Minette Walters. The
breaker. Macmillan, 1999. ISBN 0 333 747712 7.
Resensent: Joan
Hambidge
Minette Walters - saam met Ruth Rendell, Patricia
Cornwall, Elizabeth George – skryf briljante speurverhale. Sy het dan ook sowat
tweejaar gelede Exclusive Books se Amaboeke-prys verower vir die beste
speurverhaal in die kategorie vir vroulike speurverhale.
Walters is in wese 'n moderne Agatha Christie wat 'n
mens imponeer met waarheidsgetroue navorsing. As Agatha Christie skryf oor die
Hotel Catarac in Egipte kan 'n mens maar gaan kyk: dit is presies hoe dit lyk;
so ver is die afgrond, en so is die hotel gesitueer. Dus kan 'n mens glo die
karakter sou aan hoogtevrees gelei het.
In The breaker
word die leser van foto's voorsien (sowel die westelike as die oostelike perspektief
word afgeneem), 'n kaart, forensiese en mediese verslae. Hierdie wetenskaplike
agtergrond maak die verhaal dan “waar” of lewensgetrou. Hier is nie sprake van “suspension
of disbelief” wat tot die uiterste getoets word nie.
The breaker is nie alleen 'n goeie speurverhaal nie, maar dit is
ook literêr goed geskryf. Walters se taalbeheer en beeldgebruik dwing respek
af.
'n Vrou word vermoor en twee jong seuns beloer haar lyk.
Wanneer hulle agterkom dat hulle seksueel geprikkel word deur 'n dooie mens,
verander sake egter dramaties. Dit blyk ook dat die dooie vrou, Kate 'n jong
kind van drie het. Sake word ook meer kompleks wanneer dit Kate betrokke was by
'n akteur met 'n ongesonde belangstelling in pornografie...
Ook haar eggenoot is onder verdenking; die kind voel
ongemaklik by hom en Walters buit die leser se suspisie uit: dikwels is 'n “onskuldige”
eggenoot verantwoodelik vir so 'n misdaad eerder as 'n pervert. Dan duik daar
ook 'n ander verhouding op en die leser word dus vele leidrade gegee wat
opgevolg moet word.
Die donker, troebel onbewuste van die mens word
ondersoek in hierdie genoeglike speurverhaal. Speurverhale as sodanig werk met
die primordiale magte van die onbewuste en Freud et al. het al belangrike
studies geskryf oor waarom lesers bevredig word in die soektog na die skuldige.
Etienne Leroux se Een vir Azazel
funksioneer ook meesterlik rondom hierdie soektog na die sondebok of skuldige.
Dit is 'n baie goeie roman wat 'n mens van die begin af
boei. Die moordenaar is inderdaad 'n onverwagse-verwagse persoon. Lees net baie
deeglike aan die forensiese verslae vir die werklike leidraad! En, Walters span
moderne tegnologie in soos dat selfoon-rekeninge opgespoor kan word, die
kwessie van afspraak-verkragting in om die verhaal modern te maak.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Beeld geplaas.]