Saturday, September 23, 2017

Resensie | Elize Botha - Gespreksgenoot. ’n Brieweboek (samest. Heilna du Plooy, 2017) | Deel II

Elize Botha - Gespreksgenoot: ’n brieweboek (Samesteller: Heilna du Plooy). Litera Publikasies, 2017. ISBN: 9781-920188535

D E E L  II

In hierdie ryke versameling van briewe, staan ons vervolgens stil by ‘n paar briewe wat vir hierdie leser tot nadenke gestem het. Elize Botha was ‘n gespreksgenoot vir vele uiteenlopende mense binne die literatuur. ‘n Jong M.C. Botha vra haar om raad en sy gee dit. Sonder omhaal van woorde – met respek vir sy werk wat sy toe reeds eien as besonders. In hierdie briefwisseling beleef die leser persoonlike krisisse wat nie by die naam genoem word nie, maar wat die jong M.C. optel. Elize wens hom voorspoed toe met sy voorgenome huwelik en drink vele glasies op hom.

Waarskynlik is die briewe van Jeanne Goosen stukke waarna ‘n mens by herhaling gaan terugkeer. Dis vintage-Goosen, huiwerend tussen surrealistiese waarnemings en suiwer poësie.

‘n Mens huil van die lag oor die verhaal van ‘n man wat by gebrek aan aas met ‘n liddoring vis vang!

Hierdie is ‘n inloer in Goosen se kreatiewe denke. ‘n Mens sien byvoorbeeld hoe sy Om ‘n mens na te boots gekonstrueer het. Waarnemings wat deur die fantasie omgetower word.

“‘n Mens is darem vreeslik absurd – dis nou as jy nie die slag ‘n mens naboots nie.”

Sy vertel van haar vleuelklavier (en Goosen kon vertolk) wat haar verwyt, omdat sy nie meer op hom speel nie (570). Sy voel sy is nie opgewasse vir hom nie.

Hierdie briewe is tydsdokumente. Koos Prinsloo skryf oor Jonkmanskas en van die grens af. Hierby is daar ‘n brief ingesluit van Victor Munnik. Ons verneem van die tragiese dood van Helena Stark – ‘n karakter in ‘n Prinsloo-verhaal – en van Renske Koen se ongeluk, ‘n hartsvriendin van Elize Botha. Vir my ‘n stuk ellende wat hier onverwags terugkeer, omdat ek die vooraand van hul dood by hulle gekuier het en die volgende dag in die koerant dit op straat gelees het …

Hieroor skryf ek ‘n gedig in Bitterlemoene.

Stephan Bouwer se rou brief aan haar – die rou dinge waaroor ‘n mens net kan stotter (601).

Nog ‘n skrywer wat “tannie Elize” skryf, is Fanie Naudé wat vanuit Londen as buitestaander kommentaar lewer op Bram Fischer en die taalbeleid. Hy staan krities teenoor Chris Brink se taalbeleid (598).  En hoe ironies klink sy woorde op in dié brief: Alhoewel, wie weet, as ek eendag vir ‘n ruk die geleentheid kry om behoorlik te konsentreer op skrywe, kan ‘n mens dalk tog iets daarvan maak” (600). Ek sou wat wou gee om Elize Botha se hantering van die Walter Benjamin-gegewe in die manjifieke Die derde spoel te lees!

Ons sien o.a. hoe komplimenterend is Leroux oor haar raaktasting van Onse Hymie en die aard van die entertainment en satire (via Graham Greene).

In latere jare was dit dan ook een van my verskilpunte met Elize Botha, oor die komplekse voertaalkwessie aan die Universiteit van Stellenbosch. Maar vriendskappe moet verskille en anti-teses kan akkommodeer. Ek onthou ‘n besoek aan haar in die hospitaal, sowat ‘n tweejaar voor haar dood. Ons het toe sterk verskil.

Sy bedank vriende deurgaans vir ondersteuning – soos die uitgewer Marietjie Coetzee – en in ‘n brief aan Heilna du Plooy (608) word ‘n brief ‘n meta-refleksie oor presies dit wat hierdie boek doen: die insameling van perspektiewe en verskillende benaderingswyses …

Tussendeur is daar skrywers wat na vore kom: Margaret Drabble, Anita Brookner, Seamus Heaney …

Op ‘n keer het Elize Botha ou uitgawes van Times Literary Supplement en New Yorkers vir my persent gegee – wat ek steeds bewaar …

Hennie Aucamp word telkens erken as ‘n rigtinggewer: “Terwyk ek lees het ek weer só sterk ervaar hoe begunstig ek deur baie jare was, om in voeling te kon bly met jou werk en denke, hoe rigtend en inspirerend dit in my voortgewerk het”(633).

