Dinsdag 28 April 2020 | Dag 33
Vroegoggend beleef ek die nag wat dag word. Hierdie bardo of oorgang was dikwels 'n tyd van stilte wat dan skielik deur oggendverkeer versteur word.
In my badkamer is daar 'n bril van The Reader en die een glas het uitgeval. Hoe simbolies.
Daar is baie dooie tyd in grendeltyd. My Italiaans en Frans word afgestof deur te luister na CD's. Op reis neem ek altyd 'n grammatikaboek saam; nou luister ek na CD's. Ek verkies eerder om 'n taal te lees as om dit te praat, omdat ek bang is vir foute. Enige taalonnie sal egter verduidelik 'n mens moet met selfvertroue praat sonder om te vrees vir 'n grammatikale of kongruensie-fout.
Malheuresement.
Italiaans is makliker vir my want die masjiengeweeraanslag van die taal kan ek beter verstaan, maar gesproke Frans met die nasale ineenvloeiing van klanke is heelwat moeiliker om vlot te praat.
*
Perec se Life: A user's manual is 'n besonderse roman en is o.a. aangeprys deur Paul Auster.
Clarissa Pinkola Estés in Women who run with the wolves (1992) wys daarop dat die onbewuste 'n sterk destruktiewe element in sig dra wat in verhale op verskillende maniere na vore kom. In Yslandiese verhale, byvoorbeeld, is die destruktiewe mag, Brak, die ysman. Sy stel dit so: “In Freudian terms, this destructive force would be said to emanate from the id, a dark, indefinite, but infinite psychic land where, scattered like wreckage and made blind from lack of light, live all forgotten, repressed, and repulsive ideas, urges, wishes, and actions. In this psychoanalytic milieu, bringing them to consciousness, describing, naming, and cataloging them, in order to leach their potency” (Estés, 438).
Sy verwys na 'n vertelling uit hierdie wêreld wat sterk gekoppel is aan Freud se siening van die uncanny: 'n ysman vermoor 'n vrou wat sy liefde verwerp met 'n ysblok in die vorm van 'n mens. Die ysman en sy wapen smelt die volgende dag in die son weg. Beide die moordwapen en die moordenaar het verdwyn. Die volkome moord dus.
Dieselfde argetipiese verhaal vind 'n mens by Roald Dahl. Die vrou vermoor haar man met die gevriesde skaapboud, maak dit gaar en niemand kan die moordwapen vind nie. Dit heet “Leg of lamb” waaroor Hitchcock ook 'n film gemaak het.
Perec het nie noodwendig dit geweet nie of hierdie boek eens gelees nie, maar Jung en sy akoliete sal beweer dit staan geberg in die kollektiewe onbewuste.
*
Seinfeld noem 'n manlike bimbo 'n mimbo!
En grappe rondom foonseks en iemand wat nie toiletpapier in die hokkie langsaan wil aangee nie, maak van hierdie bydrae 'n besonder een. Bietjie toilethumor. En Seinfeld se skrywers weet dit; hulle is altyd besig met self-bewuste analises van hul eie humor.
Weens Erica se stem wat klink soos die vrou wat Kramer benader het, word sy verdink van foonsnol wees. Soos in Franse klug word die misverstande die grap. Boonop is sy die een wat nie vir Elaine wou papier aangee in die toilet langsaan nie.
En 'n kollegemeisie verneem na George. Jerry lieg en vertel hy is 'n marine-bioloog. Die grappe rondom vet gedy.
“Whales have blubber”, meen George. “I think they should get their cholesterol levels down.”
Pretensie word opgestuur wanneer 'n Russiese skrywer besoek aflê en Elaine probeer afwys met (verkeerde) kennis oor Tolstoi wát weer eens wys hoe Jerry haar mislei.
Stereotipes oor mense uit verskillende kulture – wat vandag nie op TV toegelaat sal word nie – word onder die loep geneem en bespot.
*
Waarom spel ons dik nie duk nie? En dun nie as din nie? 'n Grappige navraag van my buurvrou. Haar dogtertjie speel met 'n taktiele kinderboekie waarop diertjies afgedruk is. Elke diertjie voel anders. Die honde het 'n nagemaakte pels en die olifantjie se vel is van grys plastiek.
Met sosiale distansie gaan aanraking nou spoedig verdwyn. Vir party mense is dit baie erg, maar genadiglik gaan jy nou daardie familiêre aanraking van onbekendes by boekbekendstellings of partytjies nie meer hóéf te pypkan nie. Daardie hand wat net te lank op jou arm weifel.
Wanneer gaan ons weer boekbekendstellings beleef? Wanneer gaan ons weer boekwinkels mag binnegaan? PEN-Internasionaal se petisie trek al verby 4000.
