Andries Walter Oliphant (Red.). At the rendezvous of victory. Kwela, 1999. ISBN 0 780795 0093 8.
Resensent: Joan
Hambidge
Hoe word ooit in die letterkunde 'n bestekopname gemaak
van terreur, van politieke ongeregtighede en wandade? Onder die bekwame
redaksie van Andries Walter Oliphant is At the rendezvous of victory 'n wydlopige reaksie en antwoord op
hierdie probleem.
Probleem juis omdat die Suid-Afrikaanse letterkunde
waarskynlik ten tyde van sy “struggle”-jare op vele gebiede van sy
uitmuntendste en briljantste bydraes gelewer het. Almal in hierdie land, onafhanklik van politieke
uitkyk of oortuiging, weet dat die wittebrood van hierdie vryheidsviering verby
is. Nou is die harde werklikhede van armoede, straatmense, geweld, moord, diefstal
iets waaraan almal moet aandag gee.
Geen leser kan dus hierdie verhale lees sonder om al hierdie inligting te laat
meespeel nie. Oliphant trap ook nie in die maklike slagyster deur net te post-”struggle”-verhale
te plaas nie. Hy plaas die wye spektrum van die Suid-Afrikaanse ervaring en
selfs 'n verhaal waarin daar blatante politieke onkunde afspeel soos in Ken
Barris se “Beautiful people”.
Daar het dus net meer verwikkelde opposisies na vore
gekom ten spyte van die feit dat die illusie van rasgelykheid nog lank nie
klasgelykheid inhou nie. Die bloemlesing bevat sowel wit as bruin en swart
bydraes; ook manlik en vroulike/feministiese skrywers neem deel. Om dus 'n
veralgemening te probeer maak oor die verskillende verhale geluk ook nie
hierdie kritikus nie.
Oliphant betrek veral die sieninge van J.M. Coetzee,
Njabulo Ndebele en Richard Rive om die problematiek van skryf in hierdie land
te behandel. Die sogenaamde postkoloniale diskoers of kondisie maak estetiese
aannames ongedaan. Of doen dit werklik, kan die leser vra as 'n mens verhale
van sogenaamde wit skrywers betrek.
“The scream” van Etienne van Heerden aktiveer juis op 'n
markante wyse die spanning tussen (Suid)-Afrika en die Lae Lande en die
koloniale impikasies van hierdie ingewikkelde verbintenis.
Oliphant beklemtoon tereg dat ons nooit die verlede kan
ontsnap nie en dat vele verhale juis funksioneer rondom 'n komplekse verhouding
tussen hede en verlede. As samesteller voorsien hy die leser ook van ongeveer
elf temas wat onder die loep geneem word. Dit is dan ook 'n samestelller wat sy
navorsing deeglik gedoen het en bereid is om sy leser te lei in hierdie
bloemlesing.
'n Mens het sulke wydlopige verhale soos die wat
antwoord op die Europese verbintenis (Van Heerden onder meer) en diegene wat
weer let op die komplekse en teenstrydige proses van vergifnis: Achmat Dangor
en Graeme Friedman. Sterk allegoriese verhale van Peter Horn en veral Maureen
Isaacson, trek ook die aandag. Verandering onsekerheid en vrees en verskillende
skrywers reageer ook hierop.
Die waarskynlik onbedoelde bydrae van hierdie Kwela
bloemlesing is dat die die verskillende estetiese uitgangspunte van
Suid-Afrikaanse letterkunde aan bod bring. Ofskoon daar verhale is waarvan 'n
mens miskien minder hou, is dit dan ook tersaaklik om die verskillende
estetiese maatstawe te vergelyk.
Die titel is ontleen aan 'n bydrae van Nadine Gordimer
waarin die hartseer van 'n politieke verlede op 'n groteske wyse vertel word.
Dit word ook 'n literêre rendezvous vir hierdie leser wat steeds bly wonder of
Gordimer ooit bekroon sou word met die Nobelprys as dit nie net vir haar
politieke sentimente was nie? Die verhaal as sodanig is nie indrukwekkend nie.
En dit verrraai alreeds my literêre vooroordele en
waardesisteem. Dit is 'n allegaartjie van 'n bundel waarin 'n wye
verskeidenheid van style en temas aangebied word. Dis ook mooi uitgegee en
beslaan by die 270 bladsye.
En skande Kwela: die glossarium wemel van foute soos
heera, i.p.v. hoera; chommie i.p.v. tjommie; likawaans i.p.v. likkewaan.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Rapport geplaas.]