Camera Lucida © 2013 LUCID-Art
Yet because the whole truth can never be known—at
least, this is what psychoanalysis along with other disciplines has taught
us—inserting a bit of autobiography into a narrative guarantees a grounding in
reality.
Julia
Kristeva
Scenes from our forthcoming attractions
In hierdie studie word die invloed van films op ons lewe ondersoek. Dit is
bekend dat vele groot filmmakers (soos Fassbinder) in filmhuise hulle jeug
verslyt het ten einde ‘n moeilike bestaan te oorbrug. Filmkritici (soos Barry
Ronge) bely dieselfde. Hierdie kyker wil in hierdie studie fokus op etlike
persoonlike gunstelinge en die verhaal van die filmkuns en die teorie
daaromheen vertel. Vir ‘n jaar lank het ek ‘n filmrubriek in BY behartig en my
belangstelling in films gaan ook terug tot in my jeug. Nie alleen bekyk ek
films meer as een keer nie, maar die teorie róndom films is fassinerend. Die
werk van Slajov Žižek (veral The perverts
guide to the cinema, 2006) gee
‘n belangrike blik op die vorming van die persoonlikheid weens die bestaan van
films. Ons leer om lief te hê of te haat op ‘n bepaalde wyse, ómdat ons films
gesien het wat dit vir ons vertolk. Die studie fokus op filmmakers, persoonlike
gunstelinge en dan die teoretiese besinning in die vorm van ‘n verhaal oor
films.
−
∞ −
In reeks word sekere tegnieke aangewend om die
verhaal te dryf. Die sogenaamde “cliff hanger” is die belangrikste. In The killing (eerste reeks) word die
moordenaar vasgetrek en die speurder is op ‘n vliegtuig wanneer sy ‘n sms
ontvang dat die verkeerde verdagte in hegtenis geneem is. In die Wallander-reeks word die element van vraisemblance sterk uitgebou. Dit speel
in op die werklikheidsdimensie van die Sweedse leefwêreld en die kyker se
vooropgstelde idees van hoe die gemeenskap funksioneer. Die liberale,
vrydenkende gemeenskap word egter telkens gedekonstrueer deur onder andere
plaasmoorde, xenophobia en roekelose optredes van opportuniste. Die speurder,
vertolk deur Kenneth Branagh, se emosionaliteit word ook beklemtoon. In hierdie
aangrypende reeks word daar sterk gebruik gemaak van liminalteit soos Van
Gennep dit definieer in The rites of
passage (1960): die oorgang van lewe na dood, orde tot chaos is die
dryfvere vir hierdie reeks.
Suspension of disbelief
Montage
Vraisemblance
Liminaliteit
Cliff-hanger
Subteks
Teoretiese besinning:
Tania Modleski. The women who knew too much – Hitchcock and feminist theory. Methuen,
1988.
Matchpoint,
2005
Woody Allen se film Matchpoint ondersoek die verhouding tussen ‘n jong tennisafrigter
se binnetrede tot die Britse adelstand. Chris, die arm Ier, word gepromoveer
van tennisafrigter tot werknemer van sy ryk skoonvader se besigheid. Hy trou
met die rykmansdogter en word deel van die gesin ná sy vriendskap met Tom. Hý
op sy beurt is weer verloof aan Nola (Scarlett Johanson) en sy betrokkenheid by
haar bedreig sy posisie binne hierdie familie. Wanneer hy verneem dat sy
swanger is, vermoor hy haar koelbloedig.
Die film ondersoek die rol van toeval in ‘n mens
se lewe en begin met die “voice over” (wat ‘n agterna-perspektief impliseer).
Geluk bely, die verteller speel ‘n sterker rol in
‘n mens se lewe as wat die meeste van ons besef. Die metafoor van ‘n bal wat op
die net geslaan word kan na enige kant toe oorbeweeg. Die ring van die
vermoorde ou vrou – wat hy uit die weg moet ruim sodat dit na diefstal moet lyk
– gooi hy weg nadat hy sy minnares vermoor het. Dit bons egter terug, word
opgetel deur ‘n dief wat in dieselfde omgewing inbreek sodat die moordenaar,
Chris ‘n alibi het. Die speurder het egter ‘n sterk vermoede dat Chris die
moordenaar is wat alles haarfyn beplan het, omdat Nola se dagboeke (waarvan hy
onbewus is) hulle verhouding in fynste besonderhede weergee. Die twee speurders
vra hom uit na sy verhouding met Nola en eers nadat Chris nie die volle
waarheid vertel het nie, word hy ingelig dat Nola ‘n inkriminerende dagboek
gehou het.
Wanneer die twee vermoordes een nag aan Chris
verskyn en hom konfronteer oor hul toestand, aktiveer Allen die Griekse
tragedie en die deus ex machina-beginsel. Chris betrek Sofokles se bekende
stelling dat dit beter is om nooit gebore te gewees het nie en dat die onskuldiges
doodgemaak moet word (“slain”) om die groter plan te laat voltrek.
Chris word afgeneem voor ‘n skildery van ‘n man in
sy vrou, Chloe se galery: die een man is ingekleur, die een langs hom leeg. Dit
is die oomblik wanneer die oorgang gemaak word om die dubbelbestaan te
beeïndig. ‘n Vakansie na Griekeland (eintlik Sardinië) word beplan, maar
afgestel. Hy vertel egter vir Nola dat dit Griekeland is wat die dimensie van
die Griekse tragedie, naamlik hubris (selfoorskatting) en hamartia
(karakterfout) sterker belig met die deurlopende refrein in die film dat soveel
in die lewe gebaseer is op geluk. Wanneer hy Nola vermoor het, gaan hy saam met
sy vrou na ‘n “musical”, ‘n verdere oorgang in die film: daar is telkens
besoeke aan opera met Enrico Caruso se vertolkings. Chris lees aan die begin
van die film Dostojefswki se Skuld en
Boetedoening wat die film verder laai met die idee geregtigheid. Nola bely
aan hom dat sy niemand het met wie sy kan praat oor die verhouding nie; dit is
wel so dat sy met die vrou wat saam met haar in ‘n boetiek werk vertel het van
Chris en ‘n dagboek hou waarin sy die verhouding opteken. Dit inkrimineer Chris
by die polisie, hoewel die ring wat gevind word, sy alibi word vir sy onskuld.
‘n Verdere ironie is dat wanneer Chris sy tennissak
in die kombuis neersit, val daar ‘n koeël uit. Hy vertel vir sy vrou dat sy
pille is en net voor hy Nola se buurvrou vermoor, drink sy pille. Die film
eindig met die ironiese woorde:”Your husband looks shell shock” wanneer die
geboorte van die baba gevier word.
Een van die belangrikste stylmiddele wat Allen
aanwend in hierdie film, is die gebruik van opera-tekste om die verhaal-gegewe
te vertel en te laai.
Chris se bekentenis dat hy van opera hou, lei tot
sy binnetrede in die ryk familie. Hy en Tom, sy tennismaat, deel ‘n liefde vir
opera en die eerste geskenk aan Chloe, sy Tom se suster, is ‘n CD met operas.
“Una furtiva lagrima” uit L’elisir
d’amore word deur Caruso vertolk tydens die opening van die film, terwyl
Rossini se “Guglielmo Tell” uit die Arresta en Verdi se Otello, en meer spesifiek die moordtoneel. Al sou die kyker nie
hierdie operas ken nie, is die dramatiese musiek so sterk dat dit onbewustelik
die onderliggende tragedie vir die kyker versterk. Daar is verder uittreksels
uit Verdi (Macbeth, La Traviata, Il
Trovatore, Rigoletto) en uit Donizetti se L’elisir d’amore. Bizet se Les
pêcheurs de perles en Antônio Carlos Gomes se Salvatore Rose.
Die film lewer skerp kommentaar op die
klasseverskille binne die Britse gemeenskap. Die ryk adelstand se verhouding
met die werkersklas word in hierdie film uitgebeeld. Tom se moeder sien neer op
Nola, ‘n Amerikaanse meisie en sukkelende aktrise. Die moeder het ‘n ander vrou
vir haar seun in gedagte en na ‘n woordewisseling tussen die moeder en Nola,
vlug sy uit en Chris volg haar waar hulle buite seksuele omgang het. Beide
Chris en Nola is buitestaanders wie se lewens dramaties verander word deur hul
kontak met die Hewett’s. Chris, ‘n arm Ier, trou met Chloe en word ‘n posisie
aangebied binne sy vader se maatskappy. Die film insinueer dus dat beide Nola
en Chris as nie-adelstand buite die reëls wat alles in stand hou, mekaar
klandestien ontmoet. As hulle dus nie die reëls oortree het nie, was daar geen
tragedie nie. Beide Chris en Nola is aspirerende en ambisieuse figure. Hulle
eerste ontmoeting vind plaas wanneer Nola Chris uitdaag tydens ‘n
tafeltenniswedstryd en hy haar oorwin. Sy is onmiddellik bewus van sy
aggressiewe styl. Hy verklaar dit dat hy van nature kompeterend is.
Die film is ‘n moderne speurverhaal. Die kyker
egter is van meet af aan bewus van wie die moord gepleeg het, terwyl die
karakters onbewus is van Chris se aandadigheid. Die kyker is egter subliminaal
bewus daarvan dat Chris nie gevang is nie, omdat die “voice over” – die geluk
van tema – daarop dui dat hy “gelukkig” was. Die einde van die film – met die
familie wat sy pasgebore seun ontmoet – is ironies gelaai met die woorde van
Tom, sy oom, wat die kind geluk, eerder as goeie gesondheid toewens. Die kyker
wonder egter in haar gemoed hoe Chris verder in sy lewe hierdie insident sal
verwerk.
Flikkertyd
Daar word vertel dat die bekende kritikus Susan Sontag
elke dag gaan fliek het. Daar is min essayiste wat deur die jare so insigryk
geskryf het oor die funksie van films.
Trouens, naas Pauline Kael en Richard Corliss, is
daar min film-lesers wat so oorrompelend skryf oor films as Sontag. Sy het die
dikwels eerder die langer essay geskryf, as die korter, joernalistieke teks.
Die kyk van films is vir my ‘n passie. Veral die
herbesoek van klassieke rolprente en die bekoring wat ‘n Fellini of Visconti
inhou, mag nie onderskat word. Dit gaan uiteraard om my persoonlike smaak
geskryf word. Ek hou van die films van Ingmar Bergman, Roman Polanski, Alfred
Hitchcock, Francis Ford Coppola, Woody Allen, en vele ander outeur-filmmakers.
Dit gaan nie ‘n chronologiese bespreking van films
wees nie, maar eerder soos “herinnering se wei” my vat.
Wat maak dan van ‘n film ‘n klassiek?, sou ‘n mens
kon vra.
En waarom word sekere mindere, selfs middelmatige
films deesdae opgehemel asof dit die firmamente verskuif, terwyl die filmkenner
of afficionado nie deel vorm van die juigkommando nie.
‘n Klassieke rolprent moet uiteraard altyd binne
sy tydvak beoordeel en getoets word. Ingmar Bergman – en hier deel ek die
standpunt van die Wolfs – het die magiese aspek van die filmkuns verstaan. As
jong kind het hy glo verskillende teksture van lig met sy kamera onderskou.
Ek kyk ‘n goeie film twee, selfs drie keer.
Polanski se Bitter moon (1992), waaroor ek ‘n
uitgebreide Lacaniaanse analise geskryf het, het ek al vier keer gesien.
Hitchcock se Psycho
(1960) ses keer.
Bergman se Persona
(1966) ongeveer agt keer.
Groot filmmakers gebruik filmtaal op ‘n behendige
en oorspronklike wyse sodat ‘n mens hul styl kan herken. In Amarcord (1973) van Fellini sit vier
jong manne en masturbeer in ‘n motor. Hierdie vinjet is al in soveel
Hollywood-films gebruik. Maar die toneel – meen ek – behoort oorspronklik aan
Fellini.
In Nicolas Roeg se briljante film Bad timing (1980) word die montage-tegniek
aangewend. Deur middel van terugflitse word daar bepaal wat het tussen die
psigoanalis (Art Garfunkel) en sy minnares (Theresa Russell) gebeur?
Het hy haar seksueel misbruik, terwyl sy in ‘n
koma was na ‘n handvol pille?
Of is die speurder, Harvey Keitel op ‘n verkeerde
pad?
Deur ‘n terugflits word ons op ‘n reis na Tunisië
geneem. En die kyker maak onmiddellik ‘n ander filmassosiasie, naamlik na
Bernardo Bertolucci se The sheltering sky
(1990) waarin ‘n troebel verhouding
eweneens uitgespeel word. Die hoofkarakters hier is natuurlik Debra Winger en
John Malkovich. Met Campbell Scott as die minnaar van die vrou. (En die film is
gebaseer op die verhaal van Paul Bowles...)
Bad
Timing speel in Wenen af. Die stad van psigoanalise.
Freud se stad en die hele film wentel rondom die lesing wat die psigoanalis gee
oor afkyk / loer / voyeurisme.
En dit is wat ons doen wanneer ons films kyk.
Ons word voyeurs.
En terloops, die seminale essays van Pauline Kael
wat Kiss Kiss Bang Bang heet, het weer ‘n film geïnspireer van Shane Black met
Robert Downey, jr wat in 2005 verskyn het.
Nou daar ‘s ‘n interteks vir jou as ‘n film begin
“leen” by ‘n kritikus.
Here’s looking at you kid!
Bronne:
Pauline Kael: Kiss Kiss Bang Bang. Mario Boyers, NY.
1965.
John Russell Taylor: Hitch. Abacus, Londen.1978.
William Wolf & Lillian Kramer
Wolf: Landmark Films – The cinema of our
century. Paddinon Press Ltd, New York. 1979.
2 Fellini
Deel I
Federico Fellini se films kan beskou word as tekste
van klassieke status. In sy epogmakende Otto e mezzo (8 ½) maak hy ‘n
outobiografiese analise van sy filmkuns.
Die belanrikste kode vir die begryp van hierdie
Italiaanse meester se films is die woord fantasie. Eintlik: fantasmagoriese
fantasie. Fantasie waarin die mag van die verbeelding ondersoek en beproef word.
Ons vind dan dikwels in sy films soos in Amarcord ’n herinneringsreis. Hy gebruik
‘n jong kind wat opvallend op hom lyk sodat die kyker bewus bly van
(outo)biografiese elemente in die film. In latere films gebruik hy Anthony
Quinn of Marcello Mastroianni as sy ewebeelde.
In sy films word die verhouding tussen lewe en
dood, kuns en werklikheid op ’n opwindende manier ondersoek. ‘n Mens kry in
Amarcord ‘n uitbeelding van ‘n begrafnis, ‘n troue, die verhouding met ‘n mal
oom wat weier om uit die boom te klim en almal met klippe bestook wat hom
probeer red. Uiteindelik kom die dokter van die malhuis daar aan. ‘n Kwaai verpleegster
haal hom uit en die dokter merk op:
“Party dae is hy gesond; ander dae is hy maar soos
ons almal.”
Fellini sien nie neer op sy verlede nie. Hy beeld
karakters dus nie met ‘n meewarige aanslag uit nie, maar erken hul menslikheid
volledig.
‘n Klein seuntjie – sonder ‘n broekie – probeer sy
bababoetie met ‘n baksteen doodgooi en die ma keer hom met die woeste
Italiaanse dialoog kenmerkend van die streek.
Die storie word met ‘n goedige, dog priemende
analise van sy Italiaanse jeug. Dat hy volledig verlos is daarvan, blyk uit die
humoristiese aanslag. Daar is geen gewroeg nie, maar ‘n speelse analise van die
drama(s).
Waarskynlik omdat hy in sy jeug in ‘n sirkus
gewerk het, is daar ‘n aanvoeling vir die verandering van gemoedstemminge.
Die film is in 1973 gemaak en lewer kommentaar op
die Fascisme en die invloed daarvan op sy tuisdorp. In ‘n outobiografiese
verslag bely Fellini dat hy sy fascistiese skoolopvoeding gehaat het. Hulle is
deur priesters oor die kneukels geslaan en moes op koring kniel op kaal knieë.
Hy het groot geword in Rimini en soos by Bergman
en Almodóvar, is sy jeugherinneringe ‘n belangrike impetus vir sy kuns. Nou
onlangs het Hennie Aucamp opgemerk in ‘n bespreking dat ‘n ongelukige of
gelukkige jeug jou nooit loslaat nie – en dit kan absoluut van toepassing
gemaak word op hierdie filmmakers wat bykans op ‘n surrealistiese wyse die mag
van ‘n kind se ónbeperkte verbeelding ontgin. Of dalk eerder: hoe ‘n grootmens
sy jeugherinneringe her-skryf / her-verbeel deur dit in ‘n kunsvorm te verpak.
As kind was hy lid van die Avanguardista, ‘n
verpligte organisasie, hoewel sy familie anti-Fascisties was. Hy maak dan in sy
films dikwels ‘n bespotting van die Fascisme en in 1939 vertrek hy na Rome waar
hy satiriese artikels vir ‘n tydskrif skryf. Satire is uiteraard eweneens deel
van Fellini se aanslag as kunstenaar.
In Rome ontmoet hy Guiletta Masini wat dan ook in
sy films optree. (Hulle het twee kinders verloor: een met ‘n miskraam en ‘n
ander jong baba het nege maande ná sy geboorte gesterf.) As ‘n jong man ontmoet
hy Roberto Rossellini, die befaamde filmmaker van Rome, Open City en die skoonvader van Martin Scorsese wat in sy
outobiografiese filmreeks uitgebreid verslag doen van die hoogtepunte in die
Italiaanse filmkuns. As ‘n jong man bestudeer Fellini die werk van C.G. Jung en
die opposisie tussen die animus en anima is duidelik af te lei uit sy film Otto e mezzo (81/2).
Die film La
dolce vita – die lekker lewe as ons
dit letterlik sou vertaal – word dikwels in advertensie-veldtogte gebruik (die
paparazzi wat die skoonheid inwag by ‘n lughawe of die bekende fonteintoneel
met die beeldskone Anita Ekberg) het natuurlik die woord paparazzi geskep!
Marcello Rubini, ‘n jong en aantreklike Marcello Mastroianni, is Fellini se
ewebeeld. In hierdie film moet die jong joernalis skandale in nagklubs
ondersoek. Sy minnares is jaloers en hy begin ‘n dubbel-lewe lei. Hy ontmoet ‘n
superster by die lughawe, word deur die paparazzi agtervolg en begin die “dolce
vita” geniet.
Hy word ook bewus van ‘n storie oor kinders wat ‘n
mirakel beleef het en hiermee lewer Fellini skrynende kommentaar op die
godsdiens en mense se behoeftes om wonderwerke te ervaar. Hy ontmoet ‘n
intellektueel op een van sy vele rondtes – wat sonder waarskuwing selfmoord
pleeg. Hy beleef vele orgies, drink buitensporig baie in sy vele reise deur die
naglewe (ondergronds).
En dan is daar ‘n keerpunt na een waansinnige nag
van drank: die volgende oggend vang vissermanne ‘n groot vis.
Hierdie vis – wat natuurlik gelaai is met
simboliese betekenis van die onbewuste –
is aaklig en Marcello ervaar meteens vervreemding van alles en almal óm hom.
Fellini is tereg bekroon met ‘n Oscar in 1993 vir
sy uitgebreide filmwerk.
Bronne:
Tom Milne (red.): Time Out – Film Guide. Penguin, Londen. 1989.
Gilbert Salachas: Federico Fellini: An investigation into his films and philosophy.
Crown Publishers, Inc., New York. 1969.
William Wolf & Lillian Kramer
Wolf: Landmark Films – The cinema of our
century. Paddinon Press Ltd, New York. 1979.
Wikipedia: Federico Fellini
3 Fellini
Deel II
Federico Fellini
Born: 20 January 1920,
Rimini, Italy
Died: 31 October 1993
(aged 73), Rome, Italy
La
Strada (Die pad) is een van my gunsteling-Fellini’s.
Anthony Quinn en Guiletta Masina is twee
verskoppelinge wat in ‘n karretjie trek van dorp na dorp en hul klein sirkussie
opvoer.
Sy speel die drom en hy doen sy toertjie, naamlik
om te “ontsnap” uit ‘n dik ysterketting. So maak hulle geld. In ‘n lewe wat
neerkom op onbestendigheid. Op ‘n keer slaap hul by genade van ‘n nonnetjie in
‘n skuur, help hout kap en vertrek verder.
Hul verhouding werk streng volgens sý beginsels.
Hy bepaal wat volgende sal gebeur en sy is afhanklik van hom. Sy kan nie sonder
hom bestaan nie.
Dan kom die wending in hul verhaal.
Zampano (Quinn) en Gelsomina ontmoet regte
sirkusartieste en hier ontmasker ‘n nar (ene Il Matto, die gekke) hom as ‘n
grootprater en wys hom daarop dat sy toertjie simpel is.
Hy is ‘n blote terggees, maar vir Zampano is dit
uiteraard nie maklik om hierdie aanval te sluk nie. ‘n Bakleiery ontstaan. Hy
word in die tronk gegooi. En die kindvrou, Gelsomina, bly op hom wag.
Hulle trek weg.
Hulle loop die nar raak waar hy gestrand staan
langs die pad. ‘n Rusie ontstaan opnuut en Zampano slaan hom per ongeluk dood
en gooi sy kar by ‘n brug af.
Hulle slaan op vlug. En dan begin sý hallusineer
en roep na die nar. Uiteindelik laat hy haar agter en jare later hoor hy die
liedjie wat sy altyd op haar trompetjie gespeel
het.
Dit blyk dat die singende vrou dit by Gelsomina
gehoor het, vertel hom dat sy dood is. In waansin.
En dan word Zampano getref met die volle
implikasies van sy dade, word dronk, stap na die see. Met ‘n oop slot wat
daarop dui dat hy waarskynlik deur die see ingetrek sal word.
Die titel beteken letterlik “Die Pad”. Om onder
weg te wees. Vry.
Weg van konvensies. Sirkusartieste is by uitstek
figure wat buite die gemeenskap se norme optree en funksioneer.
In sy jeug het Fellini gevlug uit die beklemmende
konvensies en by ‘n sirkus gaan werk.
Die film wentel rondom etlike ironieë: Zampano
koop Gelsomina by haar ma asof sy ‘n huisdier is. Sy is volledig afhanklik van
hom. Haar lot word deur sy buie bepaal.
Sy vrees hom; sy bewonder hom.
In moderne feministiese terme het sy geen
agentskap nie.
Sy is uitgelewer aan die man.
En selfs wanneer Il Matto hom terg, vertel hy vir
haar dat sy by haar maat moet bly.
En wanneer hierdie maat haar faal, is die enigste
uitweg: waansin. Dis die enigste vryheid wat oorbly vir haar. Die film lewer
dan verdere kommentaar op die noodlot wat alles verander…
Die film is in 1954 gemaak en daar is uiteraard
ook ‘n insigryke analise tussen die kunstenaar wat sy vrou gebruik as
hoofkarakter.
En dit lewer implisiete kommentaar op die
kunstenaar wat sy mag “misbruik” om iets te trek uit ‘n private verhouding.
Bronne:
Gilbert Salachas: Federico Fellini: An investigation into his films and philosophy.
Crown Publishers, Inc., New York. 1969.
4.
Ingmar Bergman 1918 – 2007
Sonder skroom beskou ek Ingmar
Berman as een an die grootste filmmakers nog wat filmtaal ontgin soos die
latere Andreij Tarkovskij.
Dit is dan ook gepas dat Richard
Corliss met Woody Allen, ‘n Bergman-liefhebber, in gesprek tree oor Bergman in
Time 13.8.07 (“Woman, Man, Death, God”).
In sy outobiografie Laterna Magica skryf Bergman betreklik
somber oor sy lewe as ‘n predikantseun wat in ‘n mate tot uiting kom in die
film Fanny and Alexander (1982). Vir
my is die primordiale Bergman-tekste Persona
(1966) en Cries and Whispers
(1973). In eersgenoemde film word die
verbintenis tussen verpleegster (Bibi Andersson) en ‘n aktrise wat ‘n
ineenstorting beleef (vertolk deur Liv Ullman) briljant ontleed in die oorname van identiteite. In
laasgenoemde film word die komplekse interaksie tussen susters ontleed. Twee
susters ervaar die dood van hul suster in ‘n film met donkerrooi in die
agtergrond. Hier is Liv Ullman weer ‘n sentrale karakter. Intieme ruimtes van
die psige, onuitspreekbare pyn wat mense aan bande lê, was die métier van
Ingmar Bergman.
Vir my is die film Scenes from a marriage (1973) ‘n uiters
gewelddadige film in die ondersoek na die pynlike afloop van ‘n huwelik en die
daarmee gepaardgaande emosionele ondersoek en ellende. Ullman en Erland
Josephson vertolk hierdie rolle van ‘n egpaar wat skei, maar terselfdertyd
weens ‘n diepe emosionele band mekaar nie kan afsweer nie.
Op die ouderdom van 84 maak hy ‘n
opvolg, Sarabande.
Hy het glo op ouderdom 8 sy
geloof verloor, was in sy jeug ‘n aanhanger van Hitler en het reg deur sy lewe
‘n komplekse verhouding met sy vader gehad. Hy was ‘n uiters produktiewe
filmmaker – ongeveer 62 films word gelys – en het vyf keer getrou. Hy het ‘n
kind by Ullman gehad en is in 1976 in hegtenis geneem vir belastingontduiking.
Dit het ‘n uiters traumatiese uitwerking op sy psige gehad sodat hy opgeneem is
in ‘n senu-kliniek. Daar word vertel dat die jonge Alfred Hitchcock as jong
kind deur sy pa met ‘n briefie na die polisiekantoor gestuur is. In die briefie
het daar gestaan dat hy opgesluit moes word vir ‘n paar uur weens ‘n
oortreding. Dit is o.a. ‘n rede vir die paranoïa rondom die gereg in Hitchcock
se films.
Bergman ondersoek voortdurend die
donker skadukant van die psige en die aanklag van belastingontduiking was
sonder enige gronde, maar terselfdertyd sowel kreatief as deprimerend. Hy het
sy land verlaat en dit het ‘n negatiewe impak op die Sweedse filmbedryf as
sodanig gehad.
Hy keer in die tagtigerjare terug
na Swede, enigsins verbitterd.
Waarskynlik omdat hy die
letterkunde bestudeer het, kon hy die meeste van sy eie draaiboeke skryf. Sy eie gunstelinge was Winter light, Persona en Cries and whispers, ofskoon hy dit
ongemaklik gevind het om na sy eie werk te kyk.
(Vermoedelik omdat sy films
kommentaar lewer op sy eie psigiese prosesse en sy verhoudings met lewensmaats
/ affaires wat karakters vertolk in sy films.)
Hy het ook verskeie produksies
van teaterstukke behartig en hy is drie keer bekroon met die gesogte Academy
prys. Hy het Bafta- en Cesar-toekennings ontvang en by die Cannes-filmfees het
hy sewe keer met die lourierkrans weggeloop, o.a. in 1998 vir sy hele oeuvre!
‘n Mens sou verder kon skryf oor
Max von Sydow se optrede in sy films en Woody Allen se opmerking in die
genoemde onderhoud dat hy glo tydens die verfilming van ernstige tonele, grappe
sou maak.
Is daar nog ‘n manlike filmmaker
wat só skerpsinnig oor vroue kon wees? Vele van sy films dra verwysings na
vroue se name of analiseer die vroulike psige.
‘n Mens dink aan Autumn sonate (1978) met Liv Ullman
(Eva) en die nooit volprese Ingrid
Bergman as Charlotte. Wanneer die dogter van die beroemde pianiste vir haar moeder
klavier speel, kan ‘n mens die moeder se afwysende houding aflees net deur haar
gesigspel.
Subteks, onderspeling,
psigoanalitiese analises, die geding met God en die dood. Hierin het hy
uitgemunt.
In die Wolfs se i word daar ‘n hoofstuk gewy aan Bergman: ”The
Seventh Seal, 1957: The Genius of Bergman”. Hier word hy uitgesonder as die
grootste filmmaker van alle tye wat juis die misterie van filmtaal begryp. In
hierdie essay word gewys op die rigiede opvoeding en dat straf dikwels met
vernedering gepaard gegaan het. Op ‘n keer is hy in ‘n donker kas toegesluit
wat waarskynlik verklaar waarom daar aandag gegee word aan beknopte ruimtes en
die vrees vir alleenheid.
Soos by Hitchcock is die
ambivalente verhouding met die ouers en jeug opvallend. As jong kind ruil hy sy
stelletjie soldate vir sy broer se filmprojektor. As kind het hy ook belang
gestel in poppespel- hierdie aspek word ontgin in Fanny and Alexander.
Hy is ‘n imposante filmmaker –
daar was niemand soos hy voor hom nie en en in vele huldeblyke, pastiches en
erkennings in ander filmmakers se werk – soos Woody Allen – word sy grootheid
erken.
Soos Philip Mosley opmerk: vir
Bergman was die filmkuns die grootse minnares.
Ingmar Bergman
Bronne:
Vir inligting oor Bergman se
lewensloop het ek die Wikipedia geraadpleeg. Ek het onlangs weer van sy
belangrikste films bekyk en soos Woody Allen, David Lynch, Robert Altman,
Andreij Tarkofski, dink ek dat hy een van die belangrikste filmmakers van ons
tyd was. Allen se Interiors (1978) is trouens ‘n parodie van Bergman se
werkswyse.
Ironies genoeg is hy die filmmaker
Antonioni tweede dae uit mekaar oorlede.
Philip Mosley: The Cinema as Mistress. Marion Boyars,
Londen. 1981.
John Russell Taylor: Hitch. Abacus, Londen.1978.
William Wolf & Lillian Kramer
Wolf: Landmark Films – The cinema of our
century. Paddinon Press Ltd, New York. 1979.
5. Bergman (vervolg)
Een van die belangrikste aspekte
van Bergman se filmkuns is sy besondere obsessie met die met die menslike
gesig. Philip Mosley wys op hierdie aspek in The Cinema as Mistress:
hoe Bergman telkens die vroulike gesig in fynste besonderhede vir die kyker
weergee.
Wanneer ‘n kritikus ‘n filmkyker
op ‘n bepaalde tegniek attent maak, dan kyk jy daarna met besondere aandag
vanuit daardie perspektief of insig na die films. Bergman, word daar vertel,
het na enige film gekyk om idees en tegnieke oor te neem.
Jy kan nooit weer sonder hierdie
wete na films kyk nie en jy onthou Liv Ullman se gesig in Persona of die twee ontnugterde huweliksmaats se gepynigde
uitdrukkings in Scenes from a marriage.
