Monday, May 29, 2017

Julieta (Pedro Almodóvar, 2016)

I

In 2016 verskyn die rolprent Julieta van die Spaanse filmmaker Pedro Almodóvar.

Dit is gebaseer op drie verhale ("Chance", "Soon" en "Silence") uit Runaway (2004) van die Kanadees Alice Munro, wat die Nobelprys in 2013 verower het en die gesogte Man Booker in 2009. Sy word op die Nobelprys-lys geloof as die meester van die kontemporêre kortverhaal.

Twee uiteenlopende ruimtes en kulture. Kanada as afstandelik, beheers koud. Spanje as meer emosioneel; minder beheers dus.

Almodóvar transporteer hierdie gegewe na 'n Spaanse landskap, omdat hy glo nie kon identifiseer met die koue, onemosionele Kanada nie. (Woorde Wat Weeg/ Met ’n mond vol films/ PedroAlmodóvar. Besoek 28 Mei 2017).

Ek was nog altyd gaande oor Munro se kortverhale, so veel so dat ek 'n resensie in 'n briefvorm aan haar geskryf het. Dit was oor Too Much Happiness wat in 2009 verskyn het. (Woorde Wat Weeg / Alice Munro - Too much happiness, 2009. Besoek 28 Mei 2017).

II

Die film sny die verhouding tussen 'n moeder en dogter aan. Meer spesifiek, 'n kind wat uit weerwraak haar moeder met stilte straf, omdat sy voel dat die moeder verantwoordelik was vir die dood van haar vader. As dit nie vir hul rusie was nie, sou die vader nie daardie dag die stormagtige waters getrotseer het met sy vissersbootjie nie. Die kind se siening berus op 'n buitestaander se skinderstorie, iemand wat deel was van die familie vir baie jare en waarskynlik uit persoonlike onvervuldheid, stories aandra. Daardie persoon word vertolk deur Rossy de Palma, 'n ikoniese figuur in Almodóvar-films.

Emma Suárez en Adriana Ugarte vertolk die jonger en ouer Julieta.

Die verhaal begin in Madrid. Julieta is vervreem van haar dogter, Antia, en sy en haar vriend, Lorenzo, is op pad na Portugal. Sy wil egter nie meer saamgaan nie nadat sy in Bea vasgeloop het en verneem dat haar dogter in Switserland woon met drie kinders. (Die moeder is onbewus van die ware aard van die verhouding tussen die twee meisies, wat later tot gevolg het dat Bea vlug van Antia. Ten slotte wil Antia weer versoen met haar.)

Na hierdie ontmoeting gaan sy na die woonstelblok – die enigste adres wat Antia besit van haar – waar die jong meisies saam gewoon het.

Hier begin Julieta met 'n joernaal en die kyker van die film sien met terugskote van hoe sy haar man Xoan ontmoet het op 'n trein. Ons sien ook die onverwagse dood van die vreemdeling oorkant haar in die trein.

Toevallige ontmoetings: die man oorkant haar in die trein (wat selfdood pleeg) en die ontmoeting met die visserman Xoan word gesinkopeer met die verdere toevallige ontmoeting met Bea waarmee die film begin.

Xoan se vrou is in 'n koma. Hy nooi Julieta, 'n taalonderwyseres, na sy huis. In die agtergrond is Ava, 'n kunstenares met wie hy 'n verhouding gehad het.

Julieta is swanger met Xoan se kind. Sy trou met hom, besoek haar vader (met haar jong kind) wat op sy beurt 'n verhouding het met sy huishulp, terwyl haar moeder ly aan Alzheimer se siekte.

Sowel Xoan se vrou as Julieta se moeder is disfunksioneel.

Inmiddels gaan Antia op 'n kamp, ontmoet Beatrice. Op 'n subtiele wyse word 'n seksuele verbintenis tussen hulle gesuggereer.

Die twee moeders ontmoet. Xoan sterf op 'n vissersboot tydens 'n storm en Julieta vertel haar dogter hiervan.

In die wending vertrek Antia na 'n spirituele retreat (vir drie maande) en wanneer haar moeder met haar kontak probeer maak in die Pirenieë, word sy meegedeel dat sy, Julieta, nie deel is van haar spirituele reis is nie. Op haar 19e, 20e en 21e verjaarsdae ontvang sy verjaarsdagkaarte sonder 'n adres.

Hierdie aspek van die film word pynlik en grafies weergegee: die moeder wat telkens 'n verjaarsdag alleen vier en die verjaarsdagkoeke - in Antia se woonstel - wegsmyt.

