Wednesday, December 28, 2016

Boetiek-intellektuele en regstellende aksie in 2016

I

Die jaar 2016 is amper verby!

Hierdie volgende uiting staan op Litnet in 'n brief van Deon Knobel aan sy broer Wilhelm:

"En soortgelyk aan die vermiste oorskot van Gideon Scheepers (soos roerend verwoord in die gedig van N.P. van Wyk Louw, "Gebed om die gebeente") ontvang ek enkele jare gelede, ná een van die vorige artikels oor Wopko, die ewe roerende gedig van Thijs Nel, waaroor hy die volgende skryf: “Dink jy my 'Grafskrif vir Wopko' sal in diepte verstaan word? Ek het dit aanvanklik geskryf as ʼn trooswoord vir Leti Kleyn, wat op een of ander manier gehoor het dat ek Wopko geken het.” (’n Brief aan Wilhelm Knobel oor Wopko Jensma | LitNet. Besoek 22 Desember 2016)

"Gebed om die gebeente" is 'n primordiale Opperman-vers. 'n Mens wonder hoe het hierdie "fout" deurgeglip?

Nou onlangs word daar verwys op die internet na Elizabeth in plaas van Elisabeth Eybers - gelukkig is dit later reggestel.

In onderhoude op 'n poësie-webblog wemel van setfoute en 'n gedig van 'n digter word met 'n auto-correct net so gepubliseer. 'n Jongeling blog ook hier en plaas deeltekens op verkeerde plekke.

Op twee e's, kennelik ónbewus van wat die funksie van die deelteken behels.

II

Gewoonlik verskyn daar 'n lys van hoogtepunte in ons dagblaaie en die vakansieleesstof van bekendes.

Ons het die dood van die groot semiotikus en romanskrywer, Umberto Eco beleef.

Vanjaar was die meeste oorsigte, aldus die uwe, maar ylerig. Opvallend hoe die digkuns alweer op lyste afgeskeep word! Daniel Hugo het wel Johann de Lange vermeld en hier teen die einde van die jaar onthou die meeste mense net die (mees) onlangse boeke.

Die volgende boeke is op hierdie blog behandel:

Fanie Olivier (Samest) - Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Human & Rousseau, 'n bloemlesing wat ten alle tye 'n kers- en verjaarsdaggeskenk bly.

Hammie van Ronelda S. Kamfer uigegee deur Kwela.

Dark Hole of the Moon van Charl JF Cilliers, 'n belangrike Suid-Afrikaanse Engelse digter, is uitgegee deur Malgas Publishers. 'n Ander belangrike pragtige digbundel is Bearings  van Isobel Dixon, deur Modjaji Books.

Hilda Smits se die bome reusagtig soos ons was  het by Protea verskyn. Martjie Bosman se  Vloeibare middelpunt en Ilse van Staden se Waar die oog van stil word  is eweneens uitstekende Protea publikasies. Anna Enquist se Arsenaal van klank (vertaal deur Zandra Bezuidenhout) is eweneens 'n relevante publikasie van Protea. Nes Die aarde is 'n eierblou ark van Susan Smith met eko-verse en vrou-wees.

Breyten Breytenbach se indrukwekkende Die singende hand: Versamelde gedigte  (1984 - 2014) het by Human & Rousseau verskyn, nes die Na-dood. Ingrid Jonker se Versamelde gedigte is deur Human & Rousseau heruitgegee. Bibi Slippers se eksperimentele Fotostaatmasjien is deur Tafelberg uitgegee.   

Daar was Johann de Lange se uitstekende 'n Hunkering se grein (Human & Rousseau) en Juanita Louw se debuut In die grot van die sibille (Quellerie). (Oor laasgenoemde het ek nie geskryf nie, omdat die bundel onder my leiding begin is.) Postuum het die digter TT Cloete se brieweboek verskyn by Pooka: Die groot misterie van twee vroue, 'n fassinerende blik op die digter se werkswyse en denke oor die lewe en literatuur.

Verskillende temas en verskillende stemme: gay, bruin, wit, vrou, manlik; eko-politiek, die dood, die liefde, ars poeticas word bestryk ...

Gevestig en nuut; outyds en eksperimenteel.

