Saturday, May 27, 2023

Rubriek | Privaat en Openbaar | 2023

Toe die befaamde digter Sheila Cussons na haar verblyf in Spanje na Kaapstad terug gekeer het, was haar onvergeetlike woorde aan my: “Kaapstad is nes ‘n klein Spaanse kusdorpie. Vól skinder en geklets.”

En ons weet hoe vissersdorpies werk rondom snoek en visvang.

 

Patricia Meyer Spacks het ‘n hele studie geskryf oor die fenomeen van skinder. Dit heet Gossip (Knopf Doubleday, 1986). Sy wys daarop dat karakters in ‘n roman praat oor ander en sodoende word medespelers gewaarsku of gehelp om iets te verstaan. En so word die vis se skubbe vinnig afgekrap.

 

Maar dit raak problematies wanneer mense nie kan onderskei tussen karakters in ‘n roman en werklike mense nie.

 

Iemand wat sommer in die verbygaan opmerk dat jy en ‘n vriendin saam uiteet, en dink julle is ‘n paartjie. Dink dit dalk, maar dit segge? Betredend. Veral as dit nie so is nie en ‘n private werksete word beduimel.

 

By geleentheid sit ek en ‘n bekende aktrise in ‘n Oosterse restaurant in Kaapstad. Ons ander eetgesellin is eweneens ‘n befaamde persoon.

 

‘n Man by die tafel neffens ons skuifel nader. Hy en ‘n vriend sit in die hoek.

 

“Wel”, merk hy ewe familiêr op, “pas gehoor waaroor julle praat en ek wonder of jy (dis nou die uwe) nie dalk spookskrywer sal wees vir my outobiografie nie?”

 

Sonder slag of stoot, rangeer ek hom terug na sy tafel.

 

Alle bekendes kan bepaald hieroor iets te segge hê.

 

Die feit dat jy bekend is, beteken nie dat iemand jou kan vra om te sing of jou ghitaar uit te pluk in ‘n restaurant nie. Of mag afluister en kommentaar lewer op ‘n gesprek nie.

 

So vra ‘n vrou my jare gelede in ‘n hysbak die allemintige vraag: Jy lyk so bekend … Wie is jy?”

“Ek is Sandra Prinsloo,” was my guitige kwinkslag. Hieroor het véral Sandra Prinsloo lank en luid gelag.

 

Of mense wat jou graag wil “ontmoet” en dan hoor by ander waar jy uithang en sommer terloops die tafel langs jou beset. Of ‘n vrou met uitpeul-ogies wat wil weet hoekom het jou verhouding met so-en-so op die rotse geland. Soethart, dis my saak. Op ‘n keer vertel ‘n Britse vriendin my (hier op besoek) ‘n sielkundige het haar gewaarsku teen my. Lank en luid lag ons twee oor sy gay-fobie en ‘n paar weke later loop ek hom raak by ‘n partytjie. Toe hy ewe vroom my nooi om langs hom en sy vriendin te sit, was my antwoord reg uit ‘n Nathaniel Hawthorne-roman: “Jammer, maar ek het ‘n reputasie. Ek bedoel Leputasie.”

 

Skryf, soos toneelspeel of enige ander kreatiewe optrede, is ‘n werk. ‘n Beroep. ‘n Gedig of roman is nie ‘n getuigskrif nie.

 

Ek is al verwar met Jeanne Goosen. Aangesien vir Dalene Matthee. (“Call me Oupoot!”) Tog al gewens ek was aangekyk vir Carol Ann Duffy. Beledig deur ‘n dronk vrou by die kroegtoonbank wat my as ‘n dyke aangespreek het.

 

Moes al bontstaan oor skryfwerk wat gelees is as die waarheid en niks anders as die waarheid nie.

 

Daar is ‘n lang wedstrydplan tussen die werklikheid en die uitvoering daarvan in ‘n kunsvorm.

 

Natuurlik is meeste mense nuuskierig oor ander. Maar dis hoe jy die vraag vra sodat die persoon wat ingevra word dit nie as grensoorskrydend ervaar nie. 

 

Deesdae as mense my privaatheid betree, vra ek iets uiters persoonliks en speels terug soos: 

1 hoe groot is jou apteekrekening?

2 menstrueer jy nog?

3 is jou broer alweer in die tronk?

4 snuif jy steeds rottegif?

5 is die balju op jou spoor?

6 het jy nog ‘n verhouding met Julius Malema?

 

Vir al die kere wat die uwe sélf betredend was, vra ek om verskoning.

 

Oh the boundaries of confidential gossip het nou ‘n plaag geword danksy sosiale media. Ons weet hopeloos te veel van mekaar deserdae.

 

As jy ‘n vlieg teen die muur is, hou ten minste net jou smoel. Anders mag jy in die vissop beland.

 

© Joan Hambidge

 


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY

Tuesday, May 23, 2023

Onderhoud | 13 vrae aan Tom Dreyer | 2023

Hartlik geluk met Nou in infrarooi (ISBN: 978 07957 10728 Kwela, 2023) wat my absoluut aanspreek.

1  In 1997 debuteer jy in Nuwe stemme I met netjies afgeronde verse. Hierna verander jy in ‘n prosaskrywer. Ons letterkundige sisteem kan nie eintlik skrywers hanteer wat van een genre beween na ‘n ander nie.

Waarom nou poësie? 

