Wednesday, April 8, 2020

Reisrubriek | Supermaan (2020)


Maandag 6 April 2020 | Dag 11

Om die stilte te verplaas. So het 'n Nederlandse digter die proses beskryf wanneer jy 'n brief of e-pos skryf. T.T. Cloete het dit gereeld aangehaal.

Ek tob oor die Koningin van Engeland se toespraak van Sondagaand en hoe ons moet moed hou. Ons sal weer by ons families en geliefdes wees.

Sy was 'n werktuigkundige tydens die Tweede Wêreldoorlog en het dus die ellende eerstehands ervaar.

En hierdie uitsonderlike toespraak is een van 'n handvol. Die uitbreek van die Golfoorlog in 1991; op die vooraand van Diana se begrafnis in 1997; en by die dood van haar moeder in 2001.

'n Vierde buitengewone toespraak dus van hierdie 93 jarige in 'n krisistyd. 'n Vrou wat net bewondering afdwing - met elke krisis bly sy in beheer.

Selfdissipline, stille vasberadenheid én erbarming: dit is volgens haar kenmerke van die Britte.

Vir my is hierdie toespraak 'n keerpunt. Die oneindige negatiewe bespiegelinge kan ek gewoon nie meer verteer of verduur nie. Laatnag gesels ek met 'n spirituele vriendin en ons besluit: voortaan net positiewe gesprekke met mekaar. Alle negatiewe spekulasies moet waai.

Franco Corelli en Leontyne Price verwarm my hart met húl vertolkings van Carmen.

Oor laasgenoemde soos volg gedig:

Leontyne Price (1927 - )

‘n Opdrag skryf oor Leontyne Price
bring my voor ‘n onsingbare uitdaging te staan.
Hoe skryf ‘n mens ‘n vers oor haar wat klanke
soos duiwe uit ‘n hok laat vlug?
Kyk hoe draai die wintervoëls in gelid,
swenkend in formasie;
één slaan sy eie koers in,
dis daardie hoë noot,
daardie een wat jy nooit weer op hok sal sit.
Leontyne Price se lyf is ‘n duiwehok
waaruit sy sierduiwe laat ontglip,
asemsnakkend, beeldskoon,
elke noot opreg geteel,
vrygelaat in volledige beheer.

(uit: Lot se vrou, 2012).

Lukas bevat 'n ryke skat van gelykenisse: die Verlore Seun, die Barmhartige Samaritaan, Saggéüs, die tollenaar, wat in die vyeboom sit om Jesus te kan sien.

Die arm weduwee wat haar laaste geld gee; die reiniging van die tempel.

Die blinde man van Jérigo.

Die beroemde gebed van Jesus staan hier opgeteken.

Ja, gee ons vandag ons daaglikse brood.

Hendrik J. Botha het hierdie lieflike gedig geskryf, opgeneem in sy bundel Voorspraak (Naledi).

Vyeboom

In die herfs van ’64 het ons verhuis – 
laat alles agter, 
so finaal.

In drome klim ek snags die vyeboom  
waarin ek destyds 
ure lank alleen kon speel.

Tevergeefs geneul by Pa
om één maal vlugtig terug te keer.

Ná vyftig jaar bring die GPS
my voor ’n vreemde muur
met lemmetjiesdraad,
’n motorhek op slot.

’n Vrou met kamerjas, pantoffels
en ’n sigaret laat my in
om toentertyd 
se spore te loop soek.

Saam draal ons om die huis:
Die tuin lê kaal,
die tuinpaadjie se knak 
nog in plek.

Nêrens meer ’n vrugteboord.
’n Maer hond slaap eenkant in die son.
Ek vloek, draai om.

Onderweg probeer ek uitpluis, Pa,
hoe my pad sou loop
as jy my destyds sou toelaat

om één maal terug te keer,
vir oulaas soos ’n Saggeus
in die vyeboom se takke te kon speel.

Lukas sit vol paradokse en intertekste. Heen-en-weer word daar vertel van gebeurde wat in die Ou-Testament reeds afgespeel het.

Twee vir 'n stuiwer bring 'n jeugherinnering terug: die roman van W.A. Hickey wat ek as kind in standerd ses moes lees en verpes het. Die voëls se lewens was buite my ervaringswêreld. Toe nog nie 'n gelykenis verstaan nie.

Triplets of Belleville is 'n animasierolprent van Sylvain Chomet (2003). Geleen by die buurman, 'n kenner van die genre omdat hy self 'n ontwerper en illustreerder is.

Bittermin dialoog; net liedere en pantomime.

Die storie vertel die verhaal van ene Madame Souza, 'n ou tante wat haar kleinseun red. Hy is 'n Tour de France fietsryer wat deur die Franse mafia ontvoer is weens dobbelary. Hy word na die stad Belleville geneem ('n samestelling van NYC, Montréal en Quebec). Die vetsak hond, Bruno is die metgesel en ons ontmoet die Triplets of Bellville, music hall-sangers. Dit alles speel in die dertigerjare af.

