Monday, January 22, 2024

Resensie | JM Coetzee - The Pole and other stories | Penguin, 2023

JM Coetzee - The Pole and other storiesPenguin: 2023. ISBN:9781787304062, Sagteband, R350.00, 250pp.

Resensent: Joan Hambidge

 

In Lucy Daniel, die redakteur van Defining Moments in Books (Cassell Books, 2007), word ‘n foto opgeneem van J.M. Coetzee: voor ‘n spieël. En dis hoe ‘n mens hierdie skrywer moet benader:  As dubbelganger. Agter én voor die spieël. (En ons weet watter simbole alles aan die spieël gekoppel word.)

 

Coetzee is ‘n fiksieskrywer, maar terselfdertyd ‘n besinnende, denkende, filosofiese outeur soos in The lives of animals (1999) wat ‘n hibriede teks is. Iets tussen essay, literêre teorie en fiksie. Daar is eweneens outobiografiese romans soos Boyhood (1997) en Youth (2002). En The Master of Petersburg (1994) op die spoor van Dostojefksi, maar ook ‘n terugkaatsing op sy eie bestaan as skrywer en mens.

 

Veral David Attwell het uitstekende essays geskryf oor hierdie spel in JM Coetzee and the Life of Writing (2015).

 

Die jongste heet The Pole and other stories. Dit het oorspronklik in Spaans verskyn as El Polaco. (Coetzee is Spaans magtig.)

 

The Pole vertel die verhaal van ene Witold Walczykiewicz, ‘n pianis en Beatriz, wat help om sy konsert in Barcelona te organiseer. Sy is getroud en aanvanklik nie geïmponeer met sy toenadering nie. Maar dan gebeur dit wél, maar op haar terme. (Of só dink sy verkeerdelik.) 

 

Die verhaal roep uiteraard Jorge Luis Borges se private mitologie op rondom Dante en Beatrice. Borges het sy eie moeilike liefdesverbintenisse afgekaats teen Dante. Ons dink hier aan die Vita nuova. Witold is 72 jaar oud en herinner aan Max von Sydow, die Sweedse akteur. Dit roep die verbintenis op met die filmmaker Ingmar Bergman en sy vertolking van Knut Hamsun in die film Hamsun (1996) deur Jan Troell. ‘n Politiek-gelade film oor verraad tydens die Nazi-tydperk. Hamsun het in 1920 die Nobelprys verower; Coetzee in 2003.

 

Hiermee word die sosiale gewete van die skrywer subtiel ingebed in hierdie vertelling. Ons onthou die ANC se kritiek op Disgrace (1999) en hoe die ingeboude ironieë in die teks misgelees is.

 

Die verhouding tussen man en vrou in The Pole aktiveer eweneens George Sand (1804 – 1876) en Frédéric Chopin (1810 – 1849) se verhouding. Sand, ‘n feminis en ouer as Chopin, speel eweneens ‘n rol in die leeservaring van hierdie teks. Die vrou as versorger en ewige moeder? 

 

Die novelle se paragrawe word genommer. Ons het hier ‘n besinnende ouktoriale verteller teenoor ‘n personale (hy/sy) verteller wat moontlikhede ondersoek saam met die leser. Die novelle word ‘n soort dramateks en die leser wag op die klimaks (29). Die konvensies van musiek teenoor storie word netjies teenoor mekaar geplaas. Die hande van pianiste wat groot is en grotesk sou lyk op ‘n vrou. Hoe ou mense lyk en ruik, word raak beskryf.


En die verskille tussen tale en wat alles in ‘n vertaling verlore raak, kom aan bod. Die onbeholpe gedigte van Witold verklap sy wond en haar briewe bewys watter houvas die kortstondige verbintenis op haar steeds het. Geheime in huwelike teenoor die soeke na vervulling en romantiese liefde, maak die novelle nog sterker. Begeerte geplaas teenoor onvervulde liefde.

 

Coetzee is bekend vir “doubling the point” met subtiele verwysings in sy tekste na ander skrywers. Met prosa wat tot op die been gesny is. Waarom ‘n boek wat in Pole afspeel? Sy moeder se grootvader was ‘n Pool en in sy werk sien ons belangrike besinnings oor Poolse en Russiese letterkunde.