Baie dankie vir die geleentheid om met jou te gesels, Joan. Ek skat ‘n eerste antwoord is dat poësie vir my ‘n terugkeer na ‘n eerste liefde was. Stories was my nog altyd na aan die hart, maar op ‘n sekere vlak was my bekoring in die eerste plek met woorde – hoe hulle lyk, hoe hulle klink, hoe hulle met ander woorde saamspan om ‘n mens te laat voel eerder as verstaan. Ek onthou hoe ek in my kinderdae mooi woorde en frases versamel het. Tydens die skryf van Nou in infrarooi het ek die euforie van my eerste verse herontdek (hopelik sonder die jeugsondes!), en ek het selfs gewonder of my pad deur die prosa nie dalk ‘n ompad was nie. Maar ek skat ‘n beter antwoord is dat die poëtiese impuls my nooit regtig verlaat het nie. Dit het eerder uitdrukking gevind in my prosa. Resensente het nog altyd die filmiese aard van my skryfwerk benadruk, en slegs per geleentheid iets oor my poëtiese bemoeienisse te sê gehad. Maar vir my was 'n roman soos Equatoria net soveel 'n liriese  besinging van die oerwoud as 'n beskrywing van die lotgevalle van die twee avonturiers. Hier was Chris Barnard se Mahala vir my ‘n inspirasie, daardie lieflike roman wat op die snykant tussen prosa en poësie beweeg, en waarin die bos self ‘n hoofkarakter word. Terloops, dit was vir my besonder verblydend dat toe die Britse uitgewery Aflame Books in 2009 twee Afrikaanse boeke gekies het om in vertaling uit te gee, een van hul keuses Mahala en die ander Equatoria was. Dit het gevoel asof iemand gesnap het wat ek probeer doen. 

 

2  Jy skryf romans, rubrieke en kortverhale. Watter genre spreek tot jou?

Soos hierbo genoem was daar van meet af aan ‘n liriese onderstroom in my prosa (ofskoon dit in sekere tekste meer sigbaar is as in ander). My terugkeer na poësie het na ‘n soort tuiskoms gevoel, ‘n herontdekking van wat presies my hart vinniger laat klop. Hierdie proses was reeds tydens die skryf van Kodachrome vir my waarneembaar. Daardie kort tekste het ‘n gebrek aan uitgesponne vertelling en roteer tipies rondom ‘n sentrale flits of gebeurlikheid – en begin daarom mik-mik in ‘n rigting wat vir my na poësie voel. Op meer as een geleentheid, nadat ek een van hierdie flitse voltooi het, het ek Vasti trompop geloop met die mededeling dat skryf lanklaas vir my so lekker geskop het. En tog, having said that, daar wag meer as een halwe roman op my hardeskyf …  Maar dit voel asof my pad daarheen eers deur nog ‘n digbundel of twee sal kronkel. 

 

3  Jy het nogal ‘n indrukwekkende lys op jou kerfstok:

  • 1998 Erdvarkfontein (roman)
  • 2000 Stinkafrikaners (roman)
  • 2006 Equatoria (roman)
  • 2007 Polaroid (kortverhale)
  • 2016 Dorado (roman)
  • 2016 The Long Wave (Engelse roman)
  • 2022 Kodachrome (rubrieke)

Dikwels is jou verhale oor buitenissige figure of outsiders. Kommentaar.

Ek vermoed my voorliefde vir randfigure is grotendeels ‘n produk van hoe ek aanmekaargesit is. Ek kan nie onthou dat ek ooit om strategiese redes ‘n outsider as karakter gekies het nie. Maar op ‘n tegniese vlak maak randfigure wel ‘n perspektief op ons leefwêreld moontlik wat moeilik vanuit die sentrum verkry kan word. In die hart van ‘n woud, sien jy weinig meer as stamme. En ‘n ander beeld meld sigself aan: ‘n fotograaf wat afbuk of oorbuig om ‘n foto uit ‘n ietwat ongewone hoek te neem. Die gevolg van hierdie vreemdmaking is om ons meer stip te laat kyk, en hopelik intenser te laat ervaar. Die gewone lewe met sy roetine en voorspelbaarheid sus ‘n mens aan die slaap. Die alledaagse is uiteindelik helaas alledaags. Eers wanneer jy iets uit die hoek van jou oog vang, sit jy soms regopper en begin aanvoel dat wat jy as ‘n onveranderbare dimensie van die werklikheid beskou het eintlik kontingent mag wees. Die buitenissige, die flambojante, die groteske kan adrenalien in ons are spuit. Ek herinner my dat Ian McEwan eens gepraat het oor hoe moelik dit is om boeiend oor ‘n doodgewone, gelukkige mens te skryf. Sy roman Saturday was inderwaarheid ‘n uitdaging aan homself om presies dit te vermag. En sy poging is geslaagd, maar dit voel vir my na ‘n uitsondering op ‘n reel. En dalk is dit nie heeltemal toevallig dat etlike bisarre gebeure wel hul pad tot in hierdie roman vind nie.

 

4  Jou gedigte besoek verskillende landskappe, hier en elders, maar dis veral die landskap van fantasie wat jy as digter ondersoek. Die droom, die herinnering, die onopgeloste konflik wat in die psige woed en in die gedig uittuimel.

Kommentaar.

In my verse is innerlike en uiterlike landskappe selde volledig van mekaar te onderskei. Daar bestaan ‘n wisselwerking. Geen plek is eenduidig nie; dit dra altyd die herinnering van ander tye op daardie selfde plek, of selfs op gans ander plekke - want ons staan altyd onder die ban van assosiasies – en ons toentertydse gevoelens en gewaarwordings.  Soos water wat van een houer na ‘n ander gegiet word, word die huidige bemiddel deur alles wat dit voorafgegaan het, en die lokale word bemiddel deur wat op verafgeleë plekke gebeur of gebeur het. Ek noem in een van my verse die hede  “’n gesprek wat die werklikheid met sigself voer” en ek skat dat alle tye en plekke in die agtergrond saam-mompel. Hierdie voel na een van die bemoeienisse van my digkuns: om te probeer uitwys hoe ons aandring om ‘n kontinue wêreld in diskrete kategorieë in te deel, terwyl alles inderwaarheid op ‘n spektrum lê, of selfs nouer verwant as op ‘n spektrum - soos ek dit in gedig “die subteks in jou asemhaling” stel: “hiermee probeer ek kortliks verduidelik / dat elke onderdeel die res impliseer.” Minder gebruiklike indelings van die werklikheid is moontlik, en op ‘n sekere vlak, hoop ek, funksioneer my gedigte as prikkels tot hierdie gewaarwording. Alternatiewe taksonomieë, soos Borges se “speenvarke, sirenes, fabelagtiges … [en diere] wat van ver af soos vlieë lyk” voel slegs absurd vir mense met ‘n gebrek aan verbeelding.  

