Bladsye / Pages

Wednesday, March 20, 2013

Breyten Breytenbach - Woordwerk (1999)



Breyten Breytenbach. Woordwerk. Human & Rousseau, 1999. ISBN 0 7981 3942 0.

Resensent: Joan Hambidge

Woordwerk is dit wat die Amerikaners tereg tipeer as die sogenaamde self-begetting novel. Dit is 'n soort metaroman wat die illusie skep van spontane vertelling, 'n verhaal wat as't ware sy strukture vooropstel en die skryfproses al lesende ten toon stel. Daardie soort roman wat Barthes scriptible oftewel writerly in S/Z (1970) tipeer het.

Vir die teoretiese leser sal hierdie roman 'n aanskoulike demonstrasie wees van 'n rasegte postmodernistiese roman wat alle grense afbreek. Ook die alter ego word ingespan en neem verskillende identiteite aan: Dog, Kek in 'n boek van swerfs (swerf en herfs).

Breyten Breytenbach is by uitstek die skepper van die metakuns. Sy eerste digbundel stel die leser voor aan die gedig as fabrikasie. In Lotus en in Om te vlieg is hierdie tegnieke ook aanwesig, maar in Woordwerk - met die toespeling ook op woordverwerker - word 'n soort (post)modernistiese allure aan die proses gegee.

Hierom die verwysing na Deleuze dat om te skep nie kommunikasie is nie, maar weerstand. Deleuze, saam met Guattari, was natuurlik die filosoof-psigoloog van Anti-Oedipus: Capitalism and schizophrenia (1972/1984) wat die menslike bestaan reduseer tot die van die masjien. In hierdie studie wat inskryf teen die Freudiaanse nosie van die self word 'n radikale her-siening van die menslike ego gegee en word die skisofreen as 'n normaler toestand geag as die van die gewone mens. In disparate self-hede is dus meer waarhede te vind as in die bourgeois nosie van die geïntegreerde self. (Woordwerk verwerp ook eksplisiet Freudiaanse denke.)

Deleuze aktiveer ook selfmoord en in Breytenbach se tekste is skryf dikwels gelyk aan die dood, aan heropstanding soos die Boeddhisme ook glo dat die dood net 'n ander en nuwe vorm van lewe is. Hierom word daar by herhaling geskryf dat wat jy in die aardse bestel doen, jou lot hierna sal bepaal.

Daar is ook 'n verwysing na Rimbaud, na kouevuur en natuurlik by implikasie na Seisoen in die paradys wat hier as't ware 'n Seisoen in die vagevuur word. Dit is 'n anti-roman, 'n boek van suiwering, van uitskot van die ego èn self-illusies.

By Breytenbach is die self paradoksaal 'n illusie. Hierom die verskillende skuilname (Jan Blom, Jan Afrika, Buffalo Bill, ensomeer) wat in verskillende boeke aan bod kom en hierom ook die obsessie met reis. Dit is dan ook die letterlike reis wat onder neem word en die reis van skepping, fantasie, woord-verwerking.(Die verskillende pakkies suiker uit hotelle dui hierdie itenarium aan.)

Die digterlike onbewuste word hier vir die leser ten toon gestel. Hoe die digter as't ware 'n dorpse legende kan omdig: soos die meisie in 'n skyndood wat deur 'n jagse lykbewaker tot lewe geroep word; die beer wat in die Serwiese oorlog gevoer word deur besorgde opsigters; 'n jaloerse vrou wat iemand vermoor en die lyk as 'n maal voorsit.

Die boek oftewel selfroman is kladboek, dagboek, aanklag (as daar ooit 'n Breytenbach-teks was wat die yke van sy gevangenskap duidelik ten toon gestel het, is dit hierdie boek) en roman-in-wording. Die outeur tipieer dit self as 'n tussenin boek met aantekeninge, opmerkings, bygedagtes, aflate. Dit is kennelik ook 'n opvolg van Boek. Ten beste beskryf as 'n nomadiese geskrif(p. 125). Die romansier is hoerkundige(p. 148) en die vertelling word terug gevoer na die Chinese roman uit die 12e eeu.

'n Roman wat ook ter stigting en lering is vir die menslike kondisie. Dit is ook soos 'n eie hand wat 'n mens kan verwurg. (Vir my, terloops, is die subteks van selfmoord opvallend in hierdie roman; hierom dan die tersaaklike verwysing na Deleuze.)

Agterin verskyn 'n brief: 'n brief wat eweneens wil verduidelik en die geliefde persoon kan weer eens nie Afrikaans verstaan nie, 'n deurlopende tema in Breytenbach se oeuvre sodat taal ook alreeds iets doods in sig dra.

Nie om dowe neute nie word Le Corbusier hier betrek: die breking van ruimte, die geronde en organiese vorms, die verwydering van binnemure sodat areas aaneenvloei en multifunksioneel word (p. 31). My eksemplaar sit vol donkie-ore soos tersaaklike passasies of sleutels hul aandoen.

Heel gepas word die postmodernis in Afrika soos volg vertaal: “die esel is die subteks, getrou maar nikssiende. Hy dra die woorde(dis nou die tou) wat slegs sin maak wanneer 'n leser daarmee gevang word. Die berg is die 'storie' (p. 177).

Die bekende Breytenbach-temas is hier aanwesig: die lewe, die dood ('dood gaan is nie 'n teks nie', p.133; selfmoord, hergeboorte; ekskresie, kreatiwiteit; reis, dood. Elke boek, roman, digbundel is 'n heraktivering van die ou temas. 'n Wederopstanding van die woord.

Ook die word die Christendom met die Boeddhisme vermeng, en daar is verwysings na vele religieë, ook die Sufisme - waarskynlik om die universaliteit van die mens se twyfels en ekstases op die ondermaanse te beskryf.  

In hierdie roman - ja, waarskynlik eerder anti-roman - word die leser op reis geneem. Woordwerk sleur mee. Die woordgebruik is kreatief, die beelde duisel voor 'n mens se oog.

“Miskien is die dood maar net 'n oorskatte literêre afspraak”, verneem ons op bladsy 180. En dis 'n boek met 'n skrywershart vol pyn, om die skrywer se uitspraak aan te pas.

Dit is die werk van 'n digter en die volgehoue poëtiese krag dwing bewondering af.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]