André P. Brink.Voor ek vergeet: roman. Human &
Rousseau, 2004. ISBN 0 7981 4431 9.
Resensent: Joan Hambidge
‘n Bestekopname van ‘n ouerwordende skrywer. Dis
waarskynlik die beste opsomming wat ‘n mens van die jongste Brink-roman, Voor ek vergeet, sou kon skryf. ‘n
Skrywer, Chris Minnaar (‘n baie simboliese naam) wat die verskillende vroue wat
hom liefgehad het, minder bemin het, geïnspireer en verlaat het, se storie.
Soos Donkermaan dan ook
intertekstueel verslag lewer van die hele Brink-oeuvre, sou ‘n mens ook met
groot vrug die verskillende vroue-figure uit Brink-romans kon plaas neffens
elke vrouekarakter in hierdie roman.
Die roman is met ‘n vaart geskryf en nie om dowe neute
nie, is een van die opvallendste intertekste die Duisend-en-een nagte. Sjeherazade se nie so bekende suster word
vermeld. Die stilte, dit wat agter ‘n vertelling lê; dit is terselfdertyd ook
‘n bestekopname van die werklike skrywer Brink wat besig is met sy eie
testament en bestekopname binne die Afrikaanse en buitelandse letterkunde. (Die
Arabiese lande word nou ‘n ander werklikheid: ‘n plek wat betree en
ontromantiseer word deur die VSA.) Daar is ook ‘n verwysing na die opera Don Giovanni en ‘n veelheid van
tersaaklike interekste, soos natuurlik ook Lawrence Durrell wat pertinent Die Ambassadeur weer onder die leser se
aandag bring met die uitspraak dat die liefde in wese ‘n metafisiese ondersoek
is.
Rachelle, die pas afgestorwe geliefde, is die
katalisator vir die terugkeer na die verlede en onder meer word dit ook ‘n
ondersoek van die skrywer se verhouding met sy patriargale vader, ‘n prokureur
en dié se huigelagtige affaire met ‘n bruin sekretaresse. Die verhaal word hier
1951 gesitueer en op ‘n vernuftige wyse word die hele politieke omwenteling van
daardie tyd en die vernederende optrede teen bruin mense onder die loep geneem.
(In Barthes se siening van vraisemblance
waaier die roman ook verder oop: die werklike outeur se vader was ook ‘n
regsgeleerde en die teks problematiseer werklikheid en fiksie nog vérder.)
Boonop beleef Chris ‘n driehoeksverhouding met Rachelle
en haar eggenoot, George, ‘n fotograaf. Lacaniaans gelees lewer die roman
kommentaar op die insestueuse verhouding wat skryf aktiveer: die spanning
tussen die verbeelde en simboliese dimensie en die ewige ontwykende reële. Soos
dat ons die geliefde verander in dit wat ons wil hê die geliefde moet wees.
Die skrywende en belydende Chris Minnaar konstateer dat
hy net kan skryf as hy verlief is en dat hy ook verlief raak op sy
vrouekarakters; ‘n stelling ook bekend aan lesers van Brink-onderhoude. So
gelees, doebleer die roman bekende Brink dicta
oor fiksie en ondermyn dit terselfdertyd, omdat die teks jou telkens terugneem
na ‘n ander teks.
Daar is telkens verhaalbreuke (aangedui met klein naak
prentjies van kaal vroue) wat die leser herinner aan Roland Barthes se
uitspraak dat die mees erotiese gedeelte in die teks juis daardie oomblik is
waar ‘n mens ‘n gaping vind in die kledingstuk (The pleasure of the text). Afgewissel met Minnaar se obsessie met
laatnag-TV oor die VSA se invalle in die Midde-Ooste wat hy in sy gedagtes
vererotiseer. Seks word dikwels as gewelddadig beskryf (o.a. Isolde se ervaring
in ‘n US-koshuis of die verteller se jeugherinnering aan ‘n soort
heksesabbat). Die seksuele as ‘n
kortstondige dog durende ervaring, word eweneens by herhaling uitgespel. Vroue
word met wyn vergelyk en ook dit verwys na Brink se belangrike studie oor
brandewyn.
Net soos die karakter André waarskynlik ‘n speelse
verwysing is na die skrywer wat ons ken uit sy verskeie reisbeskrywings van
Frankryk (p. 255). Tosca is eweneens
‘n belangrike interteks vir hierdie roman, omdat hierdie opera kommentaar lewer
op die spanning tussen die private en die politieke. Hierdie roman lewer
deurentyd kommentaar op die outeur se politieke romans en die enorme weerstand
wat Brink van die indertydse regering ontlok het. Is dit toeval dat Chris
Minnaar in Engels skryf? Wil Brink hiermee ook kommenaar lewer op die eng,
Afrikaanse letterkunde? Boonop is sy ou moeder, Mam, ‘n toehoorder wat moet
help onthou, ‘n bekende tegniek van die belydenisroman.
Die verwysings na
Bagdad en die VSA maak ook ‘n uiters aktuele stelling oor skryf binne ‘n groter
letterkunde; hierdie roman is immers ook vir ‘n internasionale mark bedoel. Die
Engelse weergawe het simultaan met hierdie roman verskyn en ‘n Engelse leser se
reaksie sou waarskynlik totaal anders wees as die in-leser. (‘n Engelse kritikus het reeds beswaar
aangeteken dat daar te veel vroue is; hy kyk bepaald die Arabiese Nagte en oordrywing mis!) Dit is psigoanalities ook
relevant dat sy vroulike hoofkarakter sterf; hopelik nie ‘n afskeid aan die
romankuns nie!
Dit moet met groot lof
gesê word dat die skrywer Brink (of is dit dalk sy alter ego, Minnaar?)
die storievlak vernuftig laat loop, maar onder draai die intertekstuele en
insestueuse duiwels rond vir die speurende letterkundige.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]