 

5  En die woord uittuimel is tersaaklik, want ons vind Peter Higgs se idee van die boson. Of Juri Gagarin, die eerste ruimtevaarder geplaas teenoor Ferdinand Magellaan, die ontdekkingsreisiger wat oor die Atlantiese Oseaan na die Straat van Magellaan en oor die Stille Oseaan gevaar het.

Waarom hierdie belangstelling in die wetenskappe, fisika, maanreise, ontdekkingsreisigers?

Daar is ten diepste in die filosofie eintlik maar net twee vrae: waarom bestaan daar enigiets eerder as niks? En wat is die aard van dit wat bestaan? Wat die eerste vraag aanbetref staan ons eintlik maar nog in dieselfde wegspringblokke as ons Griekse voorgangers twee millennia gelede. Met die tweede vraag, wat aan die hart van die wetenskap oftewel natural philosophy lê, het ons dramatiese vordering gemaak. Dalk is my verwondering met die wetenskap uiteindelik ‘n soort gedoemde poging om ook sin van die eerste meer metafisiese vraag te probeer maak. Want uiteindelik voel dit vir my asof ons seker kan wees van bitter min dinge, naas ons eie liggaamlikheid en die teenwoordigheid van objekte, en dalk, net dalk kan ‘n analise van hierdie objekte ons nader bring aan ‘n verstaan van wat hierdie dinge – en ons - in die eerste plek hier soek. Ja, ek weet hierdie is ‘n gedoemde versugting, maar ‘n mens kan tog probeer. Partykeer voel dit vir my die doel van die vuurpyle en verkenningstuie wat ons in die ruimte uitstuur, uiteindelik  maar is om meer oor onsself te wete te kom. 

 

6  Met die voorlees van jou gedigte is die klankmatige aspek van jou gedigte opvallend. Ek dink hier aan “middag in sabrosa” (65). Vertel iets van die ontstaansgeskiedenis van die gedig.

“Middag in sabrosa” is weliswaar die gedig waar Ferdinand Magellaan betrek word. Ek en Vasti was op ‘n ietwat lukrake reis deur die noorde van Portugal (want lukraak is die beste manier van reis). Ons het een aand in die dorpie Sabrosa in die Douro-vallei deurgebring, en reeds met die eerste uitkyk deur ons herbergvenstertjie, het ‘n imposante suil voor die oorkantste huis my opgeval, merkbaar uit voeling met die agtergeblewenheid van die res van die dorpie. Ek het uitgestap en op ‘n plaatjie gelees dat Ferdinand Magellaan in 1480 in daardie huis gebore is, Magellaan, wat aan die roer was van die eerste vaart om die aarde. En skielik was dit asof ek deur twee stelle oë na die wêreld kyk, myne en Magellaan s’n, en daardie wêreld was eweneens verdubbel: die terrasse en winderde en vergesigte oor die Douro wat ek met my eie oësien, en die – grotendeels onveranderde - terrasse, wingerde en vergesigte wat Magellaan eens begroet het. Vir die res van daardie dag het ek in ‘n soort waas voortgestu, soos Magellaan oor seestrate, en toe ons die aand by ‘n straatkafeetjie eet  en Vasti ‘n bootjie uit ons restaurantrekening vou, het ek geweet dat hierdie dag ‘n vers wou word.

 

7  Jy het die AVBOB-prys gewen in 2019 vir jou roerende gedig oor Jaco Botha, skrywer en tydgenoot. Hierdie is ‘n lykdig wat die besondere band tussen julle verbeeld.


slaap jy solank, dan hou ek die fort

vir jaco botha (1972– 2016)


beteuterd soos twee pienk kwitansies

pas ontvang vir twaalf kopieë

van ons ma-verhandelings

dwaal ek en jy na die middel-kampus

van uct platane platane en ʼn flitsblik

van die see ek onthou hoe jy daai aand

in ons gehawende flat digby de waal-park

mooitjies ʼn sigaret uit jou kwitansie rol,

sodat jy weer behoorlik kan asemhaal

ek sien jou soms steeds dáár

te hyper om lekker te sit dalk daarom

deurlopend op soek na iets om aan te steek

of dood te druk of ʼn radio om aan te peuter

of failing all else ʼn liggaamsdeel om aan te krap


onthou jy die nag toe ons meer as enigiets

die more wou sien breek oor magersfontein?

met die wegtrek het jy nonstop gepraat

oor die verskille tussen fisante en patryse,

maar skuins ná drie was die maan kil

oor clanwilliam se water die more ver

patryse net so stom soos fisante

ons was koud en moerig

vir onsself maar meestal vir mekaar

 

onthou jy die week toe ons op rys en mayonnaise

oorleef het, of die keer toe ons die agtersitplekke

van my alfa uitgehaal het op soek na kleingeld

vir checkers se goedkoopste sigarette?


ek sien jou oplaas op die gewel van jou kothuis

staan en botweg weier om af te kom ek hoor jou kla

dis gevaarlik daaronder en ek weet wat jy bedoel

nes daai aand by die kknk toe jou trane soos whisky

op die kroegtoonbank spat, en jy sê: kom ons gaan slaap

eerder, tom, dan is ons ten minste nie meer wakker nie.

ek verstaan my tjom my tjom slaap jy solank want die nag

is lank en die son sal basically forever oor magersfontein verrys

intussen sal ek nog vir ʼn rukkie dié kant die fort probeer hou

solank ek nog onthou solank ek nog onthou solank

 Ook in “herbesoek aan hofpark” (56) is hy weer openlik daar. Dit is ‘n sentrale gedig waarin jy refleksies, skadu’s en flitse as metafore gebruik.