 

“Where would the art of fiction be if there were no double meanings? What would life itself be if there were only heads or tails, with nothing in between?” lees ons in “As a woman grows older”. En dit kan op hierdie komplekse tekste van toepassing gemaak.

 

Telkens die “irony of fate”, soos Cleanth Brooks & Robert Penn Warren dit perfek tipeer in ‘n analise van O’Henry se “The furnished room” in The scope of fiction (1960). Coetzee neem jou terug na Frank O’Connor se “The drunkard” waarin Chopin ook voorkom. Larry Delaney is ‘n karakter wat herinner aan O’Connor se lewe. O’Connor het ‘n studie oor Toergenjef geskryf.

 

Ons keer ook terug na Coetzee se stories waarin hy dikwels oor transgressiewe begeerte skryf.

 

‘n Novelle en vyf kortverhale. Meerduidig én terugwerkend na Elizabeth Costello (‘n buikspreker vir Coetzee) en die skrywer se besinnings oor diereregte. ‘n Storie oor ‘n woedende hond laat jou sidder in “The dog”. Die vrees van die besoekende vrou laat jou wonder oor die hond se base. 

 

Het katte gesigte of nie?, word in “The old woman and the cats” gevra. Skokkende ervarings van ‘n ouerwordende moeder in “Hope”. En hoe die seun haar vertel van die hond, Demeter, wat aanhou veg het om sy lewe, pyn ten spyt. Ambivalensie dra die verhaal “As a woman grows older” in haar konfrontasie met haar kinders. “The glass abattoir” analiseer mense se ongevoeligheid oor diere rondom ‘n ingebedde vinjet in Djibouti. ‘n Bok wat geslag word, beskryf in grafiese besonderheid met ‘n analise oor die betekenis van pyn. ‘n Simboliese judasbok?

 

Coetzee is ‘n meester van sub-teks én implikasie. Hy het hierdie leser nogmaals verbyster met sy onverdrote kapasiteit om télkens nuwe moontlikhede in die skryfambag te ontgin. Van die vleiland tot die billabong. Politiek-bewuste tekste tot metafiksie soos in Summertime (2009). Kortverhale tot lang, uitgebreide stories soos die Jesus-trilogie. Essays oor ander skrywers is altyd leersaam wanneer ‘n mens Coetzee lees. Ons onthou hoe hy ‘n Engelse vertaling van ‘n Harry Mulisch roman stip uitmekaar gehaal het soos ‘n sjirurg met sy kennis van Nederlands. 

 

Musiek, films, geskiedenis, politiek, sosiale kwessies (o.a. die verlange na die telegram), die rol van private dokumente, maak alles deel van hierdie pakkende boek.

 

Hierdie leser het onlangs weer In the heart of the country (1977) gelees. ‘n Boek met 266 genommerde paragrawe eerder as hoofstukke. En sy 1974 debuut Dusklands, twee verhale, maar ook ‘n roman. O.a. ‘n reisverhaal in die 18e eeu. Die kritikus Jason Cowley wys op Coetzee se voorliefde vir die allegorie en simbool in Lucy Daniel se kompendium. En die isolasie van die meeste van sy stemlose karakters.

 

As Borges werk met die labirint, sien ons die spieël by Coetzee. Beide outeurs is sterk beïnvloed deur Franz Kafka. Al waarvoor ons nou wag, is ‘n roman in Afrikaans. Die prosa in hierdie puik boek is soos lug wat afgekaats word in ‘n poel water soos by MC Escher.


Met hierdie boek het hy sy tweemalige bekroning as Bookerprys- en Nobelpryswenner nogmaals en absoluut bevestig. Om op 80 plus so te kan skryf, is ‘n absolute segetog.

 

Joan Hambidge is ‘n Senior Navorsingsgenoot aan die UK. Haar jongste roman heet Stasies.