Hierom is daar soveel stiltonele
in Mosley se studie, onder andere, die beroemde een uit Autumn sonate met Ingrid Bergman en haar dogter in die filmword
vertolk deur Liv Ullman.
In Persona
word die besondere verbintenis tussen ‘n stomgeworde aktrise, Ulman en haar
verpleegster, Bibi Andersson, verbeeld. Dit is in 1966 gemaak en kan gesien
word as vintage-Bergman.
Talmende skote, sub-teks,
subtiele interaksie tussen karakters asof op ‘n verhoog met die regisseur wat
(liefdevol-priemend) kyk na twee vroue met wie hy intense relasies beleef en gehad
het. (Die invloed van Strindberg en Ibsen op Bergman se werk is daar: as
verhoogregisseur het hy homself die kunsies van filmmaak geleer.)
Persona vertel die verhaal van twee vroue wie se
identiteite oormekaar loop en die een se verhaal die ander een s’n word.
Ewebeelde van mekaar.
Twee minnaresse van Bergman is hier aanwesig: die
voormalige een en die nuwe, naamlik Ullman, wat ná die film vervaardig is sy
geliefde geword het. Hoe kuns en werklikheid inspeel op mekaar, kan die kyker
nie miskyk nie. Nes die lesbiese interaksie tussen die twee vroue.
Die film breek in ‘n stadium, dit word donker: die
film word springerig. Hier is dus ‘n oomblik van metarefleksie, oftewel
kommentaar op die kuns: ons is besig om te kyk na ‘n film oor ‘n aktrise: ‘n
aktrise wat stom geword het en tydens ‘n produksie van Elektra en nie verder
kan of wil toneelspeel nie. Die verpleegster wat haar versorg, is egter self ‘n
gekompliseerde persoon met jeugherinneringe van verkragting en ‘n aborsie wat
gesinkopeer word met die aktrise se pynlike ervaring van moederskap. Alma (die
verpleegster) verteenwoordig die siel; die aktrise (Elisabet Vogler) staan vir
die persona in Jungiaanse terme. Of dalk nie?
Persona is immers ‘n Jungiaanse term vir die
masker wat ons aansit in die openbaar.
Die film illustreer ook dat die verhouding tussen
analis en analysand in Lacaniaanse terme wat nie stabiel is nie. Die rolle word
voortdurend verwissel. Ullman, die aktrise, moes verskillende personas aanneem
in haar lewe. Die verpleegster neem egter haar persona oor. Sy word dit wat sy
dink Elisabet is.
Is Ullman psigies siek? Of speel sy siek?
Of het sy gewoon besluit om stom te word om aandag
te kry?
Die verpleegster ontdek dat sy wél kan praat en
dat sy haar manipuleer met haar toestand ten einde die storie van die
verpleegster aan te hoor...
Met die verpleegster wat haar konfronteer oor haar
onvervulde rol as moeder: dat sy haar baba doodgewens het en gehoop het die
kind is stom by geboorte.
Deur hul interaksie met mekaar, ontsluit die twee
vroue pynlike herinneringe en kan hul tot dieper insig kom.
Vir die kyker bly dit ‘n groots-opgesette rolprent
wat met elke her-kyk nuwe betekenisse ontsluit.
Ons weet dat Orestes sy moeder, Klytemnestra,
vermoor het met die hulp van sy suster, Elektra…
En dan is daar nog Eugene O’Neill se Mourning
becomes Electra en die ingewikkelde en steurende drome in hierdie
film.
In Sofokles se klassieke drama is daar die opstand
teen die moeder en Elektra se pynlike nadenke oor haar vadcer, Agamemnon se
dood.
Bergman aktiveer die ‘kommos’ of lament
/ treurlied van die Griekse tyd.
Bronne:
Philip Mosley: The Cinema as Mistress. Marion Boyars,
Londen. 1981.
William Wolf & Lillian Kramer
Wolf: Landmark Films – The cinema of our
century. Paddinon Press Ltd, New York. 1979.
6. Stanley Kubrick (1928 – 1999)
Nog ‘n meester van die filmkuns,
is Stanley Kubrick, ‘n persoon wat ‘n obsessie met skaak gehad het. Hy het elke
optrede van ‘n karakter soos ‘n skaakskuif uitgewerk en hom buite die bedryf se
politiek gehou.
Hy het geglo die filmmaker se
lewe behoort nie op sy kuns in te speel nie. Hierom sy matematiese presisie, sy
bykans gedistansieerde redigeerdershand.
Anders as Bergman en Woody Allen
wie se lewens dikwels op ‘n komplekse manier in hul kuns tot uiting kom en dan
weer op ‘n subtiele manier inspeel op hul lewens, is Kubrick afwesig, buite sy
kunswerk. Soos Flaubert opgemerk het dat die kunstenaar soos God moet wees in
die heelal: óral aanwesig, maar nêrens sigbaar.
Hierom is dit dan so ironies dat
hy die Cruise-egpaar, Tom en Nicole Kidman, bekoekeloer in Eyes wide shut (1999).
Die kritiek was indertyd verdeeld
(en verveeld) met die film.
Die verhouding tussen ‘n man en
vrou – ons sien selfs vir Ms. Kidman op die toilet – het nie goed afgegaan nie.
Op ‘n implisiete wyse lewer dit kommentaar op die skaakspel-simboliek in sy
filmkuns. (Gebaseer op Arthur Schnitzler se Droomverhaal,
word getrouheid in die huwelik ondersoek met die man se afdaal in die
onderwêreld soos in Sewe dae by die
Silbersteins. En die Leroux-afficionado kan nie help om te wonder wat Leroux
van die film sou maak nie.)
En wanneer een skaakspeler by ‘n
ander een uitkom, kry ‘n mens ‘n film soos die onoortroffe Lolita (1962) met James Mason as Humbert Humbert, Shelley Winters
as die ma en natuurlik: Peter Sellers as Quilty. Nabokof, die skrywer van
Lolita, was eweneens ‘n ywerige skaakspeler en die vlakke waarop die roman funksioneer,
is besonder ingewikkeld.
Die latere ploerterige her-uitgawe
(1997) met Jeremy Irons het die film laat vassteek in blote pedofilia en
banaliteit. Die film mis die fyn skakerings en ironie van die roman en
oorspronklike film.
Kubrick neem ons na die fyn
struktuur. Sy film is swart-en-wit – soos ‘n skaakstel - en die ongelooflike
toneel waar Peter Sellers – ons gaan nog uitgebreid kyk na hierdie komediant –
tafeltennis speel, is briljant. Hy gebruik Sellers later in Dr Strangelove: How I learned to stop
Worrying about the bomb (1964), ‘n aweregse komedie oor die atoombom. Die
film is nie oorspronklik as ‘n komedie beoog nie, maar het met Sellers se
deelname ontaard in swart komedie. Op die koop toe vertolk Sellers drie gek,
maniese rolle.
Kubrick se Lolita lewer kommentaar op die skrywer se obsessie met die jong
meisie en word ‘n kommentaar op paranoia – soos Psycho van Hitchcock.
Sellers tree ook op in sy
mal-SFI-rolprent en een van die sterktste komentare op die ellendes van die
Viëtnam-oorlog is uiteraard Full Metal
Jacket (1987), ofskoon ek dink dat die seminale rolprent oor die onderwerp
gemaak is deur Francis Ford Coppola: Apocalypse
now (1979) en die doumentêr deur Mevrou Coppola rondom die probleme met die
vervaardiging, werp tersaaklike lig op die film as sodanig.
Kubrick debuteer met Fear and desire (1953) en soos alle
perfeksioniste was hy later ontevrede met hierdie jeugsonde. Hy het alle
afdrukke teruggekoop vernietig, maar een eksemplaar het wel die rondte bly doen
en dit word as ‘n ernstige kopiereg-oortreding beskou om die film te vertoon.
Vir my bly een van sy grootste
prestasies 2001: A space odyssey
(1968), ‘n unieke Sci-Fi-film, gebaseer op ‘n Arthur C. Clarke-kortverhaal.
Klassieke musiek (Strauss se Also sprach Zarathustra en Johann
Strauss se Blou Donou-wals) word gebruik om die storie te vertel waarin daar
min dialoog is. Hier vind ‘n mens Kubrick se handtekening: stadige beweging
gelaai met simboliek en die gebruik van musiek, lang skote om die storie van
150 minute te vertel. Die film is die beste illustrasie van hoe subteks werk.
Dit is ‘n kultusfilm waarin
kommentaar gelewer word op ewolusie en die mens se prestasies op aarde en in
die ruimte.
‘n Mens sou eweneens A clockwork orange (1971) moet vermeld
as ‘n hoogtepunt. Gebaseer op Anthony Burgess se befaamde novella en met
Malcolm McDowell in die hoofrol, bly dit waarskynlik steeds een van die
belangrikste kritieke op geweld en die invloed daarvan op ‘n kyker.
Die verhaal van die wrede Alex
wat “genees” word van sy gewelddadige afwyking, lewer kommentaar op die
samestelling van die psigopatiese gemoed. En die effek wat dit het op die kyker
wat so ‘n film moet beleef.
Die film het egter ‘n onaangename
uitwerking op Kubrick se lewe gehad: doodsdreigemente. Hy het die film uit
Britse sirkulasie verwyder en eers ná sy dood mog dit weer in Engeland vertoon
word.
In 1980 het ek die
ongesensureerde weergawe van The Shining
(gebaseer op Stephen King se gelyknamige roman) in New York gesien en die
absolute angsaanvalle daarna, sal ek nooit vergeet nie. Jack Nicholson vertolk
hier die rol van ‘n skrywer wat uithaak in die Overlook Hotel in die
Colorado-berge. Dit is ‘n parapsigologiese film waarin die jong heldersiende
kind ‘n tweeling wat deur hul vader vermoor is, kanaliseer. Shelly Duval is sy
vrou wat gered word deur ‘n swart opsigter wanneer haar man totaal oorrompel
word deur die onsienlikes.
(Sy dogter het ‘n dokumentêr van
die film gemaak.)
Kubrick het sy lewe lank
geworstel met sensuur: Lolita, A Clockwork Orange en Eyes wide shut is vóór vertonings deur
sensuurrade bekyk. (Hy het Eyes wide shut
as sy beste film beskou.)
Sy loopbaan is eweneens gekenmerk
deur films wat hy onttrek het: soos die beoogde film oor Napoleon en ‘n film
oor die holokaust (Ayrian Papers) wat
hy nie wou vervaardig nie uit vrees dat dit verdwerg sou word deur Schindler’s
list.
Artificial Intelligence – ‘n
modernisering van die Pinocchio-verhaal – is ná sy dood deur Spielberg voltooi.
Hy het eenkeer in sy lewe by ‘n James Bond-produksie die kameramanne van raad
bedien.
Hy was ‘n kil persoonlikheid wat
sy akteurs soos skaakstukke behandel het. Hy was in sy lewe net geïmponeer met
die werk van James Mason, Peter Sellers en Malcolm McDowell. Hy en Duval kon
mekaar nie veel nie en sy moes glo tonele by herhaling oordoen vir hom.
Hy is Joods-Amerikaans gebore,
maar het hom in sy lewe volledig van godsdiens losgemaak.
‘n Soort kluisenaar was hy wat
hom glo met diere omring het. Hy het selde sy huis verlaat en net na Londen
gereis wanneer hy moes.
Stanley
Kubrick
Bronne:
Walker, Alexander, Taylor, Sybil, Ruchti, Ulrich: Stanley Kubrick: a Visual Analysis.
Weidenfeld & Nicolson, Londen. 1999.
7. Woody Allen (1935 -)
Woody Allen
Daar is sekere momente in Woody
Allen se skreeusnaakse rolprente wat ‘n mens nooit sal vergeet nie. In Manhattan (1979) stap hy en sy minnares (Diane Keaton) die
straat af. Hy bely dat sy vrou (Meryl Streep) sopas ‘n gemene boek oor hul
huwelik geskryf het en sy ploerterige loopbaan as sitkom-maker. Dan staan hy
stil en hy merk op dat sy vrou hom verlaat het vir ‘n ander vrou. Die punt is,
bely hy, dat hy nie omgee vir so ‘n stap nie, maar dat hy wel besorg is oor die
feit dat sy seun deur twee ma’s groot gemaak sal word. En dit is die
verskrikking, want die meeste mense herstel nooit van een ma nie; wat nog te sê
van twéé.
Jiddisje humor, die obsessie met
familie en die Bergman-verheerliking is waarskynlik van die belangrikste temas
wat regdeur sy ryk geskakeerde oeuvre loop. In sy private lewe bespeel hy die
klarinet in ‘n jazz-band.
Die naam Woody Allen roep ook
omstredenheid op. Tydens sy verbintenis met Mia Farrow begin hy ‘n verhouding
met haar aangenome dogter, Soon-Yin, by Andre Previn. ‘n Uiters onverkwiklike
hofsaak volg in 1992 met Farrow wat hom eweneens aankla van bloedskande met een
van sy aangenome kinders, Malone (toe sewe). Die regsuitspraak het die aantyging
verwerp dat hy die jong kinders gemolesteer het, maar die regter het bepaal dat
die verhouding met die aangenome dogter as simboliese bloedskande gesien moes
word, omdat sy die suster bly vir die ander kinders. ‘n Mens kan hierdie insident
as ‘n waterskeidende oomblik in sy werk beskou.
Vóór dit was die werk anders; daarna het ‘n somberheid ingekruip, selfs
films van mindere allooi het verskyn. Polanski het wel sy openbare skandaal
kreatief oorleef en van krag tot krag gegaan, terwyl die belangrikste
Allen-films bly Annie Hall (1977),
Interiors (1978), Manhattan (1979).
En natuurlik die onvergeetlike Zelig (1983)
wat soos ‘n verkleurmannetjie verskillende identiteite kan aanneem. Die film is
‘n mockumentary
met Susan Sontag en Saul Bellow, onder andere,
wat “kommentaar” lewer op hierdie verskynsel van ‘n mens.
In sy jeug was Allen ‘n komediant
en hy het nooit sy graad in media-studies voltooi nie.
In sy mees waansinnige rolprent, Love and Death (1975) – ‘n parodie van Tolstoi se Oorlog en Vrede en Dostojeksi se romans – is daar een toneel waar die kamera fokus op
‘n netjies-geordende boudoir, terwyl hy en die Comtessa in die kooi lê. Die
kamera wys die tyd. Dan sien ons weer die horlosie – dis vyf minute later en
die hele kamer is verwoes. “Jy is ‘n goeie minnaar, die beste,”sug die
Comtessa.
“Ja,” merk hy op. “Ek oefen baie
wanneer ek alleen is.”
Manhattan is al
‘n liefdesverhouding met die stad New York genoem en die Gershwin opening, Rhapsody in blue, vang die melancholiese aard van die film vas. Dis
enersyds grappig; andersyds ‘n meta-analise van kuns sowel as die invloed van
verhoudings op die lewe (en andersom). Die relasie met Muriel Hemingway in die
film is ‘n verdoemende aanduiding van die ellende wat sou kom in sy lewe
wanneer hy met ‘n jonger vrou ‘n verhouding begin.
Die dubbelloop-navrante aard van
sy films is sy kenteken. Grap en erns. Sy doodsobsessie loop eweneens soos ‘n
swart draad deur sy films en sy analise van verhoudings tussen susters, Hannah and her sisters (1986) – met Michael Caine – is ‘n soort moderne
Bergman. Net soos Stardust memories
(1980) ‘n huldeblyk aan Fellini is. In The purple rose of Cairo (1985) word die spel tussen lewe en kuns vérder
ontleed. Ons word hier herinner dat ons besig is om na ‘n film te kyk. Husbands and wives (1992) met Judy Davis lees soos ‘n bloudruk van ‘n
ongelukkige werklike verhouding met Farrow.
Sy kennis van die Griekse drama
span hy in met Mighty Aphrodite
(1995), terwyl Deconstructing Harry
(1997) op ‘n pynlike wyse die invloed van die Farrow-aanslag analiseer: die
belydende karakter ervaar homself as “uit fokus”…Mia Farrow gee haar weergawe
in haar outobiografie What falls away (1997)
en hoe die een kind weier om hom te sien; die ander mag hy slegs onder toesig
besoek.
En Allen?
Toe sy die naakfoto’s van haar
aangenome dogter ontdek het, was sy opmerking:
“Een van die geluksmomente in my
lewe…’n draaipunt vir die beste.” Ironiese woorde, natuurlik.
En hy het ook by geleentheid opgemerk
dat hy dalk die verhouding met Farrow vroeër moes verlaat het.
Toe hy met Previn trou, beeïndig
hy psigoanalise, ‘n deurlopende tema in sy filmkuns.
In Antz is hy
die stem van Z.
Van
Ingmar Bergman is daar by geleentheid geskryf dat sy films stilte-in-aksie is.
Woody Allen is die meester van tegniese vernuf en filmiese in-grappe: Annie Hall met die verdeling van
die skerm waar twee karakters tegelykertyd hul weergawes aan ‘n terapeut bely.
In Love and Death
is daar oogknippe na groot films: die leeus verwys na Eisenstein se monumente
in Battleship Potemkin
en vele ander vinjette uit Bergman gooi hier ‘n draai.
Daar is
dus ‘n intellektuele gesprek met bekende films aanwesig en elke film is as’t
ware ‘n huldeblyk aan die filmkuns.
Bronne:
Camille Paglia: Vamps & tramps. Vintage Books, New York. 1994.
8. Fassbinder (1945 – 1982)
I.
Die
naam Rainer Werner Fassbinder roep by my ongelooflike nostalgie op na die ou
Johannesburg-middestad se filmhuis waar uitmuntende kunsfilms vertoon is Hier het
ek Fitzcarraldo van Werner Herzog gesien en die hele oeuvre van Fassbinder leer
ken.
Die
groot ‘enfant terrible’ van die Duitse filmgeskiedenis wat verstewig is deur
name soos Herzog, Volker Schlöndorf, Von Trotte, e.a.
Fassbinder
in sy ondersoek na die donker kant van die lewe soos dwelms, drank, seksuele
uitspattighede, sou uiteraard nie lank kon leef nie. Dis’n soort senu-energie
wat roep om uitbranding. Hy sterf in 1982 op ouderdom 37, maar hy laat ‘n versameling
films na wat getuig van ‘n kennis van die filmkuns en in eie reg as klassiek
getipeer kan word: Die
bitter trane van Petra von Kant (1972), Effie Briest
(1974), In die
jaar van dertien mane (1978), Berlyn Alexanderplatz
(1980), Querelle (1982).
Fassbinder is gebore tydens die Tweede Wêreldoorlog en hierom moes sy moeder
hom laat grootword by ‘n tante, weens die armoedige toestand van hul woonstel.
Hierdie woede en bitterheid oor versaking, is iets wat regdeur sy werk loop en
verklaar waarskynlik sy misogonistiese blik op vroue. (Hy het wel op eenjarige
ouderdom weer die moeder gesien, maar haar nooit vergeef vir hierdie verwerping
nie.) Hy is dikwels deur sy moeder fliek toe gestuur, omdat sy moes vertalings doen
en met haar eie lewe wou aangaan na haar egskeiding.
Hy het
dikwels tot drie films per dag gesien.
Hy is
kosskool toe gestuur en het later by sy pa gaan bly in Keulen. En hier doen hy
dan navorsing wat in sy eie films ondersoek word: besoeke aan hoerebuurte,
gay-kroeë en ‘n kennismaking met immigrante, omdat sy pa woonstelle aan hul
verhuur het in ‘n swak buurt. Soos vele groot filmmakers, ontmoet hy dan ‘n
vrou, Hanna Schygulla, wat sy muse word en met wie hy eweneens ‘n persoonlike
verbintenis aangaan. (Bergman met Ullman; Woody Allen met o.a. Diane Keaton…)
Soos ander groot filmmakers begin hy eers in die teater werk saam met bekende
akteurs van die tyd. Sy lewe word gekenmerk deur brutale optredes teenoor
akteurs en ‘n biseksuele leefstyl. Verhoudings met sowel vroue en mans, ‘n
ondersoek na die donker kant van die lewe en dwelms, eis uiteindelik sy lewe
wat geinterpreteer kan word as selfmoord. Hy was volledig avant-garde en het álle
faksies aanstoot gegee en het nie – soos sekere teaterlui – geëis dat daar
anders na sy werk gekyk moes word nie. Hy was waarskynlik juis aangevuur deur
polemiek, weerstand, onbegrip. Hy het wel bedank uit die teater toe hy aangekla
was van anti-semitisme en hy was woedend oor hierdie onregverdige kritiese mening
juis omdat hy vir die underdog
lewenslank geveg het.
Veronika Voss is in
1982 bekroon met die Goue Beer by die Berlynse filmfees, maar by Hollywood het
hy nie die erkenning gekry wat hy verdien het nie.
Die bitter trane van Petra von Kant
bly vir my die mees aangrypende Fassbinder-rolprent. Dit ondersoek die verhouding
tussen twee vroue, met die stilswyende bediende wat toekyk en interpreteer.
‘n
Mode-ontwerper raak verlief op ‘n werkersklas-vrou wat ‘n loopbaan in die
mode-wêreld wil begin.
Die einde
is voorspelbaar, dog die kyker bly vasgevang in die vibrerende net tussen die
vroue, die verwerping en pynlik slot.
Fassbinder
is gekritiseer vir sy siening in hierdie film as homofobies en misogonisties.
Hy was egter sy tyd ver vooruit: hy analiseer woman-identified-woman-verhoudings
voordat dit polities-korrek was om búite die bane van óf gay óf straight
te beweeg.
Die
troebel jeug en onbewuste van Fassbinder kom tot besondere uiting in sy
filmkuns. Hier is dit onmoontlik om lewe en kuns te skei.
Rainer Werner Fassbinder
II.
Die
bitter trane van Petra von Kant (1972) is waarskynlik een
van Fassbinder se belangrikste stellings oor die politiek van verhoudings. ‘n
Mode-ontwerper, Petra, raak verlief op ‘n jonger vrou – vertolk deur Hanna
Schygulla, een van Fassbinder se gunsteling aktrises. In die film is daar net
vroue: Petra, haar bediende, ‘n vriendin, haar moeder en dogter wat besoek aflê
en die jonger vrou, Karin.
Die bediende praat nie ‘n enkele woord nie. Sy ontvang
bevele en is die kille waarnemer van die magspel tussen die vroue. Die jonger
vrou verlaat Petra en keer terug na ene Freddy, ‘n swart man.
Die jonger vrou wou klaarblyklik net Petra gebruik om ‘n
model te word. Dalk nie.
Die film is soos ‘n teaterstuk. Die karakters bly in ‘n
kloustrofobiese ruimte waarin Petra vasgevang is. Sy drink voortdurend; word
selfs dronk. In die agtergrond is daar winkelpoppe; per geleentheid tref ons
twee in ‘n bed aan - op die agtergrond.
Petra is ‘n by implikasie ‘n winkelpop. Sy dra pruike en
tooi haarself op. Ons sien hoe sy vals wimpers op haar oë plak.
Die winkelpoppe verbeeld haar leegheid en psigiese dood.
Die film begin met “Smoke gets in your eyes” en dui op
die verblinding wat Petra sal beleef wanneer sy betrokke raak by die jonger
vrou.
“Jy gedy op ellende,” verwyt haar besoekende vriendin
haar en die rolprent is inderdaad ‘n analise van selfhaat en/of masochisme.
Fassbinder – soos Hitchcock – maak ‘n klein draai in die
film. Op ‘n swart-en-wit-foto wat gewys word.
Is dit dalk ‘n film oor Fassbinder self? Hy was bekend
om sy uiters destruktiewe verhoudings en Petra lyk selfs by tye soos ‘n fopdosser.
‘n Alter ego?
‘n Kille, genadelose analise van hoe die kunstenaar sy
akteurs/aktrises gebruik soos winkelpoppe wat van seisoen tot seisoen van modes
verander?
Die film analiseer eweneens hoe liefde oorgaan in haat.
Hoe die patetiese Petra op die mat sit en haar wysmaak sy verag die jonger
vrou. Maar steeds wag op ‘n telefoonoproep.
Hoekom eindig hul verbintenis? Dalk omdat Petra behoort
tot die aristokrasie en die jonger vrou tot die werkersklas? Kan ons dit lees
as ‘n sosio-politieke stelling? Fassbinder het sy lewe lank geworstel met sy
ongelukkige jeug en die feit dat sy moeder hom tydens die oorlog vir familie
gegee het om groot te maak.
En, hierna het hy haar weer gesien, by sy vader groot
geword, maar as kind ontsettende eensaamheid beleef. Dit is opvallend dat al
die filmmakers wat ons sover bestudeer het in hul jeug ‘n toevlug tot films
geneem het.
Fellini, Bergman, Kubrick, Allen…
Nou onlangs kyk ek na die verbluffende Werkmeister Harmonies van
Bela Tarr met Madame Hanna in ‘n rol en die weemoed na Fassbinder word in ‘n
klein dansende vinjet opgevang. In hierdie klein toneel is daar soveel
verwysings opgesluit: Fassbinder en ja, selfs Leni Riefenstahl se Triumph of the will, ‘n
film waaroor Susan Sontag uitgebreid geskryf het.
9.
Roman Polanski (1933 -)
I.
Polanski het op ‘n keer
opgemerk dat films hom teen depressie beskerm. Sy lewe as Pools-gebore Jood in
Parys wat later met sy ouers na Krakow verhuis het, was een van ellende. Sy
moeder is na Auschwitz gestuur en hy het haar nooit weer gesien nie.
Daar is vele hoogtepunte
in sy oeuvre. Die pakkende Rosemary’s
baby (1968) – met Mia Farrow - waarin hy met satanisme flirteer en Repulsion
– met ‘n bloedjong Catherine Deneuve.
In 1969 word sy lewe
dramaties verander met die moord op sy swanger vrou, Sharon Tate deur Manson en
sy antwoord hierop was die grieselige Macbeth in 1971 waarin die kyker sien
hoe Macbeth se kop van die trappe afrol.
Waarskynlik beskou die
meeste kritici Chinatown (1974)
– met Jack Nicholson en Faye Dunawaye – as ‘n allerberlangrike film (hyself
vertolk hier ‘n kamee-rol) en daarna was The tenant (1975) ‘n nuwe baken.
Polanski self is Trelkowski, ‘n transvestiet, wat in waansin afgly en
uiteindelik selfmoord pleeg met ‘n koor van jillende toeskouers. (Dit blyk dat
sy siel deur ‘n jong meisie s’n beset is wat in die woonstelblok gebly het en
selfmoord gepleeg het.) Net hierna is hy weer in ‘n krisis gedompel toe hy ‘n
jong meisie by Jack Nicholson se huis ontmoet en seksueel molesteer. (Dit was
in die laat sewentigerjare en hy het skuldig gepleit.) Sy was minderjarig en
Polanski moes op vlug slaan, terug Parys toe, waar hy dan Tess
(1979) maak, ‘n verhouding begin met Nastassja Kinski, eweneens jonk, maar die
kritici oorrompel met sy film van Hardy se bekende roman.
Hierna volg o.a. Frantic
(1988) – met Harrison Ford en Emannuele Seigner – en dan my gunsteling: Bitter moon
(1992). Seigner speel ook hierin – in hierdie film word die troebel,
sadomasochistiese verhaal van twee gedoemde geliefdes vertel aan ‘n toehoorder
(Hugh Grant) wat met sy vrou (Kristin Scott Thomas) op hul honeymoon
(die teendeel van die “bitter moon”) is op ‘n skip na Indië. Peter Coyote is
die skrywer, weliswaar ‘n mislukte een, wat wraak neem op sy vrou deur hulle
lewe saam uit te lap en haar en homself uiteindelik voor die toehoorder, Hugh
Grant en die kyker, dood te skiet. Die film ondersoek die wisseling van mag in
‘n verhouding met ‘n tipiese Polanski-aanslag wanneer die twee vroue
kortstondig betrokke raak en die skrywer sy vrou vermoor. Waarskynlik om die
ewige wisseling van mag tussen hulle op te hef.
Death
and the maiden (1994) was weer ‘n treffer en The pianist
(2002) gee ‘n komplekse blik op die troebel Tweede Wêreldoorlog-gebeure.
(Polanski was glo gevra om Schindler’s
list te regisseer, maar het dit van die hand gewys.) The pianist
het drie Oscars verower as die beste buitelandse rolprent. The ninth gate
(1999) en Oliver
Twist (2005) is eweneens onthoubaar. In 2009 word
Polanksi in Switserland in hegtenis geneem en hy is tans in huisarres vir die
molestering van ‘n minderjarige
in die VSA. Oor die saak
is ‘n belangrike dokumentêr, Roman
Polanski: Wanted and Desired
gemaak waarin die ambivalensie van die regter na vore kom en dit vir die kyker
duidelik is dat Polanski geen ander keuse had as om op vlug te slaan nie. Die
film is in 2008 gemaak deur Marina Zenovich.
II.
Repulsion
is ‘n filmiese hoogtepunt. ‘n Jong meisie, vertolk deur Catherine Deneuve, se
psigotiese afbraak word in hierdie film ondersoek. Sy woon saam met haar
seksueel-aktiewe suster wat snags met haar vriend uiting gee aan hul plesiere.
Bedags werk sy by ‘n skoonheidsalon en ‘n jong man stel in haar belang. Stadig
maar seker sien ons die psigiese ineenstorting. Die kamera fokus op haar oog en
haar patologie word algaande duideliker. Polanski fokus op ‘n ongekookte haas
wat later verrot om haar psigiese verloedering voor te stel. In een stadium
neem sy selfs die haaskop werk toe waar sy ‘n vrou beseer tydens ‘n
manikuursessie. Wanneer haar suster weggaan met vakansie, stort sy in duie,
vermoor die man en daarna die woonsteleienaar, wanneer hy hom seksueel opdring
aan haar. Hy is op soek na hul huurgeld
wat spanning by die kyker veroorsaak: gaan hulle uitgesmyt word?
Haar hallusinasies word
vir die kyker voorgestel; ons is binne-in haar psige en alles word – tydelik –
waargeneem vanuit háár perspektief.
Musiek van ‘n orkessie
word binne-in haar as teisterend ervaar. In die woonstelgebou oefen ‘n kind
toonlere en soos in The
tenant is die bure koekeloerders. Die wapen word
gesinkopeer met die Toring van Pisa, waar haar suster vakansie hou. (Sy is
Belgies en die film speel in Londen af.)
Hoekom doen sy dit? Die
kamera fokus ten slotte op die familie-portret: sy kyk na die vader en ons vul
die res in.