Dis dan ook Aucamp wat raaksien dat die essay by uitnemendheid Elize Botha se uitdrukkingsvorm is!

Onvoltooide gesprekke, maar genadiglik gesprekke wat deur ‘n kundige en fyn leser soos Heilna du Plooy versamel is.

Die boek sluit dan af met ‘n kort nota van Hennie Aucamp op 7 November 2007:
Liewe Elize
Ek stuur gedagtes en gebede na jou toe uit. Jy was dikwels die sentrum van die groot gebeurtenisse in my lewe, en hiervoor sal ek jou altyd dankbaar bly. Hennie
© Joan Hambidge

Monday, September 18, 2017

Resensie | Elize Botha - Gespreksgenoot: ’n brieweboek (samest. Heilna du Plooy, 2017) | Deel I


Elize Botha - Gespreksgenoot: ’n brieweboek (Samesteller: Heilna du Plooy). Litera Publikasies, 2017. ISBN: 9781-920188535

D E E L  I

I

Hierdie is dan my eerste en persoonlike reaksie.

Só word die brieweboek van Elize Botha bemark:

Hierdie lywige bundel van sowat 700 bladsye is deur Heilna du Plooy saamgestel uit briewe van Elize Botha en verskeie skrywers en ander bekendes. Skrywers en digters soos Audrey Blignault, Hennie Aucamp, NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Lina Spies en baie ander het met Botha gekorrespondeer. Party briewe is diep ontroerend, ander laat jou hardop lag en ‘n klompie lees jy herhaaldelik om die besonderse insig daarin. Die briefskrywers skets die klein en groot gebeure in hulle lewens, deel hul menings oor boeke en mense en vertel van die dinge wat hul lewens moeilik of vreugdevol maak. Dit is ’n intieme teks wat by baie lesers byval sal vind.

Op die voorblad is daar ‘n foto van ‘n jong en mooi Elize Botha, met daardie bekende handtekening. Agterop ‘n foto van die ouer, meer beleë kanselier.

Hoe beskryf ‘n mens Elize Botha, een van ons grootste prosa-lesers en fynste stiliste?

Op ‘n keer is daar na haar – ietwat sardonies – verwys as die boegbeeld van die Afrikaanse letterkunde. Haar lewe van 1930 – 2007 is gekenmerk deur groot vriendskappe en lojaliteite. Van Van Wyk Louw, die Oppermans, Audrey Blignault, Alba Bouwer, Etienne Leroux, T.T. Cloete, J.C. Steyn …

As jong student begin ek ‘n MA by haar. En daarmee saam het ‘n kosbare lees-vriendskap begin.

Die uitgebreide feesmale aan’t huise in Colbynstraat was soos gister; later in restaurante toe sy dikwels moes reis om haar verpligtinge as voorsitter of komiteelid na te kom.

Op ‘n keer bring Elize (ek het haar altyd formeel (en met respek) as doktor aangespreek totdat sy op ‘n keer my versoek het om haar Elize te noem) vir my die jongste Saul Bellow van ‘n oorsese reis: The dean’s December.

Op ‘n keer koop ek vir haar, op versoek, George Steiner se roman The Portage to San Cristobal of A.H. (1981) op ‘n reis in die buiteland.

En sowel Bellow as Steiner is vir hierdie bespreking ter sake. Bellow se onvergeetlike brieweboek is meer as briewe. Dit is ‘n kroniek van ‘n briljante skrywer, intellektueel, gesaghebbende – en ook mens. ‘n Mens sien sy humoristiese kant in briewe aan Philip Roth en wat hy maak van Hannah Arendt. Jy sien sy verhoudings met sy kinders, sy geliefdes, sy donker kant. Dit heet Saul Bellow – letters (Penguin, 2010).

In ‘n laaste brief aan my (daarna was daar vele telefoongesprekke en boodskappe op my antwoordmasjien, veral die laaste een het ek bewaar) verwys sy na Steiner se lesing aan die UP: "Around a table we will take a text, no critics, no secondary journals, no critics of criticism … we’d learn to read it together again …” (14 Januarie 2001).

