Karin Cronjé. Vir
'n pers huis. Human & Rousseau, 1998. ISBN 0 7981 3878.
Resensent: Joan
Hambidge
Vir 'n pers huis – deur Karin Cronjé – is meer as 'n konvensionele
roman. Dit is eintlik 'n individuasieverslag van 'n vrou wat verlaat word deur
haar man en skielik gekonfronteer word met die feit dat sy altyd deur hom moes
leef en waarneem.
Aanvanklik moet die man, die skrywer, haar verhaal
goedkeur, maar soos hulle verhouding al hoe meer verbrokkel, besef sy dat haar
krag in haar eiewaarde en kreatiwiteit opgesluit is. Sy ontmoet ook 'n maestro.
Dit is dan ook 'n teks wat verskillende psigoanalitiese
interpretasies ontlok. Die huis in Freudiaanse terme is 'n vergestalting van
die self; die maestro (meester) is die 'magician' of towenaar in die Tarot.
Daardie kaart wat spesifiek gekoppel word aan 'n transformasieproses en ook vir
kreatiwiteit staan.
Dit is 'n ontsettende eerlike en weerlose teks. Dit herinner
aan die wrang-sardoniese konfessie van Erica Jong (Fear of flying) en Marita van der Vyver (Griet skryf 'n sprokie). Dit is veel meer getransformeer as
Rachelle Greeff se Al die windrigtings
van my wêreld wat halfpad té sterk op 'n blote numerasie van die
werklikheid steun.
Die leser word gekonfronteer - soos dikwels dan ook
feministiese tekste gebeur - met 'n openhartigheid. Daar word geskryf oor
masturbasie, menstruasie, oor 'n man wat nie meer wil vat nie, oor
gewigsprobleme en ander sake van die lyf. Kortom, dit wil opsetlik die mooi,
fraaie blik van die SARIE-agterblad aan die kaak stel deur juis die leser te
neem na die ruimte van ontnugtering. In hierdie verband is die onanistiese
moment wat tot 'n skildery van die self geteken word 'n markante voorbeeld.
Nie om dowe neute nie word daar begin met 'n resep vir “Spog-wortelkoek”. Maar daar
is geen resep vir die hantering van eensaamheid en verwerping nie. 'n Poging
tot 'n nuwe flirtasie (is dit werklikheid of fantasie, wonder die leser saam
met die eggenoot?) word bederf deur menstruasie.
Die teks is geskryf met die vaart so kenmerkend aan alle
individuasie-tekste. (Hierom, waarskynlik word die teks aan haarself
opgedra.) Dit vra om saam met Clarissa Pinkola Estés se wonderbaarlike Women who run with the wolves gelees te
word.
Die boek is in 'n liriese toonaard geskryf en 'n mens
ervaar die pyn van afwysing èn die innerlike transformasie van die
hoofkarakter. Ook is die Engelse passasies tersaaklik in hierdie teks omdat dit
afstand skep tussen die intense belewenis en die verdraaiing daarvan.
Ook die vriendskap met Johannatjie, 'n mede-skrywer, is
relevant vir die begryp van die vrou se gemoed. Háár agterbaksheid is ook 'n
rede vir die vrou se verdere indelf in haar self.
Dit is 'n pynlike analise van die wete dat skryf 'n
byproduk van die lewe is, maar ook 'n terselfdertyd 'n ontvlugting word in tye
van nood en verdriet.
Dit is 'n roman wat 'n mens op 'n realistiese vlak as 'n
blote storie kan lees of op 'n transformasie/spirituele vlak. Die hoofkarakter
word in Tarot-terme met die maan verbind, dit wil sê, die kaart van illusies en
valse liefde. Ten slotte is daar wel bevryding. En heling.
En soos dikwels met individuasie-tekste die geval is:
die begin is die einde; die einde die begin.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Rapport geplaas.]