Voyeurisme en die vermoë
om spanning by die kyker te skep, is sy handtekening. In so ‘n mate skep hy
psigiese spanning by die kyker dat wanneer dit selfs nie daar is nie, bly ons
gespanne, afwagtend kyk asof iets boos gaan plaasvind. Ons dink hier aan Knife in the water
(1962). In Cul de
sac (1966) wys hy weer hoe ‘n mens se lewe dramaties kan
verander deur ongevraagde besoekers wat jou insleep by hul waansin: ‘n refrein
in sy filmkuns. (Jackie Bisset vertolk ‘n klein rolletjie saam met Catherine
Deneuve ouer suster, Francoise Dorleac.)
III.
Polanski het Tess verfilm, omdat dit die boek is wat Sharon Tate gelees
het voor haar dood en volgens haar sou dit ‘n goeie film kon maak. In die
opsienbare klag teen hom, was hy die eerste persoon wat via video kon getuig
uit vrees dat hy in hegtenis geneem sou word indien hy in die VSA sou getuienis
lewer. Daar was baie hiate in die meisie se klag en Polanski het dit as ‘n vendetta
van die moeder beskou.
Ironies genoeg, het Mia Farrow
vir hom opgekom in hierdie verhoor.
Daar is ‘n roman, Schervengericht geskryf deur die Nederlandse skrywer A. F. Th. Van der
Heijden geskryf oor Polanski se lewe: in 1977 word ‘n Poolse filmmaker, ene Raymond
in die tronk geplaas nadat hy aangekla is van ‘n seksuele misdryf teen ‘n
dertienjarige. In die tronk ontmoet hy ene Scott Maddox wat glo sy vrou vermoor
het.
Die titel verwys na die antieke
Griekse praktyk om deur middel van ou potte te stem, ook genoem ostrasisme.
Jare gelede het ek ‘n studie oor
hom gelees, Repulsion,
waarin hy bely het hoe hy as jong kind in skoolondersoek-sessies beangs was dat
sy Joodse identiteit sou uitkom. Hierom het hy die aand vantevore van kerswas
vir hom ‘n skaggie gemaak sodat niemand kon sien hy is besny nie. En dis hoe ‘n
mens sy films moet vertolk: as iemand wat altyd met sy muur teen die rug staan,
maar ‘n kunswerk lewer waarin sy psigiese pyn bely word.
9.
Pedro Almodóvar (1949- )
I.
My eerste kennismaking met Pedro Almodóvar se aweregse
filmkuns was in die laat-tagtigerjare in New York.
Ek sal dit nooit vergeet nie. Alleen in die ou filmhuis
was net ek en ‘n ou dame; maar ons het die filmhuis uit sy skarniere gelag.
Melodrama, oordrywing, waansin – ‘n lelike vroulike
karakter met ‘n snor word gevra hoekom sy nie haar snor laat verwyder nie.
“Mans het nie ‘n kopiereg op snorre nie,” merk sy sonder
skroom op.
In Talk
to her (2002) red ‘n verkragting ‘n jong meisie uit ‘n
komatose staat en Almodóvar laat jou nadink oor reg en verkeerd. As sy nie
verkrag was nie, sou sy nie herstel het nie …
In hierdie aangrypende rolprent – wat handel oor ‘n
jong, effens-vertraagde man se obsessie met ‘n pragtige meisie – gebruik hy ‘n
wit-en-swart-film om die vrees vir penetrasie te openbaar. Die jong man gaan ‘n
donker grot binne…
Min Europese filmmakers het al soveel aansien geniet as
hierdie Spanjaard wat waarskynlik sy beste werk gelewer het voordat Hollywood
op hom toegeslaan het.
Hy word uiters eenvoudig groot in die die distrik
Calzada de Calatrava, in Ciudad Real, ‘n provinsie van Castile-La Mancha, die
arena van Don Kiesjot en die meulens maal later simbolies in sy films.
As kind stuur sy familie hom na Cáceres, waar hy
daagliks films bekyk om sy eensaamheid te besweer.
Hy vertrek na Madrid in 1967, teen die gevoel van sy
eenvoudige ouers. Sy pa het onder andere op muile groot wynbalies vervoer en
toe hy bekend raak, het sy ‘n petrolstasie gekoop en sy ma het ‘n klein
wyn-boetiek bestuur. (Sy vertolk later ‘n klein rolletjie in een van sy films
as sy werklike ma met die sardoniese opmerking dat dit al is hoe sy ooit haar
seun te siene gaan kry.)
Wyle Stephan Bouwer het my voorgestel aan sy Patty
Diphusa-send-ups.
Gek-verhale uit die boonste rakke.
In 1974 maak hy sy eerste film op ‘n Super 8-kamera en
vertoon dit in kroeë. Die musiek speel hy op ‘n kasset en die jonge Pedro
vertolk sommer al die karakters se stemme.
Hy het ook vele komiek-strippe geskryf en dikwels is
daar in sy films ‘n komiek-strip-kwaliteit aanwesig wat verder dui op sy
volledige ondermyning van serieuse kuns. Kamp. Dis sy aanslag.
Hy is ‘n prolifieke filmmaker wat dikwels
politiek-korrektes erger met sy sosiale kommentaar en debunking van waardes. Feministe
in Spanje haat hom sedert Tie
me up! Tie me down! (1990)
en met Women
on the verge of a nervous breakdown
(1988) maak hy sy internasionale deurbraak. (Toe hy ‘n X-rating ontvang in die
VSA vir hierdie film was hy woedend oor die feit dat mense kon dink sy films is
pornografies.
Hierna is gewaagde films gekodeer as NC17.) In Kika
(1993) lewer hy felle sosiale kommentaar en op die mag van die massa-medium,
veral TV. Sy erbarming met die lot van vroue en die siening dat hulle krag in
ondersteuning opgesluit lê, loop reg deur sy oeuvre. Trouens, in een van sy
films, is al sy vrouekarakters aanwesig. En dit is verfilm by sy huis met
Victoria Abril, sy gunsteling ook daar. En Carmen Maura, die eerste groot ster
in sy films wat hy later verruil vir Abril.
II.
All About My Mother. Directed by Pedro
Almodóvar, Produced by Agustín Almodóvar, Michel Ruben.
Written
by Pedro Almodóvar
Starring:
Cecilia Roth, Marisa Paredes, Candela Peña, Antonia San Juan, Penélope Cruz.
Cinematography:
Alfonso Beato
Editing
by José Salcedo
Distributed
by Sony Pictures Classics (USA)
Release
date(s): 16 April 1999, 24 November 1999
Running
time: 101 min.
Country:
Spain/France
Language:
Spanish
All
Movie Guide profile
All About My Mother (Spanish: Todo sobre mi madre)
All
about my mother (Todo sobre mi
madre, 1999), is ‘n aangrypende film, oor ‘n vrou wie se seun
sterf in ‘n ongeluk op die aand van sy verjaarsdag. Sy geskenk is ‘n
toneelopvoering van A
streetcar named desire in
Madrid. Sy ontdek in sy dagboek sy wens om sy vader te ontmoet en die vrou
begin ‘n reis na Barcelona om die vader, ‘n transvestiet en cruiser, in
kennis te stel van die kind se dood.
Hier ontmoet sy ‘n swanger non, ‘n lesbiese aktrise en teen die
agtergrond van Tennessee Williams se A streetcar named desire, ontdek sy “the
kindness of strangers”. Lorca is eweneens ‘n sub-teks in hierdie
ryk-geskakeerde film wat ‘n mens aan die hart gryp.
Almodóvar gebruik die metafoor van orgaanoorplanting om
kommentaar te lewer op sy artefak. Sowel All about Eve as
Truman Capote se Music
for Chameleons en natuurlik, Tennessee Williams, gee ‘n groter
implikasie aan die karakters se optrede. (Rosa se ma vervals die werke van
Chagall.) Esteban, die seun, wou ‘n skrywer word, maar hy sterf in die toneel
waar hy Huma se handtekening soek. Sy organe word vir ander gegee en sy moeder,
wat sy vader jare gelede ontmoet het in ‘n amateur-produksie van A streetcar named desire,
vertolk weer ‘n rol as Stella, Blanche Dubois se suster. Die vrou wat met haar
kind die aggressiewe man verlaat. In die oorspronklike film vertolk Marlon
Brando die rol van die emosioneel wrede Stanley Kowalski.
En hoe aanskoulik speel Almodóvar nie in op sy oerteks
nie. Elia Kazan se film – met Marlon
Brando en Vivien Leigh – bly ‘n
meesterstuk in sowel spel as produksie. In All about my mother word
die teks sober in aanbod getransporteer, dog agter die skerms woel dit:
Stella, verslaaf aan heroïen, en Blanche is betrokke by
mekaar. Kowalski is gay in die
werklike lewe en Blanche lyk soos ‘n drag
queen.
En natuurlik die gek humor. ‘n Transeksueel wat bely ek
was eers ‘n trokdrywer, nou’s ek ‘n hoer – sonder om te blik of te bloos.
Blanche word natuurlik deur Stanley ontmasker oor haar verlede.
In ‘n verdere draai in die verhaal blyk dit dat Esteban
se vader, Lola, ook die vader is van Rosa se kind.
Penelope Cruz is die swanger non wat HIV-positief is, is
aanvanklik onbewus van die feit dat Manuela ‘n kind had by Lola. Manuela neem
die kind aan ná Rosa se dood en noem hom Esteban.
Na ‘n produksie van A streetcar named desire,
vertolk Huma die rol van die moeder in Lorca se Blood wedding.
Cecilia Roth is Manuela en Marisa Paredes vertolk Huma.
En hoe kan hierdie filmmaker nie altyd ‘n positiewe
interpretasie aan die lewe gee nie, ten spyte van dikwels bykans onoorkomelike
posisies in die samelewing.
III.
Bad
education (2004) en Volver
(2002) vind ek egter mindere films. Die obsessiewe skoonmaak van die grafte aan
die begin, raak ‘n tam kommentaar op die aanwesigheid van die dood.
Sy gefladder met Penelope Cruz deug nie. Sy films raak
voorspelbare melodramas wat aan die siel vreet (om Fassbinder se “fear eats the
soul” aan te pas). Hy het inderdaad Penelope Cruz en die aanskoulike Antonio
Banderas ontdek, wie se eerste onderhoude in gebroke Engels,
fantasties-vermaaklik bly.
Pedro
Almodóvar en Penelope Cruz
10 Werner
Herzog (1942 -)
(Werner
Stipetic)
I
Die Kroaties-gebore Herzog word ten nouste geassosieer
met die nuwe Duitse beweging. Daar is twee aspekte van sy filmkuns wat van
besondere belang is, naamlik die blik van buite en sy vriendskap met die akteur
Klaus Kinski met wie hy ‘n woonstel in sy jeug deel.
In 1999 verfilm hy hul verbintenis in ‘n dokumentêr, My fiend, Klaus Kinski, wat
wys op die kreatiewe verbintenis tussen hulle. Een vinjet wat my altyd sal
bybly, is Kinski se waansinnige gedrag tydens die verfilming van Aguirre, the wrath of God.
‘n Ou stamhoof, ‘n ekstra in die film, bied vir Herzog
sy dienste aan om Kinski dood te maak, omdat hy kan sien die akteur is volledig
buite orde.
By ‘n ander geleentheid wys Herzog vir jou op Kinski se
gewelddadige gedrag, maar terselfdertyd bely hy dat sy films niks sou wees
sonder Kinski se krag nie. Trouens, hy is van mening dat Hollywood net belang
stel in akteurs wat hulle kan tem en beheer. Hy self het glo tydens ‘n
verfilming vir Kinski met ‘n geweer rondgejaag toe die akteur nie na bevele wou
luister nie.
Dit is egter so dat Herzog geen kortpaaie vat nie. Fitzcarraldo gee
‘n outentieke waarneming van die oerwoud en hier is geen digitale foefies nie.
Trouens, hy het aanvanklik vir Mick Jagger in ‘n rol gehad en moes bykans ‘n
jaar se footage weggooi, omdat Jagger ’n Rolling Stone-konsertreis moes
meemaak. Jason Robards het siek geword en ‘n oorlog het uitgebreek tussen Peru
en Ecuador. Daar was eweneens ‘n felle droogte en toe hy uiteindelik kon begin
werk het aan die tweede projek, was daar gietende reën wat alles bemoeilik het.
Verder het ‘n giftige slang ‘n man gepik; ‘n ander een
het verdrink.
Een van sy tegniese assistente het sy hand beseer toe
die boot teen ‘n rots geslaan het en moes ‘n twee-en-‘n-half-uur-lange operasie
ondergaan sonder verdowing.
Hy is al die verwyt gemaak dat hy akteurs dryf. Hy het
homself verdedig deur te sê dat akteurs nie na waarskuwings luister nie en dat
die een wat verdrink het, nie kon swem nie.
Dit is egter so dat ‘n volledige geselskap gehipnotiseer
is tydens die verfilming van Heart
of Glass wat gedrewenheid van Herzog beklemtoon.
Les Blank het ‘n dokumentêr gemaak oor Fitzcarraldo met
die titel Burden
of dreams.
II.
Werner Herzog steel op veertienjarige ouderdom ‘n
kamera, studeer aan die München-filmskool en word saam met Wim Wenders, Volker
Schlöndorf, Fassbinder en Margarethe von Trotte, een van die belangrikste
komponente van die moderne Duitse filmkuns.
Nosferatu,
Woyzeck, Die enigma van Kaspar Hauser bly
‘n mens altyd by.
Dan is daar Cobra
Verde.
Soos sy fobie vir hoenders en hierom sy verfilming van
hoenders (weliswaar aweregs) in sy films.
As jong man doen hy nutstake om sy obsessie met films
finansieel te kon ondersteun.Vir sy groots-opgesette Fitzcarraldo
ontvang hy die gesogte Cannes-prys.
III.
Herzog se films is aweregs. Dit is nie maklike kykwerk
nie en veral sy vroeëre films stel besondere eise aan die kyker. Op een dag kyk
ek na drie vreemde films: The enigma of Kaspar Hauser, Even dwarfs started small en Heart
of glass.
Die verhaal van Kaspar Hauser, wat afspeel in die
negentiende eeu, is ‘n kragtoer in die ondersoek na die psige van ‘n
buitestaander, Kaspar wat deur sy ouers weggegee is, omdat hy die tiende kind
was.
Afgesluit in ‘n toring met net ‘n skrefie na buite,
bestaan Kaspar, totdat hy ontdek word en deur mense versorg en opgevoed word.
Hy word ook ‘n soort sirkusdier wat later met sy beperkte insig kommentaar
lewer op die dwaashede rondom hom. Hy kan aanvanklik net sy naam op papier
teken. Later plant hy sade in die grond sodat sy naam opkom.
Even
dwarfs started small is waarskynlik een van die
vreemdste films wat ek nog bekyk het. ‘n Klompie dwerge in ‘n institusie neem
hul hoof gevange om wraak te neem teen sy rigiede orde. Hy self is ‘n dwerg en
uiteindelik verwoes hulle die hele omgewing, sny sy telefoonlyn af, maak ‘n ou
sog vrek en begin al gaande mekaar ook verinneweer.
‘n Motor draai doelloos en waansinnig in die rondte.
Die film is duidelik ‘n allegorie wat kommentaar wil
lewer op grypsugtigheid, tirannie en waansin. Hoe eties was dit, wonder ‘n
mens, om hierdie mense so uit te stal in ‘n film?
IV.
Die twee uitstaande Herzog-films bly Aguirre, the wrath of God
(1972) en Fitzcarraldo (1981).
Eersgenoemde film is net ‘n uur en half-lank; die tweede
‘n lang film an twee en ‘n half-uur, maar beide kompromislose films wat die kyker
se uithouvermoë beproef.
In Aguirre,
the wrath of God, word ‘n ekspedisie in 1560 ondersoek na aanleiding van
die dagboek van Gaspar de Carvajal. Die soektog na die El Dorado word ‘n
waansinnige reis ondermyn deur muitery, waansin en aanvalle deur Indiane op die
vlot. Die koning wat gekroon word, ondermyn Kinski se bevel dat ‘n oortreder
gehang moet word. Hy systap hierdie opdrag deur ‘n spesiale dag in Spanje hier van
toepassing te maak.
Klaus Kinski is Aguirre, die Toorn van God. Monomanies
dryf hy almal voort ten spyte van siekte, hongersnood en uitendelik is dit net
hy en springende apies wat oor is terwyl hy fantaseer oor sy posisie as ‘n
soort god wat in bloedskande ‘n volmaakte nageslag sal skep.
Hier kan die kyker nie anders as om met volledige
bewondering na Herzog te kyk nie, wat te midde van ‘n onbeheerbare Kinski ‘n
film gemaak het wat na soveel jare steeds ‘n kragtoer bly. Ook die geskiedenis
van Pizzarro word goed ingebed met die verteller wat in ‘n stadium bely dat een
van die soldate sy inkpot vir medisyne aangesien het.
Fitzcarraldo. Is
daar nog so ‘n film? Die verhaal van ene Fitzgerald (Fitzcarraldo) wat sy
liefde vir opera in die Amasone wil bestendig. Die film werk met die
opera-obsessie van die hoofkarakter wat na Enrico Caruso luister en sy droom
najaag.
Twee kulture kom in botsing: die boot moes telkens
stroomop vaar om die ravunes te vermy. Maar die Indiane glo dat die boot as ‘n
offer gestuur moet word om die onstuimige waters stil te maak en een aand sny
iemand die oeweranker los…
Die slot wanneer daar opera op die boot geluister word,
is aanskoulik, net soos die meedoënlose óptrek van die boot uit die water oor
die glibberige bergoppervlak.
Hierdie film lewer metakommentaar op Herzog se
werskwyse: soos wat Fitzcarraldo daardie boot met eindelose geduld en harde
werk oor die berg trek, so maak Werner Herzog films ten spyte van teenslae.
Hy is ‘n gedrewe, obsessiewe man wat in sy jeug van
München tot Parys gestap het in ‘n pelgrimstog om Lotte Eisner se lewe te
‘red’’.
‘n Bekende film van hom heet dan ook Fata Morgana.
Werner Herzog
11. Alfred
Hitchcock
As Ingmar Bergman die taal van die filmkuns volledig
begryp het met beelde wat psigiese toestande van karakters “vertaal”, dan het
Alfred Hitchcock by uitnemendheid geweet hoe om ‘n verhaal te vertel gelaai met
suspensie. Angs en onsekerheid.
‘n Onregverdige moordklag. ‘n Persoon wat toevallig
vanuit ‘n agterste vertrek sien hoe ‘n moord gebeur. ‘n Moord in ‘n stort,
terwyl die kyker magteloos toekyk hoe die vrou vermoor word. (Met die wete dat
sy ‘n voortvlugtende is wat geld gesteel het.)
Voyeurisme en ekshibisionisme in ‘n absolute kontrak
gesluit. Hitchcock, so is dit algemeen bekend, is as jong kind vir ‘n klein
oortreding na die plaaslike polisiekantoor gestuur met ‘n briefie van sy vader.
Hy is vir slegs tien minute opgesluit, maar regdeur sy oeuvre loop die bloudruk
van hierdie insident: onnoembare angs vir ‘n klein ruimte.
Straf en boetedoening.
Hy is verder bekend vir sy kortstondige binnetrede in films.
Soms ‘toevallig’: selfs ‘n gestremde wat op ‘n rolstoel sit en skielik opstaan
en wegstap by ‘n trein…
Dis ‘n lekker speletjie: wanneer sien ons vir Hitchcock?
Hy het ‘n ryk geskakeerde oeuvre met vele hoogtepunte.
Van die belangrikste hogtepunte is The
39 Steps (1935), The lady vanishes
(1938), Rebecca
(1940), Spellbound
(1945), Notorious
(1946), Dial ‘M’ for murder
(1954), Rear window
(1954), The man who knew too much
(1956), Vertigo
(1958), North to Northwest
(1959), Psycho
(1960) en The birds (1963).
Sy invloed op alle misdaad-, speurverhale en thrillers kan
aangestip word. ‘n Filmmaker soos Roman Polanski se Chinatown leun
swaar op Hitchcock-tegnieke.
Wat maak Alfred Hitchcock, daardie groot balie van ‘n man,
so ‘n verstommende filmmaker? Jare gelede het Camille Paglia in die New
York Times geskryf dat daar ‘n soort liefdesverhouding tussen hom
en sy aktrises via die kamera gebeur. Hierom die liefdevolle wyse waarop hy Grace Kelly verfilm en toe hy, volgens
Paglia, in sy latere jare buite die film óm met aktrises – dit was Debora Kerr en
Tippie Hedren – begin flirteer het, was die erotiese spanning afwesig in die
film. (Hierdie essay het ek gelees op ‘n trein in New York, en helaas, die bron
kan ek nie meer opspoor nie.) Spellbound heet
die titel van een van sy films tereg: hy hou die kyker se aandag en selfs by
herkyke verloor hy nooit jou aandag nie.
In filmkursusse is psigoanalitiese interpretasies van sy
films aan die orde van die dag. Die oog wat kyk na jou en jy die kyker, wat
terugkyk (Psycho); die
klein besonderheid wat ‘n sleutel word vir die groter geheel; die ontginning
van die patologie van die alledaagse lewe; die kyker wat weet die man gaan
vermoor word en tog geskok is wanneer Norman Bates die speurder vermoor.
Norman Bates in Psycho is
deur Hollywood in reekse tot lewe geroep en in die her-make kan ‘n mens juis
sien wat Hitchcock só goed maak: hy flap nie uit nie. Hy laai alles met
suggestie en innuendo en laat die kyker sélf tot ‘n slotsom kom.
Die montage-tegniek
in die storttoneel in Psycho is
al deur vele filmkenners geanaliseer en uitmekaar geskroef. Die gil, die
kap-beweging en die uiteindelike stilte. En soos met alle groot films gesteld,
is dit al geparodieer deur Mel Brooks in High Anxiety
(1978) en Brian de Palma het dit probeer kopieer, onder andere in Dressed
to kill (1980). Trouens, Hitchcock is waarskynlik die mees
geparodieerde filmmaker nog.
Nou onlangs kyk ek weer na twee bekende Hitchcock-films:
The lady vanishes en The
man who knew too much. 1938 en 1956 onderskeidelik.
Hoewel die tyd beide films ingehaal het, is die volgende
aspekte wel belangrik vir die kyker: die ongelooflike vermoë om die aandag te
hou al is die gegewe vir die moderne kyker ‘n bietjie dik vir ‘n riksdaalder of
gewoon nou met moderne tegnologie, belaglik.
In The man who knew too much
gebruik Hitch ‘n tandartstoneel om die kyker se angsvlakke te lig. Die kyker
sien hoe die tandarts naderkom met ‘n tang en die lig skep paniek en angs vir
sowel karakter as kyker. Wat Hitchcock hier regkry, is om te wys dat mense nie
maklik sterf nie.
Camille Paglia het ‘n uitgebreide studie oor The
Birds gepubliseer in 1998.
Alfred
Hitchcock
Bronne:
John Russell Taylor: Hitch. Abacus, Londen.1978.
William Wolf & Lillian Kramer
Wolf: Landmark Films – The cinema of our
century. Paddinon Press Ltd, New York. 1979.
12. Orson Welles (1915 – 1985)
Orson Welles in 1937 © Carl Van Vechten.
I.
Rosebud.
Die kodewoord in Orson Welles se bekroonde en omstrede
rolprent Citizen Kane.
Dit is ‘n film wat ‘n impak had op sowel die filmkuns as
die lewe van Welles. In hierdie film word die grense tussen fiksie en
werklikheid ondersoek met die gevolg dat die persoon op wie dit gebaseer sou
wees, hom vervolg het.
Die familie van Hearst, die persmagnaat, het ook
insinuasies rondgeslinger dat hy ‘n kommunis was en dit het tot die FBI en
Edgar J. Hoover se ondersoeke gelei.
In 1947 verlaat hy Hollywood, onder andere weens die omstredenhed
van die film en die meeste biogafiese besonderhede verwys na ‘n pre/ post-Citizen
Kane-tydperk. Maar soos alle goeie kunswerke het die film ná
die dispute verdwyn het, ‘n blywende invloed op die filmwese gehad. Ons dink
hier aan die films van Jean-Luc Godard, Francois Truffaut en die nouvelle vague-beweging, die films van
Hitchcock en al die speurfilms daarna.
Citizen Kane is immers ‘n soort speurverhaal
met die soektog na die betekenis van die woorde van Kane se
sterfbedwoorde:”Rosebud”. Die film ondersoek die verhoudings met twee vroue in
sy lewe: die eerste huwelik wat bedreig word deur die affaire met die
“sangeres” wat aan die groot klok gehang word, omdat Kane aspirasies het om ‘n
politikus te word. (Die naam Rosebud was ook die troetelnaam vir Hearst se
minnares en hierom was hy woedend omdat Welles intieme inligting oor haar en
haar intieme dele wat Hearst so genoem het, bespot het.)
Hy word ironies genoeg opgehang deur sy eie beginsels,
naamlik om die waarheid aan jou leserspubliek te vertel. Wanneer daar
omkoopgeld ter sprake is om die sangeres se swak loopbaan te lanseer in sy koerant,
verander alles dramaties.
Die verteller, ‘n soort speurder, ondervra mense wat hom
geken het en die film gee dus vanuit ‘n agterna-perspektief ‘n blik op ‘n rags to riches-bestaan.
Die gedrewenheid van Welles wat as outeur-filmmaker
gewerk het, kan vermeld word as ‘n belangrike invloed wat van hom uitgegaan
het.
Die film is in 1941 gemaak en is oorspronklik American genoem en die filmteks is
deur J. Mankiewicz geskryf wat met William Randolph Hearst ‘n byltjie te slype
had.
Welles het egter verstandig opgetree en die magnaat
verder uitgebrei sodat dit ‘n komplekser figuur sou wees en hiervoor het hy
aspekte van Hearst, Howard Hughes en Joseph Pulitzer vermeng. Die
Hearst-familie het egter hulself herken. Mankiewicz, ‘n alkoholis, het die teks
geskryf saam met Houseman, sy toesighouer.
Waarom het die Hearst-familie opgetree? Waarskynlik
weens die onvleiende portret van die minnares in die film.
En danksy die skinderrubriekskrywer, Louella Parsons, is
al die skinderstories opgejaag sodat die Hearst-familie moes optree.
Die gevolg?
Filmhuise was bang om dit te vertoon en dit is eers in
die vyftigerjare sonder vrees in bioskope gedraai.
Hollywood het in hierdie tyd skandale vermy – hierom
moes akteurs ook hul private lewens verswyg (ons dink aan Rock Hudson, o.a.).
Ten spyte van al die omstredenheid, het die film 9
Academy toekennings ontvang. In 1996 is daar ‘n dokumentêr gemaak – The
battle over Citizen Kane – en in 1999 is daar ‘n mockumentary vervaardig.
Hy was terloops met Rita Hayworth kortstondig getroud en
een kind, Rebecca, is uit hierdie verbintenis gebore.
In 1949 vertolk hy ‘n rol in die onvergeetlike, The
third man, gebaseer op Graham Greene se roman. Die regisseur was
Carol Reed en wie sal ooit die Anton Karas-liedjie, “The Harry Lime theme” kan
vergeet?
En die omstredenheid rondom die radio-opname van H.G.
Wells se The war
of the worlds toe mense gedink het Amerika word binnegeval deur
marsmanne?
Luisteraars het gedink die nuusflitse in die radiodrama
was ‘waar’: Marsmanne het New Jersey ingeval!
II.
Die film begin met ‘n verwysing na Coleridge se “stately
dome” van Xanadu en die Kubla Kahn-gegewe. Kane is dan ‘n Amerikaanse Kubla
Kahn. Die film maak van opskrifte gebruik sodat dit bykans soos ‘n
koerantstorie verloop.
Orson Welles het dikwels in sy eie films opgetree en
alle filmhandleidings verwys na sy magnetiese persoonlikheid. Hy kon nooit weer
die sukses en omstredenheid van Citizen Kane ewenaar nie en sy loopbaan
is gekenmerk deur uiterse hoogtepunte en geweldige laagtepunte.
En die Rosebud in die film?
Dit verwys na die magnaat se slee met die naam Rosebud
daarop.
Wanneer sy Xanadu opgepak word, gooi iemand hierdie slee
in die vuur en die sterwende man prewel “Rosebud”.
Die liefde wat hom sy hele lewe lank ontwyk het ten
spyte van sy geweldige rykdom. (Sommige karakters in die film meen die Rosebud
verwys na die begin waar ‘n sneeuhouertjie laat val word.)
Orson Welles se charismatiese persoonlikheid kom sterk
na vore in die vertolking van Harry Lime in The third man, ‘n
psigopatiese persoonlikheid, wat afgewaterde penisillien smokkel en tot mense
se verminking lei.
Die Graham Greene-draaiboek fokus sterk op Wenen as die
ruimte van die onbewuste met Harry wat telkens ondergrond gaan in bunkers en
soos ‘n rot in die stad rondswerf. (Die opmerking uit Lime se mond dat die
vredevolle Switserland net koekoekklokke opgelewer het, is glo deur Welles
ge-ad lib.)
En die slot? Waar
Martins wag op Lime se vriendin is al deur soveel filmmakers gesteel: die man
wat wag met die vrou wat net verbystap sonder om om te kyk.
Ons herken dit later in Truffaut se Story
of Adèle H., ‘n filmmaker wat ‘n aangrypende huldeblyk oor Welles
geskryf het.
III.
Welles was 25 toe die film gemaak is en daar is talle
boeke oor hierdie film geskryf soos Pauline Kael se The Citizen Kane-boek.
Dit is ‘n film wat die Hearst-familie wou verbied en geen publisiteit mog in
die persmagnaat se koerant daaraan gegee word nie. In ‘n onderhoud vertel Welles
ook dat ‘n polisieman hom eenkeer gewaarsku het om nie terug te keer na sy
hotel nie. Daar was ‘n lokval: ‘n jong kaal meisie wag in sy kamer en as hy sou
terugkeer, sou die pers gereed wees om hieraan berig te gee.
Daar was eweneens ‘n stryd oor die krediet vir die
draaiboek. Met die jare word dit duideliker, veral uit Barry Norman se
onderhoud op DVD oor die produksie van die film, dat Welles, ‘n gedugte
teaterman etlike dele van die teks geskryf het.
Orson Welles vertel dat hy vir Hearst twee kaartjies
aangebied het vir die openingsaand. Hy het dit nie aanvaar nie en Welles meen
as hy Kane was, sou hy wel opgedaag het.