Hierdie brief was lank soek en daar ontdek ek dit een middag in ‘n laai saam met ‘n brief van Eybers aan my. Ek skandeer dit dadelik en stuur dit vir Heilna vir opname.

Dit inspireer my ook om ‘n gedig vir haar te skryf na haar kommentaar op my Louw-vers in Lykdigte:

Elize Botha (1930 - 2007)

    Shatter your leaves before the mellowing year.
    Bitter constraint and sad occasion dear
    Compels me to disturb your season due ...
   
    Milton

Gyselaar van sentimentaliteit,
tipeer jy jouself speels in 'n brief
aan my op 14 Januarie 2001 gestuur.
Jou stem bewaar ek steeds digitaal
op 'n moderne antwoordapparaat.
Oor die lotgevalle van 'n gedig
- wat weggeneem word, wat bykom -
skryf jy insigryk in jou mooi handskrif.
Jy dink na oor George Steiner:
"Around a table we will take a text, no critics ..."
Vannag kyk ek na jou dubbellees, 'n keerweer,
van 'n lykdig oor jou mentor in Amsterdam.
Agter die sigwaarde van 'n gedig
kon jy inkyk en hierdie variant
van afskeid én erkenning, 'n eulogie ja,
laat my wonder oor toeval en toeverlaat:
'n brief uit Amosstraat 34, Colbyn 0083,
herversend deur die Posman van AllesWeet.

III

My M.A. onder haar begeleiding het ironies genoeg gehandel oor Die ek-verteller in die belydenisroman. En dit is hoe ‘n mens hierdie brieweboek moet benader: as belydenis, konfessie – maar uiteraard die ingeboude aspek van die belydenis is ter sprake. Daar is ‘n toehoorder (aanhoorder) aan wie die brief gerig word met tegnieke wat beheer, selfs afstand, impliseer. Hierdie “naked I” verdoesel dikwels meer as wat sy bely deur tegnieke van ironie en die bybring van tekste. En ‘n brief moet binne ‘n bepaalde tydsgewrig gelees word. Só beskou, is dit dan ook ‘n dokumentasie van ons taal en letterkunde.

Daar is geweldig baie te waardeer uit hierdie boek. Ek onthou hoe sy vir my as jong student gedigte wys van ‘n onbekende digter, opgeneem in Tydskrif vir letterkunde.

“Dis fantasties!”, roep ek uit.
“Dink jy ook so?”, vra sy. Later sou ek uitvind dat die skuilnaam T.T. Cloete was.

Deur die jare was daar ontmoetings – dikwels by glansgeleenthede – waar sy ‘n boekprys moes oorhandig. Op panele was sy ‘n sterk teenwoordigheid – wat dikwels teen die mode van die tyd sou argumenteer vir die sterker letterkundige teks.

Vandag gee ek haar gelyk vir tweekeer wat ek saamgesleep is deur die tsoenami van ‘n “gewilde” keuse wat by nabaat iets verraai van die tyd. Maar hierdie toekennings is altyd ‘n stuk werklikheid wat skrywers daaraan herinner dat pryse subjektief is en deur die tyd bepaal word.

IV

Watter briewe sal ‘n mens bybly?

Sy noem haarself ‘n beroepsleser, selfs verminderend ‘n amateurleser. Dit was sy nie. Elize Botha kon Etienne Leroux lees; ook Opperman. In haar brief aan wyle Paul Cilliers, die filosoof,  artikuleer sy hoe onderdele / sitate in ‘n teks “geartikuleer” moet word na aanleiding van sy intreerede. [1] Haar sieninge in navolging van die werk onder Louw en die impak van Hellinga en Scholtz se Kreatiewe analise van taalgebruik (620).

Hier verduidelik sy haar sensibilities en die impak van T.S. Eliot op haar denke.

Hierdie gesprek tussen twee intellektuele karteer Elize ten beste. Afgerond, stilisties in beheer, immer bereid om in gesprek te tree. Hierom is ‘n Festscfrift aan haar tereg benaam as ‘n Lewe in woorde. In die inleiding beklemtoon Heilna du Plooy dat briewe wel ‘n vorm van literatuur is, maar dat dit eerder nader aan die lewe lê in die onafgerondheid daarvan. “Die brief is uiteraard meer soos die lewe self, vol onnodige detail en ‘n bietjie rommelrig omdat dinge herhaaldelik gebeur en herhaaldelik vertel word, omdat belangrike dinge soms verswyg word en ander per ongeluk weggelaat word “ ( xviii).

