Loftus Marais. Staan
in die algemeen nader aan vensters. Tafelberg Uitgewers, 2009. ISBN 978 624
04725 4.
Resensent: Joan Hambidge
Met hierdie debuut voel die leser dat jy bekend gestel word
aan ’n jong digter wat sowel tegnies vaardig as tematies dwingend is. Dit is ’n
seker stem. Dit is ’n jong persoon wat sonder skroom sy standpunt maak: teen
die werklike vader, die familie, die genealogie van digters soos Harold Bloom
dit beskryf in The anxiety of influence. Seksualiteit, “sonde” en veral
ontluistering kom aan bod.
Die spreker reken af met ’n tradisie, maar hy bestendig dit
terselfdertyd. Staan in die algemeen nader aan vensters stel jou voor aan
iemand wat teen Van Wyk Louw se beiteltjie indig:” ek het ’n fokken
lugdrukboor” (Die digter as rockstar, 40) en Opperman se “bottelskippie” word
verwoes in ’n "Pleidooi vir vinniger kuns" (41).
Marais is dus een van die nuwe stemme wat werklik nuut is,
wat die gevormde kuns ontvorm en uitmekaar ruk.
Agter die woedende opstand is daar weerloosheid. In die
hartgrypende gedig oor die vader, val die kind, maar die vader beveel dat hy
nie mag huil nie. ’n Sentrale gedig, wat die machismo van manwees aan die kaak
stel en uitwaaier na ander gedigte. Hy ervaar die vuil hande van ’n vader as
oorlogsverf op sy gesig. Hierdie bewapening of voorskrif gebruik hy teen die
vader. Hy loer voyeuristies na ooms, ontmasker manlikheid en in ’n gedig oor
die wederkoms is daar ’n catsuit wat fire-resistant is langs die vanity case!
Die sterk-manlike verse van Johann de Lange speel in die
agtergrond, maar hier het ons die stem van die sagter man.
Hy weet ook dat poësie ’n perversie is (Op soek, 42) en heel
dikwels word die leser holderstebolder aangespreek of sommer aan die keel
gegryp.
Hy tipeer homself as die Ander: as draadtrekker, dief,
voyeur, loerhoer, ontluisteraar, koppesneller. (Hy was immers die man wat
Melanie Grobler van plagiaat aangekla het en die hele kanon dwarsklappe gegee
het in die destydse Insig. In ’n latere onderhoud wel erken hy was dalk te gung
ho.)
Die leser se gemoedstoestand by die lees van hierdie verse
is een van bewondering vir die onopgesmuktheid, die indig tot die essensie, die
afskil van (voor)oordele. Deurgaans bly jy tog bewus van weerloosheid onder die
voorgee soos verwoord in Op soek (42). Die digter stap oor ’n mangat en onder
draai die duiwels rond . . . Dit is ’n belangrike metafoor vir die werksaamhede
in die bundel. (Die begrippe metafisika en onbewuste word in gedagte gebruik.)
Die filosofiese titel dui al op ’n skerp bewussyn met die
“dinge”, soos dit in die fenomenologie heet. Die tuindwerg gee sy waarneming of
blik op mense. Die meeste gedigte gee ’n vreemde blik op die gewone dinge:
Sklovsky se ostranenie of die vervreemding van die digterlike aanslag kom ter
sprake. Alles staan in die teken van die aweregse, die nuwe aanslag.
Die digter weet wat agter verse skuilhou in ’n gesprek met
die broer: Die onsigbare word hier dikwels vir ons sigbaar gemaak.
Daar is stryd met die kanon, met stellingname, met wegskryf
van die mooie en die “skone”. Daar word gekyk na uitskot en graffiti. En die
liefde word gedekonstrueer in ’n aangrypende aubade.
In “Platteland-fantasie” (26) word die digkuns weggeklap en
eerder na die sterre soos Braille gekyk. Die plattelandse landskap word
ontluister en boertig beskryf. In ’n kroeg word ’n ou gay se sinisme sekuur
beskryf.
’n Klein kragtoer is die gedig Siel (39):
hoekom dink almal die siel is inwendig?
verborge soos jou beendere, maar kleiner
soos ’n klier of juweel
of ’n teug helder lug vir ewig ingehou…
vir my’s dit eerder ’n soort peignoir
vloeibaar, satyn en stralend
gedra wanneer ek hare kam
my fopdos-kleed, my gewyde kamerjas
waarin ek vroom rondstap
soos ’n jong gloria swanson….
’n Bloekomboom staan in ’n gelyknamige gedig soos Scarlett
O’Hara!
’n Windpomp is ready-made Duchamp!
Dit is ’n leeservaring van opwinding. Terselfdertyd is dit
goed wanneer ’n mens ’n nuwe digter ontdek wat werklik iets om die digterlike
lyf het. Wees gewaarsku: Die gedigte in die bundel is gevaarlik. Dis soos
pakkies dinamiet en al is sy gedigte nie polities-betrokke nie, is dit verse
met ’n “edge”.
Inderdaad breek hy sy gedigte oor ons koppe soos ’n
“rockstar” dit doen (Die digter as rockstar, 40).
’n Uitstekende balans tussen tegniese vaardigheid en iets om
te sê, word hier aangetref.
Ons word gewaarsku dat feite verdraai en opgemaak is. ’n
Gedig is immers nie ’n getuigskrif nie; ’n goeie gedig praat vir sigself. En in
die spel met gevaar, die gedrewe soektog na inspirasie (soos beskryf in
“Lightning safety tips – what you should know”, 63) word gekoppel aan pyn,
verlatenheid, straf . . .
Hierdie bundel het my teruggeneem na Bloom se The breaking
of the vessels en die slot van Freud se Interpretasie van drome waar die droom
werklikheid word.
In die droom wat Freud beskryf, ervaar die vader verlies aan
die kind; hier word die gegewe omgedraai en ervaar die kind angs oor die dood
van die vader. In die onbewuste ervaar hy waarskynlik ook skuld / aandadigheid
en hierom dat hy bestraffing soek.
Dis ’n besonder goed afgeronde bundel.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Volksblad geplaas.]