Ava, Xoan se minnares, is ondertussen in die hospitaal opgeneem met veelvuldige sklerose en sy onthul aan Julieta dat Antia bewus was van 'n verhouding tussen haar en Xoan – en dat die skinderlistige huishulp verantwoordelik was vir dié onthulling.

By Ava se begrafnis ontmoet sy vir Lorenzo.

En in die hede loop sy vir Bea raak wanneer sy emosioneel uitgemergel na twee jong meisies kyk in 'n balspel. Hier onthul Bea aan Julieta dat sy en Antia geliefdes was – iets wat die kyker reeds weet. Antia se besoek aan die spirituele retreat het haar skaam gemaak vir hierdie aspek van haar lewe.

Hierom moes sy dus vir Bea afsny.

Daar is 'n ongeluk waneer Julieta oor die straat loop en deur 'n motor raakgery word.
Lorenzo ontdek 'n brief van Antia waarin sy bely (met 'n terugkeeradres agter op die koevert) dat sy 'n kind aan die dood afgestaan het en nou besef watter sy leed sy haar moeder aangedoen het met haar stilte.

Die film eindig waar Lorenzo en Julieta na Switserland reis om met Antia te versoen.

Vir die volledige plot besoek Julieta(film) – Wikipedia (Besoek 28 Mei 2017).

III

Hierdie gesprek tussen verhaal en film behoef 'n studie. Dit is sy twintigste film wat hy oorpronklik glo Silencio wou genoem het. Scorcese het egter in 2016 'n film met hierdie titel uitgebring.

Die gegewe word van Vancouver na Spanje verplaas en ondersoek die verhouding tussen vroue.

In Julieta se apartment in Madrid hang 'n Lucian Freud-afdruk. Hiermee word ‘n subtiele melancholiese kode in die filmteks ingedra.

Die film is meer dramaties as die subtiele, gelade kortverhale. Dié filmmaker is immers bekend vir sy hooggestemde films waar emosies en koors hoog loop.

Tog is hierdie film meer spiritueel en minder kamp as sy vorige werk.

Dit is Almodóvar se vertolking of interpretasie van die gegewe. ‘n Mens lees Munro se verhale, geskryf in ‘n ander sleutel, op ‘n ander manier as die film.

Beide is indrukwekkende tekste.

Slavoj Žiżek se bekende uitspraak in The Pervert’s Guide to the Cinema kom weer na vore: begeerte is die wond van realiteit; overgesetsynde: begeerte (desire) bestaan, omdat realiteit onvolledig en gebroke is. En wanneer ons pyn (ellende) ervaar, word die koōrdinate van ons realiteit versteur.

Beide Julieta en haar dogter se lewens is versteur. Die film eindig gelade en jy moet as kyker self besluit of daar wérklik versoening kan wees. Miskien tog wel, maar nie ‘n opheffing van die leed aangedoen nie.


Pedro Almodóvar

Pieter Fourie – Knapsekêrels (2017)



Pieter Fourie – Knapsekêrels. Naledi, 2017. ISBN 978-0-928316-47-6

Resensent: Joan Hambidge

Pieter Fourie is 'n gesiene Afrikaanse dramaturg en een van die grotes. Die mees gepubliseerde en bekroonde dramaturg, dié is hy.

Hy debuteer onverwags met 'n pragbundel Knapsekêrels met kontreiverse wat sterk herinner in stylaard aan Van Wyk Louw se Klipwerk-reeks. Louise Viljoen se bekende artikel "Digterlike gesprekke met N.P.Van Wyk Louw" (2008; Besoek 20 Mei 2017) wys op al die gesprekke met Louw. Ook hierdie digbundel is dan 'n belangrike wederwoord of voltooiing.

Hierdie bundel neem 'n mens vérder terug na Ezra Pound se vers "In a Station of the Metro" (1913):

The apparition of these faces in a crowd;
Petals on a wet, black bough.

Hierdie kort kriptiese vers (wat net 14 woorde het) is al beskou as 'n mini-sonnet.

Dan is daar TT Cloete se briljante analise van Van Wyk Louw se vers "dat akkers op die sinkdak val/ en vye op die ringmuur breek" wat die leser attent maak op die kompleksiteite wat opgesluit lê in sulke skerfies gedigte. Cloete beklemtoon dat jy as leser die gedigte moet "voltooi". (Een gedig is meer as een | T T Cloete | Literator. Besoek 16 Mei 2017).

Boerneef, ons ander groot volksdigter, staan skielik op uit die dode, o.a. in  Breytenbach se Die na-dood en Johann de Lange se ‘n Hunkering se grein.