Die gesprekke tussen haar en Hennie Aucamp wys hoe twee meester-stiliste op gebeurtenisse reageer.

Elize Botha se belangrikse bydrae, afgesien as haar posisie as ‘n eerste vrou op soveel vlakke, is nie alleen tot die prosa nie, maar veral tot die essay. [2] Daardie kort prosa-stuk rondom ‘n lewenswaarheid. Vele van hierdie briewe is essayisties in aanbod.

Haar eensame jeug het waarskynlik haar gesprekke op papier voortgedryf, maar diegene wat haar geken het, weet ook: Elize Botha was ‘n gewer, ‘n óm-gewer.

‘n Paar maande voor haar dood, bel ek haar op. Die pers begin stories skryf (en aas) oor haar naderende dood.

Ek prys haar oor haar pragtige essay wat sy geskryf het oor Doris Lessing wat die Nobelprys gewen het.

“Hoor hier, Joanie. I am still hanging in here.”

Dit was Elize. Sober. Eerlik. Wat ‘n mens. Wat ‘n literator.

(Word vervolg)

Endnote:
1.     Cilliers vereer ek in ‘n gedig in Lot se vrou.
2.     Elize Botha was op soveel vlakke ‘n eerste vrou: Voorsitter van die Akademie, Kanselier, eerste vroulike van die Direksie van Nasionale Pers.

© Joan Hambidge

Wednesday, September 13, 2017

Essay | Eben Venter - Groen soos die hemel daarbo: 'n paar kanttekeninge (2017)

Eben Venter - Groen soos die hemel daarbo. Tafelberg, 2017. ISBN: 9780624082613

I

Hierdie roman word bemark as ‘n vreeslose verkenning van moderne seksualiteit, intimiteit, en identiteit. En sopas bied ek dit aan in genderkursus vir my voorgraadse studente teenoor die vroulike identiteit wat Gerda Taljaard ontgin in haar roman Die laksman se dogter (Penguin).

Op die agterflap word die titel van die Venter roman verduidelik: Luhlaza okwesibhakabhaka b.nw. blou; (lett.) groen soos die hemel daarbo.

In die openingstoneel staan daar: “Bokant ons sprei die Oos-Kaapse hemel geskroeide ylblou” (5). Op bladsy 208 word die groen van die hemel verduidelik: Xhosa het nie ‘n woord vir blou nie.
“Dis iets wat jy nie kan sê hoe dit is. Dis altyd daarbo bokant ons. Miskien dink jy jy kan daaraan vat, maar jy kan nie.”“Soos seks, bedoel jy? Sê vir my wat dit is, hoe dit is – ek kan en ek kan nie. Ek kan nooit heeltemal my vinger daarop lê nie. So?”Hy kyk na my, vat ‘n sluk uit die blikbeker.”Ek verstaan nie nou.”
En die leser bly regdeur die roman nadink oor die verskil tussen groen / blou en wat die titel impliseer.

Roland Barthes se jouissance, die onvermoë om die seksuele plesier te besê, kom aan bod, soos opgeskryf in The pleasure of the text, gepubliseer deur Hill and Wang, New York in 1973/ 1975.

Barthes se siening van die verskil tussen plesier en jouissance, tussen dit wat jy kan verwoord en die on-verwoordbare, loop regdeur die roman. Die jouissance/plesier word teen die Orde van die Patriargie geplaas, daardie onsigbare Orde wat vir Lacan op die Reële vlak alles beheer.

II

Simon se ondersoek na seks word verbind met sy herinneringe aan die patriargale verlede. Sy pa is ‘n beesboer en sy eerste seksuele voorligting word via twee parende beeste verduidelik.

Hierna beleef die leser Simon se seksuele ervarings waarvan die passasies in Tokio en Turkye hierdie leser vir ewig sal bybly.