Friday, January 19, 2024

Resensie | Duncan Brown, Kobus Moolman, Nkosinathi Sithole (Reds.) - Notes from the Body: Health, Illness, Trauma | University of Kwazulu-Natal Press, 2023

Duncan Brown, Kobus Moolman, Nkosinathi Sithole (Reds.) - Notes from the Body: Health, Illness, TraumaUniversity of Kwazulu-Natal Press, 2023. ISBN: 978 1 86914 532 3 


Resensent: Joan Hambidge

 

 

I. Grievable lives: Mournable bodies

 

Hierdie boek bevat uitsonderlike bydraes oor liggaamlikheid. Notas (d.w.s kanttekeninge) oor die liggaam met die sub-titel wat gesondheid, siekte en trauma oproep. Ons dink onmiddellik aan Susan Sontag se Illness as metaphor. En Annie Leibovitz se fotogalery van haar siekte en hospitalisering. En haar dood. Hierdie foto’s het wye polemiek ontlok rondom die etiek van die plasing van die foto’s. Veral Sontag se seun, David Rieff het dit as betredend en grensoorskrydend beskou.

 

https://tembusu3.nus.edu.sg/treehouse/2015/04/mortality-in-photography-examining-the-death-of-susan-sontag/ Besoek 14 Januarie 2024

 

By die ontvangs van Notes from the body lees ek drie bydraes Hélène Smit se “Architeutis”, “Survivor” van Stephen Devereux en Bronwyn Law-Viljoen se “Notes from an Archive of the Body in Movement”. 

 

En dadelik is hierdie leser meegesleur oor verskillende vertelperspektiewe: oor kindermolestering en hoe die liggaam ‘n museum word waarin pyn geberg word of waar siekte metafories ‘n betredende huisgas word of waar die liggaam in oefensessies ‘n indeks of argief word van die potensiële adaptasies wat die liggaam kan maak.

 

I wrote a review on Notes on falling in 2022.

http://joanhambidge.blogspot.com/2022/09/resensie-bronwyn-law-viljoen-notes-on.html Besoek 18 Januarie 2024

 

 

II Written on the body

 

Post Covid. Illness as metaphor. Masks. Uncertainty. People dying. Debates on Vaccination. 

 

On my Covid-19 Vaccination Record Card:18.9.2021 and 30.10.2021: Phizer. A black and couloured nurse assist me in the City hall close to NG Kerk and police station in Durbanville. Two kind ladies. We laugh and joke.

 

“Moenie bang wees, nie Antie.” Ek speel saam. Rol my oë. Maak of ek omtiep. Hulle lag. Geen pyn nie. Geen swelsel nie. My ervaring van ‘n geelkoorsinspuiting was veel erger met ‘n arm wat opgeswel het met erge koors.

 

Jokes as means of survival. Duncan Brown relates a joke in “Unmade”: Sarah goes for a job interview as a typist.

The manager asks, ‘Sarah, wat is jou ervaring van tik?’

‘Nee, niks nie, Meneer,’ she replies. ‘Met my is dit net dagga en dooswyn.’

Die grap wat tydelik verdoesel. Net tydelik.

 

 

III. Even Cowgirls get the blues  

 

Barbara Johnson: "It seems to me that women are all trained, to some extent, to be deconstructors. There's always a double message, and there's always a double response. The difficulty for women, is unlearning self-repression and ambiguation and conciliation, and reaching affirmation." (Salusinszky, 1987, 151)

 

Johnson word gediagnoseer met cerebellar ataxia in 2001 en sterf in 2009, hierdie gedugte vertaler van Derrida en student van Paul de Man. In haar lewe professor in Engels en Vergelykende Letterkunde by Harvard. En ‘n vertaler van Derrida.

 

Hoe ironies dat Johnson, die groot intellektueel, só moes sterf.

 

Die bydraes van en deur vroue laat my nadink oor die volgende:

 

1 die huis as ‘n ruimte van angs;

2 hoe ons ‘n nuwe woordeskat moet aanleer ná ‘n traumatiese ervaring;

3 die vrees vir mislukking wat vele vroue moet hanteer in ‘n fallogosentriese samelewing;

4 genesing as ‘n komplekse proses;

5 die chaos wat pyn skep.