En die Rosebud was, as ons die mitologie glo, Hearst se
bynaam vir sy geliefde se skaamdeel; en die gebruik van die naam in die film
het by hom woede ontlok.
Bronne:
William Wolf & Lillian Kramer
Wolf: Landmark Films – The cinema of our
century. Paddinon Press Ltd, New York. 1979.
“Citizen Kane: The fragile giant”
in Truffaut se The films in my life (Penguin, 1975/1978).
13. Alain
Resnais (1922 - )
I.
Private fears in public places,
oftwel Liedere wat my lewe verander
het, is die jongste film van Alain Resnais. Dit verskyn in
2006 as Coeurs.
‘n Jong verloofde egpaar soek na ‘n nuwe woonplek: hy is tussen werke en sy
gefrustreerd met sy toestand. Dit veroorsaak spanning tussen hulle en die film
ondersoek hierdie verbintenis en hul interaksie met die eiendomsagent en op sy
beurt sý verhouding met sy vroulike kollega, wat op haar beurt weer in
interaksie tree met die kroegman (by wie Daniel, die werklose drink) wie se seniele
vader sy na-uurs oppas. Daniel, weer, raak onwetend betrokke by die agent se
suster in ‘n koue, sneeuende Parys.
‘n Soort Franse Altman (Short
Cuts) as u wil: hoe mense se aanrakings met mekaar ‘n
hele konstellaat van uitwerkings op ander het…
Alle verhoudings hier is gedoem: die seniele vader
sterf, die agent bly onvervuld kyk na die porno-tapes wat sy kollega vir hom
aanbied; die suster se relasie met Daniel loop op niks uit nie…
Die film is uiters gestileerd: asof ons na ‘n
drama kyk met die sneeu wat lyk asof dit deur ‘n masjien vervaardig is. Die
skote word van bó geneem wanneer die paartjie die woonstel binnegaan; asof die
filmmaker wil beklemtoon dat jy na ‘n film kyk. Dit is nie die lewe nie: dit is
fiksie. ‘n Mens dink eweneens aan die voortreflike Last year at
Marienbad (1961), waarin die man X die vrou A ontmoet by ‘n
spa en haar oortuig dat hulle vantevore ‘n verhouding gehad het.
Die film is ‘n strukturalis se droom met al die
patrone wat die film skep soos met ‘n skaakspel. Die kyker moet self besluit
wat leuen en wat waarheid is.
Hitchcock was glo uiters gesjarmeer oor die
silhouet van hom in hierdie film (wat ek nie kon vind nie). Die film is
gebaseer op Alain Robbe-Grillet, ‘n eksponent van die nouveau roman,
se bekende teks.
Resnais was saam met Truffaut en Godard kortstondig
deel van die sogenaamde nouvelle
vague-beweging.
II.
Hiroshima Mon Amour,
die novelle van Marguerite Duras het in 1959 verskyn en is deur Resnais
vervaardig in ‘n aangrypende rolprent.
‘n Franse aktrise besoek Japan om ‘n film oor
vrede te maak en hier ontmoet sy ‘n Japannese argitek met wie sy ‘n liefdesverhouding
aanknoop. Die film analiseer die effek van oorlog op die Japannese en Franse
kultuur. Die swart-en-wit-aanbod maak dit gestileerd.
Emmanuelle Riva en Eiji Okada vertolk die hoofrolle.
In my novelle is daar Duras se sinopsis en aantekeninge vir die verfilming, die
filmteks en foto’s uit die rolprent wat belangrik is om die wisselwerking te
sien tussen roman- en filmteks. Wat word uiteindelik uitgelaat? Hierdie film/
roman is al ‘n studie oor liefde en oorlog genoem.
‘n Onbekende Franse aktrise, in die somer van
1957, vertolk ‘n rol in die rolprent, Peace.
Die verhaal begin op die dag vóór haar vertrek na Frankryk.
Daar is egter een toneel wat nog geskiet moet
word, naamlik haar ontmoeting met ‘n argitek. Dit word nooit aan die kyker
onthul nie en volgens Duras is dit belangriker om te fokus op die effek wat die
verhouding het.
Ons sien aan die begin van die film verwronge
liggame en die lywe van die liefdemakende karakters. Hulle praat oor Hirosjima
en hy korrigeer haar waarnemings. Volgens Duras illustreer hierdie toneel die onvermoë
om oor Hirosjima te praat. Die Hirosjima-monument word ‘n monument van leegheid
en word selde gewys in die film.
Teenoor die verwoestende atoomoorlog, staan die
liefdesverhouding van twee getroudes.
Vir Duras is die betekenis van hierdie uitsiglose
verhouding in Hirosjima die volgende: ”…but make this horror rise again from
its ashes by incorporating it in a love that will necessarily be special and
‘wonderful’, one that will be more credible than if it had occurred anywhere
else in the world, a place that death had not preserved” (9)
Tipies van so ‘n kortstondige affaire besluit die
vrou om die man nooit weer te sien nie. Tog sien die geliefdes mekaar weer –
omdat die slottoneel nog geskiet moet word. Hy kyk met begeerte na haar en die
film eindig met ‘n parade waaraan almal deelneem.
Hy neem haar na sy huis. Hulle besef dat hulle
albei gelukkig in hul onderskeie lewens is. Sy praat oor haar jeug in Nevers.
Hulle wag in ‘n kafee. Sy moet uiteindelik vertrek. (Daar is ook slim
woordspelings met die begrip Nevers…)
Dan onthul sy aan hom dat sy in 1944 ‘n
liefdesverhouding met ‘n Duitser gehad het toe sy twintig was en hiervoor is sy
gestraf. Haar hare is afgeskeer en sy is in ‘n kelder gegooi. Alleenlik toe die
bom op Hirosjima gegooi is, kon sy weer haar gesig in die strate wys en bevryd
wees. (Die Duitser egter, is later doodgeskiet.)
Weer vlug sy van die Japannees en sy dink aan haar
ongelukkige verhouding met die Duitser en die verbintenis tussen liefde en
oorlog.
Die Japannees vra haar om te bly. Sy weier.
Duras skryf dat dit ‘n hopelose, uitsiglose liefde
wat soos die Nevers-liefde in die kiem gesmoor is. Daarom is dit vergete en
juis hierom durend. Hulle het niks meer om vir mekaar te sê nie. Maar
vroegoggend keer hy terug na haar hotelkamer. Niks gebeur nie.
Geen beloftes meer nie. Geen verdere gebare nie.
Niks meer nie. Woordeloos.
Volgens Duras word hulle die plekke, Nevers en
Hirosjima, onderskeidelik. Die film eindig met haar wat sê:”Hirosjima, dit is
jou naam.” Die werklikheid is alreeds opgebou deur dit wat ons gelees, gesien
of ervaar het in oorlog of liefde.
Vir die kyker wat Japan al besoek het, word die
film ‘n besondere blik op Hirosjima.
Of ‘n skrywer vir die private emosie so ‘n ramp of
land as metafoor of simbool mag gebruik, word deur die twee tekste genuanseer:
ons leef in die skadu van die atoomoorlog wat ons almal geraak het.
Bronne:
Marguerite Duras: Hiroshima
Mon Amour. Grove Press, New York. 1959/1961.
Belangrikste
films:
L'aventure de Guy (1936)
Schéma d'une
identification (1946)
Ouvert pour cause
d'inventaire (1946)
Visite à Oscar Dominguez
(1947)
Visite à Lucien Coutaud
(1947)
Visite à Hans Hartnung
(1947)
Visite à Félix Labisse
(1947)
Visite à César Doméla
(1947)
Van Gogh (1947)
Portrait d'Henri Goetz
(1947)
Le lait Nestlé (1947)
Journée naturelle (1947)
La bague (1947)
L'alcool tue (1947) (as
Alzin Rezarail)
Van Gogh (1948)
Malfray (1948)
Les jardins de Paris
(1948)
Châteaux de France
(1948)
Guernica (1950/I)
Gauguin (1950)
Pictura (1952)
Les statues meurent
aussi (1953)
Night and Fog (1955)
Toute la mémoire du
monde (1956)
Le mystère de l'atelier
quinze (1957)
Le chant du Styrène
(1958)
Hiroshima mon amour
(1959)
L'année dernière à
Marienbad (1961)
Muriel ou Le temps d'un
retour (1963)
La Guerre est finie
(1966)
Loin du Vietnam (1967)
Je t'aime, je t'aime
(1968)
Cinétracts (1968)
L'an 01 (1973) (New York
scenes)
Stavisky (1974)
Providence (1977)
Mon oncle d'Amérique
(1980)
La vie est un roman
(1983)
L'amour à mort (1984)
Mélo (1986)
I Want to Go Home (1989)
Contre l'oubli (1991)
Gershwin (1992)
Smoking/No Smoking
(1993)
On connaît la chanson (1997)
Pas sur la bouche (2003)
Cœurs (2006)
14
Jean-Luc Godard (1930 - )
I.
Jean-Luc
Godard, Claude Chabrol en Francois Truffaut, o.a. verteenwoordig die nouvelle vague (new wave) in die filmkuns.
Godard,
wat aan die Sorbonne gestudeer het, se films word deur ‘n sterk politieke
boodskap gekenmerk. Hy lewer kritiese kommentaar op die grypsugtige gemeenskap.
Daar is dikwels twee vlakke in sy films: ‘n storielyn wat onderbreek word deur ‘n
implisiete outeur wat kommentaar lewer op sy karakters se nihilisme, die
politiek van die dag en ‘n verbruikerskultuur wat mense tot kommoditeite
reduseer. Die films werk met ‘n sterk marxistiese aanslag en gebruik beginsels
van die strukturalisme om die verhaal te ‘orden’.
Godard
se films spreek van ‘n intellektuele aanslag, soos die vroeër films van
Bernardo Bertolucci, soos Last tango
in Paris.
Dit is
eweneens bekend dat Godard ‘n bewondering vir Brecht gehad het en die beginsel
van die ‘vervreemdingseffek’: jy skep ‘n situasie en dan staan karakters buite
dit en lewer kommentaar op die ervarings/ideologie.
II
In sy film Masculin Féminin
(1966) gebruik Godard die tegniek van binariteit wat tydens die sestigerjare
hoogmode was. Die film lewer felle kommentaar op die Viëtnam-oorlog (die
kinders van Marx en Coca Cola) en is ‘n film oor ‘n film. Ons bly bewus van die
filmmaker se blik en die film word episodies vertel met groot swart en wit syfers,
onderskrifte en boonop kyk die karakters in ‘n stadium na ‘n film – wat hulle
nie behaag nie. Ons dra almal ‘n film in ons, mymer die hoofkarakter wat per
ongeluk sterf, maar net sowel kon dit selfmoord wees. Die hele film het
verwysings na selfmoord, nihilisme, uitwissing: as jy een mens dood maak, is
dit moord; as jy ‘n duisend dood maak, is dit oorlog.
Brigitte Bardot maak hier ‘n
draai en Francoise Hardy sing in die agtergrond…
Alles werk deur middel van
nabootsing: karakters neem foto’s van hulself in hokkies en as die lewe ‘n film
is, het jy geen demokratiese beheer oor jou besluite nie.
Die seksuele rewolusie kom ter
sprake en tog word die vroulike hoofkarakter, ‘n sangeres van sopperige
liedjies, swanger. Paul, daarenteen, spuit slagspreuke op mure en sterf in ‘n
ongeluk.
Waarskynlik is Breathless, 1960
– wat ‘n fletserige Amerikaanse weergawe beleef het – Godard se bekendste film
met Jean-Paul Belmondo en Jean Seberg in die hoofrolle.
A bout du
souffle – hier speel toeval ‘n rol in
die film waarvan Truffaut mede-skrywer was. Ons sien onder andere ‘n plakkaat
van Humphrey Bogart waarop die hoofkarakter homself modelleer.
‘n Moord word aan die begin
gepleeg in Marseilles deur Belmondo, ‘n egte dief en swendelaar.
In een toneel beroof hy ‘n man in
‘n toilet en maak hom vermoedelik dood. Daar is geen berou of skuldgevoel nie.
Die polisie soek na Michel
Poiccard (Belmondo), maar hy is ‘n verkleurmannetjie, volledig psigopaties en
steel nuwe motors – gewoonlik ’n oopdakkie – sonder om te blik of te bloos. Hy
raak betrokke by Patricia Francini (Seberg), ‘n Amerikaanse student wat in
Parys studeer.
Sy doen werk vir ‘n uitgewershuis,
verkoop ‘n Amerikaanse koerant op straat en Godard gebruik haar as ‘n voertuig
om kommentaar te lewer op die verhouding tussen Parys en Amerikaanse
letterkunde.
Belmondo word uiteindelik gevang
en verraai deur sy meisie. Hy sterf met die volgende woorde op sy lippe:
“Jy is ‘n teef” (“Degeulasse”).
Word geweld/die dief deur Godard
geromantiseer?
Of meen hy dit is wat gebeur
wanneer ‘n gemeenskap ekstreem-materialisties raak?
Waarom raak sy vroulike
hoofkarakters swanger?
In Weekend (1967) bly een toneel altyd onthoubaar: ‘n opgedamde
hoofweg vol motors, wrakke, dooie mense in ‘n film wat erotiek, die
verbruikersgemeenskap, die rol van die hoofweg en kannibalisme analiseer.
Marxistiese slagspreuke word
regdeur die film gehoor (‘n filmteks wat volgens die verteller op ‘n komposhoop
gevind is!) en wanneer daar ‘n botsing is, roep die kapitalistiese vrou geskok
uit dat sy onsteld is oor haar Hermes-sak wat brand. Op ‘n ander keer word ‘n
lyk se duur klere bewonder.
Die faux raccord of die slegte verband tussen mens en natuur word tot
die spits gedryf wanneer daar aangehaal word uit Lewis Carroll, ‘n vark geslag
word en mense smul aan lyke. Boonop word lesing afgesteek oor die
potsierlikheid van die seekoei.
Ook Freud se Totem and Taboo word hier
gebruik om die ritueel van moord en kannibalisme te verduidelik. Regdeur is
daar aanwysings van ‘n implisiete outeur wat ironiese kommentaar lewer op ‘n
gemeenskap wat meer omgee vir hul motors as hul medemens.
Godard is ‘n outeur-filmmaker wat
glo aan die lae budget-film en die outentieke aanslag. (Chabrol was sy tegniese
assistent met Breathless.)
Sy films bly steeds opwindende,
intellektuele analises van die politieke en morele diskoerse sonder om die
storie-lyn te negeer en hierdie kyker steeds opwindende kykmateriaal.
Godard se invloed was wyd: The Graduate, Bonnie
and Clyde, Easy Rider, die films van Nicolas Roeg, en al die films in die
sestigerjare waarin die woede teen die sisteem verwoord word, beklemtoon die
Wolfs.
Aweregs
en avant-garde.
Bronne:
Pauline Kael: Kiss Kiss Bang
Bang. Mario Boyers, NY. 1965.
William Wolf & Lillian Kramer
Wolf: Landmark Films – The cinema of our century. Paddinon Press Ltd, New York.
1979.
15. Deep
throat 1972
I.
Kan
pornografie kuns wees?
En wat
is pornografie presies? Is daardie moment wat Marlon Brando anale seks het met
sy vroulike hoofkarakter, vertolk deur Maria Schneider, in Last tango in Paris, pornografie?
Tog
bestaan daar konsensus dat Deap
throat, wat nes Last tango in Paris
in 1972 verskyn het, pornografie is.
My
eerste besoek aan New York. 42nd Street. Die Groot Appel waar alles mag en kan gebeur.
Ek kyk na die tweeluik Deap
throat en The
devil in Miss Jones. Nogal bemark deur Andy
Warhol op die plakkaat wat dit sterk aanbeveel.
Beide
hierdie films is porn, maar
parodieer die aard van die genre. Daar is eerstens ‘n verhaallyn, ten minste
toneelspel en implisiete sosiale kommentaar.
Anders as die res van die sleazy-snert waar manne met reënjasse uitdrukkingloos sit en
staar na vroue op hoë hakke. (En waarom is daar altyd stilettos in hierdie
films? Is dit om die bene beter te vertoon?)
The devil
in Miss Jones se verhaal is soos volg: Ms.
Jones se lewe as oujongnooi is doelloos, grys en sy pleeg selfmoord in die bad.
Dan kom sy aan die Oorkant aan en ‘n Petrus-figuur gee haar nog ‘n kans voordat
sy verdoem word tot die hel.
Wat begeer sy?
‘n Lewe van wellus.
En dan word die kyker vermaak met
al haar vergrype en uitsonderlike aptyt.
Gaan sy uiteindelik hel toe?
Die hel is hier ‘n ruimte waar
geen orgasme bestaan nie en die rol word vertolk deur Georgina Spelvin in ‘n
film wat ‘n opvolg beleef het. Met slim opmerkings van Marie-Antoinette: ”The
last time I gave head was in 1793”. (Filmhandleidings soos TimeOut verwys
na haar spelvermoë.)
Die verhaal van Deep throat handel
oor ‘n vrou (vertolk deur Linda Lovelace) wat net deur fellatio ‘n orgasme kan
bereik, omdat haar klitoris in haar keel sit.
Die filmmaker was haar eggenoot
en Lovelace het jare daarna bely dat sy gedwing was om die film te maak.
Kyk ons nóú daarna, kan ‘n mens
die blou merke op haar vel sien…
Sy was ‘n tragiese figuur, wat
aanvanklik die roem rondom die film geniet het, en later religieus geword het,
waarskynlik in ‘n soort boetedoening.
II
Dit bly ‘n baken in die filmkuns
waaroor daar uitgebreid geskryf word in Landmark
films (1979). (My TimeOut
vermeld die film nié.)
Die woord seksploitasie word mode
in hierdie tyd. Dit is Watergate. Morele en seksuele norme tuimel, aldus
William en Lillian Wolf.
Sensuur word opgehef en almal mag
na hierdie film gaan kyk.
Wat vir die een pornografie is,
mag vir die ander kuns wees, is die uitgangspunt van hierdie essay.
Pornografie word ge-X. En hieraan
kleef ‘n stigma.
Hierdie film, aldus die Wolfs, is
op sy dag as porno chic beskryf in
die New York Times.
Tog het die film die wind van
voor gekry en is dit selfs in NY verban deur Regter Tyler. Ten spyte hiervan
het Linda Lovelace by Cannes opgedaag in ‘n Viktoriaanse uitrusting en is sy op
vele TV-talk shows in- en uitgevra.
En opgestuur.
Haar outobiografie heet: Inside Linda Lovelace.
Nou is daar geen buite-teks nie,
het Derrida gewaarsku en vandag wanneer ‘n mens na hierdie film kyk, sien ‘n
mens die blou kolle raak en dink jy aan die prys wat Me. Lovelace betaal het
vir hierdie rol.
Haar lewe is aan die groot klok
gehang, terwyl karakters in The Story
of O verdwyn het. Soos vele ander
porno-sterre.
En dit is glo waar dat die
hoofster in Emmanuelle, Sylvia Kristel, getroud was met die Vlaamse skrywer Hugo
Claus.
Wat is soft porn? Wat is hard core?
Hoekom beskou ons Deep
throat as sodanig, terwyl ons toekyk
hoe Donald Sutherland en Julie Christie in Don’t
look now wél intiem raak?
Hoekom aanvaar ons eweneens ontoelaatbare
momente in Kubrick se Eyes wide
shut tussen Nicole Kidman en haar
toenmalige eggenoot, Tom Cruise?
Dalk het Landmark films gelyk:
dit is wanneer die liggaam meganisties en tot blote objek verklaar word, dat
ons aanstoot neem.
Hierom was Shortbus van
John Cameron Mitchell vir my gewoon vervelig en pretensieus. Al is daar snaakse
oomblikke soos ‘n man wat met ‘n afstandbeheer vir sy vrou ‘n orgasme gee.
Dalk verskaf Caligula (van
Tinto Brass in 1979) met Malcolm McDowell, Peter O’Toole, Helen Mirren en John
Gielgud) die redes waarom Gore Vidal niks met die film te make wou hê nie.
Dit laat niks aan die verbeelding
oor nie.
Bronne:
William Wolf & Lillian Kramer
Wolf: Landmark Films – The cinema of our century. Paddinon Press Ltd, New York.
1979.
16. Shortbus
Regisseur: John Cameron Mitchell (2006)
Hierdie film van die bekende
regisseur John Cameron Mitchell wat bekendheid verwerf het met Hedwig and
the Angry Inch, is ‘n ondersoek na die seksuele en die uitbeelding daarvan. Die
werktitel was The
Sex Film Project. Die teks is geskryf deur die akteurs na aanleiding van hul
skermutselinge in dit wat as die Lusty Loft Parties tipeer kon word.
Seks kan baie vinnig gewoon
banaal word vir die toeskouer. Of snaaks. Of niks. Maar seks soos geld, laat
die wêreld draai.En hierom sal ‘n begeesterde, aweregse filmmaker waarskynlik
wil kyk hoe die vurk in die hef steek.
Ek het Deep throat gesien en gelag. The devil in
Miss Jones
ervaar en gegrinnik.
Alles is steeds geldig wat Susan Sontag en Camille Paglia oor
pornografie geskryf het. Sontag verwys na die pornographic imagination en Paglia bedryf ‘n seksmuseum in New York
en apploudiseer die aweregse seksuele fantasie.
Die verhaal handel oor die soeke
na die groot O. Twee man, Jamie en James, wil hul verhouding oopmaak, besoek ‘n
seksterapeut wat egter nie ‘n orgasme kan kry nie. Saam beland hulle by die put
van genot in New York waar al posisies van seksbelewenisse ontgin word.
James is ‘n regte narcisis, en
voormalige rent boy: hy neem elke
oomblik van homself af om vir sy vriend te verduidelik waarom hy nie meer wil
leef nie. (Dat hy ‘n pruik dra, help ook nie juis vir die suspension of disbelief
nie). Boonop word hy deur ‘n voyeur afgeneem uit die oorkantste gebou.
Hitchcock se Rear
window
is dalk die interteks hier?
Dit is NY na 9.11 en ‘n mens kan
hoor uit die gesprekke van die impak van hierdie dag op die gemoed van mense.
‘n Dominatrix klits ‘n man, die seksterapeut kry ‘n elektroniese eier wat haar
sal help om genot te kry – behalwe dat haar eggenoot die afstandbeheer in die shortbus verloor en sy verby haar kragte
gestimuleer word. J&J kry ‘n nuwe jongeling, wat die James se depressie
verlig, ofskoon ons later moet sien hoe hy probeer selfmoord pleeg.
Die film probeer snaaks wees: is
die rede vir die sadis se depressie werklik omdat sy nie haar naam kan uiter
nie? Dat dit Jennifer A is?
Ed Koch, die voormalige
burgemeester, is die kolporteur van die waaansin wat jy beleef. Jy kom na NY om
vergifnis te kry, meen hy. En: as hy dalk destyds uit die kas geklim het, sou
hy iets meer daadwerkliks aan Vigs kon doen, het sy kritici gemeen.
Dit is waarskynlik Koch se coming out party, maar ‘n mens bloos vir
sy part. Net soos vir die akteurs wat nie skroom om werklik mekaar te bevoel,
besuig of te betas nie.
Wil jy egter kyk hoe ‘n man
homself afsuig soos ‘n hond?
Of eksplisiete seks sonder ‘n
werklike storielyn sien? Van ‘n kragonderbreking in Manhattan wat skielik deur
die mag van die seksuele drif aangeskakel word?
Natuurlik probeer die film
antwoord op Deep
throat
en die soeke na die orgasme wat alleen oraal gevind kan kry en wanneer die
seksterapeut wel vreugde vind, dan gaan al die ligte aan in New York. Daar is
parodiese verwysings na televisie-sitkoms se uitbeelding van gay-mense, maar dit word nie skerp
genoeg op sy kop gedraai nie.
Soms word ‘n kondoom uitgehaal as
‘n voorsorgmaatreël. Was almal op dwelms om sulke gekke van hulself te maak,
wonder ‘n mens, terwyl ‘n paar acid-koppe
buite staan en rook.
Die film kry ‘n minus 1 van my.
Roland Barthes het in Die plesier
van die teks (1973) tereg verwys na die erotiese oomblik daar waar die kledingstuk
gaap en iets aan die verbeelding oorlaat.
My grootste aanklag is dat die
film oer-vervelig is. Kyk liewers weer na Caligula.
Waarskynlik het die film
gesneuwel omdat die regisseur toegelaat het dat almal teksskrywers word. En te
lag vir hul eie ou grappies.
17.
Bernardo Bertolucci (1941 -)
Die
seun van ‘n digter, vriend van die vreeslose Pasolini en ‘n uitgesproke Marxis.
Dit is hoe ‘n mens Bertolucci sou kon opsom met sy voortreflike aanvoeling vir
die filmkuns. Sy intellektuele aanslag is oorbekend. In The dreamers lê
daar ‘n eksemplaar van ‘n Susan Sontag-teks langs ‘n karakter se bed.
I
The
sheltering sky (1990) vertel die verhaal van
drie mense: ‘n egpaar en die vrou se minnaar en hul besoek aan Noord-Afrika.
(Gedeeltes is in Marokko verfim.)
Die
verteller in die film is die skrywer van die verhaal, Paul Bowles, wat
kommentaar lewer op die ekspedisie wat sentreer rondom die verskille tussen ‘n
toeris (wat veilig reis) en ‘n reisiger (wat die veilige bakens van die bekende
verlaat).
“Is jy
verlore?”, vra die verteller ten slotte aan die vrou na haar terugkeer.
En merk
die verteller op, ons dink ons lewe vir altyd, tog is daar sekere ervarings wat
net sovéél keer kan gebeur: soos die sien van die volmaan…
Die
film is ‘n kragtoer, want sowel die vrou as die man word getransformeer: sy
reis saam met Arabiere na sy dood en raak betrokke by ‘n Arabiese man. Dit is
haar minnaar wat dieselfde bly en onaangeraak is.
Dit is
die verhaal van Kit en Port Moresby wat deur Afrika reis met hul vriend Tunner.
Vertolk deur Debra Winger en John Malkovich met Campbell Scott as die minnaar.
Die paar probeer hul verhouding red deur te reis. Hulle is twee kunstenaars uit
New York en Tunner lei ‘n lewe van ryk, uitspattige partye. Daar is naaktonele
in die film: die kyker sien vir sowel Winger as Malkovich in hul weerloosheid.
Bertolucci moet ‘n bepaalde vertroue met vele van sy akteurs kan skep om hul só
blootgestel te kan weergee: ‘n mens dink hier aan die intieme tonele in Last tango in Paris waar Marlon Brando en Maria Schneider in daardie beroemde
sekstoneel.
Tydens
haar inisiasie as Arabiese vrou leer die man vir Winger met tekens hoe sy moet
optree.
Die
film wentel rondom opposisies:
New
York teenoor Noord-Afrika;
‘n
affaire teenoor prostitusie;
Westers
teenoor Arabies.
Die
landskaptonele in hierdie film is asembenemend.
Die
film dekonstrueer die reisigers se vooropgestelde idees oor Afrika. Hul poging
om hul verhouding te red, misluk. Hulle slaap in aparte kamers en die verskille
word op die spits gedryf met hom wat wegvlug en in ‘n nag met ‘n prostituut
verkeer. Tydens sy siekte versorg sy hom in ‘n buitepos waarvan die vensters
uitgewaai is en sy plaas later klere (sy hemp) oor die venster om hulle te
beskut. (Die man se klere terloops word al hoe vuiler en slordiger; die
minnaar, die toeris, se klere bly netjies.)
Tydens
haar tweede reis, sny sy met ‘n skêr ontwerpe uit haar dagboek wat sy ophang as
versiering.
Die sheltering sky is ‘n ironiese titel, ‘n
opmerking wat die man maak ná ‘n intieme toneel tussen hom en sy vrou.
II
Bertolucci
het veral bekendheid verwerf met sy toenmalige “skokkende” Last tango in Paris (1973).
My persoonlike gunsteling bly The little
Buddha (1993) en The
dreamers (2003). 1900 (1976)
is ‘n sterk politieke film, ‘n onderwerp waarvan Bertolucci nie wegdeins nie.
Die
politieke en die spirituele is twee belangrike dimensies in sy werk. Trouens,
‘n mens kan hom as ‘n groot filmmaker beskou júis om die uiteenlopende temas en
aanslae in sy filmkuns.
Last
tango in Paris verskil in aanslag van The little Buddha.
Eersgenoemde
is ‘n film oor die tango, die dans van hartstog. ‘n Man ontmoet ‘n meisie net
ná die selfmoord van sy vrou, Rosa.
Hulle
woon in ‘n sleazy hotel, haar hotel, kennelik
‘n hotel vir hoere. Hy wil nie die meisie se naam weet nie en in die doellose,
seksuele ontdekking sien die kyker die wreedheid en koestering wat hy vir haar
voel. In ‘n ontstellende toneel het hy anale seks met haar en benader haar soos
‘n dier. By ‘n ander geleentheid dwing hy haar om hom anaal te betas, terwyl hy
haar vuige taal toevoeg. Terselfdertyd is sy besig met ‘n film, ‘n soort
realiteitspel, met ‘n vriend waarin hulle speel dat hy haar die hof maak. Die
twee stories staan in jukstaposisie tot mekaar. Sy keer terug na haar ryk
verlede en speel met ‘n vuurwapen van haar pa.
Haar
vader het haar leer skiet en die kyker besef wat die einde gaan inhou…
Humor
afgewissel met banale tonele en deernis en in die hande van ‘n mindere fillmmaker
sou dit kon ontaard in batos.
In
waarskynlik een van die mees pynlike tonele in die filmkuns neem die man
afskeid van sy vrou in haar kis. Uitgestal tussen blomme, vloek én besing hy
haar. Hy het geweier dat sy Katolieke mis moet hê, omdat sy ongelowig was. Was
hy dalk die oorsaak van haar selfmoord?
In ‘n
hilariese danstoneel teen die einde raak Marlon Brando en Maria Schneider
dansend deel van ‘n tango-kompetisie.
Hy abba
haar en gooi haar oor die vloer tot die woede van die beoordelaar wat hulle wegjaag.
Dit is
hul laaste tango. Hierna, in ‘n dramatiese oomblik is hul verhouding verby.
Weer eens is daar ‘n klein Bertolucci-aanslag: die man, ‘n Amerikaner, plaas sy
kougom onder die reling.
Sy weet
nie wie hy was, bely sy ten slotte aan haarself.
