Anna M. Louw. Vos.
Human & Rousseau, 1999. ISBN 0 7981 3941 2.
Resensent: Joan Hambidge
'n Sentrale passasie in Anna M. Louw se roman Vos is waarskynlik die volgende een:”'n
Onsigbare maar gesaghebbende personasie beveel hom om deur 'n ou-ou
ongemeubileerde murasie van 'n woning te loop. Huiwerig begin loop hy langs
kaal mure waarvan oorblyfsels van witklei toiingrig hang, onder 'n strooidak
sonder plafonnering: lewensloos, klankloos. Net die innerlike bevel wat hom die
rigting aandui na 'n kleinerige vertrek wat, weet hy, iets soos 'n tronksel is
en waar daar 'n naamlose gruwel woon. Sonder om die rede te vra, gehoorsaam hy:
stokalleen en gevul met vrees en walging en 'n besondere reuk wat alles
oorheers. 'n Grafkelderreuk, het hy van jongsaf geweet, al het hy dit nooit in
sy lewe ervaar nie. Maar die reuk, weet hy is afkomstig van daardie klein
vertrekkie waarheen hy móét gaan. Die droom voer hom nooit verder nie” (p. 146).
In hierdie roman gaan om dit om die magte van die
onbewuste wat losgelaat word en wat die hoofkarakter, Vos se lewe dwingend
verander. Die gegewe is oerbekend. Dit gaan om die mens wat uitgelewer is aan
die natuur en meer spesifiek, die reën wat uitbly. Vos kry te make met die
Boesman, Hans Bokpoot, die reënmaker, wat dan op die voorwaardes van die “bose”
net vir sy plaas reën bring in die dorre Noordweste van 1932.
Anna M. Louw speel dus in op die leser se kennis van
Eugène Marais se Dwaalstories en “Die
dans van die reën”. Op 'n briljante manier wanneer die poltergeeste hul wreek
op die boerhuis, vind ons natuurlik verwysings na Marais se verhale van die
bo-natuurlike. Ook die onderhandeling met die duiwel is so reg uit Faust.
Dominee Kossies gryp in om die bose magte stil te kry wat hul wreek op Vos.
Die skryfster plaas Westerse geloof teenoor sogenaamde
primitiewe toorkuns en dit is natuurlik nie om dowe neute nie dat Vos
uiteindelik 'n soort reisende prediker deur die Hantam en Rôeveld word.
Die vertelling word op 'n konkrete, bykans poëtiese wyse
weergegee sodat die leser verdere aanduidings kry dat dit nie hier om 'n
metonimiese verhaal gaan nie, maar om die metaforiese vertelling (om Roman
Jakobson se klassifikasie te gebruik). 'n Mens vind dan ook etlike verdere
sleutels na C.G. Jung se uitsprake oor die kollektiewe onbewuste.
Die aangehaalde passasie van die droom verwys dan
eweneens na Jung se bekende droom wanneer hy hom wegdraai van Freud (Man and his symbols) en sy belangrikste bydrae tot die kartering van die
menslike psige lewer. Dit is dan breedweg gesien 'n onbewuste wat gelaai is met
kollektiewe patrone oftewel argetipes.
Dit is haas al 'n cliché om te verwys na die
onversoenbaarhede tussen Westerse en sogenaamde “primitiewe” Afrika- of
Boesmankulture. Tog het Jung hom nooit
verminderend oor laasgenoemde uitgelaat nie. Vos is dan so gelees 'n simboliese roman en die reis wat ten slotte
onderneem word, verwys na die lang tradisie van die peregrinasieroman (Everyman, Odusseus, die wandelende Jood,
Orpheus) wat eweneens die individuasieproses van die hoofkarakter weergee.
Diegene wat noual lang sugte sug en dink hierdie roman
is net vir die ingewydes in
Jungiaanse denke, hoef nie beswaard te raak nie. Die roman is op storievlak so
genoeglik en onderhoudend en boers vertel dat 'n mens jou daaraan verstom. Soos
in Kroniek van perdepoort, Anna M.
Louw se chef de roman, word die
simboliese goed staangemaak in die banale en alledaagse.
Soos die toneel met Eva ('n kragtoer in seksuele
beskrywing); die seun se absurde voorstel vir sy keusse as strooijonker; die
wonderbaarlike beskrywing van die landskap. Ook die predikant is so eg soos
ghannabos.
Of Vos ooit aan die magte van die Bose ontkom, is die
vraag wat hierdie roman wil beantwoord. En dit sal afhang van die leser se eie
spirituele instelling. Die aangehaalde passasie verskaf uiteraard 'n verdere
sleutel nes die Faustiaanse verwysing.
Ook die slot, en die wyse waarop 'n lyk as't ware sy
manier van dood aan die predikant en dokter verraai, getuig nogmaals van 'n
insig in die menslike syn. Die een wat verbrand neem die houding van 'n
vuisvegter aan en die verkluimde gaan lê in 'n fetale posisie.
Die toets vir 'n roman wat 'n sterk filosofiese lading
dra is dat dit die leser op storievlak steeds moet boei. Hierin slaag Anna M.
Louw beslis. Hierdie leser was nog altyd 'n bewonderaar van die skryfster se
prosakuns en soos die genoemde Kroniek
van perdepoort en Wolftyd, is Vos 'n hoogtepunt in haar oeuvre.
Dis 'n ryk roman wat vele van die oppervlakkige
wegkomkanse en windrigtings na die loef steek.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]