Romans wat my begeester het is: Huilboek van  Ryk Hattingh (Human & Rousseau), Die skaalmodel van Anneli Groenewald (Tafelberg), David Cornwell se Like it matters (Umuzi), Dan Sleigh se roman: 1795 (Tafelberg) en Maestro deur Marié Heese (Human & Rousseau). Tom Dreyer se Dorado (Penguin) is eweneens 'n belangrike teks. Beide Heese en Sleigh se romans is historiese werke wat implisiete kommentaar lewer op ons huidige bestel.

Diegene wat bewus is van die realiteite van plaasmoorde en die spel tussen fiksie en werklikheid, kan bepaald nie Een nag en 'n bietjie van Hester Kruger (Human & Rousseau) ignoreer nie. En meesleurend in sy dinkwerk is Op 'n dag, 'n hond  van John Miles (Human & Rousseau), 'n groot verrassing waarmee 2016 afgesluit word.

Helize van Vuuren: A Necklace of Springbok Ears – /Xam Orality and South African Literature het by SUN MeDIA Stellenbosch under the SUN PRESS imprint verskyn. Dis 'n belangrike stuk navorsing nes Ouma Geelmeid Ke kx’u||xa||xa N\uu (Oftewel Ouma Geelmeid gee N|uu) deur Sheena Shah en Matthias Brenzinger (met die hulp van Katrina Esau, Claudia du Plessis en Mary-Ann Prins) wat by Caldi Press verskyn het. Hierdie werke is van belang in ons debatte róndom taalpolitiek en -identiteit.

III

Die meeste resensies op hierdie blog is vir Beeld en Rapport geskryf en uitgesaai op FMR.  Daar was ook polemiek: oor die UJ-prys vir kreatiewe skryfwerk aan 'n nie-kreatiewe skrywer.  Daar was debatte rondom die funksie van die (self)bemarking van 'n roman, en 'n studente-opstande wat vrae laat ontstaan het oor hoe ons moet doseer om te oorleef. In hierdie opsig is Jacomien van Niekerk se 'Baie Worde' - Identiteit en transformasie by Antjie Krog relevant. (Van Schaik: Talatala-reeks).

En dan die Nobelprys vir Bob Dylan?



© Joan Hambidge

Monday, December 19, 2016

Joan Hambidge - Paul Thomas Anderson

I
‘n Goeie filmmaker is soos ‘n goeie romanskrywer. Wanneer een film jou bekoor of aangryp, wil jy meer van die kunstenaar se werk sien.

Of, sy of haar werk hérbesoek.

Wanneer ‘n mens letterlik elke dag ‘n film kyk en gesteld is op goeie en belangrike films, word jy gedwing om films weer te besoek. Met wonderlike, inspirerende gevolge. So het ek sopas weer gekyk na Anderson se Boogie Nights (1997) en The Master (2012).

Boogie Nights is ‘n kragtoer. Dit is bykans asof ‘n mens ‘n opera aanskou, meer spesifiek ‘n porno-opera. Die klankbaan is verruklik: down memory lane!

Mark Wahlberg, Julianne Moore, Burt Reynolds, Don Cheadle, John C. Reilly, William H. Macy en Heather Graham is hier te siene, saam met Philip Seymour Hoffman as die patetiese gay Scotty.

Eddie Adams (Wahlberg) is ‘n “high scool drop out”. Sy ma noem hom dom en jaag hom weg. Hy werk as ‘n wasser in die Reseda nagklub van Maurice Rodriguez. Hier ontmoet hy Jack Horner (Reynolds). Hy word “ontdek” deur Horner as ‘n porno-ster weens sy behaaglike hingsel en sy filmnaam is Dirk Diggler. Hy een Reed Rotschild (Reilly) maak aksie-porno. Alles speel af teen die agtergrond van die 70’s se disko-musiek.

‘n Plesierige aksiebelaaide film waarin seks en uitbundigheid oënskynlik besing word. Totdat Little Bill sy vrou en haar minnaar doodskiet, homself ook uithaal op ‘n nuwejaarsparty waar die 70’s oorgaan na die tagtigs.

Nou begin alles afdraande loop. Dirk Diggler weens sy kokaïne-oordaad kan nie meer ‘n ereksie bereik nie en sy sterrol word oorgeneem deur ‘n nuweling: Johnny Doe. Colonel word in hegtenis geneem weens sy kinderporno-films. En Amber Waves (Julianne Moore) verloor ‘n regstryd oor mede-toesig oor haar seun weens haar donker bestaan. In ‘n toneel buite die hof, is dit Moore op haar beste wanneer sy verdriet vertolk.