Dieselfde
Bertolucci skep die verruklike The little
Buddha. Die soeke na die reïnkarnasie
van die afgestorwe Lama Dorje, die meester van Lama Norbu wat na hom soek. Om
die soektog vir die Westerse kyker te vergemaklik, kry Jesse, die kind uit
Seattle, ‘n prentjie- boek oor die lewe van Siddharta, vertolk deur Keanu
Reeves as ‘n beeldskone heilige wat tot insig kom. Die ryk prins sien ellende
en armoede en besef sy vader het hom beskut hiervan.
En hy
leer dat ons van die lewe moet wees om tot helderheid (enligtenment) te kom.
Jesse
is ‘n seuntjie van Seattle. Sy ma (Bridget Fonda) glo die Boeddhistiese soekers
dat haar kind die opvolger van die lama kan wees – humoristies lama Thunderbolt
-, maar die pa (Chris Isaac, die sanger) is ingenieur, skepties en word eers
oortuig na die dood van sy vriend. Hy gaan saam na Bhutan, waar dit blyk dat
daar twee ander kindertjies is wat eweneens inkarnasies is.
Dit
word vir die Westerse kyker so verduidelik: wanneer ‘n koppie breek, is dit een
houer wat tee hou.
Die
liggaam is die koppie; die tee die gees wat onbeperk en vry is…
Daar is
eweneens humoristiese tonele hier: die spanning tussen die kleintjies oor wie
die opvolger is en Jesse wie se petjie gedra word deur die seuntjie, Raju, uit
Katmandu.
Skote
uit Seattle word geplaas teenoor tonele in Bhutan en Katmandu.
Dit is
‘n film dat jy erbarming leer deur een te word met iemand anders se lyding.
La commare secca (1962)
Before the Revolution (Prima della rivoluzione, 1962)
La via del petrolio (1965)
Il Canale
(1966)
Partner
(1968)
Amore e rabbia (1969, episode "il Fico Infruttuoso")
Inchiesta, L' (1971) (TV))
La strategia del ragno (Spider's Stratagem, 1970)
Il conformista (The Conformist, 1970)
Ultimo tango a Parigi (Last Tango in Paris, 1973)
1900 (Novecento,
1976)
La Luna
(Luna, 1979)
La tragedia di un uomo ridicolo (1981)
L'ultimo imperatore (The Last Emperor, 1987)
The Sheltering Sky (1990)
Little Buddha (1993)
Stealing Beauty (Io ballo da sola, 1996)
Besieged
(1998)
Ten Minutes Older: The Cello (2002)
The Dreamers (2003)
18. Francois Truffaut
I
The films in my life (1975 / 1980) bewys onomwonde dat ‘n filmmaker aan sy films van vriende
geken sal word. In hierdie boek bely Truffaut watter films ‘n invloed op sy
lewe en werk gehad het.
Uitstaande Truffaut-films is The
four hundred blows. Jules and Jim. Stolen kisses. The story of Adèle H. Onthoubare films met ‘n eg-menslike aanslag.
Boonop kan hy ‘n storie vertel.
Truffaut is ook akteur en in Close
encounters of the third kind vertolk hy ‘n belangrike
rol.
II
Les films de ma vie is ‘n moet vir die filmliefhebber, omdat jy hierin die hand sien
van ‘n kenner wat as’t ware uit die redigeerkamer praat oor ander se werk en
lewens, sy ervarings met hulle. Oor sy ontmoeting met Hitchcock skryf hy hoe hy
aanvanklik spottend was en eers later meer gemoedelik geraak het teenoor hom.
Hierdie boek bestaan uit resensies en mini-essays
oor mede-filmmakers se films en dit sit vol wyshede. ‘n Afkeur aan die
Oscar-masjinerie, die Groot Gebaar, die traps
for fools, soos hy dit stel (87).
Hy het begin deur vir Cahiers du Cinéma te skryf en die leser is hier in die hande van ‘n ónbetwiste kenner.
III.
Daar is vele uitstaande essays in hierdie bundel.
Vir my persoonlik is die bydrae oor Luis Bunuel, die Spaanse filmmaker, ‘n
besondere een waarin hy ‘n essay van Catherine Deneuve, wat gereeld met Bunuel
saamgewerk het, as uitgangspunt gebruik. Deneuve beklemtoon sy donker humor en
die eise wat hy aan sy akteurs gestel het. In die Waterfront word daar by die
Louis Vuitton-winkel ‘n foto van Madame Deneuve gebruik waar sy by ‘n trein op
‘n sak sit en wag. Deneuve is ‘n komplekse aktrise: yskoningin én vertolker van
uitdagende, slopende rolle – soos in Polanski se Repulsion. ‘n Paar jaar gelede sien ek haar in ‘n film – ek het die titel vergeet
– waarin sy die rol vertolk van ‘n alkoholis. Die kamera neem haar onvleiend
van agter af, terwyl sy op die bed lê en haar roes afslaap. Die rok is opgetrek
en die kamera fokus op ‘n vet, middeljarige been en die kyker weet watter
ongelooflike selfvertroue dit moes kos. In The hunger vertolk sy ‘n lesbiese toneel teenoor Susan Sarandon. Agterna bely
Sarandon in ‘n onderhoud wanneer die onderhoudvoerder persoonlik raak: ”Wel,
wie kan in iedere geval omgee om iemand so beeldskoon as Deneuve te soen?”
Toe ‘n lesbiese klub in Parys bekend staan as
Catherine Deneuve, eis sy dat die naam verander word.
Die tonele tussen haar en Sarandon is gedurf,
seksueel-prikkelend.
Truffaut beskou haar as ‘n belangrike aktrise.
Inderdaad, ‘n vrou wat deur vele transformasies gegaan het.
IV.
In Stolen
kisses sien ons ‘n romantiese verbintenis afspeel. Nooit
weer bereik Truffaut die hoogtes van Jules and Jim nie – met die onvergeetlike Jeanne Moreau as die geliefde vrou wat die
twee mans teen mekaar afspeel.
Behorend tot twee kulture –
met oorlog teen die agtergrond – word die verhouding tussen die twee mans
ondersoek. Hulle deel die vrou wat nie tot ‘n besluit kan kom oor watter man sy
verkies nie.
Jim (Henri Serre) is die
Fransman en Jules (Oskar Werner) ‘n Oostenryker. Catherine is die vrou wat nie
kan besluit by welke man sy wil wees nie: die liberale, bevryde man of die
ernstiger Oostenryker? Die oorlog is natuurlik die tweede Wêreld Oorlog tydens die
besetting van Frankryk.
Kan mense totale vrye
keuses in verhoudings uitoefen en soos die hoofkarakter haar mans soos hoede
verander?
Daar is eweneens ‘n
verteller wat kommentaar lewer en ‘n belangrike sleutel tot die film is die
teks Les Affinités Eléctives. Op ‘n keer word Catherine
se gedrag verduidelik deur ‘n passasie uit ‘n boek wat sy onderstreep het.
Die einde is tragies.
Die kyker is onder die
indruk van Truffaut se behendige hantering van besonderhede.
En aktiveer die
belangrikste aspek van hierdie filmmaker se benadering tot kuns: Romantiek.
Hy mis die nihilistiese
lewensuitkyk van ‘n Bertolucci of Godard. Sy films is dikwels hoopvol, al ry
die twee karakters met ’n motor by ‘n brug af.
In Bed
and board (Domicile conjugal, 1970) ondersoek hy die verhouding tussen ‘n jong getroude paartjie: hy
is ‘n floris wat blomme artifisieel bespuit om die regte kleur te kry. Sy gee
vioollesse en hulle woon in ‘n afgeleefde woonstelblok waar die bure kommentaar
lewer op die geboorte van hul kind en die verbrokkeling van hul huwelik wanneer
hy verlief raak op ‘n Japannese vrou by sy nuwe werk.
Die film is net na die
studente-opstande in Parys gemaak en kenners meen dit is Truffaut se opstand
teen die eis dat films net politieke kommentaar behoort te lewer.
‘n Oomblik om te onthou:
die Japannese vrou versend boodskappies in ‘n ruiker blomme vir hom.
Hy gooi die blomme weg.
‘n Buurkind tel dit op en
sy vrou sit dit op die tafel.
En, voilà, wanneer die
blomme oopgaan, weet sy hoe sake staan want die stukkies papier met haar liefdesverklarings
val op die tafel.
Truffaut laat hulle versoen
en daar is ‘n humoristiese kyk-op-sake met Jean-Pierre Léaud wat dikwels in
Truffaut-films optree en Last tango in Paris van Bertolucci. In The woman next door (La
femme d’à côté, 1981) – met die twee ikone uit die Franse
filmtradisie, Gérard Depardieu en Fanny Ardant – ondersoek Truffaut
obsessionele liefde. ‘n Egpaar woon in Grenoble, hulle kry nuwe bure en die man
ontdek dis sy minnares van agt jaar terug.
Ons het hier ‘n
raamvertelling: ‘n vrou geskend deur die liefde (sy wou selfmoord pleeg, maar
het te lande gekom op ‘n glaspaneel) is die waarnemer van die verbintenis wat
op ‘n ramp afstuur. Klein kodes – soos die vrou wat ‘n tekenprent maak van ‘n
vrou in ‘n bloedplas – berei die kyker voor op die einde met sy loeiende
sirenes.
Dis dan asof Truffaut dalk
hier sy eie siening oor die dood van romantiek uitwerk en die navrante slot
speel weer terug op Jules and Jim.
19.
Francis Ford Coppola (1939 -)
I.
Francis Ford Coppola is opgelei aan die
UCLA-filmskool sy bekende mafia-trilogie The Godfather (1972, 1974, 1992) sal beslis my lys haal as een van
die grootste films nóg gemaak. As jong kind doen hy polio op, speel met
marionette (soos Ingmar Bergman) en ontmoet in sy studiejare vir Jim Morrison
van The Doors. Deesdae is hy selfs wynmaker in die Napa-vallei en
besit ‘n restaurant saam met Robert de Niro en Robin Williams.
Alles wat ons oor die lewe
moet weet, staan in hierdie films: die Kerk, die familie, hebsug, bedrog, ‘n
oog-vir-‘n-oog, ontheemding, die lewe van die immigrant…
Die mafia se misbruik van
die Rooms-Katolieke kerk, skuld en boetedoening, die aanskoulike gebruik van
die veranderende New York as die back
drop vir sy films, word uiters oortuigend hanteer. ‘n Mens word deel van die
verhaallyn wat die sekure Coppola gedistansieerd dog aangrypend weergee. Wanneer
Al Pacino, as die opvolger van Marlon Brando, by die Monsignor bieg oor sy
broer se dood, bieg hy: ”Vader, ek het my moeder se seun vermoor…ek het my
vader se seun vermoor…”. Dan weet die kyker dat daar in hierdie staalharde
mafioso nog ‘n gewete skuil.
Hiermee bewys Pacino, soos
Robert de Niro, hoe geskakeerd hy ‘n booswig kan vertolk. Terwyl Pacino in die
kerk staan, is daar ‘n menseslagting buite die kerk.
In die slotfilm van die
trilogie word daar ‘n bekende opera as interteks gebruik. Don Corleone (Pacino)
se seun wil nie in sy voetspore volg nie. Hy weier om sy studies in die regte
te voltooi, omdat hy loopbaan as sanger wil volg.
In die tweede film is daar
‘n emosionele toneel tussen Pacino en sy vrou – vertolk deur Diane Keaton – wat
hom wil verlaat weens sy troebel bestaan. Sy waarsku hom dat sy gewelddadige
bestaan hom sal inhaal en dat hy ‘n kind gaan verloor.
Sy bely dat sy pas ‘n
aborsie ondergaan het, omdat sy nie nog ‘n Corleone-kind die wêreld wil inbring
nie.
Sy steun haar seun se
keuse en hulle gaan na Sicilië om die seun se debuut mee te maak in die Cavalleria Rusticana.
Die verhaal van
liefdestragedie in hierdie opera sinkopeer met die liefdestragedie wat hom in
die hier-en-nou afspeel: die dogter (Coppola se dogter Sofia in die werklike
lewe) van Michael Corleone (Pacino) word doodgeskiet. Haar minnaar (vertolk
deur Andy Garcia) mag nie langer ‘n verhouding met haar bedryf nie, indien hy
‘n posisie in die mafia wil beklee. Sy is dus nou by haar vader wat haar moet
beskerm, maar dit nie langer kan doen nie, omdat die vyande toeslaan.
Al Pacino se geluidlose
gil wanneer hy die ónomkeerbaarheid van alles besef, is ‘n pynlik-onthullende
moment. Die geluidlose gil kan geen kyker ooit vergeet nie.
Hy sterf dan ook ‘n
eensame ou man op ‘n stoel in Sisilië met ‘n kefferhond wat om hom draal.
Volledig alleen. Mistroostig. Sonder sy oorblywende kind of vrou.
Die verhaal word egter
komplekser hanteer binne die domein van die mafia-rolprent. Dit kry die element
van ‘goeie’ en ‘slegte’ verraad by en noop die kyker om na te dink oor die
implikasies van goed en sleg. Selfs in die booswig Corleone is daar die wete
van die implikasies van verraad en boosheid. Hy bly immers ‘n patriarg. Die
openingsaria word eweneens gelaai met innuendo vir die kyker en die pragtige
intermezzo sal nou net méér melancholies opklink.
Francis
Ford Coppola se Godfather-reeks
beklemtoon hoé vernuftig ‘n slim filmmaker met intertekste werk.
Santuzza,
Alfio en Turrida in die Cavalleria
Rusticana van Mascagni word op sy
kop gekeer en met nuwe inhoude gelaai. Dis Pase, daar is ‘n tweegeveg, die
dood…
Die
films is gebaseer op Mario Puzo se blitsverkoperroman.
II.
Coppola
is die neef van Nicolas Cage en sy suster, Talia Shire vertol die rol van
Connie Corleone in die Godfathers. Toe hy sy dogter, Sofia gebruik het in die slotfilm,
was die kritiek daarop uit hom haar te kritiseer. Sy het inmiddels ‘n goeie
regisseur geword van Lost in translation, die eerste vrou wat ‘n nominasie ontvang het vir
beste regisseur by die Academy. Twee van sy seuns vertolk klein rolletjies in
die eerste Godfather.
III.
Apocalypse now speel
in op Joseph Conrad se Heart of
darkness. So sterk is hierdie film
dat Eben Venter in Horrelpoot nie alleen die roman betrek nie, maar Koert lyf gee
deur Marlo Brando.
Die
film is al ‘n laaste woord oor oorlog, en meer spesifiek, die Viëtnam-oorlog,
genoem.
Geweld,
waansin in en rondom vervaardiging van die film waaroor Mevrou Coppola ‘n
belangrike dokumentêr, Hearts of
Darkness: A filmmaker’s
Apocalypse (1991) gemaak het. Die
produksie is vertraag deur tifone, onderlinge geskille, rebelle wat dros om te
gaan oorlog maak, Martin Sheen se hartaanval, Harvey Keitel wat in die pad
gesteek is, ‘n onbeheerbare Brando, vet en moerig…
Die
film is in die bedryf selfs Apocalypse
Whenever genoem, maar toe dit in
1979 verskyn, was vele kritici se monde gesnoer.
In
2001 verskyn die ongeredigeerde weergawe, Apocalypse Now Redux, van hierdie
film met ‘n wonderlike redigeringsfout: die kyker sien hoe Coppola ‘n akteur
aanhits om vorentoe te beweeg, sodat die kamera hom per ongeluk afneem. (Redux
is die Latyn vir terugbring.)
Wie
sal ooit die openingstoneel kan vergeet? Wagner se Rit van die Walkuries wat
saam met ‘n helikoptertoneel saamklink! ‘n Maniese dans op pop-musiek.
Branderplankry
met sonbrille en bandannas.
Die
slagting van ‘n waterbuffel wat glo spontaan deur die inwoners begin is. (Die
invloed van Aquirre,
the wrath of God is daar.)
“I
can get no satisfaction.”
Van
Wagner tot die Rolling Stones is op die klankbaan.
Maar
ons hoor die Doors in ons harte.
Die
geur van napalm in die oggend wat oorwinning aandui. Alreeds ‘n klassieke reël
soos “Shoot! Make my day” uit Dirty Harry.
TimeOut meen die verwysings na T.S.
Eliot is pretensieus, maar dat die film briljant is. Maar uiteindelik word
hierdie film dan ‘n “vast trip, into the War of the Imagination”.
Dit
is die verhaal van die soektog na Kolonel Walter E. Kurtz (Marlon Brando) wat
glo mal geword het. Kaptein Benjamin L. Willard (Martin Sheen), gebaseer op
Marlow in die roman, moet hom vind waar hy skuilhou in die oerwoud van Kambodja
met sy eie troepe en boonop radio-boodskappe uitstuur.
Robert
Duvall is die mal Lt. Kolonel Bill Killgore.
Wanneer
Willard vir Kurtz doodmaak, speel The End van the Doors met Kurtz wat “the
horror…the horror” fluister.
Ander
films wat ‘n kyk werd is, heet Rumblefish,
Peggy Sue got married, The Cotton Club…
Francis
Ford Coppola
20 Béla Tarr
I
Trapsoetjie-stadig.
Dis hoe ‘n mens die openingskoot van Béla Tarr se drie-DVD’s wat meer as
seweuur in beslag neem, Sátántangó (1994)
kan beskryf.
‘n
Fokus op beeste wat voortbeweeg vir meer as tien minute. Op ‘n ander keer staar
‘n man by venster uit vir so ‘n lang periode dat ‘n mens vermoed jou DVD-speler
het dalk vasgehaak. Dit is omdat die kyker alles waarneem en nie net die
geredigeerde kort skote van die meeste films sien nie. Jy sien hoe iemand by ‘n
venster uitkyk of ‘n brief lees met al die stadige bewegings wat dit inhou. Ons
sien hoe daar ‘n dagboek gehou word deur die dokter wat alles waarneem asof jy
in ‘n belydenisroman is met verskillende ekke of subjektiewe waarnemers.
Papiere
en vullis wat deur die wind weggewaai word…
Maklike
oplossings is hier nie. Die film is swart-en-wit en gelaai vol stiltes en
sub-tekste. Die kyker moet self die wit plekke invul en die dralerige storie
volg.
Hier
is geen kits-oplossings of maklike eindes nie en Susan Sontag het lank en
uitgebreid oor die werk van hierdie Hongaarse filmmaker geskryf wat sy vir die
Westerse kyker ontdek het.
Dit
is ónmoontlik om die storie van hierdie film op te som, omdat dit ons
konvensionele siening van wat ‘n storie is ondermyn en selfs óphef. Dit is
bykans soos William Faulkner se As I lay
dying waar dieselfde gegewe
vanuit verskillende perspektiewe beskryf word. Dit gaan eerder oor die emosie
wat die kyker ervaar tydens die verskillende weergawes op ‘n besluit om deel te
word van ‘n kommunale boerdery in ‘n post-kommunistiese Hongarye.
Om
die triestigheid van die bestaan te beklemtoon is die film in swart-en-wit.
Mense
se drome en versugtinge word vir ons die kykers uitgelap. Ons sien ‘n
ongehoorde verhouding gebeur tussen Futaki en Mevrou Schmid en ons, die kykers,
weet van die bedrog wat gepleeg word. En van ‘n plaas wat nie bestaan nie en
spaargeldjies wat met slim stories weggeneem word.
Irimias
is ‘n bedrieër en ‘n luigat wat deur die plaaslike kolonel as ‘n
niks-vir-goed-gemors uitgeskel word.
Verder
het Irimias as’t ware terug uit die dode gekeer om almal te kom belieg.
Die
film fokus op twee horlosies wat verkeerde tyd uitbeeld: ‘n belangrike kode wat
die subjektiwiteit van ervaring wil beklemtoon.
En
die titel? Dit verwys waarskynlik na die danstoneel op ‘n akkordion in ‘n kroeg
waar mense hulself te pletter drink.
Daar
is glo net 150 skote in hierdie film wat vir ewig aanhou en elke stukkie
besonderheid vir die kyker weergee.
Tonele
word herhaal: waarskynlik, omdat die dokter die optekenaar en waarnemer is van
Futaki se ongehoorde verhouding met Mevrou Schmidt.
Die
kamera fokus op ‘n vertrek spaars gemeubileer. Armoede. Eenvoud. Swaarkry.
Soos
in ‘n Van Bruggen-roman.
Daar
is dan die kattoneel: ‘n kat wat seergemaak word en ‘n selfmoordtoneel van ‘n
jong kind. Skokkend en onthutsend, nie in ‘n Hollywood-styl nie.
En
hierdie kind hou die dansende mense dop deur ‘n venster. Ons die kyker weet dat
sy reeds dood is en dalk is dit wat sy sien, die rede vir haar ongelukkigheid?
‘n
Moontlike terugflits of ‘n gevoel van die regisseur dat sy by die engele is?
Maar
haar dood word deur die swendelaar misbruik om almal verder te mislei.
Talmende
skote, die kattoneel en dan die dans. Ongeredigeer. Weergegee, net-soos-dit-is.
II.
Sy
Werckmeister Harmonies (2000), eweneens ‘n swart-en-wit-film, vertoon Hanna
Schygulla (wat Fassbinder se
gunsteling-aktrise was) in ‘n onvergeetlike danstoneel. Hierdie film spel
eweneens op die Hongaarse platteland af en mense besoek ‘n sirkus om ‘n walvis
te sien…
Dit
is winter, minus twintig grade.
Uitsigloosheid.
‘n Opgestopte karkas van ‘n walvis is die enigste vermaak vir mense wat van
heinde en verre kom.
Hierdie
filmmaker het glo ‘n invloed gehad op Gus van Sant se Elephant waar die kyker lang,
stadige tonele waarneem.
(Van
Sant gee immers uitgebreid erkenning, soos dit hoort, aan hierdie filmmaker.)
Jy
vind min gegewens oor hierdie filmmaker op die internet. Dis goed so. ‘n Mens
hoop net hy word nie deur Hollywood verlei nie, want dit sal die einde van sy
eiesoortige, kreatiewe aanslag wees.
Dit
is ‘n besonderse filmmaker. Daar is geen foefies nie. Daar is geen digitale
manipulasie nie.
Dit
wil die lewe weergee.
Dit
is nie nodig om iets van die filmmaker te weet nie.
Dis
so goed, so aangrypend dat die films jou meesleur.
Bron:
www.IMDb
user/Sátántangó
21. James Bond
Die
naam is Bond. James Bond.
So
begin die verruklike films van Harry Saltzman en Albert R. Broccoli wat die die
man wat het lisensie het om dood te maak (007).
Gebaseer
op Ian Fleming se bekende aksieverhale is die James Bond-rolprente al vir
etlike jare by ons met sowat 20 films.
Elke
Bond-film is ‘n opera in die kleine.
Dit
begin met die voorspel. ‘n Soort kort opsomming wat die kyker te wagte kan
wees, dan die temamusiek met Bond wat adret sy Beretta op die kyker rig ‘n rooi
bloed wat oor die skerm afloop.
Elke
film speel ‘n ‘n eksotiese ruimte of vier af – die back drop van die opera van geweld – met humor soos Bond wat die
nooi se bikini afruk en vra dat sy moet bely waar die skurk is met die volgende
woorde:
“I
want something to get of your chest”; of
“very moving” merk ‘n skurk op wanneer ‘n kis oor wieletjies beweeg in
die verassingskapel.
“I
am Plenty”, stel ‘n rondborstige vrou haarself voor aan Bond.
Natuurlik
is sy, meen James wat met M, Money Penny en Q, sy spesiale raadgewer en
foefieskepper, die dood fnuik en kykers vermaak.
“You
are a cunning linguist”, meen Money Penny aan Bond in Tomorrow never dies.
En
hoe wonderlik ironies wanneer Ursala Andress (‘undress’) soos ‘n Venus van ouds
uit die water aangestap kom in Dr No….
II.
Op
die DVD-weergawe van From
Russia with love is daar ‘n onderhoud met
Ian Fleming wat gesels oor sy beroemde karakter James Bond. Fleming het ‘n
ligte tick en ‘n mens wonder of hy
hierdie karakter geskep het om sy eie spanninge te verwerk?
In
die onderhoud vertel hy dat James Bond nooit doodgemaak sal word nie. Sy boeke
is in meer as 20 tale vertaal, waaronder Tai en Japannees. Hy het al meer as 32
miljoen eksemplare verkoop ten tyde van hierdie onderhoud…
Die
groot romanskrywer, Anthony Burgess het Dr No op sy trefferlys gehad
van 100 beste boeke. En Jerry Palmer het ‘n insigryke studie geskryf oor wat
alles gebeur in James Bond-verhale, Thrillers
– Genesis and structure of a popular genre.
III.
En
James Bond sal nooit sterf nie?
In
You only live twice word Bond sommer aan die begin van die film afgemaai,
maar dit blyk bittergou ‘n spel te wees in ‘n film wat kommentaar lewer op die
idee van die dubbelganger.
Boonop
is die draaiboek van hierdie film geskryf deur niemand minder as Roald Dahl nie
en Nancy Sinatra sing die temalied, en aan die einde, wanneer 007 in ‘n
opblaasboot bo-op ’n duikboot land en hom en sy vrou van die oomblik van
ondergang red.
Hy
het sopas ‘n wêreldoorlog afgeweer en mag dus nou ‘n bietjie uitspan. Hy het
immers met sy Cambridge-skoling in Oosterse tale die kodes van Japan begryp.
En
sy drankies neem hy altyd “shaken not stirred”.
Vir
die kyker is hy ewig, onblusbaar, onvernietigbaar. Soms parodies as Roger
Moore.
En
vir die meeste van ons is die figuur Sean Connery die ware Bond. (George Lazenby het nie die paal gehaal nie.)
Ander
meen weer Pierce Brosnan en kom Daniel Craig werklik die mas op of moet hy maar
staat maak op sy bultende spiere?
En
wat van Timothy Dalton? Dalk te veel van ‘n Shakespeare akteur? Sean is die man
met die aknee-merkies op die wange en bultende spiere.
IV.
My
gunsteling Bond-films is From
Russia with love en Diamonds are forever (met tonele in
Suid-Afrika, omdat dit oor die diamantbedryf handel). Eersgenoemde in boekvorm
was een van John F. Kennedy se gunsteling-romans. Oor die film het Brezhnev
hoog opgegee: hy het dit drie keer gesien.
Dit
is 1963. From
Russia with love moet gesien word teen die
agtergrond van die Koue Oorlog en Brittanje se hantering van ‘n skandaal: die
Sekretaris in Oorlogbeplanning had ‘n verhouding met ‘n jong meisie wat
terselfdertyd ‘n affaire bedryf het met ‘n Sowjet hooggeplaaste…
Boonop
het ons vir Lotte Lenya hier as die giftige Rosa Klebb wat in die werklike lewe
verbind was met Kurt Weill.
SPECTRE
is die naam van die organisasie wat almal rondruk en Bond, as die Britse agent
moet almal troef.
Die
kyker besef natuurlik dat Brittanje in hierdie film as ‘n groter mag beskou
word as die VSA.
James
Bond van Her
Majesty’s Secret Service kan
meer uitrig as die CIA.
En
natuurlik glo ons dit vir die duur van die film wanneer James Bond met sy
lisensie om dood te maak, op soek is na die dekodeerder met geheime inligting
saam met die pragtige Tatiana Romanova, ‘n Russiese uitgewekene.
V.
Bond-films
is al deur die jare verguis deur sekere feministe as uiters misogonisties. Dit
is egter net ten dele waar, omdat sy vroulike teenspelers hom ook misbruik.
Is
die kritiek dalk die rede vir die verandering van M as ‘n gryse ou patriarg tot
‘n vrou?
M
is deesdae Dame Judy Denche wat vir Bond oor die vingers tik en waarsku dat sy
hom vir seksuele teistering sal aanskryf.
Harry
Saltzman en Albert R. (“Cubby”) Broccoli
se wenresep kan deur niemand geëwenaar word nie.
Hoe
het ons nie almal getreur toe Q oorlede is nie. Kortstondig is hy vervang deur Faulty Towers se John Cleese.
Die
motor het eweneens deur die jare verander: ‘n Bentley, toe ‘n Aston Martin en
later selfs ‘n BMW wat namens Bond die vyand verslaan het deur middel van
afstandbeheer. Selfs ‘n Jeep CJ-7 tot ‘n Jeep Wagoneer gebruik.
In
die klassieke films is die Aston Martin altyd die voertuig.
Dieselfde
geld die wapens wat Meneer Bond gebruik, ofskoon ons ouer garde hom met ‘n Beretta
assosieer. Aanvanklik is die Beretta 418 gebruik, maar een van Fleming se
aanhangers het hom gekritiseer dat dit te veel van ‘n vrouewapen is.
In
ou klassieke rolprente is die Baretta steeds daar en in latere films word die
soort wapen wat hy gebruik nie meer vermeld nie.
‘n
Mens verraai jou ouderdom wanneer jy bely watter James Bond jou die meeste
geval.
En
as jy Mike Myers se send-ups geniet,
pleeg jy myns insiens verraad teen Meneer Bond.
Bron:
Jerry Palmer. 1978. Thrillers - Genesis and structure of a popular genre. Londen: Edward Arnold.
22. Luis Buňuel (1900 – 1983)
I.
Buňuel
is ‘n Spaanse filmmaker wat hoofsaaklik in Mexiko en in Frankryk werksaam was. In
latere jare maak hy selfs films in die VSA.
Sy
verbintenis met Salvador Dali en die opwindende inkorporering van die
surrealisme is die belangrikste bydrae wat hierdie filmmaker gelewer het.
Regdeur
sy films lewer hy striemende kommentaar op die kerk waarskynlik weens sy streng
Jesuite opvoeding in Aragón. Hy is uit die skool geskop en studeer in Madrid.
Hier
studeer hy eers in die natuurwetenskappe en later stel hy belang in
ingenieurswese alvorens hy oorslaan na die filosofie. Sy vriendskappe met sowel
Lorca as Dali het ‘n vormende invloed op sy denke gehad. Soos dikwels gebeur
met kreatiewe verbintenisse het die pad tussen hom en Dali doodgeloop. Dali het
o.a. probleme gehad met Buňuel se ateïsme en kommunistiese oortuigings, terwyl
Buňuel weer krities was oor Dali se verhouding met sy vrou.
Alle
pogings van Dali om die vriendskap te herstel, het egter misluk.
Dit
is bekend dat Buňuel soms swaar vermom as ‘n non in die strate geloop het tot
die woede van die Katolieke.
