Hennie Aucamp. Koerier:
69 opdrag- en ander kwatryne. Human
& Rousseau, . ISBN 0 7981 3891 2.
Hennie Aucamp. Lyflied.
(Daniel Hugo, samest.). Tafelberg Uitgewers, . ISBN 9 780624 037569.
Resensent: Joan Hambidge
Hennie Aucamp se publikasies word dikwels vergesel van
'n nuttige inleiding. Nie alleenlik word hierdie essay dan 'n soort rigtingwyser van hoe die outeur wil hê die leser
'n bepaalde teks moet benader nie, maar dit verskaf ook wenke vir die ywerige
navorser vir verdere ondersoek. In hierdie verband is sy Wisselstroom uit 1990 'n belangrike dokument. Sy uitsprake oor die
kortverhaal soos in Kort voor lank of
Die blote storie 2 (1994),'n werkboek, is seminale
handleidings in ons letterkunde.
As kortverhaalskrywer het hy fundamentele werk gedoen en
etlike klassieke verhale gelewer -
eintlik te veel om op te noem, maar durf 'n mens ooit “Vir vier stemme” uit Volmink miskyk?
Die afgelope paar jaar herskryf hy sy oeuvre en is daar blyke van 'n
bestekopname en ook 'n interessante afbreek van grense: 'n verhaal word essay, self-ironie, intellektuele of
emosionele kladboek wat dikwels in reliëf met die dagboeke of egodokumente
gelees moet word.
In die geheel gesien 'n skrywer wat sowel kortkuns as
intellektuele diskoers beoefen. Tussendeur ook die beoefenaar van die kwatryn
en kabaret. 'n Bespreking kan helaas nie verval in 'n opsomming van hierdie
produktiewe skrywer se uitset nie.
Die bundel Koerier
word tipeer as 69 opdrag- en ander kwatryne wat by die kritiese leser miskien
die reaksie sou kon uitlok dat dit by die private moment of agter op die
sigaretboksie moes bly. Tog is daar werklik bul-oog kwatryne soos:
vir Ernst van Heerden
Gekonsentreerd is die kwatryn -
astrak van liefde of venyn.
Gelukkig is dié spel jou erns,
die soet verraad van digter pyn (p. 32)
of
vir Elize Botha
Die essaie,
het Montaigne geleer,
is proef en worp en weer probeer
en kyk hoe met verbale sette
die waarheid hom teen ons verweer. (p. 28)
Die Elize botha is natuurlik die akademikus en tans kanselier
van die Universiteit van Stellenbosch en soos Aucamp 'n aller-fyn stilis.
Trouens, daardie manier van skryf word opgevang in 'n huldeblyk vir Dirk van
Schalkwyk, 'n woordeboekmaker:
Wie breek nog af en toe 'n lans
vir woorde soos “lumier” en “trans”?
Die bittereinders van 'n eeu
wat al hoe meer na binne skreeu. (p. 44)
Die bundel handel ook oor ander bekende Aucamp-temas:
die landskap van die natuur en lyf, verganklikheid en bestendigheid. Aucamp
noem die kwatrynskrywer 'n “gefrustreerde miniaturis”, 'n raak opsomming van
hierdie bedryf.
In Vuurslag (1991) 'n bundel kortkort verhale
skryf hy eweneens treffend oor die meganisme van die kortkort verhaal. In Koerier bely hy sy skatpligtigheid aan
Ernst van Heerden wat talle kwatryne aan vriende geskryf het; kwatryne wat
helaas nou verlore of vergeel geraak. In Aucamp se dagboeke sien 'n mens die
vrees iets mag verlore gaan, hetsy die Afrikaanse taal of letterkunde. Aucamp
het niks te vrese nie. Hy is gekanoniseer èn bekroon. Trouens, 'n mens kan jou nie
'n letterkunde sonder 'n Aucamp voorstel nie.
Hy bely ook in die woord vooraf:”Vandag eers besef ek
dat ouer skrywers óók aanmoediging nodig het; en al hoe meer, soos die
selfvertroue minder word”(p. 9). 'n Vreemde uitspraak, dink 'n mens, van 'n
skrywer wat soveel erkenning gekry het en sowel die Hertzogprys as die
Recht-Malan-prys verower het.
Lees hierdie bundel waar die skrywer probeer om “Die
Onse Vader” op 'n posseël te skryf, en natuurlik beland die helfte van sy
boodskap op die tafelblad!
Lyflied is 'n keur uit die liedtekste deur Daniel Hugo
saamgestel en bevat 'n belangrike nawoord. “Al hoe meer kom my liedtekste tot
my in die ryk, tragiese stem van Amanda Strydom” verneem ons op die agterblad.
En hierdie vrou se lieflike stem het vele van Aucamp se tekste bittermooi die
wêreld ingedra. Daardie navrante stem en pynlik-eerlike vertolkings is wat
Aucamp se tekste behoef.
Hugo betoog dat Aucamp ook erkenning as digter moet kry.
Nou iks dit ongelukkig maar 'n verskynsel in onse ou letterkunde dat 'n skrywer
se kenmerkendste genre sy of haar etiket word. En wanneer 'n skrywer besonder
goed presteer in 'n bepaalde genre is die komplimente suinig of skraps in die
tweede genre; of die wenkbrou lig: vir wat dan nóg 'n rigting inslaan? Nog 'n
boek publiseer?
'n Nuwe genre eis 'n nuwe of ander aanslag op en hierdie
leser is positief oor die ontginning van nuwe genres of moontlikhede. Hugo
skryf 'n mooie nawoord oor Aucamp se bydrae. Hy gaan in op die spesifieke aard van Aucamp se aanslag en
hy kontekstualiseer telkens 'n argument of stelling.
Hugo was in alle waarskynlikheid die regte persoon om
hierdie nawoord te skryf, omdat hy as kenner van die speelse vers reg kan laat
geskied aan juis dít wat hierdie tekste wil wees.
Hy haal ook Ernst van Heerden se uitspraak oor Aucamp
aan:”Aucamp se verskuns styg ver uit bo die banaliteit van die gangbare pop- en
treffertekste: sy lirieke is meteen 'n selfstandige en literêr-beduidende
kunsvorm - opwindend, skrynend, eietyds.”
Lyflied gee nie alleen die tematiese ontwikkeling weer nie,
maar ook die stilistiese skakeerdheid van die digter. Vir my is puik in sy
navrante oomblikke soos “Elke liefde het sy deuntjie”(p. 62). Ander mag weer
meer hou van die sosiale kommentaar. (Nie om dowe neute nie word die kabaret
sommer hier as 'n hoerkind getipeer!)
En Toergenjef se motto (“Watter nut het ironie in
eensaamheid?”) is 'n belangrike aanwyser vir Aucamp se tekste wat waarskynlik
'n skeutjie ironie weg het.
Die geselekteerde diskografie is uiters handig.
Dis twee genoeglike boeke en welke skrywer kan in
hierdie dae deur sowel Human & Rousseau as Tafelberg uitgewers op die hand
gedra word? 'n Woord van kritiek: R79,95 is darem peperduur vir Lyflied!
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]