Weer eens 'n bewys dat animasie- of tekenrolprente nie noodwendig vir kinders is nie. Hiervoor is die politieke toespelings en sosiale analises te ingewikkeld.

Rembrandt se beroemde skildery Die geslagte os (1655) vind ek boeiend - met Van Gogh se antwoord hierop.

"In een Binnenhuis hangt een geslagte Os aan den Balk ...". Waarom boei hierdie skildery juis nou?

Rembrandt het die Bybel goed geken en hier is duidelik 'n simboliese betekenis opgesluit, aldus Niels Bergervoet (Rembrandt and the Slaughtered Ox | Conspícere - to behold, Besoek 6 April 2020).

Dalk 'n toespeling op die verlore seun vir wie daar 'n gemeste kalf geslag is? Of ook 'n verwysing na die kruisiging van Jesus?

Hieroor moet daar 'n gedig geskryf word.


Dinsdag 7 April 2020 | Dag 12

Tyd-en-ruimte

Is dit Dinsdag of Dingaansdag? Daardie politiek-inkorrekte idioom som die tydvak goed op. Tyd. Die ervaring van tyd. Die relatiwiteit van tyd. Tyd wat aan ruimte gekoppel is. En hoe ons skynbaar nou (amper) in die middel van die inperking is.

Soos 'n vlugvertraging. En daardie gevoel dat tyd s-t-a-d-i-g beweeg, terwyl jy die soveelste keer na die aankondigingsbord kyk.

En wag. So het ek indertyd hieroor gedig:

Vlugvertraging

Die wagkamer klinies
die passasiers verveeld
'n tussenplek vir siele
tussen lewe en dood
ook daar verveling? Onrus?

Digters wag voortdurend
op 'n inval. Iets soos inspirasie.
Of 'n beeld. Ha! Die leuen
om te sê dig is soos reis.
Of die eindpunt so belangrik as die aanvang.

Die gedig is 'n wagkamer
vol versreëls onrustig
wagtend op die digter:
"Sal alle versreëls
nou aan boord gaan."

Dus: geen vlugvertraging, geen vers.

(uit: Lykdigte, 2000).

Gisteraand is my komputer se horlosie 'n uur te vroeg en dit verklaar waarom die universiteit se webruimte nie wil oopgaan nie.

Dus: reggestel. Een keer vantevore gebeur op 'n oorsese reis toe die komputer deurmekaar geraak tussen verskillende tydsones.

Ons kyk almal agtertoe nou. Ons onthou ervarings op hierdie binnereis waarvoor jy geen visum behoef nie. 

Tydsones

Hoé word die digter van die gedig geskei,
die danser van die laaste dans bevry
as dié danser oor sóveel tydsones wals:
tyd gewen en tyd verloor; tempus verleng
in 'n dwingelandy (as time goes by ...)
tereg 'n verslawing en boetedoening vir my.
Zeigarnik had gelyk met die gebreekte opnames
van ons vreemde non-affair, soos jy dit roep,
vertolk ons vir oulaas die rolle in Brief Encounter
met spyt vir jou, in vele ongeposte briewe aan my.  

Waarom onthou 'n mens die kraters in Chili? Of Berg Fuji buite Tokio?

So volgens die Zeigarnik-effek onthou ons dit wat onverwags onderbreek is, beter ...

'n Mens weet byvoorbaat dat ons hierdie tyd sal onthou.

Nou weer die Groot Boek. Markus wat die Gelykenis van die Saaier voortreflik vertel, die lot van Johannes die Doper, die vermeerdering van die brode   ...

En die dissipels wat niks by hulle mog hê nie, behalwe 'n kleed en skoene.

Jesus word gevolg deur 'n naakte man met 'n linnedoek en volgens Markus 14: 52 het hy die linnedoek gelaat en naak weggevlug.

Wie is hierdie man?

Is dit dalk Markus wat homself hierin die verhaal inskryf as 'n ouktoriale verteller? Dit is die mening van 'n vriendin en Bybelkenner.

Nou is dit die Heilige Evangelie van Matthéüs.

Soveel uitdrukkings wat idiomatiese taal geword het, staan hier: sout van die aarde; 'n oog vir 'n oog;  mot en roes wat verweer; jy kan nie twee here dien nie ...

En in 5:22 staan daar: as jy vir jou broer Raka sê, sal jy tot verantwoording geroep word. Sou dit 'n implisiete aansporing vir Van Wyk Louw gewees het toe hy Raka geskryf het?

En elke dag het genoeg aan sy eie kwaad ...

Daar is hier ook heenverwysings na die verhaal van Jona.

*

'n Brommer in die kombuis word hardhandig verwyder. Die huis word georden en vensters word skoon gemaak.

Ons is bykans halfpad deur hierdie tyd van ingehok wees en die media berig vanaand dat die inperking nie noodwendig langer sal duur nie.

Wie weet?

Sover 'n tyd van 'n binnewaartse reis. 'n Herbesoek aan die Groot Boek

Vanaand is dit supermaan en die maan - met 'n pienk skynsel - sal nooit weer so helder wees nie.

© Joan Hambidge