Wilfred Jonckheere (Red). Die platgetrapte kroontjie. Afrikaanse en Nederlandse gedigte oor die
Anglo-Boereoorlog. Protea Boekehuis, 2001. ISBN 1 919825 19 3.
Resensent: Joan
Hambidge
Die bloemlesing is 'n versamelstuk vir alle
belangstellendes in die ABO. Wilfred Jonckheere het 'n reeks gedigte wat oor
hierdie onderwerp handel, wat sowel in Afrikaans as in Nederlands verskyn het,
byeengebring. Die bundel geen dus 'n tematiese eerder as 'n kritiese blik. Die
leser wat die gedigte as goed/sleg gaan beoordeel, sal waarskynlik die
samesteller se doelwit mis.
Jonckheere is 'n deeglike kritikus en die ingeligte leser
voel dis van meet af aan veilig in sy hande. Dit begin met 'n historiese
inleiding. Onbekende feite kom aan die lig en Jonckheere wys tereg daarop dat
digters soos Kloos, Albert Verwey en P.C. Boutens ook geleentheidsgedigte
geskryf het oor die onreg wat teen die Boere gepleeg is.
Die samesteller stel dit ook duidelik dat hy die gedigte
van minder bekende mense wou plaas, omdat die lang vergete stemme ook gehoor
moet word. Dit was meesal eenvoudige mense, wat regstreeks betrokke was by die
oorlogsgeweld en "uit die hart uit" skryf. Dit is duidelik spontane
digkuns, wat volgens hom deel moet uitmaak van 'n bloemlesing soos hierdie een.
'n Mens kan uiteraard akkoord gaan met die stelling dat
'n tematiese bloemlesing waarskynlik 'n mindere gedig se plek regverdig. Die
leser kan bittergou ook sien waarom Totius meer onthoubaar is as die vers van
'n krygsgevangene wat op Ceylon in 'n museum bewaar word. (Die titel, terloops,
is uit "Vergewe en vergeet".)
Daar is ook Engelse gedigte van onbekende digters (p. 38,
62) Joubert Reitz se "What were your thoughts"(p. 85). Die bekende
gekanoniseerde verse staan werklik uit tussen dikwels retories-gedrewe verse.
Celliers se "Die Kampsuster" (p. 100) bly ontroerend mooi:
Suster Anna, ek voel dis die dood wat kom:
slaap ope die tentedoek, na buitekant om
en die treffer van Marais ("Winternag", p. 119)
kontekstualiseer die verwysings binne die ABO. Ook Opperman se "Gebed om
die gebeente" staan hier: gewoon imposant. Ook die minimalistiese dog so
vol implikasie "Dis Al". (Interessant dat Celliers se twee genoemde
verse al in die volksmond banaal geparodieer is waarmee die belang van die
verse bewys word!)
Die bloemlesing is voorsien van 'n handige bronnelys en
vir die dosent bied dit die moontlikhede van 'n nuwe kursus aan. Dit is dus 'n
boek vir alle ABO-versamelaars en lesers van die digkuns.
Die boek is in hardeband uitgegee deur Protea Boekehuis.
Dit is goed dat dit versamel en gepubliseer is.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]