Bridget Pitt. Unbroken
wing. Kwela Books, 1998. ISBN 0 7957 0071 7.
Resensent: Joan
Hambidge
Unbroken wing van Bridget Pitt is 'n debuutroman wat besonder dig
geskryf is. Geen wonder dat Kwela Boeke saam met Random House dit opgeraap het
nie!
Ruth Woolley se blik is 'n vroulike en soms satiriese
een. Die gegewe is die “struggle” van die laat tagtigerjare en welke eise dit
aan mense gestel het. Ruth se vriend, Jack, 'n bruinman is in die tronk op 'n
terrorisme klag. Op die koop toe is sy swanger en die hele Kaapstad van daardie
tydperk word baie goed waargeneem.
Maar goddank nie met die hovaardigheid en
beterweterigheid van die “crunchie granolas” nie. Dit is gelaai met humor en
menslikheid. Ruth se universiteitsjare aan die Universiteit van Kaapstad word
ook goed vertel. Ook haar verblyf in Fuller Hall, jeugdige eksperimente met
dagga en grappige boodskappe op die kennisgewingborde, maak van hierdie
studentetydperk 'n lewendige stuk wat 'n mens dikwels laat skater van die lag.
In die hede vermoed sy dat sy swanger is. Die besoek aan
die dokter - en sy reaksie op haar - is werklik uitstekend vertel. Op die koop
toe is daar briewe tussen haar en die baba, Eliot.
Pitt wissel haar vertelling af met goedgekose motto's
uit bekende Engelse tekste. Die romantitel is af te lui uit T.S. Eliot se Ash Wednesday. Die roman handhaaf 'n
goeie balans tussen die privaat-emosionele en openbaar-politieke. Hierdie leser
is van mening dat dit ook gelees kan word as 'n goeie dokument van die
“struggle”-jare in Suid-Afrika en hoé dit was om 'n pers-mens te wees.
Ook buitelanders sal hierin iets te wete kan kom van
Suid-Afrika van die tumulte tagtigerjare. Tog verloën die roman nooit die
eerste funksie van die roman nie, naamlik om 'n storie te vertel en karakters
so goed as moontlik uit te beeld.
Hierin slaag Ms Pitt bepaald. Vir my is die mees
onthoubare aspek die wrang-ironiese blik op alles. Sy skryf nie
ongenuanseerd-woedend oor haar ervarings of indrukke nie, maar temper dit met
afstand. Bepaald word die ironie binne die liefde behou!
Wanneer die baba gebore word, is dit 'n dogter en die
geboorteproses word besonder beeldend beskryf. Die leser besef ook dat die
Bridget Pitt waarskynlik hiermee 'n soort simboliese kommentaar wil lewer: die
geboorte van 'n kind dui op die geboorte van die nuwe Suid-Afrika.
Sy gee gelukkig nie maklike of enkelvoudige oplossings
nie. Dit is 'n goed geskrewe, onderhoudende roman. Daar is vele onthoubare
passasies, byvoorbeeld hoe 'n karakter Patience speel in die tronk met kaarte
wat geknip is uit 'n beskuit-boksie; die soektog na 'n verlore brief; die
verbyry in 'n Mini sodat die wag voor die Mount Nelson hotel die verteller kan
salueer. (Ook die geboorteproses is goed vertel; ofskoon 'n bietjie grillerig!)
Nou onlangs het 'n Afrikaanse skrywer vir wie die
hoogste agting het, beweer dat daar in hierdie land net te veel romans sonder
diepte gepubliseer word en dat ons die gevaar staan om 'n letterkunde van
middelmatigheid te word. Bridget Pitt se Unbroken
wing is bepaald nie so 'n roman nie.
Dit is met oortuiging en emosionele diepte geskryf. En
die taalbeheer is manjifiek.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]