Eben Venter. My
simpatie, Cerise. Queillerie Uitgewers, 1999. ISBN 9780795800047.
Resensent: Joan Hambidge
Om na Ek stamel ek
sterwe weer 'n roman te lewer van impak, kan waarskynlik nie onmiddellik
verwag word nie. Maar Eben Venter se My
simpatie, Cerise is 'n goeie roman.
Dit dra ook die stempel van
Venter-vintage: gedronge
taalgebruik, 'n vreemde, onverwagse draai in 'n verhaal en 'n meditatiewe
aanslag in die derdepersoonperspektief.
My simpatie, Cerise vertel die verhaal van 'n tuinier, Robert en sy
komplekse verhouding (die verteller sê, relasie)
met 'n meneer en mevrou Cox. Dit is Australië, en meer spesifiek Melbourne.
Daar is die Olimpiese bod en geldmaakskemas. En ander vorme van agterbaksheid
wat hier aan bod kom.
Die boek wemel van interessante aspekte van die
Australiese leefwyse wat verduidelikenderwys aan die leser oorgedra word.
Venter skep 'n slim truuk deur sy hoofkarakter Iers te maak en asof hy hierdie
vervreemding meemaak. Die uiteindelike bedoeling is natuurlik om die Afrikaanse
leser te bereik.
Die sekstoneel tussen Tiffany, die dogter, en die
Japannees bewys dat daar min stiliste is
wat by Venter kan kers vashou. 'n Mens sien en ruik hierdie interaksie. Die
grootste wins in hierdie boek is die subtiele inligting wat die leser kry oor
die karakters. Byvoorbeeld 'n bisarre droom van Mevrou Cox waarin soveel van
haar karakter verraai word; of Robert wat terugdink aan sy Mammy wat haarself was
oor die kombuiswasbak.
Op 'n uiters subtiele en ekonomiese (en dikwels
poëtiese) wyse word die verhaal vertel vol sub-tekste (soos Who's afraid of Virginia Woolf, Superman,
Lady Chatterley's lover) en onheilspellende implikasies (soos die
konfrontasie tussen Robert en Cox).
Die skrywer het 'n oog vir die klein besonderheid
(vergelyk byvoorbeeld die vliegrit na Europa) waarmee hy ontsettend veel van sy
karakter se aard verraai (bl. 158). Daar is min skrywers wat simboliek so goed
kan hanteer: die wyse waarop faeces
en drome gebruik word, dui op 'n manjifieke hantering van subteks en 'n oopmaak
van die onbewuste. Hierom dan die dood van die bok!
My simpatie, Cerise is 'n welkome toevoeging tot Venter se oeuvre en tot die Afrikaanse romankuns.
Skandalig dat hierdie skrywer weens sy burgerskap van die M-Net-prys
gediskwalifiseer is. Wonderlik dat hy die tradisie van die meditatiewe-aanslag
van Etienne Leroux weer in Afrikaans terugbring. Die onverwagse slot, is by
terugskoue, nie so onverwags. Om te sterf in 'n troebel rivier van die
onbewuste, word dus goed voorberei. Want gebeur
in die roman vra vir subtiele kyk.
Soos dat daar nooit versoening kan wees tussen Robert en
Cerise nie; hierom die vertelling as 'n soort simpatie-brief.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]