Gabriel García Márquez. Memories of the Melancholy Whores. Jonathan
Cape, 2005. ISBN 0224 077643 .
Resensie. Joan Hambidge
In sy lang outobiografiese verslag Living
to tell the tale (2003) skryf Gabriel García Márquez oor sy jeug en hoe dit
gebeur het dat hy ‘n skrywer geword. Die leser word teruggeneem op ‘n reis na
sy geboortehuis en die ontmoeting met sy vriende en familie. Ons lees ook van
sy eerste ervaringe as ‘n joernalis en sy fenomenale verbeelding as die skrywer
van ‘tall stories’. Dit is waarskynlik een van die pakkendste tekste oor hoe ‘n
skrywer se verbeelding werk. Sy One hundred years of solitude (1970) is een van
die grootste romans nog in die letterkunde en die Colombiaanse skrywer woon
tans in Mexiko.
Memories of my Melancholy Whores is sy
jongste roman, geskryf deur ‘n ou man (ons wag terloops op die tweede band van
sy memoirs!), deur kanker geteister. Die
teks, vertaal vanuit die Spaans deur Edith Grossman is besonder mooi uitgegee
deur Jonathan Cape, doen die reputasie gestand van hierdie skrywer as ‘n
pakkende fabrikator. Daar word vertel dat ‘n eerste uitgawe van hierdie roman
‘gesteel’ is en dat Márquez in woede toe besluit het op ‘n uitgawe met ‘n
veranderde slot. ‘n Foefie dalk? Soos Houellebecq wat eweneens beweer het sy
boek is in park ‘gevind’? Die Colombiaan is waarskynlik darem bó hierdie soort
bemarkingsfoefie verhewe, en boonop weet ons hoe dinge gesteld is in
Suid-Amerika.
Ons het tien jaar gewag vir hierdie roman
wat handel oor die ontdekking van die liefde op ‘n laat ouderdom. ‘n Ou tweederangse
joernalis, negentig jaar oud, besluit om vir homself ‘n verjaarsdaggeskenk te
gee. Sy cadeau aan homself is ‘n besoek aan ‘n hoerhuis waar hy ‘n adolessente
maagd in die oog het. Hy noem haar Delgadina wat die leser dadelik bewus maak
van die mag van die verbeelding wat werksaam is wanneer ons verlief raak. Hy
tree nooit met haar in interaksie nie, maar net haar aanwesigheid het ‘n uiters
passievolle reaksie tot gevolg waaroor hy dan begin skryf in sy weeklikse
koerantrubrieke. Sy is as’t ware die sneller vir sy verbeelding en herinnering
want deur haar onthou hy al die ander ervarings met die vroue in sy lewe. Dit
was altyd betaalde seks en die roman word ‘n skerp analise van die verhouding
tussen verbeelding en werklikheid; liefde en seks.
Die roman, met ‘n pragtige voorblad, is net
so oor die honderd bladsye en is gskryf met ‘n vaste hand vol verwysings na
ander tekste. Dis hoogs leesbaar en onderhoudend, maar geplaas teen die groot
obsessionel roman in die letterkunde, te wete Vladimir Nabokof se Lolita, is
dit maar klein in omvang. Trouens, die leser voel dikwels dat hier met ‘n
eerste, ónklaar weergawe gewerk word. Die slot het vir my gevoel onaf gevoel.
Die boeiende passasies kan egter nie opmaak vir (hier)die leser se gevoel nie,
juis omdat die outeur se vorige werke so meesleurend en oorrompelend was.
Maar ‘n ‘mislukte’ roman van herdie outeur
is nog steeds ‘n boeiende leeservaring. Love in the time of cholera (1988) is
dit helaas nie.
Onthoubare passasies is daar wel: hoe die
obsessie die leesgemeenskap meesleur in die verteller se rubrieke; sy gevoel
van onthutsing wanneer hy ‘n vermoorde man se lyk sien; sy gevoel van verraad
wanneer die bordeeleienares die meisie ‘uitverkoop’....
Die tol wat die obsessionele liefde eis -
soos die verwoesting van 'n kamer - word helder vir die leser verbeeld. Die
karakter Rosa Cabarcas staan wel helder geteken voor die leser se geestesoog,
maar hierdie boek oor ouderdom en die verlies van aansien, steek af teen die
meester se vorige werke, Edith Grossman se verruklike vertaling ten spyt.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]