Hermeties of hermeneuties? 

Min dinge het my al so hard geslaan soos die dood van my vriend, Jaco Botha. Moontlik vanweë die komplekse aard van ons vriendskap, waarin kameraadskap en gedeelde passies, net so hard gepraat het soos wedywering en ‘n soort deurlopende psigiese struweling. En nou sou daardie onopgeloste dinge vir ewig onopgelos bly. Ná sy dood het LitNet en etlike koerante my gevra om iets oor hom te skryf, maar ek kon nie, en het eers met “slaap jy solank, dan hou ek die fort”, twee jaar later, sy dood en lewe onder woord probeer bring. Ek verstaan dit self maar net ten dele, maar hierdie gedig was ‘n soort sleutel, wat ‘n gesonder verstaan en onthou van ons vriendskap ontsluit het. Jy vra hermeties of hermeneuties, en ek is self nie heeltemal seker nie. Ek weet net dat die refleksies en skaduwees waarvan jy praat, en die flitsbeelde uit my en Jaco se gedeelde geskiedenis, uiteindelik ooreenkomste met die roumateriale van die alchemis vertoon, materiale wat jy kan saamvoeg om tot groter insigte te kom as wat jy uit die oomblikke self sou voorspel. En wat die tweede gedig, “herbesoek aan hofpark” aanbetref, is hermeneutiek dalk die juiste woord. Want hier gaan dit pertinent oor ‘n teks wat gemyn word vir insigte. Die teks is ‘n ongepubliseerde, en in die woorde van ‘n bekende redakteur “magistraal onpubliseerbare” roman, Skuins voor Armageddon, wat ek en Jaco tydens ons studentejare geskryf het, in daardie einste Hofpark, terwyl ons eintlik aan ons onderskeie MA-verhandelings moes werk. In hierdie gedig word aspekte van die roman, wat parallelle vertoon met my en Jaco se situasie toentertyd, en ook met wat uiteindelik van ons sou word, as sleutels ingespan om ons tweespel te probeer verhelder. Maar, hierdie verheldering het sy perke, want die roman is na alles ongepubliseer, en aan die leser onbekend.  Dit funksioneer daarom as ‘n soort private taal tussen my en Jaco,  iets geheimsinnig en verborge, vol simbole en betekenisse wat die leser maar net kan raai. Want sekere lewens en vriendskappe laat hulle nie so maklik vasvat nie. 

 

8  Waarom is Hunter S. Thompson so tersaaklik vir jou? Wat maak jy van Fear and Loathing in Las Vegas?

‘n Mens se voorkeure is nie altyd rasioneel nie. Sekere dinge raak deel van jou innerlike argitektuur vanweëomstandighede wat wyer strek as net die objektiewe meriete van die kunswerk self: waar jy was toe jy dit die eerste keer teëgekom het, saam met wie, en hoe jou lewe toe daar uitgesien het. Een van die dinge wat so in my kop kom nes skrop het, tussen Eet KreefPulp Fiction, Nirvana se Nevermind en Virginia Woolf se To the lighthouse was Hunter S Thompson se seminale artikel, The Kentucky Derby is decadent and depraved. Daarna sou ek die man baie dinge vergewe. En laat ons maar eerlik wees, daar ís baie om te vergewe. Op sy beste werp hy ‘n skreiende lig op die hede op ‘n wyse wat weinig hom kan nadoen. Ander kere laat hy my dink aan die keer toe ek op ‘n trappie in Rome gesit het, teneergedruk omdat die oorryk truffle-toebroodjie wat so wonderbaarlik begin het, so liederlik kon eindig. Ek vind die fliekweergawe van Fear and Loathing in Las Vegas onkykbaar, maar hiervoor kan ‘n mens beswaarlik vir Hunter blameer. Uiteindelik spook hy by my omdat hy by my spook, en sy spore lê oor my verse. 

 

9  Behalwe vir die obsessie met landskappe is daar ook ‘n bemoeienis met taal (en semantiek). Katrina Esau, verskillende name vir voëls (soos in “mond tot mond”, 64). Is dit dalk jou filosofie-agtergrond wat hier inspeel?

Ja, ‘n bemoeienis met taal en semantiek is beslis ‘n kenmerk van die bundel. En ek dink jy is reg, in sekere gedigte speel my agtergrond in taalfilosofie sekerlik ‘n rol. Ek dink hier byvoorbeeld aan ‘n gedig soos “onvoldoende woorde oor johnson, vermont” waar ‘n woord soos “naaldys” waarmee ‘n mens hierdie wêreld probeer vasvat, beskryf word as ‘n “sinekdogee” wat die “stil pad waar lorriedrywers hul pette lig” makeer, en “die haarnaalddraai waar vermont sy hoogste piek aan my onthul”. Hier skemer iets deur van die ontoereikendheid van signifiers wat eindeloos heenwys na mekaar, sonder om regtig by die werklikheid uit te kom. 

Maar ek moet dadelik byvoeg dat hierdie bemoeienis met taal dikwels op ‘n veel meer speelse en emotiewe vlak geskied as op die koue hoogtes waar die filosofie sy ding doen. Ek het byvoorbeeld iewers ‘n lys van 67 Nederlandse sinonieme vir ‘n liewenheersbesie teëgekom en hierdie name was gewoon vir my so wonderlik en ewokatief dat hulle terstond tot ‘n gedig vervloei het.