Boonop raak Jack besorg oor die vervelige tekste waarmee hy opgeskeep sit, neem Rollergirl en sy fillmakers in sy limousine op soek na idees. Hier loop hulle ‘n ou skoolmaat van Rollergirl op die lyf en wanneer hy haar beledig, word hy ernstig aangerand. Dirk Diggler en Reed se poging om musieksterre te word, misluk. Prostitusie word hul voorland en Dirk word eweneens wreed aangerand een aand deur “bunny chasers”. Buck Swope trou met Jessie St. Vincent en weens sy porno-verlede weier die bank ‘n lening sodat hy ‘n stereo-winkel kan oop maak. Hy beleef  ‘n dramatiese aand wanneer hy midde-in ‘n rooftog by ‘n doughnut-winkel gesteelde geld kan neem, omdat almal rondom hom doodgeskiet is, so reg uit ‘n Tarantino-scene. Of eerder, Tarantino het hier geleen. Dirk en Reed raak by verdere moleste betrokke wanneer hulle bakpoeier as kokaïene verkwansel aan Rahad Jackson. In 1984 word Buck en Jessie se kind gebore, Rollergirl gaan terug skool toe en Dirk en Amber (haar “baby boy”), beoog weer om saam films te maak.

II
Mark Wahlberg se Calvin Klein deurbraak

Die film is ‘n langer weergawe van Anderson se “mockumentary”, The Dirk Diggler Story (1988). Anderson speel ook in op Marky Mark se 13 duim, sy lewe as trashy figuur wat tronk toe gestuur is weens aanranding en rassitiese uitsprake en wat deur Calvin Klein en Annie Leibovitz ikoniese status verkry het. Nes sy filmkarakter had hy ook ‘n musiekloopbaan.

Hierna het hy in 2012 ook ‘n ongevraagde opmerking gemaak oor 9/11 en wat sou gebeur het as hy op daardie vlug was: “If I was on that plane with my kids, it wouldn’t have went down like it did”, en “There would have been a lot of blood in that first-class cabin and then me saying, ‘OK, we’re going to land somewhere safely, don’t worry’”. Wahlberg issued a public apology after family members of those killed on the flight expressed outrage about his statements”. Verder het hy in 1991 een van Madonna se meelopers beledig en selfs vir Guy Oseary op die neus gemoker. (Four Best Madonna Feuds – Ever! | OC Weekly. Besoek 18 Desember 2016)

III
Anderson se grootste talent – behalwe vir sy goeie draaiboeke en filmografie – is hoe hy speel met sy akteurs se personas. Dieselfde geld The Master, ‘n briljante analise van Scientology en hoe die impak van die Tweede Wêreld-oorlog op die Amerikaanse psige.

Joaquin Phoenix en Philip Seymour

Joaquin Phoenix en Philip Seymour Hoffman word teenoor mekaar geplaas.

Phoenix was toegelaat om te improviseer en hy het gewig verloor vir hierdie rol. Hierteenoor is Seymour Hoffman se spel meer beheersd. In onderhoude het Phoenix bely dat hy soos Daniel Day Lewis “in karakter” gebly het vir drie maande.

Verskeie filmkritici het daarop gewys dat ‘n mens uit die opposisie tussen hierdie twee fenomenale akteurs verskillende spelwyses kan raaksien.

Joaquin Phoenix, Philip Seymour Hoffman, & Paul Thomas Anderson

En Anderson ontgin sy akteurs se personas. Hy laat hul lewens “inbuig” op die karakters wat hulle vertolk. Hoe imposant bly Seymour Hoffman nie en sy voortydige dood bly die kyker deurgaans by.

Roland Barthes se effet de réel, oftewel, die effek van die werklikheid op ‘n teks is hier relevant. Opgeneem in The Rustle of Language van 1968 (Blackwell, Oxford).

Paul Thomas Anderson, skugter voor die kamera

Paul Thomas Anderson ontgin wat grensoorskryding of transgressie behels en hoe dit die kyker steur. Maar hy is nie ‘n immorele filmmaker nie. Hy lewer sterk sosiale kommentaar in sy films. (The Master (2012 film) – Wikipedia. Besoek 18 Desember 2016)

© Joan Hambidge

Friday, December 16, 2016

Joan Hambidge - Tilda Swinton & A Bigger Splash (2015)

I
Die uitmuntende aktrise Tilda Swinton vertolk in A Bigger Splash die rol van ‘n rocker.