Venter skryf konkreet en helder oor seks en die Orde van die Patriargie word ondersoek:
En dít het ook by my vasgesteek: daai geswolle bul. Sy riempiel, was al hoe ek die dik ding kon beskrywe. Dis wat ons het en die koei nie. Dit word snaaks. Na hy gesê het wat hy gesê het, kon die bul my pa ook nie meer skeel nie. Dis ek wat bly kyk het hoe die bul homself uittrek, sy kop laag hang en so in slow motion swaai, klaar, hy was klaar met sy besigheid, en wegstap van die trop sonder om eers om te kyk. Toe stop hy, lek sy flank met daai breë dik tong van hom en piets-piets met sy stert, en sy dinges trek stadigaan binne die skede weg. Hy sak weer sy kop en draai ’n karoobossie af, die klein ronde bossie net ’n raps hoër as sy hoewe, en lekker gekerrie na die somerreën.My pa het nie weer oor die ding van paar gepraat nie, niks daarop uitgebrei, nie eens ’n bietjie advies nie. Nooit, ooit weer nie. Daardie middag terwyl ons aangestap het op die vasgestampte grondwal en later begin afsak en suid gehou het, met die koppies nou aan die eenkant, en deur ’n klofie van waar die huis en werf en die buitegeboue begin uitsteek het, al daardie pad kon ek nie die ding wat hy oor die bul en die koei gesê het, uit my kop kry nie. En hoe dit maar net dieselfde by ons is nie.Jare later, so lank as dit my gevat het om lekker in my vel rond te loop en in te val by ’n kamer vol kaal mans, sê so ’n stuk of tien, en eenhonderd persent gemaklik daarmee te wees, wel, byna, het ek weer daardie middag saam met my pa op die vasgestampte grondwal onthou. (Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie/ Groen soos die hemel daarbo deur Eben Venter | LitNet. Besoek 13 September 2017).
III

Simon besoek ‘n sielkundige, dr. Jo Spiteri, ten einde sy identiteit en sy ambivalensie oor sy verlede te probeer begryp. Hier word dan etlike sleutels vir die leser gegee om Simon se stryd te probeer begryp. Diogenes Laertius wat sy seksuele aptyt op die agora gestil het, is 'n sleutel. Hierdie tersyde is dan van toepassing op die roman waar die vertellende karakter of fokalisator sy seksuele ervarings in ‘n boek (op die markplein) uitstal.

Sy terapeut ervaar hom as ‘n uitdaging; nes die leser wat al die verwysings – ook na Michel Foucault – moet interpreteer. Die leser kry ook ‘n glimps in die seksuele ontmoetings en fantasieë van die terapeut. Sy onthou onder andere ‘n onvleiende lig op haar liggaam (nie lyf nie) in die affêre met Bennie (73). Hierdie terapeut word soms emosioneel verbrysel deur haar kliënte. Sy bely ook dat sy met beslistheid kan sê dat die smaak van die kop van die penis vir gay mans anders is as vir háár.

Dit val binne ‘n ander orde as haar vroulike ervaring … (74) Die verhouding met die moeder behoef eweneens ondersoek. Moeders en gay-seuns. Hier is eweneens ambivalensie opvallend.

Die verhouding tussen Jo Spiteri en Simon is kompleks. Daar is ‘n telefoniese afsegging wat vir die terapeut pynlik is. Deur Simon het sy haar eie identiteit ontgin.

In die slottoneel sit sy lipstiffie aan voor ‘n vollengte spieël. En dit is uiteraard ‘n belangrike kode vir die lees van die roman hoe twee karakters spieëls word van mekaar. Met die leser wat moet besluit wát in Simon losgekom het. Dit het te make met die Lacaniaanse nosie van die analis en analisant wat voortdurend rolle ruil.

Jacques Lacan skryf hieroor in Écrits - a selection. Vertaal deur Alan Sheridan. Tavistock, Londen. 1966/1977.

Beide analis en analisant is parlêtres (pratende objekte) en die onbewuste moet gelees word as 'n sluiting tussen die twee. Lacan verwys ook na die manqué à être wat aan die basis van betekenisgewing lê, die gevoel dat iets ontbreek en hierom moet die ego altyd uitbeweeg en na sin soek buite sigself. Die ego is egter vasgevang in 'n doolhof van spieëls oftewel méconnaissance. Die ego voel sig vasgekeer in 'n konstruksie wat as bevreemdend ervaar word. Lacan se beskouing van ego-formasie sien gender as 'n konstruksie.

Die onbewuste is die begeerte tot die Ander, en, die onbewuste is gestruktureer soos 'n taal. Dieselfde geld die romanteks wat begrip eis van die leser waar die skrywende subjek buite 'n landsgrens skryf oor sy jeug, oor sy herinneringe en seksuele identiteit.

