Tom Lanoye - Koningin Lear (vertaal & verwerk deur Antjie Krog). Protea Boekhuis, 2019. ISBN 9781485310693
Resensent: Joan Hambidge
Afrikaans het ‘n lang galery van uitmuntende dramaturge: Adam Small, P.G. du Plessis, Pieter Fourie, Bartho Smit, Reza de Wet en ‘n hele boel jong stemme. Die publikasie van Tom Lanoye se Koningin Lear is ‘n belangrike toevoeging tot ons dramaskat.
Dit is vertaal – en herdig – deur Antjie Krog en so word daar dan aangesluit by die hele vertaalprojek tussen Afrikaans en die Lae lande. Hierdie skitterende toneelstuk sluit aan by die moderne tradisie om Shakespeare vanuit ‘n ander genderperspektief te beskou of om die bekende gegewe te moderniseer. Ethan Hawke vertolk Hamlet in ‘n moderne New Yorkse familiebesigheid in die indrukwekkende film van Michael Almereyda (2000).
Verder terug in die tyd: Roman Polanski se interpretasie van Macbeth.
Dié samewerking tussen Krog en Lanoye is nie die eerste nie. Daar was ook medewerking met Mamma Medea in 2001.
Lanoye se teks word “vry na Shakespeare” aangebied met ‘n motto wat daarop dui dat ons in die tyd is waar alles beheer word deur familie dinastieë. De Montaigne rig die teks vérder met En attendant Godot van Samuel Beckett, Waiting on Godot, ‘n teks wat vir hierdie tyd waarskynlik die grootste rigsnoer is. Absurde eise, korrupsie, self-genoegsaamheid en narcisme kom aan bod. (Met die impak van Steinhoff as 'n subteks.)
Alles wat dus nie deur die karakters uitgespreek is nie, kom ook aan bod (die sogenaamde didaskalia). Die ingangsportaal se marmer en matglastoegangsdeure; wêreldhorlosies en verwysings na panieksituasies: werknemers wat toyi toyi, beursvloere in paniek, klimaatsgeweld (64).
Hoe meer alles verander, hoe meer bly dit dieselfde.
By die lees van hierdie teks – mooi uitgegee met Antoinette Kellerman op die voorblad – is my herbesoek van die teks sterk beïnvloed deur my teaterervaring met Marthinus Basson as die regisseur in die Baxter in Kaapstad.
Hierdie produksie het weer eens bewys wat ensemble-spel behels: Kellerman as Bettie Lear teenoor Robert Kent, haar regterhand (vertolk deur André Roothman). Haar drie seuns (Greg, Henry, Corneltjie) word goed in beheer gehou deur die twee skoondogters: Connie en Alma. Dan is daar Oleg (die verpleër) en ‘n junkie. Wilhelm van der Walt, Edwin van der Walt en Neels van Jaarsveld het die verskillende fasette van die broederskap weergegee teenoor die oorspronklike teks waar daar dogters is.
Lanoye ontgin eweneens die idee van familiehaat en hoe daar gevlei en witvoetjie gesoek word ter wille van eiebelang. Die gegewe word gesitueer in megalopolis – voor en na ‘n storm.
En dit word gesinkopeer met binnestorms: die een vrou se kinderloosheid; die ander een kitsch en vol eiewaarde, met Rolanda Marais en Anna-Mart van der Merwe as vertolkers.
Wanneer ‘n mens ‘n teateropvoering beleef, mis jy dikwels belangrike dialoog en skakels. Hierdie teks het die eerste ervaring nog groter gemaak.
So klink Lear op bladsy 130:
Ons giggel, ons pleeg horribale laster
Uit die koerante waar ons onder slaap.
Snags stry ons vir die grap oor besighede!
Wie van die beursbedrieërs sneuwel eerste,
Of wen? Wie is nog in, en wie al uit?
…
En ek die ponzi schemers, the old boys,
The Stellenbosch élite en die Sjinese,
Almal in eb en vloed net aan die maan
Gehoorsaam …
So word alles flink binne ons konteks geplaas met al die slangkuile van bedrog.
Wanneer die Koningin in spanning verkeer, is haar taal op die spits gedryf en dus poëties:
"'n Tumor met die voorkoms van 'n mens,
'n pitsweer wat ek met 'n seun verwar ..."
En:
"'n Hond, 'n perd, 'n rot besit 'n lewe.
'n Asem. Jy nie. God dis tog 'n skande!"
Wanneer jy hierdie reëls skandeer, is die sluimerende woede sigbaar.
Lanoye en Krog herposisioneer Shakespeare. In die vertaling word die teks "huis toe gebring" in die vertaalkenner Lawrence Venuti se terme, omdat dit aards is en vol verwysings na ons hier-en-nou. Soos die akteurs se vertolkings ensemblespel weergegee het, is hier 'n vennootskap tussen Krog en Lanoye.
Sowel Krog as Lanoye is vreesloos (vir sommige mense grensoorskrydend). In die produksie weet Marthinus Basson ook hoe om dit reg te vertolk. Hy het immers Breytenbach se werk geregisseer.
Die ondersoek van waansin en demensie en die afbraak van taal is imposant. En kyk hoe word die "fool" in die oorpronklike teks nou 'n nuwe raadgewer.
George Bernard Shaw het glo gemeen dat King Lear die grootste tragedie is wat die meester geskryf het. Met Koningin Lear in Afrikaans het ons ‘n teks waar twee kreatiewe talente die teks toe-eien en nuut maak.
Nuwe wyn in ou vate.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)