Toevallig lyk Swinton ook soos David Bowie, die rocklegende, en skynbaar was hulle in die werklike lewe goed bevriend.

Die film A Bigger Splash is ‘n fassinerende analise van hoe bedrewe hierdie aktrise is as vertolker. In hierdie film is sy stemloos, vir die meeste van die tyd; die karakter het ‘n operasie ondergaan. Dit is wel so dat Swinton glo in daardie stadium nie wou praat in die film nie, weens persoonlike redes.

Die titel verwys natuurlik na David Hockney se beroemde skildery: A Bigger Splash. Dit is geskilder in 1967, in LA, toe Hockney kuns doseer het aan Berkley. Die skildery is glo ook ‘n representasie van die einde van ‘n verhouding. (A Bigger Splash - Wikipedia. Besoek 15 Desember 2016)

Die titel van die film is dus ‘n belangrike kode: ‘n opbreek, ‘n einde. Vier karakters: twee vroue, twee mans se interaksie met mekaar op ‘n eiland, word ondersoek. Die twee geliefdes se respyt op die eiland word onderbreek deur die aankoms van die eks en sy dogter. (Die eks was betrokke by die sangeres se loopbaan en is ‘n musiekvervaardiger. Ons sien ook terugflitse.)  Die verhouding tussen vader en dogter is broeiend – die kyker kan inderdaad ‘n insestueuse verhouding tussen vader en dogter aanvoel. Boonop is daar migrante – wat ‘n sterk politieke boodskap oordra.

Die twee ekse raak weer betrokke. Onderneem uitstappies, het seks. Die huidige lover en die jong dogter (dit blyk later sy is 17 jaar oud) onderneem ‘n gevaarlike ekspedisie en het waarskynlik seks met mekaar.

Ralph Fiennes en Matthias Schoenaerts

Met die terugkeer is daar ‘n konfrontasie. Die twee mans raak in ‘n geveg betrokke. Die eks word oorrompel deur die huidige lover in die swembad. Agterna lyk dit na verdrinking.
Hy word sitgemaak in die swembad met ‘n vinielplaat voor hom.

Die kyker verwag dat die migrante die wending in die verhaal sou bring, maar dit is uiteindelik die jaloesie tussen die twee mans wat die oorhand kry.

Daar is ‘n polisieondersoek. En die polisiekaptein jaag hulle in, vra vir die rockster se handtekening – en so weet die siniese kyker word die verdere ondersoek opgehef. ‘n Siniese kommentaar dat roem tog deure oopmaak?

Of is dit dalk die gebrek aan bewysstukke en Tilda Swinton (Marianne) se stomme medepligtigheid wat alles laat eindig? (A Bigger Splash (film) - Wikipedia. Besoek 15 Desember 2016)

II

Hierdie film van die Italiaanse regisseur Luca Guadagnino werk met subtekste.

Hy het al verskeie kere met Swinton gewerk in  The Protagonists (1999), I Am Love (2010), A Bigger Splash (2015) en in Suspiria (2017).

Hierna het ek ook I am love gekyk en ‘n mens word bewus van hoe hy telkens Swinton plaas in rolle waar sy getransformeer word fisies en psigies. Ook vertolk sy die rol van iemand wat in ‘n emosionele oorgang is. Sy raak verlief op haar seun se vriend, die sjef en die dood van haar seun bring 'n wending in die ryk familie se lewe. Hoe sy ten slotte fisies lyk, is emosioneel skokkend.

In A Bigger Splash is haar mede-spelers Ralph Fiennes (as die eks, Harry) – en hiermee bring hy ook ‘n veelheid van sý rolle na hierdie teks. ‘n Mens dink onwillekeurig aan die naaktonele in The English Patient met Kristin Scott Thomas. Hierdie film van Anthony Minghella (van 1996) is gebaseer op Ondaatje se roman. Nes A Bigger Splash gebaseer is op die film La Piscine.

Matthias Schoenaerts

Matthias Schoenaerts (in die film 'n dokumentêre filmmaker, Paul) en Dakota Johnson (Penelope) maak weer ander assosiasies wakker.

La Piscine is ‘n interteks. Hierdie film van Jacques Deray (1969) het Alain Delon, Romy Schneider, Maurice Ronet en Jane Birkin in die hoofrolle. (La Piscine (film) - Wikipedia. Besoek 15 Desember 2016)

Dat dit afspeel op ‘n eksotiese en afgeleë eiland (Pantelleria) is eweneens belangrik.