*
Die onsigbare ekonomie. Die tips en gifte en aalmoese wat mense elke dag gegee het vir taxibestuurders, kelners, haarwassers, bedieners, faktotums is in een swiepslag weg. Haarkappers, die Baxter, die Book Lounge vra tereg vir hulp.
*
In Psalm 119: 105 staan daar: U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad.
As jong kind het ek dit onderstreep. Waar, wonder ek, staan dit opgeskryf dat 'n mens die olie in jou lampie moet bewaar?
Woensdag 29 April 2020 | Dag 34
In Mattheus 25: 1- 13 word die gelykenis van die wyse en dwase maagde opgeteken:
7 Toe staan al die maagde op en maak hulle lampe gereed. 8 En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: “Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit.” 9 Maar die verstandiges antwoord en sê: “Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself.”
In die Nuwe Bybelvertaling is die miskien weggelaat. En maagde word meisies.
*
Vriend Natie meen ons leef nie meer op geleende tyd nie, maar op geleende bottels.
Laatmiddag verneem ons Checkers in Kloofstraat is gesluit. 'n Paar gesprekke met families en geliefdes dui op onsekerheid. Aanlyn-klasgee word bemark asof 'n mens op 'n vliegtuig klim; dis eerder asof jy in 'n duikboot is en nie kan sien waarheen jy op pad is nie.
*
Bartok speel nou oor FMR. Onrustige musiek. Ek luister eerder na my Franse CD's. Kwa-de-nuf; keskese and all the rest.
*
Amanda Botha, die bekende kunsjoernalis, vertel van die katte van Rome versorg deur die katvroue, oftewel die gattare. Haar suster was eweneens betrokke by hierdie projek.
Op die internet word geskryf dat selfs Anna Magnani die bekende filmster (oorlede in 1973) ook na hulle gekyk het. In die vroeë negentigerjare ontstaan daar 'n krisis met die katpopulasie in die Torre Argentina. Silvia Viviani en Lia Dequel maak toe kontak met diereregte-organisasies vir finansiële bystand om die katte te versorg, te laat aanneem en regmaak. 'n Mens kan selfs 'n kat aanneem wat met 'n paspoort reis na 'n vreemde bestemming.
En jaarliks word daar 'n fotoboek van hierdie katte gepubliseer wat toeriste kan aankoop.
En nou?
Geen toeriste en net katte wat vermeerder en wat deur die strate slenter op soek na kos. En skynbaar is daar by die Spaanse trappe ook geweldig baie duiwemis. Wat eweneens 'n gesondheisgevaar inhou.
Ottavia e i Gatti di Roma – Octavia and the Cats of Rome: A bilingual picture book in Italian and English deur Claudia Cerulli en Leo Lätti het in 2013 verskyn.
*
Hoe ironies dat 'n digbundel oor reis Visums by verstek (2011) heet:
Rome
Sms ITALY
na 36822 en wen ’n vakansie in Rome!
In my verbeelding
Bramante, Bernini, Raphael,
in die Caput Mundi
van die liefde. Roma /Amor.
Ek skryf ’n gedig,
terwyl my hart in Rome brand
van hartstog in ’n La dolce vita.
Jy, Anita Ekberg
dansend in die fontein van Trevi
en ek agterna met munte
vir die wensfontein.
So was dit helaas nie.
Snags alleen in ’n pension,
bedags dolend deur die marmerstad
se sewe heuwels
tot by die Baddens van Caracalla
waar ek jou gesig herken
in die mosaïek
verwonderend hoé snel
alles beweeg het van caldarium
tot frigidarium. Sonder tepidarium.
Marcello Mastroianni kyk
in die starende oë
van die dooie vis.
Daardie wedstryd is uitgeloof in Col'Cacchio 'n gewilde Italiaanse eetplek. Dié is nou toe. Uitgespreek: Kolkakkio wat letterlik beteken up yours!
Die gedig speel in op Federico Fellini se films – almal in my besit danksy Philip de Vos, die digter en fotograaf, wat hulle vir my netjies verpak het.
Binnekort word Fellini se klassieke films weer besoek. Otto e mezzo. La dolce vita (La Dolce Vita Trailer - Starring Anita Ekberg Dir. Federico Fellini – YouTube. Besoek 29 April 2020).
*
Seinfeld roep.
Die slim intertekste is opvallend. A, daar speel die temamusiek uit The Godfather wanneer Kramer die peetouer word. En George kyk Home Alone.
Vraisemblance ...
Beroemdes maak dikwels 'n buiging, maar jy moet Amerikaanse politiek en sterre ken en weet wie was die burgemeester van New York.
En Saddam Hussein is toe nie Saddam Hussein nie.
© Joan Hambidge