 

10  Ek lees Boerneef raak in soos onder andere in “spook & diesel” (50). Waarom Boerneef? Die woordeboekman wat kon speel met taal het tans ‘n herlewing by verskillende digters. 

Kommentaar.

Jy is ‘n stip leser, want ja, ek dink Boerneef boer in die agtergrond van etlike verse,  soos “spook & dieself” waarna jy verwys, of “lepelhond”. Laasgenoemde het ek eenkeer by ‘n poësieaand voorgelees, waarna ‘n mede-digter gebrom het: “dit klink asof jy Boerneef channel”. Ek vermoed hy het dit neerhalend bedoel, maar vir my was dit ‘n kompliment, want ek het ‘n groot liefde vir Boerneef. Die uitbundigheid van volksname bruis deur sy verse, die ontembaarheid van liewenheersbesies wat nooit volledig benoem kan word nie. 

 

11 Jy skryf roerende, komplekse liefdesgedigte soos byvoorbeeld “die subteks in jou asemhaling” (34). Hoe sien jy ‘n liefdesgedig? Soos Watermeyer?

Die liefde is die bitter glas,

die droë glas, die donker glas;

die liefde is die naverdriet

wat in die hart se holte pas.

Of is dit net ‘n gedig soos enige ander gedig nie noodwendig tot ‘n Ander gerig nie?

Ek het nie regtig ‘n oorkoepelende teorie oor liefdesgedigte nie – eintlik nie oor enige gedigte nie, maar veral nie oor liefdesgedigte nie. Met ‘n liefdesgedig, voel dit vir my, is jy bitter naby aan jou skade. Die intensiteit van ‘n mens se gevoelens waarborg allermins die kwaliteit van jou skrywe. Trouens, by die lees van liefdesgedigte voel dit dikwels vir my asof die teenoorgestelde eerder die geval is. Die liefdesversskrywer loop altyd die gevaar om in ekkerigheid te verval,  in onserigheid, of soetsappigheid, of kitsch gepynigdheid. ‘n Geslaagde liefdesvers vra behendige voetwerk; jy maak jouself weerloos en kan maar net hoop dat wat jy al oor die liefde, die lewe en die poësie kon wysraak, jou oor hierdie dun bruggie sal dra. Van die jy’s in my liefdesverse is generies, soos ook in my ander gedigte, maar die bundel is aan my vrou, Vasti, opgedra en etlike van die liefdesgedigte is spesifiek aan haar gerig. 

 

12  Nick Cave is hier. Hy verwys na Wallace Stevens in een van sy songs. "And the waves, the waves were soldiers moving" in "We Call Upon the Author". Uit Stevens se "Dry Loaf". Hoe voel jy oor Stevens?

Vir Nick Cave het ek ‘n sagte plek. En van Wallace Stevens hou ek, al vind ek hom dikwels haas onverstaanbaar.  Of dalk is dit juis waarvan ek hou. “Thirteen ways of looking at a blackbird” tel onder my gunsteling gedigtitels. En enigiemand wat ‘n formeel problematiese reël soos “The bird's fire-fangled feathers dangle down” kan laat werk, verdien my respek.

 

13  Hoe maak jy ‘n lewe? Het dit ‘n invloed op jou skryfwerk?

Ek is ‘n rekenaarprogrammeerder en die direkteur van ‘n IT-maatskappy. Ek skryf simulasie-sagteware, hoofsaaklik vir Amerikaanse en Duitse ingenieursmaatskappye. Wanneer skryfwerk vir my te veel word, bied programmering ‘n ontvlugting. En wanneer programmering my onderkry, is skryf soos ‘n waterryke halte langs die pad.

 

© Joan Hambidge

Tuesday, May 9, 2023

Film | Beau is Afraid | 2023

Beau is Afraid | Jaquin Phoenix, Parker Posey, Amy Ryan, Nathan Lane | Regisseur Ari Aster, VSA 2023

Resensent: Joan Hambidge


Die eerste doodsonde van die filmkuns is ‘n film wat te lank is (179 min), behalwe as jy Federico Fellini of Orson Welles is. Of dalk Béla Tarr.

 

Die tweede doodsonde is om vir jou kyker te interpreteer. In geval jy nie die simboliek verstaan nie, hier is dit nog ‘n keer.

 

Die derde doodsonde is om ‘n mélange van style saam te gooi soos geweld, hallusinasies en ‘n verwysing na primordialiteit soos die lewe-as-‘n-reis deur verskillende jaargetye (“O laat alles val wat prul en voorgee was”).

 

Die vierde doodsonde is om sommer dadelik ‘n film as kultusfilm te tipeer. Altyd gedag die tyd moet hieroor oordeel.

 

Die vyfde doodsonde is om hierdie film as ‘n soort Odusseia te sien.

 

Die sesde doodsonde is om verwysings aan die hare by te sleep. Soos oor die Joodse geloof. En die letterlike verloor van ‘n kop. 

 

Die sewende doodsonde is om ‘n fliek op ‘n Saterdagmiddag te gaan kyk, in plaas van om te wonder oor hoogmoed, gierigheid, gramskap, afguns, wellus, gulsigheid en luiheid, terwyl twee rugbyspanne in ‘n Titaniese stryd gewikkel is. Wat jy misgeloop het …

 

Genoeg genoeg. 

 

Daar is wel knap vinjette soos die ondersoek na paranoia aan die begin van die film waar Joaquin Phoenix sy hart uitspeel as Beau Wassermann tussen verlooptes en ‘n waansinnige messteker.

 

Wat verbeel hy en wat is werklik?

 

Ook die hilariese verblyf by die Amerikaanse gesin waar ons die impak van die Viëtnam-oorlog sien op hul lewe. Almal is aangetas en daar is self ‘n legkaart wat gebou word, gebaseer op die foto van die seun. ‘n Flinke analise van die “greening of America” vind ‘n mens hier.

