I
Alfonso Cuarón verstaan filmtaal. Hy is soos Andrei Tarkofsky, die Russiese filmmaker wat elke vinjet met 'n simbool laai. Roma, verfilm in 2018 speel tydens 1970-1971 af. Die film begin met die huiswerker Cleo (Yalitza Aparicio) wat die stoep met water afwas in Colonia Roma in Mexiko Stad. Dit is die begin van die sewentigerjare. Dit eindig met 'n vertrekkende vliegtuig.
Daar is 'n hond wat drolle los. 'n Deurmekaar huis met jillende kinders. Antonio, die dokter, wat kwansuis na Kanada gaan vir 'n kongres maar wat klaar is met sy huishouding. Hy het 'n minnares. En die moeder, Sofia (Marina de Tavira) wat sy verwyte oor 'n oorvol yskas vol ou kartonne moet aanhoor, probeer die kinders beskerm teen sy verlating.
Dit is die verhaal van 'n vrou en haar bediende; van ’n vrou deur haar man gelos, in jukstaposisie met dié van ’n huiswerker eweneens versaak. Die bediende raak swanger by 'n minnaar Fermín (Jorge Antonio Guerrero) wat op sy beurt gevegskuns beoefen en deel is van die Los Halcones (The Hawks), 'n groep opstandelinge.
Die twee minnaars gaan kyk na die rolprent La Grande Vadrouille, en sy bely dat sy dink sy is swanger. Fermín staan op en keer nie terug nie.
La Grande Vadrouille, verfilm in 1966, is een van die mees suksesvolle Franse komedies. Dit handel oor twee Fransmanne wat die Engelse wie se vliegtuig afgeskiet word, help om te ontsnap tydens die WOII in Parys.
Dus die groter politiek teenoor die kleiner menslike drama.
In die hospitaal tydens 'n aardbewing val sement op 'n sterwende baba in 'n broeikas. (Dit waarsku jou as kyker dat Cleo se baba gaan sterf.) Tydens 'n vuur by 'n nuwejaarsfees word die kyker bewus van 'n vurk wat nie verwoes word nie. Hierdie vuur onstaan toe werkers in opstand kom teen die landhere. Wanneer Cleo weer haar minnaar tydens 'n opstand sien, breek haar water.
In 'n pynlike toneel skenk sy geboorte aan 'n stilgebore babadogtertjie en die regisseur laai hierdie toneel met geboortegille van ander vroue wat jou as kyker (en toehoorder) skok. Regdeur die film word klank ingespan om 'n emosionele boodskap op die skerm te laai met verwysings na ander films. Waar die vader sy groot motor telkens perfek kon parkeer langs die huis is die moeder nie in staat om dit te doen nie.
Een nag wanneer sy dronk is, skraap sy die groot motor. Die vader daarenteen kom wel deur die nou gangetjie – soms met agteruit ry, maar dan tog in.
Sy koop 'n smaller Renault. Vir oulaas ry hulle wel met die vader se Galaxie see toe. Die motor funksioneer as 'n simbool van die welvaart (en beheer) wat hulle eens beleef het.
Tydens 'n vakansie by Tuxpan, wanneer die moeder die vertrek aan die kinders moet bely, red Cleo in 'n pakkende toneel die twee kinders uit die see. Tydens hierdie besoek, sal hy sy boeke en boekkaste neem.
By hulle terugkeer is al die boeke op die vloer gelos. Die vader het inderdaad die boekrakke geneem en die huis word anders beleef, deur sowel die moeder as die kinders.
Die ouma, ’n matriarg, neem Cleo om 'n bababedjie te gaan uitsoek. Op hierdie oomblik word ons bewus van 'n rumoer buite die winkel en Cleo besef met skok dat haar minnaar deel is van die opstande. Die toneel waar hy vir Cleo sy gevegskuns naak ten toon stel, word nou met verdere ironie gelaai; nes haar besoek aan die militêre parade waar hy en ander jongelinge onder 'n meester opgelei word.
Die kinders in die film se spel is uitstekend. 'n Kind luister sy ma se foongesprek af. 'n Boetie gooi 'n klip na sy broer wat die venster breek. Die jongste een is 'n skattige ou sieletjie wat wyshede kwytraak.
In my gemoed word die romans van Carlos Fuentes, soos Todas las familias felices (Happy Families) wat in 2006 verskyn het, deur Roma geaktiveer.
II
Hierdie film kry ongelooflike goeie reaksies en word gekortlys vir bekronings. Sommige meen dit is 'n outobiografiese verslag; ander beoordeel dit net as film.
Dit is as artefak aanskoulik vol slim verwysings en filmiese simbooltaal.
Gérard Oury se film La Grande Vadrouille is 'n belangrike kode: jy word tog altyd onverwags gehelp deur iemand ...
Sofia en die kinders gaan kyk na Marooned (John Sturges, 1969) – ’n film oor drie ruimtereisigers wat vasgevang is in die ruimte en uiteindelik versmoor – wanneer sy haar man en sy minnares gewaar.
Hierdie kyker vind die feministiese boodskap eweneens belangrik.
"Vroue is altyd alleen," bely Sofia.
Sy kry egter na haar man se versaking 'n nuwe werk: sy word 'n uitgewer van boeke ofskoon sy opgelei is as biochemikus.
Dat 'n manlike regisseur met soveel deernis na die lot van 'n gegoede middelklas vrou en iemand uit die werkerstand kon kyk, is besonders.
Daar is geen androsentriese blik hier nie. Dit is die sensitiewe blik van 'n manlike regisseur wat wys hoe vroue se lot deur mans bepaal word.
Wanneer Cleo geboorte skenk, hoor ons die gille van ander vroue in die hospitaal.
Om geboorte te skenk, is pynlik en selfs ontstellend.
Die groter manlike gevegte en die natuur word geplaas teenoor die menslike dramas van geboorte skenk en versaking.
© Joan Hambidge