 

Maar dit sluit nie mans uit nie. Die ervaring van pyn in ‘n hospitaal (“Staring Death in the Eye” deur Vonani Bila) wys dat siekte ons anders laat kyk na die liggaam wat manlike beheer omverwerp. En dat siekte jou “merk” en  vervreem van ander (soos in “Unmade” deur Duncan Brown).

 

 

IV. We sing the body electric

 

The impact of physical and psychological wounds are presented to the reader: gender violence, disablities, rape, racial prejudice, poverty, adoption, cancer, embolism, AIDS, depression, cynanthropy, bipolar disorder, Covid, the ICU, substance abuse, private hospitals versus state hospitals, medical insurance …

 

Private notes versus poems. Afrikaans versus Sepedi and Xhosa. Antjie Krog in translation. Joseph Campbell versus Kafka.

 

Die Gannavlakte en Athlone. New York teenoor Kaapstad.

 

Double voicing in “Lines Land Slant” by Anthea Garman and Gillian Rennie.

In hierdie pakkende analise tussen twee vroue word die impak van borskanker ondersoek. En die impak van die mastektomie op ‘n vrou.

 

Self-analysis in “Finding the Words in Ten Movements” by Philippa Yaa de Villiers. “Every poet is a library on legs …”(174).

 

Verskillende skryfkonvensies: van dekonstruksie tot lang, orale gedigte wat ‘n mens moet hóór. Tekste wat opbreek in verskillende afdelings wat die pynlikheid van ‘n bepaalde ervaring onderstreep. Asof die skrywer onderbreek word deur sy/haar pyn.

 

 

V

 

Siekte maak jou broos en weerloos. En maak jou bewus van jou liggaamlikheid wat jy alte dikwels as vanselfprekend aanvaar.

 

Ironies genoeg is hierdie bespreking geskryf, terwyl ek siek was met ‘n somer-griep en hoesbuie.

 

En Krog som dit alles perfek op:

 

dit rammel sag

 

dit rammel sag. die aarde lig haar skedel.

vanuit die binnevlerk van wolke veer

die donderweer al met die stil verhemeltes

van berge langs. ‘n tiptol stip die mees

 

intieme plek aan in die esdoringboom –

die plek waar die stam die stilste boomwees hou.

o, roerloos wag die boom. die weerlig stroom

uit vlakke blou, die veld voel hoe haar ganse

 

vel oopsnou na die geur van dragte vol

geloftes. in haar hare bloei die rose.

haar laaste koelte damp vanuit haar oksels

 

sy knoop haar lang hart los. nog nooit was sy

so karig, so alleen, of het sy so

gesmag na reën wat net nie, nooit nie kom nie

 

*

Die eensaamheid van siekte; hoe die ganse vel oopsnou … 

Body bereft. Dis waaroor dit hier gaan.

 

Joan Hambidge is a Fellow and Senior Researcher at UCT.

Poet and novelist.

Januarie 2024

Bronne: 

Butler, Judith. 2016. Frames of War: When is Life Grievable?  New York: Verso.

 

Freud, Sigmund. 1916/1976. Jokes and Their Relation to the Unconscious. Pelican Freud Library volume 6. Londen: Penguin. (Vertaal deur James Strachey en hersien deur Angela Richards).

 

Gallop, Jane. Maart 1979. "Why Does Freud Giggle When the Women Leave the Room?". Lesing gelewer in die Women and Humour Section, Nemla-kongres. Connecticut: Hartford.

 

Krog, Antjie. 2006.  VerweerskrifKaapstad: Umuzi.

 

Law-Viljoen, Bronwyn. 2022. Notes on Falling. Cape Town Umuzi.

 

Salusinszky, Imre. 1987.  Criticism in Society. Londen: Methuen.