 

Die jeugervarings met Elaine wat later terugkeer in sy lewe. Word goed uitgebeeld. Ewige liefdestrou word hier ‘n doodskoot. Die twee jonge maagde wat mekaar as volwassenes ontmoet en dan uitloop op die dood. 

 

Joaquin Phoenix

Die begin van die rolprent met ‘n manipulerende sielkundige en die impak van depressie-medikasie is vol in die kol. Hy lewer kommentaar op hoe ambivalent die moeder-seun-verhouding is.

 

Die welvarende moeder as ‘n soort superego wat die seun verminder en kritiseer neem ons na Oedipus Rex.

 

Hoe die hoofkarakter verwek is, is komies en belangrik vir die oedipale stryd met die afwesige vader, letterlik ‘n monster. Wat natuurlik weer inspeel op Sofokles.

 

Die oorgang van realistiese film na tekenprent (soos in Japannese filmkuns) is goed gedoen. Die ontmoeting met The Orphans of the Forest met teater as self-herkenning oortuig.

 

Die grimeerkunstenaars het hul werk gedoen.

 

Die gehoor in die Labia (jonger as die uwe) het soms gespanne gelag.

 

Nathan Lane

Ari Aster, die regisseur, het glo ‘n voorliefde vir riller-rolprente. Terwyl hierdie kyker die film meemaak, dink ‘n mens onvermydelik aan Alfred Hitchcock se analise van die moeder-seun-verhouding in Psycho (1960) waar die die dooie moeder die kind se gedrag bepaal.

 

Die legkaart is uiteraard ‘n belangrike kode vir die verstaan van die film. As geheel, helaas, oortuig dit nie. 

 

Te veel temas. Te lank.



 (Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)


Monday, May 8, 2023

Resensie | Sven Axelrad - Buried Treasure | Umuzi, 2023

Sven Axelrad - Buried Treasure. Umuzi, 2023. R290.00, 222pp (Sagteband) | ISBN 9781415211083 

Resensent: Joan Hambidge

 

Wat ‘n roman! Buried Treasure van Sven Axlerad smokkel met jou kop. Slim, fantasmagories en briljant is hierdie roman wat meesleur via Bob Dylan (“A Hard Rain’s A-Gonna Fall”) en veral Roberto se The Savage Detectives (1998).

 

Hierdie Chileense skrywer se verhaal vertel die storie van die soektog na die Meksikaanse digter, ene Cesárea Tinajero wat in die 1920’s geleef het. Twee digters uit die sewentigerjare, ene Arturo Belano en die Meksikaan, Ulises Lima soek na hom. Cesárea Tinajero was die stigter van sogenaamde Visceral Realism. Bolaňo is eweneens die skrywer van 2666 (2004), geskryf toe hy ‘n lewersiekte gehad het. Oor 1000 bladsye lank. Waansinnig. Stories-binne-stories. Axelrad is kennelik bekoor met hierdie skrywer se flinke spel met fantasie en werklikheid.

 

In Axelrad se roman is daar ‘n karakter Arturo, die hoofkarakter Mateus se vader. Karakters soos Felip (centre forward for Real Marquez). Alejandro en Mick Jagger en Margaret Thatcher …

 

Agterin vind ons ‘n lys van karakters (lewend en dood) met ‘n skadu (die sogenaamde Stabber). Elke hoofstuk word begelei met hoofstukindelings. ‘n Alwetende verteller wat tong-in-die-kies kommentaar lewer met opmerkings soos “We are a collection of everything thas happened to us, which is to say we are stories” (152). Dus ‘n manipulerende, ouktoriale verteller.

 

Mateus leef in Vivo. Hy het ‘n hond. Hy moet mense begrawe, maar die dooies het ‘n lewe (en bewussyn). Mense beland in verkeerde grafte, omdat Mateus nie meer goed sien nie. Alto heet sy vader. Die hond se naam is …

 

Daar is ‘n Iets (‘n Skadu) wat amok saai en doodmaak …

 

Daar is ‘n professor wat begeester is met boeke en biblioteke.  ‘n Soort huldeblyk aan Umberto Eco se siening van biblioteke en argiewe. ‘n Roman wat as ‘n kussing dien vir Novo, ‘n huislose (en weerlose) persoon.

 

Daar is duiwe wat boodskappe stuur. ‘n Telefoonhokkie wat meer as ‘n hokkie is. Kennelik ‘n verwysing na Umberto Eco se The Role of the Reader (1979) se voorblad. Sherlock Holmes en dr Watson in ‘n telefoonhokkie wat ‘n Superman T-hemp in die hokkie vind.


Eco is ook die skrywer van Die naam van die roos (1980), ‘n briljante speurverhaal. William of Baskerville is die speurder in Die naam van die roos, ‘n toespeling op Middeleeuse filosowe.


Die Rottevanger van Hamelin, St Augustinus, die tarot, Isabel Allende se siening van die dooies en die Apostasie, speel eweneens in op hierdie knap roman wat eweneens Jung se siening van die kollektiewe onbewuste en die skadu oopmaak. Die mite van Sisiphus en Cerberus. Die betekenis van ‘n clairvoyant en die impak van die hangover. Nomenklatuur en hagiografie (die biografie van ‘n heilige) word teenoor mekaar geplaas.  Augustine, die blommeverkoper, word gekanoniseer.

 

Die verlating van die religieuse teenoor die eskatologiese. Lamentasies teenoor guitige humor. ‘n Lesing van wat gebeur wanneer jou liggaam ‘n lyk word. Die impak van wurms op ons lewe. En krieke.

 

Die roman is ‘n besinning oor die metafisika, oor hoe ons stories beleef (en vertel) en ons vrees vir die dood. Kierkegaard is hier as Kierkergoal.

