Breyten Breytenbach. Lady One (99 liefdesgedigte). Human & Rousseau, 2000. ISBN 0 7981 4012 7.
Resensent: Joan Hambidge
Lady One(99 liefdesgedigte) is 'n keuse wat die digter Breyten Breytenbach gemaak
het uit sy eie werk, en meer spesifiek, uit sy groot korpus van liefdesgedigte.
Die 99 verwys waarskynlik na die verhaal van die man wat gewag het op die
geliefde vir 99 nagte en op die 100e nag vertrek het...
Dit is 'n legende wat ons ken uit die Boeddhisme, hoewel
daar ook ander weergawes bestaan. Die bundel word opgedra aan die vrou in die
digter se lewe, Yolande, wat sowel politieke- as taalsimbool is. Vir haar moes
hy baie opoffer tydens die apartheidsjare toe sy besoek na Suid-Afrika geweier
is. Sy is ook taalsimbool: sy is nie Afrikaans nie en hiermee raak Breytenbach
aan die oerkrag van die liefdesgedig dat die (o ewige) aangesprokene heel
dikwels nie die gedigte begryp nie. Of dit nie eens lees nie. Die geliefde was
die rede vir die ontstaan van die gedigte en die gedig transendeer die verhouding. Dit word 'n rooi
bors duif wat vir ander lesers iets bydra tot hul verhouding. Breytenbach
behoort tot die Westerse diskoers; die geliefde tot die Oosterse. So gesien,
word alles die yin en yang wat saamgesnoer word.
Breytenbach se digkuns vind hierdie leser in die
besonder boeiend om die interessante psigoanalitiese perspektiewe wat dit
aktiveer. Nou weet ons dat digters dig en die teoretici trek soos swaels
agterna... Op sy postmodernistiese hoogtepunt soos in ('yk') speel hy klaar met Derrideaanse beginsels. In een van sy
verse praat BB van die p-modernisme, ja daardie onsegbare woord. Woordwerk op sy beurt
"antwoord" Deleuze & Gauttari se Anti-Oedipus.
Hoe gebeur (begeur?) dit? Waarskynlik is die gevoelige
persoon osmoties in staat om teoretiese
ontwikkelinge op te suig. Lady One word
gepubliseer met 'n miniatuurskildery van die digter wat hy in die
maksimumsekuriteitsgevangenis gemaak het, Oktober 1985. So gesien, wil die
digter die leser dwing om die liefdesgedig te lees teen die agtergrond van die
politieke geweld wat hom aangedoen is. Breytenbach wil waarskynlik ook
genre-grense tussen liefdes- en politieke vers problematiseer. Pablo Neruda het
ook hierdie grense telkemale oorskry, ofskoon die meeste lesers hom net uit bloemlesings ken as 'n liefdes- of
ars poetika digter.
Lady One is 'n bloemlesing. Idiosinkraties, persoonlik en
interessant omdat 'n mens weer eens besef dat die digter se keuse anders mag
opklink as die kritiek s'n! Tersaaklik wel, omdat dit 'n mens 'n private blik
gee op die digter se keuse wat dikwels voorkeur gee aan die ontstaan van die
gedig, die persoonlike gevoel toe dit geskryf is eerder as die tegniese
gehalte.
Breytenbach is die digter van die transformasie (hierom
die verskillende skuilname) en die digter wat 'n beeld kan skep wat nuut en
vars is. Soos pyn wat eentonig bly priem in 'n tand. En dit
is hierdie durende verlange wat sy gedigte so aangrypend maak. Daar is sprake
van 'n beeldvloed wat die leser se verbeelding laat duisel. Selfs die kleinste
gedig is so gelees 'n prestasie.
Hy is ook 'n digter wat ander digters verlei (het) met
sy manier-van-doen; iets wat elke groot digter presteer, naamlik om die
kontoere van die digkuns te verander. Hierom is hy, tereg, bekroon met die
Hertzogprys vir poësie tydens die laaste ronde.
Soos wat die miniatuurvuurhoutjie-boksie van die
gevangenis uitgesmokkel is na die geliefde, is hierdie gedigte uit die digter
se binnekamer gesmokkel na die leser. Nou kan ons sien wat is vir BB sy
belangrikste of mooiste liefdesverse. En in een band speel die gedigte ook
interessant en nuut op mekaar in sodat hulle as't ware bevry word uit die
tronke van die vorige bundels.
Dit is liefdesgedigte wat sig self ondermyn. Die gedig
word 'n metavers wat kommentaar lewer op die gedig en die taalprobleem wat dit
skep: hoe stel jy die liefde voor? Die geliefde as projeksie van die self (soos
by Petrarca); die geliefde as ewige begrypende (soos by Neruda se Mathilde);
die pyn van afskeid/alleenheid/verlange terug vind ons alles hier.
In "Palestina/Israel"(p. 75) word die Psalm 23
knap herskryf en die digter se krag is opgesluit in sy vernuftige omgaan met ou
Halleluja-liedere, die Bybel en Groot
verseboek.
Selfs Groep twee se "Jy is my liefling" gooi
hier 'n draai en ons hoor van 'n slang wat poep(!).'n Gedig soos "Lesende
Li Bai"(p. 155) vat die essensie van hierdie gedigte saam, wat soos Jorge
Luis Borges dit stel, 'n vanselfsprekende antwoord is op 'n vraag wat nie
gestel is nie. Die digter kyk hier na sy beminde en hoe sy was voordat hy op
die toneel gekom het. Hy vra homself af of sy ooit sou weet van hierdie liefde,
van hierdie gedigte?
'n Mens kan die gedigte chronologies lees; of van agter
na voor. Punt bly staan: dis 'n boek wat die statuur van BB opnuut
bevestig.
Die geliefde word nie geken nie; sy word gewéét. En haar
gesig is op die vuurhoutjieboksie wat uitgesmokkel is, want om 'n liefdesgedig
te skryf, en te lees, is soos om 'n vlam aan te steek.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]