 

Sontag, Susan. http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=sontag+illness+as+metaphor

Besoek 12 Januarie 2023

 

Endnote:

 

Fisting-as-écriture

Joan Hambidge

 

Moes deur baie pyn

om mens te word,

artikuleer ons digter 

op die Dam; moes deur 

veel veg

om self te vind,

van hier tot in verre plekke

terug in die gevegsone van die digkuns

immers ‘n binne-geweld wat beskut

teen buite-geweld: 

ek-sing-oor-die-liggaam

se oorskot, ek lees

Eve Kosofsky Sedgwick

se Die weer in Proust

en elders, ja elders

is dit altyd mooi weer en warm

vir hulle gebore met regte

en voorregte,

nooit weet hoe 

dit voel as jou tong

as kind uitgesny is.

Uitgeskuif, weggedruk.

Hierom die vuis-in-die-lug,

daarom die woede

by ons, ‘n myn - ‘n dyn,

die Afwykendes, die derde seks,

die transgender, die deviant:

smagtende na stilte     

ná hierdie oorlog, ‘n El-Alamein.

 

 

Sunday, January 14, 2024

Resensie | Daniel Hugo (red) - Ina Rousseau – ‘n huldiging | Naledi, 2023

Daniel Hugo (Red) - Ina Rousseau – ‘n huldiging. Naledi, 2023. ISBN 9781 991 256 447. R330, 336pp

Resensent: Joan Hambidge

Onder die sub-titel Digter van die kwiksilwerwoord word Ina Rousseau vereer met die digter en vertaler Daniel Hugo as samesteller. Sy ontvang die Reina Prinsen Geerligsprijs vir haar debuut Die verlate tuin (1954) en die Hertzogprys vir haar laaste bundel ‘n Onbekende jaartal (1995).

Hugo het Rousseau se poësie gebloemlees as Die stil middelpunt (2003).

As voormalige dosent het studente immer plesier gehad aan haar komplekse verse in lesings waar ‘n mens op verskillende aspekte kon fokus in haar digkuns: vreemde woorde, versvorme, genderkwessies, Bybelverwysings, tydshantering, die gesprek met Blum, haar plek in die kanon, ensomeer.

Daar word hier na haar werk gekyk as digter, kortverhaalskrywer én vertaler. Dit is bekend dat sy verse afgewerk het tot in die laaste sillabe in. Haar verbintenis met die digter Peter Blum is eweneens bekend. Hieroor het sy ‘n aangrypende reeks geskryf “Steppewolf”.

Vir my is haar kortverhaalbundel Soutsjokolade (1982) ‘n besondere bundel. Die verhaal “Onthou jy vir Helena Lem?” kan geen leser ooit vergeet nie. ‘n Verhaal oor ‘n verloofde man wat sy vrou met wie hy op trou staan sonder erbarming ervaar wanneer hy haar vertel van sy ontmoeting met ‘n jeugvriendin wat ondertussen blind geword het. Sy onthou haar egter as iemand wat ‘n skoenlapper se vlerke afgetrek het. Vir hom het sy egter ook húl kosbare verbintenis vernietig met haar gemene reaksie. Die brief wat hy aan haar skryf – met woorde wat deurgekrap word – gee ‘n weergawe van sy vertroebeling. Wie die skoenlapper se vlerke afgeruk het, word in die ontknoping weergegee.

Francois Smith, ook prosaskrywer, gee ‘n interessante psigoanalitiese interpretasie van hierdie Atwood-agtige teks, terwyl Daniel Hugo as stipleser fokus op die gesprek tussen Johann de Lange en Ina Rousseau. Hugo wys hoe die digter De Lange as’t ware sy eie poëtika op haar projekteer in sy pragtige verse oor én vir haar.

Smith skat haar goed in as prosaskrywer en wys ook op haar hantering van simboliese getalle en offergawes. En waar sy ook haar leser dalk mag onderskat het in ‘n vertelling?

Die verskillende variante in haar digkuns dui op haar werk as ‘n groeiende organisme en Shané Kleyn wys op verskeie aspekte van variante en hoe dit benader moet word. Juis omdat die perfeksionistiese Rousseau telkens gedigte verbeter het, was daar verskillende variasies (soos by Yeats, Achterberg, Nijhoff, o.a.)