Hy
maak in 1929 ‘n film saam met Dali wat steeds uitgewys word as ‘n hoogtepunt in
sy filmkuns, te wete Le chien
Andalou. Hierdie film, wat
ongeveer ‘n kwartier lank duur, wys hoe ‘n vrou se oogbal deurgesny word en die
kyker beleef ‘n soort droomwerklikheid. Dit is asof hy vir die kyker wys hoe ‘n
droom werk: dis jou droom, jy weet jy droom iets ónmoontliks; tog interpreteer
jy aan die verregaande simbole wat jou waarsku of iets ontsluit.
L’Age D’Or/Die Goue Era
(1930) is glo op die 120 Dae
van Sodom gebaseer. Die kyker moet
dikwels die logiese begin-middel-einde van ‘n verhaal óphef en jou oorgee aan
die assosiasies waarmee gewerk word.
Hierdie
film is vir 50 jaar lank verbied weens die aanvalle op die kerk wat vir die
moderne kyker beslis nie grensoorskrydend is nie.
Die
meeste van sy ouer films het bloot historiese waarde. Ná die Spaanse Burgeroorlog
is hy ‘n vlugteling en vertrek na die VSA waar hy met Hollywood werk en in NY
aan die Museum of Modern Art as ‘n kurator werksaam is. Hy het o.a. Riefenstahl
se beroemde Hitler-dokkie verkort en geredigeer.
Hy
verlaat MOMA weens spanninge en keer terug na Hollywood. Hierna vertrek hy na
Mexiko – waar hy uiteindelik oorlede is – en maak sy eerste film hier: Gran Casino (1946).
II.
Persoonlike
gunstelinge is In die diskrete sjarme van die kleinburgerlikes (Le Charme Discret de la Bourgeoisie) (1972), Belle de
Jour (Mooi vrou van die dag) (1967) en Daardie
vreemde objek van begeerte (Cet Obscur Objet du Desir) (1977). (Belle de
Jour is sleng vir ‘n morning glory, terloops.)
Sy
films is metafories van aard. Hy vermy die logiese metonimiese opvolg van punt
A tot Z en laat die kyker eerder vry assosieer en simbole ontsluit. Indien ‘n
film van hom van agter na voor gekyk word, word die werkswyse duideliker. Danksy
moderne tegnologie kan die kyker met stop en terugbeweeg en die verskillende
vinjette analiseer.
Buñuel
is hartstogtelik in opstand teen die klein-burgerlike waardes. In Belle de Jour raak ‘n vrou – vertolk deur Catherine Deneuve – ‘n
prostituut.
Wat
is waar? Wat is fantasie? Die kyker beleef haar seksuele fantasieë en onvermoë
om seksuele genot in haar huwelik te ervaar.
Séverine,
‘n verveelde doktersvrou, raak dan in die hoerhuis verlief op ‘n gangster met goue tande.
Of
dalk nie? Hy oortree egter die reëls van die spel deur haar buite die hoerhuis
te ontmoet.
Die
titel is ironies: sy is nie ‘n vrou van die nag nie.
The TimeOut Film Guide (1989) noem dit ‘n comedy of manners wat ‘n belangrike sleutel bied vir die
ontsluiting van die film waarin almal ‘n rol vertolk en werklike gevoelens
verhul word.
In
Die diskrete sjarme van die
kleinburgerlikes is ses karakters op soek
na ‘n maaltyd. Wat is eweneens waar? Wat is fantasie?
In
Daardie vreemde objek van
begeerte vertolk Carole Bouquet
(wat later ‘n Bond-meisie word en ‘n bekende parfuum adverteer) die rol van die
jong meisie wat die ouer man, Fernando Rey, aan sy neus rondlei.
Om
die spel tussen fantasie en begeerte te beklemtoon, gebruik Buňuel twee
aktrises om die rol van die verleidster uit te beeld.
Niks
hier is staties nie. Teen die einde ontplof ‘n bom en die kyker bly onseker oor
die lot van die karakters.
Al
waaroor die kyker seker bly, is dat Luis Buňuel ‘n diepe veragting vir die
valshede van die gemeenskap ervaar.
Films:
L'Âge d'Or (1930) / The Golden Age
España 1936 (1936) / Spain
Gran Casino (1946) / Magnificent Casino
El Gran Calavera (1949) / The Great Madcap
Los olvidados (1950) / The Forgotten
Susana (1951)
La hija del engaño (1951) / The Daughter of Deceit
Subida al cielo (1952) / Ascent to Heaven
Una mujer sin amor (1952) / A Woman Without Love
El bruto (1953) / The Brute
El (1953) / This Strange Passion
La ilusión viaja en tranvía (1954) / Illusion Travels by Streetcar
Wuthering Heights (1954)
Abismos de pasión or Cumbres
Borrascosas Robinson Crusoe (1954)
/ Las aventuras de Robinson Crusoe
Ensayo de un crimen (1955) / Rehearsal for a Crime or The Criminal Life
of Archibaldo de la Cruz
El río y la muerte (1955) / The River and the Death
Cela s'appelle l'aurore (1955)
La mort en ce jardin (1956)
Nazarín (1959)
La fièvre monte à El Pao (1959)
The Young One (1960) / La Joven
Viridiana (1961)
El ángel exterminador (1962) / The Exterminating Angel
Le journal d'une femme de chambre (1964) / The Diary of a Chambermaid
Belle de jour (1967)
La Voie Lactée (1969) / The Milky Way
Tristana (1970)
Le charme discret de la
bourgeoisie (1972) / The Discreet
Charm of the Bourgeoisie
Le fantôme de la liberté (1974) / The Phantom of Liberty
Cet obscur objet du désir (1977) / That Obscure Object of Desire
23. Robert
Altman (1925 – 2006)
I.
Nou onlangs kyk ek na ‘n
onderhoud met Robert Altman, die voortreflike Amerikaanse filmmaker, in die reeks
The Directors.
Die slanke hande val ‘n
mens onmiddellik op met die lang, goedversorgde naels. Altman het niemand
anders as die aktrise Shelley Duval ontdek, wat glo geen teateropleiding gehad
het nie. Later vertolk sy die rol van Olive Oyl in sy briljante film van die
strokiesprent Popeye
(1980) met Robin Williams.
Sy werk as industriële
filmmaker in sy jeug het hom geleer om ekonomies met tyd te werk en al die
aspekte van die bedryf te leer ken. Rod Steiger vertel dan hoe Altman opgewonde
vir sy akteurs sal verduidelik hoe ‘n skoot hom imponeer en hoe die zoom
presies werk…
Sy eerste film heet The
Delinquents (1956) en ofskoon dit nie opslae maak nie, sien
Hitchcock dit en nooi die jonge Altman uit hom as regisseur op te tree vir sy
reeks Alfred Hitchcock presents.
Altman het naam gemaak
met MASH, McCabe & Mrs Miller
(1971), The Long Goodbye (1974),
Nashville (1975),
3 Women
(1977), A wedding
(1978), Quintet
(1979) Short Cuts…
Hoe sal ‘n mens die
onthulling aan die einde van Come back to the Five and Dime,
Jimmy Dean, Jimmy Dean (1982) ooit kan vergeet? Die
re-unie waar die waarheid onthul word ‘n verandering van geslag en die
verdoeseling van jeugpyn….
II
In ‘n onderhoud met Glen
Close op die genoemde The Directors
verwys sy na die Altman-styl. Dit is ‘n vry vloeiende aanslag waar hy vir die
karakters die storielyn verskaf en hulle dan toelaat om hulle eie ding te doen,
dialoog te fabriseer, aanwysings te gee ensomeer. ‘n Mens dink hier aan die
voortreflike Prêt-à-porter/Easy to wear (1994)
waar Sophia Loren, Julia Roberts, Marcello Mastroianni, e.a. die modebedryf
betree. Of Nashville
waarin country & western-musiek behandel word. Altman het bely dat dit iets
is waarvan hy nie veel weet nie en hierom gee hy ‘n carte blanche aan die
akteurs.
Altman is ‘n akteur-regisseur.
Hy kies ‘n bekende persoon met sy hebbelikhede en laat die intrige róndom
hierdie Akteur ontwikkel.
III
Short cuts
(1993) en The Player
(1992) is waarskynlik die films wat almal die beste ken en onthou.
Short cuts
speel af in Los Angeles en dit vertel nege, losgeweefde verhale wat gebaseer is
op ‘n Raymond Carver-gedig en verhale.
Hoe mense se lewens
mekaar, toevallig en minder toevallig aanraak, word in die film met sy 22
karakters ondersoek.
Tom Waits is die
eggenoot van die kelnerin, Doreen (Lily Tomlin) wat per ongeluk ‘n kind, Casey,
raakry.
Sy dink die kind het nie
seergekry nie en hy sterf sonder haar medewete. Sy op haar beurt bely aan haar
man en dogter dat sy ‘n kind raakgery het, maar dat sy dankbaar is dat alles
wel is.
Sy bly onbewus van die
drama rondom die kind.
Sy ouers word aanhoudend
gebel deur die bakker (Lyle Lovett) om sy verjaarsdagkoek te kom haal, maar
hulle is in die hospitaal. Hier bely sy oupa, Jack Lemmon in ‘n voortreflike
rol, hoe verloop sy lewe geraak het.
Maar dis nie waarmee die
film begin nie.
Dit begin met twee
egpare wat met mekaar kuier en later hul ongelukkigheid met mekaar verraai.
Die een man gaan op ‘n visvangekspedisie
met die manne en terwyl hy in die water urineer, word ‘n lyk in die water
ontdek.
Hulle verkies egter om
die naweek te geniet en los die lyk in die water…
En nog is het einde
niet.
Lois (vertolk Jennifer
Jason Leigh) maak geld uit foonseks, terwyl Gene Shepard (Tim Robbins, oftewel
meneer Susan Sarandon) ‘n spietkop is wat sy vrou verneuk.
Dan is daar ‘n verwoede
man wat wraak neem op sy vrou en haar besittings verwoes…
Karakters ontmoet mekaar
toevallig en soms per afspraak.
En daar is ‘n skokkende
einde wat alles tot stilstand ruk.
En daardie lyk – weet
die kyker – is verbind aan die een wat in die water ontdek word.
IV.
Nou is dit so dat
sosioloë al studies gedoen het oor die groeperinge tussen mense. Mense op
treine wat dieselfde roetes volg en roosters begin later saamgroepeer, met
mekaar gesels…
En dit is waarskynlik
wat Altman ondersoek in hierdie fassinerende film wat soos ‘n losse sirkel
beweeg en deur uiters behendige en briljante akteurs aanmekaar gehou word. Dit
is ‘n film oor paranoïa en dit begin met helikopters wat oor die stad vlieg en
‘n waarskuwing oor die medfly en dat
alles onder kwarantyn geplaas word.
Iemand speel in ‘n
swembad dood en ‘n ruk later urineer iemand op ‘n lyk…
‘n Kind sterf en iemand
word vermoor.
Die kyker sien al die
verbande tussen die klein oomblikke. Die kind se stem bly draal op die
antwoordmasjien en Altman vertel ons in ‘n produksie-onderhoud dat hierdie
kindjie so goed speel want sy pa is ‘n stunt
man. Jack Lemmon stap weg wanneer hy besef die kind is dood; in die
agtergrond mop iemand die hospitaalvloer…
Julianne Moore staan
kaal voor die kamera en Altman verduidelik ons in die produksie-DVD die verskil
tussen nude en naked…
Sy akteurs vertrou hom
en hy vertel die close line in
hierdie film word rondom die dood van die kind opgebou. En hoe alles om ketchup in die film wentel.
Na elke toneel bedank hy
sy akteurs en omhels hulle om sy skatpligtigheid te bely.
Dit is eweneens ‘n film
wat die montage-tegniek illustreer.
Die film van drie-uur lank is soos ‘n kortverhaalbundel waarin die verskillende
tekste op mekaar inspeel: saam én apart.
In ‘n onderhoud met Tim
Robbins besef ons dat hierdie film dalk die roman word wat Raymond Carver, die
skrywer van dirty realism wou skryf.
Robert Altman vat kanse
en in ‘n toneel speel sy karakters Jeopardy.
24. Martin Scorcese (1942 - )
I.
Met die onlangse bekroning van
Martin Scorsese, die uitmuntende filmmaker, sou ‘n mens die vraag kon vra: is
dit vir die regte film of is dit ‘n geval van ‘n prys wat té laat aan hom
toegeken is?
‘n Voortydige prys is so sleg as
‘n prys wat te laat kom. Eersgenoemde verlam die bekroonde; laasgenoemde is
dikwels mosterd na die maal.
Gebore 17 November 1942, in
Queens NY en veral bekend vir Taxi driver 1976 – met Robert de
Niro en Jodie Foster – , Mean Streets (1973) en nou onlangs, The Departed. Vir my gevoel is die
essensiële Scorsese film steeds Taxi driver met die waansinnig-paranoïese De
Niro as Travis Bickle.
Die man met die donker wenkbroue
is ‘n deeglike filmmaker wat sy opleiding ontvang het onder Roger Corman en was
verbind aan die beeldskone Isabella Rossellini. Ander onthoubare films is Gangs of New
York
(2002),
Goodfellas (1990), Casino (1995), The last
temptation of Christ (1988) en die film wat ek altyd bo-aan my lys van immer
gewilde, aangrypende films noteer: Raging Bull met Robert de Niro wat gewig
opgetel het vir die rol van Jack La Motta.
‘n Mens is dus verruk dat hy wel
bekroon is in die jaar 2006 – maar dit is beslis nie sy beste of grootste
rolprent nie.
Sopas had ek ook die voorreg om
sy vieruur-lange outobiografie in film, Voyage to Italy, te bekyk. Twee CD’s
– die filmmaker se unieke vorm van ‘n outobiografiese mymering oor sy liefde
vir die filmkuns en meer spesifiek: die Italiaanse filmkuns: onder andere
Federico Fellini, De Sica, Visconti en natuurlik: Rossellini. Hier word die
kyker op ‘n mentorsreis geneem waarin die plek van die Italiaanse filmmaker
bespreek word. Nie alleen word die invloed op sy eie werk gekarteer nie, maar
Scorsese wys op die skuldgevoelens van Italianers wat o.a. WO II ontglip het. Hy
verduidelik die rol van die vader in ‘n Italiaanse huishouding (wat ‘n kind
sommer nog op ouderdom 20-plus ‘n oorveeg gee, omdat hy skande oor die huis
bring – soos in I
Vitelloni van Fellini in 1953) en op ‘n liefdevolle
wyse kontekstualiseer hy die liefdesverhouding tussen Ingrid Bergman en
Rossellini – en die sogenaamde skande van die liefdeskind in ‘n benoude tyd.
Hy wys “klips” uit films en
begelei dit met relevante kommentaar en toespelings. In plaas van ‘n boek,
praat hy via die kamera en word fabrieksgeheime verklap. Italiaanse
Neo-Realisme is ‘n stylfiguur gebore uit nood, verduidelik hy: daar was nie
geld om duur akteurs te huur nie; hierom moes gewone mense optree voor die
kamera.
Hy is waarskynlik weens sy
verbintenis met Isabella Rossellini uiters simpatiek teenoor die filmmaker
Rossellini. Wat hy egter oor die filmmaker opmerk, is relevant vir die kyker –
veral omdat Ingrid Bergman dikwels ter sprake kom. Hy wys ook op die
gesofistikeerde “oop eindes” van Italiaanse films versus die Hollywood geslote
(dikwels, gelukkige) eindes. Hy moes egter bekroon gewees het vir Taxi driver, die verhaal Travis
Bickle wat fantaseer hoe hy ‘n presidensiële kandidaat gaan skiet sodat ‘n jong
prostituur, Jodie Foster, gered mag word. Die draaiboek van Paul Schrader is al
voos geanaliseer oor die lot van die ontheemde taxi-bestudeer wat gewikkel is
in ‘n stryd tussen die goeie en die bose. ‘n Mens sou ‘n parodie kon sien op
die Ou-Testamentiese offergawe.
Hierdie figuur is geskend deur
die Viëtnam-oorlog, neem ‘n meisie uit na ‘n porno-fliek, maar red
terselfdertyd ‘n kind uit die kloue van ‘n pimp wat hy skiet. Dis De Niro teen
Keitel; dis ‘n briljant-belowende Jody Foster.
Die slaaplose De Niro as die
besoeker aan porno-flieks, is ‘n hartgrypende uitbeelding van ‘n verslaande mens
wat ‘n aweregse held word, omdat hy die kind uit die kloue van prostitusie red.
Is hy ‘n held? Hy probeer immers ‘n Senator skiet voordat hy die bordeelmanne
takel.
Die film is bekroon met die Palme
d’Or in 1976 in Cannes. Dit had natuurlik ‘n nare nadraai in die werklikheid
toe John Hinckley probeer het om Ronald Reagan te skiet weens ‘n obsessie met
sowel die film as Jodie Foster. Veral Jodie Foster se lewe is ernstig aangetas
deur die impak wat hierdie film op háár lewe gehad het. In vele onderhoude het
sy o.a. vertel hoe sy nie meer kon waag om in die openbaar te verskyn nie. Die
impak van ‘n gevaarlike film op jou lewe dus.
II
In 1997 had ek die voorreg om Kundun by die Labia te sien,
‘n aangrypende en insiggewende rolprent oor die vormingsjare van die Dalai Lama
en die implikasies van Boeddhisme op die Westerse mens wat al hoe meer
aangetrokke voel tot hierdie denkwyse. Veral diegene wat die Protestantisme wou
oorleef, vind hier aanklank. Kundun beteken aanwesigheid en dit is ‘n aanspreekvorm
vir die Dalai Lama.
Op ‘n aangrypende wyse moet ‘n
jong kind objekte identifiseer as besittings. Die lamas word as huisbediendes
vermom in hul soektog na die ware een. Die jong kind slaag die toets en word
dan na Lhasa geneem, waar hy die veertiende inkarnasie word van die Boeddha van
Erbarming.
Die jong kind se aanvanklike
verlange na sy ouerhuis word baie goed verbeeld, maar later word hy ‘n waardige
opvolger.
Die Tibetane se stryd met die
Sjinese is ‘n pynlike een, onder andere omdat hulle deur laasgenoemde as
mindere mense beskou word.
Die Dalai Lama moes uiteindelik
sy land verlaat weens die volgehoue aanvalle van die Sjinese.
III.
In 1997 is Scorcese bekroon met
die Amerikaanse Filminstituut se “Lifetime Achievement Award”.
Maar wat die Oscar betref:
liewers laat, as nooit!
Bronne:
Jason Ankeny: All Movie Guide.
Martin Scorsese: Mi Viaggo di
Italia. 1995
25. David
Lean (1908 – 1991)
I.
Dit is die
sewentigerjare in Pretoria. Ons sit in die drive-in
en kyk na Lawrence of Arabia,
terwyl my moeder na aanleiding van die toneel tussen Peter O’ Toole en die
offisier vir ons homoseksualiteit verduidelik.
In die tagtigerjare gaan
kyk ek en my jongste suster weer na Lawrence of Arabia.
‘Genugtig, roep sy uit,’
kyk hoe kamp is hy!’ En dit het ons nie as klein kinders raakgesien nie. Vir
ons was hy die held wat deur die woestyn reis, van trok tot trok spring op ‘n
trein. En my moeder se uitwys van die ironie het my vir altyd bygebly: hy
oorleef die oorlog, maar sterf in ‘n
frats-motorfietsongeluk ná al sy brawe omswerwinge.
II.
Die epiese films van
David Lean verdien die ereplek wat dit binne die filmkuns geniet. The
Bridge on the River Kwai (1957), Doctor
Zhivago (1965), A Passage to
India (1984). In die jaar 2002 haal David Lean die lys
van die een van die gewildste filmmakers nog.
III.
Lean het die bedryf van
onder leer ken as ‘n sogenaamde klapbord-assistent. Hy doen ‘n klomp
produksies, onder andere met Noel Coward en Terence Rattigan en kort voor sy
dood het bepla om Joseph Conrad se Nostromo
te verfilm met Christopher Lambert, Isabella Rossellini. Marlon Brando, Paul
Scofield, Dennis Quaid, e.a.
IV,
My gunstelingfilm van
Lean is Doctor Zhivago.
Daardie tydlose film
vervaardig deur Carlo Ponti met Omar Sharif en Julie Christie in die hoofrolle
met Alec Guinness as die verteller. Die film is gebaseer op Boris Pasternak se
gelyknamige roman en speel tydens die Russiese rewolusie af. Daar bestaan ‘n
dokumentêr oor die vervaardiging van die film, maar juis omdat ek soveel van
die film hou, wou ek nooit hierdie deromantisering beleef nie.
Trouens, Klaus Kinski
maak ‘n kort draai in hierdie epiese film van 3 ure en 10 minute. Die film
begin met Lara en Yuri se kind wat deur haar oom (Yevgraf) uitgevra word. Die
film word geknyptang met haar belydenis oor die man, Komorovsky, wat haar hand
laat los het tydens ‘n opstand en wat sy meen haar vader was…
Maar hy was nooit haar
vader nie.
Háár vader was die
digter en haar moeder, Lara, soek vergeefs na haar ná die rewolusie.
Daarna is dit die
begrafnis van die jonge Yuri se moeder en die hele film lewer subtiele
kommentaar op die posisie van die verlore kind.
Lean werk met sterk
simboliese kodes: ‘n trem maak ‘n elektriese kortsluiting wanneer Lara en Yuri
op dieselfde trein sit; daar is ‘n bloedkol in die sneeu wat die kyker waarsku
van die ellendes van opstand; ons sien ‘n bril op die grond lê tydens ‘n
oorlogstoneel…
Daar is ‘n skokkende
toneel waneer Lara verkrag word deur Komorovsky (Rod Steiger) en dit is hy wat
haar leer dat daar mans is wat net ongelukkigheid in vroue skep.
Aanvanklik trou sy met
Pascha en Yuri met Tonya. Hul verwek onderskeidelik kinders wat die binariteit
van die film verder uitwerk. Daar is die ewigdurende opposisie tussen liefde en
rewolusie, die private en die politieke temas.
Die Russiese rewolusie
bedui die einde van die Tsaars. Maar dit begin ‘n nuwe ellende. Lenin bring nie
die hoop waarop hulle gewag het nie.
Daar is striemende
kommentaar op die bestel: ‘n trein reis op ‘n spoor wat tot ‘n einde kom en vir
‘n ruk is die kyker, saam met die Russe, in ‘n donker tonnel waarin ons niks
sien nie. Lara se man staan vir die politieke dimensie. Die private is dood,
verklaar hy.
Terwyl Juri se vrou
swanger is tydens hul vlugtog uit die onrus en verblyf in ‘n dacha, gaan hy
daagliks na Lara te perd. Lara inspireer sy gedigte; tog herken sy haarself nie
in die verse nie…
Hulle het ontmoet op ‘n
trem en ten slotte is hy terug in Moskou, reis per trem en sien sy geliefde
Lara wat ondertussen na haar dogtertjie soek.
Maar Yuri bereik haar
nie. Hy sterf aan ‘n hartaanval en sy daag wel by sy begrafnis op wat deur vele
bygewoon word, ofskoon hy dig oor dit wat nie vir die tyd belangrik is nie,
naamlik liefde en verlange…
Dit is ‘n film uit 1965.
Die film speel af tussen
1905 – 1921 toe die Tsaar omvergewerp is en die Sowjet-Unie ontstaan het.
Die balalaika waarop
Lara se tema (“Somewhere my love”) gespeel word, is ook die sleutel: dit is
wanneer Lara en Yuri se dogter herken word deur die verteller.
V.
Die film is in Spanje,
Finland en Kanada geskiet en Sophia Loren was te lank vir die rol van Lara.
Verder was daar rusies tussen Guinness en Lean en verskeie akteurs is die rol van
Zhivago aangebied, o.a. Peter O’Toole en James Mason.
Die rede vir die verfilming
buite Rusland, was omdat die boek
daar verbied was.
Hierna maak Lean Ryan’s
Daughter (1970) en ‘n toneel terloops is in Kommetjie
geskiet weens die slegte weer in Ierland.
Ryan’s daughter is ‘n
moderne Madame Bovary
en die liefde van Rosy (Sarah Miles) vir die Britse offisier is ‘n klassiek,
ofskoon dit destyds deur die kritiek gestriem is.
Spanninge tussen die
Iere en die Engelse word hier verbeeld en ironies genoeg was daar spanninge
tussen Sarah Miles en haar medespeler, Christopher Jones wat die liefdestonele
bemoeilik het.
Wie sou Robert Mitchum
se spel ooit kan vergeet?
Waarskynlik het mense
hierdie film met Lean se epiese films vergelyk en dit verkeerd beoordeel.
Alle verslae dui daarop
dat David Lean ‘n moeilike regisseur was om mee saam te werk met Mitchum se
onvergeetlike woorde dat Lean van ‘n mens verwag om die Taj Mahal met
vuurhoutjies te bou.
Iets van Lean se
gedrewenheid kom ‘n mens agter in die skouspelagtige opblaas van die brug in Bridge
on the River Kwai wat werklik plaasgevind het.
Alec Guinness was nie daar om dit mee te maak nie; hy is reeds huis toe gestuur
na sy optrede as die kolonel wat glo hulle moet die brug bou om te wys hulle is
nie onderdanig aan die vyand nie. Die toneel is tweemaal geskiet. ‘n Kameraman
het vergeet om die teken te stuur dat hy reg is en met onverdrote ywer is alles
herhaal in die wérklikheid.
Dus nie digitale
manipulasie nie. Maar ‘n werklike brug gebou in Ceylon.
26. Lars von
Trier (1956 -)
I.
Lars von Trier
(oorspronklik Lars Trier) is ‘n Deense filmmaker wat bekendheid verwerf het met
die sogenaamde Dogme95-beginsels. Nie al sy films voldoen aan hierdie eise nie
– waaronder die natuurlike, onbelemmerde hantering van die kamera, die
bekendste beginsel is.
Gebore in Kopenhagen in
1956 uit ‘n nudisties-kommunistiese gesin waar geen geloof beoefen is nie, het
‘n geweldige impak op sy lewe gehad. Von Trier is sonder enige reëls groot
gemaak en soos ander groot filmmakers wat ‘n moeilike jeug moes verduur, was sy
Super-8-kamera ‘n uitkoms. In 1995 ontdek hy dat die man wat hy dag sy vader is,
‘n stiefvader is. Sy moeder bely dit op haar sterfbed en hierdie insident het
‘n geweldige impak op sy kunstenaarskap gehad. Hy word bekeer tot die
Katolisisme en begin met onverdrote ywer volledige eerlikheid in sy kuns
najaag.
Dit lei dan
Dogme95-konsep en films soos the Breaking the waves
(1996) met Emily Watson en The Idiots
(1998) is die bekendste voorbeelde van hierdie kunsvorm.
Hy het in 2000 ‘n film
met die Yslandiese sangeres Björk gemaak: Dancer in the
Dark. In Dogville
(2003) sien ons dan vir Nicole Kidman optree.
Dit is bekend dat die
filmmaker aan ‘n vliegfobie ly.
II.
My eerste ervaring van
die Dogme-filmmakers se werk was met Festen, ‘n
tragies-komiese analise van familie-reünie waarin ‘n seun onthul die vader hom
en sy suster gemolesteer het.
Die gehoor het gelag vir
die meeste van die onthullings; dalk uit senuwee-agtigheid? Ek het egter die
film met ‘n groeiende gevoel van verontwaardiging beskou en die keerpunt in die
film, wanneer die moeder (wat kennelik bewus was van die molestering), die
vader vra om die huis te verlaat, bring ‘n soort orde terug.
The Idiots
is ‘n vreemde kykervaring. Mense speel asof hulle intellektueel-gestremd is,
onder andere in ‘n restaurant, by ‘n besoek aan ‘n fabriek, ensomeer. Dit is ‘n
film wat huiwer tussen realiteitstelevisie en candid camera-humor. Met ‘n wreder angel by.
Dit wil glo die idioot
in jouself ontgin na aanleiding van die populistiese sielkundige teorie van
“die verwonde kind in jou”.
Galgehumor beslis. Met
‘n onskuldige toeskouer, ‘n vrou, wat op sleeptou geneem word om die manewales
waar te neem en die grensoorskrydende gedrag al spelende (?), koekeloerende mee
te maak.
III.
Vir my bly die lang Breaking
the waves ‘n ongelooflike film met Emily Watson se spel as
eenvoudig aangrypend.
‘n Vrou trou met ‘n
outsider in ‘n klein gemeenskappie waar die Kerk die orde bepaal. Sy is
kinderlik-eenvoudig in haar liefde vir die man. Hy werk op ‘n olieboor en in ‘n
ongeluk word hy verlam. Sy bly hom versorg, maar hy versoek haar om haar
liggaamlik te eksploreer en vir hom hiervan te vertel sodat hy kan onthou hoe
dit was toe sy nog met hom geslaap het.
Dan is daar die dokter
wat vir haar gevoelens koester en die gemeenskap wat bewus raak van haar
grensoorskrydende gedrag.
Sy word verwerp deur die
gemeenskap, ook deur haar moeder wat haar laat klop aan die deur en weier om
haar binne te laat.
Wanneer sy sterf ná ‘n
aanval op een van haar ontdekkingstogte, weier die Kerk om haar te begrawe. Sy
word by die begrafnis tot die hel verdoem.
Maar die verlamde man
stap weer met krukke, nadat daar gebid is vir hom dat hy weer sal kan stap. Sy
word in die see begrawe, weg van die verdoemende Oordeel van die Kerk en die
gemeenskap.
Hierdie film vra om ‘n
toepassing van Jacques Lacan se siening van die Wet en hoe die persoon wat búite
die Orde (hier die Kerk) beweeg, deur die gemeenskap bestraf word.
Daar is onthoubare
tonele, soos die man wat vir sy vrou in die hospitaal ‘n nota skryf dat hy weet
sy lieg; daar is die toneel waar die dokter deur die geregtelike kommissie in
‘n hofsaak vasgepen word oor sy implisiete samespel wat tot die tragedie gelei
het; daar is die toneel waar Bess haar klere uittrek en die dokter probeer
verlei om haar man te behaag…
Bess bid dat Jan moet
terugkeer na haar wanneer hy weggaan van haar. Hy keer wél terug, maar as ‘n
verlamde. Haar gebed word dus verhoor, maar met skrynende gevolge. Hier kan ‘n
mens Von Trier se kritiek op die kerk aanvoel.
Die film speel af in die
Noorde van Skotland. Die film se boodskap
herinner aan David Lean se Ryan’s daughter
(1970). Die gemeenskap verteenwoordig ‘n bepaalde orde en enige oortreding gaan
met bestraffing gepaard. Die kyker verwag in Breaking the
waves dat Jan, die buitestaander, sal sterf, maar dit
is Bess wat sterf.