IV

Die buiteblad en aanwysings is 'n parateks.

Venter gee vir sy speurende leser wenke in die nawoord (“Erkennings”):
Ek het aangehaal, geparafraseer en vrylik van idees gebruik gemaak uit dievolgende:Chekhov, Anton. The Party and other stories. New York: Harper Collins, 2006.Coetzee, J.M. and Kurtz, Arabella. The Good Story. Exchanges on truth, fiction and psychotherapy. Londen: Harvill Secker, 2015.
Dostoyevsky, Fyodor. The Idiot. Harmondsworth: Penguin Books, 1973, p. 258.Foucault, M. The Will to Knowledge. The History of Sexuality Vol I. Londen:Penguin Books, 1998.Foucault, M. The Use of Pleasure. The History of Sexuality Vol II. Londen: Penguin Books, 1987.Miller, James. The Passion of Michel Foucault. Londen: Harper Collins, 1993.Poe, Edgar Allan. The Tell-Tale Heart in The World’s Thousand Best Stories. Londen: The Educational Book Co Ltd, vol xiii. Geen datum, p. 660.Sacks, Oliver. Hallucinations. Londen: Picador, 2013.
Ikone soos Elizabeth Taylor en tekste Who's afraid of Virginia Woolf, The Bold and the Beautiful, o.a. word verdere merkers vir die wisselwerking tussen interteks en sub-teks.

Foucault se omstrede cruising in saunas in Los Angeles aktiveer weer ‘n hele komplekse debat rondom gay-saunas (Gay bathhouse - Wikipedia. Besoek 30 Augustus 2017).

Ook die verskil tussen die sibaritiese Foucault en die ordende filosoof van die geskiedenis van seksualiteit en die betekenis van tronke in 'n gemeenskap, is al baie geskryf.

In 1980 by Pantheon-boeke verskyn Herculine Barbin - waarvoor Foucault 'n voorwoord skryf vir die Engelse uitgawe. Ek het indertyd my hardeband-uitgawe gekoop by Marcus de Jong in sy argief van 'n boekwinkel.

Foucault het op hierdie memoirs afgekom ten tyde van sy navorsing oor die geskiedenis van seksualiteit.

Herculine Barbin, gebore in 1838 as 'n vrou. Sy raak verlief op 'n vrou en in 1860 word sy gedwing om van geslag te verander weens 'n hofbevel. Camille/ Abel is egter ontuis in die nuwe identiteit en pleeg in 1868 selfdood (Herculine Barbin/ Being the Recently Discovered Memoirs of a Nineteenth-century French Hermaphrodite. Besoek 12 September 2017).

Gender Trouble: Feminism and the Subversion of Identity (1990) van Judith Butler sien gender as 'n "improvised performance". As gender "scripted, rehearsed and performed" is, word die leser van Venter se roman deurgaans bewus van die verskille tussen mans en vroue.

Die besoek aan die shrink - vol intellektuele besinnings via ou Griese filosowe en Foucault - beklemtoon dat ons genderkonstruksie inderdaad 'n teks vol aanwysings is. Wie is die regisseur van hierdie teks?

Die vader inderdaad. Die patriargie. Hierom dan dat die teks begin met die vader se seksuele leiding. 'n Uitstekende inleiding (tot die drama wat volg) om Simon se ervarings te verduidelik of omlyn.

Hoekom besoek hy 'n vrou as terapeut?

Is sy eintlik die vrou wat hy sou wou wees?

Is sy 'n man in drag? 'n Mens dink hier aan Marjorie Garber se Vested interests: Cross-Dressing and Cultural Anxiety wat in 1992 by Routledge verskyn het.

Dink sy soos 'n vrou?

Is sy 'n fantasie van 'n gay-man wat die vrou in homself so projekteer?

Hoekom is haar naam Jo, immers 'n gender-neutrale term, nie waar nie?

V

‘n Ander belangrike gesprek wat geaktiveer word is die gesprek tussen letterkundige tekste en psigoterapie (vide Coetzee en Kurtz) en natuurlik ‘n teks wat in my genderkursus ter sprake kom:

Byatt, A.S. & Sodré, Ignês: Imagining characters. Six conversations about women writers (red. Rebecca Swift). Vintage, Random House, Londen. 1995.  

VI

‘n Boek wat soveel kwessies ontgin en oopmaak, is ‘n belangrike teks.


© Joan Hambidge