Sy was inderdaad uiters ambivalent oor die publikasieproses. In persoonlike gesprekke was sy ook afwysend oor enige navrae oor die spreekwoordelike koek in die oond. Trouens, in ‘n telefoongesprek teenoor my het sy opgemerk dat my handskrif onleesbaar-lelik is (korrek!) en dat sy dit nie kan ontsyfer nie. Hierteenoor ‘n poskaart van haar: kort en kragtig. Afgesluit: I.

Kleyn vertel die anekdote van die koekbakker-van-formaat, via Abraham H. de Vries. Inderdaad. Maar die resep bly tog ‘n geheim …

En hierdie komplekse geheimsinnigheid analiseer die digter en literator, Hein Viljoen behendig, ook as kenner van die Simbolisme en as ‘n leser wat die hele kwessie van die dubbele negatief (soos by Eybers) onder die loep neem. Die sogenaamde “simple replacement and the suggestion of the mystery” via Wellek, die groot literatuurteoretikus word bespreek. Hierdie bydrae is uiters leersaam oor hoé die sogenaamde “kognitiewe domeine” in ‘n gedig versmelt word.

Fanie Olivier gee ‘n hoogs leesbare (en deeglike) geskiedenis róndom die ontvangs van Rousseau se poësie wat opnuut bewys: ‘n resensie is ‘n eerste reaksie, boonop tydsgebonde en die boek bly staan selfs wanneer die Malmokkies en ander ou Boekgodjies ses voet onder die grond lê.

Die voetnote hier is openbarend. Olivier wys op ‘n fout wat ‘n literator maak met verwysing na Standpunte op bladsy 49.

Bernard Odendaal, ‘n kundige vertaler en raadgewer, gee ‘n uitvoerige verslag van Rousseau se werk as vertaler. Hy wys op die “uitleengeskiedenis” in die Ferdinand Postma-biblioteek in Noord-Wes om sy argument te staaf oor vertalings en hy vind dit jammer dat herdenkings by haar dood die vertalings nie vermeld nie.

Die digter se idiosinkratiese woordgebruik is algemeen bekend en haar werk by die Woordeboek van die Afrikaanse Taalhet kennelik haar taalkennis verruim. Die gebruik van sogenaamde “onpoëtiese woorde” en wetenskaplike terminologie is ‘n belangrike stilistiese bydrae, soos Bernard Odendaal tereg uitwys.

Tania Colyn ondersoek die komplekse verhouding tussen Ina Rousseau en Peter Blum vanuit ‘n genderperspektief. Via Hélène Cixous en Barbara Johnson word die leser opnuut bewus van hierdie intertekstuele wisselwerking (en uitruiling) tussen twee belangrike digters. Hierdie artikel wys op die in transit-aspek van vrouedigters wat buite die manlike orde skryf. 

Die grootste waarde van hierdie bundel is die Engelse vertalings en gedigte uit die Italiaans na Afrikaans versend deur hierdie woordsmid. Soos sy opmerk in Die Burger, 1 April 2006.

"Ek werk nooit aan ’n bundel nie. Ek werk selfs nie aan ’n gedig nie. Ek skryf woordgroepe, en later sluit die woordgroepe by mekaar aan en word ’n gedig." Erika Terblanche gee vir ons ‘n biografiese oorsig.

En die pragfoto’s in die boek is aangrypend mooi, veral die een wat Philip de Vos van haar geneem het in haar woonstel in Hofstraat, Kaapstad. Pragtige foto’s met mooi, stylvolle klere.

En ‘n klassieke Rousseau-kwatryn bly hierdie een vir my:


In sneeuwit siermotiewe van die pyn

breek die verwording deur in blaar en stam.

O was die lewe mooier sonder die fyn

borduursel van die skimmel? Van die swam?

(52)

 

Van die huldigingsbundels is al gestriem oor setfoute of swak keuses. Hierdie een is goed afgewerk en gee ‘n vars blik op hierdie uitsonderlike digter. Ja, sy met haar woorde van brokaat.

 

Joan Hambidge Senior Navorser en Genoot aan die Universiteit van Kaapstad.