Daar is eweneens
inspelings op die Ou-Testamentiese offer. Bess is die judasbok. Ná haar dood is
die orde weer herstel.
Bron:
Die volgende onderhoud
is geraadpleeg: http://www.timeout.com/film/news/553/
27. Wanneer
‘n boek verfilm word
I.
Daar is ‘n gesegde dat
‘n swak boek ‘n goeie film maak. Ten dele waar ja, omdat die goeie regisseur
dan ‘n draaiboek het wat verander kan word in filmiese beelde. Daar is egter
uitsonderings, dáár waar ‘n briljante roman deur ‘n knap filmmaker ‘vertaal’
kan word sonder dat die kyker voel dat dit afbreek doen aan die outensiteit van
die eerste teks. (Perfume
van Patrick Süsskind het myns insiens nie die waansin van die roman goed
vasgevang nie.)
‘n Geslaagde film is Lolita
van Stanley Kubrick, gebaseer op die roman van Vladimir Nabokof se gelyknamige
roman gepubliseer in 1955/1956.
Die roman is ‘n
komplekse belydenisroman met die verhaal wat deur ‘n voorwoord van ene John
Ray, Jr., Ph.D. begelei word en as ‘n klassieke verhaal in psigiatriese kringe
beskou sal word. In hierdie voorwoord word die verhaal weggegee: die leser weet
reeds dat Humbert Humbert oorlede is aan ‘n trombose in die tronk.
Hy het Quilty vermoor en
Ray is deur Humbert Humbert se regsgeleerde gevra om die manuskrip, wat ons
gaan lees, te redigeer.
Dit handel oor ‘n professor
in letterkunde wat ‘n obsessie ontwikkel het met die jong meisie, Lolita. Hy
het met die moeder getrou om naby aan die kind te wees.
Die openingswoorde ken
ons almal: “Lolita, light of my life, fire of my loins. My sin, my soul.”
II.
Nou hoe verfilm ‘n mens
‘n roman wat so kompleks is en ‘n satiriese blik gee op die Amerikaanse
samelewing? ‘n Roman wat aanspraak maak op die werklikheid en verder skerp
kommentaar lewer?
Die antwoord is Stanley
Kubrick.
En James Mason, Shelley
Winters, en die koning van humor/satire/parodie: Peter Sellers.
Tussen hierdie drie
verbluffende akteurs – met die jonge Lolita waarom die hele film draai – word
die balle in die lug gehou.
Die film is ongeveer
twee en half uur lank, in swart-en-wit verfilm, met Quilty wat in verskeie
gedaantes intree.
Humbert Humbert, die
besoekende professor in Franse letterkunde, loseer by die moeder met ‘n belangstelling
in die nimfet. Wat hy nie wis nie, is dat sy as klein nimf reeds met Quilty ‘n
verhouding het, terwyl hy ná die fratsongeluk van die moeder, haar voog word.
Die moeder ontdek sy
dagboek waarin hy sy liefde vir Lo’ bely en na haar verwys word as ‘n vet koei.
Sy hardloop in ontsteltenis die trappe af en beland voor ‘n motor.
Lolita is ondertussen op
‘n somerkamp en Humbert weerhou die inligting van die moeder se dood van haar,
belieg haar dat die moeder siek lê in die hospitaal waarheen hulle nou op pad
is. Hy slaap in dieselfde hotelkamer met
haar; iets wat hy mag doen, omdat hy haar “vader” is.
Hier duik Quilty op – as
‘n polisieman wat ‘n konvensie bywoon. Later sien Humbert deur die venster van
‘n garage-toilet hoe Lolita met ‘n vreemde man in ‘n motor gesels en
uiteindelik: hy word bewus van ‘n motor wat hulle agtervolg. Quilty verteenwoordig
op ‘n manier Humbert se gewete in sy verskillende gedaantes en ten slotte word
die motor wat hul volg, ‘n teken van paranoïa.
Kubrick ontgin die
erotiese spanning, maar hy laat alles aan die kyker se verbeelding oor. Lolita
neem ontbyt vir Humbert na sy kamer en voer hom. Uit hierdie vinjet word die
intieme verhouding tussen hulle gesuggereer.
En: hy verf haar
toonnaels met sorg, terwyl hy haar uitvra oor haar vriendskappe met jong seuns…
Later bely sy dat Quilty
die liefde van haar lewe was en sy verlaat haar vader/minnaar en raak swanger
by ene Dick, ‘n trailer trash-figuur,
wie se droom dit is om in Alaska te gaan werk.
Hier lê hy besoek af
nadat Lolita vra om geld (en hy betaal dit soos alle goeie vaders) en smeek
haar om met hom weg te gaan. As sy nie saam met hom wil gaan nie, jaag hy weg
en die kyker is reeds bewus van die tragedie wat hom gaan afspeel.
Die film begin met die
konfrontasie tussen Sellers en Mason. ‘n Bykans maniese Sellers speel
tafeltennis en klavier en probeer Mason op hierdie wyse kalmeer.
Hy word egter
doodgeskiet.
III.
Waarom wou Kubrick ‘n
film maak van Lolita?
Volgens Alexander Walker was dit omdat Kubrick hierdie roman beskou het as ‘n
moderne liefdesverhaal, ‘n verhaal waarin die geliefdes geskei word deur die
dood of ‘n situasie wat dit ónmoontlik sou maak om weer bymekaar uit te kom.
Volgens Kubrick is dit
ook noodsaaklik dat hierdie verhouding die gemeenskap of die karakters se
families moet skok.
En hoe vertolk ‘n mens
die verwysings en satiriese kommentaar op die Amerikaanse gemeenskap?
Sue Lyon vertolk die rol
van Lolita.
Volgens sekere kritici
was sy te oud vir die rol, maar vir Nabokof, wat die openingsaand bygewoon het,
was die film in die kol.
Lesers van die boek sal
weet die openingstoneel staan nie in die roman nie en dat die toneel waar
Humbert Humbert in die bad lê, eweneens deur Kubrick uitgedink is.
Dieselfde geld die
vertolking van Sellers wat aan elke Quilty-optrede ‘n interessante dimensie
verleen (Walker, 24 – 25). Die ander weergawe hierna, met Jeremy Irons, bewys
hoekom Kubrick so ‘n groot filmmaker is.
Sy Lolita
is ‘n aparte, outonome kunswerk wat die kyker kan verstaan. Die kyker wat wel
die roman ken, waardeer sy vertolkings en interpretasies én sy fel sosiale
kommentaar. Sotlike opmerkings, nuuskierige bure.
Die film is in Brittanje
vervaardig.
Bron:
Alexander Walker: Stanley
Kubrick, Director. A Visual Analysis.
Weidenfeld & Nicholson, Londen. 1999.
28. Peter
Sellers (1925 – 1980)
I.
By die DVD Nouveau in
Breestraat staan daar sulke boksies met rolprente van groot akteurs. Die een
oor Catherine Deneuve word dikwels uitgeneem en daar is onder andere een van
Peter Sellers en al sy hoogtepunte.
Wat behels Sellers se
prestasies presies?
Dr
Strangelove (waarin hy drie rolle vertolk), Lolita
(beide Kubrick -films), die latere Being there
gebaseer op Jerzy Kosinski se roman.
Vir my is die essensiële
Sellers uiteraard The Party,
‘n film deur Blake Edwards, waarin die komiese kragte van Sellers se
verkleurmannetjie-persoonlikheid ingespan word. En sy nabootsing van aksente,
was ook ‘n deug. As Quilty vertolk hy verskillende karakters en kan hy van
gedaante verander.
As die onnosele speurder
Clousseau in die Pink Panther-reeks (ook van Edwards) skeer hy die gek met die
Franse.
“I vant a ream you
minkey’, bly ‘n gunsteling-frase.
“Oh you want a room?”
“I said ream.”
Hy het selfs in die
Muppets ‘n draai gegooi en in ‘n gesprek met Kermit bely dat hy nie weet wie hy
is nie…
II.
Sellers was nie ‘n
maklike man nie. Trouens, in die biografie oor sy vader, P.S.
I love you (1981), ontmasker sy seun, Michael, hom as ‘n
egosentriese, afwesige ouer. (Die drie kinders het elk 800 pond geërf!)
Hulle moes dikwels van
‘n hartaanval of nuwe vrou via die radio verneem.
Daar was baie vroue, ‘n
obsessie met Sophia Loren, ‘n huwelik met die beeldskone Britt Ekland wat
dikwels onder hom deurgeloop het.
Sy punteneurigheid is
oorbekend. Wanneer hy in ‘n hotel ingeboek het, moes alles binne sy smaak val.
Die water moes louwarm in die bad wees, anders was die hel los.
Op ‘n dag het hy in
woedebui sy Bentley in ‘n parkeerterrein teen motors gestamp, omdat Ekland laat
was.
Geoffrey Rush gee ‘n verbysterende vertolking van die akteur in
‘n biografiese verkenning, The life
and death of Peter Sellers (2004).
Van sy werkersklas-lewe tot die Goon Shows. Dan later as beroemde akteur en uitmuntende
komediant. There’s a
girl in my soup met Goldie Hawn uit 1970
bevestig dit.
In Afrikaans is hy
vereer met ‘n gedig deur T.T. Cloete in die bundel Jukstaposisie
wat heet “Alle grappies op ‘n stokkie”.
Die donker kant van hierdie
komediant is iets waarvan ‘n mens bewus word by die lees van biografiese
studies oor sy werk. Depressies en alkohol
het dikwels sy lewe verdonker. En dwelmmisbruik was daar ook met ‘n
hartprobleem. En ‘n enorme ego. Toe hy nie ‘n Oscar gewen het vir Being
there nie, is die nominasie asblik toe.
III.
The Party
(Ook genoem The Hollywood party),
Blake Edwards se film uit 1968 is 98 minute van plesier. (As ‘n mens die
biografie lees, dan besef jy hoe slim die film inspeel op Sellers se
verbintenis met Ravi Shankar en sy flirtasie met die Boeddhisme. Sellers kon
glo selfs op sy kop staan en sy vriendskap met George Harrison het hom aan ‘n
ander lewenswyse bekend gestel.)
Maak nie saak hoeveel
keer jy die film sien nie, dit bly skreeusnaaks.
Hy vertolk die rol van
‘n Indiese akteur wat per abuis by die studiobaas se huis opdaag vir ‘n party.
Hy word aan die begin
van die film in die pad gesteek, omdat hy in sy lompheid die stel opblaas. En
‘n horlosie dra.
In hierdie eerste paar
minute sien ‘n mens hoe Sellers binnepret ervaar en dit is algemeen bekend dat
sekere tonele vir die regisseur se plesier herhaal is.
Aangekom by die party
loop alles skeef weens die toedoen van Sellers. ‘n Skoen word in die water
verloor die toilet word getrek en bly spoel, die elektriese toiletrol bly
papier afgooi…(Hierdie toneel kan ‘n mens terloops op die internet aflaai!)
Met Sellers se
nabootsing van die Indiese aksent as ‘n verdere pluspunt. Die gesprek met die
voël (“feed the birdie num nums”) bly ‘n mens by.
Dan die
etenstafel-toneel met Sellers wat op ‘n lae stoeltjie sit en sy hoender probeer
baas raak. Dié skiet hy per abuis deur die vals haarsstuk van die gasvrou. Sy
bly hiervan onbewus. Haar tiara is weg. Vér weg.
In die kombuis is daar
pandemonium.
Elke keer wanneer die
deur oopswaai, sien ons hoe die dronk kelner gepak word. Hy, terloops, word al
hoe dronker en dronker, maar spring al hoe behendiger oor die klippe in die
binnehuise-riviertjie.
Inmiddels het die
spoelende toilet ‘n stortvloed veroorsaak en die besoekende kinders met hulle
olifantjie – met Sellers wat verduidelik dat geen slagspreuke geduld kan word
op ‘n heilige dier uit Indië nie – maak alles net erger. Die olifantjie word
met seepskuim skoongewas en die watervlak styg.
Nou moet die duur
skilderye gered word en die huisbaas merk sardonies op dat die skilderye
belangriker as sy vrou is.
Dan vir die mooiste
oomblik in die humorfilmkuns. Die gasvrou val nie een keer in die skuim nie,
maar tweekeer! Hier sien ‘n mens die behendige aanslag van Edwards wat glo self
gerol het van die lag en in die heerlike histerie is daar ge-ad lib.
En Sellers?
Hy ry weg in sy vreemde
driewiel-karretjie nadat hy die katalis was vir die pandemonium.
TimeOut
skryf dat ‘n mens nie soveel lag as wat jy die ongelooflike briljansie bewonder
nie en dat Sellers, die dronk kelner en baba-olifantjie die hele party tot apocalyptic shambles reduseer.
Ek verskil.
Hierdie film is
inderdaad soos ‘n Jacques Tati-meesterstuk en met elke herkyk lag ‘n mens weer.
Hulde aan Hrundi V.
Bakshi, die Hollywood-ekstra wat die hele party op sy kop draai.
Ook hier is Henry
Mancini verantwoordelik vir die tema-musiek.
Die film tree in gesprek
met Tati se Meneer Hulot se vakansie (Les
vacances de Monsieur Hulot, 1952).
Elvis Presley het The party
as sy gunstelingfilm gelys.
Dit is waar dat Glen
Miller se In the mood
by Sellers begrafnis gespeel is. Dit was Sellers se laaste gek keuse; hy het
glo die liedjie verpes.
The Pink Panther (1963) - A Shot
in the Dark (1964) - Return of the
Pink Panther (1975) - The Pink
Panther Strikes Again (1976) - Revenge
of the Pink Panther (1978) - Trail of
the Pink Panther (1982) - Curse of the Pink Panther (1983) - Son of the Pink Panther (1993)
Michael Sellers. 1981. P.S. I
love you. Londen: Fontana / Collins.
29.
Vittorio de Sica (1902 – 1974)
I.
Hierdie
Italiaanse filmmaker word eervol vermeld vir sy briljante films soos The bicycle thieves (Ladri di biciclette)
en Shoeshine
(Sciùsciá). Hy
kry erkenning vir A Miracle
in Milan (Miracolo a Milano)
(die Palm D’Or). Hy
word getipeer as ‘n Italiaanse Neo-Realistiese filmmaker wat o.a. die Goue Beer inoes,
vereer word vir Yesterday,
Today and Tomorrow in 1963 as die beste
buitelandse film.
Die Garden of Finzi-Continis is in 1970 vereer as die beste buitelandse rolprent.
Duidelik
dus ‘n filmmaker wat deur die buiteland as ‘n ernstige eksponent van die
moderne Italiaanse filmkuns beskou word.
Saam
met Fellini en Visconti is hy ‘n belangrike uitvoerproduk. Hy is eweneens in
Berlyn vereer vir sy bydrae tot die filmkuns.
II.
Miracolo
a Milano van De Sica is ‘n film waarin
sosiale kommentaar op ‘n besondere wyse hanteer word. ‘n Jong kind, Totò, word
deur ‘n ou vrou tussen koolblare gevind, sy maak hom groot met liefde en op ‘n
jong ouderdom word hy na ‘n weeshuis geneem. Dan sien ons hoe hy op agtien die
weeshuis verlaat en eenvoudig moet sien kom klaar. Sy tas word op die eerste
aand gesteel en hy sit die skobbejak agterna. Dit is ‘n arm man wat bely hy hou
van die tas. Die jongeling gee dit aan hom en die ou man bied vir hom
huisvesting aan by sy ‘huis’.
Dis
winter en koud. Mense hardloop rond om ‘n ligstraal te vang en die mense woon
in pondokke. Die kyker ervaar die realiteite van ons sosiale situasie op die
Kaapse vlakte.
Tog die
jongeling bly goed doen. Hy help almal. As iemand kort is, dan loop hy krom om
die mens beter te laat voel. As iemand ‘n skewebek-gesig het, trek hy sy gesig
skeef.
Toe
word die plakkers die slagoffers van landhere se twis.
En dan
tree die bo-natuurlike in, magies-realisme, as u wil, wanneer die oorlede
moeder vir hom ‘n duif stuur en hy oor magiese kragte beskik om die aanslagte
af te weer.
Uiteindelik
vlieg almal hemel toe.
Die
implisiete boodskap is dat hulle doodgemaak is, maar dat hul geloof hul dra.
Of: jy moet jou oorgee aan fantasie, want die politieke werklikheid is so
droefgeestig en drome van hernuwing is ‘n mite.
III.
De Sica
se ander meesterstuk is The
bicycle thieves, ‘n felle kommentaar op werkloosheid
in Italië. Ten einde te kan werk, moet ‘n man ‘n fiets besit. Dit word gesteel
en hoe nou gemaak?
Die man
se kind word eweneens blootgestel aan die ellendes en onsekerhede van hul
soektog.
Dis nie
maklike films om te kyk nie.
Die
toneelspel is oordrewe, by tye selfs histeries, bykans slap-stick met die Gebaar as uitgangspunt.
Dit is
net na die Tweede Wêreldoorlog en die werklose Antonio Ricci plak
advertensiebiljette op ten einde geld te maak.
Sy vrou
verpand hul huwelikslakens sodat hy ‘n fiets kan bekostig om sy werk te kan
doen in Rome.
Die
fiets, helaas word gesteel en met sy seuntjie, Bruno word daar na die fiets
gesoek.
Hulle
vind die dief, maar die polisie kan niks doen nie, omdat die fiets reeds
verkoop is en die bure die dief beskerm.
Hierdie
kyker het die magteloosheid van ‘n moderne Suid-Afrikaner ervaar: die polisie
trek skouers op en die dief word deur die sisteem beskerm.
Hierom
begryp ‘n mens die man se lot. Hy het geen ander opsie as om ‘n fiets te steel
nie.
Die
kyker se keel trek toe wanneer die man
gejaag word deur ‘n groep mens en gevang word.
Die
eienaar is hom gelukkig goed gesind en hy kom los, maar hy is verneder voor sy
kind.
Wie is
die eintlike dief?
Daar is
vele dispute dat die titel net in die enkelvoud moet wees: maar die kyker besef
al hoe meer die meervoud is die korrekte titel, want daar is twee diewe.
Die
deler is net so goed as die steler. Een dief is nie meer moreel as ‘n ander een
nie…
Hier
het ons Neo-Realisme op ‘n hoogtepunt. Die hoofakteur, ene Lamberto Maggiorani,
was ‘n gewone fabriekswerker wat De Sica ingespan het as ‘n akteur!
IV.
Een van
sy mees onthoubare films is Two Women wat bekend staan as La
Ciociara met Sophia Loren wat ‘n Oscar
ontvang het vir haar toneelspel.
En alle
groot filmmakers beskou De Sica se films as ‘n inspirasie en daar is ‘n kopknik
na hom in Robert Altman se The
Players.
Scorcese verwys eweneens na hom in sy outobiografie as ‘n belangrike
eksponent van die moderne filmkuns.
Hy
lewer kommentaar op sosiale kwessies en hoe die mens deur die sisteem geknel
kan word.
In ‘n
onderhoud bely hierdie filmmaker dat hy jong kinders vir ‘n hele jaar lank
gevolg en dopgehou het om Shoeshine te kon maak. Die regering het nie altyd van sy felle
kommentaar gehou nie. Hierop was sy antwoord dat hy films maak om die mens se
onbetrokkenheid en ongevoeligheid by ander se ellende uit te beeld.
Umberto D.
is ‘n klassieke laaste weergawe van die Neo-Realisme.
Bronne:
William Wolf: Landmark
films. Paddington Press Ltd. , New York. 1997.
30. Jack
Nicholson (1937 - )
I.
In
1994 word Jack Nicholson bekroon met ‘n Lifetime Award en in
die tagtigerjare word hy saam met Meryl Streep as dié ikone van tagtig beskou.
Nicholson
het waarskynlik al die meeste pryse ingeoes vir sy idiosinkratiese vertolkings
wat altyd op homself (of dan sy persona) gebaseer is.
Niemand
kan ‘n eksentrieke figuur of ‘n effens-versteurde so goed as hy vertolk nie.
Dink
maar aan daardie ongelooflike toneel wanneer Shelley Duval ontdek dat haar
skrywersman besig is om gek te raak in Kubrick se The shining
(1980). Of sy aanwesigheid in Roman Polanski se Chinatown (1974).
Jack
Torrance en J.J. ‘Jake’ Gittes.
Of
die Joker in Batman (1989).
Of die kêrel wat die malhuis omkeer in One flew over the Cuckoo’s nest (1975). En verder terug Easy Rider
(1969), daardie besondere kultusfilm.
Die
maniese laggie; die wenkbroue wat lig; die stem wat verdonker wanneer hy ‘n
opponent aan die keel gryp.
Hy
is een van die mees genomineerde Hollywood-sterre tot op datum, ‘n prestasie
wat sy besondere talent punktueer.
Hy
verwerf boonop die Stanislawski-toekenning
in Moskou vir sy waarheidsgetroue vertolkings.
II.
Dit
is algemeen bekend dat hy op ‘n laterige ouderdom ontdek dat sy suster eintlik
sy moeder is. Hierdie nuus is aan hom oorgedra deur ‘n joernalis wat ‘n
onderhoud met hom moes voer. In hierdie stadium was sowel sy grootmoeder as
moeder oorlede wat die nuus deste skokkender gemaak het.
Hy
is skatryk. Uit Batman alleen het hy etlike miljoene verdien en verder is
daar vele kinders by vele vroue.
Sy
verbintenis met Anjelica Huston is deur openbare ontrouheid beeïndig. Billy
“Bad Ass” Buddusky is nie verniet ‘n naam van een van sy karakters nie.
Die
vriendskap met Polanski het voorblaaie gehaal: o.a. na die dood van Sharon Tate
en tydens die aanklag van verkragting teen sy vriend. Hieroor word allerlei
mites versprei oor dwelms en ander donker dinge aan’t huise van Nicholson te
Mulholland Drive.
III.
Michelangelo
Antonioni se The
Passenger – met Carlo Ponti as die
vervaardiger – het ek kort na die verskyning vir die eerste keer gesien. As ‘n
mens die film op DVD bekyk en daarna die oudio-kommentaar van Jack Nicholson
beluister, word dubbele plesier beleef.
Met
Jack Nicholson se wrange, ironiese stem verklap hy etlike produksie-geheime vir
die kyker soos dat Antonio meer in die landskap as akteurs geïnteresseerd was.
Dus ‘n landskap-regisseur. Hierom fokus hy op die woestyn en stilte.
Nicholson
beklemtoon sy enorme talent vir observasie en detachment. Die film begin in Noord-Afrika met Nicholson as
verslaggewer en onderhoudvoerder. Daar woed ‘n geheime oorlog en
wapensmokkelary vind plaas.
Die
film begin met Nicholson wat as David Locke met die gids eers Engels dan Frans
praat. Later lewer hy kommentaar op die sigaret wat aangebied word as ‘n
internasionale taal van kontak.
Met
sy terugkeer na die hotel wanneer die Landrover in die sand vasgeval het en sy
gids hom versaak het, ontdek hy dat man met wie hy ‘n gesprek gehad het (op die
bandopnemer vasgelê), is dood. Hy luister weer na die bandopname, kom iets te
wete oor sy planne en ruil die paspoortfoto’s om. Hy trek ook die man se klere
aan en die hotelbestuurder kom niks agter nie, omdat hy die twee mans vantevore
met mekaar verwar het.
Daar
is onthoubare vinjette in hierdie verbluffende film:
* die toneel waar die Landrover in die sand
vasval en Nicholson wat
dit
aanval met ‘n graaf;
* die oopdak-motor waarin Maria Schneider, sy
werklike gids, staan;
* Jack Nicholson wat ekstaties uit ‘n
kabelkarretjie staan;
* die Gaudi-argitektuur in Barcelona;
* die teregstelling van die swart man op footage
wat ‘n prospeksie word
van David Locke se einde;
* die anekdote oor die blinde man wat Jack
Nicholson/David Locke
aan Schneider vertel. Nadat die man se
blindheid opgehef is, pleeg
hy selfmoord, omdat hy nie die onaf-heid
van die wêreld kan hanteer nie;
* die vrou wat wegstap van die lyk en bely sy
het nooit die man geken nie…
Die
film wentel voortdurend tussen vasgevang-wees en vryheid.
Jack
Nicholson bely teenoor die meisie dat hy iemand anders was. Dis ‘n film waarin
daar voortdurend beweeg word: Noord-Afrika tot München; dan Barcelona en terug
in Afrika.
Sou
hy ‘n kelner in Gibraltar wees, sou dit te ooglopend wees; ‘n romanskrywer in
Kaïro is volgens haar te romanties…
Hy
word/is uiteindelik ‘n gunner in die
oorname van ‘n ander se identiteit.
Nicholson
lewer ook kommentaar op die naaktoneel wat gedistansieerd en via ‘n spieël
hanteer is, omdat Schneider nie haar omstrede seksuele persona ná Bertolucci se
Last tango in Paris wou vereng nie.
Hy
wys ons daarop in die metakommentaar dat sy pille geneem het vir rugpyn en in een
toneel moet hy haar vashou, omdat die uitwerking van die pille haar lighoofdig
begin maak het.
Hier
teen die einde moes hulle lemoene aan bome geel verf en die twee polisiekarre
het in die jaagtog gebots.
Die
hotel – waar die einde voltrek word – is spesiaal gebou vir die slottoneel waar
die kyker deur die diefwering kyk na ‘n ou man op ‘n stoel (wat weer inspeel op
die slot van Godfather
III van Francis Ford Coppola), ‘n
hond en ‘n kind wat klippe gooi.
Ons
sien ‘n Citroën naderkom en dan ‘n polisiemotor.
In
jou eie gemoed moet jy die teregstelling voltrek. Dit word nie gewys nie; egter
geinsinueer sodat die impak sterker inwerk op jou psige.
Dit
word uiteindelik ‘n film oor paranoïa, omdat die nuwe identiteit wat hy aanneem
hom konfronteer met sy eie angste en donkertes.
Die
titel van die film is skynbaar gebaseer op ‘n fout!
Omdat
Maria Schneider nie kon bestuur nie en Nicholson dus oorspronklik die passasier
moes wees, maak van die titel nou iets vreemds.
Nicholson
se karakter, argumenteer ‘n skrywer sinvol op die Wikipedia, is ‘n passasier
van sy eie lewe, ‘n waarnemer en nie die oorspronklike dryfkrag van sy eie lewe
nie.
IV.
“Herken
jy hierdie man? vra die polisieman.
Die
vrou herken hom nie.
Is
dit nie uiteindelik op Nicholson se akteursloopbaan van toepassing nie? Dat ons
die kyker nooit werklik weet wie hy is nie?
V.
Hoe
sou ‘n mens Nicholson ten beste kon opsom?
Dalk
as ‘n karakter-akteur?
In
The Departed (2006) is hy Francis ‘Frank’ Costello, maar by
hierdie akteur skyn daar dikwels iets deur van sy eie persoonlikheid, of dit wat
ons dink ons ken van hom.
Nie
om dowe neute nie heet een van sy films The Two Jakes
(1990).
Daar
is waarskynlik agter die ‘hard ass’ vrouejagter, harde drinker en lieplapper ‘n
man
met ‘n hart.
Want
om so te kan toneelspeel, dui op ‘n geweldige innerlike krag.
Bronne:
Die
internet is vir die lewensloop geraadpleeg en TimeOut vir die filmdatums.
31. Richard Attenborough (1923 -)
I.
Attenborough
verwerf bekendheid as akteur en regisseur. Hy vertolk ‘n rol in die
filmweergawe van Graham Greene se Brighton
Rock. In sy jeug vertolk hy ‘n
rol in die beroemde Mouse Trap van Agatha Christie.
As
prolifieke filmmaker maak hy uiters boeiende films – onder andere Gandhi
(1982) – en as ‘n mens kyk na sy bydrae as akteur, vervaardiger en regisseur,
is dit geen geringe prestasie nie. Boonop maak hy uiteenlopende films soos A chorus lne (1985) en Chaplin (1992). Young
Winston dateer uit 1972, terwyl
ons almal Oh! What a
lovely war (1969) nie mag vergeet
nie.
Cry freedom (1987)
handel oor die lewe van Steve Biko.
II
Daar
is baie bekronings: ‘n BAFTA, Golden
Globe, die gesogte Academy Award as beste regisseur vir Gandhi…
Boonop
is hy bekroon as akteur en regisseur en dit wil gedoen wees. Hy is o.a.
kanselier van die Universiteit van Sussex en vele instansies het hom al vereer
vir sy ongelooflike filmkuns, onder andere die UK. Hy is President van die
Gandhi Trust.
III.
Sy
broer is Sir David Attenborough, die natuurkundige en in 2004 sterf sy dogter
en haar kind en skoonmoeder in die tsoenami.
IV.
Die
film Gandhi, met Ben Kinsgsley in die hoofrol, is vir my die
belangrikste film in sy ryk geskakeerde oeuvre.
Met
‘n besoek aan Indië is daar op die laaste been van die reis ‘n besoek aan
Gandhi se huis. Daar was egter ‘n vertraging en ons moet op eie stoom die huis
besoek. In Ahmedabad. Dit staan in die
volksmond ook bekend as die stad van stof.
Ek
spring in ‘n klein Ricci-taxi en na ‘n uur, deur spitsverkeer, besoek ek die
museum. Dit sal altyd een van die belangrikste oomblikke in my lewe bly. Met
die herwaardering van die film kyk ek anders na die film. Sekere bakens is
herkenbaar.
Die
film begin met die regisseur se verklaring dat hy so goed as moontlik wil laat
reg geskied aan die lewe van hierdie man. Ons eie Marius Weyers vertolk die rol
van die treinkondukteur in die gedeelte waar Gandhi van die trein afgegooi word
met ‘n besoek aan Suid-Afrika. Hierdie insident verander dan sy lewe en sy sin
vir geregtigheid.
V.
Hierdie
pakkende film van meer as drie ure gee nie alleen ‘n historiese verslag van Gandhi
se lewe en opstand teen geweld nie. Attenborough, ‘n Brit gee ‘n meedoënlose
blik op die Britse koloniste en Gandhi se minagting van hul rassime.
Die
hoftoneel waar die regter bely dat hy nog nooit so ‘n figuur as Gandhi teëgekom
het nie, is ‘n hoogtepunt in die film.
Die
regter word verslaan deur Gandhi se charisma.
Hier
het ons die beste voorbeeld van lydelike verset: sit my gerus in die tronk, as
u wil.
Trouens,
in ‘n stadium raas hy met sy volgelinge oor hul aggressie en die vlae wat hulle
swaai.
VI.
