Thursday, April 9, 2020

Reisrubriek | Pase (2020)


Donderdag 9 April | Dag 14

Pase is more.

En in hierdie tyd luister ek na requiems en die Cavelleria Rusticana:

Pietro Mascagni: Cavalleria rusticana - Intermezzo Lim Kek-tjiang conducts Evergreen Symphony Orchestra

The Gospel According to Matthew is 'n aangrypende film van die Italiaanse filmmaker Pasolini. Hy het die verhaal van Jesus vertel deur Matthéüs verkies bó Johannes wat volgens hom te misties is. Markus is te vulgêr en Lukas te sentimenteel.

Hierdie swart en wit-rolprent gryp aan die keel. Boonop is dit gemaak deur 'n ateïs. Die aar is verskillende bespiegelinge: miskien kon Pasolini as outsider juis die lot van Jesus goed opvang?

Die verhaal word vertel asof die narratiewe stem glo in die gegewe. Dis egter ons buitekennis wat ander insigte bring.

Tydens die heerskappy van die Romeinse Ryk reis Jesus van Nasaret in Galilea. Hier verrig hy wonderwerke en vertel van die Koninkryk van God. Israel sal verlos word en hy is die Seun van God. Die Joodse tempelleiers neem aanstoot en oorhandig hom aan die Romeine wat hom onskuldig bevind, maar die tempelleiers kruisig hom en hy sterf. Na drie dae staan hy op uit die Dode.

Met hierdie gegewe werk Pasolini in die film van 1964. Die voorgeskiedenis is egter 'n omstrede kortrolprent La ricotta. Hy word egter ter take geneem oor die blasfemiese inhoud in sy film La ricotta.

Vasgekeer in 'n hotelkamer in Assissi, lees hy weer die vier Evangelies. Hy moes by 'n kongres praat waar Pous Johannes XXIII sou wees.  Niemand kan egter by die kongres uitkom nie weens die besoek van die Pous. Die dialoog oor kuns tussen die Pous en nie-Katolieke kunstenaars word gefnuik, maar die grootste film hierna, The Gospel According to Matthew, is dus sý antwoord.

Hy dra ook die film aan die Pous op: dedicato alla cara, lieta, familiare memoria di Giovanni XXII.

Hoe gebeur dit dat 'n homoseksueel, ateïs en Marxis so 'n treffende rolprent maak?

Hieroor is daar verskeie menings. Dalk omdat sowel Jesus as Pasolini buitestaanders was. En omdat Pasolini buite die kerk staan, kan hy helder kyk na die verhaal van Jesus.

Sy eie moeder, Susanna vertolk die rol van Jesus se ouer moeder soos Pedro Almodóvar ook sy familie inspan in sy films as spelers.

Die film word tipeer as neo-realisties: grinterig en eg. Hierom speel gewone mense ook in die rolprent. Ook skrywers, digters en filosowe is hier: o.a. Natalia Ginzburg, Giorgio Agamben, Enzo Siciliano. Hiermee wou hy juis 'n intellektuele dimensie inwerk. Die musiek wissel van Bach tot die Gloria van die Missa Luba.

'n Kollega by UCT wat Italiaans doseer se beste vriend vertolk die rol van Jesus. Met ander woorde nie opgeleide akteurs nie, maar eerder gewone mense waar die boodskap belangriker is as die spel. In gesprekke met hom - hy doseer Pasolini - het ek deur die jare nuut na sy werk gekyk.

Pier Paolo Pasolini (1922 - 1975) was 'n filmmaker, digter, skrywer, akteur, joernalis, dramaturg, romanskrywer en intellektueel. Hy is vermoor en dit bly steeds onseker wie hom vermoor het. Was dit gewoon 'n seksuele misdaad of is hy vermoor weens sy omstredenheid?

In tipiese Mafia-styl is daar met 'n motor oor sy liggaam gery. Sy liggaam is verniel en agterna verbrand. Deur die jare het daar telkemale nuwe inligting na vore gekom, maar die owerhede kon nooit genoegsame "bewyse" vind nie.

'n Bundel heet I Diarii (The Diaries).

Hier is 'n paar van sy vertaalde gedigte.

Sy film Salò (120 Days of Sodom) van 1975 is een van min films wat ek nooit kon klaarkyk nie. Politiese kommentaar ja en 'n deurgrondige analise van Fascisme en seksuele misbruike. Maar nie vir die weekhartiges nie. Die abjekte is nie vir my nie.

Die verhaal van die Markies de Sade word getransponeer na die Italiaanse Fascisme en die Republiek van Salò tussen 1943 en 1945. Die fim ondersoek die werklike verhaal van 18 jongelinge wat aan uiterste seksuele en fisiese teistering blootgestel is. Tipies van Pasolini is daar duidelike toespelings op Dante en die inferno en Nietzsche se nihilisme.

Die groteske aard van die film dekonstrueer uiteindelik die grensoorskrydings van die Fascisme (Woorde Wat Weeg/ 50 Shades of Grey. Besoek 9 April 2020).

Hy behaal 'n graad in die letterkunde in 1939 aan die Universiteit van Bologne waar die ander Italiaanse meester romanskrywer en teoretikus werk: Umberto Eco.

Dis 8 nm. Vuvuzelas dreun. Handegeklap.

Goddank vir FMR se link na die Concertgebouw. Die troos van klassieke musiek.

© Joan Hambidge