 

Uiteindelik ‘n roman oor die betekenis van die lewe (en dood) waaroor ons maar net kan bespiegel. ‘n Hoofstuktitel lui: “Life, the Ultimate Abbreviation”. 

 

Die titel sinspeel op iets kosbaars wat ontdek word.  En dit staan opgeteken in Mattheus 13 vers 44: “Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand …”, en in vers 52 word daar verwys na die skat waar nuwe en ou dinge te voorskyn gebring word.

 

En toevallig dat die karakter Mateus heet? 

 

Die skrywer is in Nieu-Zeeland gebore. Sy vader is ‘n Franssprekende Brit en sy moeder Suid-Afrikaans. Hy is woonagtig in Durban waar hy werk as ‘n rekenmeester.

 

Bepaald ‘n talent om dop te hou. In hierdie dae waar middelslag romans aangeprys word, kan ‘n mens hierdie een loof vir die tekstuur én uitstekende navorsing. In Eco se terme is hierdie leser waarskynlik die modelleser. 

 

Magiese realisme en metamodernisme.

 

Gewoon net op ‘n storievlak al heuglik. Umuzi moet geluk gewens word met hierdie roman. Kort in omvang, maar lank in implikasie, toespelings en erudisie.

 

Geskryf in sprezzatura, oftewel: bestudeerde nonchalantheid. Dalk kan ook ‘n erkenning aan Gabriel García Márquez se 100 jaar van Eensaamheid (1967)?

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Monday, May 1, 2023

Resensie | Peter Anderson - Night Transit | Dryad Press, 2023

Peter Anderson - Night Transit. Dryad Press, 2023. 

Resensent: Joan Hambidge



I  Vooraf


Peter Anderson is tereg ‘n bekroonde én gerekende digter. Die Thomas Pringle- en die Sanlam-pryse is aan hom toegeken. Sy vorige bundels heet Litany BirdFoundling’s Island en In a Free State: A Music.

 

Vanaf sy debuut in 2000 het hy die landskap van die digkuns verryk. Sy gedigte dra ryk verwysings vir die leser wat die tegelykertydsaspek van hierdie gedigte begryp: voëls en sterre. Larwes en seediere soos die krill of dugong. Reise oorsee of na die Oos-Kaap. Rome teenoor België. Die Rwenzori gebergtes. Kareedouw versus die Witwatersrand.

 

Catullus teenoor Coleridge. Suid-Afrikaanse geskiedenis teenoor die groter geskiedenis. Karl Marx versus die bevryding in vele lande …

 

Herinneringsreise en reise in die geskiedenis terug en verskillende tale word ook aan bod gebring: Xhosa, Afrikaans, Iers, Italiaans, Latyn …

 

Stilte teenoor geraas.

 

Die geskiedenis van die hede soos die verwydering (en verbranding) van skildery by UCT (“Take Art (Burning the Pictures)”) teenoor die Kristallnacht. Die figuur Heinz Guderian word eweneens betrek waar hy Tolstoi se landgoed beset het tydens die WOII.

 

Hierdie omstrede generaal word ook onthou vir sy memoir geskryf ná die oorlog.

 

Kolonies en gedekoloniseerde ruimtes (soos Maputo).

 

And My Heart, Maputo


Nights almost pass while the bay
fails again, the pipes chafe, the sewers
smirch the air and we climb
up through leagues of breath but never
breach, and somehow sleep.

(…)


(76)

 

Orals is daar beweging want die titel Night Transit aktiveer die begrip in transit teenoor situ.

 

 

II  Die digter as akrobaat

 

Die tegniese beheer van die digter is opvallend. Soos in die vers “Cutting” (87) waar die mes as geskenk van die geliefde vriend die “cutting edge” van hierdie digter se werkswyse illustreer.

 

Die mes – waarvoor hy betaal hy sodat hy nie in die skuld by die vriend sal wees nie – is ironies genoeg die simbool van húl vriendskap. Vol aanpaksels en die woord ligeen waarsku die leser dat die vriend oorlede is.

 

“Quagga Foal” (66 – 68) is klein wyshede oor die Suid-Afrikaanse museum, iewers tussen die haikoe en die Taoïstiese wyshede te vinde in die Tao Te Ching. Met ‘n kopknik na Ezra Pound.

 

10

In the species of the dead. We are

scarce alive, we are the smallest dust,

and though the stats are stacked in strata

(67)

 

“Deposition of Marsyas” (44) speel met die sonnetvorm (selfs genommer) en word opsetlik ‘n mislukte een.

 

3. My music cut both ways.

 

Daar is kodas en selfs ‘n skitter prosagedig “The Nativity” (31).

 

Die klankmatige aspek van hierdie bundel is eweneens opvallend.

 

 

III  Fokalisasie

 

“Equator” (55) is ‘n sentrale vers waar al die temas van die bundel saamgesnoer word: die kykende, ervarende digter teenoor die twee vroue wat stap na Lesotho.

 

Die reiservaring en die gevoel (via Auden) dat die digkuns niks verander nie. Hierom dat die gedigte vir die afstandelike geliefde (van wie hy nooit weer sal hoor nie) op die piazza gelaat word. Dit speel terug op die gedigte oor Catullus en sy geliefde Lesbia: odi et amo (“On the Beaks of Finches”, 29).

 

Die liefdesverse is boeiend – soms met die werklike geliefde; ander kere afwesig. Die groot liefdesverhouding in hierdie bundel is met taal. Die soeke na die perfekte, afgemete woord wat die leser dwing na woordeboeke om sinonieme (en antonieme) op te soek, is tersaaklik.

