waarde vir die ontsluiting van enige teks wat oor die dood handel:

antisipering van die dood
segregasie, onderhouding van taboes
rou
markering van die einde van die routyd
beskerming van oorlewendes van die dood
publisering of aankondiging van die dood
saamkom, troos
wys van dankbaarheid, respek, of simpatie
demonstrering van ‘kinship’ of status en die versekering van opvolging
dramatisering van die dood se finaliteit
handhawing van of herstel van die sosiale orde na die dood
ontkenning van die dood se finaliteit
loslating van, integrering, omhelsing van die dood se finaliteit
herdenking

“In die Afrikaanse prosa was daar baie strominge. Ons het die Sestigers gehad, en die tagtigers; daar was die moderniste en die post-moderniste; en dan was daar Karel Schoeman’, aldus Chris van der Merwe.

Hierdie opmerking is relevant – want die enorme posisie van Karel Schoeman val nie te betwyfel nie. Die verskillende reaksies in die pers en op die internet het dit deeglik bewys Wepener is ‘n fyn leser. Hy bekyk die novisiaat (die probasie of internskap) en Schoeman se lewe in kloosters. Sy bemoeienis met die landskap van die dood is dan ook ingegee deur sy blootstelling aan die lot van mense (14 – 15).

Soos wat die Die laaste Afrikaanse boek ‘n vermenging van genres is, kan ‘n mens Wepener se studie ook lees as ‘n versmelting van nadenke oor die dood, ritualiteit, die skrywer se outobiografie, kreatiewe tekste, historiese tekste, en die Boeddhisme. Schoeman het Rob Nairn vertaal as ‘n Stil gemoed.

Hy betrek eweneens dominee-portrette as bron (52) en hierdie visuele data en kerklike kodes demonstreer hoe fyn Wepener lees via Susan Sontag se On photography en Roland Barthes se Camera lucida.

By sy lees van tekste, soos ‘n Lug vol helder wolke, betrek hy vele kritiese response op die teks en wys hy tereg op J.M. Coetzee se siening van die roman as ‘n moderne plaasroman. Religieuse konsepte word bespreek in ‘n voetnoot (81), eweneens tersaaklik vir die leser van ‘n Schoeman-roman. Wanneer ‘n mens hierdie studie lees, raak jy opnuut knorrig oor Marius Crous se fatale en banale interpretasie van ‘n Ander land:
Hierdie sterwenstoneel is ’n voorspooksel van Versluis se eie komende einde. Die toneel is in die eerste instansie ’n vermensliking van Versluis en dan ’n seksualisering. In aansluiting by Denisoff (1994:70) kan die liggaam van die sterwende man ook gelees word as ’n falliese objek wat sy finale orgasme belewe voor die dood en die “bloederige skuim op die lippe” kan die semen suggereer. (Tussen mans: ’n Perspektief op homososiale begeerte in Karel Schoeman se ’n Ander land | Marius CrousBesoek 25 Augustus 2017). 
In ‘n voetnoot verskil Wepener tereg (100) en wys op die feit dat ons hier ‘n teringlyer het wat sterf in die arms van ‘n landgenoot. Hier het ‘n mens dus ‘n bewys van wat Attridge bedoel met ‘n instrumentalistiese lesing, omdat Crous ‘n templaat op die komplekse teks afdruk wat die teks verminder.

Een van die grootste pluspunte van hierdie studie is dat dit leser veral met voetnote teologies oplei. O.a. oor die epikletiese struktuur (136). Die epiklesegebed in die Protestantse liturgie is die gebed net voor die Skriflesing en staan bekend as die gebed om die verligting deur die Heilige Gees.

In die reeds bekende onderhoud met Gerrit Olivier (opgeneem in Sluiswagter by die dam van stemme, 2002) bely Schoeman dat hy nie die dood vrees nie. Hy haal ook Van Wyk Louw aan:

Mooi is die lewe en die dood is mooi
(“Nog in my laaste woorde”)

In die agtergrond is daar ‘n plaashek … ‘n beeld van oorgang, liminaliteit. Sterwe is iets waarmee jy lewenslank besig is … (113)

Dis ‘n boek vir alle Schoeman-lesers. Dis baie goed nagevors en uiters leersaam.