Fourie praat dus met gekanoniseerders, hier te lande en buitelands. Die handige woordelys agterin die bundel maak die gedigte "oop" vir die leser onbekend met streekgebonde woorde, en help om die gedigte beter te begryp. Fourie, soos wyle Anton Prinsloo, een van my helde, bewaar "annerlike" Afrikaans.

Hierdie soort skerf-gedig, soos hierdie leser dit tipeer, word dikwels geskryf deur ‘n volwasse digter wat terugkyk op sy jeug. Dis verse gevul met nostalgie, verlange en pyn; van ‘n wêreld wat vir ewig verby is. Johann de Lange skryf tereg in die blakerteks dat sowel die taal- as die emosionele register wyd is. Kortom, dit is nie die soort gedig wat ‘n jongeling sal kan skryf oor sy jeug nie. Fourie is 77, wat hom ‘n ou-debutant maak en die oudste in Afrikaans. Maar sy ouderdom is net tersaaklik wat die terugkyk-aksie betref. Gebore en getoë in Philippolis, gee hy vir ons sy “hardnekkige knapsekêrels” digterlik weer. Pound se gedig aktiveer die dood van mense tydens die Eerste Wêreldoorlog en sy kennis van die Japannese digvorms (soos die haiku), word ‘n wrang-ironiese kommentaar op die oorlog.

Fourie skryf boere-haikoes. Punt-digte. Onvoltooide verse wat wag vir invul en klaarskryf. Die gedig as blokkiesraaisel vir die leser.

Van Wyk Louw se “Klipwerk”-reeks is volksliedjies en guitighede wat hy aangepas en verdigterlik het. Pieter Fourie se gedig “voorbode” (111) het dieselfde ingeboude premonisie as Pound se vers:

voorbode 

’n ouvolk sit
op dophouklip 

skielik gil
tinktinkie skril

 in huisnok skuil
die nonnetjie-uil 

dan kou die lam
aan doodsnot van 
witappeltjie 

Witappeltjie as die giftige karoobossie wat die gevreesde gousiekte by skape veroorsaak, word hier met die ouvolk, ‘n primordiale dier verbind. Die uil is eweneens ‘n simbool van die dood wat die leser wat moet voltooi en neem na Jeanne Goosen se ‘n Uil vlieg weg (1971).

Maar dis alles net dood en ellende nie. Daar is ook humor – soos by Louw – met verwysings na idiome soos “die swart varkie skrou”, oftewel die drang na drank (of onttrekkingsimptome) of ‘n “lekmy” wat ‘n oorvol bottel wyn beteken. Of “ou snuif” vir die vroulike jy-weet-wat.

By Louw is die skunnige eweneens aanwesig. Kyk hoe laai Fourie ‘n varkblom met seksuele innuendo (103). Die reeks “los kraletjies” (59) is ‘n hoogtepunt in hierdie bundel met sy speelse aanslag:

2 

tietermantollie
tonteldosie
in knippievlam
kring ons krosie

En hoe pragtig om te verneem van die “bokwagter” (39) se kaviaar in die diep Tankwa.

Wingerdgriep 

my baaisiekel se naam
nugter-en-dronk
dorp toe nugter, huis toe dronk 

ai, toggie, ai
swerkater
ou swartmaraai 

tortel kan buite koer
maar my tessie
kom deur tralies loer (86)

Die verskillende afdelings snoer die gedigte saam: kiekie, knelter, oumeidsoen, veervolk, goljaartjie, duwweltjie, stilte. (Goljaartjie beteken vrolikheid!)

Die "kartetsies son" in hierdie gedigte dra jy met jou saam met groot plesier. Die gedigte is dikwels klein dramas met 'n poelpetaanjol. (Dit verwys na die tarentaal.)

Die gedig "voorland" (134) is weer 'n besinning van verskillende landskappe en die wete dat ons uiteindelik beweeg van verneukpan, na buitepos tot by bokveld.

Bekende akteurs word aangespreek en die digter-literator Merwe Scholtz wat op sy dag besinnende essays oor Louw geskryf het. "gebed" (116), 'n pynlike lykdig, word aan Chris Louw opgedra.

‘n Man wat só kan dig, verdien al die akkolades. Om so ‘n “geurtjie in gebeurtjie” om te sit, vereis ‘n vaste hand én oor. Pieter Fourie het met hierdie digterlike oes iets presteer: min woorde, maar baie implikasie én nadink. Die digkuns as klokhelder stilte.

Naledi uitgewers het hier 'n belangrike bundel gepubliseer en hiermee ou woorde aan die vergetelheid ontruk.

Pieter Fourie (Foto: Conrad Bornman)

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)