Wednesday, April 1, 2020

Reisrubriek | Die buurt is stil (2020)


Maandag 30 Maart Dag 4

In my derdejaar sielkunde het ons 'n studie gelees Mense in rampe.

Die boek het 'n geweldige indruk op my jong gemoed gemaak. In daardie jare het Standerton, waar ek my hoërskooljare deurgebring het, elke sewe jaar 'n vloed beleef. En die chaos  (en vrese) wat dit tot gevolg gehad, sal ek nooit vergeet nie. Kinders wat uitbundig op motorbande deur die strate vaar en winkels wat geplunder word deur diewe.

In hierdie studie - wat in my geheue ingekerf is - wys die skrywer hoé mense in rampe optree. Die ergste kom na vore. Die drang om te oorleef is sterk, maar terselfdertyd is mense se erbarming opvallend. Die goeie en die slegte, dus.

Tydens ons inperking - ons strafjaart-periode - vind 'n mens dit. Mense stuur boodskappe om te bemoedig en te vra of alles wel is.

Dit bewys ons afhanklikheid van ander mense en ons sigbare en onsigbare verbintenisse.

'n Hele netwerk van mense in my kenniskring se lewens is geraak: die bestuurders en kelners by die Cape Milner-hotel; die taxibestuurders wie se nommers ek het en wie se lewens deel geword het van my bestaan; kelners by restaurante; my kollegas; my vriende.

Waar is almal nou in hierdie tyd? Hoe sal die vader wat ekstra skofte snags in 'n taxi ry sy seun verder kan ondersteun aan die Universiteit van Transkei?

Is die ou man wat snags dubbelskof ry se kleinkinders veilig in Hermanus?

As die vyeboom nie olywe kan voortbring nie, kan die olyfboom nie vye dra nie.

In die boek Hebreërs word daar so geeïndig:

Die wat van Italië is, groet julle.

Uiters ironies in ons tyd. Want ons beleef nou saam met die mense in daardie land inperking en afsondering. In hierdie boek word daar telkens verwys na ou gedeeltes in die Groot Boek soos Noag se Ark.

Daar is telkens onderstreep wat wys hoe deeglik ek dit gelees het as 'n jong kind. Toe verloor ek my geloof as jong student in die filosofie. 'n Oewerlose bestaan, maar genadiglik vind ek dit weer terug via die Boeddhisme.

Metafisiese indeks

HJS

Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het.
Job 38: 4

O goedheid Gods hier nooit volprese,
my eerste mantra roepend, ‘n hert in dorre streke;
versies soos braille in ‘n blou onderstreepte Bybel:
ek het jou by die naam geroep, jy's myne ...

In Jerusalem hoor ek: aanbid die Seun van God.

Verloor my geloof tog later.
Sartre en Camus, die Eksistensialisme,
“God is dood”, “die hel is ander mense”,
geleer as jong student in die filosofie.

In Pamukkale weet ek wees eerder koud as lou.

Net soms, net soms laat Hy van hom hoor:
skryf met ‘n penstreep teen die lug oral oor,
stuur ‘n teleks per aardbewing (woedend en koud)
of praat woordeloos in ‘n magiese oerwoud.

In Manaus verkies ek God bó niks.

Van Wes na Oos alleen vertrek:
Die Bybel, Ateïsme, Boeddhisme verken.
Die krag van meditasie of stil gebed
nie meer langer deur my ontken.

In Nepal word ek eindelik één met God.

In Jerusalem, Pamukkale, Manaus en Nepal
verbind ek die Onsigbare,
daardie Iets, daardie Onverwoordbare krag,
genaamd die Metafisika.

(uit: Indeks, 2016).

Laatmiddag apteek toe en dan winkels toe om proviand aan te vul. 

Alles is stil. Hier en daar stap iemand. RSG kondig aan dat Cyril Ramaphosa weer vanaand met ons gaan praat. Ek besluit ek gaan eerder nie luister nie.

Wat kan hy sê wat ons enigsins beter kan laat voel?

Kyk verder aan Mr. Robot. Die plot is uitstekend uitgewerk.  