III

Luca Guadagnino is ‘n heerlike ontdekking vir my as filmkyker.

Hy is gebore in Palermo, sy vader was Siciliaans en sy moeder Algeryns. Hy het groot geword in Ethiopië en begryp dus die lot van tussen-mense soos migrante.

© Joan Hambidge

Sunday, December 11, 2016

John Miles - Op 'n dag, 'n hond (2016)

John Miles - Op 'n dag, 'n hond. Human & Rousseau, 2016. ISBN 9780798174329

Resensent: Joan Hambidge

I

John Miles se romans lewer altyd sterk sosiale kommentaar. Dit is egter die verhulde intertekste wat my interesseer in sy pakkende romans.

Die slot van die roman "Nee, dis reg, dankie dat julle gekom het", sou 'n mens kon lees as - dankie leser dat jy my intertekste besoek het.

En daar is vele, bekend en minder bekend, oor hoé die moderrne mens moet reageer op geweld en die verloedering, wat ons tans in die gesig staar, op alle vlakke van menswees.

Die Hongaarse skrywer Sándor Márai wat meen dat van alle die religieuse illusies, die Boeddhisme vir hom die mees simpatieke is, omdat dit jou niks beloof na die dood nie. Nirwana beloof niks (252) (Sándor Márai – Wikipedia. Besoek 11 Desember 2016). 

Op 'n dag, 'n hond  (Churchill se swart hond?) beleef ek tesame met die ontwrigtende Hongaarse film, Son of Saul. 'n Man wat sy buite-egtelike kind wil begrawe tydens die grusaamhede van Auschwitz in 1944. Hierdie film van László Nemes spook in die gemoed - nes Miles se roman (Son of Saul – Wikipedia. Besoek 11 Desember 2016). 

Christo Coetzee © Dotman Pretorius

Daar is belangrike kodes dat 'n mens die lae van hierdie roman moet afskil. Die onvoorspelbare werkinge van die onderbewussyn word gekarteer (236) en die skilderwerke van Christo Coetzee, in 'n fase bekend vir lae van representasie, versoek 'n dieper kyk (Christo Coetzee – Wikipedia. Besoek 11 Desember 2016).

Met my verjaarsdag gee my buurman vir my Marcus Aurelius se Meditasies as geskenk. En hierdie is 'n teks wat in- en uitwaaier in hierdie aangrypende roman:

wees verdraagsaam, hoflik en nederig, onder alle omstandighede moedig, vermy beuselagtighede en verdra vryheid van spraak (224, 225).

II

"Ons leef dubbeld, die bewussyn en die liggaam, die een lewe is weggesteek in die ander een. Hulle is een, maar soms moet die een die knie voor die ander buig. Die innerlike lewe gee ons verbeelding en ideale en is moreel" (216).

Dieselfde geld intertekste wat ook weggesteek is agter die storie wat die skrywer beweer vir hom van kardinale belang is om 'n storie te vertel (Verteller wat ‘liksens het’ om te mag vertel | Netwerk24. Besoek 11 Desember 2016).

 “Hier is heelwat filosofie in die boek en spesifiek ’n bepaalde filosofie, maar ek wou ’n roman skryf; ’n verháál is my medium. Ek is nie besig met ’n essay nie; ek is nie besig met ’n preek of so iets nie; ek skryf ’n verhaal. Met ander woorde: Dit wat agtergrond is, moet geïntegreer wees in die verhaal.

Hierdie boek sit vol nihilistiese ironie, daardie relativistiese ironie waaroor D.C. Muecke skryf in Irony and the Ironic (Methuen, 1970). Die veelvuldige interpretasies, nie een is noodwendig reg (of verkeerd nie); die ko-eksistensie van ongerymdhede en onversoenbaarhede en teenstrydighede wat deel is van ons bestaan. En dit is wat hierdie roman uiters geslaagd doen. Geweld, liefde, moord, aanklagte, klasgee, drome - weergegee in die gemoed van 'n oud-onderwyser.

Daar is verwysings na Breytenbach, Paz, Mandelstam, Ondaatje, Majakofski, Rilke - en veral Rilke inspireer: ons is bye van die onsigbare wat heuning uit die onsigbare versamel om op te gaar in die goue korf van die onsienlike (49).


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)