Bladsye / Pages

Friday, March 1, 2013

Rustum Kozain - This carting life (2005)



Rustum Kozain. This carting life. Kwela, 2008. ISBN: 0 7957 0198 5.

Resensent: Joan Hambidge

Rustum Kozain se gedigte in This Carting Life aktiveer ‘n komplekse verwysingsveld: Van Wyk Louw, Mandelstam, Heaney, Derek Walcott, Edward Said, e.a. Hy gebruik die digters of teoretici op ‘n wyedoek waarteen hy sy eie lewenservarings flits. Sy lewe as ‘n Paarlse kind, boonop bruin, skerpsinnig èn sensitief, word vir die leser onthul. Veral sy vader is die belangrikste fokuspunt in hierdie eg, ontroerende bundel waarin die lewe gesien word as ‘n pelgrimstog en sowel herinneringe as ervaringe verpak word in bokse soos onthul word in die sentrale gedig “This carting life”.

‘n Sentrale vers waarin Kozain se tegnieke ten toon gestel word, is “February moon: Cape Town”, ‘n sterk kreatiewe besinning oor die liefde en verlies waarin die digter besef:
“how my modernism limits love”.

In hierdie stelling word ‘n kode vir die leser gegee, net soos in die klein bibliografie, dat tekste inspeel op ander tekste en dat die liefde gesien en alleen begryp kan word deur ander tekste.  In “Walking home with Mandelstam” is daar dan die wete dat hy as’t ware deur die “tweede sneeu” loop met hierdie digter wat ook op ongeregtighede gewys het. Die hele bundel sit dan vol toespelings op bekende digters en Van Wyk Louw word as ‘n motto gebruik!

Familieportrette is eweneens iets waarin hierdie digter uitmunt. Die vreeslose besegging van ‘n eenvoudige jeug waar ‘n vader saans in ‘n orkes nie vir ekstra geld nie, maar om te kan dans en die eenvoudige lewe te ontglip, is ‘n kragtoer. “Talking jazz” vertel hoe hulle speel in wit hotelle, dans en uiteindelik is dit die kind wat kyk na die gate wat die “double bass” in die linoleum laat.

Die digter het ‘n voorliefde vir die langer gedig soos “Brother, who will bury me?”. Die gedig lewer relevante kultuurhistoriese kommentaar, maar dit word op die duur te lank en uitgesponne.

Die beelding van familiebyeenkomste word in reliëf geplaas met ‘n ander dwingende familieskap, naamlik die digkuns. Die gesprekke met Derek Walcott en die subtiele toespelings op Robert Lowell en John Berryman, maak van hierdie bundel ‘n besonderse leeservaring.  (Die glossarium is vir die non-Afrikaanse leser van nut, soos by Gabeba Baderoon wat soos hierdie digter in Engels dig, maar Afrikaanse verwysings aktiveer.)

Louw se Nuwe verse is ‘n sleutelteks: ‘n bundel waarin die jeug in oënskou geneem word en die skerpsinnige jong kind geskep word deur die ouer digter. Kozain neem hierdie tematiek nog verder: hy laai sy gedigte met politieke motiewe soos ‘n vernederende ervaring waar hy en sy familie as “kelurlingmense” weggewys word by ‘n piekniekoord, omdat die plek sou vol wees vir “hulle”. Hierdie aandoenlike vers, “Kingdom of rain”, verdien om in elke bloemlesing opgeneem te word, omdat die hele kleinlike geskiedenis van apartheid hierin saamgevat word. Die digter skryf sober, beheersd en juis hierom het sy gedigte so ‘n geweldige impak op die leser. Die aanslag is nie raserig nie. Die aanklag of verwyt word deur poëtiese tegnieke in beheer gehou.

Miskien is die ander belangrike aspek van hierdie bundel dat dit nie bloedloos is nie, maar inspeel op ‘n Afrikaanse tradisie van dig. Kozain versoen as’t ware twee tradisies in hierdie bundel: die lot van die eens verdrukte (soos by Adam Small en Philander) en die sterk intertekstuele tradisie bekend aan veral moderne Afrikaanse poësie.

Dit is ‘n bundel wat hierdie leser met oneindige plesier gelees het. My eksemplaar sit vol donkie-ore. Dit praat met ander digters en daar ‘n sterk bewustheid van die self binne ‘n postkoloniale wêreld waar waarhede nie meer bestaan nie. Die digter verset hom teen ander se oorheersing. Deurgaans bly ‘n mens bewus van ‘n weerlose èn weerbare ‘ek’ wat die politiek, die liefde, eensaamheid` èn familie beskou.

Dit is bundel met ‘n handvol verse wat werklik imponeer. Soos “Rain in May, Cape Town” en “Conversations with my father”.  En natuurlik: die reeds genoemde “February moon: Cape Town” waarin die digter onbeskaamd sy liefde vir die digkuns bely soos in ‘n gesprek met Seamus Heaney. Die reeds genoemde “Kingdom of rain” en “Diaz Beach, Mossel Bay” tel eweneens as uitstaande verse.

“On my table, poems
are coasters: whisky rings
blur and blot the pain.” 

(“February moon: Cape Town”)

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]