In
‘n onderhoud met Ben Kingsley – wie sal ooit sy briljante vertolking in Betrayal, ‘n film van David Jones,
teenoor Jeremy Irons kan vergeet? – vertel die akteur dat Attenborough se seun
hom in ‘n produksie van Hamlet geeïen het as die egte vertolker van Gandhi.
En
word hy nie Gandhi nie. Elke gebaar is Gandhi.
Tydens
die toneel waar hy moet speel asof hy dood is, staan daar 300 miljoen mense en
‘n paar terggeeste gooi selfs roosblare in sy gesig om te kyk of hy nie sal lag
nie.
Kingsley
vertel hoe hy onderhoude met Gandhi bestudeer het ten einde die karakter beter
te kan verstaan.
Sal
u bereid wees om te sterf vir Vryheid en Onafhanlikheid, vra die een
Vraesteller. Die werklike Gandhi maak dit af as ‘n slegte vraag.
Die
kyker is nie altyd seker wie is wie nie; so oortuigend is Kingsley se
vertolking. En raai wie vertolk die rol van Oom Jannie Smuts…
Mohandas
Karamchand Gandhi (1869 – 1948), ‘n Hindoe, het die wêreld aangegryp met sy
politieke sieninge.
Satyagraha
heet die non-aggressiewe opstand teen boosheid wat gepaard gaan met ‘n
eetstaking. In die Sanskrit beteken hierdie woord letterlik die eis om
waarheid.
Mahatma
beteken Groot Gees, ‘n naam wat Tagore aan hom gegee het.
Gandhi
was dikwels in die tronk, in sowel Suid-Afrika as in Indië, om sy misnoeë te
kenne te gee.
Hy
was in Natal op kontrak van 1893 – 1915 en die trein-insident Pietermaritzburg,
waar hy afgegooi is van die trein omdat hy nie van eerste- na derdeklas wou
gaan nie, word beskou as die moment waar hy besluit om vir die regte van die
onderdrukte en vertrapte op te kom.
In
Durban het hy geweier om sy turban
af te haal, tot misnoeë van die Britse meelopers.
Die
mars teen die sout-belasting was een van die keerpunte in die opstand teen die
Britse regime.
Hy
was altyd geklee in ‘n dhoti en het sy
klere self gemaak op ‘n charka.
In
Londen word hy opgelei as prokureur.
In
‘n toneel word ‘n generaal gekapittel oor sy aanval op ‘n skare wat sowel vroue
as kinders insluit.
Hier
het my ou boerehart begin opstandig raak gedagtig wat hierdie mense aan ons vroue
en kinders in die konsentrasiekampe gedoen het.
Die
gladgekamde hare, die venynige snorretjie: ‘n stereotiep van iemand wat alles
moet vernietig wat nie soos hy is nie.
Die
simbool van Oorheersing.
VII.
Richard
Attenborough se Gandhi is ‘n
meesterstuk. Die lang epiese tonele versus die klein momente maak van hierdie
film ‘n meesterstuk.
32. Paris, je t’aime (2006)
I.
‘n Stad
het ‘n persoonlikheid.
En stede het name. Die stad van stof. Die blou
stad. Die geel stad. Alles byname vir stede in Indië.
Ons almal assosieer Parys as die stad van die
liefde. Dit word ook die stad van lig genoem.
Nou het verskillende filmmakers probeer om
vinjette weer te gee, amper soos wanneer iemand ‘n storie vertel of ‘n gedig skryf
en iemand anders moet dit voltooi.
18 filmpies gemaak deur 21 filmmakers waaronder
groot name soos Gus van Sant,
die Coen-broers, Walter Salles…
Twee filmmakers het uitgeval, omdat hulle verhale
nie ingeweef kon word nie by die groter geheel van die film wat die 20 arrondissements van
Parys moes weergee.
Uiteindelik is dit vervaardig deur Emmanuel
Benbihy en Claudie Ossard.
Verskillende interpretasies van die liefde en
ervarings van Parys.
II.
Watter verhaaltjies het my bygebly?
Die een van die Spaanse vrou, wat douvoordag moet
opstaan, haar baba in ‘n sorgsentrum laat. Wanneer sy wegstap, begin die baba
te huil en sy sing vir hom ‘n wiegeliedjie. Dan stap sy weg. Ons sien hoe sy
lank reis na haar werkplek, selfs aan die slaap raak, wakkerskrik, by ‘n ryk
huis aankom, waar die vrou – wie se gesig ons nooit sien nie – in die verbygaan
beveel: “Ek sal ‘n uur laat wees vanaand; ek hoop dis reg met jou.”
En dieselfde wiegelied word vir die ryk baba in sy
wiegie gesing.
Felle sosiale kommentaar dus en wat die kyker
daaraan herinner hoeveel Mamas in ons land nie ook ‘n baba moet tuislaat in
ander se sorg om die ryk Madam se kind te versorg nie. Die vinjet speel af in
die Loin de 16e.
Dit is gemaak deur Walter Salles en Daniela
Thomas.
Hoe kan ‘n mens Miranda Richardson se spel
vergeet? Daardie onvergeetlike oomblik in Damage
(1992, Louis Malle) wanneer sy besef haar man het haar verraai, bly ‘n
kinematografiese hoogtepunt. (Later verskyn ‘n ander mede-speler uit Damage:
Juliette Binoche…)
Haar man wil haar skei en begin dink oor hul
huwelik en hoeveel dinge hy doen om haar ter wille te wees. Die kos wat hy
bestel en hoe dit hom irriteer dat sy elke jaar die rooi jas wat sy al vir
solank dra, nie uitgooi nie.
Dit speel af in ‘n restaurant, met die ander mense
as ‘n soort Griekse Koor wat kommentaar lewer.
Dan openbaar sy aan hom dat sy leukemie het en
sterwend is.
Hy besef dat hy haar nie kan verlaat nie en
versorg haar tot die einde. Hy sê sy minnares, ‘n lugwaardin, per sms af, en sy
val dramaties flou neer.
Boonop gebeur daar iets merkwaardigs: hy raak
opnuut lief vir haar en wanneer sy sterf, is hy dolend en elke keer wanneer hy
‘n rooi jas sien, dan…
Hierdie vinjet speel af in die XIIe arrondissement
(Bastille) en dit is gemaak deur die Spaanse filmmaker, Isabel Coixet.
Omdat die filmmakers ‘n paar
minute het om die storie te vertel, is die pas snel, die tegnieke dramaties,
die wendinge bruusk.
III.
In die Place des Victoires
ervaar ‘n vrou psigiese pyn na die dood van haar seuntjie. (Gemaak deur Suwa
van Japan). Sy kry die geleentheid om hom te sien, in die ander bestaan, en
Daniel Dafoe is ‘n cowboy, ‘n
moderne Charon. Juliette Binoche is hier die moeder wat treur en later is Geena
Rowlands – hier het die film ‘n Altman Short Cuts-aanslag – wat ‘n glasie
klink op haar.
Joel en Etan Coen maak ‘n
grap.
‘n Man wag in die metro, lees
‘n gids oor Parys en al die geykthede soos die Mona Lisa doem voor ons op. Hy begaan
die fout van die inconnu in die
groot stad: hy staar. Boonop word hy met ‘n peashootertjie geskiet deur ‘n jong seuntjie wat langs hom sit.
En aanskou ‘n betreklik
aggressiewe verhouding en word daarby betrek. Dit speel af in die Tuileries.
IV.
Maar hierdie film gee nie net
‘n blik op bourgeois-verhoudings en egskeidings nie. Dit lewer ook skérp
kommentaar op die aanwesigheid van swart mense uit Afrika in Parys en die
Moeslim-mense se ervaring van hierdie stad.
‘n Jongeling raak verlief op
‘n Moeslim-meisie en haar oupa begryp dit.
‘n Swart man, haweloos, word
besteel deur wit jongelinge.
Hy is passievol oor ‘n swart
meisie.
Maar sy het ‘n werk, ‘n
posisie. Sy is die paramedikus wat hom versorg na ‘n meswond deur xenofobe,
maar hy sterf.
Hy was ‘n ondergrondse
garage-skoonmaker.
In hierdie vinjet word die
hele komplekse verband tussen ras en klas ondersoek.
Dit speel af in die Place des
fêtes en Oliver Schmitz hanteer sake hier.
Daar is die verhale van die
blinde jong man – teen ‘n frenetiese pas word sy ervarings weergee -, daar is
die storie van die Engelse paartjie op hul wittebrood wat danksy Oscar Wilde
herenig. Die gees van Oscar Wilde waarsku hom dat indien hy haar verloor, sal
sy hart doodgaan…
Daar is ‘n Gotiese
liefdesverhaal met vampiere….
V.
In die Veertiende
Arrondissement, deur Alexander Payne, hoor ons die binnespraak van ‘n Amerikaanse
vrou: ‘n briewebesteller uit Denver, Colorado wat haar waarnemings oor Parys
gee in ‘n aaklige Franse aksent. Haar eensaamheid en haar patetiese uitsprake
oor Parys, is hartverskeurend. Dit word mooi gesinkopeer met die jongeling wat
vir ‘n ander een sê hulle is sielsgenote, maar hy kan nie ‘n kriesel Frans
verstaan nie…(Dit is in die afdeling Le Marais, gemaak deur Gus van Sant).
En dan som sy dit alles op
vir ons: haar ervaring van nostalgie.
Om sowel hartseer as gelukkig
te wees, te begryp en nie te verstaan nie…
VI.
O ja. Marianne Faithfull gooi
ook ‘n draai hier.
Hoe dan anders?
Haar Lucy Jordon besef dat sy
nog nooit deur die strate van Parys in ‘n oopdakmotor gery het nie…
The morning sun touched lightly on the eyes of
lucy jordan
In a white suburban bedroom in a white suburban town
As she lay there neath the covers dreaming of a thousand lovers
Till the world turned to orange and the room went spinning round.
At the age of thirty-seven she realised shed never
Ride through paris in a sports car with the warm wind in her hair.
So she let the phone keep ringing and she sat there softly singing
Little nursery rhymes shed memorised in her daddys easy chair.
33.
Miss Piggy
I.
Langs Die Tibetaanse Boek van lewe en dood en Harold Bloom se The Western Canon lê ‘n
gids tot selfverheldering, self-insig, ‘n ware gids tot beter begrip. Die boek
heet: Miss Piggy’s Guide to Life, met ‘n onderskrif: from moi to you.
Hierdie
nooit volprese, erg onderskatte aktrise, Miss Piggy, moet vandag lof
toegeswaai, nee vereer word.
Sy neem
‘n plek in langs Greta Garbo en Audrey Hepburn.
En Nicole
Kidman en Marilyn Monroe.
Miss
Piggy van die Muppets. The One and Only met haar lispelende Frans.
II.
Hierdie
semi-biografie word opgedra aan Kermit, “My Love, My Love, My Frog” en ja, ons
hoor Baudelaire hier saamfluister.
Die
leser word verruk deur al die geheime van hierdie grootse ster. Wat sy dink van
die lewe en liefde. Sy gee selfs raad oor die liefde, verklap haar diëte. Ons
verneem alles van etiket en wat ‘n mens te doen staan in moeilike
omstandighede.
Ook oor
die coiffure laat sy haar uit: hier het sy ‘n pruik soos Barbra
Streisand; daar troef sy vir Bo Derek met ‘n 11!
Haar
honger-impuls dieet is ‘n wenner. So klink dit op Woensdag:
4.14 pm
Twee koekies
4.34 pm
nog ‘n koekie
4.51 ‘n
handvol grondboontjies
en so
gaan dit voort!
Dis
duidelik dat Miss Piggy haar nie steur aan kalorie-tellings nie. Inteendeel.
III.
Wat het
van die Muppets geword?
En
daardie wonderlike films waar bekende akteurs dit as ‘n kompliment beskou het
om deur Kermit of Miss Piggy ‘n onderhoud te voer?
Ek
onthou ‘n Kersfees by my ouers in die tagtigerjare toe John Denver opgetree het
en’n mens was nie seker wie was die muppet en wie was die mens nie! By
geleentheid het Peter Sellers, ‘n groot komediant, alles verklap oor
komediant-wees: jy het geen kern nie, want jy word telkens ‘n nuwe persoon om
ander te laat lag…
IV.
Dis
nodig om weer te kyk na die muppets. Het die humor vir jou dateer of bring dit
heerlike herinneringe terug?
Is dit retro?
‘n
Muppet is volgens Jim Henson, die skepper van hierdie vermaak, ‘n woord waarin
ons marionet en puppet moet
hoor.
Tog
tree die muppets op sonder dat ons die poppemeesters kan sien. Die sagte,
antropomorfiese diertjies loop in vertrekke, speel kitaar of dans hul hartjies
uit. Miss Piggy is altyd stywe been en Kermit sit in sy groenigheid.
Daar is
selfs afstandbeheer. Hierom kan ons hulle sien fietsry of op ‘n bootjie sien
roei!
Die
muppets het al ‘n Oscar-aand bygewoon of in ernstige films ‘n kamee-optrede
gehad: Rocky III en An
American Werewolf in London. Larry King het
selfs met Kermit ‘n diepgaande onderhoud gevoer. Natuurlik was ‘n mens onseker
wie was wie. Kermit het immers gravitas.
In 2005
was daar ‘n reeks posseëls ter ere van die muppets en daar is sewe films en
verskeie TV-produksies, onder andere, The
Muppets take Manhattan (1984) as ‘n onthoubare film.
V.
Die
belangrikste bydrae van hierdie biografie oor die Faux-Grande Dame is die
dwarsklappe na Hollywood en die paddastoelverskynsel van selfhelpboeke.
Hollywood
wat Glans promoveer wat nie bestaan nie. Gaan koekeloer maar in die hangkaste
van akteurs en ons praat weer.
En dan:
selfhelpboeke.
Is daar
al ‘n sefhelpboek geskryf om jou te leer hoe om ‘n selfhelpboek te
lees/waardeer?
Die
Miss Piggy-boek is in high camp
geskryf.
OTT.
Over
the top.
Maar
lekker, hoor.
Gaan
kyk weer na haar en Kermie.
En
hulde aan Miss Piggy wat in ‘n film in opstand kom teen Sjinese kos:
“’n
Mens doen nie naaiwerk met ‘n vurk nie, hoekom moet jy met breinaalde eet?”
En RSVP
verstaan sy as: Runnez out and Shop for Votre Presents.
VI.
Kenners
van die mitologie sal waarskynlik veel kon skryf oor die keuse van ‘n vark en
‘n padda as hoofkarakters wat heerlike sosiale kommentaar lewer.
Op die
“Deck ‘Em or Decorum”.
En die
humor moet vermeld word.
Ons ken
almal Miss Piggy se wonderlike raad aan Dear Rattled:
My
hinges squeak, and the sound is driving me bananas. Is there anything I can do?
Haar
antwoord:
Try
hammering a prune into them. If the problem persists, add honey.
Bron:
Henry
Beard: Miss Piggy’s Guide to Life. Michael
Joseph Ltd., Londen. 1981.
34. Wim Wenders (1945 -)
I.
As
Werner Herzog nou met Klaus Kinski saam gewerk het, dan ons dieselfde opmerk
oor die verbintenis tussen Wim Wenders en Bruno Ganz.
Wenders
word as ‘n belangrike eksponent beskou van die sogenaamde nuwe Duitse film.
Die
meeste Suid-Afrikaanse filmkykers sal sy Paris, Texas (1984)
onthou en die grensverskuiwende Wings of
desire (1987) en knap The Buena Vista Social Club (1999).
En
dalk ook The
American Friend (1977).
Hy
is ‘n bekroonde filmmaker (Cannes en die Lorcarno filmfees is op sy kerfstok)
en hy het ere-doktorsgrade van die Sorbonne en Leuven universiteite ontvang.
Die UK het ‘n paar jaar gelede sir Richard Attenborough, die filmmaker van Gandhi,
só vereer.
Dokumentêre
films, musiekvideos (U2), advertensies vorm alles deel van sy ongewone
portefeulje.
Hy
studeer aanvanklik in die medisyne vir drie jaar, verander van koers (en
diskoers) deur te beweeg na die filosofie en die skilderkuns.
In
Montparnasse het hy glo tot vyf films per dag gesien in sy jong dae, iets wat
hy gemeen het met die meeste ander groot filmmakers, wat bekend is vir ‘n
volledig obsessionele belangstelling in die filmkuns.
II.
Waarom
fassineer Wings of
desire soveel kykers? Nou
onlangs kyk ek na Woody Allen se film Scoop en ek besef dat ons ook hier ‘n ondersoek na die
verbintenis tussen lewe en dood vind. Die ewige obsessie met die nadood of ‘n
hunkering na ‘n ewige lewe. By Allen bring die dooie ‘n boodskap oor wie ‘n
moordenaar is en dit is dus ‘n waarskuwing uit die ander oord.
Wings of desire is
geïnspireer deur die digkuns van Rainier Maria Rilke en die draaiboek is deur
Peter Handke behartig.
Die
film speel in Berlyn af. ‘n Stad van simboliek. ‘n Stad wat tydens die maak van
hierdie film steeds in twee dele verskeur was, te wete die Weste en die
Oos-Blok.
In
1998 word daar ‘n Amerikaanse weergawe gemaak van hierdie film: City of Angels met Meg Ryan en Nicholas Cage in die hoofrolle.
Slegs
die idee word nageboots, maar die film as sodanig kan nie naastenby die
subtiele en komplekse tekstuur van die oorspronklike handhaaf nie. Los Angeles
is immers nie Berlyn nie.
III.
Waarom
is ek hier en nie daar nie?
Waarom
is ek ek? Die vrou wat in die sirkus werk, bely dat sy ‘n foto van iemand
anders kry wanneer sy by die fotomasjien staan.
Dit
is die vrae waarmee die film begin.
In
hierdie film word die engele gekonfronteer met hul onvermoë om menslike emosies
te ervaar.
Of
om die swart merke van ‘n koerant op jou hande te sien.
Daar
is twee engele. In ‘n stadium sit die een by ‘n groot logo van ‘n Mercedes,
terwyl hy oor die stad uitkyk.
Wenders
gebruik die spel tussen wit/swart versus kleur om die verskillende dimensies
van die sienlike en onsienlike te verbeeld.
Wanneer
‘n karakter ‘n emosionele deurbraak maak, is daar kleur in die film.
Daar
word ‘n sentrale metafoor aangewend om die film se betekenis te verduidelik,
naamlik die sirkus (‘n plek van spel, voorgee, gevaar) waar die vrou as ‘n
sweefarties optree. Sy het dus vlerke en word ‘n soort halwe engel.
Die
twee werklike engele kan mense se gedagtes lees en voel wat hulle beperk of
onseker maak. Tog kan die engel nie keer dat ‘n man van ‘n gebou spring en selfmoord
pleeg nie…
Dan
is daar Peter Falk, vir ons bekend as speurder Colombo.
Peter
Falk vertolk die rol van Peter Falk, die Hollywood-akteur, wat besig is om ‘n
film te maak oor Berlyn se Nazi-verlede. En hoewel hy nie die engel kan sien
nie, laat hy weet dat hy hom kan aanvoel…
Dit
is ‘n besondere slim skuif om Falk hier as homself in te span wat ‘n derde
dimensie in die film bring, naamlik ‘n problematisering van die werklikheid.
Dit is iets waaraan postmodernistiese tekste aandag gee.
Wings of desire is in
1987 vervaardig en dit is ‘n film wat sy tyd vér vooruit was.
Die
oorspronklike Duitse titel is Der Himmel
über Berlin, letterlik: Die hemel oor Berlyn.
Die
film is al ‘n meditasie oor Berlyn genoem.
Damiel
(Bruno Ganz) en Cassiel (Otto Sander) is die twee engele wat kan hoor wat die
mense in Berlyn dink en voel.
Damiel
raak verlief op die sirkusmeisie.
Hierom
moet hy ophou om ‘n engel te wees en hy word menslik: hy sien kleure, ruik
geure,
drink koffie en bloei…
Falk
was skynbaar ook ‘n engel op sy dag.
Maar
die engele in hierdie film raak moeg van waarneem. Hulle wil voel, sien,
meedoen.
IV.
Dit
is ‘n film waaraan jy jouself moet oorgee.
Daar
is herhalende dialoog, gedigte, musiek en Solveig Dommartin het al die
sirkustoertjies glo self uitgevoer.
Bron:
Vir
die lewensloop en agtergrond oor die film, is die wikipedia geraadpleeg.
35. Battleship Potemkin
I.
Sergei
Eisenstein se klassieke rolprent, Battleship
Potemkin, is in die twintigerjare vervaardig
en beland altyd op ‘n lys van klassieke films. In Woody Allen se Love and death (1975) word ‘n huldeblyk aan hierdie filmmaker gegee,
weliswaar grappig, maar ten minste met erkenning aan sy belangrike bydrae tot
die sogenaamde montage-tegniek.
Die
film handel oor die Russiese rewolusie van 1905 en die kyker word deur pakkende
tonele geneem.
Rondom
vrot vleis ontstaan daar ‘n muitery aan boord en ene Vakulinchuk word
doodgemaak.
Dit
word vertoon in Januarie 1926.
II.
‘n
Film het nie ‘n grammar nie. Tog is daar onderliggende reëls soos dat ‘n film
wel sintaksis het. En veral die herhaling van beelde kan as sodanig beskou
word. Montage is letterlik cutting of editing.
Hierdie
proses vind ons by Eisenstein waar die leser bewus bly van die konstruksie van
die film. Kort skote word saamgevoeg om ‘n geweldige klomp inligting binne ‘n
kort periode vir die kyker te vertel. In die letterkunde vind is dit by die
sogenaamde ouktoriale roman waardaar opsommings gegee word vooraf van wat in ‘n
hoofstuk gaan gebeur sodat die leser dan bewus bly van ‘n soort ordende entiteit.
James Monaco skryf verhelderend oor die verskillende tipes montage.
III.
Die
film begin met Matyshenko en Vakulinchuk se verklaring dat hulle as seemanne in
die eerste linie staan vir hul broers, die verdrukte werkers. Dit is 1905. Die
kommandeur vra wie is ongelukkig met die kos. Dié wat durf kla, sal geskiet
word.
Daar
is opstandelinge, maar hulle word uiteindelik tog nie geskiet nie.
Vakulinchuk
word dood gemaak en in Odessa word sy liggaam in staatsie geplaas.
Hier
word die mense dan opgesweep.
Ons
sien hoe die mense deur die Tsaar se troepe afgemaai word. Die Wolfs noem dit
tereg ‘n sekwensie wat as één van die grootste tonele in filmkuns beskou kan
word.
In
hierdie geharwar onthou ‘n mens die toneel van die stootwaentjie met die baba
wat oor die trappe duisel. (Hierdie toneel en die een met die leeus, is al tot
vervelens toe gekaap deur ander filmmakers.)
‘n
Vrou word in haar gesig geskiet.
‘n
Seuntjie word vermoor.
IV.
In
die finale toneel is die skip daar.
Daar
is dan ‘n soort broederskap tussen die seemanne en die muiters. Die Wolfs wys
daarop dat in werklikheid het iets anders gebeur. Weens kosgebrek en ‘n olietekort
is die Potemkin in die Roemeense hawe Constanza vasgemeer.
Sommige
het ontsnap, sommige is gefusilleer of in die tronk gesmyt.
V.
Die
onderliggende boodskap van hierdie film is, en was, om vir onderdruktes te wys
dat opstand ‘n uitweg is teen onderdrukking. (‘n Mens dink weer hier aan Doctor Zhivago
wat weer ‘n ánder blik gee op die impak van ‘n latere rewolusie.)
Eisenstein
was nie net ‘n filmmaker nie, maar ook teoretikus. Hy het geglo in die mag van
die sinekdogee en ander digterlike stylmiddele. So gesien, het hy geglo dat
elke beeld ‘n belangrike boodskap moet oordra. Geen skoot word vermors nie.
Behalwe
vir sy unieke gebruik van die montage,
wend hy ook die sogenaamde typage
aan, naamlik die gebruik van gewone mense as akteurs. Dit, terloops, is iets
wat later weer in die Italiaanse filmkuns, veral in die Neo-Realisme gedoen
word, wanneer gewone mense eweneens as akteurs ingespan word.
Dieselfde
geld De Sica en Fellini: Otto e
mezzo bevat ‘n skare van
onbekendes.
Soos
Bergman, begin Eisenstein sy werk in die teaterbedryf.
VI.
Die
politieke dimensie van hierdie film is van kardinale belang en Eisenstein, soos
Lenin, beklemtoon die Wolfs, het geglo aan die mag van die filmkuns as ‘n
politieke medium.
Die
film is in drie maande vervaardig en soos met alle unieke filmmakers, het die
VSA belangstelling getoon, maar Eisenstein se projek van Dreiser se An American Tragedy het nooit die lig gesien nie. Sy komplekse manier van
films vervaardig, het nie daar oortuig nie.
By
sy uiteindelike terugkeer in Rusland, was daar kritiek op sy werk. Na die
aanvanklike jubeling, het die aanvalle hom sleg getref en sowel dit as die
politieke strominge het waarskynlik sy kreatiwiteit gedemp.
Tog
het hy bly klasgee aan die Instituut vir Kinematografie.
Daar
was wel ‘n hoogtepunt: Alexander
Nevsky, ‘n film wat handel oor
‘n inval in die dertiende eeu.
En
Ivan The Terrible, Part I &
II.
October (1927) is eweneens ‘n
onthoubare film, maar geen film het die tegniese impak op die filmkuns gehad as
die skitterende Battleship
Potemkin nie.
Bronne:
Francois
Truffaut: The films
in my life. Penguin, Londen.1975.
James
Monaco: How to
read a film. The Art, Technology, Language, Hstory and Theory of Film and Media. Oxford University Press, Oxford. 1981.
William Wolf & Lillian Kramer
Wolf: Landmark
Films – The cinema of our century. Paddinon Press Ltd, New York.
1979.
36. Sophia Loren
Sophia Loren
(La Donna Del Fiume)
Sofia Villani Sccicolone
hoerkind uit Pozzuoli
steeds sizzling en sexy
met ‘n Dior-bril
op 60 bekroon
as die mooiste vrou op aarde!
Gered deur Carlo Ponti
- bigamis - uit die slamse
is sy siedaar, vandaar
op die voorblad
en op almal se lippe
en soel drome.
“Alles wat jy sien,
te danke aan spaghetti!”, bely sy.
Die lewe bly ‘n prêt-à-porter
vir Sophia Loren.
“Kloning is sonde,” meen die Aartsbiskop
van Genoa,”...behalwe, behalwe
in die geval Loren!”
‘n Kortstondige tronkbesoek
word ‘n skoonheidsparade,
vergete die belastingontduiking.
Ons sing steeds saam
met Peter Sarstedt
“So where do you go to my lovely
when you’re alone in your bed?”
37. Meryl Streep
The devil wears Prada
Hierdie film waarin Streep die rol vertolk van
Miranda Priestley handel oor ‘n militaristiese empire-bouer in die klerebedryf.
Dit is Streep op haar stukke: oënskynlik hardvogtig, maar dit bly dat daar ‘n
sensitiewe persoon skuilhou wat die media vrees wanneer haar huwelik skipbreuk
lei.
Haar teenspeler is ‘n Cinderella-figuur wat
verkeerd aantrek en ontpop in ‘n pragtige meisie. Sy die plek in wat ‘n reis na
Parys beloof.
Sy kan haar egter nie die nuus meedeel nie en die
selfoon (die moderne Deus ex machina) red alles: daar is ‘n ongeluk en die
nuweling moet haar plek inneem. (Sy gee wel later die klere aan haar
teenspeler).
Die film werk rondom transformasie en wanneer ‘n
mens Vladimir Propp se Morphology of the folktale
trek is al die elemente van die feëverhaal hier: die weldoener, die bose feeks,
die onskuldige, ensomeer.
Andy, die inconnue, word egter deel van
die nuwe bestel en verloor haar vriende en mansvriend. Wanneer sy egetr ontdek
dat die nuwe man deel uitmaak van die komplot teen haar baas, verlaat sy hom na
‘n nag saam in Parys.
Sy lig Miranda in van die komplot teen haar; maar
Miranda is reeds ingelig.
Ironies genoeg skryf sy ‘n aweregse getuigskrif
vir Andy wat dan ‘n pos aanvaar by ‘n nuwe werk, naamlik in die regte
joernalistiek waar sy tuishoort. En wanneer Miranda haar teen die einde van die
film bel, gooi sy die selfoon weg, verlos van die klatergoudwêreld waaraan sy
eens (tydelik) behoort het. Alles kom tot rus. Die orde is herstel.
Die Draak Vrou en Sneeukoningin is eweneens
belangrike kodes.
Erkenning:
Hiermee
word erkenning gegee aan BY (Die Burger) waarin
die meeste van die filmrubrieke in 2007/2008 verskyn het onder die titel Flikkertyd.
Beard,
Henry. 1981 Miss
Piggy’s Guide to Life. Londen: Michael Joseph.
Duras, Marguerite,
1959/1961.
Hiroshima Mon Amour. New York: Grove Press,
Kael, Pauline. 1965. Kiss Kiss Bang Bang.
New York: Mario Boyers.
Modleski, Tania. 1988. The women who knew too much – Hitchcock and feminist theory.
Londen: Methuen.
Monaco,
James. 1981. How to
read a film. The Art, Technology, Language, Hstory and Theory of Film and Media. Oxford: Oxford University Press.
Mosley, Philip.1981. The Cinema as Mistress. Londen: Marion Boyars.
Paglia, Camille. 1994. Vamps & tramps. New
York: Vintage Books.
Palmer, Jerry. 1978. Thrillers - Genesis and structure of a popular genre. Londen:
Edward Arnold.
Salachas, Gilbert. 1969. Federico
Fellini: An investigation into his films and philosophy.
New York: Crown Publishers.
Sellers,
Michael. 1981. P.S. I
love you. Londen: Fontana / Collins.
Taylor, John Russell. 1978. Hitch.
Londen: Abacus.
Truffaut,
Francois. 1975. The films
in my life. Londen: Penguin.
Walker, Alexander, Taylor, Sybil, Ruchti, Ulrich. 1999. Stanley Kubrick: A Visual Analysis. Londen:
Weidenfeld & Nicolson.
William Wolf & Lillian Kramer
Wolf. 1979. Landmark
Films – The cinema of our century. New
York: Paddinon Press.
Tom Milne (red.). 1989. Time Out –
Film Guide. Londen: Penguin.
Internet:
Ankeny,
Jason. All Movie
Guide.
Martin
Scorsese: Mi Viaggo di Italia. 1995
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]