Laatnag begin ek kyk na Patrick Melrose.

Die film hou my gevange: 'n analise van verslawing en kindermishandeling. Patrick Cumberbatch is in die hoofrol van die reeks wat gebaseer is op die semi-outobiografiese romans van Edward St Aubyn.

Die vader wat die kind seksueel misbruik, gee aanleiding tot Patrick se dwelmsverslawing en alkoholisme. As volwassene is sy verhouding met vroue ook hierdeur gekleur. Hy verneuk sy vrou met sy jeugliefde.

Het sy ma Eleanor, die alkoholis,  geweet? In 'n roerende toneel wanneer hy vir haar vertel wat gebeur het, is haar reaksie:

"Ek is ook verkrag."

Jennifer Jason Leigh vertolk hier skitterend die rol van die moeder: van 'n jong Amerikaanse bedorwe rykmansvrou tot 'n weerlose stotterende ou vrou wat versoek dat haar seun haar eerder moet doodmaak, omdat haar lewe niks meer werd is nie. Sy is inkontinent en kan nie meer praat nie. Patrick organiseer so 'n uitvaart; op die laaste oomblik trek sy kop uit en weier om na Switserland te gaan.

Uiteindelik bemaak sy alles aan new age-vriend, Seamus, en haar oordrewe obsessie met goed-wees-vir-die-mensdom word uiters ironiese kommentaar op haar rol as afwesige moeder.

Sy het nooit haar seun teen die monsteragtige vader beskerm nie; én hy word onterf.

Wreedheid afgewissel met intense humor. Ironie, word daar opgemerk is ook 'n verslawing.

Die vader se vriend is 'n mislike figuur wat ook sy dogter gemolesteer het, maar 'n mens laat skaterlag met sy geniepsige innuendo's en sarkasmes oor Freud. Uiteraard. Want haar vriend, die psigoanalis, ontwrig sy lewe met die waarheid.

Rehabs, molestering, euthanasia, selfmoord, die familie, liefdesontrou en klasverskille word alles ondersoek in Patrick se lewe wat oor vyf dekades strek.

By 'n rykmansparty is daar 'n vinjet met Prinses Margaret wat die Franse Ambassadeur verneder wanneer hy per ongeluk sous op haar duur rok mors.

Agter sy chic vrou sit daar 'n gemene en geniepsige teef, merk sy oom op.

Die vader dwing byvoorbeeld die moeder om die vye van die grond te eet in hul Franse vakansiehuis, omdat sy kommentaar lewer op die armes wat nie kos het nie.

 Hoe dikwels is mense nie ongenadig met mekaar in intieme verhoudings nie, eerder as ondersteunend. 

In vele terugflitse word die wreedhede ontmasker.  Patrick se besoek aan New York en waar hy by die verkeerde lyk moet afskeid neem, is skreeusnaaks.

Hoe som 'n mens jou lewe op? Wie is jy uiteindelik?

Daar is ook die besef by Patrick dat 'n liefdesverhouding jou nie kan heel as jy stukkend is nie.

Die olyfboom kan inderdaad nie vye dra nie ...

Tot in dag 5 kyk ek hierdie pakkende reeks. Die humor is uitsonderlik: Brits!


Dinsdag 31 Maart 2020 Dag 5

Nou is ons al by Thessalonicense ... Galásiërs ... Ou woorde soos goedertierenheid val my op en hoe ek my uitgawe fluks onderstreep het. Die Apostel Paulus se briewe.

So ontglip 'n resensie my wat in Sondag Rapport verskyn het. Die Press Reader gee wel die resensie deur. Later die dag is dit wel op Media24 beskikbaar.

Ek neem die films terug wat ek geleen het. Ons eet aan Woolies se rump en wors met roosmaryn.

Daar flits vele grappe oor my foon. Van een met Van Gogh se selfportret waar hy nie 'n masker kan dra nie (weens net een oor) tot afstandsonderrig wat vergelyk word met die sinkende Titanic.

Langs my bed is daar 'n kalender van 2020. Sou ons ooit kon weet hoe hierdie jaar sou uitspeel?

© Joan Hambidge