Julian Barnes. The lemon table. Jonathan Cape, 2005. ISBN 978-1400076505.
Resensent: Joan Hambidge
Julian Barnes is ‘n gerekende Britse
romanskrywer van onder meer Metroland, Flaubert’s parrot en A history of the
world in 10 ½ chapters, England, England, Love Etc. ‘n Bundel kortverhale Cross Channel het die
jongste bundel verhale The lemon table voorafgegaan.
Die bundel se sub-titel kon ook geheet het:
“Verhale oor die melancholie”. Barnes registreer in hierdie elftal verhale die
menslike kondisie soos wat ‘n mens dit vind by Tsjekof. Die stories is dig
geweef rondom die ‘lemon table’ wat in die slotverhaal verduidelik word. In
Sjinees is die suurlemoen ‘n simbool van die dood.
Dit is vertellings vol lewenswysheid, soos
in “The story of Mats Israelson” wat handel oor die soeke na hartstog in ‘n
klein dorpie met skindertonge en voorskrifte, waar Anders opmerk: “One of the things
he had learnt in life, and which he hoped he could rely on, was that the
greater pain drives out a lesser one. A strained muscle disappears before
toothache…”(p. 44). Of in “The revival” waar Tantalus se dors gelyk gestel word
aan onbeantwoorde liefde.
Barnes is ‘n voortreflike stilis en veral
die wrang, aweregse blik op gewone sake, is sy forté. “Knowing French” is ‘n
verhaal in briefvorm: ene Sylvia Winstanley, reageer op sy roman Flaubert’s
parrot. ‘n Nydige kritikus het Barnes nou onlangs ter take geneem, omdat hy ‘n
reël uit Ulysses geskaai het en waarskynlik is hierdie verhaal ‘n soort bedekte
antwoord op daardie óningeligte leser se groteske on-kennis oor die bewuste
spel tussen tekste in ‘n postmoderne tydvak. Daar word nooit ‘n standbeeld vir
die kritikus opgerig nie, is ook ‘n terloopse opmerking elders wat Barnes se
sinisme onderstreep. Die verhaal werp ook lig op die letterkundige ‘stalker’ of
skrywer van ongevraagde bewonderaarspos wat eintlik ‘n verhulde manier is om
aandag op die self te vestig.
Ook moet die hantering van sub-teks vermeld
word. In die openingsverhaal “A short history of hairdressing” word ontwakende
seksualiteit teenoor die ritueel van haarsny geplaas. Die jong seun – wat ‘n
paar maande lank al langbroek dra – registreer die kodes in die barbierwinkel.
‘n Footjie wat onderlangs gegee word en sy eie seksuele ontwaking (by die
swembad met ‘n ambivalente onderwyser) word deur meditasies en in nabetragting
goed belig. Die stormagtige ontwaking en bevraagtekening van die adolessent het
in min ander verhale ‘n gelyke. Ook in die reeds vermelde “The story of Mats
Israelson” word ‘n verhaal sinvol ingebed. Hier is die kode vir die leser
boomstompe en hoe dit in verskillende lande gemerk word. Dit speel weer in op
die liefde wat in verskillende kulture ánder eise het.
Ook oor die ouderdom, die aftakeling wat
dit meebring, word besonder skerp verhaal in “The things you know” en
“Hygiene”. Barnes gee die indruk by sy leser dat hy ‘n voyeur is en mense
afluister in restaurante en kafees. Sy karakters is eg en lewensgetrou: dit is
mense van vlees en bloed wie se hebbelikhede aan die kaak gestel word, maar met
ongelooflike erbarming. ‘n Gedeelde rekening in eersgenoemde verhaal is ‘n
opsomming vir ou wrewels in ‘n vriendskap; ‘n vergete kondoom in laasgenoemde
verhaal word ‘n metafoor van verlore seksualiteit.
Waarskynlik is een van die sterkste verhale
“The fruit cage” waar ‘n man vasgevang word tussen minnares en vrou.
Uiteindelik is hy vasgekluister in die hospitaal na ‘n ernstige beroerte (of
dalk aanranding deur sy vrou?) en wanneer hulle hom besoek, afsonderlik, groet
hy beide met dieselfde woorde: “My wife, you know. Many happy years”. Hierdie
verhaal word uit die perspektief van die seun vertel wat terugkeer na sy
ouerhuis en in sy waarnemings ook die verlede opvang: hoe ‘n kaartjie indertyd
op die underground gelyk het en die reuke uit sy jeug wat soveel herinneringe
dra. Dis dan ook hy wat die merke op sy vader se gesig opmerk en die leser se
siening van wat werklik gebeur het, beïnvloed. Ook ironies dat die wasmasjien
se handelsnaam Thor is. Die vader leer ook sy seun dat die Britse kultuur een
van onsentimenteel van aard is. Hierom dat die seun dan so skerp kan inkyk op
sy jeug en sy ouers se verhouding.
Die ‘fruit cage’ gaan eweneens terug op ‘n
jeugwaarneming toe die seun gesien het hoe sy pa ‘n voël nek omgedraai het, in
‘n hok geplaas het om ander diewe af te skrik. So? Is die vader werklik so
onskuldig wanneer hy sy vrou verlaat en by sy minnares gaan intrek? Verstaan ons
hierom hoekom sy moeder hom steeds verpes en terugroep huis toe?
Nie om dowe neute nie eindig hierdie bundel
met die treffende “The silence” en die leser weet al duidelik teen hierdie tyd
dat dit presies is waaroor hierdie verhale handel: oor die stilte wat agter
alles skuil en alles bedreig.
Kortverhale funksioneer soos gedigte: en
die leser word opnuut bewus van hierdie wysheid wanneer ‘n mens die bundel lees
en besef hoe verhale op mekaar inspeel en hoe simbole binne ‘n verhaal hanteer
word. Barnes se eie stem skroei nooit deur nie, ofskoon die leser deurgaans
bewus bly van ‘n siniese, gedistansieerde ‘outeur’ in Wayne Booth se
terme.
Dis ‘n skitterende versameling wat met elke
her-lees vérdere geheime openbaar. Die verhale werk soos biljart: dit kan vir
ewig aanhou soos ‘n karakter opmerk.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]