Phil du Plessis. Woordweer. Protea
Boekehuis, 2004. ISBN 1 86919 070 X.
Resensent: Joan Hambidge
Wat maak ‘n mens met ‘n digter wat in die
sewentigerjare alreeds ‘n mindere digter was en op een bundel na, nog nooit
werklik poëties oortuig het nie? Die slotvers “Slegte tye vir liriek” word as
‘n stuk kladwerk aangebied en vir my gevoel is dit ‘n ironiese aanduiding van
die problem wat hierdie bundel bied. Telkens interessante idees vir ‘n
kladboek, ‘n voorstudie, ‘n inval, ‘n idee, maar ‘n vers wat jou bliksem tot
diep in jou skoene kon ek nie vind nie. Is dit byvoorbeeld ‘n gedig wat die
tegnieke van die digkuns ontgin?
Woordweer
Terwyl ek met my beste Grieks
die woord metafoor
(meta-anderkant, foor-dra)
aan ‘n psigoloog
verduidelik
skuif wolke voor die laatsomer in
en begin die nag
‘n halfuur vroeër.
Die bundel bevat konkrete gedigte,
herdigtings en nuwe verse. Ons vind klein ‘brewwe ligmomente’ in “Tussen
hakies”en “Onthuising”.
Hier word nie gesing waar gestaan word nie.
Onrusbarend dat ‘n digter na soveel dekades nie vorentoe beweeg nie.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Insig geplaas.]