ISBN 978 1529 080 469
Resensent: Joan Hambidge
Binne die lang tradisie van die kampusroman, van Mary McCarthy se The Groves of Academe (1952) tot by Pnin (1957) Nabokof of David Lodge se satires, verskyn hierdie roman: Vladímír is Julia May Jones se debuut wat sterk inspeel op J.M. Coetzee se roman Disgrace (1999).
Twee eggenotes in ‘n Engelse departement in die VSA. Die vrou, ‘n skrywer getroud met John in ‘n sogenaamde “oop huwelik”. Hy word aangekla van seksuele misdrywe. Sy, op haar beurt, het haar oog op ‘n nuwe aankomeling, ‘n skrywer in die departement, ene Vladímír, getroud met ‘n vrou, ook ‘n skrywer. David, ‘n voormalige lover en kollega, is nou 50 pond oorgewig.
Die anonieme verteller (58 jaar oud) se lesbiese dogter Sidney en haar swart lewensmaat. Beide regsgeleerdes wat Papa bystaan in sy agonie. ‘n Seksuele interlude met ‘n man lei tot ‘n swangerskap wat nuwe intrige skep.
Ons beleef die hele woke-kultuur en die grense van seksuele grense (en keuses) wat voortdurend skuif. Binariteite wat bevraagteken word en nuwe seksuele identiteite geskep. Boetes op kampus as jy rook in rookvrye sones. Orals polisie; véral intellektuele polisie.
Begeerte dryf hierdie verhaal. Daardie psigoanalitiese konsep wat die formasie van die ego bepaal en manipuleer. Die verteller draai die sogenaamde male gaze op sy kop en ons sien hier ‘n vrou wat ‘n man tot objek verklaar (en selfs vasbind).
Is die vroue-professor se man werklik ‘n grensoorskrydende figuur? Of was die jong vroue medespelers? Is die selfmoordpoging van Vladímír se vrou werklik relevant vir die departement?
Ons beleef die bedompige rugstekery van die akademie, die onverbloemde jaloesie en natuurlik: kompetisie.
Die roman staan iewers tussen ‘n akademiese krimie (die slot is gevaarlik onthutsend gedagtig aan Rebecca) en ‘n psigoanalitiese analise. Nabokof se beroemde Cornell-lesings word vermeld en daar is kopknikke na Jane Gallop se Feminist Accused of Sexual Harassment (Duke, 1997) met vele films oor begeerte: Godard, Truffaut en Misery met Kathy Bates (1990) en natuurlik die golden oldie: Rebecca van Hitchcock (1940). The Apartment (1960) – met Shirley Maclaine en Jack Lemmon – intimeer dat liefdesverhoudings onskuldig kan wees. Billy Wilder se Some Like Hot (1959) word so ingedra …
Harold Bloom gooi ‘n draai (onthou hy is eweneens aangekla (diep sug) van ontoepaslike gedrag deur daardie humorlose feminis, Naomi Wolf) in hierdie roman.
Erich Segal (1937 – 2010) se Love Story is glo geskryf na die skrywer, ‘n dosent aan Yale Universiteit in klassieke tale, uitgedaag is om ‘n moderne tragedie te skryf wanneer ‘n mens aan ‘n gewilde kampusstorie dink.
Dis ‘n genoeglike debuut en vir hierdie leser was die roman waar die begeertes tussen al die rolspelers (en die konflik) nog nie uitgespeel is nie, beter as die laaste gedeelte van die roman.
Spanninge tussen karakters wat werklike vuurwerke word, is dalk ‘n poging om closure te kry in die roman. Desnieteenstaande ‘n debuut vol belofte, ofskoon die slot te maklik afloop. Veral gedagtig aan die klassieke intertekste en slim toespelings.
Wel slim is die kommentaar op die jong kollega se roman wat van toepassing is op die roman wat ons lees (164). En Vladímír wat weer op sy beurt die gebeure kaap en in sy roman sit en wat die kritiek as “bleak” ervaar, terwyl vroulief, Cynthia die pryse inoes met ‘n meer toeganklike boek.
Die uwe sal weer Kate Chopin (1850 -1904) moet lees om die studente se kommentaar en kritiek te kan begryp oor die wese van ‘n sensitiewe, dog feministiese vrou.
Sou Vladímír se vrou werklik ‘n skryfklub begin het die met die anonieme verteller wat haar eie identiteit meedoënloos onder die loep neem, wonder hierdie leser. Ons vind hier van selfplesier tot -skending; van rook en drink; van ‘n analise van die post hoc-prudery wat vroue binne die akademie van agentskap ontneem (10).
Wat ‘n karakter dink van D.H. Lawrence se 1928 klassiek Lady Chatterley’s Lover is hier toepaslik: wanneer daar oorgegee word aan die hartstog, is dit alles verby. Sowel vir die karakters as vir die leser.
Lees en onhou gerus: Love means never having to say you’re sorry!
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)