Breyten Breytenbach. Woordwerk.
Human & Rousseau, 1999. ISBN 0 7981 3942 0.
Resensent: Joan
Hambidge
Woordwerk is dit wat die Amerikaners tereg tipeer as die
sogenaamde self-begetting novel. Dit
is 'n soort metaroman wat die illusie skep van spontane vertelling, 'n verhaal
wat as't ware sy strukture vooropstel en die skryfproses al lesende ten toon
stel. Daardie soort roman wat Barthes scriptible
oftewel writerly in S/Z (1970) tipeer het.
Vir die teoretiese leser sal hierdie roman 'n
aanskoulike demonstrasie wees van 'n rasegte postmodernistiese roman wat alle
grense afbreek. Ook die alter ego word ingespan en neem verskillende
identiteite aan: Dog, Kek in 'n boek van
swerfs (swerf en herfs).
Breyten Breytenbach is by uitstek die skepper van die
metakuns. Sy eerste digbundel stel die leser voor aan die gedig as fabrikasie.
In Lotus en in Om te vlieg is hierdie tegnieke ook aanwesig, maar in Woordwerk - met die toespeling ook op
woordverwerker - word 'n soort
(post)modernistiese allure aan die proses gegee.
Hierom die verwysing na Deleuze dat om te skep nie
kommunikasie is nie, maar weerstand. Deleuze, saam met Guattari, was natuurlik
die filosoof-psigoloog van Anti-Oedipus:
Capitalism and schizophrenia (1972/1984) wat die menslike bestaan reduseer
tot die van die masjien. In hierdie studie wat inskryf teen die Freudiaanse
nosie van die self word 'n radikale her-siening van die menslike ego gegee en
word die skisofreen as 'n normaler toestand geag as die van die gewone mens. In
disparate self-hede is dus meer waarhede te vind as in die bourgeois nosie van die geïntegreerde self. (Woordwerk verwerp ook eksplisiet Freudiaanse denke.)
Deleuze aktiveer ook selfmoord en in Breytenbach se
tekste is skryf dikwels gelyk aan die dood, aan heropstanding soos die
Boeddhisme ook glo dat die dood net 'n ander en nuwe vorm van lewe is. Hierom
word daar by herhaling geskryf dat wat jy in die aardse bestel doen, jou lot
hierna sal bepaal.
Daar is ook 'n verwysing na Rimbaud, na kouevuur en
natuurlik by implikasie na ”Seisoen in
die paradys wat hier as't ware 'n
Seisoen in die vagevuur word. Dit is
'n anti-roman, 'n boek van
suiwering, van uitskot van die ego èn self-illusies.
By Breytenbach is die self paradoksaal 'n illusie.
Hierom die verskillende skuilname (Jan Blom, Jan Afrika, Buffalo Bill,
ensomeer) wat in verskillende boeke aan bod kom en hierom ook die obsessie met
reis. Dit is dan ook die letterlike reis wat onder neem word en die reis van
skepping, fantasie, woord-verwerking.(Die verskillende pakkies suiker uit
hotelle dui hierdie itenarium aan.)
Die digterlike onbewuste word hier vir die leser ten
toon gestel. Hoe die digter as't ware 'n dorpse legende kan omdig: soos die
meisie in 'n skyndood wat deur 'n jagse lykbewaker tot lewe geroep word; die
beer wat in die Serwiese oorlog gevoer word deur besorgde opsigters; 'n
jaloerse vrou wat iemand vermoor en die lyk as 'n maal voorsit.
Die boek oftewel selfroman
is kladboek, dagboek, aanklag (as daar ooit 'n Breytenbach-teks was wat die yke
van sy gevangenskap duidelik ten toon gestel het, is dit hierdie boek) en
roman-in-wording. Die outeur tipieer dit self as 'n tussenin boek met
aantekeninge, opmerkings, bygedagtes, aflate. Dit is kennelik ook 'n opvolg van
Boek. Ten beste beskryf as 'n
nomadiese geskrif(p. 125). Die romansier is hoerkundige(p. 148) en die vertelling
word terug gevoer na die Chinese roman uit die 12e eeu.
'n Roman wat ook ter stigting en lering is vir die
menslike kondisie. Dit is ook soos 'n eie hand wat 'n mens kan verwurg. (Vir
my, terloops, is die subteks van selfmoord opvallend in hierdie roman; hierom
dan die tersaaklike verwysing na Deleuze.)
Agterin verskyn 'n brief: 'n brief wat eweneens wil
verduidelik en die geliefde persoon kan weer eens nie Afrikaans verstaan nie,
'n deurlopende tema in Breytenbach se oeuvre sodat taal ook alreeds iets doods
in sig dra.
Nie om dowe neute nie word Le Corbusier hier betrek: die
breking van ruimte, die geronde en organiese vorms, die verwydering van
binnemure sodat areas aaneenvloei en multifunksioneel word (p. 31). My
eksemplaar sit vol donkie-ore soos tersaaklike passasies of sleutels hul
aandoen.
Heel gepas word die postmodernis in Afrika soos volg
vertaal: “die esel is die subteks, getrou maar nikssiende. Hy dra die
woorde(dis nou die tou) wat slegs sin maak wanneer 'n leser daarmee gevang
word. Die berg is die 'storie'” (p. 177).
Die bekende Breytenbach-temas is hier aanwesig: die
lewe, die dood ('dood gaan is nie 'n teks nie', p.133; selfmoord, hergeboorte;
ekskresie, kreatiwiteit; reis, dood. Elke boek, roman, digbundel is 'n
heraktivering van die ou temas. 'n Wederopstanding van die woord.
Ook die word die Christendom met die Boeddhisme vermeng,
en daar is verwysings na vele religieë, ook die Sufisme - waarskynlik om die
universaliteit van die mens se twyfels en ekstases op die ondermaanse te beskryf.
In hierdie roman - ja, waarskynlik eerder anti-roman - word die leser op reis
geneem. Woordwerk sleur mee. Die
woordgebruik is kreatief, die beelde duisel voor 'n mens se oog.
“Miskien is die dood maar net 'n oorskatte literêre
afspraak”, verneem ons op bladsy 180. En dis 'n boek met 'n skrywershart vol
pyn, om die skrywer se uitspraak aan te pas.
Dit is die werk van 'n digter en die volgehoue poëtiese
krag dwing bewondering af.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]