 

 

IV  Opperman en verder terug …

 

William Shakespeare:

 

It's not in the stars to hold our destiny but in ourselves …

D.J. Opperman: Negester oor Ninevé (1947) 

 

Jungiaanse sinchronisiteit in hierdie bundel is opvallend: Johann de Lange se Die meeste sterre is lankal dood (2020); Joan Hambidge Nomadiese sterre (2021); Linda Ann Strang Star Reverse (2023) bewys Jung reg. Waarom is digters tans so geobsedeer met die sterre? Dalk ‘n soeke na primordiale waarhede?

 

In die vyfde afdeling word dit voltrek in “Little Poem of the Hare and the Stars” (103):

 

Under an astonishment of stars,

as a hare leaves its form, so

stood the matter: desire, of yours -

 

In die afskeidsvers vir sy vriend Stephen Watson wat “Skies” (88) heet, sluit die vers:


The cormorants whittle each other’s necks

to love-spoons. Planets begin their thing. 

 

Die voorblad van Hanien Conradie heet dan ook Die Hart van Dagbreek en die agterplat: Tankwa Dawn begelei binne met Die Groot Verlange en Silence Behind the Sound.

 

Alles temas in Anderson se bundel wat hierdie kunstenaar ook vertolk. Haar kunswerke is uit 2021.

 

 

V  Die digter as sterrewiggelaar

 

Veral, soos reeds vermeld, is die primordialiteit van hierdie bundel uitsonderlik. Klippe word ‘n soort tarok wat die leser begelei om dieper betekenissse te vind. In “Llanelieu” (94) in Powys,  Wallis aktiveer die Keltiese wêreld. Iets oers word geaktiveer, want kerke is gestig in die 13e eeu. En Wallies, die Keltiese taal, word ook ingebed in hierdie komplekse gedig.

 

Tale oorleef soos klippe en graniet.

 

Onvermydelik aktiveer hierdie gedig Opperman se gedigte soos “Dennebol”. 

 

‘n Gedig waarin premonisie, die geskiedenis en verskillende vlakke van bestaan saamgesnoer word in een verbluffende gedig.

 

 

VI  Die politieke dimensie soos Fredric Jameson dit artikuleer in The political unconscious (1981)

 

Dit word na vore gebring in “Take Art (Burning the Pictures)” (50) rondom die omstredenheid van kuns wat verwyder moes word (en selfs verbrand is) by UCT. Hierteenoor die sterk gedig:”The War of Makhanda” (61).

 

Maar politiek het kompleks geraak, anders as in die struggle-jare toe vyand gedefinieer was as die Vyand. 

 

 

VII  Die sintuiglike digter

 

Die digter gee  vir ons ‘n ryke wêreld van insekte en plante en oerdiere (krille en die dugong) en seediere.

 

Te midde van slim, ingebedde verwysings – ek dink hier veral aan Coleridge en waarskynlik ook Seamus Heaney – is die gedigte op ‘n eerste vlak genietlik juis omdat die digter op die musikaliteit van die digkuns fokus.

 

 

VIII  Liminaliteite

 

Dit is ‘n bundel van oorgange, letterlik van een epog na ‘n ander, een digterlike konvensie na ‘n volgende. Besoeke van die dooies (in herinnering). Sterre. Equinox. Tydsones. Littorale ruimtes. Landskappe wat verskil (en ooreenstem). Handtekeninge van stiltes …

 

 

IX Derrida / Lacan

 

Hierdie leser lees ook die snit (cut) raak teenoor (of dalk weens) die asperiteit van die onbewuste. Die onbewuste wat sig laat geld (dwingend) in drome en in gedigte. (Die gedig as cicatrice of litteken.)

 

Of die Derrideaanse grammé (teken) en die verskil tussen spraak en skrif soos hy dit poneer in Of Grammatology (1976).

 

In verskeie gedigte is die snit (cut) opvallend. Die sogenaamde split-subject.

 

Ons kan ons-self nie sien nie – hierom die méconnaissance van die self.

 

In nabootsing lê ook méconnaissance opgesluit en die self se belewenis van sigself as brokstukke. Lacan onderskei tussen die verbeelde (imaginaire), simboliese (symbolique) en die reële (réel) wat deur die sinthome ('n begrip wat inspeel op simptoomSint Thomas en saint, oftewel heilige) verbind word. Die drie vlakke konstitueer betekenis, te wete die pre-linguistiese of verbeelde fase wat beweeg na die simboliese fase.

 

In die knoop (knot) van psigose of neurose word die pre-linguistiese, simboliese en die reële saamgeknoop. 

 

Lacan verwys ook na die manqué à être wat aan die basis van betekenisgewing lê, die gevoel dat iets ontbreek en hierom moet die ego altyd uitbeweeg en na sin soek buite sigself. Die ego egter is vasgevang in 'n doolhof van spieëls oftewel méconnaissance. 

 

(So het hierdie leser indertyd, in 2000, hieroor geteoretiseer. )

 

Maar die gedig verklap wel iets van ons aard. Net soos die leser eweneens iets weggee van lees as ‘n kwanderie.

Ewig onseker.


 

Ten Slotte

 

‘n Manjifieke bundel wat sowel met die kop as die hart smokkel. En jou terugneem na woorde. 


Die gedigte gee stadig hul geheime prys soos ‘n mens ‘n Spaanse artisjok afskil …

 

 

Bronne:

 

Derrida, Jacques. 1976. Of Grammatology. Vertaal deur Gayatri Chakravorty Spivak. Baltimore. Johns Hopkins University Press.

Derrida, Jacques. 1978. Writing and difference. Vertaal deur Alan Bass. Londen: Routledge & Kegan Paul.

 

Hambidge, Joan. 2000.  Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. UCT: PhD.

 

Lacan, Jacques. 1966/1977. ÉcritsVertaal deur Alan Sheridan. Londen: Tavistock 

Lacan, Jacques. 1973/1977. The four fundamental concepts of psycho-analysisVertaal deur Alan Sheridan. Londen: Penguin.